Die gode sal sterf soos
mense
1 ’n Asafpsalm.
God staan op
in die hemelse vergadering.
Tussen die hemelse wesens
lewer Hy uitspraak:
2 “Hoe lank nog sal julle
onregverdige beslissings vel
en die goddeloses bevoordeel?
Sela
3 “Laat reg geskied
aan armes en wese.
Verdedig die saak
van die hulpelose
en behoeftige.
4 Bevry die armes
en die behoeftiges;
verlos hulle uit die greep
van goddelose mense.
5 Maar hulle weet nie
en verstaan nie.
Hulle lewe in duister
terwyl die fondamente
van die aarde skud.
6 Ek het wel gesê:
‘Julle is gode,
seuns van die Allerhoogste.’
7 Maar nee! Julle sal sterf
soos ’n mens,
soos enige maghebber
sal julle val.”
8 Kom, o God,
en oordeel die aarde,
want al die nasies
behoort aan U.