Ek verlang na u woning
1 Vir die koorleier: Met musiek. Van die
Koragiete. ’n Psalm.
2 Hoe lief het ek u woonplek,
o Here, die Almagtige!
3 Here, ek verlang, ek hunker
na u woning.
Met my hele wese,
liggaam en gees,
wil ek jubel
oor die lewende God.
4 Selfs ’n mossie kry hier ’n plek,
en die swaeltjie bou haar nes
en maak haar kleintjies groot
naby u altare, Here, die Almagtige,
my Koning en my God!
5 Gelukkig is hulle
wat in u huis woon,
waar hulle U deurentyd kan loof.
Sela
6 Gelukkig is hulle
wie se krag van U kom,
wat hulle harte rig
op ’n pelgrimstog.
7 Gaan hulle deur ’n droë vallei,
word dit omskep
tot ’n fonteinedal.
Vroeë reëns
bring vir hulle seëninge.
8 Hulle kragte sal vermeerder
tot hulle in Sion
voor God verskyn.
9 Here God, die Almagtige,
luister na my gebed.
Luister, o God van Jakob!
Sela
10 O God, ons beskermer, kyk tog,
betoon genade aan u gesalfde!
11 Een dag in u tempel
is beter as duisend elders!
Ek staan liewer by die drumpel
van die huis van my God
as dat ek woon
in huise van goddeloses.
12 ’n Son en skild
is die Here God.
Die Here gee genade en eer.
Hy sal die goeie nie weerhou
van hulle wat doen
wat reg is nie.
13 Here, die Almagtige,
gelukkig is hy
wat op U vertrou.