PSALMS 89

Wie is soos die Here?

1 ’n Gedig van Etan die Esragiet.

2 Ek wil altyd sing

van die goedheid

van die Here.

Ek wil, geslag na geslag,

sy getrouheid bekendmaak.

3 Ek het gesê:

“U troue liefde

sal vir altyd duur.

U getrouheid

is so standvastig

soos die hemel.”

4 U het gesê:

“Ek het ’n verbond gesluit

met my uitverkorene.

Ek het ’n eed afgelê

vir Dawid, my dienaar:

5 ‘Ek sal jou nageslag

vir altyd as konings vestig,

en jou troon bou

van geslag tot geslag.’”

Sela

6 Here,

die hemel prys u wondermag;

die hemelse wesens

prys u trou.

7 Want wie in die hemel

kan met die Here

vergelyk word?

Wie onder die hemelse wesens

is soos die Here?

8 In die hemelse vergadering

is daar groot ontsag vir God.

Hy is meer ontsagwekkend

as hulle wat Hom omring.

9 Here, God die Almagtige,

wie is magtig soos U, Here?

U is omring

deur u getrouheid.

10 U heers

oor die bruisende oseane.

As die golwe styg,

laat U dit bedaar.

11 U het vir Rahab vernietig,

met u sterke arm

u vyande verdryf.

12 Aan U behoort die hemel,

die aarde is u besitting,

die wêreld en alles daarin –

dit alles het U gemaak.

13 U het noord en suid gemaak,

Tabor en Hermon

prys u Naam.

14 U arm is toegerus met mag,

u hand is sterk,

u regterhand is omhoog!

15 Geregtigheid en reg

is die fondament van u troon.

Onfeilbare trou en waarheid

is tot u diens.

16 Geseënd is hulle

wat U met vreugde dien,

wat lewe in die lig

van u teenwoordigheid,

Here.

17 Hulle juig die hele dag

oor u Naam,

is verheug oor u regverdigheid.

18 U is hulle kragtige roem.

Deur u goedheid

is ons sterk.

19 Die Here is ons beskermer,

die Heilige van Israel

is ons koning.

20 Voorheen het U

deur ’n visioen

met hulle wat aan U getrou is,

gepraat en gesê:

“Ek het hulp verleen

aan ’n krygsman.

Uit die gewone mense

het Ek die uitverkore een

verhef.

21 Ek het my dienskneg Dawid

gevind.

Met heilige olie

het Ek hom gesalf.

22 Met my hand

sal Ek hom ondersteun,

met my arm

sal Ek hom sterk maak.

23 Vyande

sal hom nie onderwerp nie,

goddeloses sal hom

nie verdruk nie.

24 Ek sal sy vyande

voor hom verpletter

en sy haters verslaan.

25 My trou en liefde

sal met hom wees,

en deur my Naam sal hy oorwin.

26 Ek sal sy mag uitbrei

tot by die see,

en tot by die riviere.

27 Hy sal vir My sê:

‘U is my Vader, my God,

die rots van my redding.’

28 Ek sal hom

my eersgeborene maak,

die magtigste koning op aarde.

29 Ek sal vir altyd

aan hom my trou betoon;

my verbond met hom

vas laat staan.

30 Ek sal ’n opvolger

vir altyd bepaal;

sy troon sal wees sonder einde,

so lank as wat die hemel bestaan.

31 Maar as sy seuns

my gebooie nalaat

en nie in my weë wandel nie,

32 as hulle nie my bepalings navolg,

nie my bevele gehoorsaam nie,

33 dan sal Ek hulle eiesinnigheid straf,

hulle oortredings swaar bestraf.

34 Maar my liefde vir hom

sal nooit ophou nie,

en my trou aan hom

sal Ek nie wegneem nie.

35 Ek sal my verbond

nie verbreek nie,

en wat Ek beloof het,

nie verander nie.

36 Ek het by my heiligheid

’n eed afgelê,

en my belofte aan Dawid

sal Ek nie verbreek nie.

37 Sy nakomelinge

sal altyd daar wees,

en sy troon sal blywend wees

soos die son.

38 Soos die maan

is dit daar vir altyd,

’n getroue getuie

in die lug!”

Sela

39 Maar U het hom verwerp

en verstoot.

U was kwaad vir u gesalfde.

40 U het u verbond met hom

laat vaar,

U het sy kroon

op die grond vertrap.

41 U het al sy stadsmure

afgebreek

en sy vestings

in puinhope verander.

42 Elkeen wat verbykom,

beroof hom,

terwyl sy bure hom bespot.

43 U het sy vyande laat triomfeer,

al sy teenstanders laat jubel.

44 U het sy swaard nutteloos gemaak,

hom nie bygestaan

in die geveg nie.

45 U het sy grootsheid beëindig

en sy troon

op die grond gegooi.

46 U het hom oud

voor sy tyd gemaak

en hom met vernedering oordek.

Sela

47 Hoe lank nog, Here?

Sal U Uself vir altyd verberg,

en u toorn soos vuur laat brand?

48 Dink tog hoe verganklik

is die lewe.

Is die skepping van die mens

dan ’n nuttelose daad?

49 Watter mens kan lewe

sonder om die dood te sien?

Wie kan homself red

uit die mag van die doderyk?

Sela

50 Here, waar is u liefde van vroeër

wat U in u trou

met ’n eed

aan Dawid beloof het?

51 Dink tog, Here,

aan die vernedering

van u dienaars,

hoe ek in my hart

die beledigings

van baie volke dra.

52 Hulle wat spot,

is u vyande, Here,

hulle bespot elke tree

van u gesalfde.

53 Lof aan die Here vir altyd!

Amen, ja, amen!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

seven + 6 =