BOEK VIER (Psalm 90-106)
Die ewige Here en sterflike
mens
1 ’n Gebed van Moses, man van God.
Here, U was ons toevlug
van geslag tot geslag.
2 Voordat die berge gebore is
en U die wêreld
voortgebring het,
van ewigheid tot ewigheid,
is U God.
3 U laat mense
weer terugkeer tot stof,
en sê:
“Keer terug, mensekinders!”
4 Vir U is duisend jaar
soos gister wat verbygaan,
soos ’n nagwaak
wat gou verby is!
5 U vee mense weg
soos drome wat verdwyn,
soos gras
wat in die oggend opkom:
6 Soggens skiet dit op en groei,
in die aand verdroog dit
en verwelk.
7 Inderdaad, ons kwyn weg
onder u toorn;
ons is oorweldig
deur u woede.
8 Ons sondes is oop en bloot
voor U,
ons geheime sondes
word bekend
in die lig van u teenwoordigheid.
9 Al ons dae gaan verby
onder u toorn,
ons eindig ons lewe soos ’n sug.
10 Die getal van ons jare
kan 70 wees,
of as ons sterk is, 80.
Maar selfs die beste daarvan
is vol swaarkry en verdriet.
Die lewe is gou verby,
en ons bestaan nie meer nie.
11 Wie ken die krag van u toorn?
Wie ken die vrees
van u woede?
12 Leer ons ons dae só gebruik
dat ons wysheid kan bekom.
13 Kom terug, Here!
Hoe lank gaan U nog uitstel?
Ontferm U tog oor u dienaars!
14 Vul ons met u genade
in die oggend,
dan sing ons van vreugde
al ons dae.
15 Gee ons vreugde
na al ons lyding,
na al die jare van onheil
wat ons beleef het.
16 Laat al u dienaars
u werke sien,
en hulle kinders u heerlikheid.
17 En mag die Here ons God
sy goedheid aan ons bewys,
en die werk van ons hande
bevestig.
Ja, bevestig die werk
van ons hande!