PSALMS 92

God maak my sterk

1 ’n Psalm. ’n Lied vir die Sabbatdag.

2 Dit is goed

om die Here te dank,

om u Naam te loof,

Allerhoogste;

3 om soggens u goedheid

aan te kondig,

en in die aand u getrouheid,

4 met snaarinstrumente,

met die harp en die begeleiding

met die lier.

5 U groot dade maak my bly,

Here!

Ek juig oor u handewerk.

6 Hoe groot is u werke, Here!

Hoe diep is u gedagtes!

7 Net ’n onkundige

sal dit nie weet nie!

Net ’n dwaas

sal dit nie verstaan nie!

8 Die goddeloses floreer

soos onkruid,

en boosdoeners woeker

met sukses;

tog sal hulle vir goed

vernietig word.

9 Maar U is hoog verhewe.

U, Here, bestaan vir ewig.

10 Maar u vyande, Here,

u vyande sal sekerlik vergaan.

Alle boosdoeners

sal verstrooi word.

11 U maak my sterk

soos ’n buffel.

U salf my met vars olie.

12 Ek sal die einde

van my vyande sien.

Ek sal hoor sonder om te vrees

wanneer boosdoeners

teen my opstaan.

13 Maar regverdiges sal blom

soos ’n palmboom,

en welig groei

soos ’n seder van die Libanon.

14 Geplant in die Here se huis,

groei hulle weelderig

in die voorhowe van ons God.

15 Al is hulle oud,

sal hulle steeds vrugte dra;

hulle is vars en lewenskragtig.

16 Hulle sal sê:

“Die Here is regverdig.

Hy is my rots.

By Hom is daar geen onreg nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fourteen + three =