Die Here is Koning en
Regter
1 Sing vir die Here ’n nuwe lied!
Sing vir die Here,
almal op aarde!
2 Sing vir die Here,
loof sy Naam!
Verkondig sy verlossing
dag na dag.
3 Vertel die nasies
van sy heerlikheid,
aan al die volke
van sy wonderdade.
4 Groot is die Here;
lof kom Hom toe!
Hý moet gedien word
bo alle gode.
5 Die gode van die volke is niks,
die Here
het die hemele gemaak!
6 Heerlikheid en majesteit
is voor Hom;
krag en glans is in sy heiligdom.
7 Erken die Here,
geslagte van die aarde,
erken die Here
vir sy heerlikheid en mag.
8 Erken die Here
vir die roem van sy Naam!
Bring offers vir Hom
en kom na sy voorhowe.
9 Aanbid die Here
in sy heilige glans.
Laat die hele aarde
voor Hom bewe.
10 Vertel aan die nasies:
“Die Here regeer!
Die wêreld staan vas
en sal nie wankel nie.”
Sy oordeel oor volke
is regverdig.
11 Laat die hemele verheug wees,
laat die aarde bly wees.
Laat die see druis
en ook alles daarin.
12 Laat die velde jubel
en alles daarop!
Laat die bome van die bos juig
13 voor die Here.
Want die Here kom!
Hy kom
om die aarde te oordeel.
Hy sal die wêreld oordeel
met regverdigheid,
en die nasies
met sy betroubaarheid.