Die grootheid van die Here
1 Die Here regeer!
Laat die aarde juig.
Laat die talle eilande bly wees.
2 Wolke en duisternis
omring Hom.
Reg en geregtigheid
is die grondslag van sy troon.
3 Vuur gaan voor Hom uit
en al sy teenstanders verbrand.
4 Sy weerligte verlig die wêreld.
Die aarde sien dit en bewe.
5 Berge smelt
soos was voor die Here,
voor die Here
van die hele wêreld.
6 Die hemele verkondig
sy geregtigheid;
elke volk sien sy heerlikheid.
7 Almal wat beelde vereer,
is tot skande gebring,
almal wat roem
op hulle nietige afgode;
want alle gode
moet voor Hom buig.
8 Sion het dit gehoor en is bly,
en die stede van Juda juig
oor u oordele, Here!
9 Want U, Here,
is hoog verhewe
bo die hele aarde;
U is verhewe
ver bo alle gode.
10 Julle wat die Here liefhet,
haat dan wat boos is!
Hy beskerm die lewe
van sy getroues,
Hy red hulle
uit die mag
van goddeloses.
11 Oor regverdiges
skyn daar lig,
en daar is blydskap vir hulle
wat opreg is.
12 Regverdiges,
wees bly in die Here,
en prys sy heilige Naam!