PSALMS 101

koning

1 ’n Dawidspsalm.

Ek wil sing van u trou

en geregtigheid.

Here, ek wil U met liedere prys.

2 Ek wil my daaraan toewy

om opreg te lewe,

maar wanneer kom U na my toe?

In my huis wil ek lewe

met ’n opregte hart.

3 Ek steur my nie

aan bose dinge nie.

Ek haat alle valsheid;

dit sal nie op my

’n houvas kry nie.

4 Ek sal verkeerde gedagtes

verwerp

en wegbly van alles wat boos is.

5 Iemand wat sy naaste beskinder,

sal ek tot swye bring.

Iemand met ’n trotse hart,

vol eiewaan,

sal ek nie duld nie.

6 Ek let op die getroues

in die land,

en laat hulle by my woon.

Net dié wat opreg lewe,

net húlle sal my dien.

7 Bedrieërs sal nie

in my huis woon nie,

en leuenaars sal nie

by my bly nie.

8 Soggens sal ek regspreek,

die goddeloses

in die land uitroei,

en al die bewerkers van kwaad

afsny van die stad

van die Here.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

14 + fifteen =