BOEK VYF (Psalm 107-150)
1 Dank die Here, want Hy is goed!
Sy trou ken geen einde nie.
2 Hulle wat deur die Here gered is,
sal sê dat Hy
hulle verlos het
van die vyand,
3 en dat Hy hulle versamel het
uit baie nasies
uit die ooste en die weste,
uit die noorde en die suide.
4 Sommige mense
het in ’n dorre land rondgedwaal,
in ’n woesteny;
maar die pad na ’n bewoonde stad
kon hulle nie kry nie.
5 Hulle was honger en dors,
hulle was heeltemal uitgeput.
6 “Here, help ons!”
het hulle geroep,
en Hy het hulle
uit hulle nood gered.
7 Hy het hulle
op die regte pad gelei,
na ’n stad waar hulle kon woon.
8 Laat hulle die Here loof
vir sy liefde,
en vir sy wonderdade
aan mense.
9 Want Hy les die dors
van hulle wat dors is,
en versadig hulle wat honger is
met goeie dinge.
10 Sommige mense
was in duisternis,
in diep donkerte,
ellendige gevangenes
in ysterboeie.
11 Hulle het in opstand gekom
teen die voorskrifte van God.
Die leiding
van die Allerhoogste
het hulle geminag.
12 Daarom het Hy hulle onderwerp
deur hulle harde arbeid
te laat doen;
hulle het gestruikel,
en daar was niemand
om te help nie.
13 “Here, help ons!”
het hulle geroep
toe hulle in nood was,
en Hy het hulle
uit al hulle ellende bevry,
14 hulle uit duisternis en somberheid
gered,
en hulle boeie stukkend gebreek.
15 Laat hulle die Here loof
vir sy liefde
en vir al sy wonderdade
aan mense.
16 Want Hy breek koperdeure af,
en kap ystertralies stukkend.
17 Sommige mense
was dwaas in hulle opstand
en het weens hulle eie sondes gely.
18 Al hulle eetlus was weg,
en die dood was naby.
19 “Here, help ons!”
het hulle geroep in hulle nood,
en Hy het hulle
uit al hulle ellende gered.
20 Met ’n woord wat Hy gestuur het,
het Hy hulle genees,
en hulle van die dood weggeruk.
21 Laat hulle die Here loof
vir sy liefde,
en vir al sy wonderdade
aan hulle.
22 Laat hulle dankoffers bring
en met vreugde
van sy dade vertel.
23 Sommige mense
het met skepe
op die see gevaar,
en op die groot oseane
handel gedryf.
24 Hulle het die Here se werk
gesien,
sy wonderdade op die diepsee.
25 Hy praat,
en die stormwinde steek op,
en die golwe word al hoër.
26 Die skepe is
hemelwaarts geslinger
en het dan weer
dieptes toe getuimel.
Die matrose,
radeloos van vrees,
27 het net soos dronkaards
getol en gewaggel,
en al hulle kennis
was tevergeefs.
28 “Here, help ons!”
het hulle geroep in hulle nood,
en Hy het hulle
uit al hulle ellende gered.
29 Hy het die storm stilgemaak
en die golwe het bedaar.
30 Hulle was bly
toe dit kalm word
en Hy hulle
na die hawe toe lei
waar hulle wou wees.
31 Laat hulle die Here loof
vir sy liefde
en vir al sy wonderdade
aan hulle.
32 Laat hulle Hom verheerlik
in die vergadering
van die volk,
en Hom prys
in die byeenkoms
van die leiers.
33 Hy verander
riviere in woestyne,
fonteinryke plekke
in ’n dorsland,
34 en vrugbare landerye
in brakgrond,
weens die kwaad
van die inwoners.
35 Maar Hy verander ook
woestyne in waterryke vleie,
droë grond in fonteinryke plekke
36 waar Hy hongeriges laat bly
wat stede kan bou
om in te woon.
37 Hulle bewerk lande,
en plant wingerde
wat goeie oeste oplewer.
38 Hy seën hulle
en hulle vermeerder;
ook hulle beeste
laat Hy nie verminder nie.
39 Wanneer hulle verminder
en kwyn,
deur verdrukking,
onheil en verdriet,
40 tref Hy hulle leiers
met vernedering
sodat hulle rondswerf
in ’n woesteny sonder ’n pad.
41 Maar die armes in nood
beskerm Hy,
en Hy maak hulle nageslag
so talryk soos troppe vee.
42 Die opregtes sal dit sien
en bly wees,
maar al die goddeloses
sal stom word.
43 Laat dié wat verstandig is
dit ter harte neem,
en hulle aandag vestig
op die trou van die Here.