PSALMS 109

1 Vir die koorleier. ’n Dawidspsalm.

O God, vir wie ek prys,

moenie stilbly nie,

2 want bose en vals mense

kla my aan

en vertel leuens oor my.

3 Hulle omring my

met woorde van wraak

en sonder rede val hulle my aan.

4 As antwoord op my liefde

is hulle my aanklaers,

en dit terwyl ek vir hulle bid!

5 Hulle vergeld my kwaad vir goed

en haat vir die liefde

wat ek gee.

6 Stel ’n bose persoon aan

teen hom

en ’n aanklaer aan sy regterkant.

7 Wanneer hy geoordeel word,

laat hy skuldig bevind word,

en sy gebede

as sonde gereken word.

8 Laat sy dae min wees;

laat iemand anders

sy plek inneem.

9 Mag sy kinders wese word

en sy vrou ’n weduwee;

10 mag sy kinders

as bedelaars rondswerf,

en kos soek tussen die bouvalle

van hulle wonings.

11 Laat skuldeisers beslag lê

op al sy besittings,

en vreemdelinge alles vat

waarvoor hy hard gewerk het.

12 Mag niemand

vir hom goed wees

of sy weeskinders bejammer nie.

13 Mag al sy afstammelinge sterf,

en hulle naam

in een geslag uitgewis word.

14 Mag die Here nooit

sy voorouers se sondes

vergeet nie;

mag sy moeder se sondes

nooit uitgevee word nie.

15 Laat hierdie sondes voortdurend

voor die Here wees,

maar laat sy kinders se nagedagte

uitgewis word

uit die geheue van mense.

16 Hy was nie goed

vir ander mense nie,

maar het die arm en behoeftige,

ook dié wat moedeloos is,

tot die dood toe vervolg.

17 Hy het daarvan gehou

om te vervloek;

laat hy dit nou self ervaar.

Ander het hy nooit geseën nie;

laat seën vir hom

ook veraf wees.

18 Vervloeking was vir hom

soos klere,

soos water vir sy liggaam,

soos olie vir sy beendere.

19 Mag sy vervloeking wees

soos klere wat hy dra,

soos ’n gordel

wat hy altyd aanhet.

20 Mag dit die Here se beloning

vir my aanklaers wees,

vir hulle wat slegte dinge

van my sê.

21 Maar mag U,

oppermagtige Here,

met my handel

tot eer van u Naam!

Red my, want u getrouheid

is so goed.

22 Ek is arm en in nood,

en my hart is hewig ontsteld

binne-in my.

23 Soos ’n skadu wat lank word,

so kwyn ek weg.

Ek is soos ’n sprinkaan

wat afgeskud word.

24 My knieë is swak

omdat ek vas;

ek is net vel en been.

25 Mense spot met my;

as hulle my sien,

skud hulle die kop.

26 Help my, Here my God!

Red my

op grond van u troue liefde.

27 Laat hulle sien

dat dit u werke is,

dat U dit self gedoen het, Here.

28 Hulle vervloek my,

maar U sal my seën!

My aanvallers

sal beskaam word,

maar u dienaar sal bly wees!

29 Laat my aanklaers

met skande bekleed wees,

toegewikkel in oneer

soos met klere.

30 Ek sal aanhou

om die Here te dank,

Hom prys

te midde van ’n menigte.

31 Want Hy staan

langs die behoeftige,

gereed om hom te red

van hulle wat veroordeel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

four × three =