PSALMS 139

1 Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Psalm.

Here, U deursoek my

en ken my.

2 U weet of ek sit

en of ek opstaan,

U ken my gedagtes van ver af.

3 Of ek op pad is,

en of ek gaan lê,

elke oomblik

weet U waar ek is.

4 Selfs voordat ek praat, Here,

weet U al presies wat ek gaan sê.

5 U sluit my in van voor

en van agter.

U hand van seën is op my.

6 Dié kennis

laat my in verwondering,

dit is vir my te hoog

om te begryp!

7 Waarheen sou ek kon gaan

om u Gees te ontwyk?

Of waarheen sou ek kon uitwyk

om u teenwoordigheid

te ontvlug?

8 Gaan ek op na die hemel toe,

is U daar;

gaan lê ek in die doderyk,

dan is U ook daar!

9 Vlieg ek met die daeraad

na die ooste,

of gaan woon ek

in die verre weste,

10 selfs daar sal u hand my lei,

en u regterhand my ondersteun.

11 Sou ek sê:

“Mag duisternis my oorweldig

en die lig

nag word rondom my,”

12 dan is die nag vir U

nie donker nie,

maar is so helder soos dag,

want duisternis

is vir U soos lig.

13 U self het my diepste wese

gemaak,

my in die moederskoot gevorm.

14 Ek loof U omdat U my

so besonder wonderlik

gemaak het.

U werke is wonderbaar,

ek weet dit alte goed!

15 My bene was vir U sigbaar

toe ek stilletjies gevorm is

in die dieptes

van die moederskoot.

16 U het my gesien

voor ek gebore is.

In u boek is alles opgeteken;

elke dag is bepaal

voordat een van hulle daar was.

17 Kosbaar is u gedagtes vir my,

o God!

Hoe onmeetlik is die totaal!

18 As ek dit sou moes tel,

sou hulle meer wees

as sandkorrels!

Wanneer ek daarmee klaar is,

sal ek nog steeds by U wees.

19 As U net die goddeloses

sal uitroei, o God!

Gaan weg van my,

julle moordenaars!

20 Hulle smee bose planne

teen U,

u vyande misbruik u Naam.

21 Moet ek hulle nie haat

wat vir U haat nie, Here?

Moet ek nie ’n afkeer hê

van dié wat teen U

in opstand kom nie?

22 Ja, ek haat hulle

met ’n volkome haat,

want u vyande

is my vyande.

23 Deursoek my, o God,

en ken my hart;

toets my en ken my onrustige gemoed.

24 Kyk of daar enige sondige neiging

by my is,

en lei my op die ewige pad.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

19 + twenty =