PSALMS 140

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

2 Red my van bose mense, Here,

beskerm my van gewelddadiges

3 wat in hulle harte

boosheid beplan

en die hele dag

vyandskap aanhits.

4 Hulle tonge is giftig

soos ’n slang;

hulle woorde venynig

soos adders.

Sela

5 Here, hou my uit die hande

van goddeloses.

Bewaar my

van gewelddadige mense

wat saamspan

om my te laat val.

6 Trotsaards het vir my

’n strik gestel;

’n net van toue

het hulle gespan,

en op die pad

vir my wippe gestel.

Sela

7 Ek het vir die Here gesê:

U is my God!

Luister tog, Here,

na my gebed om genade!

8 Oppermagtige Here,

my sterke redder,

U bewaar my

op die dag van die veldslag.

9 Here, moenie toegee

aan begeertes

van bose mense nie.

Moenie toelaat dat hulle planne

suksesvol is nie.

Sela

10 Mag die leiers

wat my omsingel,

oorspoel word met die boosheid

waarvan hulle praat.

11 Laat gloeiende kole

op hulle val,

laat vuur op hulle val.

Uit modderputte

sal hulle nie kan kom nie.

12 Moenie toelaat dat lasteraars

hulle in ons land vestig nie.

Laat mense van geweld

keer op keer

met rampe getref word.

13 Maar ek weet

die Here behartig die regsaak

van die hulpeloses

en die regte van die armes.

14 Die regverdiges

sal u Naam prys,

en in u teenwoordigheid

sal die opregtes lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

four × three =