Hom
1 ’n Dawidspsalm na aanleiding van sy
verblyf in die grot. ’n Gebed.
2 Ek roep tot die Here;
ek pleit om die Here
se genade.
3 Ek stort my klagtes uit
voor Hom
en vertel Hom
van my kwellinge.
4 Wanneer ek moed verloor,
dan ken U my pad.
Op die pad waarop ek loop,
het hulle vir my
’n strik gestel.
5 Ek kyk na regs,
maar niemand
sien my raak nie.
Daar is vir my
geen ontvlugting nie,
en niemand gee om
vir my nie.
6 Ek het tot U gebid, Here.
Ek het gesê:
“U is my toevlug,
my deel
in die land van die lewendes.
7 Luister na my hulpgeroep,
want ek is terneergedruk.
Red my van dié wat my vervolg,
want hulle is te sterk vir my.
8 Bevry my uit die gevangenis
sodat ek u Naam kan loof.
Opregtes
sal rondom my kom staan,
want U is goed vir my.”