1 ’n Vriendelike antwoord
kalmeer die gemoedere,
’n dwars antwoord
laat woede opspring.
2 Die woorde van wyse mense
maak kennis aanloklik.
Dwase mense borrel oor
van dwase dinge.
3 Die Here sien oral wat gebeur.
Sowel slegte as goeie mense
hou Hy dop.
4 Vriendelike woorde bring lewe,
bedrieglike woorde
vernietig mense.
5 ’n Dwaas praat smalend
oor wat sy pa hom leer,
iemand wat hom laat reghelp,
is verstandig.
6 In die huis van regverdiges
is daar skatte.
Wat die goddelose inbring,
bring vir hom moeilikheid.
7 Wyse mense versprei kennis
met wat hulle sê.
Dwase mense
kan dit nie doen nie.
8 Die Here verafsku die offers
van goddelose mense.
Hy is bly oor die gebede
van opregtes.
9 Die Here verafsku die manier
waarop goddelose mense leef.
Hy het die mense lief
wat volgens sy wil lewe.
10 Wie die regte pad verlaat,
sal swaar gestraf word.
Hy wat berisping haat,
sal sterf.
11 Die Here weet
wat gebeur in die doderyk
en in die onderaardse dieptes.
Hoeveel te meer weet Hy
wat aangaan
in mense se harte.
12 ’n Spotter hou nie van die persoon
wat hom teregwys nie.
Hy vra nie raad by ’n wyse nie.
13 Blydskap
laat ’n mens se gesig straal.
Hartseer
maak ’n mens terneergedruk.
14 ’n Verstandige mens
soek ernstig na kennis.
’n Dwase mens
teer op dwaasheid.
15 Vir die bedrukte mens
bring elke dag net probleme.
Vir die blymoedige mens
is die hele lewe ’n fees.
16 Dit is baie beter om min te hê
en ook respek vir die Here,
as om groot rykdom te besit
met die onrus daarmee saam.
17 Liewer net ’n skeppie groente
saam met iemand
vir wie jy lief is,
as ’n lekker stuk beesvleis
en haat daarmee saam.
18 ’n Humeurige mens
sit twis aan die gang.
’n Verdraagsame mens
sit ’n stryery stop.
19 ’n Luiaard se pad
is met dorings besaai.
’n Opregte mens se pad is gelyk.
20 ’n Verstandige seun
maak sy pa bly.
’n Dwase seun
het geen respek vir sy ma nie.
21 Iemand sonder verstand
put vreugde uit sy dwaasheid.
Iemand met insig
bly op die regte pad.
22 Sonder beplanning
loop planne skeef.
Sukses is afhanklik
van baie raadgewers.
23 Daar is vreugde daarin
om die regte antwoord te hê.
Wat is beter as die regte woord
op die regte tyd?
24 Die lewenspad
van ’n verstandige mens
loop boontoe.
Dit stuur weg van die doderyk
daar onder.
25 Die Here vernietig
die hoogmoedige se huis.
Hy beskerm die grondgebied
van die weduwee.
26 Die Here verafsku
slegte planne.
Hy hou van skoon gedagtes.
27 ’n Gierigaard
bring ongeluk oor sy huis.
Wie omkoopgeskenke weier,
sal lewe.
28 ’n Regverdige mens
dink eers voor hy antwoord.
By goddelose mense se monde
borrel daar slegte dinge uit.
29 Die Here luister nie
na goddelose mense nie.
Hy verhoor die gebed
van die regverdige mens.
30 Oë wat blink, bring vreugde.
Goeie nuus bring gesondheid.
31 Wie na kritiek luister,
sal lewe.
Jy sal tuis wees
tussen mense met wysheid.
32 Wie goedbedoelde raad
ignoreer,
doen skade aan homself.
Iemand wat hom laat reghelp,
ontwikkel sy insig.
33 Om respek vir die Here te hê,
leer ’n mens wysheid.
Nederigheid kom eerste,
daarna volg eer.