1 Soek eerder
na ’n goeie naam
as na groot rykdom.
Hoë aansien
is beter as silwer of goud.
2 Vir mense, ryk en arm,
is dit dieselfde:
die Here het hulle almal gemaak.
3 Iemand wat verstandig is,
sien wanneer die onheil kom
en kruip weg.
Die onervare mens
loop oopoë daarin vas
en boet daarvoor.
4 Iemand wat nederig is
en respek het vir die Here,
kry rykdom, eer en lewe.
5 Op ’n oneerlike mens se pad
is daar dorings en lokvalle.
Iemand wat omgee vir homself,
bly ver daarvan weg.
6 Leer ’n jongmens
om die regte pad te kies,
en wanneer hy eendag oud is,
sal hy nie daarvan afwyk nie.
7 Soos rykes oor armes heers,
so is die man wat geld leen
die slaaf van die man by wie hy leen.
8 ’n Geweldenaar wat onreg saai,
sal teëspoed oes.
Ook sy verdrukking van ander
sal tot ’n einde kom.
9 ’n Vrygewige man wat van sy kos
vir armes gee,
sal geseën word.
10 Jaag die spotter weg
en saam met hom
sal rusies padgee;
die gestry en beledigings
sal tot ’n einde kom.
11 Wie graag opreg wil wees
en mooi praat met ander,
het selfs die koning as vriend.
12 Die Here hou kennis in stand.
Hy keer die woorde
van die onbetroubare mens om.
13 “Daar is ’n leeu daarbuite!”
sê die luiaard.
“Ek sal gevang word
as ek dit buite waag!”
14 ’n Vreemde vrou se woorde
is ’n bodemlose put;
as die Here vir jou kwaad is,
sal jy daarin val.
15 Dwaasheid is eie
aan ’n seun;
’n pak slae haal dit uit hom uit.
16 Wie arm mense verontreg
om homself te verryk,
of vir die rykes geskenke gee,
sal self in armoede verval.
Dertig Reëls
17 Gee aandag en luister baie goed
na wat die wyse mense sê.
Probeer verstaan wat ek jou wil leer.
18 My onderrig sal goed wees
as jy dit jou eie maak
en dit kan gebruik.
19 Vandag onderrig ek spesifiek
vir jou
sodat jy op die Here
kan vertrou.
20 Ek skryf 30 voorskrifte
vir jou neer.
Hulle is vol raad en kennis.
21 Deur hulle sal jy in staat wees
om die waarheid te herken
en betroubaar verslag te doen
aan die mense wat jou stuur.
22 Moenie ’n arm mens uitbuit
net omdat hy arm is nie.
Moenie die hulpelose in hofsake
uitbuit nie.
23 Die Here sal hulle saak verdedig.
Hy sal mense wat hulle beroof,
weer van húlle lewe beroof.
24 Moenie vriende maak
met ’n humeurige mens nie.
Bly ver weg van een
wat ongeduldig is.
25 Jy moenie dalk sy maniere
by hom aanleer nie.
Dit sal die oorsaak word
van jou eie ondergang.
26 Moenie borg staan
vir iemand nie.
Moenie instaan
vir ander se skuld nie.
27 As jy dit nie kan terugbetaal nie,
sal hulle selfs jou bed
onder jou wegvat.
28 Moenie grensdrade verskuif
wat jou voorouers
opgerig het nie.
29 Sien jy iemand
wat bedrewe is in sy beroep?
Hy werk vir konings
en nie vir gewone mense nie.