1 Wanneer jy aansit vir ete
saam met ’n regeerder,
kyk dan goed
na wat voor jou neergesit is.
2 As jy ’n groot eter is,
sit ’n mes teen jou keel.
3 Moenie al die lekker kos
begeer nie.
Jy kan jou met die kos misgis.
4 Moenie jou afsloof
om ryk te word nie.
Wees verstandig genoeg
om binne perke te bly.
5 As jy nog na jou rykdom kyk,
is dit eensklaps weg.
Dit sal vlerke kry soos ’n arend
en wegvlieg in die lug.
6 Moenie eet
by ’n suinige mens nie.
Moenie sy lekker kos begeer nie.
7 Hy sê: “Eet en drink gerus!”
Hy bedoel dit nie,
want hy sit en bereken
hoeveel dit hom sal kos.
8 Jy sal naar word
van die bietjie wat jy eet,
jou komplimente sal jy moet sluk.
9 Moenie ’n dwaas reghelp nie.
Jou goeie raad
behandel hy met minagting.
10 Moenie die ou grense
van ’n stuk grond
verskuif nie.
Moenie weeskinders se grond
by hulle probeer afvat nie.
11 Die Een wat hulle beskerm,
is magtig.
Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
12 Onderwerp jou aan dissipline.
Luister goed
na wat ek jou leer.
13 Moenie bang wees om jou kind
te dissiplineer nie.
Hy sal nie doodgaan
van ’n pak slae nie.
14 As jy hom wil red van die dood,
moet jy hom juis lyfstraf gee.
15 Ek sal baie bly wees, my kind,
as jy ook ’n wyse mens word.
16 Ek sal in my hart juig
wanneer jy reg praat.
17 Moenie jaloers word
op sondaars nie.
Behou altyd jou ontsag
vir die Here.
18 Jy sal altyd ’n toekoms hê.
Jou hoop
sal nooit beskaam word nie.
19 My kind, luister na my,
dat jy wys kan word.
Hou jou hart op die regte koers.
20 Jy moenie jou tyd verspil
op suiplappe en vrate nie.
21 Die dronklap en die vraat
maak hulleself arm.
Die roes van dronkenskap
laat hulle in vodde loop.
22 Luister na jou pa
wat jou die lewe gegee het.
Moenie jou ma afskryf
omdat sy oud geword het nie.
23 Verkry waarheid.
Moet nooit daarvan
afstand doen nie.
Hou vas aan wysheid,
selfbeheersing en insig.
24 ’n Pa van ’n kind wat reg doen,
het rede vir blydskap.
’n Wyse kind
verskaf sy ouers groot vreugde.
25 Laat daar rede wees
vir jou pa en jou ma
om oor jou bly te wees.
Mag jou ma
wat jou in die lewe gebring het,
rede hê om oor jou te juig.
26 My seun,
maak jou hart vir my oop
en volg my voorbeeld na.
27 ’n Sedelose vrou
is soos ’n diep waterkuil.
’n Verleidster is soos ’n put
waaruit jy nie kan kom nie.
28 Sy sit en wag vir haar prooi
soos ’n rower.
Sy soek na iemand
om te oorreed
tot ontrouheid aan sy vrou.
29 Wie het kopseer en lyfseer?
Wie maak rusie en kla?
Wie het onnodige kneusplekke?
Wie se oë is bloedbelope?
30 Dis dié wat tot laat sit en drink
en allerlei mengsels proe.
31 Moenie dat jy verlei word
deur die rooi glans van wyn,
die vonkel in die beker,
die gladde manier
waarop dit in jou keel
afloop nie.
32 Nadat jy dit gedrink het,
pik dit soos ’n slang,
spoeg dit gif soos ’n kobra.
33 Jy sien dan vreemde dinge
en jou gedagtes is verward.
34 Dit voel of jy rondsteier
soos ’n matroos op see,
of op ’n seilboot rondslinger.
35 Jy redeneer by jouself:
“Hulle het my geslaan
en ek het nie seergekry nie!
Ek weet nie eers
dat hulle my geslaan het nie.
Wanneer ek wakker word,
sal ek iets gaan soek
wat ek kan drink.”