HOSEA 10

Die Here se oordeel oor Israel

1 Israel is voorspoedig, soos ’n welige wingerd oortrek met vrugte. Maar hoe groter die voorspoed, hoe meer altare bou hulle vir vreemde gode. Hoe oorvloediger die land se opbrengs, hoe mooier maak hulle die klippilare.

2 Hulle harte is vals. Hulle is skuldig. Daarom sal die Here hulle altare afbreek en hulle klippilare stukkend slaan.

3 Dan sal hulle sê: “Ons het geen koning nie, want ons het nie die Here gedien nie. Maar wat sou ’n koning in elk geval vir ons kon doen?”

4 Hulle laat die leë woorde rol, maak valse beloftes en sluit ooreenkomste wat hulle nie nakom nie. Hulle regspleging is soos giftige onkruid wat weelderig in die vore langs die landerye groei.

5 Die inwoners van Samaria is bekommerd oor hulle kalwerbeeld in BetAwen. Die mense treur oor hom, en sy priesters wat hulle verheug het in sy grootsheid sal weeklaag omdat sy aansien weggeneem is.

6 Dit sal saam met hulle na Assirië toe geneem word as ’n geskenk vir die groot koning daar. Israel sal verneder word en skaamkry omdat hulle op afgode vertrou het.

7 Samaria sal verwoes word en sy koning sal soos ’n tak deur die water weggevoer word.

8 Die hoogtes van boosheid waar Israel gesondig het, sal verwoes word. Dorings en onkruid sal hulle altare toegroei. Dan sal hulle vir die berge vra: “Begrawe ons!” en vir die heuwels: “Val op ons!”

9 Die Here sê: “Israel, sedert die dae van Gibea het julle net sonde op sonde gepleeg. Daar het julle bly staan. Weens julle boosheid sal oorlog julle sekerlik in Gibea inhaal.

10 Ek sal kom om hulle te oordeel. Nasies sal teen hulle optrek om hulle oor hulle menigte sondes te straf.

11 “Israel is soos ’n geleerde vers wat daarvan hou om koring uit te trap. Maar nou sit Ek ’n swaar juk op haar mooi nek. Ek sal Israel inspan; Juda moet die harde grond omploeg terwyl Jakob sal moet eg.

12 Ek het gesê: ‘Saai die goeie saad van geregtigheid en julle sal ’n opbrengs van my liefde oes. Ploeg die nuwe grond van julle harte, want dis nou die tyd om die Here te soek sodat Hy kan kom en geregtigheid oor julle uitstort.’

13 “Maar julle het boosheid ingeploeg en ’n oes van sondes gekweek. Julle het die vrugte van leuens geëet. Jy het vir jou veiligheid staatgemaak op jou planne en jou militêre mag.

14 Nou sal die ellende van oorlog op jou volk toesak. Al jou versterkte stede sal verwoes word net soos toe Salman vir Bet-Arbel verwoes het. Toe is selfs ma’s en kinders doodgeslaan.

15 Bet-El, weens julle groot boosheid sal dieselfde lot julle tref. Teen dagbreek sal die koning van Israel daarmee heen wees.”

HOSEA 11

Die Here se liefde vir Israel

1 “Ek het Israel liefgehad toe hy nog ’n kind was. Ek het my seun uit Egipte geroep.

2 Maar hoe meer die Baäls hom geroep het, hoe verder het hy van My af weggegaan. Hulle het aan die Baäls offers gebring en wierook vir afgodsbeelde gebrand.

3 Dit was Ekself wat Israel geleer het om te loop; Ek het hom in my arms gedra. Maar hy het nie erken dat dit Ek was wat hom versorg het nie.

4 Met mensebande, met toue van liefde het Ek hulle gelei. Ek was vir hulle soos iemand wat die slawering wat teen hulle nek druk, afhaal. Ek het My na hom toe neergebuig. Ek het hom versorg.

5 “Maar omdat my volk geweier het om na My toe terug te kom, sal hulle teruggaan na Egipte toe; hulle sal dwangarbeid in Assirië moet doen.

6 Oorlog sal deur hulle stede woed, die grendels sal vernietig word, en weens hulle planne verteer word.

7 My volk is vasberade om My te verlaat. Hulle noem My die Allerhoogste, maar hulle eer My nie werklik nie.

8 “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Israel? Hoe kan Ek jou laat gaan, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, jou maak soos Sebojim? My hart is omgekeer in My, my medelye loop oor.

9 Nee, Ek sal jou nie in driftige woede straf nie. Ek sal nie kom om Israel te vernietig nie, want Ek is God, en nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat tussen julle lewe. Ek sal nie in toorn kom om julle te vernietig nie.

10 “Hulle sal agter die Here aan kom. Soos ’n leeu sal Hy brul. Wanneer Hy brul, sal sy kinders bewend terugkom uit die weste.

11 Soos ’n swerm voëls sal hulle vol ontsag uit Egipte kom. Soos duiwe sal hulle uit Assirië terugkeer. Ek sal hulle weer huis toe bring,” sê die Here.

HOSEA 12

Aanklagte teen Israel en Juda

1 Israel omring my met leuens en bedrog. En Juda is steeds wispelturig teenoor God en is getrou aan die afgode.

2 Israel hou hom op met die wind. Hy is die hele dag agter die oostewind aan. Hy vermeerder leuens en geweld. Hulle sluit verdrae met Assirië, maar as teken van hulle verbintenis stuur hulle olie na Egipte toe.

3 Die Here gaan nou ’n saak maak teen Juda. Hy staan op die punt om Israel te straf vir sy dade en hom te vergeld oor sy valse weë.

4 Voor Jakob se geboorte het hy sy broer se hakskeen vasgehou; as volwassene het hy met God kragte gemeet.

5 Hy het selfs met ’n Engel geworstel en gewen. Hy het gehuil en by Hom gepleit vir ’n seën. By Bet-El het hy God van aangesig tot aangesig ontmoet en daar het God met hom gepraat,

6 die Here, die almagtige God. Die Here is sy Naam!

7 Kom nou terug na jou God toe! Tree op met liefde en regverdigheid, en lewe voortdurend met ’n vaste vertroue op jou God.

8 Maar nee, die volk is soos ’n geslepe handelaar met valse weegskale – hy hou daarvan om te bedrieg.

9 Israel spog: “Ek is ryk, en ek het dit alles self verwerf! Niemand kan sê dat ek dit op ’n oneerlike manier gekry het nie! Ek is onskuldig aan enige oortreding!”

10 “Maar Ek is die Here jou God sedert jou slawerny in Egipte. Ek sal jou weer in tente laat woon soos destyds, soos tydens die woestyntyd.

11 Ek het deur my profete gepraat, hulle baie visioene laat sien. Ek het deur die profete in gelykenisse gewaarsku.”

12 Is Gilead vol boosheid? Hulle sal sekerlik tot niks kom nie. Offer hulle bulle in Gilgal? Hulle altare sal soos kliphope in rye langs die landerye wees.

13 Jakob moes na Aram toe vlug, Israel moes slawediens doen om ’n vrou te kry. Om ’n vrou te kry, moes hy skape oppas.

14 Die Here het deur ’n profeet Jakob se afstammelinge, die Israeliete, uit Egipte gelei. Die profeet het hulle gelei en beskerm.

15 Maar die volk Israel het die Here baie uitgetart en verdien die dood.

Daarom sal die Here hulle straf oor hulle dade.

HOSEA 13

Die toorn van die Here teen

Israel

1 Voorheen het die mense van vrees gebewe wanneer die stam Efraim gepraat het, want die ander stamme het na hom opgesien. Maar die mense van Efraim het gesondig deur Baäl te dien. Dit het sy lot verseël.

2 Nou gaan hulle aan om silwerafgodsbeeldjies te maak – beeldjies met bedrewe mensehande gemaak. Hulle roep uit: “Offer aan hulle! Soen die kalwerbeelde!”

3 Daarom sal hulle verdwyn soos ’n môrewolkie, soos dou wat vroegoggend verdwyn, soos kaf wat die wind wegwaai van die dorsvloer af, soos rook uit ’n skoorsteen.

4 “Ek is die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte gered het. Jy het geen ander God as Ek nie, want daar is geen ander redder nie.

5 Dis Ek wat jou in die woestyn, in daardie dor land, versorg het.

6 By goeie weiding aangekom, het hulle hulle dik geëet. Toe hulle genoeg geëet het, het hulle hoogmoedig geword en van My vergeet.

7 Nou word Ek vir hulle soos ’n leeu, soos ’n luiperd wat langs die pad ’n prooi voorlê.

8 Ek sal hulle aanval soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Ek sal hulle oopskeur en verslind soos ’n honger leeu. Wilde diere sal hulle uitmekaarskeur.

9 “Ek het jou verwoes, o Israel. Wie sal jou nou kan help?

10 Waar is jou koning dat hy jou kan red in al jou stede? Waar is jou leiers van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en leiers’?

11 In my toorn het Ek vir jou ’n koning gegee; en in my woede het Ek hom weggeneem.

12 “Die sondes van Efraim is opgeteken, sy oortredings is neergeskryf.

13 Toe die tyd vir geboorte aanbreek, was hy dwaas, ’n baba wat nie gebore wou word nie.

14 Moet Ek hulle loskoop uit die doderyk? Moet Ek hulle red uit die dood? O dood, bring maar jou verskrikking! O doderyk, bring maar jou plae! Ek sal beslis nie medelye hê nie!

15 Efraim floreer tussen die riete, maar die oostewind, ’n rukwind van die Here, sal uit die woestyn kom. Dit sal hulle waterbronne verdroog en hulle lopende fonteine laat opdroog. Al hulle skatte en waardevolle besittings sal geplunder word.”

HOSEA 14

1 Die inwoners van Samaria moet die gevolge van hulle skuld dra, want hulle het teen hulle God in opstand gekom. Hulle sal deur die swaard doodgemaak word. Hulle klein kindertjies sal verpletter word, hulle verwagtende vroue sal oopgesny word.

Genesing vir dié wat berouvol is

2 Keer terug na die Here jou God, o Israel, want jou sondes is jou ondergang.

3 Bely jou sondes en keer terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sondes en aanvaar ons in genade sodat ons weer ’n lofoffer aan U kan bring.

4 Assirië kan ons nie red nie, ook nie militêre optrede nie. Ons sal nooit weer die afgode wat ons gemaak het ‘ons god’ noem nie. Nee, by U alleen is daar deernis vir ’n weeskind.”

5 Die Here sê: “Dan sal Ek julle genees van julle ontrouheid; my liefde sal geen perke ken nie, want my woede is weg vir altyd!

6 Ek sal vir Israel wees soos verfrissende dou. Hy sal bloei soos ’n lelie. Hy sal diep in die aarde wortelskiet soos die seders van die Libanon.

7 Sy takke sal uitsprei soos die sierlike olyfboom, so geurig soos die plante van die Libanon.

8 My volk sal dan weer terugkeer na die veiligheid van hulle land. Hulle sal welig groei soos koring en uitspruit soos wingerde. Hulle sal so hoog aangeskrewe wees soos die wyn van die Libanon.

9 “O Israel, bly weg van die afgode. Ek het jou verneder, maar sal jou nou weer versorg. Ek is soos ’n boom wat altyd groen is. Ek is die bron van jou vrugbaarheid.”

Slotwoord

10 Laat hulle wat wys is hierdie woorde verstaan. Laat hulle wat verstandig is aandagtig luister. Die paaie van die Here is waar en reg. Regverdige mense loop daarop, maar sondaars struikel en val op die pad.

JOËL 1

1 Joël was die seun van Petuel. Hy het die volgende boodskap van die Here ontvang.

Treur oor die sprinkaanplaag!

2 Luister, leiers van die volk! Ook al julle inwoners van die land, luister hierna! Het so iets al vantevore in julle geskiedenis gebeur?

3 Vertel dit vir julle kinders en julle kleinkinders en hulle weer vir geslagte wat nog kom.

4 Snysprinkane het die oes kom opvreet. Wat oorgebly het, het die swerm sprinkane verder verorber. Ná hulle het die jong sprinkane gekom, en wat hulle nog oor gelos het, het nog ’n swerm kom opvreet!

5 Word wakker, al julle dronklappe! Huil! Al julle druiwe is tot niet, julle nuwe wyn is vir julle verlore!

6 ’n Verskriklike groot en magtige nasie het my land ingeval. Die nasie se tande is so skerp soos dié van leeus!

7 Hulle het my wingerde en vyebome vernietig. Hulle het die bas afgetrek en die wit, kaalgestroopte takke weggegooi.

8 Treur soos ’n jong meisie wat huil oor die dood van haar bruidegom.

9 Daar is nie graan of wyn om by die tempel van die Here te offer nie. Die priesters wat diens doen vir die Here treur daaroor.

10 Die weiding is verwoes, die aarde in ’n jammerlike toestand. Die koring, die wyn en die olywe is alles tot niet.

11 Gee moed op, julle saaiboere! Kla, wynboere! Die koring en die gars – om die waarheid te sê, die hele oes – is vernietig.

12 Die wingerde en die vyebome het verdroog en verdor. Die granaatbome, palmbome en die appelbome, al die vrugtebome het verdroog. Alle blydskap het daarmee saam verdwyn.

13 Trek rouklere aan en treur, priesters! Huil, julle wat diens doen by die altaar! Julle wat in diens van my God is, kom met julle rouklere aan en bring die nag hier deur! Daar is nie graan of wyn om te offer by die tempel van julle God nie.

14 Kondig ’n vasdag aan. Roep die gemeente saam. Bring die leiers en al die inwoners van die land by die tempel van die Here julle God bymekaar. Roep tot die Here!

15 Die Dag van die Here is naby. Op dié dag sal die Almagtige verwoesting bring. O, wat ’n verskriklike dag!

16 Ons het toegekyk terwyl ons kos voor ons oë verdwyn. Blydskap en vreugde het uit die huis van ons God verdwyn.

17 Niks kom van die saad onder die kluite nie. Die skure en die meule staan leeg en verlate, want die koringoes het misluk.

18 Hoe bulk die beeste nie van die honger nie! Die vee maal verward rond, want daar is geen weiding meer vir hulle nie. Selfs die troppe skape ly onder die straf.

19 Here, ons God, help ons! Vuur het al ons weiding verbrand en die bome in die veld verskroei.

20 Selfs die wilde diere roep na U omdat hulle nie water het om te drink nie. Die stroompies het opgedroog en vuur het die weiding in die woestyn verteer.

JOËL 2

Sprinkane val die land binne

1 Blaas op die trompet in Jerusalem! Maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land bewe van vrees, want die Dag van die Here kom en is naby.

2 Dit is ’n dag van duisternis en donkerte, ’n dag met dik wolke en intense donkerte. ’n Magtige leër verskyn skielik oor die heuwels soos die lig van die dagbreek! Hoe geweldig groot en magtig is hulle nie! Niemand het nog ooit so iets gesien nie, en niemand sal ooit weer so iets sien nie.

3 Voor die leër brand vuur en agter volg ’n brandende vlam. Voor hulle lê die land soos die Tuin van Eden, maar agter die leër is ’n verlate verwoesting gelaat. Niks kan hulle ontsnap nie.

4 Hulle lyk soos perde en hulle galop soos oorlogsperde.

5 Hulle klink soos strydwaens wat oor die heuweltoppe voortdreun! Hulle raas soos vuur wat ’n grasveld verteer of soos ’n magtige leër wat gereed is om oorlog te maak.

6 Angs oorweldig die mense; hulle gesigte is bleek van vrees.

7 Die dapper soldate storm vorentoe, soos opgeleide manskappe klim hulle oor die mure. Hulle marsjeer doelgerig vorentoe, niks laat hulle van hulle koers afwyk nie.

8 Hulle stamp nooit teen mekaar nie, elkeen bly op sy regte plek. Hulle bars deur die verdediging, geen wapen kan hulle stop nie.

9 Hulle oorval die stad en hardloop op die mure. Hulle val die huise binne, en klim soos diewe deur vensters.

10 Soos hulle voortbeweeg, skud die aarde en bewe die hemel. Die son en die maan verdonker en die sterre skyn nie meer nie.

11 Die Here roep hard uit terwyl Hy hulle lei. Hulle is sy magtige leër en gehoorsaam sy bevele. Die Dag van die Here is iets angswekkends, iets verskrikliks. Wie kan dit oorleef?

Kom terug na My toe!

12 Maar nou sê die Here: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur!

13 Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die Here julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie.

14 Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die Here julle God kan offer!

15 Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom.

16 Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die Here. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer.

17 Die priesters wat in diens is van die Here moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “Here, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”

’n Belofte van herstel

18 Dan sal die Here wys dat Hy omgee vir sy land en Hy sal sy volk jammer kry.

19 Hy sal hulle antwoord en sê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring, wyn en olyfolie. Dit sal aan julle behoeftes voldoen. Julle sal nie langer ’n voorwerp van spot onder die nasies wees nie.

20 Ek sal hierdie leërs uit die noorde verwyder en hulle ver weg stuur. Ek sal hulle verdryf na ’n droë en onherbergsame land toe. Dié op die voorhoede sal in die Dooie See beland, en dié op die agterhoede in die Middellandse See. Die stank van hulle lyke sal oor die land versprei.”

Die Here het inderdaad groot dinge gedoen!

21 Julle moenie bang wees nie, my volk! Wees bly en verheug julle, want die Here het groot dinge gedoen!

22 Moenie bang wees nie, diere van die veld! Binnekort sal die weiding groen wees. Die bome sal weer vol vrugte wees. Die vyebome en wingerde sal weer volop vrugte dra.

23 Wees bly, inwoners van Jerusalem! Juig oor die Here julle God! Die reën wat Hy stuur, is ’n bewys van sy genade. Die herfsreëns en die lentereëns sal weer oorvloedig wees soos voorheen.

24 Daar sal weer hope koring op die dorsvloere wees. Die parskuipe sal oorloop van wyn en olyfolie.

25 Die Here sê: “Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane, die snysprinkane, die swermsprinkane en die jong sprinkane verloor het. Ek het hierdie groot, vernietigende leër teen julle gestuur.

26 “Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die Here julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak. My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.

27 Julle sal weet dat Ek onder my volk Israel teenwoordig is. Net Ek is die Here julle God, niemand anders nie! My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.”

Die Here beloof sy Gees

28 “Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien.

29 In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort.

30 “Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme.

31 Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die Here aanbreek.

32 “Enige persoon wat tot die Here bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg en in Jerusalem wees, net soos die Here gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die Here geroep het.”

JOËL 3

Oordeel oor vyandige nasies

1 Die Here sê: “Wanneer dié tyd aanbreek, sal Ek Juda en Jerusalem weer voorspoedig maak.

2 Ek sal al die nasies van die wêreld in die Josafatvallei bymekaarmaak. Daar sal Ek hulle oordeel omdat hulle my volk kwaad aangedoen het. Hulle het Israel wat aan My behoort onder die nasies verstrooi en my land verdeel.

3 Hulle werp die lot om te besluit wie van my volk hulle slawe gaan wees. Hulle ruil jong seuns vir prostitute en jong dogters vir genoeg wyn om dronk te word.

4 “Wat het julle teen My, Tirus, Sidon en streke van die Filistyne? Probeer julle wraak neem op My? As dit die geval is, wees versigtig! Ek sal julle baie skielik tref en julle terugbetaal vir alles wat julle gedoen het.

5 “Julle het my goud en my silwer gesteel. Julle het my kosbare skatte na julle heidense tempels toe weggedra.

6 Julle het die mense van Juda en Jerusalem aan die Grieke verkoop wat hulle ver van hulle eie land af weggeneem het.

7 “Maar Ek sal hulle terugbring uit al hierdie plekke waarheen julle hulle verkoop het. Dan sal Ek julle terugbetaal vir alles wat julle gedoen het.

8 Ek sal julle seuns en julle dogters aan die mense van Juda verkoop, wat hulle weer aan die mense van die veraf land Arabië sal verkoop. Ek, die Here, sê dit!”

9 Sê aan die nasies: “Sonder julle af vir oorlog! Roep julle dapperste soldate op! Laat die krygsmanne uittrek vir die aanval!

10 Maak swaarde van julle ploegimplemente en spiese van julle snoeiskêre. Selfs die swakkeling moet sê: ‘Ek is ’n dapper soldaat!’

11 Al julle nasies van die omringende omgewings, kom gou! Kom bymekaar in die Josafatlaagte.”

Here, bring u soldate af daarheen!

12 “Die nasies moet wapens opneem en na die Josafatlaagte toe optrek. Daar sal Ek oor al die nasies van die omgewing oordeel.

13 Steek die sekel in, want die oes is ryp. Kom trap, want die wynpers is vol. Die wynvate loop oor van al die onreg van hierdie mense.”

14 Derduisende mense wag in die laagte in afwagting vir die uitspraak. Dit is hier waar die Dag van die Here binnekort sal aanbreek.

15 Die son en maan sal verdonker. Die sterre sal nie meer skyn nie.

16 Die Here sal brul uit Sion, uit Jerusalem sal Hy bulder. Die hemel en die aarde sal begin skud. Maar vir die mense van Israel is die Here ’n skuilplek en ’n veilige vesting.

Voorspoed vir God se volk

17 “Julle sal dan weet dat Ek, die Here julle God, op Sion, my heilige berg, woon. Jerusalem sal altyd ’n heiligdom wees. Geen vreemdelinge sal meer daar deurtrek nie.

18 “In dié tyd sal soet wyn van die berge afdrup, melk sal teen die heuwels afvloei. Die droë spruite van Juda sal vol water wees. ’n Fontein sal in die tempel van die Here ontspring en die vallei van akasias natlei.

19 Egipte en Edom het die mense van Juda aangeval en onskuldige mense doodgemaak. As gevolg hiervan sal Egipte ’n verlate ruïne word en Edom ’n onbewoonbare woestyn.

20 “Maar Juda sal vir altyd bly voortbestaan. Jerusalem sal vir geslag na geslag daar wees.

21 Die oortredings van my volk wat Ek nog nie vergewe het nie, sal Ek vergewe. Ek, die Here, sal Jerusalem my blyplek maak.”

AMOS 1

1 Hierdie boodskap oor Israel is vir Amos, ’n skaapboer uit Tekoa, gegee. Hy het dit twee jaar voor die aardbewing deur ’n visioen ontvang. Dit was in die tyd toe Ussia koning van Juda was en Jerobeam, die seun van Joas, koning van Israel.

2 Amos het die volgende gesê:

“Die Here brul uit Sion,

sy stem dreun uit Jerusalem!

Die weivelde kwyn weg.

Die gras bo-op Karmel verdor.”

Oordeel oor Israel se bure

3 Die Here sê:

“Die mense van Damaskus

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle het die mense van Gilead

soos graan

met ’n ysterslee vertrap.

4 Daarom sal Ek die paleis

van koning Gasael

afbrand.

Die vestings van Ben-Hadad

sal Ek vernietig.

5 Damaskus se hekgrendels

sal Ek stukkend breek,

die inwoners van Bikat-Awen

sal Ek uitroei.

Die leier van Bet-Eden

sal Ek uitruk

en die mense van Sirië

as gevangenes

na Kir laat wegvoer.”

So sê die Here.

6 Die Here sê:

“Die mense van Gasa

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle het my volk

in ballingskap

laat gaan,

hulle aan Edom

as slawe verkoop.

7 Ek sal die mure van Gasa

afbrand,

Ek sal hulle vestings vernietig.

8 Die inwoners van Asdod

sal Ek uitwis,

die koning van Askelon

uitroei.

Daarna sal Ek Ekron aanval,

en die Filistyne wat oor is,

sal ophou bestaan.”

So sê

die oppermagtige Here!

9 Die Here sê verder:

“Die mense van Tirus

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle ooreenkoms met Israel

het hulle nie nagekom nie.

Hulle het hele gemeenskappe

weggevoer

en hulle aan Edom uitgelewer.

10 Ek sal die mure van Tirus

afbrand

en hulle vestings vernietig.”

11 Die Here sê:

“Die mense van Edom

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle het hulle bloedverwante,

die Israeliete,

genadeloos

met swaarde agtervolg.

Hulle het ’n ewige haat

vir Israel gehad,

’n woede wat bly opvlam.

12 Daarom sal Ek Teman

afbrand

en die vestings van Bosra

verteer.”

13 Die Here het gesê:

“Die mense van Ammon

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Toe hulle Gilead aangeval het

om hulle grense uit te brei,

het hulle selfs swanger vroue

oopgesny.

14 Daarom sal Ek ’n vuur

aansteek

in die mure van Rabba

en hulle vestings verteer.

Op die dag van die veldslag

sal krete opgaan.

Die dag as ’n orkaan jou tref,

sal dit wees

soos ’n stormwind.

15 Hulle koning en sy amptenare

sal saam in ballingskap

gaan.”

Dit is wat die Here gesê het!

AMOS 2

1 Verder sê die Here:

“Die mense van Moab

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Die bene van Edom se koning

het hulle tot as verbrand.

2 Daarom steek Ek ’n vuur aan

in die land Moab

en die vestings van Kerijot

sal verteer word.

Moab sal omkom

onder oorlogsrumoer

en onder die geblaas

van die trompet.

3 Ek sal hulle koning uitroei

en al sy leiers

saam met hom doodmaak.”

So sê die Here.

Die Here se oordeel oor Juda en

Israel

4 Dit is wat die Here sê:

“Die mense van Juda

sondig keer op keer.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Die gebooie van die Here

het hulle verwerp,

sy voorskrifte nie nagekom nie.

Hulle is mislei

deur dieselfde leuens

as hulle voorouers.

5 Daarom sal Ek Juda

aan die brand steek,

al die vestings van Jerusalem

verteer.”

6 Die Here sê:

“Die mense van Israel

het keer op keer gesondig.

Ek sal hulle nie langer

ongestraf laat nie!

Hulle het die reg verdraai,

eerlike mense

vir geld verkoop

en armes vir ’n paar sandale.

7 Hulle vertrap hulpelose mense

in die stof van die aarde.

Hulle tree onregverdig op

teenoor behoeftige mense.

’n Seun en sy pa

slaap by dieselfde meisie.

So bring hulle my Naam

in die skande.

8 By elke altaar lê hulle op klere

wat hulle as pand gevat het.

In die tempel van hulle god

drink hulle wyn

wat met boetegeld gekoop is.

9 “Dit is Ek

wat die Amoriete vernietig het

voordat my volk

in die land aangekom het.

Hulle was so lank soos seders,

so sterk soos akkerbome.

Maar Ek het hulle uitgeroei,

met wortel en tak.

10 “Dit is Ek wat julle bevry het

uit Egipte.

Ek het julle 40 jaar lank

deur die woestyn gelei

om die land

van die Amoriete

in besit te neem.

11 Sommige van julle seuns

het Ek gekies

om profete te wees.

Ander jong mans

het Ek gekies

om nasireërs te wees.”

Die Here vra:

“Is dit nie so nie,

mense van Israel?

12 Julle laat nasireërs sondig

deur hulle

wyn te laat drink.

Vir die profete sê julle:

‘Moenie profeteer nie!’

13 “Ek sal julle laat kreun

soos ’n wa kreun

wat met graangerwe oorlaai is.

14 Julle vinnigste hardlopers

sal nie wegkom nie.

Die sterkes se krag

sal nutteloos wees.

Selfs die dapperste vegters

sal hulleself nie kan red nie.

15 Die boogskutters

sal moet terugval.

Die vlugvoetiges

sal dit nie regkry

om te ontsnap nie.

Selfs berede soldate

sal hulle nie kan red nie.

16 Op daardie dag

sal selfs julle dapperste vegters

hulle wapens neergooi

en vlug vir hulle lewens.”

Dit is wat die Here sê!