JEREMIA 27

Jeremia dra ’n juk

1 Met die aanvang van die regering van koning Sedekia van Juda het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Sedekia was die seun van Josia.

2 Die Here het vir my gesê: “Maak vir jou ’n juk en sit dit op jou nek vas met leerrieme.

3 Stuur dan deur hulle ambassadeurs ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon. Die ambassadeurs het na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom.

4 Gee hulle opdrag om die volgende boodskap aan hulle konings oor te dra: ‘Die Here, die Almagtige, die God van Israel sê:

5 Ek het die aarde en die mense en die diere op die aarde deur my groot mag en krag gemaak. Ek kan dit gee aan wie Ek wil.

6 Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek sal al hierdie lande vir hom gee. Ek sal selfs die wilde diere van die veld onder sy beheer stel.

7 Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien tot hulle tyd verby is. Daarna sal sterk nasies en magtige konings Babel oorwin en oor Babel regeer.

8 Julle almal moet die koning van Babel dien. Plaas julle nekke onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, stuur Ek oorloë, hongersnood en epidemies na hulle totdat Babel hulle heeltemal oorwin, sê die Here.

9 “‘Moenie na julle eie profete luister nie, ook nie na die waarsêers of mense wat drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos: Julle sal nie die koning van Babel dien nie.

10 Hulle verkondig ’n spul leuens aan julle. Dit veroorsaak dat Ek julle ver uit julle land sal dryf. Ek sal julle ver wegstuur en daar sal julle sterf.

11 Maar die volke wat hulle onderwerp aan die koning van Babel en hom dien, sal Ek toelaat om in hulle eie land agter te bly. Hulle kan aangaan om te boer en in hulle land te woon, sê die Here!’”

12 Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly lewe, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Dien hom en sy mense.

13 Hoekom wil u en u mense in ’n oorlog sterf? Hoekom wil julle van honger of aan ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat met enige volk sal gebeur wat hulle nie aan die koning van Babel onderwerp nie.

14 Moenie luister na wat die profete vir julle sê nie: ‘Julle sal nie die koning van Babel dien nie.’ Hulle lieg!

15 Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie! Hulle vertel leuens in my Naam! Hulle is die oorsaak dat Ek julle uit julle land sal verdryf. Julle en julle profete met hulle liegstories sal almal doodgemaak word.”

16 Ek het toe met die priesters en hierdie mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie na die profete luister wat sê dat al die kosbare voorwerpe wat hulle uit die tempel van die Here weggevat het, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Dis ’n leuen!

17 Moenie na hulle luister nie. Gee julleself oor aan die koning van Babel en julle sal bly lewe. Hoekom moet hierdie stad verwoes word?

18 Hulle sê dat hulle die Here se profete is. As dit so is, laat hulle dan tot die Here, die Almagtige, bid oor die kosbare voorwerpe wat in die tempel van die Here, in die paleis in Juda en in Jerusalem oorgebly het. Laat hulle bid dat dit nie ook na Babel weggevat word nie.

19 “Want so sê die Here, die Almagtige, oor wat met die koperpilare, groot koperbad, staanders en ander bakke wat nog in hierdie stad oorgebly het, gaan gebeur.

20 Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel toe weggevoer. Toe hy hulle weggevoer het, het hy egter hierdie voorwerpe agtergelaat.

21 Maar hoor wat sê die Here, die Almagtige, oor hierdie kosbare voorwerpe wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is:

22 ‘Hulle sal al hierdie voorwerpe na Babel toe wegdra,’ sê die Here. ‘Dit sal daar bly totdat Ek dit terug wil bring. Dan bring Ek alles terug en Ek herstel dié plek.’”

JEREMIA 28

Jeremia en Gananja bots

1 In die laatsomer van die vierde jaar van die bewind van Sedekia koning van Juda het Gananja met my gepraat. Gananja, ’n profeet, was die seun van Assur, afkomstig uit Gibeon. Hy het met my gepraat in die tempel van die Here terwyl al die priesters en gewone mense gestaan en luister het. Hy het gesê:

2 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek verbreek die juk van die koning van Babel.

3 Koning Nebukadnesar het ’n klomp voorwerpe uit die tempel na Babel toe weggedra. Oor twee jaar sal Ek dit weer na die tempel toe terugbring.

4 Ek sal ook vir Jojagin, die seun van Jojakim, hiernatoe terugbring. Ek sal ook al die ballinge van Juda wat hulle na Babel weggevoer het, terugbring. Ek sal die juk van die koning van Babel stukkend breek, sê die Here.”

5 Die profeet Jeremia het die profeet Gananja geantwoord voor die priesters en al die mense wat in die tempel gestaan het.

6 Hy het gesê: “Laat dit so wees! Mag die Here dit so laat gebeur! Mag die Here doen wat jy geprofeteer het. Ek hoop ook dat Hy die kosbare voorwerpe wat uit die tempel weggedra is en al ons geliefdes uit Babel na hierdie plek toe sal terugbring.

7 Maar luister nou met aandag na wat ek vir jou voor al hierdie mense gaan sê.

8 Die profete van ouds het teen baie lande en sterk ryke gepreek, en altyd oorloë, hongersnood en epidemies aangekondig.

9 As ’n profeet vrede sou verkondig, moet ’n mens sien of dit realiseer. Eers as die profeet se woorde regtig gebeur, kan ’n mens weet die Here het die persoon gestuur.”

10 Gananja het na Jeremia toe gegaan, die juk van sy nek afgehaal en dit gebreek.

11 Daarna het hy weer vir die mense wat rondom hulle gestaan het, gesê: “Die Here het belowe Hy sal binne twee jaar die juk van Nebukadnesar koning van Babel oor al die nasies verbreek.” Op dié punt het die profeet Jeremia daarvandaan weggegaan.

12 Kort daarna het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

13 “Gaan sê vir Gananja dat Ek, die Here, met hom praat: Jy het die houtjuk gebreek en jy gaan dit met ’n ysterjuk vervang.

14 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek het ’n ysterjuk op die nekke van al hierdie nasies geplaas sodat hulle koning Nebukadnesar van Babel as slawe sal dien, want Ek het alles onder sy beheer gestel, selfs die wilde diere.”

15 Die profeet Jeremia het vir die profeet Gananja gesê: “Luister, Gananja, die Here het jou nie gestuur nie! En tog het jy dit reggekry dat die mense jou leuens glo.

16 ‘Omdat jy dit gedoen het,’ sê die Here, ‘gaan Ek jou van die aarde af wegvee. Jy gaan vanjaar nog sterf, want jy het opstand teen die Here verkondig.’”

17 In die sewende maand van daardie jaar het Gananja gesterf.

JEREMIA 29

’n Brief aan die mense in

ballingskap

1 Wat volg, is die inhoud van ’n brief wat Jeremia in Jerusalem geskryf het. Hy het dit gestuur aan die oumense, priesters, profete en al die mense wat Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer het.

2 Koning Jojagin en die koninginmoeder was toe alreeds uit Jerusalem weggevoer. Saam met hulle was ook die amptenare van die koning, die leiers van Juda, ambagsmense en smede.

3 Jeremia het die brief saam met Elasa seun van Safan en Gemarja seun van Gilkija gestuur. Koning Sedekia van Juda het hulle as ambassadeurs na koning Nebukadnesar van Babel gestuur.

Jeremia se brief was soos volg:

4 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem na Babel toe laat wegvoer het:

5 “Bou huise en woon daarin. Plant tuine en eet die kos wat dit oplewer.

6 Trou en verwek kinders. Sorg dat julle kinders ook trou sodat julle baie kleinkinders sal hê! Sorg dat julle getalle daar vermeerder en nie verminder nie.

7 Dra ook julle deel by vir vrede in Babel waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het. Bid tot die Here sodat dit goed sal gaan met die stad waarin julle bly. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

8 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers by julle julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie aan hulle drome steur nie.

9 Hulle verkondig leuens aan julle en sê hulle praat namens My. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here.

10 So sê die Here: “Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar as die tyd verstryk het, sal Ek al die goeie beloftes begin vervul. Ek sal julle na julle land toe terugbring.

11 Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.

12 Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister.

13 As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.

14 Julle sal My toeganklik vind,” sê die Here. “Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer. Ek sal julle versamel tussen al die nasies waar julle nou is en uit al die plekke waarheen Ek julle verban het,” sê die Here. “Ek sal julle weer terugbring na die plekke waarvandaan Ek julle in ballingskap laat gaan het.”

15 Julle mag sê dat die Here vir julle profete in Babel gegee het,

16 maar hoor wat sê die Here oor die koning wat op die troon van koning Dawid sit. Hoor ook wat Hy sê oor al die mense wat in hierdie stad oorbly, wat hulle nie saam met julle na Babel weggevoer het nie.

17 Die Here, die Almagtige, sê: “Ek sal oorlog, hongersnood en epidemies op hulle pad bring. Ek maak hulle soos vye wat te vrot is om te eet.

18 Ek agtervolg hulle met oorloë, hongersnood en epidemies en Ek verstrooi hulle oor die hele aarde. Oral waar hulle kom, sal mense skrik oor wat met hulle gebeur het. Mense sal hulle afstootlik vind en hulle verag of hulle spot en grappe oor hulle maak.

19 Dit sal gebeur omdat hulle hulle nie steur aan wat Ek sê nie. Ek het soveel keer my dienaars – die profete – na hulle gestuur, maar verniet,” sê die Here.

20 “Nou vra Ek julle almal wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het: Luister na die boodskap van die Here.

21 So sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, oor Agab seun van Kolaja en Sedekia seun van Maäseja wat leuens in my Naam verkondig: Ek sal hulle aan Nebukadnesar oorgee en hy sal hulle voor julle doodmaak.

22 Wat met hulle gebeur, sal soos ’n spreekwoord word. Elke keer as die mense van Juda in Babel iemand wil verwens, sal hulle sê: ‘Mag die Here met jou laat gebeur soos wat die koning van Babel met Agab en Sedekia gedoen het. Hy het hulle lewendig verbrand!’

23 Hierdie twee het verskriklike dinge onder die mense van Israel gedoen. Hulle het owerspel gepleeg met ander mans se vroue. Hulle het ook leuens vertel en voorgegee hulle praat namens My. Ek het hulle geen opdragte gegee nie. Ek weet, want Ek is ’n getuie van alles,” sê die Here.

’n Boodskap vir Semaja

24 Dra die volgende boodskap oor aan Semaja van Negelam.

25 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Jy het op eie inisiatief briewe aan die priester Sefanja seun van Maäseja geskryf en kopieë daarvan aan die priesters en die mense in Jerusalem gestuur. Jy het geskryf:

26 “Die Here het jou in die plek van die priester Jojada in beheer van die tempel aangestel. Dit is jou taak om toe te sien dat geen waansinnige mens profesieë bring nie. So iemand moet jy in die tronk sit met ’n ysterboei om die nek.

27 Verduidelik ’n bietjie hoekom jy Jeremia, wat van Anatot af kom, nie tereggewys het nie? Hy gee mos voor om ’n profeet te wees!

28 Jeremia het vir ons in Babel ’n brief gestuur waarin hy sê dat ons lank hier sal bly. Hy het gesê ons moet huise bou en dit bewoon. Verder moes ons ook tuine aanlê en die vrugte wat dit oplewer, eet.”

29 Die priester Sefanja het hierdie brief gelees waar die profeet Jeremia dit kon hoor.

30 Die Here het toe vir Jeremia hierdie boodskap gegee:

31 “Laat weet vir al die mense in ballingskap: ‘Die Here sê van Semaja wat van Negelam af kom: Hy het vir julle boodskappe gebring, maar Ek het hom nie gestuur nie. Hy het julle in leuens laat glo.

32 Omdat Semaja dit gedoen het, sê die Here, sal Ek hom en sy familie straf. Nie een van sy mense sal lewe om al die goeie dinge te sien wat Ek vir my volk gaan doen nie, want hy het die mense geleer om opstandig teen My te wees. Dit is wat die Here self sê!’”

JEREMIA 30

Beloftes van verlossing

1 Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

2 “Die Here, die God van Israel, sê: Alles wat Ek vir jou sê, moet jy in ’n boek neerskryf.

3 Die tyd kom dat Ek die omstandighede van my volk Israel en Juda sal verander. Ek sal hulle laat terugkom na hierdie land wat Ek vir hulle voorouers gegee het sodat hulle dit weer in besit kan neem. Ek, die Here, sê dit!”

4 Hier volg die boodskap wat die Here vir Israel en Juda gegee het.

5 Die Here sê:

“Ek hoor hoe my volk

uitroep van angs!

Daar is vrees en nie rustigheid nie.

6 Laat Ek jou ’n vraag vra:

Kan mans

babas in die wêreld bring?

Nou waarom staan hulle dan

soos ’n vrou in kraam:

hande op hulle heupe,

bleek in die gesig?

7 Nog nooit in die geskiedenis

was daar al ooit

so ’n verskriklike tyd nie.

Dit is ’n tyd van moeilikheid

vir Israel,

maar op die ou end

sal hulle daaruit gered word!

8 “Daardie dag,” sê die Here,

die Almagtige,

“sal Ek die juk breek

wat op julle nekke is

en julle boeie verwyder.

Geen vreemdeling sal meer

oor julle baasspeel nie.

9 Hulle sal My,

die Here hulle God, dien.

Ek sal ook ’n koning aanstel

uit die nageslag van Dawid.”

10 Die Here sê:

“Israel, my kneg, moenie bang

of verskrik wees nie.

Ek sal julle verlos uit ver plekke,

en julle nageslag uit ballingskap.

Israel sal terugkeer,

en weer rus en vrede

in hulle eie land hê.

Niemand sal hulle bangmaak nie.

11 Ek is by julle en

Ek sal julle red, sê die Here.

Ek sal die nasies vernietig

onder wie Ek julle verstrooi het,

maar julle

sal Ek nie vernietig nie.

Ek dissiplineer julle.

Ek kan julle nie ongestraf laat nie.”

12 Die Here sê:

“Julle beserings is ongeneeslik,

julle wonde kan nie gesond

word nie.

13 Niemand kan julle saak

behartig nie.

Daar is ook nie medisyne

vir julle wonde

of genesing vir julle nie.

14 Al julle bondgenote

het julle in die steek gelaat.

Hulle is nie langer besorg

oor julle nie.

Want Ek het julle gewond

asof Ek julle vyand is.

Julle oortredings was baie,

julle sondes oorvloedig.

15 Waarom skreeu julle so

omdat julle seerkry?

Niks kan julle pyn

laat verdwyn nie.

Ek straf julle

omdat julle so baie oortree

en soveel sonde gedoen het.

16 “Maar eendag sal hulle

wat julle verslind,

self vernietig word.

Al julle vyande

sal self in gevangenskap gaan.

Mense wat julle besteel,

sal besteel word.

Wie waag om julle aan te val,

sal self aangeval word.

17 Ek sal julle gesond maak

en julle wonde genees,”

sê die Here,

“omdat julle ’n verstoteling

genoem word:

Sion, vir wie niemand omgee nie.”

18 Maar die Here sê:

“Wanneer Ek julle terugbring

uit ballingskap en julle lot verander,

sal Jerusalem herbou word

waar nou net bouvalle is.

Die paleis sal ook weer

soos voorheen lyk.

19 Die mense sal weer vrolik wees

en liedere sing

omdat hulle dankbaar is.

En Ek sal hulle laat vermeerder.

Hulle sal ’n groot volk wees,

en ander sal hulle respekteer.

20 Dit sal met hulle kinders

goed gaan,

soos vroeër.

Ek sal hulle weer

as ’n volk

voor My vestig.

As iemand sou waag

om hulle te onderdruk,

sal Ek hulle straf.

21 Een van hulle eie mense

sal hulle leier wees,

nie ’n vreemdeling nie.

Ek sal hom nooi

om voor My te kom,

want wie kan kom

as Ek hom nie genooi het nie?”

vra die Here.

22 “Julle sal my volk wees

en Ek sal julle God wees.”

23 Maar neem kennis:

die Here se woede

is soos ’n storm wat losbars.

Dit is soos ’n orkaan

wat die slegte mense tref.

24 Die Here se verskriklike woede

sal nie bedaar nie

totdat Hy bereik

wat Hy beplan het.

Wanneer die tyd aanbreek,

sal julle dit verstaan.

JEREMIA 31

Hoop op herstel

1 Die Here sê:

“Daardie tyd sal Ek

al die families

van Israel se God wees

en hulle sal my volk wees.”

2 Hy sê verder:

“Die oorlewendes

sal in die woestyn genade vind.

Daar sal Hy vir Israel rus gee.”

3 Lank gelede reeds

het die Here

dit aan ons bekendgemaak:

“Ek het jou lief met ’n liefde

wat nooit ophou nie.

Ek trek jou

met troue liefde

na My toe.

4 Ek sal jou weer herbou

soos jy vroeër was,

jong vrou Israel!

Jy sal weer jou tamboeryne

te voorskyn haal.

Jy sal dans en vrolik wees.

5 Jy sal weer wingerde plant

teen die berghange

van Samaria.

Die werkers sal die vrugte geniet

wat hulle self geplant het.

6 Daar sal ook ’n dag kom

waarop die wagte

in die heuwels van Efraim

sal uitroep:

‘Kom ons gaan na Jerusalem,

na die Here ons God!’”

7 Die Here sê:

“Sing van blydskap oor Israel!

Roep uit vir die vernaamste

van al die volke!

Laat hulle julle lofprysing hoor

en sê:

‘Here, red u volk,

die oorblyfsel van Israel.’

8 Kyk, Ek sal hulle uit die noorde

terugbring.

Ek sal hulle uit die uithoeke van

die aarde bymekaarmaak.

Onder hulle sal blindes

en kreupeles wees,

ook verwagtende moeders

en vroue op die punt

om geboorte te gee.

’n Groot getal mense

sal hierheen terugkeer!

9 Hulle sal al huilend terugkom,

hulle sal bid

terwyl Ek hulle teruglei.

Ek sal hulle langs strome lei.

Hulle sal op ’n reguit pad loop

sodat hulle nie kan struikel nie.

Ek is Israel se pa.

Efraim is my oudste kind.

10 “Nasies,

luister na die woord

van die Here,

vertel dit in veraf kuslande.

Die Here het Israel

uitmekaar laat spat,

Hy sal hulle weer byeenbring.

Soos ’n herder sy skape oppas,

so sal Hy hulle versorg.

11 Die Here het Israel vrygemaak,

hulle losgekoop

uit die mag van ’n vyand

sterker as hulle.

12 Hulle sal terugkom en vrolik sing

op die hoogtes van Jerusalem.

Hulle sal straal van blydskap

oor die goedheid van die Here.

Hy gee graan,

nuwe wyn, olie,

lammers en beeste.

Hulle lewens sal wees

soos ’n tuin met volop water.

Hulle sal nie meer rede hê

om hartseer te wees nie.

13 Dan sal die meisies

van blydskap dans.

Die mans, oud en jonk,

sal deel in die vrolikheid.

Ek sal hulle gehuil in

blydskap verander.

Ek sal hulle troos.

Ek sal hulle vreugde gee

in die plek van hartseer.

14 Ek sal aan die priesters

oorvloed gee om te offer.

My volk sal tevrede voel

oor die goeie dinge

wat Ek vir hulle gee,”

sê die Here.

’n Gehuil verander in vreugde

15 Die Here sê verder:

“Hoor die geluid

van hartseer

en droewige gehuil uit Rama.

Dit is Ragel wat huil

oor haar kinders.

Sy laat niemand toe

om haar te troos nie,

want haar kinders is dood.”

16 Maar die Here sê:

“Hou op huil en

droog af jou trane.

Ek sal jou beloon vir jou moeite,”

sê die Here.

“Jou kinders sal terugkom

uit die land van die vyand.

17 Daar is hoop vir die toekoms,”

sê die Here.

“Jou kinders sal terugkom

na hulle land toe.

18 “Ek het Israel hoor kla:

‘U het ons swaar gestraf,

maar ons het dit verdien.

Ons was soos wilde kalwers

wat nog moes leer.

Bring ons terug en herstel ons,

want U is die Here ons God.

19 Ons het afgedwaal,

maar ons is spyt daaroor.

Ons kon onsself skop

dat ons so dom was.

Nou is ons skaam en verleë

oor wat ons in ons jong dae

gedoen het.’”

20 Die Here sê:

“Is Israel dan nie meer

my dierbare seun nie?

Is hy nie my lieflingkind nie?

Selfs al moes Ek hom straf,

is hy nie uit my gedagtes nie.

Omdat Ek oor hom besorg is,

sal Ek My oor hom ontferm.

21 “Plant vir jou rigtingwysers.

Stel vir jou bakens vas.

Neem kennis van die pad

waarlangs jy gegaan het.

Kom terug, jong vrou Israel!

Kom terug na jou eie dorpe.

22 Hoe lank sal jy nog hink

op twee gedagtes,

ontroue dogter?

Die Here gaan iets nuuts

op aarde laat gebeur:

’n Vrou sal ’n man beskerm.”

23 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die Here seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’

24 Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25 Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”

26 Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.

27 Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek die mense van Israel en Juda sal vermeerder. Ek sal ook die getalle van die diere vermeerder.

28 In die verlede het Ek hulle ontwortel en hulle afgebreek. Ek het hulle skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge op hulle pad gebring. Maar in die toekoms sal Ek hulle weer opbou en hulle plant,” sê die Here.

29 “In daardie tyd sal mense nie langer sê nie:

“‘Die ouers het suur druiwe geëet

sodat die kinders se tande

stomp geword het.’

30 “Mense sal weens hulle eie sonde doodgaan. Elkeen wat die suur druiwe eet, se tande sal stomp raak.”

31 Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit.

32 Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die Here.

33 “Maar so sal die nuwe verbond wees wat Ek na hierdie tyd met Israel sal sluit,” sê die Here. “Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34 Dit sal nie vir hulle nodig wees om vir hulle bure of familie te sê: ‘Ken die Here, leef soos die Here van julle verwag,’ nie. Almal, van die geringste tot die belangrikste, sal My reeds ken,” sê die Here. “Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.”

35 Dit is wat die Here sê,

Hy wat die son gemaak het

om in die dag te skyn,

en die maan en die sterre

om in die nag lig te maak.

Dit is Hy

wat die see onstuimig laat word

om golwe te maak.

Sy Naam is die Here,

die Almagtige, en Hy sê:

36 “So min as wat Ek hierdie

natuurwette sal verwyder,

net so min sal die nageslag

van Israel ooit ophou

om my volk te wees!”

37 Die Here sê:

“Net soos die hemele

nie gemeet kan word,

of die fondasie van die aarde

ondersoek kan word nie,

net so min sal Ek daaraan dink

om die nageslag van Israel vir altyd

weg te gooi vir die verkeerde

dinge wat hulle gedoen het.”

Dit is wat die Here sê!

38 Die Here sê: “Die tyd kom wanneer hulle weer die stad vir My sal herbou van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort.

39 ’n Maatlyn sal loop vanaf hierdie ingang tot by die Garebheuwel en van daar sal dit wegswaai na Goa toe.

40 Hulle sal ’n groot gebied vir die Here afsonder. Dit sluit in die begraafplaas en die ashoop in die vallei asook die terrasse tot so ver as die Kidronspruit. In ’n oostelike rigting sal dit wees tot by die ingang bekend as die Perdepoort. Die stad sal nooit weer ingeneem of verwoes word nie.”

JEREMIA 32

Jeremia koop grond

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die tiende jaar van Sedekia se bewind in Juda. Nebukadnesar was agtien jaar koning in Babilonië

2 toe sy leër Jerusalem omsingel het. Jeremia was ’n gevangene in die binnehof van die wagte in die paleis van die koning van Juda.

3 Koning Sedekia van Juda het hom hier gevange gehou omdat hy bly sê het: “Die Here sê: Ek gaan hierdie stad in die mag van die koning van Babel oorgee, en hy sal die stad inneem.

4 Sedekia sal nie ontsnap nie. Die Babiloniërs sal hom vang en hom in die mag van die koning van Babel oorgee. Hulle sal van aangesig tot aangesig ontmoet en hy sal persoonlik met Sedekia praat.

5 Hy sal Sedekia na Babel toe neem en daar sal hy bly totdat Ek besluit om aan hom aandag te gee, sê die Here. Dit sal nie help om teen die Babiloniërs te veg nie, want julle sal nie wen nie.”

6 Jeremia het gesê: “Die Here het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

7 ‘Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: Koop my stuk grond by Anatot. Jy het volgens die lossingsreg die eerste keuse om dit te koop.’”

8 En soos die Here gesê het sal gebeur, het Ganamel na my toe gekom waar ek opgesluit was in die binnehof van die paleis. Hy het vir my gesê: “Koop my grond by Anatot, in die grondgebied van Benjamin. Volgens reg het jy die eerste opsie om dit te koop as jou besitting. Koop dit vir jouself.” Toe het ek geweet dat dit die Here was wat met my gepraat het.

9 Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom 200 gram silwer daarvoor betaal.

10 Daarna het ek die koopkontrak geteken en dit voor getuies verseël. Ek het daarna die silwer op die skaal afgeweeg.

11 Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel bevat. Ek het die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat vir almal se insae bedoel was, geneem

12 en vir Baruk die seun van Nerija, kleinseun van Magseja gegee. Ek het dit alles voor my neef Ganamel en die getuies wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Dit is gedoen voor al die Jode wat in die binnehof van die wagte gesit het.

13 Ek het toe voor almal vir Baruk gesê:

14 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel sê: ‘Neem sowel die verseëlde as die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd behoue kan bly.

15 Want, sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”

Jeremia se gebed

16 Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek gebid en gesê:

17 “Ag, oppermagtige Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!

18 Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar U laat die kinders betaal vir die sondes wat hulle ouers gedoen het. U is die groot en magtige God, die Here, die Almagtige!

19 U het groot wysheid en doen groot dade. Daar is net mooi niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het en die gevolge wat dit oplewer.

20 U het destyds in Egipte wonders en tekens gedoen. U doen dit vandag nog in Israel en onder alle mense. Selfs vandag nog is U steeds daarvoor bekend.

21 U het Israel uit Egipte gebring met tekens en wonders. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het groot vrees ingeboesem.

22 U het hierdie land wat U baie jare gelede aan hulle voorouers belowe het, aan die mense van Israel gegee. Dit is ’n vrugbare land waar melk en heuning vloei.

23 Ons voorouers het hierdie land binnegetrek en dit hulle blyplek gemaak. Maar hulle het geweier om aan U gehoorsaam te wees. Hulle wou nie volgens u voorskrifte lewe en doen wat U hulle beveel het om te doen nie! Dit is die rede hoekom U hierdie onheil oor hulle gebring het.

24 “Die Babiloniërs veg nou teen die mense in Jerusalem. Hulle het walle gebou om oor die mure van die stad te kom en die stad in te neem. As gevolg van die gevegte, hongersnood en die siektes het die Babiloniërs mag oor die stad verkry. U sien nou dat alles gebeur net soos U gesê het dit sou.

25 En tog het U, die oppermagtige Here, vir my gesê om die stuk grond te koop. Ek moes selfs voor getuies ’n groot klomp geld daarvoor betaal. En dit gebeur alles terwyl die Babiloniërs op die punt staan om die stad in te neem!”

Juda se toekoms

26 Die Here het toe weer ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

27 “Ek is die Here, die God van al die mense. Is daar iets te moeilik vir My om te doen?”

28 Daarom sê die Here: “Ek sal hierdie stad aan die Babiloniërs oorgee. Nebukadnesar, die koning van Babel, sal die stad inneem.

29 Die Babiloniërs wat nou die stad aanval, sal in die stad inkom en dit aan die brand steek. Die vyand sal ook die huise afbrand van mense wat bo-op die dakke wierook vir Baäl gebrand en drankoffers vir ander gode uitgegiet het. Dit het My baie kwaad gemaak.

30 “Van hulle jeug af het Israel en Juda niks anders as verkeerd gedoen nie. Hulle het My getart met dit wat hulle doen,” sê die Here.

31 “Vandat hierdie stad gebou is tot vandag toe, het die inwoners van die stad net my toorn opgewek. Daarom is Ek vasbeslote dat dit voor my oë moet verdwyn.

32 Die mense van Israel en Juda het My kwaad gemaak met al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Almal van hulle, die konings, die amptenare, die priesters, die profete, die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, maak My woedend.

33 My mense het hulle rug op My gedraai en My nie geëer nie. Dag na dag, jaarin en jaaruit het Ek hulle geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei. Maar hulle wou nie luister en gehoorsaam word nie.

34 Hulle was so vermetel om hulle afskuwelike afgodsbeelde in my tempel te sit. So het hulle die tempel onrein gemaak.

35 Hulle het in die Ben-Hinnomdal hoogtes vir Baäl gebou. Daar het hulle hulle seuns en dogters geoffer om Molek se guns te wen. Dit is nie iets wat Ek vir hulle gesê het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen nie. So het hulle veroorsaak dat Juda sondig!”

’n Belofte op herstel

36 Die Here, die God van Israel, sê: “Ek wil nog iets oor hierdie stad sê. Julle sê nou wel: ‘Hierdie stad sal onder beheer van die koning van Babel kom deur oorloë, hongersnood en siektes.’

37 Maar hoor gerus hier: Ek sal hulle weer bymekaarmaak van oral oor die aarde waarheen Ek hulle verjaag het oor Ek woedend kwaad vir hulle was. Dan sal Ek hulle na hierdie plek toe terugbring en hulle veilig laat woon.

38 Hulle sal weer my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39 Ek sal hulle harte op My rig, met een doel voor oë: om My vir altyd te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste wees om te doen.

40 “Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit waarin Ek belowe om nie op te hou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My in eerbied te dien. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie.

41 Dit sal vir My baie aangenaam wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal getrou wees en hulle in hierdie land vestig. Ek sal dit heelhartig doen.

42 Nes Ek veroorsaak het dat groot rampe hierdie volk van My tref, sal Ek sorg dat hulle weer voorspoedig sal wees soos Ek belowe het. Dit is wat die Here sê Hy gaan doen!

43 “Dit is soos julle sê: ‘Die land is nou verlate omdat dit in die mag van die Babiloniërs beland het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het.’ Maar hulle sal weer grond in hierdie land koop en verkoop.

44 Hulle sal die grond vir geld verkoop. Hulle sal koopkontrakte opstel, teken en voor getuies verseël. Dit sal in die grondgebied van Benjamin en ook hier in Jerusalem gebeur. Verder ook in die dorpe in Juda, in die heuwellande, in die dorpe teen die westelike hange en die dorpe van die Suidland. Ek sal sorg dat hulle omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit!”

JEREMIA 33

Beloftes van vrede en voorspoed

1 Terwyl Jeremia nog in die binnehof van die wagte opgesluit was, het die Here weer vir hom ’n boodskap gegee:

2 “Die Here het die aarde gemaak en gevestig. Hy is bekend as die Here. Dit is sy boodskap:

3 Vra My, en Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel oor wat hier gaan gebeur, waarvan jy niks weet nie.

4 “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: Dit was seker so dat julle boumateriaal nodig gehad het om die mure van die stad te versterk teen die stormwapens van die vyand. Daarom het julle van die huise in die stad en selfs dele van die koning se paleis afgebreek. Maar dit sal nie help nie.

5 Die Babiloniërs sal steeds die stad binneval. Baie mense in die stad sal doodgaan omdat Ek hulle in my woede sal tref. Die mense van die stad het soveel wandade gedoen dat Ek niks met hulle te doen wil hê nie.

6 “Maar neem kennis, die tyd sal aanbreek dat Ek die stad weer sal herstel en gesond maak. Ek sal haar voorspoedig en standvastig maak.

7 Ek sal die omstandighede van Israel en Juda verander en hulle sal die land weer opbou.

8 Ek sal hulle rein maak van die sonde wat hulle teen My gedoen het. Hulle het verkeerd gedoen en was opstandig teen My, maar Ek sal hulle daarvoor vergewe.

9 Die stad sal vir My baie blydskap, roem en eer voor al die nasies van die wêreld bring. Hierdie nasies sal van vrees bewe as hulle al die goeie dinge sien wat Ek vir my mense doen.”

10 Die Here sê: “Julle sê: ‘Hierdie plek is verwoes. Al die mense en die diere het verdwyn.’ Maar mense sal weer bly wees en vrolik lag in die leë strate van Jerusalem en in die dorpe van Juda waar nou geen mens woon of diere is nie.

11 Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal weer opklink. Mense sal ook weer opgewekte liedere sing om hulle dankbaarheid teenoor die Here te bewys. Hulle sal by die tempel sing:

“‘Bring lof aan die Here,

die Almagtige,

want die Here is goed.

Sy liefde en trou

hou nooit op nie!’

“Ek sal die omstandighede in die land verander sodat dit weer soos vroeër sal wees,” sê die Here.

12 Die Here, die Almagtige, sê: “Hierdie land is nou leeg. Al die mense en die diere is weg uit al die dorpe. Maar daar sal weer herders wees wat hulle skape sal laat wei.

13 Daar sal weer groot skaaptroppe wees in die dorpe van die heuwelgebied, die Laeveld en die Negev in die suide, in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die dorpe van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!”

14 Die Here sê ook: “Die tyd breek aan dat Ek al die beloftes sal vervul wat Ek aan Israel en Juda gemaak het.

15 “Dan sal Ek ook

’n wettige erfgenaam van Dawid

koning maak.

Hy sal doen wat reg is

en sorg dat regverdigheid

in die land heers.

16 In dié tyd sal Hy Juda red

en Jerusalem ’n veilige plek maak

sodat mense daarin kan woon.

En die mense sal die stad noem:

‘Die Here doen reg aan ons!’”

17 Die Here sê: “Daar sal altyd iemand op die troon van die huis van Israel sit as koning oor Israel.

18 Daar sal ook altyd Levitiese priesters wees wat brandoffers, graanoffers en ander offers vir My sal bring.”

19 Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

20 “As julle die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek sodat dit nie meer aanbreek nie,

21 dan en dan alleen sal Ek my verbond met my dienaar Dawid verbreek sodat daar nie meer ’n opvolger as koning op sy troon sal wees nie. Dieselfde geld my verbond met die Levitiese priesters wat in my diens staan.

22 Soos die sterre en die sand op die strande nie getel kan word nie, so sal Ek die nageslag van my dienskneg Dawid en die Leviete in my diens vermeerder.”

23 Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

24 “Het julle gehoor wat die mense sê? ‘Die Here het Juda en Israel gekies, maar nou verwerp Hy hulle weer! Omdat Hy dit gedoen het, kyk ander nasies met minagting neer op my volk. Hulle ag hulle nie langer as ’n nasie nie.’”

25 Maar die Here antwoord so: “Soos Ek nie die natuurwette van die nag en die dag of die aarde en die hemel sal verander nie, net so min sal Ek my mense verwerp.

26 Ek sal nie die nageslag van Jakob en my dienaar Dawid vergeet nie. Ek sal nie van plan verander dat iemand uit Dawid se nageslag oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob regeer nie. Ek sal hulle omstandighede verander en My oor hulle ontferm.”

JEREMIA 34

’n Waarskuwing vir Sedekia

1 In ’n stadium was koning Nebukadnesar van Babel met sy leër besig om teen Jerusalem en die dorpe van Juda te veg. Saam met sy leër het ook die leërs van ander nasies geveg wat onder sy gesag was. Gedurende hierdie tyd het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Gaan na koning Sedekia van Juda en sê vir hom: ‘Die Here, die God van Israel sê: Ek gaan die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal dit afbrand.

3 Jy sal nie wegkom nie, hulle sal jou vang en in die mag van Nebukadnesar oorlewer. Jy sal persoonlik voor die koning van Babel verskyn en met hom praat voordat jy na Babel toe sal gaan.’

4 “Maar luister na die belofte wat die Here maak, Sedekia, koning van Juda. Hy sê: ‘Jy sal nie in die oorlog sterf nie.

5 Nee, jy sal in vrede sterf. Jou mense sal wierook brand by jou begrafnis, net soos hulle met konings voor jou gedoen het. Hulle sal oor jou huil en sê: Ag, ons koning is dood! Die Here sê Hy sal sorg dat dit gebeur.’”

6 Die profeet Jeremia het hierdie boodskap in Jerusalem aan koning Sedekia van Juda oorgedra.

7 In dié stadium was die Babiloniese leërs besig om Jerusalem, Lakis en Aseka te beleër, die enigste stede in Juda waarvan die mure nog staande gebly het. Hierdie was die enigste versterkte dorpe van Juda wat nog nie ingeneem was nie.

Vryheid vir slawe

8 Jeremia het nog ’n boodskap by die Here gekry. Dit was nadat koning Sedekia ’n verbond met al die mense in Jerusalem gesluit het om vryheid vir hulle slawe aan te kondig.

9 Hy het hulle beveel om al hulle Hebreeuse slawe, mans en vroue, vry te laat. Geen Judeër is toegelaat om ’n ander Judeër as slaaf aan te hou nie.

10 Die amptenare en al die mense van Juda het aanvanklik gedoen wat die koning beveel het. Almal wat die verbond aangegaan het om hulle manlike en vroulike slawe vry te laat, was gehoorsaam en het hulle vrygelaat.

11 Maar later het hulle weer anders besluit. Hulle het die mans en die vroue wat hulle vrygelaat het, teruggeneem en weer hulle slawe gemaak.

12 Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

13 “Ek, die Here, die God van Israel, sê die volgende: Lank gelede het Ek julle voorouers as slawe in Egipte vrygemaak. Ek het toe met hulle ’n verbond gesluit.

14 Aan die einde van sewe jaar moes hulle elke mede-Hebreër wat aan hulle verkoop was, vrylaat. Ná sulke mense ses jaar diens gedoen het, moes hulle vrygelaat word. Maar julle voorouers was ongehoorsaam en het dit nie gedoen nie.

15 Toe julle onlangs besef dat dit verkeerd was, het julle reg gedoen en My gehoorsaam. Julle het julle eie mense vrygelaat en in my tempel ’n verbond met My gesluit.

16 Maar nou het julle julle woord verbreek. Julle het My beledig deur die mans en die vroue wat julle vry laat gaan het, weer julle slawe te maak!”

17 Die Here sê: “Julle het My nie gehoorsaam nie. Julle wou nie julle eie mense vry laat gaan nie. Daarom sal Ek julle nou vrylaat – om slagoffers te wees van oorlog, epidemies en hongersnood. As die nasies van die wêreld julle toestand sien, sal dit hulle met afgryse vervul.

18 As twee partye ’n verbond sluit, sny hulle ’n kalf in twee dele. Daarna loop die twee partye tussen die dele deur om dit amptelik te maak. So sal Ek met elkeen maak wat die verbond met My verbreek het.

19 Dieselfde sal gebeur met die amptenare van Juda en Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en die gewone mense wat tussen die dele van die kalf deurgeloop het.

20 Ek sal julle aan julle vyande oorgee. Hulle sal julle doodmaak. Julle lyke sal kos vir die roofvoëls en die wilde diere wees.

21 “Die leër van die koning van Babel het alreeds van julle af teruggetrek. Maar al is dit so, sal Ek koning Sedekia van Juda en sy amptenare aan hulle vyande oorgee. Hulle wil julle graag dood sien.

22 Ek sal die Babiloniese leër opdrag gee om na Jerusalem toe terug te keer. Hulle sal weer teen die stad baklei. Hulle sal die stad inval en aan die brand steek.

“Verder sal Ek sorg dat al die dorpe van Juda soos ’n eensame en verlate plek is waar niemand meer bly nie. Ek, die Here, sê dat dit so sal gebeur!”

JEREMIA 35

Die Rekabiete

1 Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die tyd toe Jojakim, seun van Josia, koning van Juda was. Hy het gesê:

2 “Gaan na die plek waar die Rekabiete bly. Nooi hulle om saam met jou na die tempel van die Here te kom. Vat hulle na een van die vertrekke binne-in die tempel en bied vir hulle wyn aan om te drink.”

3 Ek het toe vir Jaäsanja seun van Jeremia en kleinseun van Gabassinja gaan haal, en ook al sy broers en seuns en al die Rekabietefamilies.

4 Ek het hulle na die tempel van die Here toe gebring. Ons het toe na ’n vertrek gegaan wat aan die seuns van Ganan seun van Jigdalja behoort het. Hy was bekend as ’n man van God. Hierdie kamer was langs die een wat die amptenare in die paleis gebruik het en reg bokant die kamer wat Maäseja seun van Sallum gebruik het. Maäseja was in beheer van die tempel se ingange.

5 Ek het bekers met wyn en glase voor die Rekabiete neergesit. Toe nooi ek hulle om van die wyn te drink.

6 Maar hulle het geantwoord: “Nee, ons drink nie wyn nie. Jonadab seun van Rekab is ons voorvader. Hy het ons opdrag gegee: ‘Nie julle of julle nageslag mag ooit wyn drink nie.

7 Julle mag ook nie huise bou of graan of wingerde plant nie. Julle moet altyd in tente bly. As julle hierdie voorskrifte volg, sal julle lank in die land bly waar julle soos bywoners leef.’

8 Ons was nog altyd gehoorsaam aan die opdrag van Jonadab seun van Rekab, ons vader. Ons het niks gedoen wat hy ons beveel het om nie te doen nie. Ons het nog nooit wyn gedrink nie, nie ons of ons vroue, seuns of dogters nie.

9 Ons het ook nie huise gebou nie en ons besit geen wingerde, landerye of graan nie.

10 Ons bly in tente en gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab, ons voorouer, vir ons gegee het.

11 Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek, was ons bang vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou in Jerusalem.”

12 Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee:

13 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Gaan na die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem en sê vir hulle: ‘Leer ’n bietjie ’n les hoe om aan My gehoorsaam te wees.

14 Die Rekabiete drink nie wyn nie omdat hulle voorvader Jonadab gesê het hulle moenie dit doen nie.

“‘Ek het al keer op keer met julle gepraat, maar julle weier om na My te luister.

15 “‘Ek het al hoeveel keer my profete na julle toe gestuur om julle te waarsku om op te hou met julle verkeerde dade en om ander gode te aanbid. As julle dit sou doen, sou julle in rus en vrede kon bly in hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het. Maar julle wou nie na My luister of My gehoorsaam nie.

16 “‘Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het die bevele van hulle voorouers nagekom. Maar hierdie volk het geweier om na My te luister.’

17 “Daarom sê die Here God, die Almagtige, die God van Israel: ‘Omdat julle nie na My wou luister nie, sal Ek al die rampe waarmee Ek gedreig het oor die mense van Juda en Jerusalem bring. Dit sal gebeur omdat julle julle nie aan My gesteur het toe Ek julle geroep het nie, en julle het My ook nie geantwoord nie.’”

18 Maar aan die Rekabiete het Jeremia gesê: “Die Here die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Julle het julle voorvader Jonadab in alles wat hy gevra het, gehoorsaam. Julle het al sy voorskrifte nagekom en gedoen soos hy julle beveel het.

19 Omdat julle dit gedoen het, sal daar altyd nakomelinge van Jonadab wees wat My sal dien. Dit belowe Ek, die Here, die Almagtige, die God van Israel!’”

JEREMIA 36

Baruk lees Jeremia se

boodskappe in die tempel voor

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Hy het gesê:

2 “Kry ’n notaboek en skryf al die boodskappe neer wat Ek vir jou oor Israel, Juda en die ander nasies gegee het. Begin so ver terug as die tyd van koning Josia toe Ek die eerste boodskap vir jou gegee het tot dié wat Ek nou vir jou gee.

3 Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerd te doen as hulle al die slegte dinge hoor wat Ek vir hulle beplan. Dan sal Ek hulle oortredings en sondes kan vergewe.”

4 Jeremia het toe vir Baruk seun van Nerija laat roep. Baruk het al die boodskappe van die Here wat Jeremia vir hom hardop voorgedra het, op ’n boekrol neergeskryf.

5 Jeremia het toe vir Baruk gesê: “Ek mag nie naby die tempel kom nie.

6 Maar gaan jy op die volgende vasdag na die tempel toe en lees daar die boodskappe van die Here wat hier geskryf staan vir die volk. Lees dit sodat ook al die mense uit die verskillende dorpe in Juda dit kan hoor.

7 Miskien sal hulle die Here om genade smeek en ophou om so sleg te lewe. Die Here is baie kwaad. Hy het oordeel oor hierdie volk aangekondig.”

8 Baruk seun van Nerija het alles gedoen wat Jeremia hom beveel het. Hy het die boodskappe van die Here wat geskryf was vir die mense by die tempel voorgelees.

9 In die vyfde jaar wat Jojakim koning van Juda was, in die laatherfs, is ’n vasdag vir die Here aangekondig. Al die mense het uit die dorpe in Juda en Jerusalem gekom om hierdie dag by die tempel by te woon.

10 Baruk het Jeremia se boodskappe uit die boekrol in die tempel vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja seun van Safan die sekretaris se kantoor toe hy dit gedoen het. Hierdie kamer was in die boonste voorhof, naby die Nuwe Ingang van die tempel.

11 Miga seun van Gemarja en kleinseun van Safan het ook die boodskappe van die Here uit die boekrol gehoor.

12 Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en ook nog ander van die amptenare.

13 Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het,

14 het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om ook vir hulle die boodskappe wat hy vir die volk gelees het, te kom lees. Jehudi was die seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was.

15 Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boekrol vir hulle voor te lees. Baruk het dit vir hulle voorgelees.

16 Nadat hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, het hulle bevrees na mekaar gekyk. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet verseker vir die koning gaan vertel wat ons gehoor het.”

17 Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, hoe het jy hierdie boodskappe gekry? Kom dit direk van Jeremia af?”

18 Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit met ink op die boekrol neergeskryf.”

19 Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”

20 Die amptenare het die boekrol veilig in Elisama die sekretaris se kantoor weggebêre. Hulle het toe na die paleis toe gegaan en vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.

Koning Jojakim verbrand die

boekrol

21 Koning Jojakim het Jehudi gestuur om die boekrol te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl al sy amptenare bygestaan het.

22 Dit was laatherfs. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.

23 Baruk het die boekrol in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boekrol te sny. Hy het deel vir deel in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy die hele boekrol verbrand het.

24 Die koning en sy amptenare het geluister na alles wat geskryf was, maar dit het hulle nie banggemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur nie.

25 Selfs nadat Elnatan, Delaja en Gemarja die koning gesmeek het om nie die boek te verbrand nie, wou hy nie luister nie.

26 Hierna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja seun van Asriël en ook vir Selemja seun van Abdeël opdrag gegee om Baruk en Jeremia te arresteer. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.

Jeremia skryf die boekrol oor

27 Die koning het die boekrol wat Jeremia dikteer en Baruk geskryf het, verbrand. Nadat hy dit gedoen het, het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

28 “Kry vir jou ’n ander boekrol en skryf weer alles neer wat in die boekrol gestaan het wat Jojakim verbrand het.

29 Sê dan vir koning Jojakim van Juda: Die Here sê: Jy het die boek verbrand, want jy sê: Hoekom het jy daarop geskryf dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes en dat geen mens of dier gaan oorleef nie?

30 “Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: Hy sal nie iemand uit sy familie hê om die koningskap van Dawid voort te sit nie. Hulle sal sy lyk buite weggooi en hom nie begrawe nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag.

31 Ek sal hom, sy familie en sy amptenare oor hulle sonde straf. Ek sal hulle en die inwoners van Jerusalem en ook al die mense van Juda tref met al die rampe wat Ek beloof het hulle gaan tref. Hulle wou nie na my waarskuwings luister nie!”

32 Jeremia het toe weer ’n papier geneem en vir sy sekretaris Baruk gedikteer wat om te skryf. Hy het alles weer neergeskryf soos dit in die boekrol was wat koning Jojakim verbrand het. Jeremia het egter in hierdie boek nog baie boodskappe soortgelyk aan die ander bygevoeg.