JEREMIA 17

Juda se sonde en straf

1 Die Here sê:

“My volk tree op

asof hulle bose weë

’n wet is wat ingegraveer is

met ’n ysterpen of

’n diamantpunt

op die tafels van hulle hart

en op die horings

van hulle altare.

2 Selfs hulle kinders

gaan aanbid by hulle altare

en die Asjerapale

onder elke groen koelteboom

en op elke hoë heuwel,

3 op die berge en in die veld.

Daarom sal Ek al julle rykdom

en julle kosbare besittings

vir die vyand gee as buit,

ook die hoë plekke

waar julle afgode aanbid het.

Dit is die prys vir die sonde

wat julle oral

deur julle land gedoen het.

4 Ek het die land vir julle

as ’n kosbare besitting gegee.

Dit sal uit julle hande glip.

Ek sal julle na ’n land stuur

wat julle nie ken nie,

as slawe vir julle vyande.

Julle het ’n vuur

in my woede aangesteek

en dit sal nie

geblus word nie.”

Vertroue in die Here

5 Die Here sê:

“Daar rus ’n vloek op dié

wat hulle vertroue stel

in gewone mense,

en nie op die Here

vertrou nie.

6 Hulle is soos bossies

in die woestyn

met geen vooruitsig

vir die toekoms nie.

Hulle sal woon

in ’n verskroeide woestyn,

op soutvlaktes

waar niemand kan oorleef nie.

7 “Maar gelukkig is dié mense

wat op die Here vertrou

en hulle verwagting

in Hom stel.

8 Hulle is soos bome

wat langs ’n rivier staan.

Hulle wortels reik diep

tot by die water.

Hitte bedreig hulle nie,

en hulle blare bly groen.

Lang maande van droogte

pla hulle ook nie.

Hulle hou nie op

om vrugte te dra nie.

9 “Die mens se hart

is deur en deur bedrieglik

en boos.

Wie weet regtig hoe sleg dit is?

10 “Maar Ek weet!

Ek, die Here,

deursoek mense se harte

en geheime motiewe.

En Ek gee aan almal

wat hulle toekom,

volgens wat hulle gedoen het.”

Jeremia vertrou die Here

11 Mense

wat op ’n oneerlike manier

ryk word,

is net soos ’n voël

wat eiers uitbroei

wat sy nie gelê het nie.

Vroeër of later sal hulle

al hulle rykdom verloor.

Aan die einde van hulle lewens

sal hulle niks anders

as dwase wees nie!

12 Maar ons aanbid U

by u glansryke troon,

ewig, hoog en glorieryk.

13 O Here, hoop van Israel,

almal wat van U wegdraai,

sal beskaam word.

Hulle sal in die stof

begrawe word,

want hulle het weggedraai

van die Here,

die fontein van lewende water.

14 Here, U alleen

kan my gesond maak.

U alleen kan my red.

U alleen prys ek!

15 Die mense vra my:

“Waar is die kamtige boodskap

van die Here?

Laat dit nou bietjie waar word!”

16 “Here,

ek het nie my taak opgegee

om ’n herder vir u volk te wees nie.

Ek het ook nie by U aangedring

om rampe oor hulle te bring nie.

Dit is u boodskap

wat ek aan hulle gegee het,

nie my eie nie.

17 Here, moenie my nou verlaat nie!

U alleen is my toevlug

as onheil toeslaan.

18 Laat dié wat my vervolg

in die skande kom.

Laat húlle vreesbevange word,

maar nie ek nie!

Laat verwoesting

dubbel en dwars oor hulle kom!”

Onderhou die Sabbat

19 Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by die poorte van Jerusalem, eers die poort wat die konings van Juda gebruik waardeur hulle in- en uitgaan, en dan by al die ander poorte.

20 “Sê vir die mense wat hierdie poorte gebruik: ‘O konings, al julle mense van Juda en ook julle wat in Jerusalem bly, hoor die boodskap van die Here.

21 Hy sê: Luister sodat julle kan bly lewe! Hou op om op die Sabbatdag handel te dryf in Jerusalem se poorte.

22 Moenie op die Sabbatdag werk nie. Maak van die Sabbat ’n heilige dag soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.

23 Maar hulle was ongehoorsaam en wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die voorskrifte navolg nie.’

24 “Maar die Here sê: ‘As julle My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die Sabbatdag nie en ook nie op dié dag werk nie, maar dit ter wille van My heilig hou,

25 sal daar ’n toekoms vir hierdie volk wees. Daar sal altyd ’n koning uit die familielyn van Dawid in Jerusalem regeer. Die konings en amptenare sal by die poorte van Jerusalem ingaan. Hulle sal op strydwaens en perde ry en tussen die mense van Juda wees.

“‘Daar sal ook altyd mense in Jerusalem woon.

26 En mense sal uit die dorpe van Juda en die omgewing van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide na Jerusalem toe kom. Hulle sal brandoffers, graanoffers, wierook en dankoffers na die tempel van die Here bring.

27 “‘Julle moet na My luister en die Sabbatdag heilig hou. As julle dit nie doen nie en aanhou om op die Sabbatdag julle handelsware rond te dra deur die poorte van Jerusalem soos op ander dae, sal Ek daardie poorte aan die brand steek. Die vuur sal van die poorte af na die paleise versprei. Niemand sal in staat wees om die vuur te blus nie.’”

JEREMIA 18

Die pottebakker en die klei

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Gaan na die werkplek van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.”

3 Ek het toe na die werkplek van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk.

4 Maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie. Hy het toe die klei inmekaargedruk en weer begin om ’n nuwe pot te vorm soos hy dit wou hê.

5 Die Here het toe vir my ’n boodskap gegee.

6 Hy het gevra: “O Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in my hande.

7 Dit kan wees dat Ek in ’n stadium sê Ek sal ’n sekere nasie of ’n regering omverwerp, afbreek en vernietig.

8 Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarvan Ek gepraat het, sal Ek hulle nie verwoes soos Ek aanvanklik wou nie.

9 Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal vestig, opbou, groot en sterk maak,

10 maar die nasie begin verkeerde dinge doen en My nie gehoorsaam nie, sal Ek nie dan sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek van voorneme was nie?

11 “Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem dat die Here sê: ‘Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou op die verkeerde koers wat julle ingeslaan het nie. Julle almal moet ophou om verkeerd te doen en begin doen wat reg is.’

12 Maar die mense het geantwoord: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil en ons eie oordeel volg, al is dit verkeerd.’”

13 Daarom sê die Here:

“Doen navraag onder die nasies.

Het iemand al ooit gehoor

van die afstootlike ding

wat die jong vrou Israel

gedoen het?

14 Sal die sneeu ooit smelt

op die hoë dele

van die Libanon?

Sal die koue bergstrome

van die Hermonberg

ooit opdroog?

15 Tog het my volk My vergeet

en offers gebring

aan nikswerd afgode

wat hulle laat struikel

op die goeie weë.

Hulle het op afdraaipaadjies,

op sondige paaie beland.

16 As gevolg hiervan

sal hulle land

in ’n woesteny ontaard.

’n Mens kan maar net fluit

van verbasing.

Almal wat deurreis,

sal verstom staan

en hulle koppe skud.

17 Soos die oostewind stof opwaai,

so sal Ek my volk

in alle rigtings verstrooi

voor hulle vyande.

Al sou hulle

in groot moeilikheid beland,

sal Ek my rug op hulle draai,

en My nie aan hulle steur nie.”

’n Slinkse plan teen Jeremia

18 Toe het die mense gesê: “Kom ons beraam planne teen Jeremia. Ons het mos priesters wat vir ons die gebooie kan leer, wyse mense wat ons met raad kan bedien en profete wat vir ons boodskappe kan gee. Kom ons versprei slegte stories oor hom en steur ons nie aan wat hy sê nie.”

19 Here, help my!

Luister na wat die mense

teen my beplan!

20 Is dit regverdig

om goed met sleg te betaal?

Hulle het ’n gat vir my gegrawe

om in te val.

Onthou U hoe ek namens

hulle by U gesmeek het

om hulle nie in u woede

te straf nie?

21 Daarom,

laat hulle kinders

van honger doodgaan!

Laat hulle in oorloë sneuwel!

Laat hulle vroue

weduwees wees

sonder kinders!

Laat die mans

deur ’n epidemie omkom!

Laat die jong manne sterf

in gevegte op die slagveld!

22 Laat hulle angskrete weergalm

as aanvallers

skielik op hulle toesak

terwyl hulle in hulle huise is!

Hulle het vir my ’n gat gegrawe

om in te val,

hulle het vangstrikke

vir my gestel om in te trap.

23 Here,

U weet van al hulle planne

om my dood te maak.

Moenie hulle

wat onregverdig optree, vergewe nie.

Moet ook nie hulle sondes uitvee

asof dit nooit bestaan het nie.

Laat hulle voor u oë ondergaan.

Straf hulle

terwyl U nog kwaad is

vir hulle!

JEREMIA 19

Die gebreekte kleipot

1 Die Here het vir my gesê: “Gaan koop ’n kleipot. Vra dan sommige van die leiers van die volk en van die priesters om saam met jou te gaan.

2 Gaan dan uit by die uitgang met die naam Potskerfhek na die vallei van die seun van Hinnom. Verkondig daar vir hulle die boodskap wat Ek vir jou gegee het.

3 Sê vir hulle: ‘Konings van Juda en inwoners van Jerusalem, luister na die boodskap van die Here! Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek gaan ’n baie groot ramp oor hierdie plek laat kom. As mense daarvan hoor, sal hulle ore tuit.

4 “‘Ek doen dit omdat hulle dislojaal was aan My. Hulle het hierdie vallei onrein gemaak deur wierook vir vreemde gode te brand. Hierdie gode was so onbekend, nie vandag se mense of hulle voorouers of die konings van Juda het hulle geken nie. Hulle het ook onskuldige mense hier doodgemaak.

5 Hulle het hoogtes vir Baäl gebou. Hier het hulle hulle eie kinders as brandoffers aan Baäl geoffer. Dit is nie iets wat Ek hulle sou beveel het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om so iets te beveel nie!

6 Die Here sê: Neem kennis, die tyd kom wanneer die naam van hierdie plek nie meer Tofet of Hinnomdal sal wees nie, maar Moorddal.

7 Hier sal Ek Juda en Jerusalem se oorlogsplanne dwarsboom. Ek sal toelaat dat julle vyande julle met geweld doodmaak. Die vyand sal julle lyke vir aasvoëls en wilde diere los om te verslind.

8 Ek sal hierdie stad só verwoes laat dat mense na hulle asems sal snak. Mense wat verbyloop, sal geskok wees en van verbasing fluit oor die slagting.

9 Hulle vyande en die mense wat hulle wil doodmaak, sal hulle beleër tot al die kos op is. Dan sal die mense wat in die stad vasgekeer is, hulle seuns, dogters en vriende weens honger begin eet. Hulle sal tot wanhoop gedryf word.’

10 “Jeremia, breek nou die kleipot voor die oë van die mense wat saam met jou gekom het.

11 Sê vir hulle: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Soos hierdie kleipot hier voor julle in skerwe lê, so sal Ek met hierdie stad en sy inwoners maak. Hulle sal soos hierdie kleipot wees wat ’n mens nie weer kan heelmaak nie. Hulle sal die lyke van die mense in Tofet begrawe omdat daar nêrens anders meer plek sal wees nie.

12 Dit is wat Ek met hierdie stad en sy inwoners sal doen, sê die Here. Ek sal hierdie stad soos Tofet maak.

13 “‘Die inwoners van Jerusalem het op die dakke van hulle huise wierook gebrand vir die sterregode. Hulle het ook vir ander gode drankoffers uitgegooi. Omdat hulle dit gedoen het, sal al die huise van die inwoners van Jerusalem en die paleise van die konings van Juda so onrein word soos Tofet.’”

14 Nadat Jeremia by Tofet geprofeteer het soos die Here gesê het hy moes, het hy na die stad toe teruggegaan. Hy het in die voorhof van die tempel gaan staan en vir almal wat daar was, gesê:

15 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Soos Ek beloof het, sal Ek rampe bring oor hierdie stad en al die dorpe wat in die omgewing van die stad is. Ek doen dit omdat julle so hardkoppig is en weier om na My te luister.’”

JEREMIA 20

Jeremia en Pasgur

1 Pasgur, die seun van Immer, was die priester in beheer by die tempel van die Here. Hy het die boodskap gehoor wat Jeremia geprofeteer het.

2 Pasgur het Jeremia gearresteer en hom laat slaan en in ’n voetblok vasgemaak by die boonste Benjaminingang van die tempel.

3 Die volgende dag het Pasgur Jeremia vrygelaat. Toe het Jeremia vir hom gesê: “Pasgur, die Here het jou naam verander. Hy noem jou nou: ‘Verskrikking rondom,’

4 want dit is wat die Here sê: Ek sal sorg dat jy en jou vriende verskrik is van vrees. Jou vyand sal jou vriende voor jou oë met die swaard doodmaak. Ek gee die hele bevolking van Juda oor in die hande van die koning van Babel. Hy sal die mense in ballingskap wegvoer na Babel of met die swaard doodmaak.

5 Ek sal toelaat dat jou vyande hierdie stad kaalstroop. Hulle sal al die rykdom in die stad – die kosbare juwele van goud en silwer van jou konings – na Babel toe neem.

6 Pasgur, hulle sal jou en ook jou familie as gevangenes na Babel toe wegvoer. Daar sal jy doodgaan en sal hulle jou begrawe. Dieselfde sal ook gebeur met al jou vriende vir wie jy geprofeteer het dat alles reg sal wees.”

Jeremia se klagte

7 Here, U het my omgepraat

en ek het my laat ompraat.

U is baie sterker as ek,

U het my oorweldig.

Nou bespot hulle my heeldag,

almal lag vir my.

8 As ek praat,

moet ek elke keer net uitroep:

“Geweld en vernietiging!”

Die boodskap wat die Here

vir my gegee het,

veroorsaak dat almal my

aanhoudend spot.

9 Ek het al gesê

ek sal niks van die Here sê

of namens Hom praat nie.

Maar dan is dit soos ’n vuur

wat in my hart brand!

Ek is moeg daarvan

om weerstand te bied;

trouens, ek kan nie meer nie.

10 Ek hoor hoe hulle spot:

“Oral is groot gevaar!”

Dan sê hulle:

“As jy iets sê,

gaan ons dit rapporteer!”

Selfs my ou vriende

hou my dop.

Hulle sit en wag vir my

om ’n fout te maak.

Hulle sê:

“Miskien kan hy verlei word,

dan sal ons ons kans kry

om ons op hom te wreek.”

11 Maar die Here is by my,

soos ’n sterk soldaat.

My vervolgers sal ondergaan!

Hulle sal my nie oorwin nie.

Hulle sal rooi in die gesig staan

omdat

hulle niks reggekry het nie.

Niemand sal hulle vernedering

ooit vergeet nie.

12 Here, Almagtige,

U weet wie tree reg op.

U sien presies wat aangaan

in mense se harte

en gedagtes.

Ek wil graag sien

hoe U U op hulle wreek.

Ek het my saak

in u hande gelaat.

13 Daarom sing ek

tot eer van die Here!

Prys die Here!

Want Hy red arm,

behoeftige mense soos ek

van kwaaddoeners.

14 Ek verwens die dag

wat ek gebore is!

Mag niemand my geboortedag

ooit as gelukkig beskou nie.

15 Ek verwens die dag

toe iemand vir my pa

die nuus gebring het:

“Geluk, jy het ’n seun!”

16 Mag dié man wees

soos die dorpe

wat die Here

sonder genade vernietig het.

Mag hy in die oggend

weeklag hoor,

en in die middag

oorlogsgeskreeu

17 omdat hy my nie

voor my geboorte

doodgemaak het nie.

Ag, kon my ma se liggaam

vir ewig my graf gewees het!

18 Hoekom is ek ooit gebore

om al die swaarkry en pyn

te sien?

Moet ek my lewe lank

vernedering ervaar?

JEREMIA 21

Gee oor en lewe

1 Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee om oor te dra. Dit was toe koning Sedekia vir Pasgur, die seun van Malkija en Sefanja, die seun van Maäseja, ’n priester, na hom toe gestuur het met ’n versoek:

2 “Vra tog namens ons vir die Here wat gaan gebeur. Koning Nebukadnesar van Babel is besig om met sy soldate teen ons op te trek. Miskien sal die Here vir ons ’n wonderwerk doen soos Hy al tevore gedoen het en hom laat terugtrek.”

3 Jeremia het hulle geantwoord: “Gaan sê vir koning Sedekia

4 die Here, die God van Israel sê: ‘Op die oomblik is julle besig om buite die mure van die stad teen die koning van Babel en die Babiloniërs wat julle omsingel het, te veg. Ek gaan julle wapens onbruikbaar maak. Ek gaan julle vyand in die hartjie van die stad laat inkom.

5 Ek sal teen julle veg en julle sal my groot krag ervaar. Ek is verskriklik kwaad. Julle het My woedend gemaak!

6 Ek gaan die inwoners van die stad met ’n epidemie tref. Mens en dier sal sterf.

7 Nadat dit alles gebeur het, sê die Here, sal koning Sedekia van Juda, sy amptenare en van die mense in die stad die oorlog, hongersnood en siektes oorleef. Maar Ek sal hulle uitlewer aan koning Nebukadnesar van Babel en aan hulle vyande wat hulle wil dood hê. Hy sal geen jammerte vir hulle voel nie, maar hulle met die swaard doodmaak. Hy sal geen genade vir hulle hê nie en niemand laat oorleef nie.’

8 “Sê vir die mense die Here sê: ‘Ek gee vir julle ’n keuse tussen lewe en dood.

9 Mense wat kies om in hierdie stad te bly, sal óf in gevegte óf van siekte óf van honger doodgaan. Maar wie uitgaan en hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal bly lewe.

10 Ek het besluit om hierdie stad te vernietig. Ek gaan niks goeds vir hulle doen nie, sê die Here. Ek sal die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal die stad verbrand.’”

Straf vir die konings van Juda

11 “Sê vir die koninklike familie: ‘Luister na die boodskap van die Here vir julle!

12 Die Here sê vir die koningsnageslag van Dawid: Lewer elke dag regverdige uitsprake! As iemand besteel is, beskerm hulle en red hulle van hulle uitbuiters. As julle dit nie doen nie, sal my woede soos ’n vuur brand wat niemand kan blus nie. Dit sal gebeur oor al julle sondes wat julle doen.

13 “‘Ek sal veg teen hierdie stad, teen Jerusalem, sê die Here, want julle spog mos en sê: Niemand kan ons op die berg bereik nie. Ons is onaantasbaar!

14 Ek sal julle straf oor dit wat julle gedoen het, sê die Here. Ek sal ’n vuur in jou woud aansteek wat alles rondom jou sal verbrand.’”

JEREMIA 22

’n Boodskap vir die konings van

Juda

1 Die Here het gesê: “Gaan na die paleis en dra hierdie boodskap oor aan die koning van Juda. Sê vir hom:

2 ‘Luister, o koning van Juda, u wat ’n koning is uit die geslagslyn van Dawid. Die Here het ’n boodskap vir u, u amptenare en die mense van Jerusalem.

3 “‘Die Here sê: Julle moet eerlik en regverdig optree. Doen wat reg is. Julle moet ook mense help wat deur ander bedrieg is. Beskerm hulle teen hierdie bedrieërs. Julle mag ook nie vreemdelinge, weeskinders en weduwees mishandel nie. Hou ook op om onskuldige mense te vermoor!

4 As julle doen wat Ek sê, sal daar altyd iemand uit Dawid se nageslag koning in Jerusalem wees. Die konings sal in koetse en op perde deur die paleis se hekke ry, saam met hulle amptenare en onderdane.

5 Maar as julle hierdie waarskuwing ignoreer, sal hierdie paleis, so waar as wat Ek die Here is, in ’n bouval verander, sê die Here.’”

Die lot van die paleis van Juda

6 Die Here sê ook oor die koningshuis

van Juda:

“Jy is vir My

soos vrugbare Gilead,

soos die groen woude van Libanon.

Maar Ek maak dit

’n woestyn,

’n stad

sonder enige inwoners.

7 Ek sal mense aanstel

wat sal kom

en dié plek

met hulle gereedskap afbreek.

Hulle sal die pragtige sederbalke

uitruk en in die vuur gooi.

8 “Baie mense van ander nasies sal hier verbygaan en vir mekaar sê: ‘Hoekom het die Here so ’n indrukwekkende stad soos hierdie verwoes?’

9 “Dan sal hulle antwoord: ‘Omdat hulle die verbond met die Here hulle God verbreek het. Hulle het voor vreemde gode neergebuig en hulle aanbid.’”

’n Boodskap oor Joahas

10 Moenie oor koning Josia

hartseer wees

omdat hy dood is nie.

Moet ook nie oor hom huil nie,

maar huil liewer

oor koning Joahas

wat uit sy land weggevat is!

Want hy sal nooit weer terugkom nie.

Hy sal sy geboorteland

nooit weer sien nie.

11 Eers was Josia koning van Juda. Sy seun Joahas het hom opgevolg, maar hulle het hom hiervandaan weggevoer. Die Here sê: “Hy sal nooit weer hierheen terugkom nie.

12 Hy sal sterf in die land waar hy ’n gevangene is. Hy sal sy geboorteland nooit weer sien nie.”

’n Boodskap oor Jojakim

13 “Ellende wag vir Jojakim,

wat sy paleis met onreg bou,

en sy bovertrekke met kullery.

Hy laat mense verniet werk,

hy betaal hulle nie.

14 Hy sê:

‘Ek sal vir my ’n spogpaleis bou

met groot kamers

en baie vensters,

panele van sederhout,

en die huis rooi verf.’

15 Maak dit van jou ’n koning

omdat jy baie sederhout het?

Jou pa het niks geskort nie,

want hy was altyd

eerlik en regverdig.

Daarom het dit goed gegaan

met hom.

16 Hy het gesorg vir

arm en behoeftige mense,

dat hulle regverdige behandeling kry.

Daarom het dit met hom

goed gegaan.

Is dit nie wat dit beteken

om My te ken nie?”

vra die Here.

17 “Maar nie jy nie!

Jy wou net altyd kyk

wat jy op ’n oneerlike manier

in die hande kan kry!

Jy het onskuldige mense

vermoor

of met geweld onderdruk.”

18 Daarom sê die Here oor koning Josia se seun Jojakim, koning van Juda:

“Sy familie sal nie oor hom huil

wanneer hy doodgaan nie.

En sy onderdane sal nie eers omgee

dat hy dood is nie.

19 Hulle sal hom begrawe

soos ’n donkie.

Hulle sal sy lyk

by Jerusalem se hekke uitsleep

en dit buite die stad los!”

’n Boodskap oor die

koninginmoeder

20 “Gaan op na die Libanon en skreeu,

gaan roep uit in Basan,

huil in die streke oos van die Jordaan,

want al jou bondgenote is vernietig.

21 Toe jy voorspoed beleef het,

het Ek jou probeer waarsku,

maar jy het gesê:

‘Ek sal nie luister nie!’

Van kleintyd af

was dit al jou ingesteldheid

om nie na My te luister nie!

22 Nou sal al jou leiers verdwyn

asof die wind hulle weggewaai het.

Al jou vriende is gevang en weggevoer.

Ten einde laaste sal jy

jou boosheid raaksien

en skaam kry daaroor.

23 O inwoners van Libanon,

julle woon tussen die seders.

Maar binnekort sal julle gil

van angs en vrees.

Julle sal angs ervaar

soos ’n vrou

wat geboorte gee.”

’n Boodskap vir Jojagin

24 Die Here het vir koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim gesê: “So seker as wat Ek lewe, Ek sal van jou ontslae raak. Al is jy soos ’n seëlring aan my vinger, Ek sal jou afpluk.

25 Ek weet jy is bang vir hulle wat jou wil doodmaak. Ek sal jou aan hulle oorgee. Ek sal jou laat val in die hande van koning Nebukadnesar en die magtige Babiloniese leërs.

26 Ek sal jou en jou ma uit Juda verban na ’n land waar nie een van julle twee gebore is nie. Daar sal julle sterf.

27 Julle sal nooit weer na julle eie land terugkeer nie, al wil julle hoe graag.

28 “Hoekom is hierdie man Jojagin

soos ’n stukkende kleipot

wat almal dink niks werd is nie?

Hoekom is hy en sy kinders

weggevoer na ’n land

wat hulle nie ken nie?

29 O land, land, land!

Luister na die boodskap

van die Here!

30 Dit is wat die Here sê:

Teken dit aan

dat hierdie man kinderloos is,

want nie een van sy nageslag

sal koning van Juda wees nie.

Die koningslyn van Dawid

sal hulle nie voortsit nie!”

JEREMIA 23

Die ideale koning

1 Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met die leiers, die herders van my volk. Hulle het my mense wat hulle moes versorg, uitmekaar laat spat en laat afdwaal.”

2 Omdat dit so is, sê die Here, die God van Israel, vir hierdie leiers: “Julle het my mense soos skape uitmekaar laat spat. Julle was veronderstel om na hulle om te sien, maar julle het hulle weggedryf. Daarom sal Ek julle straf vir al die kwaad wat julle gedoen het.

3 Daar is van my mense wat oorleef het in die lande waarheen Ek hulle verdryf het. Ek sal hulle almal bymekaarmaak en hulle na hulle eie land toe terugbring. Hulle sal baie kinders hê en weer groei in getalle.

4 Dan sal Ek nuwe leiers voorsien wat na hulle sal omsien. Hulle hoef nooit weer bang of verskrik te wees nie. Nie een van hulle sal verlore raak nie,” sê die Here.

5 Die Here sê verder:

“Daar sal ’n tyd kom

wanneer Ek weer

’n wettige afstammeling

uit Dawid se familie

koning sal maak.

Hy sal

’n verstandige koning wees.

Hy sal sorg dat reg geskied

en almal in die land

regverdige behandeling ontvang.

6 “Sy naam sal wees:

‘Die Here is ons geregtigheid.’

Terwyl hy regeer,

sal Juda vrykom van al hulle vyande

en Israel sal veilig leef.”

7 Die Here sê verder: “Mense lê gewoonlik ’n eed af en sê: ‘So waar as die Here, wat die mense van Israel uit Egipte bevry het, leef.’ Maar ’n tyd kom dat dit nie meer sal gebeur nie.

8 In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as wat die Here lewe wat die mense van Israel na hulle eie land toe teruggebring het uit die land in die noorde en al die lande waar hulle in ballingskap was.’ Dan sal hulle weer in hulle eie land lewe.”

’n Boodskap oor die profete

9 My hart is stukkend

oor al die vals profete

en ek bewe

so groot as wat ek is.

Ek slinger rond soos ’n mens

wat dronk is van te veel wyn

oor die heilige woorde

van die Here.

10 Die land is vol ontroue mense.

Daar rus ’n vloek op die land,

sodat die land in rou gedompel is

en die weiding verdroog.

Want die profete tree boos op

en misbruik hulle mag.

11 “Die priesters is net so

goddeloos soos die profete.

Ek het gesien wat hulle

selfs in my tempel aanvang,”

sê die Here.

12 “Daarom sal hulle lewenspaaie

glad en donker wees.

Hulle sal verjaag word

op donker en verraderlike paaie

waarop hulle sal val.

Ek sal ellende oor hulle bring

in die jaar van my straf,

Ek, die Here, het dit gesê.

13 “Ek het gesien

dat die profete van Samaria

’n walglike ding doen.

Hulle profeteer wat Baäl sê.

So lei hulle my volk Israel

op ’n dwaalpad.

14 Maar nou sien Ek

dat die profete van Jerusalem

nog erger dinge doen.

Hulle is ontrou en leef vals.

Mense wat verkeerd doen,

moedig hulle aan

om daarmee aan te hou.

’n Mens sou eerder verwag dat

hulle mense sou aanmoedig

om op te hou om verkeerd

te doen.

Hulle is niks beter

as die mense

van Sodom en Gomorra nie!”

15 Daarom sê die Here,

die Almagtige,

oor die profete:

“Ek sal hulle

bitterheid gee om te eet

en gif om te drink.

Want dit is die profete

van Jerusalem se skuld

dat al die mense van die land

so afvallig leef.”

16 Die Here, die Almagtige, sê:

“Moenie luister

na hierdie profete nie.

Hulle boodskappe

skep vals hoop by julle.

Die visioene wat hulle oordra,

kom nie van die Here af nie.

Dit kom van hulleself af!

17 Hulle hou aan

om vir die mense

wat my woord verag, te sê:

‘Die Here sê

julle sal vrede hê!’

Vir die hardkoppiges

wat net doen wat hulle wil,

sê hulle: ‘Niks slegs

sal met julle gebeur nie!’

18 Wie van hulle

was al in die vergadering

van die Here

dat hulle gesien het

wat Hy doen

of gehoor het wat Hy sê?

Was daar enigeen van hulle

wat regtig wou luister?

19 “Kyk, die woede van die Here

bars los soos ’n storm.

Dit is soos ’n warrelwind

wat ronddraai om die koppe

van die kwaaddoeners.

20 Die Here se woede

sal nie afkoel

totdat Hy sy doel bereik het nie.

Julle sal binnekort

alles verstaan

wat aan die gang is.

21 Ek het nie hierdie profete

gestuur nie;

tog is dit wat hulle voorgee.

Ek het nie vir hulle

boodskappe gegee nie;

tog profeteer hulle.

22 As hulle na My geluister het,

sou hulle my boodskap

gehoor het

om oor te dra.

En my volk sou opgehou het

om al die verkeerde dinge

te doen

waarmee hulle besig is.

23 “Is Ek miskien ’n God

wat net op een plek is?”

vra die Here.

“Dink hulle Ek sien nie

wat hulle doen nie?

24 Dink enigiemand hulle kan

vir My wegkruip

en Ek sal hulle nie sien nie?

Is Ek nie oral,

in die hemel en op die aarde nie?”

vra die Here.

25 “Ek het gehoor wat die profete sê: ‘Ek het gedroom, ek het gedroom.’ Dan profeteer hulle leuens en sê Ék het vir hulle die boodskap gegee.

26 “Hoe lank nog sal profete voortgaan om mense te bedrieg? Die onwaarhede wat hulle kwytraak, het hulle self uitgedink.

27 “Hierdie mense vertel vir mekaar van hulle drome. So probeer hulle om my mense van My te laat vergeet. Hulle voorouers het My destyds net so vergeet toe hulle Baäl begin aanbid het.

28 “Laat hierdie profete hulle drome vir ander vertel. Maar dié wat my boodskap ontvang het, moet my woord eerlik oordra. Daar is ’n verskil tussen kaf en koring!” sê die Here.

29 “Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n stuk rots aan stukke laat spat nie?” vra die Here.

30 Daarom sê die Here: “Ek is teen hierdie profete wat my boodskappe by mekaar steel.

31 Ek is gekant teen hierdie gladdebek-profete wat sê: ‘Hierdie profesie kom van die Here self af!’

32 Ek is gekant teen hierdie profete wie se drome niks anders is as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense laat afdwaal. Ek het hulle nie gestuur of aan hulle ’n opdrag gegee nie. Wat hulle sê, hou geen voordeel vir my mense in nie,” sê die Here.

Vals profesie en vals profete

33 Die Here het vir my gesê: “As iemand van hierdie volk of een van die profete of van die priesters vir jou sou vra: ‘Wat is die boodskap waarmee die Here jou belas het?’ moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’ sê die Here.

34 As enige profeet, priester of enigiemand anders sê: ‘Ek het ’n ernstige boodskap van die Here vir julle,’ sal Ek daardie persoon en sy hele gesin straf.

35 Hou liewer aan om vir mekaar te vra: ‘Wat het die Here geantwoord?’ of: ‘Wat het Hy gesê?’

36 Moenie langer sê: ‘’n Ernstige boodskap van die Here’ nie. Julle gebruik dit om gesag aan julle eie idees te gee. Wat julle eintlik doen, is om die boodskap van ons God, die Here, die Almagtige, te verdraai.

37 Vra vir die profete die volgende vraag: ‘Wat het die Here julle geantwoord?’ of: ‘Wat sê die Here?’

38 Maar sê nou hulle antwoord: ‘Die Here het hierdie boodskap vir ons gegee!’ moet jy sê: ‘Die Here sê julle bly sê: Die boodskap kom van die Here af, selfs al het Ek julle gewaarsku om dit nie te doen nie.

39 Omdat julle dit doen, sal Ek heeltemal van julle vergeet. Ek sal My glad nie meer aan julle steur nie. Dit geld ook hierdie stad wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

40 Ek maak dat mense met julle sal spot. Julle sal in die skande kom en niemand sal dit ooit vergeet nie.’”

JEREMIA 24

Twee mandjies met vye

1 Koning Jojagin van Juda was die seun van Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het hom in ballingskap weggevoer. Hy het saam met Jojagin ook die leiers van Juda, die ambagsmense en ander opgeleide persone uit Jerusalem na Babel toe gebring. Nadat dit gebeur het, het die Here my ’n visioen laat sien van twee mandjies met vye wat voor die tempel van die Here staan.

2 In een van die mandjies was daar vars, ryp vye. Die vye in die ander mandjie was sleg, so sleg dat geen mens dit kon eet nie.

3 Die Here het toe vir my gevra: “Wat sien jy, Jeremia?”

Ek het geantwoord: “Ek sien vye. Sommige van die vye is baie goed terwyl ander so sleg is dat ’n mens dit nie kan eet nie.”

4 Die Here het toe vir my hierdie boodskap gegee:

5 “Die Here, die God van Israel sê: Die goeie vye verteenwoordig die ballinge wat Ek uit Juda na die land van die Babiloniërs gestuur het.

6 Ek sal ’n oog oor hulle hou en kyk dat dit met hulle goed gaan. Ek sal hulle weer na hierdie land toe laat terugkom. Ek sal hulle herstel en nie weer afbreek nie. Ek sal hulle nie ontwortel nie, maar hulle plant.

7 Ek sal hulle ’n ingesteldheid gee om My weer as die Here te ag. Hulle sal weer soos my eie mense wees en Ek sal hulle God wees. Hulle sal My weer heelhartig dien.

8 “Soos die slegte vye wat so sleg is dat niemand dit kan eet nie,” sê die Here, “só is koning Sedekia van Juda en sy leiers, die res van die mense van Jerusalem wat in die land agtergebly het en dié wat in Egipte woon. Ek behandel hulle soos vye wat te vrot is om te eet.

9 Ek sal hulle ’n verskrikking en ’n onheil maak vir al die volke van die wêreld. In al die lande waarheen Ek hulle sal versprei, sal mense hulle verag en met hulle spot. Hulle sal grappe oor hulle maak en sê: So lyk mense wat vervloek is.

10 “Ek sal sorg dat geweld, hongersnood en pes hulle tref. Dit sal aanhou totdat daar niemand oor is in die land wat Ek aan hulle en hulle voorouers gegee het nie.”

JEREMIA 25

Sewentig jaar in ’n vreemde

land

1 In die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was, het Jeremia ’n boodskap oor al die mense van Juda ontvang. Dit was die eerste jaar van Nebukadnesar se bewind in Babel.

2 Die profeet Jeremia het vir al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem gesê:

3 “Dit is nou al 23 jaar dat die Here vir my boodskappe gee. Vandag gee Hy my nog boodskappe vir julle. Dit het begin in die dertiende jaar dat Josia seun van Amon koning van Juda was. Ek het altyd al hierdie boodskappe aan julle oorgedra, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.

4 “Die Here het by herhaling sy diensknegte – die profete – na julle gestuur, maar julle het nie na hulle geluister nie. Julle het nie eers probeer hoor wat hulle wou sê nie.

5 Die boodskap was: ‘Julle is op ’n verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

6 Moenie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle maak My baie kwaad wanneer julle buig voor gode wat julle met julle eie hande gemaak het. As julle dit staak, sal Ek geen kwaad aan julle doen nie.’

7 “Maar julle het nie na My geluister nie,” sê die Here. “Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle gemaak het. So het julle julleself skade aangedoen.

8 “Die Here, die Almagtige, sê: Omdat julle nie na my boodskap wou luister nie,

9 sal Ek al die leërs uit die noorde bymekaar laat kom, sê die Here, en koning Nebukadnesar van Babel wat in my diens is, sal hulle lei. Ek sal hulle teen hierdie land en almal wat in die land bly en teen die volke in julle omgewing laat optrek. Ek sal julle heeltemal vernietig en vir altyd verwoes. Mense sal skrik as hulle julle sien. Hulle sal julle verag en met julle spot.

10 Ek sal sorg dat julle nie meer sal bly wees en lag nie. Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal ook nie meer opklink nie. Julle besighede sal bankrot wees en julle huise stil en donker.

11 Die hele land sal ’n verlate plek wees. Net ’n klomp murasies sal oor wees. Julle en julle bure sal vir 70 jaar in diens van die koning van Babel wees.

12 “Ná die 70 jaar sal Ek die koning van Babel en sy mense straf oor hulle sonde, sê die Here. Ek sal hulle land vir altyd verwoes.

13 Ek sal alles oor hierdie land laat kom soos Ek teen hulle uitgespreek het. Ek het Jeremia gebruik om teen hierdie nasies te profeteer. Dit is alles in hierdie boek opgeskryf.

14 Baie van die nasies met magtige konings sal van die Babiloniërs slawe maak. Op dié manier sal Ek hulle terugbetaal vir alles wat hulle aan julle gedoen het.”

Straf vir die nasies

15 Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Hierdie wynbeker in my hand is vol van my woede. Neem dit na die nasies waarheen Ek jou stuur en laat hulle daaruit drink.

16 As hulle daaruit drink, sal hulle slinger. Hulle sal rasend raak weens die oorlog waarin Ek hulle laat beland.”

17 Ek het toe die beker by die Here gevat en na al die nasies gegaan na wie Hy my gestuur het. Ek het hulle uit die beker laat drink.

18 Jerusalem en die ander dorpe van Juda het uit die beker gedrink, saam met hulle konings en leiers. Van toe af is die land verwoes en verlate gemaak, ’n voorwerp van spot en ’n vloek. Dit is vandag nog steeds die geval.

19 Ek het ook na Farao, die koning van Egipte, sy amptenare, sy leiers en al sy mense gegaan.

20 Verder ook na die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het. Dan ook al die konings van die land Us, al die konings van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het,

21 asook Edom, Moab en Ammon,

22 en al die konings van Tirus en Sidon en die lande om die Middellandse See,

23 ook Dedan, Tema, Bus en ander veraf plekke,

24 die konings van Arabië, die konings van die mense wat in die woestyn rondtrek

25 en die konings van Simri, Elam en Medië.

26 Die konings van die lande in die noordelike gebiede, dié wat naby en dié wat ver was, het almal uit die beker gedrink. Al die konings van die wêreld moes daaruit drink. En laaste van almal sal die koning van Babel uit hierdie beker drink.

27 Toe het die Here vir my gesê: “Ek is die Here, die Almagtige, die God van Israel. Sê vir hulle: ‘Drink totdat julle dronk is en opgooi. Drink totdat julle val en nie weer kan opstaan nie. Dit is wat met julle gaan gebeur in die oorlog wat Ek oor julle bring.’

28 As hulle weier om die beker te drink, sê vir hulle: ‘Die Here, die Almagtige, sê julle het nie ’n keuse nie, drink!

29 Ek het reeds begin om Jerusalem te straf, die stad wat My geëer het. Moet Ek hierdie stad oorsien? Hoe kan julle ooit dink om straf vry te spring? Julle het geen kans om dit vry te spring nie. Ek gaan al die inwoners van die wêreld in oorlog dompel. Ek is die Here, die Almagtige. Ek sê dit!’

30 “Profeteer vir almal hierdie boodskappe en sê vir hulle:

“‘Die Here sal uit die hoogte brul.

Uit sy heilige woonplek

sal Hy sy stem laat bulder

teen sy eie mense.

Hy roep ook hard

teen al die mense op die aarde.

En sy stem klink

soos die geskreeu van mense

wat druiwe pars.

31 Sy gebrul sal oor die aarde

weergalm,

want die Here maak ’n saak

teen al die nasies.

Hy oordeel al die mense

van die wêreld.

Boosdoeners laat Hy

in oorloë sterf.

Dit is wat die Here sê.’”

32 Die Here, die Almagtige, sê:

“Let op,

rampe gaan die een volk

na die ander tref!

’n Groot storm bou op

vanaf die verste uithoeke

van die aarde!”

33 In dié tyd sal die mense wat deur die Here verslaan is, van een kant van die aarde na die ander kant dood lê. Niemand sal oor hulle huil nie. Niemand sal ook die lyke bymekaarmaak en begrawe nie. Hulle sal soos mis oor die grond versprei lê.

34 Julle herders,

julle moet huil en kla.

Leiers, rol in die stof rond

van hartseer!

Die tyd van julle slagting

het aangebreek.

Julle sal soos ’n kleipot val

en aan skerwe breek!

35 Julle kan nêrens heen vlug nie.

Daar is geen manier

hoe die leiers van die kudde

kan ontsnap nie.

36 Hoor hoe huil die herders

en kla die leiers

van die kudde.

Die Here het hulle weivelde

verwoes.

37 Die Here was so kwaad

dat Hy hulle vreedsame bestaan

verwoes het.

38 Hy is soos ’n leeu

wat sy lêplek verlaat

op soek na ’n prooi.

Hulle land word verwoes

deur die vyand se swaard

en die Here se woede.

JEREMIA 26

Jeremia spring die dood vry

1 Met die aanvang van die regering van koning Jojakim van Juda het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Jojakim was die seun van Josia.

2 Die Here het gesê: “Gaan staan voor die tempel van die Here en sê vir die mense wat uit al die dorpe van Juda na die tempel kom om die Here te aanbid alles wat Ek jou beveel het om te sê. Moenie een woord verswyg nie.

3 Miskien sal hulle luister en ophou om die verkeerde dinge te doen. Dan kan Ek my planne om hulle te vervolg vir die slegte dade wat hulle doen, verander.

4 Sê vir hulle die Here sê: ‘Ek het my gebooie vir julle gegee om te gehoorsaam.

5 Ek het ook keer op keer my diensknegte – die profete – na julle gestuur, maar julle wou nie na hulle boodskappe luister nie. As julle nie luister nie,

6 sal Ek hierdie tempel verwoes soos Ek Silo verwoes het. Dit sal so sleg gaan met die stad dat die nasies dit soos ’n vloekwoord sal gebruik.’”

7 Die priesters, die profete en al die mense het na Jeremia geluister toe hy hierdie boodskap voor die tempel van die Here oorgedra het.

8 Jeremia het alles gesê wat die Here hom beveel het om vir die hele volk te sê. Toe hy klaar gepraat het, het die priesters, profete en die hele volk hom aangeval en geskreeu: “Maak hom dood!”

9 Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die Here te profeteer en te sê: Wat met Silo gebeur het, sal ook met hierdie stad gebeur? Wie is jy om te sê dat hierdie stad verlate en sonder enige inwoners sal wees?” Al die mense het in die tempel van die Here om Jeremia saamgedrom.

10 Toe die amptenare van Juda hierdie boodskap hoor, het hulle haastig van die paleis na die Here se tempel toe gegaan. Hulle het in die Nuwe Ingang van die tempel gaan sit.

11 Die priesters en die profete het toe hulle saak aan die leiers van Juda en al die mense gestel. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor hoe hy verraad pleeg, want hy het teen hierdie stad geprofeteer.”

12 Toe het Jeremia homself teenoor die leiers en die hele volk begin verdedig. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur om teen hierdie tempel en hierdie stad te profeteer. Julle het alles gehoor wat ek vir julle gesê het.

13 Maar as julle begin reg lewe, goeie dinge doen en die Here gehoorsaam, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gedreig het nie.

14 Wat my betref, ek is in julle mag. Maak met my soos wat julle dink reg is.

15 Maar weet verseker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige persoon dood! En as julle dit doen, sal julle, hierdie stad en elke inwoner van die stad die verantwoordelikheid daarvoor moet dra. Ek praat die waarheid as ek sê die Here het my gestuur om hierdie boodskappe aan julle oor te dra.”

16 Toe het die leiers van Juda en al die mense vir die priesters en die sogenaamde profete gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie, maar het namens die Here ons God met ons kom praat.”

17 ’n Paar van die ouer leiers van die land het toe opgestaan en met die mense wat daar bymekaar was, gepraat.

18 Hulle het gesê: “Dink ’n bietjie terug aan die tyd toe Miga van Moreset geprofeteer het. Dit was in die tyd toe Hiskia koning van Juda was. Hy het vir die hele volk van Juda gesê: ‘Die Here, die Almagtige, sê: Hulle sal Sion soos ’n landery omploeg en Jerusalem sal in ’n hoop bourommel verander. Die hoogte waarop die tempel staan, sal ’n woud wees.’

19 Het koning Hiskia en die mense van Juda hom doodgemaak oor wat hy gesê het? Het die koning nie die Here uit eerbied aanbid en om genade gepleit nie? Die Here het toe besluit om Juda nie meer met ’n ramp te tref soos wat Hy gedreig het nie. As ons Jeremia doodmaak, sal ons groot onheil oor onsself bring.”

20 In dié tyd was daar ook ’n ander persoon wat namens die Here geprofeteer het. Sy naam was Urija seun van Semaja, afkomstig uit Kirjat-Jearim. Sy boodskappe was ook teen hierdie stad en hierdie land, soortgelyk aan Jeremia se boodskappe.

21 Toe koning Jojakim, van die offisiere van sy leër en van die leiers van Juda hoor wat hy sê, het die koning iemand gestuur om hom dood te maak. Maar toe Urija van die sameswering teen hom hoor, was hy baie bang. Hy het na Egipte toe gevlug.

22 Toe het koning Jojakim Elnatan seun van Akbor saam met ’n paar ander mense Egipte toe gestuur.

23 Hulle het Urija in Egipte gevang en na koning Jojakim toe teruggebring. Die koning het Urija laat teregstel en hom in ’n ongemerkte graf begrawe.

24 Agikam seun van Safan het ook by Jeremia gestaan. Hy het gekeer dat hulle Jeremia aan die skare oorgee om hom dood te maak.