JESAJA 63

Oordeel oor die Here se vyande

1 Wie is dit wat kom uit Edom,

uit Bosra,

met bloedrooi klere aan?

Wie kom met die pragtige klere aan

terwyl Hy met groot krag

voortmarsjeer?

“Dit is Ek, die Here,

wat sê dat Ek julle red.

Ek is sterk genoeg om te red!”

2 Waarom is u klere so rooi

soos dié van iemand

wat die wynpers getrap het?

3 “Ek het alleen

die wynpers getrap.

Daar was niemand van die volke

wat My gehelp het nie.

In my woede

het Ek my vyande vernietig.

In my wraak

het Ek hulle vertrap.

Hulle bloed

het op my klere gespat,

en so my klere rooi gemaak.

4 Want die tyd het gekom

om my volk te verlos,

om hulle van hulle vyande

los te koop.

5 Ek het gekyk,

maar daar was niemand

om my volk te help nie.

Ek was ontsteld

omdat daar niemand was

wat kom help het nie.

Daarom het Ek alleen

wraak geneem,

sonder enige hulp

het Ek die oordeel uitgespreek.

6 Ek het die volke

in my woede vertrap.

Ek het hulle laat steier

van woede.

Ek het hulle bloed

oor die grond laat vloei.”

Lofprysing vir redding

7 Ek sal vertel van die goedheid

van die Here,

sy roemryke dade

wat Hy verrig het,

ja, die talle goeie dinge

wat Hy gedoen het:

sy goedheid vir Israel,

en alles wat Hy

in genade en liefde gedoen het.

8 Hy het gesê:

“Hulle is my eie volk.

Hulle sal nie weer

ontrou aan My word nie.”

So het Hy hulle Redder geword.

9 In al hulle nood

het Hy saam met hulle gely.

Hy was die engel

wat hulle toe gered het.

In sy liefde en genade

het Hy hulle gered.

Hy het hulle opgetel en gedra

soos in die ou dae.

10 Maar hulle het in opstand

gekom

en sy Heilige Gees

bedroef.

Daarom het Hy hulle vyand

geword

en self teen hulle geveg.

11 Toe het sy volk onthou

van die tyd van Moses.

Hulle het uitgeroep:

“Waar is die Een

wat Israel

deur die see gelei het

met Moses as hulle herder?

Waar is die Een

wat sy Gees van heiligheid

gestuur het

om tussen sy volk te wees?

12 Waar is die Een

wat met sy magtige arm

aan Moses se regterkant

geloop het?

Waar is die Een

wat die waters

voor sy volk oopgekloof het

en vir Hom ’n ewige Naam

gemaak het?

13 Waar is die Een

wat sy volk deur

die diep waters gelei het?

Soos ’n perd in ’n woestyn

het hulle nie gestruikel nie!

14 Soos ’n trop beeste

wat afstap na die vallei,

so het die Gees van die Here

sy volk rusplek gegee,

so het U u volk gelei

om die roem van u Naam

te vermeerder.”

Gebed vir genade en vergifnis

15 Kyk af uit die hemel

en sien ons tog raak van waar U sit,

op u heilige en verhewe troon.

Waar is u ywer van voorheen,

u magtige dade?

U weerhou u ontferming

en genade van ons.

16 U is mos nog ons Vader!

Selfs as Abraham en Israel

ons nie wil erken nie,

bly U steeds ons Vader, Here.

U is van altyd af ons Redder.

17 Here, hoekom het U toegelaat

dat ons afdraai van u paaie?

Hoekom het U ons

hardkoppig gemaak

sodat ons U nie gedien het nie?

Keer tog terug

want ons is u dienaars,

u spesiale besitting.

18 Vir ’n kort tyd kon u heilige volk

u tempel besit.

Maar nou het ons vyande

dit verwoes.

19 Ons het geword soos mense

oor wie U nog nooit regeer het nie.

Hoekom tree U op asof ons nog nooit

bekend was as u volk nie?

JESAJA 64

1 As U maar die hemel

wou laat oopskeur en afkom!

Hoe sal die berge nie bewe

in u teenwoordigheid nie!

2 Kom soos ’n vuur

wat hout laat brand

en water laat kook,

kom tog en maak Uself bekend

aan u vyande.

Dan sal die nasies voor U bewe!

3 Toe U lank gelede afgekom het,

het U ontsagwekkende dinge

gedoen,

wat ons nie verwag het nie,

en die berge het voor U gebewe.

4 Vandat die wêreld gemaak is,

het geen oor gehoor

of oog ’n God gesien

soos U,

wat doen wat U doen

vir dié wat op U vertrou nie.

5 U help mense

wat met blydskap

doen wat U beveel,

wat u weë onthou.

Maar ons het aangehou

om verkeerd te doen.

U was kwaad vir ons.

Hoe kan ons ooit gered word?

6 Voor U het ons almal geword

soos iemand wat onrein is.

Ons beste dade is soos vuil klere,

soos verskrompelde blare.

Deur ons sondes

waai die wind ons weg.

7 Niemand roep na U om hulp nie,

niemand soek

sy sterkte in U nie.

U het u gesig vir ons verberg,

U laat ons vergaan

onder die las van ons sondes.

8 Tog, Here, is U ons Vader.

Ons is soos klei

en U is die Pottebakker.

Deur u hand is ons almal gevorm.

9 Here, moet tog nie kwaad wees

vir ons nie.

Moenie ons sondes

vir altyd teen ons hou nie.

Ons bid tot U: Sien ons tog raak.

Ons almal is tog u volk!

10 U heilige stad

het ’n woestyn geword.

Sion is ’n woesteny,

Jerusalem is

soos ’n verlate woestyn.

11 Ons heilige en glorieryke

tempel

waar ons voorouers U aanbid het,

is afgebrand.

Alles wat vir ons kosbaar was,

is vernietig.

12 Raak die dinge U dan nie,

Here?

Gaan U doodstil bly?

Sal U aanhou om ons te laat ly,

ons te kasty bo ons vermoëns?

JESAJA 65

Oordeel en redding

1 “Ek openbaar My

aan hulle

wat nie my raad gevra het nie.

Ek laat My vind deur mense

wat My nie gesoek het nie.

Vir ’n nasie wat nie na My

geroep het nie,

het Ek gesê: ‘Hier is Ek!’

2 Want Ek het heeldag lank

my hande uitgesteek

na my eie, opstandige volk.

Maar hulle het aangehou loop

op hulle eie sondige paaie.

Hulle het hulle eie koppe gevolg.

3 Hulle is ’n volk wat My in my gesig

beledig.

Hulle bring offers vir afgode

in tuine

en brand wierook

op hulle steenaltare.

4 In die nag gaan hulle

na die grafte

en geheime plekke

om bose geeste te aanbid.

Hulle eet varkvleis

en onrein kos wat verbode is.

5 En dan sê hulle: ‘Bly waar jy is!

Moenie naby my kom nie!

Ek is heiliger as jy!’

Sulke mense

is soos rook in my neus,

soos ’n vuur wat heeldag brand.

6 “Dit staan voor My geskryf:

Ek sal nie langer stilbly nie.

Nee, Ek sal hulle straf.

Ek gaan hulle terugbetaal

volgens hulle verdienste.

7 Ek gaan hulle straf

vir hulle eie sondes

en vir die sondes van hulle

voorouers,” sê die Here.

“Want hulle het wierook gebrand

op die berge,

en My beledig op die hoogtes.

Ek gaan hulle straf,

volgens wat hulle verdien.”

8 So sê die Here:

“As daar nog sap

in ’n druiwetros is,

sê die mense:

‘Moenie dit weggooi nie,

want dit kan nog

gebruik word.’

So sal Ek doen

ter wille van my dienaars:

Ek sal hulle nie almal

vernietig nie.

9 Ek sal vir Jakob

weer ’n nageslag gee,

aan Juda kinders

wat my bergland sal besit.

Die mense wat Ek uitverkies,

sal dit in besit neem,

en daar

sal my dienaars woon.

10 “Die Saronvlakte

sal ’n weiveld wees

vir mense met kleinvee,

en die Akorlaagte

’n rusplek vir die beeste.

Dit is vir hulle uit die volk

wat na my wil vra.

11 “Maar die res van julle

het die Here

versaak

en my heilige berg vergeet.

Julle het die geluksgod

en die god van die noodlot aanbid.

12 Daarom het Ek julle bestem

om doodgemaak te word.

Julle sal moet neerkniel

om geslag te word.

Want toe Ek julle geroep het,

het julle nie geantwoord nie.

Toe Ek gepraat het,

het julle nie geluister nie.

Julle het gedoen

wat verkeerd is

reg voor my oë.

Julle het gekies om te doen

wat Ek haat.”

13 Daarom sê die oppermagtige

Here:

“My dienaars sal eet,

maar julle sal honger ly.

My dienaars sal drink,

maar julle sal dors ly.

My dienaars sal bly wees,

maar julle sal in die skande kom.

14 My dienaars sal sing

met vreugde in die hart.

Maar julle sal uitroep

van droefheid,

julle sal ween oor julle leed.

15 “Dié wat Ek uitverkies het,

sal julle naam gebruik

om mense mee te vervloek.

Die oppermagtige Here

sal julle vernietig,

maar aan sy dienaars

gee Hy ’n nuwe naam.

16 Almal wat iemand wil seën

of wil sweer,

sal dit doen in die Naam

van die God van waarheid.

Die probleme van voorheen

sal vergete wees.

Ek laat dit verdwyn.”

Nuwe hemel en aarde

17 “Kyk, Ek skep ’n nuwe hemel

en ’n nuwe aarde.

Die vorige dinge

sal nie meer onthou word nie

en nie in die gedagte opkom nie.

18 Wees bly en jubel

oor wat Ek gaan skep.

Ek skep ’n Jerusalem

waaroor mense bly sal wees,

en sy inwoners sal

’n bron van vreugde wees.

19 Ek sal bly wees oor Jerusalem,

My verheug oor my volk.

In die stad sal jy nooit weer hoor

hoe mense huil

of om hulp roep nie.

20 “Nooit weer sal ’n suigeling

net maar ’n paar dae leef nie.

Daar sal nie grysaards wees

wat nie hulle jare uitleef nie.

Iemand wat op 100 jaar sterf,

sal as ’n jong man geag word.

Iemand wat vroeër as 100 jaar sterf,

sal beskou word

as ’n vervloekte.

21 Dan sal mense weer huise bou

en daarin woon.

Hulle sal wingerde plant

en self die druiwe eet.

22 Hulle sal nie huise bou

waarin ander mense woon nie.

Hulle sal nie meer plant,

maar ander eet die vrugte nie.

My volk sal oud word

soos ’n boom.

Hulle wat Ek uitverkies het,

sal die vrug geniet

van hulle eie handewerk.

23 “Hulle sal nie tevergeefs swoeg,

en kinders grootmaak

vir rampe nie.

Want hulle sal ’n volk wees

wat deur die Here geseën is,

hulle en hulle afstammelinge.

24 Ek sal hulle antwoord

nog voor hulle na My roep.

Terwyl hulle vra,

sal Ek hulle gebede verhoor.

25 Die wolf en die lam

sal saam wei.

Die leeu sal strooi vreet

soos ’n bees,

en giftige slange sal stof vreet.

Op my heilige berg

sal hulle geen skade aanrig,

en niks vernietig nie.

Ek, die Here, sê so!”

JESAJA 66

Oordeel en hoop

1 So sê die Here:

“Die hemel is my troon

en die aarde my voetstoeltjie.

Kan julle ooit ’n tempel bou

wat so goed is?

Kan julle ’n huis bou

waarin Ek sal woon?

2 My hand het alle dinge gemaak

en so het alles ontstaan.

Ek, die Here, het gepraat!

“Dit is die een wat Ek raaksien,

die een wat nederig is

en berou het oor sy sonde,

wat ontsag het vir my woord.

3 Party mense offer bulle

en ander offer mense.

Sommige offer lammers as offer

en ander ’n hond se nek.

Party offer graan,

en ook offers van varkbloed.

Party offer wierook.

Dis alles afskuwelike offers.

Hierdie mense het besluit

om hulle eie pad te loop.

Hulle skep behae

in hulle afskuwelikhede.

4 Daarom sal Ek hulle moet straf

en oor hulle bring

wat hulle die meeste vrees.

Toe Ek geroep het,

het niemand geantwoord nie;

toe Ek gepraat het,

het niemand geluister nie.

Hulle het gedoen

wat in my oë verkeerd is.

Hulle het gekies om te doen

juis dit wat Ek haat.”

5 Luister na die boodskap

van die Here,

en bewe oor wat Hy sê:

“Julle naaste familie

haat julle

en verstoot julle omdat

julle lojaal aan My is.

‘Laat die Here Homself bewys,’

sê hulle,

‘sodat ons julle vreugde

kan sien!’

Maar hulle sal in die skande kom.

6 Luister! Die stad is in oproer.

Hoor die geraas in die tempel!

So klink dit wanneer die Here

sy vyande terugbetaal

oor alles wat hulle gedoen het.

7 “Voordat sy geboortepyne kry,

het Jerusalem al klaar

’n seun in die wêreld gebring.

8 Wie het al ooit so iets gehoor?

Wie het al ooit

so iets gesien?

Word ’n land in een oomblik gebore?

Word ’n nasie in een dag

voortgebring?

Maar Jerusalem het skaars

geboortepyne gekry

of haar babas is reeds gebore.

9 Bring Ek hierdie nasie

tot by die punt van geboorte

en laat nie ’n geboorte

plaasvind nie?

Dit is wat die Here vra.

Sou Ek ’n geboorte laat geskied

en niks word gebore nie?

sê jou God.

10 “Juig saam met Jerusalem!

Wees bly saam met haar,

julle wat haar liefhet.

Wees bly saam met haar,

julle wat oor haar gehuil het.

11 By haar sal julle gevoed word

totdat julle genoeg het.

Julle sal haar oorvloed geniet.”

12 Want dis wat die Here sê:

“Ek sal haar vrede maak

soos ’n rivier.

Die skatte van die nasies

sal na haar toe stroom.

Haar kinders

sal aan haar drink.

Sy sal hulle in haar arms dra

en hulle op haar skoot vertroetel.

13 Soos ’n moeder haar kind troos,

so troos Ek julle.

Julle sal veilig wees in Jerusalem.”

14 Wanneer julle hierdie dinge

sien gebeur,

sal julle bly wees.

Julle sal uitspruit

soos groen gras.

Die mag van die Here

sal geopenbaar word

aan dié wat Hom dien,

maar sy vyande sal Hy straf.

15 Kyk, die Here kom met vuur.

Sy oorlogwaens

is soos ’n stormwind.

Hy kom sy vyande straf

met die wraak van sy woede.

Hy voltrek sy straf

met vuur.

16 Met vuur en sy swaard

kom die Here om al wat leef

te straf.

Baie sal sterf weens die Here

se woede.

17 “Hulle wat hulleself wy

en reinig

om die tuin binne te gaan,

wat varkvleis en muise

en afskuwelike dinge eet,

sal saam

tot ’n verskriklike einde kom,”

sê die Here.

18 “Ek weet wat hulle doen

en wat hulle dink.

Daarom maak Ek

al die nasies en volke bymekaar.

Hulle sal kom

en my heerlikheid sien.

19 “Ek sal ’n teken

onder hulle oprig

en Ek stuur almal

wat die oordeel oorleef het

uit na ander nasies toe,

na Tarsis, na Pul, na Lud

met sy bedrewe boogskutters,

na Tubal, na Griekeland,

en al die ver eilande,

na almal wat nog nie

van My en my heerlikheid

gehoor het nie.

Hulle sal vir al die nasies

van my heerlikheid vertel.

20 Hulle sal die oorblyfsel van jou volk

terugbring uit al die nasies

na my heilige berg

as ’n offer vir die Here.

Hulle sal ry op perde en waens,

op drastoele, muile

en kamele.

Net soos Israel voorheen gedoen het,

sal hulle graanoffers in rein skottels

na die huis van die Here bring,”

sê die Here.

21 “Ek sal sommige van hulle

wat terugkom,

aanstel as priesters en Leviete.

Ek, die Here, sê so.

22 “Soos die nuwe hemel

en die nuwe aarde

wat Ek gaan maak,

sal bly bestaan,”

sê die Here,

“so sal julle as my volk

bly bestaan.

23 Van week tot week

en van maand tot maand

sal alle mense kom

en voor My neerbuig,”

sê die Here.

24 “As hulle uitgaan uit die stad,

sal hulle die lyke sien

van dié wat teen My

opstandig was.

Want die wurms

wat aan hulle vreet,

sal nooit vrek nie.

En die vuur

waarin hulle brand,

sal nooit ophou brand nie.

Alle mense

wat daar verbygaan,

sal met afsku vervul wees.”

JEREMIA 1

1 Hier is die woorde van Jeremia seun van Gilkija, ’n priester van Anatot in die Benjamingebied.

2 In die dertiende jaar van koning Josia van Juda se regering het die boodskap van die Here na hom gekom. Josia was die seun van Amon.

3 Die Here het aangehou om vir Jeremia boodskappe te gee, ook in die tyd van koning Jojakim, die seun van Josia, tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind. In Augustus van daardie jaar is baie van die mense van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

Die Here roep Jeremia

4 Die Here het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

5 “Ek ken jou

nog voordat jy gevorm is

in die skoot van jou moeder.

Voor jou geboorte al

het Ek jou gekies en aangestel

om namens My te praat

met die nasies van die wêreld.”

6 Ek het geantwoord:

“Nee, oppermagtige Here,

ek kan nie goed praat nie.

Ek is ook te jonk!”

7 Maar die Here het geantwoord

en gesê:

“Moenie sê jy is te jonk nie.

Gaan na die mense

waarheen Ek jou stuur

en gee my boodskap vir hulle.

8 Jy moet ook nie bang wees

vir hulle nie.

Ek sal by jou wees

en jou beskerm!

Ek is die Here wat so sê.”

9 Toe het die Here

sy hand uitgesteek

en aan my mond geraak.

Hy het vir my gesê:

“Ek het my woorde

in jou mond gesit.

10 Ek stel jou vandag aan

oor nasies en regerings,

om sommige te ontwortel

en plat te slaan,

om ander op te bou

en nuut te vestig.”

11 Die Here het vir my gesê:

“Wat sien jy, Jeremia?”

Ek het geantwoord:

“Ek sien ’n amandeltakkie.”

12 En die Here het vir my gesê:

“Ja, dit is ’n amandeltakkie.

En dit beteken dat Ek oplet

en gereed staan om te doen

wat Ek gedreig het om te doen.”

13 Die Here het weer

met my gepraat

en gevra wat ek sien.

Ek het Hom geantwoord:

“Ek sien

’n kokende pot wat uit die noorde

oorval hiernatoe.”

14 Toe sê die Here vir my:

“Uit die noorde

sal dodelike gevaar kom

oor almal wat in Juda woon.

15 Ek laat die mense van

al die koninkryke

in die noorde na Jerusalem kom,”

sê die Here.

“Hulle sal hulle trone kom neersit

by die ingang van die hekke.

Hulle sal Jerusalem

se mure aanval

en al die ander dorpe van Juda

binneval.

16 So sal Ek my oordeel

uitspreek oor my volk

oor al hulle boosheid.

Hulle het My verlaat

en ander gode vereer.

Ja, hulle buig voor die beelde

wat hulle met hulle eie hande

gemaak het!

17 “Staan op en trek jou aan, en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders laat Ek jou dalk verleë voor hulle staan!

18 Ek beskerm jou teen hulle. Ek maak jou soos ’n versterkte stad, so vasgeanker soos ’n ysterpaal of soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om jou teen die konings van Juda, hulle amptenare, hulle priesters en enige van die land se mense te handhaaf.

19 Hulle sal jou probeer onderkry, maar dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe dit!”

JEREMIA 2

Klag teen die volk

1 Die Here het vir my nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Gaan na Jerusalem toe en

skreeu dit uit sodat almal kan hoor:

So sê die Here:

Ek onthou nog die toewyding

van jou jeug,

toe julle soos ’n jong bruid was

wat My liefgehad het.

Julle was toe bereid om My deur

die dorre woestyn te volg,

deur ’n dorre woestyn.

3 In daardie tyd het Israel net aan

My behoort.

Hy was vir My die belangrikste

van my kinders.

Almal wat my volk te na gekom het,

was skuldig.

Rampe het oor hulle gekom,

sê die Here.”

4 Luister na die boodskap

van die Here,

huis van Jakob,

luister, al die families van Israel!

5 Die Here vra:

“Wat het Ek verkeerd gedoen

dat julle voorouers

so ver weggedwaal het

van My af?

Hulle het afgode gedien

wat nikswerd is.

Deur dit te doen, het hulle self

waardeloos geword.

6 Hulle het nie eers gedink

om te vra nie:

‘Waar is die Here

wat ons veilig uit Egipte gebring het

en ons deur die woestyn

gelei het?

Die land was droog en vol slote,

dor met donker skaduwees.

Niemand trek daardeur nie.

Geen mense woon daar nie.’

7 Ek het julle gebring

na ’n vrugbare land

sodat julle die vrugte

en die goeie dinge

van die land moes geniet.

Maar toe julle in my land kom,

het julle dit besoedel.

Julle het wat Ek vir julle laat erf het,

veragtelik gemaak.

8 Die priesters vra nie:

‘Waar is die Here?’ nie.

Die regsgeleerdes het nie eers

twee keer aan My gedink nie.

Die leiers van die land

was in opstand teen My.

En die profete

het namens Baäl geprofeteer.

So mors hulle hulle tyd op niks.

9 Om dié rede,” sê die Here,

“maak Ek ’n saak teen julle.

Ek sal ook julle kinders

en hulle kinders

in die toekoms aankla.

10 Gaan wes tot by Siprus,

en oos tot by Kedar.

Kyk mooi wat daar aangaan.

Het so iets al ooit gebeur?

11 Het ’n volk ooit hulle gode

vir ander gode verruil

al is hulle nie regtig gode nie?

Tog het my mense My verruil

vir gode wat niks werd is nie!

12 Wees geskok, o hemele!

Krimp ineen van afgryse,”

sê die Here.

13 “My volk het twee bose dinge

gedoen:

Hulle het My verlaat,

die fontein wat lewe gee.

En hulle het vir hulle bakke

uitgekap,

bakke wat nie water hou nie.”

Gevolge van Israel se ontrou

14 “Is Israel ’n slaaf?

Hulle is mos nie gebore

as slawe nie!

Hoekom is hulle nou

soos ’n prooi?

15 Leeus het hard en dreigend

teen Israel gebrul.

Hulle het die land verwoes,

die dorpe is nou puinhope.

Niemand bly meer daar nie.

16 Die mense uit Egipte,

Memfis en Tagpanges

het Israel se mag verbreek

en hulle verneder.

17 Julle het die probleme

oor julleself gebring

deur teen die Here te rebelleer

toe Hy julle op die regte pad wou lei!

18 Wat het dit julle gehelp

om by Egipte,

of selfs by Assirië

te gaan hulp soek?

Kon die waters van die Nyl

of die Eufraat julle dors les?

19 Julle eie sonde sal julle straf.

Julle sal sien hoe bitter dit is

om ontrou aan My te lewe,

om die Here julle God nie te eer nie.

Dit is Ek, die oppermagtige Here,

die Almagtige, wat praat!

20 “Lank gelede het Ek die juk gebreek

waarmee jy moes ploeg.

Ek het die kettings van slawerny

van jou afgehaal,

maar jy het gesê:

‘Ek sal Hom nie dien nie.’

Op elke heuwel

en onder elke groen boom

het jy jou soos ’n prostituut gedra

en voor die afgode gebuig.

21 “Ek het jou geplant

as ’n uitgesoekte wingerdstok,

opreg gekweek!

Hoe het julle dan verander

in ’n wilde druiwestok?

22 Al was julle julleself ook

met groot hoeveelhede seep

en met die sterkste wasmiddels,

dit sal nie help nie.

Vir My sal al julle skuld

soos vuil vlekke bly,”

sê die oppermagtige Here!

Israel is soos ’n ontroue vrou

23 “Hoe kan julle sê:

‘Dit is nie waar nie!

Ons het nie beelde van Baäl

aanbid nie’?

Gaan kyk gerus wat julle

in al julle valleie doen.

Neem verantwoordelikheid

vir julle doen en late!

Julle tree op net soos ’n onrustige

kameelkoei

wat rondhardloop

op soek na ’n bul.

24 Julle tree net

soos ’n wildedonkie op.

As dit paartyd is,

snuif sy in die wind.

Wie kan haar drange beheer?

Die hingste hoef nie eers na haar

te soek nie.

Sy hardloop agter hulle aan!

25 Waarom loop julle agter

die gode aan

totdat julle skoene deurgeloop is

en julle kele brand van dors?

Maar julle sê:

‘Moenie jou asem mors nie.

Ons is lief

vir hierdie vreemde gode.

Ons sal nie ophou

om hulle te aanbid nie!’

26 “Soos ’n dief wat betrap word

in die skande kom,

so sal Israel – sy konings,

leiers, priesters en profete –

in die skande kom.

27 Hulle sê vir ’n beeld

uit hout gesny:

‘Jy is my pa.’

En vir ’n beeld

uit klip gekap:

‘Jy is my ma.’

Hulle steur hulle glad nie

aan My nie,

maar sodra hulle

in die moeilikheid is,

roep hulle: ‘Kom help ons!’

28 Hoekom vra julle nie hulp

by hierdie gode

wat julle gemaak het nie?

As húlle kan, laat hulle julle

uit die moeilikheid help!

Juda, julle het net soveel gode

as dorpe.

29 “Hoekom kla julle My aan?

Dit is julle wat teen My

in opstand kom,”

sê die Here!

30 “Tevergeefs het Ek julle mense

gestraf.

Hulle het hulle nie gesteur

aan vermanings nie.

Julle het julle profete afgemaai

soos leeus ’n prooi verskeur.

31 “Israel,

luister na die woord

van die Here!

Hy vra: ‘Is Ek vir Israel

soos die woestyn

of ’n pikdonker land?’

Hoekom sê my volk:

‘Uiteindelik is ons vry,

en ons wil nooit weer

iets met Hom te doen hê nie’?

32 Vergeet ’n meisie haar juwele?

Sal ’n vrou vergeet

hoe haar trourok gelyk het?

Hoe kan my mense

My dan dae aaneen vergeet?

33 Jy ken al die fyner kunsies

om minnaars te lok.

Die mees ervare prostituut

kan by jou kom leer.

34 Jou klere is bevlek met bloed

van onskuldige armes.

Jy maak hulle dood

selfs al het hulle nie

by jou huis ingebreek nie.

35 Tog sê jy:

‘Ek is onskuldig.

Regtig, die Here kan nie

vir my kwaad wees nie!’

Weet dit: Ek gaan jou straf

juis omdat jy sê:

‘Ek het nie gesondig nie!’

36 Jy flankeer van die een

na die ander om jou te help.

Maar soos Assirië

jou in die steek gelaat het,

so sal Egipte

jou ook in die steek laat.

37 Jy sal terugkom

met jou hande op jou kop,

en in ballingskap gaan,

want die Here het die nasies verwerp

op wie jy vertrou het.

Jy sal nie slaag nie,

ondanks hulle hulp.”

JEREMIA 3

1 Die Here vra:

“As ’n man van sy vrou skei

en sy trou met ’n ander man,

mag hy haar dan weer terugvat?

Sal dit nie die land

besoedel nie?

Israel, jy het by baie minnaars

geslaap.

Tog roep Ek jou;

wil jy nou terugkom na My toe?”

sê die Here.

2 “Kyk ’n bietjie om jou

na die heuwels.

Is daar enige plek

waar jy nie losbandig

was nie?

Jy sit langs die pad soos ’n prostituut

en wag vir ’n minnaar.

Jy sit soos ’n swerwer

in die woestyn.

Jy het die land besmet

met jou ontrou en boosheid!

3 Dit is hoekom dit nie

in die lente gereën het nie.

Jy is net so uitdagend soos

’n prostituut.

Jy skaam jou nie eers

oor wat jy gedoen het nie.

4 En nou skielik sê jy vir My:

‘U is my Vader,

my Vriend van kleins af.

5 U sal sekerlik nie vir altyd

kwaad wees

oor so ’n klein dingetjie nie?’

Dit is die soort praatjies

wat julle maak,

maar julle hou net aan

om verkeerd te doen.”

Juda volg Israel se voorbeeld

6 In die tyd toe Josia koning was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid.

7 Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie.

“Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur.

8 Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien.

9 Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien.

10 Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die Here.

Hoop vir Israel

11 Toe sê die Here vir my: “Selfs die ontroue Israel is minder skuldig as die verraderlike Juda!

12 Gaan maar uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit:

“O, Israel, sê die Here,

julle was ontrou,

maar kom terug na My toe.

Ek sal nie vir altyd kwaad bly nie,

want Ek is genadig,

sê die Here.

13 Erken net dat julle skuldig is.

Erken dat julle teen

die Here julle God

in opstand gekom het.

Julle was ontrou aan Hom

deur onder elke groen boom

afgode te aanbid.

Bely dat julle My

nie gehoorsaam het nie,

sê die Here!

14 “Kom terug na My toe, ontroue kinders, want Ek is julle man. Ek sal hier een uit ’n stad en daar twee uit ’n familie vat en na Sion toe terugbring.

15 Dan sal Ek vir julle nuwe leiers gee volgens my keuse. Hulle sal julle met kennis en insig lei.”

16 Die Here sê: “Wanneer daar weer baie mense in die land is, sal hulle nie meer oor die verbondsark van die Here praat nie. Trouens, dit sal nie eers in hulle gedagtes opkom nie. Hulle sal dit nie eers onthou of mis nie, wat nog te sê ’n nuwe een maak!

17 In dié tyd sal Jerusalem bekend staan as die troon van die Here. Al die nasies sal hierheen kom om eer aan die Here te bring. Hulle sal nie langer soos domastrante mense slegte dinge doen nie.

18 In hierdie tyd sal die mense van Juda en Israel by mekaar aansluit. Hulle sal saam uit die noorde terugkom na die land wat die Here vir hulle voorouers as erfenis gegee het.

19 “Ek het by Myself gedink:

‘Ek sou julle graag

soos my eie kinders

wou behandel!

En Ek sou graag hierdie mooi

land vir julle wou gee.

Nie een van die nasies

se grondgebied

is naastenby so mooi nie.’

Ek het gedink julle sou

My ‘Vader’ noem

en nooit weer julle rug

op My draai nie.

20 Maar Israel

het soos ’n ontrou vrou

wat haar man verlaat,

My verraai,”

sê die Here.

21 “Op die heuweltoppe hoor

’n mens uitroepe.

Dit is die gehuil en gesoebat

van Israel se mense.

Hulle het afgedwaal

en van die Here hulle God

vergeet.”

22 Die Here sê:

“Ontroue kinders,

kom terug na My toe.

Ek sal julle van julle ontrouheid

genees.”

Hulle het geantwoord:

“Ja, ons wil terugkom,

want U is die Here ons God!

23 Ons aanbidding van gode

op die heuwels

is heeltemal vals.

Dit is net die Here ons God

wat Israel kan red.

24 Van ons kinderjare af

het ons die skande gesien,

hoe alles verteer word

waarvoor ons voorouers

gewerk het:

hulle beeste, skape

en selfs ook hulle kinders.

25 Van skaamte sink ons weg

in die aarde,

oordek met skande.

Ons en ons voorouers

het oor die jare heen

teen die Here ons God

gesondig.

Ons was van jongs af

nie gehoorsaam

aan die Here ons God nie.”

JEREMIA 4

1 “Israel, keer terug na My toe,”

sê die Here.

“As julle ontslae raak

van die afskuwelike afgode,

sal julle nie meer so rigtingloos

wees nie.

2 As julle ’n eed sweer

en my Naam gebruik,

moet julle die waarheid praat.

Begin reg lewe,

behandel mense regverdig

en doen wat reg is.

As julle dit doen,

sal julle

die nasies van die wêreld seën.

Hulle sal My kom vereer.”

Oordeel oor Juda

3 Dit is wat die Here vir die mense van Juda en Israel sê:

“Ploeg die harde grond

van julle harte.

Moenie goeie saad

tussen dorings saai nie.

4 Maak julle harte en gedagtes

skoon voor die Here,

inwoners van Juda

en Jerusalem.

Anders sal my woede

oor julle uitbreek

oor julle sonde,

soos ’n vuur

wat niemand kan blus nie.”

’n Ramp kom uit die noorde

5 “Verkondig dit in Juda,

vertel dit in Jerusalem en sê:

‘Maak alarm

sodat elkeen dit kan hoor!’

Skreeu hard en sê:

‘Laat almal byeenkom.

Laat ons skuil

in die versterkte dorpe.’

6 Stuur ’n sein na Jerusalem

en waarsku hulle:

‘Moenie wag nie,

vlug vir julle lewens!’

Ek bring ’n groot ramp oor julle

uit die noorde.”

7 ’n Leeu het opgestaan

uit sy lêplek.

Die verwoester is op pad.

Julle dorpe sal verwoes lê,

sonder enige inwoners.

8 Trek julle rouklere aan

en weeklaag,

want die woede van die Here

is teen ons gerig.

9 Die Here sê:

“In dié tyd sal die moed

van die koning

en sy amptenare

hulle begewe.

Die priesters sal verslae wees

en die profete

sal verstom staan.”

10 Toe het ek gesê:

“Oppermagtige Here, U het die volk en Jerusalem mislei deur te sê: ‘Hulle sal vrede hê.’ En nou is hulle lewens in gevaar!”

11 Die tyd kom dat Hy vir hierdie volk en die mense van Jerusalem sal sê: “’n Skroeiende wind waai uit die woestynheuwels na my volk toe, maar dis nie om kaf weg te waai nie.

12 Nee, Ek stuur ’n wind met sy volle krag. Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek.”

13 Ons vyand kom aan

soos ’n groot onweerswolk.

Die oorlogwaens kom aangejaag

soos ’n orkaan.

Hulle perde is vinniger as arende.

Wee ons,

want ons gaan verwoes word!

14 Jerusalem, was julle harte

sodat julle gered kan word.

Hoe lank wil julle nog verkeerde

gedagtes koester?

15 Uit Dan en die heuwels van Efraim

word jou vernietiging aangekondig.

16 “Waarsku die nasies

in die omgewing,

laat Jerusalem dit hoor:

‘Die vyand uit ’n ver land

is op pad.

Hulle skreeu oorlogskrete

teen die dorpe van Juda.

17 Hulle omsingel Jerusalem

net soos wagte

wat ’n graanland oppas.

Want my volk het teen My

in opstand gekom,’”

sê die Here.

18 “Dit is julle eie skuld

dat dié dinge met julle gebeur.

As straf kry julle

van julle eie bitter medisyne.

Dit maak diep seer!”

Jeremia huil oor sy mense

19 O die angs, die benoudheid

van my pyn!

My hart klop onstuimig in my.

Ek kan nie stilbly nie.

Ek het trompette gehoor,

die gedreun van oorlogskrete.

20 Die een ramp volg die ander

totdat die land heeltemal

verwoes is.

Skielik is al wat ’n blyplek

en skuiling is, tot niet.

21 Hoe lank gaan ek nog

die oorlogsbanier aanskou?

Hoe lank gaan ek nog

die oorlogsbasuin hoor?

22 “My volk is dwaas,

hulle ken My nie.

Hulle is soos dom kinders,

hulle het geen insig nie.

Hulle is slim as dit kom

by kwaaddoen.

Maar vir goeddoen

het hulle geen talent nie!”

Jeremia sien verwoesting kom

23 Ek het na die aarde gekyk,

en dit was woes en leeg.

Ek het ook na die hemel gekyk,

en daar was geen lig nie.

24 Ek het gekyk na die berge

en die heuwels

en hulle het gebewe en geskud.

25 Ek het gekyk

en al die mense was weg.

Selfs al die voëls van die hemel

het weggevlieg.

26 Toe ek om my kyk,

sien ek die vrugbare grond

het in ’n woestyn verander.

Al die dorpe het in puin gelê,

want die Here

het hulle vernietig

in sy toorn.

27 Die Here het gesê:

“Die land

sal verwoes word,

maar Ek sal dit nie heeltemal

verwoes nie.

28 Die aarde sal huil en die hemel

donker word

oor die besluit wat Ek

oor my volk geneem het.

Ek het klaar besluit

en sal nie van plan

verander nie.”

29 Elke stad se mense vlug

as hulle die klank van perde

en boogskutters hoor.

Hulle kruip in die bosse

en tussen rotse weg.

Al die dorpe is leeg,

sonder ’n enkele inwoner.

30 Wat probeer jy doen,

jy wat gestroop is?

Hoekom trek jy vir jou

’n rooi rok aan,

versier jy jou

met goue juwele?

Hoekom maak jy jou oë mooi

met maskara?

Jy maak jou verniet mooi!

Jou bondgenote

het jou verwerp

en soek jou lewe.

31 Ek hoor ’n uitroep van pyn

soos ’n vrou wat kraam,

’n kreet van iemand

wat haar eerste kind

in die wêreld bring.

Ek hoor die dogter van Sion snak

na haar asem.

Sy pleit om hulp.

Sy kniel voor haar moordenaars.

JEREMIA 5

Juda se sonde

1 “Hardloop op en af

in die strate van Jerusalem.

Kyk oral rond

en soek op die pleine!

As julle net een persoon kan kry

wat probeer reg lewe

en eerlik is,

sal Ek die stad spaar.

2 Hulle sweer vals

selfs as hulle sê:

‘So waar as wat die Here

lewe!’”

3 Here, U verwag van mense

om eerlik te wees.

U het hulle geslaan,

maar hulle gee nie aandag nie.

U het hulle swaar getref,

maar hulle het hulle nie

van sondes bekeer nie.

Hulle is hardkoppige mense

en het geen berou getoon nie.

4 Ek het gedink:

“Wat kan ons verwag

van armes en onkundiges?

Hulle ken nie die Here

se pad nie

en verstaan nie

wat God van hulle verwag nie.

5 Daarom sal ek eerder met die leiers

gaan praat.

Hulle ken sekerlik

die pad van die Here

en wat God van hulle verwag.”

Maar ook die leiers het

God verwerp.

6 Daarom sal ’n leeu uit die bos

hulle aanval,

’n woestynwolf hulle verskeur.

’n Luiperd sal naby die dorpe

lê en loer

en enigiemand verskeur

wat waag om uit te kom.

Dit sal gebeur omdat

hulle oortredings so baie is

en hulle so opstandig is.

7 “Hoe kan Ek julle vergewe?

Selfs julle kinders

het My verlaat.

Hulle beloof trou aan gode

wat nie gode is nie!

Ek het hulle versorg;

tog pleeg hulle egbreuk

en drom saam in bordele.

8 Hulle is soos goed versorgde,

bronstige hingste,

wat runnik agter

hulle buurman

se vrou aan.

9 Moet Ek hulle nie hieroor

straf nie?

Behoort Ek nie wraak te neem

op ’n volk soos hierdie nie?

10 “Beweeg deur haar wingerde

en verwoes dit,

maar moenie alles verwoes nie.

Sny die lote af,

want hulle behoort nie aan

die Here nie.

11 Die mense van Israel

en Juda

was ontrou aan My,”

sê die Here.

12 “Hulle het leuens versprei

oor die Here, en gesê:

‘Hy sal niks aan ons doen nie!

Geen ramp sal ons tref nie!

Ons sal ook geen oorlog

of hongersnood beleef nie!

13 Die profete is soos wind –

sonder enige goddelike gesag.

Hulle voorspelling van rampe

sal oor hulleself kom!’”

14 Daarom sê die Here God,

die Almagtige:

“Omdat die mense dit gesê het,

sal Ek my woorde in jou mond

maak soos vuur

wat hulle sal verbrand

asof hulle vuurmaakhout is.”

15 Verder sê die Here vir Israel:

“Ek sal ’n volk

wat van ver af kom

teen julle laat optrek.

Dit is ’n volk

wat baie oud en sterk is,

’n nasie

wie se taal julle nie ken nie,

wie se woorde

julle nie verstaan nie.

16 Die wapens wat hulle gebruik,

is dodelik

en hulle soldate baie sterk.

17 Hulle sal julle oes en julle kos

vernietig,

julle seuns en dogters

om die lewe bring,

julle kleinvee en beeste slag

en julle druiwe en vye opeet.

Die versterkte dorpe

waarop julle vertrou,

sal hulle vernietig.

18 “Maar selfs in hierdie verskriklike tyd sal Ek julle nie totaal uitwis nie,” sê die Here.

19 “As julle mense sou vra: ‘Waarom doen die Here God hierdie dinge aan ons?’ moet julle antwoord: ‘Ons het God verraai en vreemde gode hier in ons eie land aanbid. Nou sal ons as vreemdelinge in hulle land moet dien.’”

’n Waarskuwing vir Jerusalem

20 “Kondig vir Israel en Juda

die volgende boodskap aan:

21 Luister hier, julle dom en

onverstandige volk,

wat oë het, maar niks sien nie,

en ore het, maar niks hoor nie.

22 Het julle geen respek

vir My nie?” vra die Here.

“Is julle nie bang vir My nie?

Ek is die Een wat die sand

as grense vir die see vasgestel het.

Die see kan nie hierdie grense

oorskry nie.

Die branders kan maar bruis,

maar sal nie seëvier nie.

23 Maar my volk is hardkoppig

en opstandig.

Hulle het teen My gedraai

en hulle eie koers ingeslaan.

24 Dit kom nooit by julle op nie

om te sê:

‘Kom ons aanbid die Here

ons God

wat vir ons reën gee

op die regte tyd.

Hy gee die herfsreëns

en die lentereëns

sodat ons goeie oeste het.’

25 Julle boosheid

het al dié goeie dinge verhoed.

Dit is julle sonde

wat julle van voorspoed beroof.

26 “Onder my volk

is daar bose mense

wat strikke stel

soos voëljagters.

Hulle stel strikke,

maar vir mense.

27 Hulle huise is vol bedrieglike

planne,

net soos ’n hok vol voëls.

Daarom is hulle nou

belangrik en ryk.

28 Hulle is vet en blink!

Hulle verkeerde dade

het geen grense nie.

Hulle ontsê reg aan weeskinders

en dra nie die belange

van die armes op die hart nie.

29 Behoort Ek hulle nie

hiervoor te straf nie?

Behoort Ek nie wraak te neem

op ’n nasie soos hierdie nie?”

sê die Here.

30 “Iets verskrikliks en skokkends

het in hierdie land gebeur:

31 Die profete gee vals profesieë,

die priesters regeer

met ’n ysterhand.

En die ergste van alles is

dat my volk tevrede is daarmee!

Maar wat sal julle doen

as die einde kom?”

JEREMIA 6

’n Laaste waarskuwing vir

Jerusalem

1 “Mense van Benjamin,

vlug weg uit Jerusalem!

Blaas die trompet in Tekoa!

Stuur rookseine op

in Bet-Hakerem!

Waarsku almal dat ’n groot mag

uit die noorde op pad is

en groot skade gaan aanrig.

2 Jerusalem is soos ’n meisie,

mooi en fyn,

maar Ek sal haar verwoes.

3 Vyandelike skaapwagters

sal jou omsingel.

Hulle sal rondom jou

kamp opslaan

en jou weiveld verdeel

vir hulle kuddes.

4 Hulle skreeu:

‘Maak julle reg om teen die middag

die stad aan te val!

Wag. Die dag is al amper verby.

Die aandskaduwees is al lank.

5 Kom ons val liewer die stad

in die nag aan

en vernietig die paleise.’”

6 Die Here, die Almagtige, sê:

“Kap bome af om stormramme

te maak

en bou skuinswalle

teen die mure van Jerusalem.

Hierdie stad verdien straf,

want sy verdruk baie mense.

7 Soos ’n put wat aanhou vars

water gee,

so hou die mense van die stad

aan met onreg.

In die stad hoor ’n mens

die klank van geweld

en mishandeling.

Ek sien voortdurend

net siek en gewonde mense.

8 Dit is jou laaste waarskuwing,

Jerusalem!

As jy nie luister nie,

sal Ek My van jou losmaak.

Ek sal jou verwoes,

en jou maak

soos ’n onbewoonde land.”

9 Die Here, die Almagtige, sê:

“Laat hulle

die oorblyfsel van Israel afoes

soos ’n mens ’n wingerd afoes.

Laat jou hand weer

oor die ranke gaan

soos iemand

wat elke tros druiwe

wil pluk.”

Juda bly opstandig

10 “Met wie sal Ek praat?

Wie sal luister

as Ek ’n waarskuwing gee?

Hulle ore is toe,

hulle kan nie luister nie.

Hulle minag die woorde

van die Here,

hulle vind geen vreugde

daarin nie.

11 Die woede van die Here

brand in my.

Ek kan dit nie langer

inhou nie!

Ek stort dit uit op kinders

in die straat

en ook jongmense

waar hulle bymekaarkom.

Sowel mans as vroue en oumense

sal getref word.

12 Die vyand sal kom en hierdie

mense se huise,

landerye en vroue afvat.

Ek sal die inwoners

van hierdie land

straf,” sê die Here.

13 “Almal,

van die eenvoudigste

tot die vernaamste mense,

probeer rykdom bekom

op ’n onregmatige manier.

Selfs die profete en priesters

doen oneerlike dinge!

14 Hulle probeer om my mense

se wonde

op ’n oppervlakkige manier

gesond te maak.

Hulle maak of daar vrede is,

terwyl daar eintlik

geen vrede is nie.

15 Is hulle enigsins skaam

oor die gruwels

wat hulle doen?

Nee, hoegenaamd nie!

Hulle weet nie eers

hoe om te bloos nie!

Daarom sal hulle

tussen die gesneuweldes lê.

Hulle sal verneder word

wanneer Ek hulle straf,”

sê die Here.

Juda steur hulle nie aan die

Here nie

16 Die Here sê:

“Staan by die paaie en kyk.

Vra na die ou paaie.

Vra na die beste pad

en volg dit

want julle sal daar ware rus vind.

Maar julle het gesê:

‘Ons sal nie luister nie.’

17 Ek het mense aangestel om

oor julle te waak, en hulle roep:

‘Luister na die trompetgeskal!’

Maar julle sê:

‘Ons sal nie luister nie!’

18 Luister, al die nasies.

Kyk wat met my volk

gaan gebeur.

19 Let op wat gaan gebeur, aarde!

Ek bring rampe oor my volk.

Hulle pluk net die vrug

van hulle eie planne,

want hulle het hulle nie gesteur

aan wat Ek sê nie.

Hulle het my opdragte verwerp.

20 Daar is geen nut in

om vir My wierook uit Skeba

te brand,

of kalmoes uit ’n ver land te bring nie.

Julle brandoffers aanvaar Ek nie,

julle offers

verskaf My geen vreugde nie.”

21 Daarom sê die Here:

“Ek bring struikelblokke

op die pad van my volk.

Pa’s en seuns sal daaroor val.

Bure en vriende

sal saam omkom.”

’n Inval uit die noorde

22 Die Here sê:

“Kyk, ’n leër kom uit die noorde.

Dis ’n sterk nasie

uit ’n verafgeleë land.

23 Hulle is gewapen

met pyl en boog en spiese.

Hulle is wreed

en toon geen genade nie.

As hulle ruiters optrek,

klink dit soos die gedruis

van die see.

Jerusalem, soldate trek op in formasie,

gereed om jou te vernietig.”

24 Ons het berigte gehoor

oor die vyand.

Dit maak ons lam van vrees.

Vrees en pyn oorval ons

soos geboortepyne

wat ’n vrou ervaar.

25 Moenie waag om in die veld

te stap nie!

Bly weg van die paaie!

Die vyand is gewapen,

hulle bring oral vrees.

26 My volk,

trek rouklere aan,

en gaan sit in sak en as!

Rou en huil met stukkende harte

asof ’n enigste kind dood is.

Die vernietigende vyand

gaan julle skielik aanval!

27 “Jeremia,

Ek stel jou aan om

die gehalte van my volk te toets

net soos ’n mens

die gehalte van metaal

sou toets.

28 Hulle is almal hardkoppig.

Hulle loop oral en kwaadpraat.

Hulle is soos brons en yster,

almal is korrup.

29 Blaas maar die vuur aan

om dit witwarm te kry.

Maar die suiwering is tevergeefs!

Niemand kry dit reg

om onreg uit te suiwer nie.

30 Ek noem hulle ‘weggooisilwer’,

want die Here het hulle

weggegooi.”