JESAJA 43

Die Redder van Israel

1 Maar nou, Jakob,

sê die Here

wat jou geskep het,

Hy wat jou gevorm het, Israel:

“Moenie bang wees nie,

want Ek het jou verlos.

Ek het jou by jou naam geroep.

Jy behoort aan My.

2 Wanneer jy deur diep water

van moeilikheid gaan,

sal Ek by jou wees.

Wanneer jy deur riviere gaan,

sal hulle jou nie wegspoel nie.

Wanneer jy deur vuur

van verdrukking stap,

sal jy nie verbrand nie.

Die vlamme

sal jou nie verteer nie.

3 Want Ek is die Here jou God,

die Heilige van Israel, jou Redder.

Ek gee Egipte, Kus en Seba

as ’n losprys vir jou vryheid.

4 Omdat jy vir My kosbaar

en belangrik is,

omdat Ek jou liefhet,

gee Ek mense in jou plek,

in ruil vir jou lewe.

5 Daarom, moenie bang wees nie,

want Ek is by jou.

Ek sal jou en jou kinders

bymekaarbring

vanaf die ooste

en hulle versamel uit die weste.

6 Vir die noorde sal Ek sê:

‘Gee terug!’

en vir die suide:

‘Moenie terughou nie!’

Bring my seuns van ver af

en my dogters

vanaf die verste uithoeke

van die aarde,

7 elkeen wat My as God erken,

wat Ek tot my eer gemaak het,

wat Ek gevorm en gemaak het.”

8 Bring die volk uit wat oë het,

maar niks kan sien,

wat ore het, maar niks hoor.

9 Laat al die nasies bymekaarkom,

almal moet teenwoordig wees.

Watter een van die afgode

kon ooit so iets voorspel?

Wie kan vooraf sê

wat môre sal gebeur?

Laat hulle hulle getuies roep

om te bewys hulle was reg

sodat ander dit kan hoor

en sê: “Dit is waar.”

10 “Julle is my getuies, Israel,”

sê die Here.

“En jy is my dienaar

wat Ek uitverkies het

om My te ken en in My te glo,

en te verstaan

dat Ek alleen die Here is.

Vóór My was daar geen God nie

en ná My

sal daar geen God wees nie.

11 Ek, ja, Ek is die Here.

Buiten My

is daar niemand

wat jou kan red nie.

12 Ek het die verlossing

aangekondig.

Ek het eers gesê wat Ek gaan doen

en julle toe gered.

Geen vreemde god

kon dit doen nie.

Julle is getuies

dat Ek die enigste God is,”

sê die Here.

13 “Van altyd af is Ek God.

Niemand kan uit my hand

gered word nie.

Wat Ek doen,

kan niemand omkeer nie.”

Die Here se belofte

14 Dit sê die Here

julle Verlosser,

die Heilige van Israel:

“Ter wille van julle

stuur Ek ’n leërmag na Babel.

Dan sal die Babiloniërs moet vlug

in dieselfde skepe

waarop hulle so trots is.

15 Ek is die Here,

die Heilige van Israel,

Israel se Skepper en Koning.”

16 So sê die Here.

Dis Hy wat ’n pad

deur die water gemaak het,

’n droë pad deur die see.

17 Hy wat die sterk leër

van Egipte

met al sy strydwaens en perde

opgeroep het,

en hulle almal laat verdrink het

sodat hulle doodgeblaas is

soos ’n kers.

18 “Vergeet al die dinge

wat in die verlede gebeur het.

Dis niks in vergelyking

met wat Ek

nou gaan doen nie.

19 Ek gaan iets nuuts doen.

Dit het alreeds begin gebeur!

Sien julle dit nie?

Ek maak ’n pad

deur die woestyn vir my volk

om huis toe te kom!

Ek maak vir hulle riviere

in die woestyn!

20 Die wilde diere

sal dankbaar wees daaroor.

Die jakkalse en die volstruise

sal bly wees

omdat Ek vir hulle

water in die woestyn gee.

Ek maak fonteine

in die woestyn

sodat my uitverkore volk

hulle dors kan les.

21 Ek het hierdie volk

vir Myself gemaak

sodat hulle My sal eer.

22 “Tog, Jakob, het jy

geweier om My aan te roep.

Jy het nie moeite gedoen

om My te dien nie, Israel.

23 Jy het nie skape gebring

as brandoffers vir My,

of My vereer met jou offers nie.

Ek het jou nie belas

met graanoffers

of jou vermoei

met wierookoffers nie.

24 Julle het nie soet wierookoffers

vir My gekoop nie.

Julle het My nie versadig

met die vet van julle offers nie.

In die plek daarvan

het julle My belas

met julle sondes.

Julle het My moeg gemaak

met julle misdade.

25 “Ek, ja, Ek alleen, is die Een

wat julle sondes uitwis.

Ek doen dit

ter wille van Myself

en Ek dink nie weer

daaraan nie.

26 Kom ons dink oor die situasie.

Stel dan julle saak

en regverdig julleself.

27 Van die begin af

het julle voorouers

teen My gesondig.

Julle leiers het teen My

in opstand gekom.

28 Daarom het Ek

die priesters in my tempel

in skande laat kom.

Daarom het Ek Jakob oorgegee

om verwoes te word,

en Israel om bespot te word.”

JESAJA 44

Israel, die uitverkorene

1 “Maar luister nou mooi,

my dienaar Jakob,

Israel wat Ek gekies het.

2 Dit is wat die Here sê,

Hy wat jou gemaak het,

wat jou gevorm het

in jou moeder se skoot,

en jou steeds help:

Moenie bang wees nie,

my dienaar Jakob,

Jesurun wat Ek gekies het.

3 Want Ek sal jou water gee,

genoeg om jou dors te les

en jou droë lande nat te lei.

Ek sal my Gees

op jou kinders uitstort,

en my seëninge

op jou nageslag.

4 Hulle sal uitspruit soos gras

in die veld,

soos wilgerbome

langs strome water.

5 Party sal trots sê:

‘Ek behoort aan die Here.’

Ander sal sê:

‘Ek is ’n afstammeling

van Jakob.’

Sommige sal die Here se Naam

op hulle hande skryf

en die naam van Israel aanneem.”

Vertroue op afgode is dwaasheid

6 So sê die Here,

Israel se Koning en Verlosser,

die Here, die Almagtige:

“Ek is die Eerste en die Laaste.

Daar is geen ander God nie.

7 Wie is daar wat kan vertel

wat in die toekoms gaan gebeur?

Laat hulle dit verklaar.

Laat hulle verduidelik

wat gebeur het

vandat Ek my volk gevestig het.

En laat hulle verduidelik

wat nog gaan gebeur.

8 Moenie bewe nie,

moenie bang wees nie!

Het Ek nie lankal gesê

wat my doel met julle is nie?

Julle is my getuies.

Is daar enige ander God?

Nee, daar is geen ander Rots nie.

Ek weet van geeneen nie.”

9 Mense wat beelde

van hulle gode vervaardig,

is niks!

En die duur beelde

wat hulle maak, is niks!

Hulle is getuies dat dit so is,

want hulle beelde sien niks

en weet niks.

Geen wonder mense wat gode aanbid,

kom in die skande nie!

10 Wie anders as ’n dwaas

maak sy eie god,

’n afgod wat met net mooi niks

kan help?

11 Almal wat so ’n god vereer,

kom in die skande.

Die mense wat die gode maak,

dink hulle maak ’n god.

Hulle sal almal saam verleë staan

en ontsteld en skaam wees.

12 Die ystersmid vat gereedskap

en werk daarmee in die kole.

Hy vorm ’n beeld

met hamers

en smee ’n beeld

met die krag van sy arm.

Hy word honger

en sy krag word minder.

Hy drink nie water nie

en word uitgeput.

13 Die timmerman

wat hout gebruik,

meet met ’n maatlyn

en merk die buitelyne

van die beeld.

Hy gebruik beitels

en merk dit met passers.

Hy vorm die beeld van ’n mens,

’n pragtige beeld,

geskik om in ’n tempel te staan!

14 Die ambagsman kap seders af.

Hy kies ’n sipres of eik.

Hy laat dit groei

tussen die bome in die bos.

Of hy plant ’n lourier,

en die reën laat dit groei.

15 ’n Deel van die hout

gebruik hy

om vuur te maak

sodat hy warm kan word

en sy brood kan bak.

Met die ander deel maak hy

– kan jy glo? –

’n god wat mense aanbid!

Hy maak ’n beeld

en buig daarvoor neer.

16 Die helfte van die hout

verbrand hy in die vuur.

Hierop berei hy sy kos voor,

en eet genoeg daarvan.

Hy verwarm hom en sê:

“Hoe lekker warm kry ek

as ek na die vuur kyk!”

17 Dit wat oorbly van die hout

gebruik hy vir ’n afgodsbeeld.

Hy buig voor dit en aanbid dit.

Hy bid tot dit en sê:

“Red my tog,

want jy is my god!”

18 Kan mense so onnosel wees!

Hulle verstaan niks!

Dis asof hulle oë en verstand

toegepleister is

sodat hulle niks kan sien

of verstaan nie.

19 Die mens wat die afgode

gemaak het,

gaan sit nie en dink bietjie na nie:

“Die helfte van die hout

het ek verbrand.

Op die kole het ek brood gebak,

ek het vleis gebraai en geëet.

Hoe kan die res daarvan

’n god wees?

Moet ek dan

voor ’n stuk hout neerbuig

en dit aanbid?”

20 So ’n persoon

bou sy lewe op as.

Hy laat hom verlei

en kan homself nie red nie.

En tog kom hy nie sover

om te besef nie:

“Wat ek in my hand vashou,

is niks anders nie as ’n leuen!”

Herstel vir Jerusalem

21 “Onthou hierdie dinge, Jakob,

want jy is my dienaar, Israel.

Ek het jou gemaak.

Jy is my dienaar.

Ek sal nie vergeet

om jou te red nie, Israel.

22 Ek het jou sondes weggevee

soos wolke verdwyn.

Ek het jou oortredings

soos wolke laat verdwyn.

Keer terug na My toe,

want Ek het die prys betaal

om jou vry te koop.”

23 Sing van blydskap, hemel,

want die Here het dit gedoen.

Roep hard, dieptes van die aarde!

Breek uit in sang, berge,

en elke boom en bos!

Want die Here het Jakob gered.

Hy vertoon sy heerlikheid in Israel.

24 So sê die Here, jou Redder

wat jou in die moederskoot

gevorm het:

“Ek is die Here

wat alles geskep het.

Ek alleen het die hemel oopgespan.

Ek alleen het die aarde gevorm.

25 Ek stel vals profete

as leuenaars aan die kaak,

Ek ontbloot waarsêery

as gekheid,

Ek onthul kennis van wyses

as dwaasheid.

26 Maar Ek bevestig die woorde

van my profete

en vervul die voorspellings

van my boodskappers

wanneer hulle van Jerusalem sê:

‘Dit sal herbou word,’

en van die stede van Juda:

‘Hulle sal opgebou word.’

Van hulle ruïnes sê Ek:

‘Ek sal hulle herstel.’

27 Wanneer Ek vir die see sê:

‘Droog op!’

sal dit opdroog.

28 En wanneer Ek van Kores sê:

‘Hy sal my herder wees,’

sal hy alles doen wat Ek sê.

Van Jerusalem sal hy sê:

‘Dit moet herbou word!’

Van die tempel sal hy sê:

‘Die fondamente moet herstel

word.’”

JESAJA 45

Kores, die Here se verkose een

1 So sê die Here vir Kores,

sy gesalfde

wie se regterhand Ek gevat het

om nasies aan hom

te onderwerp,

konings se wapens af te vat

en deure voor hom

oop te maak

wat nie weer

gesluit sal word nie:

2 “Ek sal voor jou uitgaan

en berge gelyk maak.

Ek breek bronsdeure oop

en slaan ystertralies stukkend.

3 Ek gee vir jou skatte

wat weggesteek is

in die donker,

rykdomme opgesluit

in geheime plekke.

Ek doen dit sodat jy kan erken

dat Ek die Here is,

die God van Israel,

wat jou by jou naam roep

4 ter wille van Jakob my dienaar,

van Israel wat Ek gekies het.

Ek het jou op jou naam geroep

en skryf jou hoog aan,

alhoewel jy My nie eens ken nie.

5 Ek is die Here

en daar is geen ander nie.

Daar is geen ander God

as Ek nie.

Ek maak jou sterk,

al erken jy My nie eens nie.

6 Dan sal die wêreld

van die ooste

tot by die weste

weet daar is geen ander God

as Ek nie.

Ek is die Here,

en daar is geen ander God nie.

7 Ek maak die lig

en skep die donkerte.

Ek gee voorspoed

en stuur slegte tye.

Ek, die Here, is die Een

wat al hierdie dinge doen.

8 “Laat die wolke

regverdigheid reën.

En laat die aarde oopgaan

om dit te ontvang

en die vrug

van redding oplewer

sodat regverdigheid

daaruit kan voortspruit.

Ek, die Here,

het hierdie dinge gemaak.

9 Ellende wag vir hom

wat sy Skepper verwyt,

’n potskerf tussen potskerwe.

Kan die kleipot vir sy maker sê:

‘Wat maak jy?’

Kan jou handewerk vir jou sê:

‘Hy kan nie sy hande

gebruik nie’?

10 Ellende wag vir hom

wat vir sy pa sê:

‘Waarom het u

’n kind verwek?’

Of vir ’n vrou:

‘Hoekom het julle ’n kind

in die wêreld gebring?’”

11 Die Here, die Heilige

en die Skepper van Israel,

reageer so daarop:

“Betwyfel julle wat Ek doen?

Sê julle vir My

wat Ek moet doen?

12 Ek het die aarde gemaak

en mense geskep

om daarop te lewe.

Met my eie twee hande

het Ek die hemel uitgestrek.

Al die miljoene sterre

staan onder my bevel.

13 Ek het Kores opgeroep

om reg te doen.

Ek self maak ’n pad

waarop hy sal loop.

Hy sal my stad herstel,

en my ballinge bevry.

Hy sal nie beloon word

vir wat hy doen nie,

sê die Here, die Almagtige.”

Heidene sal anders dink

14 So sê die Here:

“Die produkte van Egipte,

en die handelsware van Kus,

ook die lang mense van Seba

sal na jou toe kom.

Hulle sal agter jou loop

en jou gevangenes wees.

Hulle sal voor jou buig

en teenoor jou bely en sê:

‘God is verseker met jou!

Daar is geen ander God nie.

Hy is die enigste God!’”

15 Waarlik, U is ’n God

wat Uself verberg,

God en Redder van Israel!

16 Mense wat afgodsbeelde maak,

sal verneder word

en in die skande kom.

17 Maar die Here sal

Israel vir altyd red.

Hulle sal nooit

weer verneder word

of in die skande kom nie.

18 So sê die Here,

Hy wat die hemel geskep het,

Hy is God

wat die aarde gevorm

en gemaak het.

Hy het dit gevestig.

Hy het dit nie gedoen

om leeg te wees nie,

maar om bewoon te word.

“Ek is die Here,” sê Hy.

“Daar is niemand anders nie.

19 Ek het nie in die geheim gepraat,

êrens in ’n donker land nie.

Ek het nie vir die afstammelinge

van Jakob beveel om vir My

iets te vra

wat Ek nie beplan

om vir hulle te gee nie.

Ek, die Here, praat die waarheid.

Ek sê wat reg is.

20 “Kom almal vir ’n vergadering

bymekaar,

julle almal uit die nasies

wat rondhardloop.

Hoe dwaas is almal

wat hulle afgodsbeelde

van hout ronddra,

wat bid tot gode

wat nie kan red nie!

21 Praat saam, stel julle saak,

bring julle bewyse dat

afgode kan vertel

wat in die toekoms gaan gebeur.

Wie het lankal terug

gesê wat gaan gebeur?

Was dit nie Ek, die Here, nie?

Want daar is geen ander God

as Ek nie,

’n regverdige God en ’n Redder.

Buiten My is daar niemand nie.

22 “Laat die hele wêreld

na My toe kom

sodat julle gered kan word.

Want Ek is God

en daar is geen ander nie.

23 Ek lê ’n eed af by my Naam,

en sal nooit teruggaan

op wat Ek gesê het nie:

Elke knie sal voor My buig,

en elke mond sal lojaliteit

aan My sweer.”

24 Die mense sal sê:

“Die Here is die bron

van my reg en krag.”

Almal wat kwaad vir Hom is,

sal skaamkry wanneer hulle

voor Hom verskyn.

25 In die Here

sal die nageslagte van Israel

geregverdig wees

en in Hom roem.

JESAJA 46

Babel se vals gode

1 Die afgodsbeelde van Babel,

Bel en Nebo,

word weggery op waens.

Osse sleep hulle weg.

Die arme diere steier

onder die swaar vrag.

2 Die afgodsbeelde

en diere wat hulle wegsleep,

sak inmekaar.

Die gode kan die mense

nie beskerm nie.

Maar die mense kan ook nie

die gode beskerm nie.

Saam gaan hulle in ballingskap.

3 “Luister na My,

nageslag van Jakob,

oorblyfsel uit die nageslag

van Israel.

Ek het voor geboorte

vir julle gesorg

en julle kleintyd

vasgehou.

4 Ek sal julle God wees

deur julle hele lewe.

Tot julle stokoud is,

sal Ek julle dra.

Ek het julle gemaak,

en sal vir julle sorg.

Ek sal julle ondersteun

en julle red.

5 “Met wie wil julle My vergelyk,

aan wie wil julle My gelykstel?

Wie is soos Ek,

om hom met My te vergelyk?

6 Mense gooi goud uit ’n sak,

en weeg silwer af op ’n skaal.

Hulle huur ’n goudsmid

om ’n afgodsbeeld te maak.

Dan buig hulle

en aanbid die afgodsbeeld.

7 Hulle dra die beeld

op hulle skouers

na ’n ander plek.

Hulle sit dit daar neer,

en daar staan dit!

Dit kan glad nie vanself

beweeg nie.

Wanneer iemand roep,

is daar geen antwoord nie.

Dit kan niemand red

uit sy nood nie.

8 “Onthou dit, neem dit ter harte,

julle opstandiges.

9 Dink aan wat lank gelede

gebeur het.

Ek is God.

Daar is geen ander nie.

Ek is God.

Niemand is soos Ek nie.

10 Ek maak bekend wat gaan gebeur

nog voor dit gebeur.

Wat Ek besluit, voer Ek uit.

Wat Ek wil, doen Ek.

11 Uit die ooste

roep Ek ’n roofvoël,

’n man uit ’n ver land,

wat my opdrag sal uitvoer.

Wat Ek gesê het,

sal Ek laat gebeur.

Wat Ek beplan,

dit sal Ek doen.

12 Luister na My, julle opstandiges,

julle wat nie reg doen nie.

13 Ek staan reg om te doen

wat reg is.

Dis nie ver nie.

Die redding wat Ek bring,

sal nie lank wegbly nie.

Ek bring redding vir Sion,

my heerlikheid na Israel.”

JESAJA 47

Babel gaan val

1 “Klim af, gaan sit in die stof,

dogter van Babel.

Kom sit in die stof

sonder jou troon,

stad van die Babiloniërs.

Niemand noem jou weer

die jong vrou

wat fyn en delikaat is nie.

2 Vat swaar maalklippe

en maal die koring.

Haal af jou sluier

en tel jou rok op.

Ontbloot jou

en stap deur die stroom.

3 Want jy sal kaal wees.

Jou skaamte

sal ontbloot word.

Want Ek neem wraak,

en sal niemand spaar nie.”

4 Ons Verlosser

– die Here, die Almagtige,

is sy Naam –

is die Heilige van Israel.

5 “Gaan sit doodstil

in ’n donker plek,

dogter van Babilon.

Jy sal nooit weer genoem word

koningin van koninkryke nie.

6 Want Ek was kwaad

vir my volk.

Ek het my erfdeel onrein verklaar.

Daarom het Ek hulle gestraf

en hulle in jou hand oorgegee.

Maar jy het geen genade

vir hulle betoon nie.

Selfs die oumense

het jy ’n swaar vrag laat dra.

7 Jy het by jouself gedink:

‘Ek sal altyd bestaan,

’n koningin wees vir altyd!’

Maar jy het nie gedink

aan die gevolge

van jou dade nie.

8 “Daarom, luister mooi na My.

Jy is ’n wellustige vrou

wat haar verlustig

in haar sekuriteit en sê:

‘Ek alleen bestaan,

daar is niemand soos ek nie.

Ek sal nooit ’n weduwee wees

of my kinders verloor nie.’

9 Dis juis hierdie twee dinge

wat jou skielik sal oorval,

op dieselfde dag:

Jy sal jou kinders verloor

en jy sal ’n weduwee word.

Hierdie rampe gaan jou tref

ondanks jou toorkunste

en jou beswerings.

10 Jy het op jou boosheid vertrou

en gesê:

‘Niemand sien wat ek doen nie!’

Jou wysheid en jou kennis

het jou mislei

toe jy gedink het:

‘Ek alleen bestaan,

daar is niemand

soos ek nie.’

11 Maar rampe

sal jou skielik oorval

en jy sal dit nie kan besweer nie.

Ellende gaan oor jou kom,

en jy sal jou nie

met ’n losprys kan loskoop nie.

’n Ramp wat jy nie kan

voorsien nie,

sal skielik oor jou kom.

12 “Hou maar aan

met jou toorkunste,

met jou beswerings

wat jy al van kleintyd

beoefen het.

Dalk het jy sukses,

dalk sal jy mense afskrik.

13 Al die raad wat jy gekry het,

het jou net moeg gemaak.

Laat jou voorspellers opstaan

en jou kom red.

Laat die sterrekykers

wat maand vir maand vir jou

voorspellings maak,

jou red

van wat jou gaan tref.

14 Maar hulle is so nutteloos

soos droë gras

wat in die vuur brand.

Hulle kan hulleself nie red

van die mag van die vuur nie!

Daar is nie eens kole

om jou warm te maak nie,

geen vuur waarby jy kan sit nie.

15 Dis al wat hulle

vir jou kan doen,

hulle met wie jy jou

van jongs af besig gehou het.

Hulle dwaal almal

op hulle eie koers.

Nie een van hulle kan jou red nie.”

JESAJA 48

God se hardkoppige volk

1 “Luister na My,

afstammelinge van Jakob

wat Israel genoem word,

wat voortkom uit Juda,

julle wat sweer

in die Naam van die Here,

en die God van Israel aanroep,

maar nie in waarheid

of regverdigheid nie.

2 Julle noem julleself inwoners

van die heilige stad,

wat vertrou op die God van Israel.

Die Here, die Almagtige,

is sy Naam:

3 Wat vroeër gebeur het,

het Ek lank gelede al

vooruit gesê.

Met my mond het Ek

dit aangekondig

en dit bekendgemaak.

Toe het Ek opgetree,

en skielik het dit gebeur.

4 Ek weet hoe hardkoppig julle is,

eiesinnig soos yster,

met ’n kop so hard

soos ’n stuk brons.

5 Daarom het Ek lank gelede al

gesê wat Ek gaan doen.

Voordat dit gebeur,

het Ek dit al bekendgemaak,

sodat julle nie kan sê nie:

‘My afgode het dit gedoen.

My houtbeelde en metaalbeelde

het dit laat gebeur.’

6 Julle het alles gehoor.

Julle kon dit self sien.

Sal julle dit nie nou erken nie?

Daarom gaan Ek nou nuwe dinge

aan julle openbaar,

geheime waarvan julle nie weet nie.

7 Dis splinternuwe dinge

wat voorheen nie daar was nie,

waarvan julle voor vandag

nie gehoor het nie.

Nou sal julle nie kan sê:

‘Natuurlik het ek dit geweet’ nie.

8 Julle het niks daarvan gehoor

of dit verstaan nie.

Want Ek weet hoe verraderlik

julle optree.

Van geboorte af

was julle as rebelle bekend.

9 Tog sal Ek ter wille van Myself

my woede bedwing.

Ter wille van my Naam

sal Ek my woede terughou

sodat julle nie uitgewis word nie.

10 Ek het julle gelouter,

maar nie soos silwer nie.

Ek het julle gelouter

in die smeltkroes van lyding.

11 En Ek sal julle red.

Ter wille van Myself,

ja, Myself, doen Ek dit.

Hoe kan Ek toelaat dat my Naam

oneer aangedoen word?

Aan niemand anders

sal Ek my eer gee nie.”

Verlos van Babel

12 “Luister mooi, Jakob,

Israel, vir wie Ek geroep het.

Ek alleen is God,

die Eerste en die Laaste.

13 Dit was my hand

wat die aarde se fondamente

gelê het.

Met my regterhand

het Ek die hemelkoepel gespan.

Ek het beveel,

en hulle het tot stand gekom.”

14 Kom julle nou almal saam,

en luister.

Wie van julle gode het vooruit gesê

wat nou gaan gebeur?

Die Here het iemand uitgekies.

Hy gaan hom gebruik

om ’n einde aan Babel te maak

en die Babiloniërs te verslaan.

15 “Ek, ja, Ek het dit gesê.

Ek het hom geroep.

Ek het hom laat kom.

Hy sal suksesvol wees

in wat hy moet doen.

16 “Staan nader aan My

en luister.

Van die begin af

het Ek nie in die geheim

gepraat nie.

Wanneer iets gebeur,

dan is Ek daar.”

Nou het die oppermagtige Here

my deur sy Gees gestuur.

17 Nou sê die Here,

jou Redder,

die Heilige van Israel:

“Ek is die Here jou God

wat jou leer wat vir jou goed is.

Ek lei jou op die pad

waarop jy moet loop.

18 As jy maar net na my gebooie

geluister het!

Dan sou jou vrede

soos ’n rivier gewees het,

en jou geregtigheid

soos die golwe van die see.

19 Jou nageslag sou dan so talryk

soos sand gewees het,

en jou nakomelinge

so baie soos sandkorrels.

Hulle name sou nooit uitgewis

en uitgeroei word nie.”

20 Maar vlug nou uit Babel.

Vlug weg van die Galdeërs!

Kondig dit aan met gejubel,

maak dit bekend.

Laat dit weerklink

tot aan die eindes van die aarde.

Sê: “Die Here

het sy dienaar Jakob verlos.”

21 Hulle het nie dors geword

toe Hy hulle deur die woestyn

gelei het nie.

Hy het vir hulle water

uit ’n rots laat kom.

Hy het die rots gekloof

en water het uitgestroom.

22 “Maar vir bose mense,” sê die Here,

“is daar geen vrede nie.”

JESAJA 49

Die Here se kneg uitgestuur

1 Luister na my,

almal wat in ver lande bly!

Voor my geboorte

het die Here my geroep.

Van my geboorte af

het Hy my op my naam genoem.

2 Hy het my mond

soos ’n skerp swaard gemaak.

In die skaduwee van sy hand

het Hy my weggesteek.

Hy het my ’n skerp pyl gemaak

en in sy pylkoker weggesteek.

3 Hy het vir my gesê:

“Jy is my dienaar, Israel.

Deur jou sal Ek verheerlik word.”

4 Ek het geantwoord:

“Wat ek doen,

is nutteloos.

Ek het tevergeefs geswoeg!

Tog laat ek dit alles

in die hand van die Here.

Hy sal my beloon.”

5 En nou praat die Here,

Hy wat my as sy dienaar

in my ma se skoot gemaak het

om Jakob na Hom

terug te bring

en Israel vir Hom

bymekaar te maak.

Die Here het my geëer.

My God het my sterk gemaak.

6 Hy sê: “Jy sal nog meer doen

as om die stamme van Jakob

op te rig

en my volk Israel

na My toe terug te bring.

Ek gaan jou ’n lig maak

vir die nasies

sodat jy my redding kan bring

tot aan die uithoeke

van die aarde.”

7 Dit is wat die Here,

die Redder en Heilige

van Israel,

sê vir die een wat verag is

en verwerp word

deur die nasie,

wat ’n dienaar van regeerders is:

“Konings sal jou sien

en op aandag staan.

Prinse sal laag voor jou buig

ter wille van die Here wat getrou is.

Hy, die Heilige van Israel,

het jou gekies.”

Belofte van Israel se herstel

8 So sê die Here:

“Op die regte oomblik

sal Ek jou antwoord.

Op die dag wat Ek red,

sal Ek jou help.

Ek sal jou bewaar

en jou maak

tot ’n verbond

met my volk

om sy land te herstel

en die verlate eiendom

weer terug te kry

9 om aan die gevangenes te sê:

‘Kom uit!’

en aan hulle in duisternis:

‘Wees vry!’

“Hulle sal my kudde wees

wat in groen weivelde wei,

selfs op heuwels

wat voorheen kaal was.

10 Hulle sal nie meer honger

of dors wees nie.

Die warm son

en die droë woestynwinde

sal niks aan hulle doen.

Hy wat vir hulle omgee,

sal vir hulle sorg

en hulle lei

na koel fonteine.

11 Al my berge

maak Ek paaie.

My hoofweë

sal Ek vir hulle gelykmaak.

12 My volk kom terug van ver af,

sommige uit die noorde,

ander uit die weste,

nog ander so ver as Egipte.”

13 Sing van vreugde, hemel!

Aarde, wees bly!

Berge, juig met ’n vrolike lied!

Want die Here

het sy volk getroos.

Hy sal Hom ontferm oor hulle

wat in ellende is.

14 Tog het Sion gesê:

“Die Here het my verlaat.

Die Here het my vergeet.”

15 “Kan ’n ma die baba vergeet

wat aan haar bors drink?

Kan sy geen medelye hê

met die kind

wat sy in die wêreld

gebring het nie?

Selfs al sou dit tog moontlik wees,

Ék sal jou nie vergeet nie!

16 Kyk, Ek het jou naam

in my hand gegraveer.

Die mure van Jerusalem

wat afgebreek is,

is altyd voor My.

17 Baie gou sal jou nageslag

hulle terughaas,

maar hulle wat jou verwoes het,

sal wegvlug.

18 Kyk rondom jou.

Al jou kinders sal terugkom

na jou toe.

So seker as Ek lewe,”

sê die Here,

“jy sal hulle dra soos juwele,

soos ’n bruid haar juwele aansit.

19 “Jy is nou net ’n ruïne

en jou land verlate,

maar dan sal jy te klein wees

om al die inwoners te huisves,

en dié wat jou wou vernietig,

sal ver weg wees.

20 Die geslag in ballingskap

gebore,

sal terugkom en sê:

‘Ons het meer plek nodig!

Maak vir ons meer plek

om in te woon!’

21 Dan sal jy by jouself dink:

‘Wie het al hierdie kinders

vir my gegee?

Ek was kinderloos

en onvrugbaar.

Ek was ’n balling

en verstoot.

Maar wie het hierdie kinders

grootgemaak?

Ek alleen het oorgebly,

maar waar kom hulle

nou vandaan?’”

22 So sê die oppermagtige Here:

“Ek steek my hand op

en gee ’n teken

aan die nasies.

Dan sal hulle jou seuns

terugdra in hulle arms.

Hulle sal jou dogters

op hulle skouers dra.

23 Konings sal pleegvaders

van jou kinders wees.

En koninginne

hulle pleegmoeders.

Hulle sal diep voor jou buig

en die stof

van jou skoene aflek.

Dan sal jy weet dat Ek

die Here is.

Wie sy hoop op My stel,

sal nie teleurgestel word nie.”

24 Kan die buit van ’n soldaat

uit sy hande gesteel word,

of ’n gevangene uit die bewaking

van ’n betroubare persoon?

25 So sê die Here:

“Die gevangene gaan bevry word

en die buit gaan afgeneem word.

Want Ek is ’n vyand van jou vyand,

en Ek sal jou kinders red.

26 Ek sal jou vyande

hulle eie vleis laat eet.

Hulle sal dronk word

van hulle eie bloed

soos van wyn.

Die hele wêreld sal weet:

Ek is die Here,

jou Redder en jou Verlosser,

die Magtige van Jakob.”

JESAJA 50

Israel se sonde

1 Die Here vra:

“Waar is die skeibrief

waarmee Ek jou moeder

weggestuur het?

Of aan wie van my skuldeisers

het Ek jou verkoop?

Nee, julle het julleself verkoop

met julle oortredings

en dis oor julle sondes

dat Ek julle moeder

weggestuur het.

2 Waarom was daar niemand

toe Ek gekom het nie?

Hoekom was daar nie antwoord

toe Ek geroep het nie?

Is my arm te kort om te red?

Is Ek te swak om jou te red?

Ek dreig die see,

en dit droog op.

Ek verander riviere in woestyne

sodat al die visse vrek

omdat die water opgedroog het.

3 Ek laat die lug donker word,

want die aarde rou.”

Die Here se gehoorsame dienaar

4 Die oppermagtige Here

het my geleer

sodat ek dié wat moeg is

moed kan inpraat.

Elke môre maak Hy my wakker

en leer my luister

soos dit ’n leerling betaam.

5 Die oppermagtige Here

het my ore oopgemaak.

Ek was nie teen Hom opstandig nie.

Ek was nie ontrou aan Hom nie.

6 Ek het my rug gehou

sodat hulle my kon slaan,

my wang

sodat hulle my baard kon uittrek.

Ek het nie my gesig weggedraai

toe hulle my gespot

en in die gesig

gespoeg het nie.

7 Omdat die oppermagtige Here

my help,

sal ek nie in die skande kom nie.

Ek het my gesig

hard soos vuurklip gemaak.

Ek weet ek sal nie

in die verleentheid kom nie.

8 Hy wat my sal verdedig,

is naby.

Wie sal dit waag

om ’n aanklag teen my te lê?

Laat ons elkeen sy saak stel!

Wie is my aanklaer?

Laat hom vorentoe kom.

9 Die oppermagtige Here

is aan my kant!

Wie kan my skuldig verklaar?

Almal wat my beskuldig,

sal vergaan

soos ’n kledingstuk

wat deur motte gevreet is!

10 Wie van julle

dien die Here

en doen wat sy dienaar sê?

Hy wat sonder enige lig

in die donker loop,

moet vertrou

op die Naam van die Here,

en staatmaak op sy God!

11 Maar julle wat vure aansteek,

wat brandende fakkels

gereed kry,

in julle eie vuur sal julle brand.

Julle eie fakkels

sal julle doodbrand.

Dit is wat julle

uit my hand sal ontvang.

In smart sal julle gaan lê.

JESAJA 51

Vertrou op die Here

1 “Luister baie mooi na My,

almal wat die reg nastreef

en na die wil van die Here vra!

Dink aan die rots

waaruit julle gekap is,

die klipgroef

waaruit julle gesny is.

2 Dink terug aan

Abraham en Sara,

van wie julle afstam.

Abraham was alleen

toe Ek hom geroep het.

Maar Ek het hom geseën,

en hy het ’n groot nasie geword.”

3 Die Here gaan Sion vertroos

en Hom ontferm

oor die verwoeste stad.

Hy gaan haar woestyngebied

maak soos Eden,

haar woesteny

soos die tuin van die Here.

Vreugde en blydskap sal volop

in die stad wees.

Liedere van dankbaarheid

sal weerklink.

4 “Luister na My, my volk.

Hoor mooi, Israel,

want my onderrig

sal van My af uitgaan,

my reg

sal ’n lig wees vir die volke.

5 My redding kom gou,

my verlossing is op pad.

Die eilande wag op My.

Hulle hoop op my redding.

6 Kyk op in die lug bokant julle,

kyk af na die aarde hieronder.

Die lug sal verdwyn soos rook

en die aarde sal vergaan

soos klere.

Die mense op die aarde

sal doodgaan soos vlieë,

maar die redding wat Ek bring,

sal wees vir altyd.

My regspraak

sal vir altyd duur.

7 “Luister na My,

julle wat weet wat reg is,

julle wat my wette

in julle harte het.

Moenie bang wees vir mense

wat met julle spot nie.

Moenie skrik

as hulle julle beledig nie.

8 Want vismotte sal hulle opvreet

soos klere.

Wurms sal hulle opvreet

soos wol.

Maar my regspraak

sal wees vir altyd,

my redding vir alle geslagte.”

9 Word wakker! Word wakker,

Here!

Beklee Uself met mag,

sterk arm van die Here!

Word wakker soos vroeër

soos in tye lank gelede.

Is dit dan nie U wat Rahab

aan stukke gekap het,

die seemonster

deurboor het nie?

10 Is U nie die Een

wat die see, die diepwaters,

laat opdroog het,

wat ’n pad gemaak het

op die bodem van die see

sodat dié wat verlos is,

kon deurtrek nie?

11 Almal vir wie die Here

losgekoop het,

sal met vreugde

terugkeer na Sion.

Blydskap sal die kroon

op hulle koppe wees.

Hulle sal vol vreugde

en blydskap wees.

Hartseer en smart sal verdwyn.

12 “Ek, ja, Ek is die Een

wat julle troos.

Hoekom is julle dan bang

vir gewone mense,

vir mense wat soos gras vergaan

en verdwyn?

13 Julle het vergeet van die Here,

julle Skepper

wat die hemel oopgespan het,

wat die fondamente

van die aarde gelê het.

Jy was altyd vol vrees

vir die woede

van jou verdrukkers

wat uit is daarop om jou te vernietig.

Maar waar is die toorn

van jou verdrukker nou?

14 Een van die dae

word al jou gevangenes

vrygelaat!

Hulle sal nie doodgaan

in die tronk nie

en hulle sal ook nie honger ly nie.

15 Want Ek is die Here jou God

wat die see onstuimig maak

sodat sy golwe dreun.

Die Here, die Almagtige,

is my Naam!

16 Ek het my woorde

in jou mond gesit.

Ek het jou beskerm

met die skadu van my hand.

Dis Ek wat die sterre

op hulle plek sit,

en die aarde

gevestig het.

Dis Ek wat vir Sion sê:

‘Jy is Myne!’”

Die Here se wraak

17 Word wakker, word wakker!

Staan op, Jerusalem!

Jy wat die beker van toorn

uit die hand van die Here

gedrink het.

Jy wat dit leeggedrink het

sodat dit jou laat steier het.

18 Nie een van jou kinders

was daar om jou te lei nie.

Daar was nie een van jou kinders

wat jou hand gevat het

om te sê wat jy moet doen nie.

19 ’n Dubbele ramp het jou getref.

Wie is daar om jou te troos?

Daar is net verwoesting

en vernietiging,

hongersnood en oorlog.

Wie is daar om jou te bemoedig?

20 Jou kinders het flou geword.

Hulle lê in die strate,

hulpeloos soos wild

wat in ’n vangnet gevang is.

Die Here het sy wraak

oor hulle uitgestort.

God het hulle gestraf.

21 Daarom, luister nou hierna,

jy met soveel ellende,

jy wat dronk is,

maar nie van wyn nie.

22 So sê jou oppermagtige Here,

jou God en jou Beskermer:

“Kyk, Ek vat uit jou hand

die beker wat jou laat steier.

Uit die beker

van my woede

hoef jy nooit weer

te drink nie.

23 Ek sit daardie beker

in jou verdrukkers se hand,

hulle wat vir jou gesê het:

‘Gaan lê op die grond

sodat ons oor jou kan loop!’

En jy het jou rug gemaak

soos die grond,

soos ’n straat vir hulle

wat oor jou geloop het.”

JESAJA 52

Verlossing vir Jerusalem

1 Word wakker, word wakker,

Sion, beklee jou met krag!

Trek jou mooiste klere aan,

Jerusalem, heilige stad.

Onbesnedenes en onrein mense

sal nie meer in jou kom nie.

2 Staan op uit die stof,

Jerusalem!

Staan op!

Maak die toue

om jou nek los, Sion,

jy wat ’n gevangene is.

3 So sê die Here:

“Ek het niks vir julle gekry

toe ek julle verkoop het nie.

En nou kan ek julle terugkoop

sonder geld.”

4 So sê die oppermagtige Here:

“Lank gelede het my volk

as vreemdelinge in Egipte

gaan bly.

Nou het Assirië

hulle sonder rede verdruk.

5 “En nou, wat kry Ek nou hier?”

vra die Here.

“Wie het nou weer my volk

sonder rede slawe gemaak?

Dié wat oor hulle heers,

spot met hulle,”

sê die Here.

“Hulle praat die hele dag

sleg van My.

6 Daarom sal my volk

my Naam ken.

En daarom sal hulle weet

wanneer die dag kom,

dat dit Ek is wat sê:

‘Hier is Ek!’”

7 Hoe mooi klink die voetstappe

op die berge

van hulle wat goeie nuus bring

en vrede en verlossing aankondig,

wat vir Sion sê:

“Jou God regeer!”

8 Luister! Die wagte roep hard,

hulle sing van vreugde.

Want voor hulle oë sien hulle

hoe die Here terugkom

na Sion toe.

9 Die puinhope van Jerusalem

moet sing van vreugde,

want die Here

het sy volk getroos.

Hy het Jerusalem verlos.

10 Die Here sal sy heilige mag

voor die volke se oë vertoon.

Tot aan die uithoeke

van die aarde

sal hulle God se redding sien.

11 Gee pad, gee pad!

Trek weg uit Babel!

Moenie wat onrein is,

aanraak nie.

Kom daar uit

en sorg dat julle rein is,

julle wat die tempelgereedskap

van die Here dra.

12 Julle sal nie haastig padgee nie.

Julle sal nie hardloop

soos vlugtelinge nie.

Die Here sal voor julle uittrek

en die God van Israel

sal julle van agter beskerm.

Die Here se dienaar sal ly

13 My dienaar sal voorspoedig

wees.

Hy sal hoog in aansien wees.

Almal sal hom eer.

14 Baie mense was ontsteld

toe hulle hom sien.

Hy was so misvorm

dat hy skaars soos ’n mens

gelyk het.

15 Hy sal baie volke en hulle konings

rein maak,

en konings sal sprakeloos

voor hom wees.

En hulle sal hoor

wat hulle voorheen nog nooit

gehoor het nie.