JESAJA 3

Oordeel teen Juda

1 Die Here,

die Here, die Almagtige,

sal die kos- en watervoorrade

van Jerusalem en Juda afsny.

2 Hy gaan elkeen van die leiers

van die volk vernietig:

helde, soldate, regters, profete,

waarsêers, ouderlinge,

3 leëroffisiere, eerbare burgers,

adviseurs, kundige vakmanne

en deskundige besweerders.

4 Dan sal Hy kinders aanstel

wat oor hulle sal regeer,

en wetteloosheid sal uitbreek.

5 Mense sal mekaar inloop –

man teen man

en vriend teen vriend.

Jongmense sal teen gesag

in opstand kom,

en veragtes sal

op eerbare mense neersien.

6 In daardie tyd sal ’n man

vir sy broer sê:

“Omdat jy behoorlike klere het,

moet jy ons leier kom wees!

Kom regeer oor die ruïnes.”

7 “Nee!” sal hy antwoord.

“Ek kan nie help nie.

Ek het nie ekstra kos

en klere in my huis nie.

Moet my nie vra

om betrokke te raak nie!”

8 Van Juda en Jerusalem

sal net ruïnes oorbly

omdat hulle met woord en daad

die Here teenstaan

en hulle nie steur

aan sy heerlike teenwoordigheid nie.

9 Hulle gesigte gee hulle al weg

dat hulle skuldig is.

Hulle sondig openlik

soos die mense van Sodom.

Hulle steek dit nie eens weg nie.

Hulle het hulle eie ondergang

bewerkstellig!

10 Sê vir die regverdige:

“Dit sal goed gaan met jou.

Julle sal kry wat julle verdien!”

11 Maar verwoesting wag vir die bose.

Hulle gaan ook kry

wat húlle verdien.

12 Kinders verdruk my volk

en vroue heers oor hulle.

My volk, julle leiers vat julle

op die verkeerde pad,

na julle vernietiging toe.

13 Die Here maak Hom klaar

om die volk te oordeel.

Hy staan reg

om téén sy mense op te tree!

14 Die leiers en regeerders

gaan die eerste wees

wat die Here se oordeel beleef.

“Julle het die wingerd geruïneer.

Israel is my wingerd.

Julle het die armes besteel,

hulle eiendom vir julle gevat.

15 Hoe kon julle dit waag

om my volk en die armes

so in die stof in te trap?”

vra die oppermagtige Here,

die Almagtige.

Waarskuwing vir Jerusalem se

vroue

16 Verder sal die Here

’n oordeel uitspreek

oor die vroue van Jerusalem,

wat met hulle neuse

in die lug rondloop,

met ringe wat rinkel

aan hulle enkels.

Hulle oë soek tussen die skare,

hulle flankeer met elke man.

17 Die Here sal hulle koppe ontsier.

Ja, die Here sal hulle bles maak.

18 Daardie dag stroop die Here

hulle swierigheid,

die bande om hulle koppe,

die hangertjies

in die vorm van ’n halfmaan,

19 oorringe, armbande en sluiers,

20 hooftooisels, voetkettinkies

en versierde gordels.

Hulle gelukbringertjies

sal weg wees,

21 hulle ringe en neusringe,

22 partytjieklere,

mantels, tjalies

en handsakkies,

23 spieëltjies,

fyn linneklere,

kopdoekies en tjalies.

24 In plaas daarvan

dat hulle na reukwater ruik,

sal hulle stink.

Hulle sal toue

vir gordels dra,

en hulle mooi gekamde hare

sal uitval en bles word.

In die plek van hulle mooi klere

sal hulle ’n roukleed dra.

In die plek

van hulle skoonheid

sal hulle die brandmerk dra

van ’n slaaf.

25 Die manne van die stad

sal in die oorlog

doodgemaak word,

en die soldate in die geveg.

26 Die ingange van Jerusalem

sal rou en huil.

Die mense van

die stad sal verlate

op die grond sit.

JESAJA 4

1 Daardie dag sal min mans

nog lewe.

Sewe vroue sal met mekaar

oor een man baklei en sê:

“Laat ons almal met jou trou!

Ons sal ons eie kos

en klere verskaf.

Gee ons net jou naam

sodat hulle

ons nie as kinderloses

uitkryt nie!”

Belofte van herstel

2 In die toekoms sal Israel,

die tak van die Here,

mooi en glansryk wees.

En die vrugte van die land

sal die trots wees

van die mense

wat oorgebly het.

3 Almal wie se name

neergeskryf is,

wat die uitwissing beleef het

van Jerusalem,

sal heilige mense wees.

4 Die Here sal

die vuilheid afwas

van die dogters van Jerusalem.

Hy sal Jerusalem skoon was

van sy bloedvlekke

deur die gees van oordeel

wat brand soos vuur.

5 Dan sal die Here

skadu verskaf vir Jerusalem

en almal wat daar vergader.

Dan sal die Here bedags ’n wolk

en snags ’n vuur beskik.

Sy magtige heerlikheid

sal alles beskerm.

6 Dit sal skuilplek bied

teen die hitte van die dag

en teen storms en reën.

JESAJA 5

’n Lied oor die Here se wingerd

1 Ek wil ’n lied sing

vir die een wat ek liefhet,

oor sy wingerd:

My beminde het ’n wingerd

teen ’n baie vrugbare heuwel.

2 Hy het die grond omgespit,

die klippe verwyder

en beplant

met edel wingerdstokke.

In die middel

het hy ’n wagtoring gebou

en ’n parskuip uitgekap.

Hy het gewag vir ’n oes

van soet druiwe,

maar die druiwe

was wild en suur.

3 “Inwoners van Jerusalem

en Juda,

oordeel tussen My

en my wingerd.

4 Wat moes Ek meer gedoen het

om ’n oes te verseker?

Hoekom het Ek

wilde druiwe gekry

toe Ek soet druiwe verwag het?

5 Kom Ek vertel jou

wat Ek met my wingerd gaan doen:

Ek gaan sy omheining afbreek,

sodat dit vernietig sal word.

Ek gaan sy mure afbreek,

sodat wilde diere

dit kan vertrap.

6 Ek maak dit ’n woestyn.

Die wynstokke

snoei Ek nie meer nie

en die grond

skoffel Ek nie meer om nie.

Dorings en onkruid

sal dit toegroei.

Ek beveel die wolke

om nie daaroor te reën nie.”

7 Die wingerd van die Here,

die Almagtige,

is die volk Israel.

En Juda is sy mooi tuin.

Hy het ’n oes

van geregtigheid verwag,

maar net bloedvergieting gekry;

gesoek na regverdigheid,

maar net die hulpgeroep

van verdrukte mense gehoor.

Juda se skuld en oordeel

8 Verwoesting wag

as julle aanhou

om eiendom op te koop

sodat geen plek

oorbly en julle alleen in die land bly.

9 Maar die Here, die Almagtige,

verklaar

waar ek dit gehoor het:

“Baie mooi huise sal leeg staan,

sonder enige inwoners.

10 ’n Wingerd

van tien akker sal nie eens ’n tiende

van sy opbrengs lewer nie.

Tien dele saad

sal net een deel graan lewer.”

11 Verwoesting wag

as julle vroeg opstaan

sodat julle tot laatnag kan drink.

Julle kuier tot laat,

totdat die wyn julle bedwelm.

12 Julle het harpe en liere

by julle partytjies,

tamboeryne, fluite en wyn.

Maar julle steur julle nie

aan wat die Here doen nie,

en sien nie sy dade raak nie.

13 Daarom stuur Ek my volk

weg in ballingskap,

omdat hulle My nie ken nie.

Die mees geëerdes

onder julle

sal doodgaan van die honger,

en die gewone mense

sal sterf van die dors.

14 Die graf se aptyt is opgewek,

hy maak sy mond wyd oop

vir julle.

Vooraanstaandes

en gewone mense

sal ingesluk word,

saam met die rumoerige

dronkaards.

15 Dan sal mense verneder word

en in die stof beland,

die trotses sal tot ’n val kom.

16 Die Here, die Almagtige,

sal verhoog word.

Hy sal geregtigheid laat geskied.

Die heiligheid van God

sal in sy regverdigheid

uitgestal word.

17 Dan sal kuddes

in hulle eie weivelde wei,

lammers en bokkies sal

tussen die puinhope wei.

18 Verwoesting wag vir mense

wat hulle sonde

agter hulle aansleep

met bande van valsheid

en sonde.

19 Hulle sê:

“Laat Hom gou maak en iets doen

sodat ons dit kan sien!

Laat die Heilige Een van Israel

vir ons wys wat Hy beplan

sodat ons dit kan weet!”

20 Verwoesting wag vir hulle

wat sê

dat sleg goed is en goed sleg,

dat donker lig is en lig donker,

dat bitter soet is en soet bitter.

21 Verwoesting wag vir elkeen

wat dink dat hy slim is

en homself wys ag.

22 Verwoesting wag vir mense

wat helde is

as dit by ’n gedrinkery kom,

wat meesters is

in hoe jy drankies meng.

23 Dis hulle wat omkoopgeld vat

om skuldiges vry te laat.

Hulle laat die boses vry uitloop

en straf die onskuldiges.

24 Daarom sal hulle verdwyn

soos strooi of droë gras

wat brand.

Hulle wortels sal opdroog

en hulle blomme verlep,

want hulle het die instruksies

van die Here, die Almagtige,

verwerp.

Hulle het die woord

van Israel se Heilige Een

geminag.

25 Daarom het die woede

van die Here

teen sy volk ontvlam.

Daarom het Hy sy vuis opgelig

om sy volk plat te slaan.

Die heuwels bewe

en die lyke word soos vullis

wat op straat gegooi is.

Selfs dan sal die Here se woede

nie uitgebrand wees nie.

Sy vuis sal reg wees om te slaan!

26 Hy sal ’n teken gee vir nasies

wat ver weg is.

Hy sal fluit vir hulle

by die eindes van die aarde,

en hulle sal aangehardloop kom.

27 Hulle sal nie moeg word

of struikel nie.

Hulle hardloop sonder om te rus

of te slaap.

Nie ’n gordel sal loshang

of ’n skoenriem

stukkend wees nie.

28 Hulle pyle sal skerp wees

en hulle boë reg vir die geveg.

Vonke spat

van hulle perde se hoewe

soos die wiele van hulle waens

en soos die wind

in alle rigtings draai.

29 Hulle brul soos leeus.

Hulle bespring hulle prooi.

Hulle sal my volk gryp,

hulle in ballingskap wegdra,

en daar sal niemand wees

wat hulle red nie.

30 Die vyandige nasies

sal grom soos die see

oor hulle slagoffers.

’n Wolk van donkerte

en hartseer

sal oor Israel hang.

Die lig sal verduister

voor die wolke.

JESAJA 6

Jesaja se reiniging en roeping

1 In die jaar wat koning Ussia dood is, het ek die Here gesien. Sy troon was hoog en verhewe, en die soom van sy kleed het die tempel gevul.

2 Rondom Hom was serafs, elkeen met ses vlerke. Met twee het hulle hulle gesig toegemaak, met twee hulle voete bedek en met twee het hulle gevlieg.

3 Hulle het mekaar toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid!”

4 Die fondamente het geskud van die geluid, en die tempel was vol rook.

5 Ek het hard geroep: “Ellende het my getref! Want ek is ’n sondige mens, tussen ander sondige mense. En tog het ek die Koning, die Here, die Almagtige, gesien!”

6 Toe het een van die serafs na die altaar toe gevlieg en ’n gloeiende kool met ’n tang opgetel.

7 Hy het my lippe daarmee aangeraak en gesê: “Kyk, hierdie kool het jou lippe aangeraak. Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe.”

8 Toe het ek die Here hoor vra:

“Wie kan Ek met ’n boodskap

na my volk toe stuur?

Wie sal vir Ons gaan?”

Ek het geantwoord:

“Here, ek sal gaan!

Stuur my!”

9 Hy het gesê: “Ja, gaan.

Sê vir hierdie mense só:

“‘Julle sal my woorde hoor,

maar dit nie verstaan nie.

Julle sal sien wat Ek doen,

maar nie die betekenis

daarvan snap nie.’

10 Verhard hierdie volk se harte.

Maak hulle ore toe

en hulle oë blind.

Andersins sien hulle dalk

en hoor hulle,

en verstaan hulle,

en draai dan na My toe

en word hulle gesond gemaak.”

11 Toe vra ek:

“Here, hoe lank moet ek dit doen?”

Hy het geantwoord:

“Totdat hulle stede

heeltemal verwoes is

en niemand meer

daarin bly nie.

Totdat hulle huise leeg staan

en die hele land

’n ruïne geword het.

12 Moenie ophou totdat die Here

elkeen na ver lande

weggejaag het

en die hele land Israel

woestynagtig geword het nie.

13 Al bly daar net ’n tiende deel oor,

sal die land weer verwoes word.

“Israel sal agterbly

soos die stomp

van ’n terpentynboom

of ’n eikeboom wat afgekap is.

Maar die stomp sal uitloop

en heilige saad word

wat weer groei.”

JESAJA 7

’n Boodskap vir Agas

1 Gedurende die regering van koning Agas van Juda, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, Jerusalem aangeval. Die stad het die aanval oorleef.

2 Die nuus het die koninklike hof bereik: “Aram het ’n bondgenootskap met Israel teen ons gesluit!” Toe het die koning en sy mense soos bome in ’n stormwind gebewe van vrees.

3 Die Here het vir Jesaja gesê: “Gaan uit om koning Agas te ontmoet, jy en jou seun Sear-Jasub. Jy sal die koning kry waar hy op pad is na die veld waar klere gebleik word, by die punt van die kanaal uit die boonste dam.

4 Sê vir hom hy moet versigtig wees en kalm bly en nie bang word nie. Hy moet nie moedeloos word oor die woede van hierdie twee uitgebrande stukke hout nie, vir koning Resin van Aram en Peka, seun van Remalja nie.

5 “Ja, die konings van Aram en Israel is op pad om jou aan te val. Hulle sê:

6 ‘Kom ons val Juda binne en jaag sy mense die skrik op die lyf. Kom ons vat dit vir onsself en stel die seun van Tabeal aan as koning.’

7 “Maar so sê die oppermagtige Here: Hierdie inval sal nooit gebeur nie,

8 want Aram is nie sterker as sy hoofstad, Damaskus, nie. En Damaskus is nie sterker as sy koning Resin nie. Wat Israel betref, binne 65 jaar sal die volk heeltemal vernietig wees.

9 Israel is nie sterker as sy hoofstad, Samaria, nie. En Samaria is nie sterker as sy ko-ning, Peka seun van Remalja, nie. Julle glo My nie? As julle My nie wil vertrou nie, sal julle nie staande bly nie.”

Die Immanuelteken

10 Nie lank hierna nie het die Here my met hierdie boodskap na koning Agas gestuur:

11 “Vra vir ’n teken van die Here jou God, enigiets wat jy wil, en maak dit so moeilik as wat jy kan.”

12 Maar die koning het geweier. “Nee,” het hy geantwoord, “ek sal nie die Here beproef nie.”

13 Toe het Jesaja gesê: “Luister baie mooi, julle koninklike familie van Dawid! Julle is nie tevrede om my geduld te beproef nie. Nou beproef julle God se geduld ook!

14 Nou goed dan, die Here sal dan self ’n teken kies. Die jong vrou sal verwagtend raak. Sy sal geboorte skenk aan ’n seun en hom Immanuel noem.

15 Teen die tyd dat die seun oud genoeg is om dikmelk en heuning te eet, sal hy genoeg weet om te kies wat reg is en te verwerp wat verkeerd is.

16 Maar voordat hy kan kies tussen reg en verkeerd, sal die twee konings vir wie jy so bang is, albei dood wees.

17 “Die Here sal binnekort verskriklike tye oor jou, jou volk en jou familie bring, erger as in al die jare vandat Salomo se koninkryk in Israel en Juda geskeur het: Hy bring die magtige koning van Assirië met sy groot leër!”

18 Daardie dag sal die Here fluit vir die vlieë wat by die verste riviere van Egipte is, en vir bye in Assirië.

19 Hulle kom in groot hordes en gaan die hele land tref. Hulle sal in die diep valleie, gate in die rotse, al die doringbosse en weivelde gaan sit.

20 Daardie dag sal die Here hierdie skeermes gebruik, die Assiriërs wat julle gehuur het om julle te beskerm. En Hy sal alles afskeer: die hare op julle kop, julle beenhare en julle baarde.

21 Hierna sal ’n boer gelukkig wees as hy ’n jong koei en twee skape oorhet.

22 Die min mense in die land sal van dikmelk en wilde heuning leef omdat dit al is wat die land produseer.

23 Daardie dag sal duisend wingerdstokke, wat omtrent 11,4 kilogram silwer werd is, vol dorings en dissels staan.

24 Die hele land sal vol dorings en dissels staan. ’n Mens sal ’n pyl en boog moet saamvat as jy soontoe wil gaan.

25 Niemand sal na die vrugbare heuwels gaan waar die landerye was nie omdat dit met dorings en dissels oortrek sal wees. Beeste en skape sal daar wei.

JESAJA 8

Die Assiriese inval wat kom

1 Die Here het weer met my gepraat: “Maak ’n groot bord en skryf duidelik hierdie naam daarop: Maher-Shalal-Hash-bas, wat Plunder en roof is naby beteken.

2 Ek het Urija die priester en Sagaria seun van Jeberekja gevra om te bevestig wat ek geskryf het. Hulle was albei betroubare mense.

3 Hierna het ek by my vrou wat ook ’n profeet was, geslaap en sy het verwagtend geword. Sy het geboorte gegee aan ’n seun. Die Here het gesê: “Noem hom: Plunder-en-Roof-is-Naby.

4 Hierdie naam profeteer dat nog voor die kind oud genoeg sal wees om ‘Pappa’ of ‘Mamma’ te sê, die koning van Assirië Damaskus en Samaria sal binneval en al hulle besittings sal wegdra.”

5 Die Here het weer met my gepraat en gesê:

6 “Die volk van Juda het Siloag

se kalm waters

verwerp en bly geword

oor wat met koning Resin

en koning Peka gaan gebeur.

7 Daarom sal die Here

húlle oorweldig

met ’n magtige vloed,

die Eufraatrivier –

die koning van Assirië

in al sy glorie.

Die rivier gaan oor sy oewers stoot,

oor al sy walle spoel.

8 Die vloed sal jou land oorspoel,

van die een kant tot

die ander kant toe, Immanuel.

9 “Die Assiriërs sal roep:

‘Doen julle bes

om julleself te verdedig,

maar julle sal verpletter word.

Luister, al julle nasies!

Maak reg vir die geveg –

om doodgemaak te word!

Ja, om doodgemaak te word!

10 Roep maar julle adviseurs

bymekaar

om strategieë vir die geveg

vir julle te beplan!

Maak maar planne!

Dit sal nie help nie.

Want God is met ons!’”

’n Oproep om die Here te

vertrou

11 Die Here het in die sterkste terme vir my verduidelik: “Moenie dink soos al die ander dink nie!

12 Moenie alles wat die volk ’n sameswering noem as ’n sameswering beskou nie en moenie bang wees waarvoor die volk bang is nie.

13 Moenie vir enigiets of enigiemand bang wees nie, behalwe vir die Here, die Almagtige. Hy alleen is die Heilige Een. As julle Hom vrees, hoef julle vir niemand anders bang te wees nie.

14 Hy sal julle veilig bewaar. Maar vir Juda en Israel sal Hy ’n steen wees wat mense laat struikel en ’n rots wat hulle laat val. En vir die inwoners van Jerusalem sal Hy ’n vangnet wees waarin hulle verstrik raak.

15 Baie van hulle sal struikel en val, om nooit weer op te staan nie. Baie sal gevange geneem word.”

16 Ek wil al hierdie dinge neerskryf as ’n getuienis van wat die Here gaan doen. Ek wil dit aan my volgelinge toevertrou.

17 Ek wil wag op die Here,

alhoewel Hy weggedraai het

van die mense van Israel.

My enigste hoop is op Hom.

18 Ek en die kinders wat die Here my gegee het, het name wat die planne van die Here, die Almagtige, wat op Sionsberg woon, vir sy volk openbaar.

19 Hoekom probeer julle dan om uit te vind wat die toekoms inhou deur mediums en spiritiste te raadpleeg? Moenie na hulle gefluister en gemompel luister nie. Kan die lewendes by die dooies hoor wat die toekoms inhou? Hoekom vra jy nie eerder jou God nie?

20 Gaan terug na wat die Here gesê en beveel het! As julle julle nie daaraan steur nie, is daar geen toekoms vir julle nie.

21 My volk sal as gevangenes weggelei word. Hulle sal moeg en honger wees. En omdat hulle honger is, sal hulle hulle vuis teen die hemel oplig en hulle koning en hulle God vloek.

22 Waar hulle ook al kyk, sal daar net moeilikheid, angs en wanhoop wees. Mense sal in die donkerte uitgegooi word.

Hoop op die Messias

23 Nogtans sal daardie tyd van donkerte en wanhoop nie vir altyd aanhou nie. Die land van Sebulon en Naftali sal gou verneder word, maar daar kom ’n tyd dat Galilea van die heidene, wat langs die pad tussen die Jordaan en die see lê, met heerlikheid gevul sal word.

JESAJA 9

1 Die mense

wat in die donkerte geleef het,

sal ’n groot lig sien.

Die lig sal skyn

op almal

in die land

waaroor die dood

’n skaduwee gegooi het.

2 U sal Israel weer grootmaak,

en sy mense sal bly wees

soos mense bly is

tydens die oestyd,

soos soldate

bly is oor die buit.

3 Want God sal die kettings

wat sy volk vasbind

en die sweep

waarmee hulle geslaan is,

stukkend breek.

Hy sal maak net soos op die dag

toe Hy Midian verslaan het.

4 In daardie dag van vrede

sal elke skoen

wat in die oorlog gebruik is

en elke uniform

wat met bloed bevlek is,

in die vuur verbrand word.

5 Want ’n Kind is vir ons gebore,

’n Seun is aan ons gegee.

Hy sal die heerser wees

met die koninklike titels:

Wonderbare Raadsman,

Magtige God,

Ewige Vader,

Vredevors.

6 Sy heerskappy en vrede

sal voortdurend uitbrei

en nooit ophou nie.

Vanaf die troon

waarop sy voorouer Dawid

gesit het,

sal Hy vir altyd regverdig

en reg regeer.

Die toewyding van die Here,

die Almagtige, sal dit waarborg.

Die Here se woede teen Israel

7 Die Here het teen Jakob gepraat. Hy het Israel aangespreek:

8 Al die mense, Israel en die inwoners van Samaria, gaan dit een van die dae agterkom. Hulle sê ewe trots en vol arrogansie:

9 “Ons land is nou ’n puinhoop, maar ons sal dit herbou sodat dit beter is as voorheen. Ons sal die gebreekte bakstene vervang met gekapte klip, die wildevyebome met seders.”

10 Die Here stuur Resin se vyande, die Assiriërs, teen hulle.

11 Saam met hulle kom ook die Arameërs uit die ooste en die Filistyne uit die weste. Hulle sal hulle tande wys en Israel opeet. Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.

12 Selfs ná al hierdie straf sal die volk hulle steeds nie bekeer en na die Here, die Almagtige, terugdraai nie.

13 Daarom sal die Here vir Israel

in één dag vernietig.

Hy sal die kop en die stert,

palmtak en biesie afsny.

14 Die leiers van Israel is die kop,

en die profete wat lieg,

is die stert.

15 Want die leiers van die volk het hulle op die verkeerde pad, na verwoesting, gelei.

16 Daarom is die Here nie bly oor die jong manne nie, en het Hy geen genade selfs vir die weeskinders en weduwees nie. Want hulle is almal voor die voet goddeloos en boos en hulle lieg. Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.

17 Hulle boosheid is soos ’n veldbrand. Die vuur verbrand nie net die dorings en dissels nie, maar ook die woude. Die brand veroorsaak groot wolke rook.

18 Die land is swart gebrand deur die woede van die Here, die Almagtige. Die volk is die vuurmaakhout, en niemand gee om vir ander mense nie.

19 Hulle steel links en regs, maar bly honger. Op die ou end eet hulle selfs hulle eie kinders.

20 Manasse sal op Efraim teer, en Efraim op Manasse. En saam sal hulle Juda verteer. Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.

JESAJA 10

1 Verwoesting wag vir die onregverdige regters, vir hulle wat onregverdige wette uitvaardig.

2 Hulle ontneem die armes en verdruktes van regverdige regspraak. Ja, hulle besteel weduwees en weeskinders.

3 Wat gaan julle doen die dag as Ek verwoesting uit ’n ver land na julle toe stuur? Na wie toe sal julle dan draai vir hulp? Waar sal julle skatte veilig wees?

4 Dan sal Ek julle nie help nie! Julle sal soos gevangenes struikel, of tussen die dooies lê.

Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.

Oordeel teen Assirië

5 “Verwoesting wag vir Assirië,

die sweep waarmee Ek straf.

Sy militêre krag

is ’n stok in my hand.

6 Ek stuur Assirië teen hierdie

goddelose klomp mense.

Hy sal hulle namens My straf.

Hy sal hulle kom plunder,

hulle soos modder

onder sy voete vertrap.

7 Maar die koning van Assirië

sal nie weet

dat Ek hom stuur nie.

Hy sal dink

dat hy die mense aanval

as deel van sy plan

om die hele wêreld

te verower.”

8 Hy sal sê: “Elkeen van my prinse sal een van die dae ’n koning wees wat oor ’n verowerde land regeer.

9 Ons sal Kalne net soos Karkemis verwoes. Hamat sal voor ons val soos Arpad. En ons sal Samaria vernietig net soos ons Damaskus vernietig het.

10 Ja, ons het baie koninkryke verwoes wie se gode veel sterker is as Jerusalem en Samaria s’n.

11 As ons Samaria en haar gode vernietig het, sal ons Jerusalem ook verwoes!”

12 Nadat die Here die koning van Assirië gebruik het om sy doel in Jerusalem te bereik, sal Hy teen die koning van Assirië draai en hom straf, want hy is trots en arrogant.

13 Hy spog: “Deur my eie krag en slimmigheid het ek hierdie oorloë gewen. Deur my eie krag het ek baie lande gevange geneem, hulle konings doodgemaak en hulle skatte weggedra.

14 Omdat ek groot is, het ek hulle rykdomme geplunder soos eiers in ’n nes geplunder word. Ek het koninkryke bymekaargemaak soos ’n boer eiers bymekaarmaak. Niemand kan ’n vlerk teen my oplig of sy mond oopmaak om te probeer protesteer nie!”

15 Kan die byl grootpraat dat hy sterker is as die een wat hom gebruik? Of is ’n saag groter as die een wat saag? Kan ’n sweep slaan sonder dat ’n hand dit beweeg? Kan ’n kierie op sy eie loop?

16 Luister mooi, koning van Assirië! Omdat jy aanhou grootpraat, gaan die Here, die Almagtige, ’n plaag onder jou trotse soldate stuur. ’n Vuur sal jou heerlikheid aan die brand steek.

17 Die Here, die Lig van Israel en die Heilige Een, sal die vuur wees wat hulle vernietig. In een nag sal Hy daardie dorings en dissels verbrand.

18 Assirië se groot leër is soos ’n groot woud en vrugbare landerye, maar dit sal vernietig word. Die Here sal Assirië se soldate volledig verwoes, en hulle sal wegkwyn soos siek mense in ’n plaag.

19 Net ’n paar van die groot leër sal oorleef, so min dat ’n kind hulle sal kan tel!

Hoop vir die Here se volk

20 Ten einde laaste sal almal wat oor is in Israel en Juda die Here, die Heilige Een van Israel, vertrou. Hulle sal nie meer staatmaak op Assirië, wat hulle kan vernietig nie.

21 ’n Oorblyfsel van Israel sal terugkom na die magtige God.

22 Selfs al is die volk van Israel so baie soos die sand op die strand, sal slegs ’n klein groepie daardie tyd terugkom. Die Here het besluit om sy volk te vernietig en sy besluit is regverdig.

23 Ja, die oppermagtige Here, die Almagtige, het klaar besluit om hulle te verdelg.

24 Daarom, so sê die oppermagtige Here:

“My volk in Jerusalem,

moenie bang wees

vir die Assiriërs

wanneer hulle julle verdruk

soos die Egiptenaars

lank terug gedoen het nie.

25 Dit sal nie lank aanhou nie.

Binnekort sal my woede

teen julle ophou,

en dan sal my woede

hulle vernietig.”

26 Die Here, die Almagtige, sal hulle met sy sweep slaan, soos Hy gedoen het toe Gideon die Midianiete by die Orebrots verslaan het, of toe die Here sy kierie opgelig het en die Egiptiese leër laat verdrink het.

27 In daardie dag sal die Here die gevangenskap van sy volk beëindig. Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek.

28 Kyk, die magtige leërs van Assirië kom! Hulle is nou by Aja, dan by Migron. Hulle bêre hulle voorrade by Mikmas.

29 Hulle trek oor die pas en bly oornag by Geba. Angs tref die stad van Rama. Al die mense van Gibea, Saul se stad, hardloop vir hulle lewe.

30 Ja, skreeu in angs, mense van Gallim! Waarsku die inwoners van Lajesa! Want die magtige leër kom. Arme Anatot! Watter lot wag vir jou.

31 Daar vlug die inwoners van Madmena. Die inwoners van Gebim maak reg om te hardloop.

32 Die vyand wag eers by Nob vir die res van die dag. Hy wys sy vuis vir Sionsberg in Jerusalem.

33 Maar kyk! Die Here, die Almagtige, sal elke groot boom afkap! Hy vernietig die hele leër van Assirië, saam met sy offisiere en bevelvoerders.

34 Die Magtige Een sal die vyand verslaan, soos ’n byl die groot bome van die Libanon afkap.

JESAJA 11

’n Takkie van Dawid se familie

1 Uit die stomp

van Dawid se familie

sal ’n takkie groei,

’n tak wat vrugte sal dra.

2 Die Gees van die Here

sal op hom rus,

die Gees wat wysheid

en insig bring,

die Gees wat raad

en krag bring,

die Gees wat kennis

en eerbied vir die Here bring.

3 Hy sal sy vreugde daarin vind

om die Here te gehoorsaam.

Hy sal nie regspreek

volgens uiterlike skyn

of op vals getuienis

of hoorsê nie.

4 Hy sal die armes en verdruktes

beskerm.

Teen die bose mense

sal hy optree

en met die asem van sy mond

hulle om die lewe bring.

5 Hy sal regverdigheid aantrek,

en ook waarheid.

6 Daardie dag

sal die wolf die gas

van die lam

wees.

Die luiperd en die bokkie

sal langs mekaar lê.

Kalwers en vetgemaakte beeste

sal veilig by leeus wees,

en ’n kindjie sal vir almal sorg.

7 Vee sal tussen bere wei,

hulle kleintjies sal by mekaar lê

en leeus sal gras vreet soos beeste.

8 Babas sal veilig

tussen giftige slange speel.

’n Kindjie sal sy hand uitsteek

na giftige slange

en niks oorkom.

9 Niks of niemand sal op my heilige berg verwoesting of kwaad aanrig nie. Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die Here ken.

10 Daardie dag sal die erfgenaam van Dawid se troon ’n vlag opsteek wat vir die hele wêreld redding sal bring. Die nasies sal na hom toe kom, want die land waar hy bly, sal ’n heerlike plek wees.

11 Op daardie dag sal die Here vir die tweede keer ’n oorblyfsel van sy volk terugbring, almal wat oorgebly het uit Assirië, Egipte, Patros, Etiopië, Elam, Babilonië, Hamat en die kuslande.

12 Hy sal ’n vlag tussen die nasies oprig en die ballinge van Israel sal van die uithoeke van die aarde daarheen kom.

13 Dan sal die naywer tussen Israel en Juda verdwyn. Hulle sal nie meer met mekaar baklei nie. Israel sal nie weer op Juda jaloers wees nie, en Juda sal nie meer vyandig wees teenoor Israel nie.

14 Saam sal hulle die Filistyne in die weste aanval. En saam sal hulle die nasies in die ooste aanval en hulle plunder. Hulle sal die lande van die Edomiete, Moabiete en Ammoniete verower.

15 Die Here sal die Egiptiese see laat opdroog. Hy sal ’n skroeiende wind oor die Eufraat laat waai en ’n sterk wind stuur wat dit in sewe kanale sal verdeel waar ’n mens maklik kan deurloop.

16 Hy sal ’n hoofpad maak vir die oorblyfsel wat nog in Assirië is, net soos vir Israel toe hulle uit Egipte teruggekom het.

JESAJA 12

Loflied vir heil

1 Op daardie dag sal jy sing:

“Ek prys U, Here!

U was kwaad vir my,

maar U is nie meer nie.

Nou troos U my.

2 God het my kom red.

Ek vertrou op Hom.

Ek is nie meer bang nie.

Die Here, die Here is my krag

en my lied.

Hy het my kom red.”

3 Met blydskap sal julle drink

van die fonteine van redding!

4 In daardie dag

sal julle sing:

“Dank die Here!

Prys sy Naam!

Vertel die wêreld

wat Hy gedoen het.

Vertel vir almal

dat Hy groot is.

5 Sing vir die Here,

want Hy het heerlike dinge

gedoen.

Laat almal in die wêreld dit hoor.

6 Jubel en juig,

inwoners van Jerusalem!

Want groot is die Heilige Een

van Israel.

En Hy woon tussen julle!”