SPREUKE 24

1 Moenie slegte mense beny

en hulle geselskap begeer nie.

2 Hulle dink net aan geweld.

Hulle praat net daaroor

om moeilikheid te maak.

3 Met wysheid

word ’n huis gebou.

Insig is nodig

om dit te onderhou.

4 Kennis is nodig

om sy kamers te meubileer

met allerhande kosbare

en waardevolle artikels.

5 ’n Wyse man het krag.

Iemand met kennis is sterk.

6 Jy gaan maak eers oorlog

nadat jy goed beplan het.

Oorwinning kom

wanneer baie raadgewers

koppe bymekaargesit het.

7 Wysheid is buite die begrip

van ’n dwaas.

Wanneer hulle in die stadspoort

beraadslaag,

is hy nie in staat

om sy mond oop te maak nie.

8 Iemand wat altyd sit

en beplan om kwaad te doen

word ’n knoeier genoem.

9 Die knoeiery van die dwaas

is sonde.

Almal verag spotters.

10 As jou knieë knak

wanneer die krisis opduik,

is jou krag maar baie min.

11 Red die mense wat onskuldig

na die galg toe gesleep word.

Hulle sal doodgemaak word

as jy nie keer nie.

12 Moenie jou verontskuldig

en sê:

“Ons het nie geweet nie.”

Hy wat die gedagtes toets,

weet mos wat waarheid is.

Hy wat sy hand oor jou hou,

weet wat waar is.

God roep elkeen

tot verantwoording

vir wat hy gedoen het.

13 My kind, jy moet heuning eet.

Dit is goed vir jou.

Heuningstroop is lekker

in die mond.

14 Net so, moet jy weet,

is wysheid vir jou lewe.

As jy daarop afgekom het,

is daar vir jou ’n toekoms.

Jou hoop

sal nie verydel word nie.

15 Moenie ’n regverdige mens

by sy huis gaan voorlê

en soos ’n goddelose mens

sy woonplek verwoes nie.

16 Selfs al val ’n regverdige mens

sewe keer,

hy sal elke keer weer opstaan.

Die goddelose mens sal bly lê

na net een ramp.

17 Jy moenie bly wees

as jou vyand val nie.

Moenie jou daarin verheug

dat hy gestruikel het nie.

18 Die Here sal sien wat jy doen

en sal ontevrede wees.

Hy sal jou vyand

nie verder straf nie.

19 Moenie jou ontstel

oor kwaaddoeners nie.

Moenie afgunstig wees

op goddelose mense nie.

20 Vir iemand wat kwaad doen,

is daar geen toekoms nie.

Die lewenslig van goddeloses

gaan dood.

21 My kind, betoon eerbied

aan die Here en die koning.

Moet jou nie ophou met mense

wat teen hulle in opstand is nie.

22 Hulle ondergang kom skielik;

niemand weet watter teëspoed

God of die koning

oor hulle gaan bring nie.

23 Die woorde hieronder

kom ook van wyse mense.

Moenie bevooroordeeld wees

wanneer jy moet regspreek nie.

24 Die volk kryt ’n regter uit

wat vir ’n skuldige sê:

“Jy is onskuldig.”

Mense en volke

is verontwaardig daaroor.

25 Wanneer regters

’n regverdige beslissing maak,

word hulle geprys

en oorvloedig geseën.

26 Eerlike antwoorde

is soos ’n soen op die mond.

27 Maak eers buite reg

en bewerk jou landerye.

Daarna kan jy

jou huis bou.

28 Moenie teen iemand getuig

as hy jou nie rede daarvoor

gegee het nie.

Moenie mense mislei

met wat jy sê nie.

29 Moenie sê nie:

“Soos hy aan my gedoen het,

sal ek aan hom doen.

Ek sal hom in gelyke munt

terugbetaal.”

30 Ek het

by ’n lui mens se landerye

verbygeloop.

Die wingerd was die eiendom

van ’n onverstandige mens.

31 Onkruid

het dit heeltemal ingeneem.

Dit was toegegroei

onder bossies.

Sy klipmuur

het omgeval.

32 Ek het nagedink

oor wat ek gesien het.

Ek het iets daaruit geleer.

33 Nog ’n bietjie verder slaap,

nog ’n bietjie sluimer,

nog ’n bietjie handevou

om agteroor te sit,

34 dan kom jou armoede

aangestap,

en oorval behoeftes jou

soos ’n gewapende inbreker

by jou huis.

SPREUKE 25

1 Hier is nog spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit versamel.

2 Dit is God se reg

om iets geheim te hou.

Dit is konings se voorreg

om uit te vind

wat iets beteken.

3 So min soos iemand

die hoogte van die lug

of die diepte van die aarde

kan bepaal,

net so min kan iemand peil

wat aangaan

in die gedagtes van konings.

4 Wanneer jy die onsuiwerheid

uit silwer haal,

kan die smid

iets van die silwer maak.

5 As jy die goddeloses

by die koning wegvat,

kan hy regverdig bly regeer.

6 Moenie jou vernaam hou

voor die koning,

en moenie gaan staan op die plek

vir belangrike mense nie.

7 Dis beter

wanneer vir jou gesê word:

“Kom staan asseblief hier!”

as dat jy plek moet maak

vir iemand belangriker as jy.

As jy iets opgemerk het,

8 moet jy nie te haastig wees

om ’n saak teen iemand anders

te maak nie.

Wat sal jy agterna doen

as jou buurman jou belaglik maak?

9 Bespreek eers die saak

met die ander persoon.

Moenie te koop loop

met wat iemand vertroulik

vir jou gesê het nie.

10 Jy kan dan beskuldig word

dat jy skinder.

Dan het jy vir altyd

’n slegte naam.

11 Woorde op die regte tyd gesê,

is soos goue appels

in ’n silwer houer.

12 Soos ’n goue ring by goue juwele,

so is die wyse vermaning

by die oor wat bereid is

om daarna te luister.

13 Vir die een wat hom stuur,

is ’n betroubare boodskapper

net so verkwikkend soos sneeu

in die somerhitte van die oes.

Hy gee vir sy werkgewer

nuwe moed.

14 Iemand wat spog

oor ’n geskenk

wat hy nooit gegee het nie,

is soos wolke en wind

wat geen reën bring nie.

15 ’n Leier

kan met geduld oorreed word.

Versigtige woorde

breek harde weerstand af.

16 Wanneer jy op heuning afkom,

eet net tot jy genoeg gehad het.

As jy te veel eet,

gaan jy naar word.

17 Moenie te veel

by jou buurman gaan kuier

sodat hy te veel van jou sien

en ’n weersin in jou kry nie.

18 Iemand wat vals getuienisse

oor ’n ander versprei,

is net so gevaarlik

soos ’n knuppel, ’n swaard

en ’n skerp pyl.

19 ’n Gebreekte tand,

’n voet wat swik,

so is dit om in gevaar

staat te maak

op ’n onbetroubare mens.

20 So onvanpas soos dit is

om klere uit te trek

op ’n koue dag,

of asyn op bytsoda te sit,

so min van pas is dit dat iemand

vir jou liedjies sing

wanneer jy treurig voel.

21 As jou vyand honger is,

moet jy hom iets gee om te eet.

As hy dors is,

gee hom iets om te drink.

22 Die Here

sal jou daarvoor vergoed.

Jy sal buitendien kole ophoop

op jou vyand se kop

en hom vuurrooi maak

van skaamte.

23 So seker soos die noordewind

altyd reën bring,

so seker maak hulle

wat agteraf praat

altyd ander mense kwaad.

24 Dit is beter om op die hoek

van ’n platdak te bly,

as binne-in ’n huis saam met ’n vrou

wat oor alles stry.

25 Goeie nuus van ’n ver land af

is soos koue water

vir ’n moeë mens se dors.

26 ’n Regverdige mens

wat swig voor die goddelose

is soos ’n fontein vol modder,

soos ’n put

met vuil water.

27 Om te veel heuning te eet,

is nie goed nie,

so ook is iemand

wat voortdurend sy eie eer soek.

28 Iemand wat homself

nie in bedwang kan hou nie,

is soos ’n stad sonder ’n muur

wat beskerming bied.

SPREUKE 26

1 Eer pas net so min

by ’n dwaas

soos sneeu in die somer

en reën in oestyd.

2 Ongeregverdigde vervloeking

is soos dartelende voëltjies

en ’n swaeltjie wat wegvlieg.

Daar sal niks van kom nie.

3 Stuur ’n perd met ’n sweep,

’n donkie met ’n toom

en ’n dwaas met ’n lat vir sy rug.

4 Moenie ’n dwaas antwoord

volgens sy dwaasheid nie

anders word jy net soos hy.

5 Antwoord ’n dwaas

volgens sy dwaasheid

sodat hy nie homself

as wys beskou nie.

6 Om ’n boodskap

saam met ’n dwaas te stuur,

is net so goed

as om jou voet af te kap

of om gif te drink.

7 ’n Spreuk uit ’n dwaas se mond

is net so onbruikbaar

soos die bene

van ’n verlamde persoon.

8 Om ’n dwaas te vereer,

is soos om ’n klip

in ’n slingervel vas te bind.

9 ’n Spreuk uit ’n dwaas se mond

is soos ’n doring

in ’n dronk mens se hand.

10 Iemand wat ’n dwaas

of ’n verbyganger

van die straat af huur,

is soos iemand

wat sommer blindelings

’n pyl afskiet.

11 ’n Dwaas wat sy foute herhaal,

is soos ’n hond wat terugkom

na sy eie braaksel toe.

12 Daar is meer hoop vir ’n dwaas

as vir iemand

wat dink hy is baie slim.

13 ’n Luiaard se verskoning is:

“Daar is ’n leeu op straat,

’n leeu is tussen die huise!”

14 ’n Luiaard draai om en om

op sy bed,

soos ’n deur heen en weer swaai

op sy skarnier.

15 ’n Luiaard

steek sy hand in die skottel,

maar sy hand is te moeg

om dit weer terug te bring

na sy mond.

16 Die luiaard dink hy weet meer

as sewe ander mense

wat goeie antwoorde kan gee.

17 Om sommer in die verbygaan

in te meng

in ander mense se rusie

is soos om ’n kwaai hond

sommer aan sy ore te gryp.

18 Soos ’n kranksinnige wat

dodelike wapens afvuur,

19 so is iemand wat ander bedrieg

en sê:

“Ek het net ’n grappie gemaak.”

20 Soos ’n vuur uitbrand

as jy nie hout opgooi nie,

so hou ’n rusie op

as daar nie skinderpraatjies is nie.

21 ’n Bakleierige mens

veroorsaak rusies,

net soos gloeiende kole

’n vuur laat opvlam

en soos droë hout

’n vuur laat vlam vat.

22 Na skinderstories

luister mense graag,

maar dit word maklik

deel van jou lewe.

23 Glasuur oor ’n potskerf,

so is vleiende woorde

wat uit ’n bose hart kom.

24 Iemand wat in sy hart haat

en bedrog koester,

steek dit weg agter sy woorde.

25 Wanneer so iemand

mooi dinge sê,

moet jy dit glad nie glo nie.

Hy is vol bose bedoelings.

26 Al steek hy sy haat

vernuftig weg,

sy kwaad sal in die gemeenskap

duidelik word vir almal.

27 Iemand wat ’n vanggat

vir ’n ander mens grawe,

val self daarin.

Die klippe wat hy

in ’n ander se pad rol,

sal na hom toe terugkom.

28 Iemand wat leuens vertel,

haat dié wat hy benadeel.

’n Persoon wat ander vlei,

veroorsaak ellende.

SPREUKE 27

1 Moenie te veel praat

oor wat môre kan gebeur nie.

Jy weet glad nie

wat môre gaan oplewer nie.

2 Moenie jouself

op die skouer klop nie.

Laat iemand anders jou

liewer prys.

3 Dit is swaar

om klip en sand aan te dra,

dit is nog swaarder

om die ergernis te verdra

wat ’n dwaas jou veroorsaak.

4 Woede kan wreed wees

en toorn ’n onstuitbare vloed,

maar teen jaloesie

is daar geen verweer nie.

5 ’n Openlike bestraffing

is beter as liefde

wat onsigbaar bly.

6 Die wonde veroorsaak deur iemand

wat lief is vir jou

is baie beter as die baie soene

wat jou vyande jou wil gee.

7 As jy genoeg geëet het,

is heuning

nie meer lekker nie.

Wanneer iemand honger is,

is selfs ’n bitter ding lekker.

8 Iemand wat wegloop

van sy huis af,

is soos ’n voël

wat sy nes verlaat.

9 Eerlike raad van ’n vriend

is so aangenaam soos parfuum

en so heerlik soos wierook.

10 Moenie jou rug draai

op jou vriend

of op iemand

wat jou pa se vriend was nie.

Wanneer jy moeilikheid het,

hoef jy nie

na jou broer se huis te gaan nie.

’n Buurman wat naby is,

is baie meer werd

as ’n broer wat ver is.

11 As jy wys is, my seun,

sal dit my gelukkig maak.

Dan sal ek kan terugantwoord

wanneer ek bespot word.

12 ’n Verstandige mens

sien onheil kom

en kruip daarvoor weg.

Onverstandige mense

loop oopoë daarin

en betaal die prys daarvoor.

13 Vat iemand se klere

as hy borg staan

vir ’n vreemdeling.

Hou dit as pand

wanneer hy borg staan

vir ’n vreemde vrou.

14 As iemand vroegoggend

sy buurman

luidrugtig môre-sê,

kan dit lyk

of hy hom eerder vervloek.

15 ’n Vrou wat aanhou neul,

is soos ’n aanhoudende gedrup

op ’n reëndag.

16 Om haar te probeer stilkry,

is net so goed

as om die wind

te laat ophou waai

of olie te probeer vashou

met jou hande.

17 Yster slyp yster

en so vorm vriende mekaar.

18 Wie sy vyeboom versorg,

eet van sy vrugte.

Wie omsien na die belange

van sy werkgewer,

sal voordeel daaruit trek.

19 Soos jou gesig weerkaats

in water,

so wys iemand se hart

wat in hom aangaan.

20 Die doderyk

en die onderaardse diepte

word nooit vol

van dooie mense nie.

So kry ’n mens se begeertes

ook nooit ’n einde nie.

21 ’n Smeltkroes bepaal

die gehalte van silwer,

die vuuroond bepaal

die suiwerheid

van die goud.

’n Mens se waarde word bepaal

deur wat mense van hom sê.

22 Al sit jy ’n dwaas

in ’n stampblok

en al maal jy hom

tussen die graankorrels

in die meule,

jy sal sy dwaasheid

nooit uit hom kry nie.

23 Jy moet goed weet

hoe dit met

jou kleinvee gaan,

jy moet omsien

na jou veetroppe.

24 Rykdom is nie vir altyd nie;

selfs ’n koning se kroon

hou nie geslagte lank nie.

25 As daar van ou gras

hooi gemaak is,

die gras weer begin uitloop,

en die voer uit die berge

ingebring is,

26 sal die skape weer wol gee

en die bokke verkoop word

vir die prys van ’n stuk grond.

27 Daar sal genoeg bokmelk wees

om jou en jou gesin

en ook nog jou slavinne

te onderhou.

SPREUKE 28

1 Goddeloses vlug weg,

al jaag niemand hulle nie.

Regverdiges is so dapper

soos leeus.

2 As daar opstand is in ’n land

wissel die leiers vinnig.

As ’n wyse en kundige

aan bewind kom,

is daar lank vastigheid

in die land.

3 ’n Man wat self arm is

en ander arm mense uitbuit,

is soos stortreën

wat alles wegspoel

sodat daar niks kos oorbly nie.

4 Mense wat die wet van God

verwerp,

praat met lof

van die goddelose mense.

Mense wat die wet onderhou,

weerstaan hulle.

5 Mense wat kwaad doen,

het geen begrip van die reg nie.

Wie vra na die wil van die Here

verstaan dit volkome.

6 Dit is beter om arm te wees

en eerbaar te lewe

as om oneerlik te lewe

en ryk te wees.

7 ’n Verstandige seun

gehoorsaam die eise van God.

Een wat hom ophou

met ligsinnige mense

bring sy pa in die skande.

8 Wie ryk word

deur onbillike rente

en onregverdige wins

sal dit moet oorgee

aan iemand

wat hom oor armes ontferm.

9 Elkeen wat hom doof hou

vir die eise van God,

se gebede sal verwerp word.

10 Wie eerlike mense wegrokkel

na die verkeerde pad,

sal in sy eie strik trap.

Mense wat onberispelik lewe,

sal goeie dinge erf.

11 ’n Ryk man dink dalk

dat hy boonop wys is,

maar ’n arm mens met insig

kan dwarsdeur hom kyk.

12 Wanneer regverdiges vreugde beleef,

is almal bly daaroor;

wanneer goddeloses oorneem,

kruip al die mense weg.

13 Wie sy oortredings verswyg,

sal nie voorspoedig wees nie.

Wie sy sonde bely

en daarvan afsien,

sal genade ontvang.

14 Die mens wat altyd versigtig is,

sal gelukkig wees.

’n Hardkoppige persoon

sal in kwaad verval.

15 ’n Goddelose regeerder

is vir sy weerlose volk

soos ’n leeu wat brul

en ’n beer wat wil aanval.

16 ’n Heerser sonder insig

neig om ander te verdruk.

’n Regeerder wat uitbuiting haat,

bly lank aan bewind.

17 ’n Moordenaar se gewete

dryf hom die graf in.

Niemand moet probeer

om hom te help nie.

18 Hy wat ’n eerbare lewe lei,

sal veilig wees.

Iemand wat ’n dubbele lewe lei,

sal daardeur tot ’n val kom.

19 Iemand wat sy grond bewerk,

sal volop hê om te eet.

Wie met nuttelose dinge boer,

sal armoede oes.

20 ’n Betroubare man

sal geseën word.

Een wat ten alle koste

gou ryk wil word,

gaan moeilikheid kry.

21 Dit is verkeerd

om partydig te wees;

tog sal sommige verkeerd optree

vir ’n stukkie brood.

22 ’n Geldgierige

wil vinnig ryk word.

Ongelukkig weet hy nie

dat hy gebrek gaan ly nie.

23 Die een wat ander berispe,

kry op die einde eerder waardering

as die persoon

wat ander vlei.

24 Iemand wat sy ouers besteel

en dan nog sê:

“Ek doen niks verkeerds nie,”

is so goed as ’n moordenaar.

25 ’n Gierige persoon

veroorsaak rusie.

Wie op die Here vertrou,

sal voorspoed ervaar.

26 Wie op sy eie insig vertrou,

is ’n dwaas.

Wie hom deur wysheid laat lei,

word bevry.

27 Hy wat iets gee

vir ’n arm mens

sal self nooit iets kortkom nie.

Iemand wat sy oë vir hulle sluit,

sal vervloek wees.

28 Wanneer goddeloses

die regering oorneem,

kruip die mense weg.

Wanneer die goddelose omkom,

floreer die regverdiges.

SPREUKE 29

1 Wie hom hardkoppig

teen teregwysings

bly verset,

stort skielik ineen.

Niks kan dan weer vir hom

herstel bring nie.

2 ’n Volk juig

wanneer regverdige mense

regeer,

hulle sug wanneer goddeloses

aan bewind is.

3 ’n Man wat lief is vir wysheid

maak sy pa baie gelukkig.

Een wat hom besig hou

met prostitute,

mors sy geld.

4 ’n Regverdige koning

bring bestendigheid

in sy land.

Een wat

buitengewone belasting wil hê,

ruïneer sy land.

5 Iemand wat sy medemens vlei,

is besig om ’n valstrik te stel.

6 ’n Goddelose mens se eie sonde

is sy ondergang.

Iemand wat reg doen,

kan vrolik sing.

7 ’n Regverdige mens gee om

vir arm mense se regte.

’n Goddelose mens

het geen begrip daarvoor nie.

8 Ligsinnige mense

kan ’n hele stad op hol jaag;

wyse mense

laat gemoedere bedaar.

9 Wanneer ’n wyse man

’n hofsaak maak

teen ’n dwaas,

sal die dwaas heftig raak

en hom beledig.

Daar sal nie kalmte

in die hofsaal wees nie.

10 Moordenaars

haat ’n opregte mens;

eerlike mense

help mense

wat eerbaar lewe.

11 ’n Dwaas bars uit in woede.

Iemand wat wys is,

hou homself in toom.

12 Iemand wat regeer

en hom aan leuens steur,

stel goddeloses aan in sy diens.

13 ’n Arm mens

en sy onderdrukker

het een ding in gemeen:

Die Here gee aan al twee

die lewenslig.

14 ’n Koning

wat armes billik behandel

in die regspraak,

sal lank regeer.

15 ’n Pak slae en ’n teregwysing

bring wysheid.

’n Kind

wat aan homself oorgelaat is,

steek sy ma in die skande.

16 As goddeloses vermeerder,

word oortredings ook meer.

Die regverdiges sien

die ondergang

van goddeloses.

17 Leer jou seun wat dissipline is

en jy sal gerus wees oor hom.

Hy sal jou vreugde verskaf.

18 Wanneer ’n volk

nie duidelikheid het

oor die wil van God nie,

verloor hulle koers.

As hulle leef volgens sy wet

is hulle gelukkig.

19 Jy kan nie ’n slaaf

net met woorde

op die regte pad hou nie.

Hy sal verstaan wat jy sê,

maar tog nie na jou luister nie.

20 Jy sien self daar is meer hoop

vir ’n dwaas

as vir iemand wat praat

sonder om eers te dink.

21 ’n Slaaf

wat van kleins af bederf is,

is opstandig wanneer hy groot is.

22 ’n Mens wat gou kwaad word,

veroorsaak rusies.

’n Humeurige mens

veroorsaak sonde.

23 ’n Mens se hoogmoedigheid

lei na vernedering.

Iemand wat nederig is,

ontvang uiteindelik eer.

24 Iemand wat deel

in wat ’n dief steel,

gee nie om vir sy lewe nie.

Hy word opgeroep

om ’n getuie te wees,

maar hy durf nie praat nie.

25 Jy stel vir jouself ’n slagyster

as jy vir mense bang is.

Jy beveilig jou lewe

as jy op die Here vertrou.

26 Baie mense soek na die guns

van die regeerder,

maar dis net die Here

wat aan ’n mens

werklik reg kan laat geskied.

27 Dié wat lewe

volgens die wil van die Here

verafsku iemand wat oneerlik is;

’n goddelose mens

verafsku hulle wat reg lewe.

SPREUKE 30

1 Die woorde van Agur seun van

Jake. ’n Uitspraak.

Die man het vir Itiël gesê,

vir Itiël en vir Ukal:

2 Ek is te onkundig

om ’n mens te wees.

Ek het nie eens die verstand

van ’n mens nie.

3 Ek het nie wysheid

aangeleer nie.

Ek ken nie die heilige God nie.

4 Wie kan na die hemel toe gaan

en van daar af ondertoe kom?

Wie kan die wind

in sy twee hande vashou?

Wie kan die waters

in sy jas toedraai?

Wie het die wye wêreld gemaak?

Wat is sy naam?

En die naam van sy seun?

Sê tog as jy dit weet!

5 Elke woord van God

is getoets.

Hy beskerm elkeen

wat beskerming

by Hom kom soek.

6 Moenie iets byvoeg

by wat Hy gesê het nie.

Hy sal jou straf.

Jy sal leuenaar genoem word.

7 Twee dinge wil ek van U vra.

Moenie dit weier

solank ek leef nie.

8 In die eerste plek,

keer tog dat ek lieg.

In die tweede plek,

laat my nie arm of ryk

wees nie.

Gee asseblief vir my

net dit wat nodig is.

9 As ek te veel het,

sal ek U verloën

en vra: “Nou wie is die Here?”

As ek te arm is, sal ek steel

en my God se Naam beswadder.

10 Moet nooit ’n slaaf

vals beskuldig

by sy eienaar nie.

Hy sal jou vervloek

en dan moet jy

die gelag betaal.

11 Party mense vervloek

hulle pa

en weier

om hulle ma te seën.

12 Dis mense wat dink

hulle is foutloos,

maar die vuil kan nooit

van hulle afgewas word nie.

13 Hulle is vol hoogmoed

en vol van hulleself.

14 Hulle het tande soos swaarde

en slagtande soos messe.

Hulle teer op die hulpeloses

en die armes onder mense.

15 Die bloedsuier

het twee dogters.

Die een se naam is “Gee!”

en die ander s’n ook “Gee!”.

Daar is drie dinge,

nee, eintlik vier,

wat nooit tevrede is nie:

16 die doderyk,

die onvervulde begeerte

om ma te word,

grond wat uitgedor is,

’n vuur wat alles wil verteer.

17 Die oë van ’n man

wat spot met sy pa,

en hy wat ongehoorsaam is

aan sy ma –

die kraaie in die droë lope

sal sy oë uitpik;

en roofvoëls sal hom opvreet.

18 Daar is drie dinge

wat vir my te verbasend is,

nee, eintlik is daar vier

wat ek glad nie kan verstaan nie:

19 hoe ’n arend

in die lug kan bly,

hoe ’n slang

teen ’n rots kan uitseil,

hoe ’n skip

op die see kan vaar

en hoe ’n man

die hart van ’n meisie wen.

20 Net so verbasend is dit

wanneer ’n wellustige vrou

haar seksuele sin kry,

haar mond afvee

en dan kan sê:

“Ek het niks verkeerds

gedoen nie.”

21 Daar is drie,

nee, eintlik vier dinge

wat die lewe op aarde

ondraaglik maak:

22 ’n slaaf

wat koning geword het,

’n dwaas

wat hom vol geëet het,

23 ’n vrou

wat nie ’n man kon kry nie

en toe tog getrou het,

en ’n bediende

wat by haar eienares

oorgeneem het.

24 Daar is vier goed op aarde

wat klein is,

maar uitsonderlik wys:

25 miere

wat nie sterk is nie,

maar tog reeds weet

om in die somer kos weg te sit;

26 dassies

wat nie baie krag het nie,

maar tog tussen die rotse bly;

27 sprinkane

wat nie ’n koning het nie,

en tog in gelid beweeg;

28 geitjies

wat jy met die hande vang,

maar tog

in paleise van konings bly.

29 Daar is drie, nee, eintlik vier

wat pronkerig kan beweeg:

30 ’n leeu, die koning van die diere,

wat vir niks uitdraai nie;

31 ’n oorlogsperd;

’n bokram;

’n koning omring

deur sy leër.

32 As jy dom opgetree het

deur jou aan te matig

of slegte dinge beplan het,

sit dan jou hand voor jou mond.

33 Melk wat gekarring word,

maak botter.

’n Hou op die neus

laat die bloed loop.

As jy mense kwaad maak,

gaan daar rusie kom.

SPREUKE 31

1 Die woorde van koning Lemuel van Massa. ’n Uitspraak, wat sy ma vir hom geleer het:

2 My seun, my kind

wat ek in die wêreld gebring het,

oor wie ek ’n gelofte afgelê het,

3 jy moenie jou lewe

op vroue verspil nie.

Moenie jou lewe deurbring

met hulle wat konings

laat struikel nie.

4 Lemuel, dit pas beslis nie by konings

om te veel wyn te drink nie.

Dit pas nie regeerders

om hulle aan drank

oor te gee nie.

5 Wanneer hulle gedrink het,

vergeet hulle die wet

en laat hulle nie reg geskied

aan al hulle arm onderdane nie.

6 Gee sterk drank vir hulle

wat besig is om dood te gaan.

Laat hulle wat terneergedruk is,

wyn drink.

7 Laat hulle drink

om te vergeet

hoe arm hulle is.

Laat hulle vergeet

van hulle sorge.

8 Praat namens hulle

wat nie self kan praat nie.

Verseker dat daar reg geskied

aan hulle wat hulpeloos is.

9 Maak oop jou mond

en lewer regverdige uitsprake.

Laat reg geskied

aan armes en ellendiges.

Die uitnemende vrou

10 Waar sal jy ’n knap vrou kry?

’n Goeie vrou

is meer werd as edelstene.

11 Haar man

het volkome vertroue in haar.

Hy pluk die vrugte

van haar werk.

12 Haar hele lewe lank

bring sy vir hom net voordeel,

nie ellende nie.

13 Sy kry wol en vlas in die hande

en verwerk dit met genot.

14 Sy is soos die handelskepe,

van ver af bring sy haar kos in.

15 Sy staan op

as dit nog nag is.

Sy maak ontbyt

vir haar huisgesin.

Die dag se werk

deel sy aan haar slavinne uit.

16 Sy bereken die waarde

van ’n stuk grond

en koop dit.

Sy plant ’n wingerd daarop

met die geld wat sy verdien.

17 Sy werk baie hard.

Haar hande

staan vir niks verkeerd nie.

18 Sy kyk of haar transaksies

winsgewend is.

Haar lamp brand

deur die hele nag.

19 Sy werk met die spinwiel,

haar hande is bedrywig

met die weefbalk.

20 Haar hand is oop

vir die armes.

Sy is vrygewig

teenoor behoeftiges.

21 Die wintersneeu hou geen vrees in

vir haar huisgesin nie.

Hulle het almal warm klere.

22 Sy maak vir haarself dekens.

Sy dra goeie klere

van linne en wol.

23 Almal in die poort

ken haar man.

Hy dien op die raad

van die leiers van die land.

24 Sy verkoop die klere

wat sy maak

en voorsien handelaars

van gordels.

25 Sy het innerlike krag

en waardigheid.

Sy is nie bekommerd

oor die toekoms nie.

26 Sy praat met wysheid,

sy gee raad

saam met liefde.

27 Sy hou toesig

oor alles wat in haar huis gebeur.

Sy verdra nie luiheid nie.

28 Haar kinders staan op

en prys haar.

Haar man

spog met haar:

29 “Daar is baie knap vroue,

maar jy is die beste van almal!”

30 Skoonheid is soms misleidend.

’n Mooi voorkoms

hou nie vir altyd nie.

’n Vrou wat ontsag het vir die Here

verdien om geprys te word.

31 Gee vir haar die waardering

wat sy verdien.

Laat sy erkenning geniet

in die stadspoort

op grond van alles

wat sy gedoen het.

PREDIKER 1

1 Wat hier volg, is die woorde van die Prediker. Hy was ’n seun van Dawid en het in Jerusalem as koning regeer.

Alles is sinloos

2 “Alles is sinloos,”

sê die Prediker.

“Alles is sinloos,

absoluut sinloos!”

3 Watter voordeel kry mense

vir al hulle harde werk,

hulle inspanning onder die son?

4 Die een geslag

volg op die ander,

maar die aarde verander nooit nie.

5 Die son kom op en

gaan weer onder;

hy haas hom terug

na waar hy opkom.

6 Die wind waai na die suide

en draai na die noorde.

Dit dwarrel om en om,

en gaan weer

in sy sirkelgang.

7 Die riviere vloei in die see,

maar die see word nooit vol nie.

Die water gaan weer terug

na die riviere toe,

en keer terug na die see.

8 Al die dinge

maak ’n mens moeg,

’n mens kan dit

nie eers opnoem nie,

die oog word nie versadig

van wat hy sien nie,

die oor word nie vol

van wat hy hoor nie.

9 Niks wat gebeur, is nuut nie.

Wat gedoen is,

sal weer gedoen word.

Daar is niks nuuts

onder die son nie.

10 Na wat kan jy wys en sê:

“Dit is nuut”?

Nee, dit was lankal daar,

lank voor ons tyd!

11 Dinge van voorheen

word nie onthou nie.

In die toekoms

sal die geslagte wat kom nie onthou

wat nou gebeur nie.

Wysheid is nutteloos

12 Ek, die Prediker,

was koning oor Israel

in Jerusalem.

13 Ek het my daarop toegespits

om alles wat onder die son

gedoen word, te verstaan

en met wysheid te deurdink.

Ek het gevind

dis ’n moeilike taak

wat God vir die mens gegee het

om hom daarmee besig te hou.

14 Ek het al die dade gesien

wat onder die son

gedoen word,

en kyk, alles was sinloos,

’n gejaag na wind!

15 Wat krom is,

kan nie reguit gemaak word nie.

Wat weg is,

kan nie getel word nie.

16 Ek het vir myself gesê:

“Ek is verstandiger

as al die konings

wat voor my

oor Jerusalem regeer het.

Ek het meer insig en kennis

as enigeen van hulle verkry.”

17 Ek het my daarop toegespits

om kennis en insig

van domheid en dwaasheid

te onderskei.

Maar ek het besef: Ook dít

is net ’n gejaag na wind.

18 Want hoe groter jou insig is,

hoe meer verdriet het jy.

Soos kennis vermeerder,

so word jou smart meer.

PREDIKER 2

1 Ek het vir myself gesê:

“Kom ek beproef plesier,

en geniet die lewe!”

Maar ook dit was sinloos!

2 Ek het gesê: “Om te lag is dwaasheid,

en watter vreugde bring dit?”

3 Ek het gewonder wat sal gebeur

as ek my liggaam

met wyn verkwik,

terwyl my verstand

my met wysheid begelei,

as ek dwaasheid vir ’n tyd omarm

tot ek vasgestel het

wat die beste is

waarmee ’n mens

hom sy lewe lank

onder die hemel besig kan hou.

4 Ek het toe ook groot projekte

aangepak.

Ek het huise vir myself gebou

en groot wingerde

vir myself aangelê.

5 Ek het vir myself

tuine en parke uitgelê

en verskillende vrugtebome

daarin geplant.

6 Ek het damme vir myself gebou

om die tuine vol jong bome

nat te lei.

7 Ek het slawe en slavinne

aangekoop.

Ander is as slawe

in my huis gebore.

Ek het groot troppe beeste

en kleinvee besit,

meer as enigeen wat voor my

in Jerusalem geleef het.

8 Ek het baie silwer en goud

vir myself bymekaargemaak,

asook ’n skat van konings

en provinsies.

Ek het sangers en sangeresse

aangestel,

en die dinge bekom waarmee mense

die lewe geniet,

naamlik een meisie na die ander.

9 Ek het ver uitgestyg

bo almal voor my

in Jerusalem,

en my wysheid

het my baie gehelp.

10 Alles wat my oë begeer het,

het ek my nie ontsê nie.

Ek het my nie teruggehou

van enige plesier nie.

Ek het genot gevind

in my harde werk.

Dit was my beloning

vir al my inspanning.

11 Ek het daarna egter nagedink

oor alles wat ek bereik het,

oor al die moeite

wat ek gedoen het.

Ek het besef

hoe sinloos dit alles is.

Dis niks anders as ’n gejaag

na wind nie.

Daar is geen voordeel

onder die son nie.

Die wyses en dwases

12 Ek het toe besluit

om wysheid en dwaasheid

teen mekaar op te weeg.

Wat anders kan ’n koning

se opvolger bereik

as wat reeds bereik is?

13 Ek het wel gesien

dat wysheid meer waarde het

as dwaasheid,

net soos lig beter is as donkerte.

14 Want wyse mense

kan sien waar hulle gaan,

terwyl die dwaas

in die donker loop.

Maar tog het ek besef

dieselfde lot tref sowel wyses

as dwase.

15 “As my lot dieselfde is

as dié van dwase,

wat is die sin om wys te wees?”

het ek my afgevra.

Ek het besef

dit is ook alles sinloos.

16 Want die wyse mens

en die dwaas

gaan albei dood,

en niemand onthou hulle nie.

In die toekoms

word albei vergeet!

Harde werk is sinloos

17 Ek was nie meer lus

om te lewe nie,

want wat onder die son

gedoen word,

het my teleurgestel.

Alles is sinloos

en ’n blote gejaag na wind.

18 Ek was moeg vir alles

waarvoor ek in hierdie wêreld

hard gewerk het,

want ek moet dit alles nalaat

aan die een wat ná my kom.

19 En wie sal weet of hy ’n wyse

of dwaas gaan wees?

En tog sal hy beheer uitoefen

oor alles

wat ek met moeite en wysheid

onder die son

tot stand gebring het.

Dit alles is dus sinloos!

20 Ek het dus opgehou

om myself tot wanhoop te dryf

oor alles waarmee ek

met soveel moeite onder die son

my besig gehou het.

21 Want ’n mens

wat met wysheid

en bekwaamheid

gewerk het,

moet sy besittings

oorgee aan iemand

wat nie daarvoor gewerk het nie.

Dis alles sinloos en vrugteloos!

22 Wat kry die mens

vir al sy harde werk

waarmee hy hom

met soveel ywer

onder die son vermoei?

23 Sy hele lewe is vol

pyn en leed.

En alles wat hy onderneem,

is verdriet.

Selfs in die nag

kry hy nie rus nie.

Ook dit is alles sinloos.

24 Daar is vir die mens niks goeds

behalwe dat hy kan eet

en drink

en ten spyte van sy arbeid

nog die goeie kan geniet nie.

Ek het besef dit is ’n gawe

wat uit God se hand kom.

25 Want wie kan sonder Hom

enigiets eet of geniet?

26 God gee wysheid,

kennis en blydskap

vir die mens wat Hom vreugde bring.

Maar van die dwaas eis Hy

om rykdom op te gaar

en bymekaar te maak,

net om dit te gee aan iemand

met wie God tevrede is.

Dit is ook sinloos,

’n blote gejaag na wind!