PSALMS 144

1 ’n Dawidspsalm.

Geseënd is die Here, my rots,

wat my hande leer om te veg,

my vingers om oorlog te maak.

2 Hy is my troue hulp

en my toevlug,

my veilige vesting en my redder.

Hy is my beskermer

by wie ek skuil,

wat volke aan my onderwerp.

3 Here, wat is die mens

dat U hom raaksien,

’n mensekind

dat U vir hom omgee?

4 Die mens is soos ’n asemteug,

soos ’n skadu

gaan sy dae verby.

5 Here, buig u hemele

en daal neer!

Raak die berge aan

sodat hulle rook!

6 Laat weerligstrale

u vyande verstrooi,

u pyle

hulle in verwarring laat vlug.

7 Reik af uit u hemel

en verlos my;

bevry my van woeste waters,

red my uit die mag

van vreemdelinge

8 wie se monde vol is van leuens,

wat lieg selfs as

hulle ’n eed aflê.

9 Ek sing ’n nuwe lied vir U, o God!

Ek sing lofsange

met begeleiding van die harp.

10 U wat oorwinning gee

aan konings,

wat vir Dawid, u dienaar,

van die bose swaard gered het.

11 Red my en verlos my

uit die mag van vreemdelinge

wie se monde vol is van leuens,

wat lieg selfs as

hulle ’n eed aflê.

12 Dan sal ons seuns in hulle jeug

opgroei

soos goed versorgde plante.

Ons dogters sal hoekpilare wees,

uitgebeitel soos vir ’n paleis.

13 Ons voorraadskure

sal vol wees

van allerlei soorte

lewensmiddels.

Ons kleinvee sal vermeerder

by die duisende,

selfs by die tienduisende

op ons velde.

14 Ons beeste sal baie kalwers hê.

Daar sal geen breuk in ons mure,

en geen ballingskap

meer wees nie;

geen klaagkrete sal weer

op ons pleine

gehoor word nie.

15 Gelukkig is die volk

met wie dit so goed gaan.

Gelukkig is die volk

wie se God die Here is.

PSALMS 145

word

1 ’n Loflied van Dawid.

Ek wil U prys,

my God en my Koning,

u Naam wil ek altyd loof.

2 Ek wil U elke dag loof,

en u Naam vir altyd prys.

3 Die Here is groot!

Hy is waardig

om geprys te word.

Sy grootheid is onmeetbaar.

4 Geslag na geslag

sal u dade prys

en van u magtige werke vertel.

5 Ek sal die glans en heerlikheid

van u majesteit verkondig

en nadink oor u wonderdade.

6 Mense sal praat

van u vreeswekkende dade;

hulle sal van u grootheid vertel.

7 Hulle sal vertel

van u onvergeetlike goedheid;

en met vreugde sing

van u regverdigheid.

8 Genadig en barmhartig

is die Here,

stadig om kwaad te word,

en ryk in liefde.

9 Die Here is goed vir almal,

en barmhartig

oor sy hele skepping.

10 Alles wat U geskep het,

loof U, Here,

en u getroue dienaars prys U!

11 Hulle vertel van die prag

van u koninkryk;

hulle maak u groot mag bekend.

12 Hulle sal aan almal vertel

van u magtige dade,

en van die glansryke majesteit

van u koninkryk.

13 Want u koninkryk

is ’n koninkryk vir alle tye.

U heers geslag na geslag.

14 Die Here help almal

wat geval het

en dié wat swaarkry,

tel Hy op.

15 Die oë van almal

is hoopvol op U gerig;

U gee aan almal kos

op die regte tyd.

16 U maak u hand oop,

en bevredig die begeertes

van al wat lewe.

17 Die Here is regverdig

in al sy dade;

en getrou in alles wat Hy doen.

18 Die Here is naby almal

wat Hom aanroep,

vir almal wat Hom

in opregtheid aanroep.

19 Hy vervul die begeertes

van dié wat Hom dien;

Hy hoor hulle hulpgeroep

en red hulle.

20 Die Here beskerm almal

wat Hom liefhet,

maar die goddeloses

vernietig Hy.

21 Die lof van die Here

wil ek verkondig.

Alles wat leef,

sal sy heilige Naam

vir altyd prys!

PSALMS 146

1 Prys die Here!

Met my hele wese

wil ek die Here loof.

2 Ek wil die Here prys

solank ek lewe.

Ek wil lofliedere bring aan my God

terwyl ek nog daar is.

3 Moenie op magtiges vertrou,

of op mense

wat nie kan red nie.

4 Sy asem hou op,

en hy word weer grond.

Skielik kom al sy planne

tot ’n einde.

5 Gelukkig is hy wie se hulp

die God van Jakob is,

wat sy hoop vestig

op die Here sy God

6 wat hemel en aarde gemaak het,

die see en alles daarin,

en wat altyd sy beloftes nakom;

7 wat reg laat geskied

aan verdruktes,

en kos gee

vir dié wat honger is.

Die Here bevry

die gevangenes.

8 Die Here laat die blindes

weer sien.

Die Here ondersteun dié

wat swaarkry.

Die Here het die regverdiges lief.

9 Die Here beskerm

die vreemdelinge.

Hy ondersteun weeskinders

en weduwees,

maar die pad van bose mense

maak Hy skeef.

10 Die Here regeer vir altyd.

Sion, jou God is koning,

geslag na geslag!

Prys die Here!

PSALMS 147

prys

1 Prys die Here!

Want dis goed

om ons God te prys.

Dis ’n vreugde

en ’n genot om Hom te prys.

2 Die Here herbou Jerusalem

en versamel bannelinge

van Israel.

3 Hy genees die gebroke hart,

en verbind hulle wonde.

4 Hy tel die sterre

en noem hulle almal

by die naam.

5 Groot en magtig is ons Here.

Sy kennis

ken geen grense nie.

6 Die Here

ondersteun onderdruktes,

maar goddeloses

gooi Hy neer op die grond.

7 Sing ’n danklied aan die Here;

sing lofliedere vir ons God

met begeleiding van die harp.

8 Hy oordek die hemel

met wolke,

Hy verskaf reën vir die aarde

en laat gras groei

op die berghellings.

9 Hy voed die wilde diere,

en die jong kraaie

wat skree vir kos.

10 Die krag van ’n oorlogsperd

beïndruk Hom nie;

met die ratsheid

van ’n krygsman

neem Hy nie genoeë nie.

11 Die Here verheug Hom

in hulle wat Hom dien,

in dié wat hulle hoop vestig

op sy troue liefde.

12 Prys die Here, Jerusalem!

Prys jou God, Sion!

13 Want die sluitbalke

van jou poorte

het Hy versterk,

en jou kinders geseën.

14 Hy gee vrede

oor jou grondgebied,

versadig jou

met die beste graan.

15 Hy stuur sy bevele

na die aarde,

sy woorde word vinnig versprei.

16 Hy stuur die sneeu,

wit soos wol;

Hy strooi ryp uit soos as,

17 laat haelstene val

soos broodkrummels.

Wie kan standhou teen sy koue?

18 Dan, op sy bevel,

smelt alles weer.

Hy laat sy winde waai,

en die water loop.

19 Hy maak sy woord bekend

aan Jakob,

aan Israel sy voorskrifte

en gebooie.

20 Vir geen ander nasie

het Hy dit gedoen nie;

sy bepalings ken hulle nie.

Prys die Here!

PSALMS 148

1 Prys die Here!

Prys die Here

vanuit die hemel!

Prys Hom in die hoë hemele!

2 Prys Hom, al sy engele,

prys Hom,

al die hemelse wesens!

3 Prys Hom, son en maan,

prys Hom,

alle skitterende sterre!

4 Prys Hom, hoogste hemel,

en waters bokant die uitspansel!

5 Laat hulle

die Naam van die Here prys,

want Hy het beveel,

en dit alles het ontstaan.

6 Hy het hulle gevestig vir altyd.

Hy het grense bepaal,

en sal dit nooit herroep nie.

7 Prys die Here vanuit die aarde:

seemonsters

en die diepwaters,

8 weerlig en hael,

sneeu en miswolke,

stormwind

wat Hom gehoorsaam,

9 berge en alle heuwels,

vrugtebome en alle seders,

10 wilde diere

en al die lewende hawe,

kruipende diere en voëls,

11 konings van die aarde

en alle volke,

heersers en regters van die aarde,

12 jong manne en meisies,

grysaards saam met kinders.

13 Laat hulle

die Naam van die Here loof.

Want net sy Naam is verhewe.

Sy majesteit

is bo die aarde en hemel.

14 Hy het sy volk sterk gemaak.

Dít is die lof

van al sy troue dienaars,

die volk Israel,

wat na aan Hom is.

Prys die Here!

PSALMS 149

1 Loof die Here!

Sing vir die Here

’n nuwe lied.

Sing sy lof in die vergadering

van sy getroue dienaars.

2 Laat Israel hom verheug

in sy Skepper,

laat die inwoners van Sion

jubel oor hulle Koning.

3 Laat hulle sy Naam

met koordanse loof,

begelei deur tamboeryn en harp

vir Hom lofliedere sing.

4 Want die Here verbly Hom

in sy volk;

met sy redding

hef Hy die hulpeloses op.

5 Sy troue dienaars

juig oor hierdie eer;

hulle jubel

op hulle beddens.

6 Mag hulle God loof

met hulle lippe,

met ’n tweesnydende swaard

in hulle hande

7 om wraak uit te oefen

op die nasies

en straf oor die volke,

8 om hulle konings vas te maak

met boeie

en hulle leiers

met ysterkettings,

9 om die oordeel te voltrek

wat reeds vasgestel is.

Dit is die roem

van sy troue dienaars.

Prys die Here!

PSALMS 150

musiekinstrumente

1 Loof die Here!

Loof God

in sy heiligdom!

Loof Hom

onder sy magtige uitspansel!

2 Loof Hom vir sy magtige dade.

Loof Hom

vir sy eindelose grootheid.

3 Loof Hom

met die ramshoring.

Loof Hom met lier en harp!

4 Loof Hom

met tamboeryn en koordanse.

Loof Hom

met snaarinstrumente

en fluite!

5 Loof Hom met die klank

van simbale.

Loof Hom

met galmende simbale.

6 Laat alles wat lewe,

die Here loof!

Loof die Here!

SPREUKE 1

1 Die doel van wysheid

Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel.

2 Die doel van hierdie spreuke

is om mense wysheid te leer

en hulle te onderrig.

Dit sal hulle help

om wyse woorde te verstaan.

3 Deur hierdie woorde

sal hulle dissipline leer

en weet hoe om regverdig,

reg en billik op te tree.

4 Iemand wat nog onervare is,

sal verstandig word.

Die spreuke sal jongmense

kennis gee

en onderskeidingsvermoë.

5 Laat selfs hulle wat wys is,

luister na die spreuke

sodat hulle tot dieper insig kan kom.

Wie reeds die nodige kennis het,

kan die lewenskuns aanleer

6 om die spreuke en sinspelings,

die woorde en raaisels

van wyse mense te begryp.

7 Kennis begin met eerbied

vir die Here,

net dwase verag wysheid

en dissipline.

Kry wysheid in die hande

8 My seun, luister

na wat jou pa jou leer.

Moenie wat jou ma vir jou sê

in die wind slaan nie.

9 Wat jy by hulle leer,

sal jou lewe

met goedheid kroon

en ’n versiering wees

om jou nek.

10 My seun, as goddelose mense

jou wil ompraat,

moenie na hulle luister nie.

11 Hulle sal miskien vir jou sê:

“Kom saam met ons!

Kom ons gaan lê iemand voor

en vermoor hom.

Kom ons oorval iemand,

al het hy niks

aan ons gedoen nie.

12 Ons wil hulle

lewendig laat verdwyn,

net soos in ’n graf,

soos gesonde mense

wat in die dood wegsink.

13 Ons wil baie waardevolle dinge

bekom,

ons huise vol maak

met alles wat ons buit.

14 Word een van ons!

Dan deel ons in die buit.”

15 My seun, met hulle

moet jy nie saamgaan nie.

Bly ver van die pad

waarop hulle loop.

16 Hulle loop agter kwaad aan.

Hulle kan skaars wag

om iemand te vermoor.

17 Wanneer ’n voël sien

daar is vir hom ’n wip gestel,

dan vlieg hy mos weg.

18 Maar hierdie mense

stel vir hulleself ’n hinderlaag op.

Hulle soek self na hulle dood.

19 So gaan dit met elkeen

wat met geweld ryk wil word:

sulke rykdom verwoes die lewe

van die een wat dit verkry.

Wysheid se uitnodiging

20 Wysheid staan

en roep op die straat.

Op die stadspleine roep sy hardop.

21 Sy roep by die plekke

waar mense bymekaarkom.

Sy praat by die ingange

van die stadspoorte.

Haar boodskap is:

22 “Hoe lank

gaan julle domkoppe

nog bly klou

aan julle domheid?

Hoe lank gaan die spotters

aanhou met hulle gepratery?

Hoe lank gaan die swape

kennis bly verwerp?

23 “As julle reageer

op my berisping,

sal ek my gees

op julle uitstort.

Ek sal my woorde

aan julle bekendmaak.

24 Ek het na julle geroep,

maar julle wou nie luister nie.

Ek het my hand uitgesteek

na julle,

maar julle het dit nie gevat nie.

25 My raad het julle

geïgnoreer.

Julle wou nie toelaat

dat julle reggehelp word nie.

26 Daarom gaan ek lag

wanneer ongeluk julle tref.

Ek gaan met julle spot

wanneer angs julle oorval.

27 Ek gaan vir julle lag

wanneer angs

soos ’n storm oor julle losbreek,

wanneer benoudheid julle tref

soos ’n stormwind

en julle in swaarmoedigheid

verval.

28 Dan sal hulle

na my begin roep om hulp,

maar ek sal my nie

daaraan steur nie.

Hulle sal desperaat na my soek,

maar hulle sal my nie vind nie.

29 Van my kennis

wou hulle mos niks weet nie.

Respek vir die Here

wou hulle mos nie betoon nie.

30 Hulle het my raad geïgnoreer.

Omdat ek hulle wou reghelp,

het hulle my mos verag.

31 Hulle sal moet sluk

aan die gevolge

van hulle optrede.

Hulle sal maar moet saamleef

met die gevolge

van hulle eie dade.

32 “Dwase draai van my af weg

na die dood toe.

Die gekke se dwaling

kos hulle die dood.

Deur hulle selfvoldaanheid

word die dwase vernietig.

33 Elkeen wat na my luister,

sal veilig wees.

Vir rampe

hoef hy nie bang te wees nie.”

SPREUKE 2

Die wins van wysheid

1 My seun,

luister mooi na wat ek vir jou sê.

Bewaar wat ek vir jou leer.

2 Spits jou ore

vir die wysheid.

Span jou in

om dit te verstaan.

3 Roep na insig.

Roep hardop vir begrip.

4 Soek daarna

soos jy na silwer sou soek.

Spoor dit op

soos ’n versteekte skat.

5 Dan sal jy weet wat dit beteken

om respek te hê vir die Here.

Jy sal leer om God te ken.

6 Dit is tog die Here

wat wysheid gee.

Sy woorde gee kennis en insig.

7 Hy laat hulle wat reg leef,

sukses behaal.

Hy is ’n skild vir hulle

wat hulle pad suiwer hou.

8 Hy beskerm hulle

wat ’n reguit pad loop.

Hy bewaak die pad

van sy getroue dienaars.

9 As jy aanvaar wat ek vir jou sê,

sal jy insig hê

in wat regverdig,

reg en billik is.

Jy sal op die goeie pad bly.

10 Wysheid sal jou denke bepaal.

Jy sal lief wees vir kennis.

11 Oordeelkundigheid

sal jou beskerm,

verstandigheid

sal na jou omsien.

12 Dit sal jou weerhou

van ’n verkeerde lewenswyse.

Dit sal jou weghou van mense

wat besig is

met verkeerde dinge.

13 Hulle is die mense wat afdwaal

van die regte paaie

om op donker paaie

te gaan loop.

14 Hulle hou daarvan

om te doen wat sleg is.

Hulle juig

oor verkeerde dinge.

15 Hulle loop kronkelpaaie,

slaan ’n verkeerde koers in.

16 Die wysheid sal jou weghou

uit die kloue van ’n slegte vrou.

Dit sal jou spaar

van die verleidelike woorde van ’n

vreemde vrou.

17 Sy het haar man gelos

en vergeet van haar belofte

aan haar God.

18 Haar huis

is die kortpad na die dood.

Haar weg eindig

tussen die dooies.

19 Mense wat agter haar aangaan,

kom nooit weer terug nie;

hulle kom nooit weer

op die paaie van die lewe nie.

20 Loop jy liewer op die pad

van goeie mense.

Hou by die paaie

van die regverdiges.

21 Die opregtes

sal in die land bly woon.

Hulle wat eerbaar is,

sal ongesteurd daar kan bly.

22 Goddeloses sal verwyder word

uit die land.

Bedrieërs sal uitgeroei word.

SPREUKE 3

Vertrou op die Here

1 My seun, moenie vergeet

wat ek jou geleer het nie.

Hou vas aan my opdragte.

2 Dit sal jou lank laat lewe

en jou ’n voorspoedige lewe gee.

3 Moenie dat jy tekort skiet

aan liefde en getrouheid nie.

Koester dit soos iets waardevols

wat jy om jou nek dra.

Skryf dit op die tafel van jou hart.

4 Jy sal guns en ’n goeie naam verkry

by God

en by mense.

5 Vertrou op die Here

met alles wat jy het.

Moenie staatmaak

op jou eie insigte nie.

6 Vra na die wil van God

in alles wat jy doen.

Hy sal die regte pad vir jou wys.

7 Moenie jou eie wysheid oorskat nie.

Hou eerder die Here voor oë

en vermy wat sleg is.

8 Dit sal jou liggaam gesond hou,

jou lewe verkwik.

9 Vereer die Here

met alles wat jy besit.

Gee vir Hom

die beste van jou oes.

10 Hy sal jou opgaarplekke

vol maak.

Jou parskuipe sal oorloop

van al die wyn.

11 My seun,

moenie dit verontagsaam

wanneer die Here

jou reghelp nie.

Moenie jou verset

wanneer Hy jou teregwys nie.

12 Die Here bestraf immers

hulle wat Hy liefhet

net soos ’n pa

sy seun teregwys.

13 Die mens wat wysheid kry,

is gelukkig.

Dit gaan goed met die mens

wat insig kry.

14 Wysheid het meer voordele

as geld.

Haar beloning

is meer werd as goud.

15 Wysheid het meer waarde

as edelstene.

Niks wat jy ooit kan begeer,

vergelyk daarmee nie.

16 Met die een hand

gee wysheid ’n lang lewe.

Met die ander hand

rykdom en eer.

17 Wysheid

maak ’n mens gelukkig.

Wie dit volg, beleef vrede.

18 Vir dié wat daaraan vashou,

is dit ’n boom van die lewe.

Hulle wat daarop steun,

is geseënd.

19 Die Here het die aarde

met wysheid

op sy plek neergesit,

met insig die hemel oopgespan.

20 Deur sy kennis het

water uit die diep fonteine geborrel

en het daar reën uit die wolke geval.

21 My seun,

moenie takt en oorleg

uit die oog verloor nie.

Hou altyd daaraan vas.

22 Dit sal jou lewe verryk

en eer en agting vir jou bring.

23 Jou pad sal veilig wees.

Jy sal nie struikel nie.

24 Jy sal kan gaan slaap

sonder om bang te wees.

Jy sal rustig kan bly slaap.

25 Jy hoef nie bang te wees

dat teëspoed

jou skielik sal tref nie.

Die rampe

vir slegte mense bedoel,

sal nie oor jou kom nie.

26 Die Here is jou beskermer.

Hy sal sorg dat jy nie

in ’n strik trap nie.

27 Moenie wag om

goed te doen

vir iemand wat dit nodig het nie,

veral as dit vir jou moontlik is

om dit te doen.

28 Moenie vir jou buurman sê:

“Gaan nou weg

en kom môre weer,

dan sal ek jou help,”

terwyl jy dit nou al

kon gedoen het nie.

29 Moenie ’n plan beraam

teen iemand

wat vol vertroue

by jou woon nie.

30 Moenie sommer rusie soek

met iemand

wat jou nie kwaad

aangedoen het nie.

31 Moenie jaloers wees

op iemand

wat geweld gebruik nie.

Moenie ook maak soos hy nie.

32 Die Here het ’n afkeer

aan skelms,

maar neem mense wat reg lewe,

in sy vertroue.

33 Die vloek van die Here

rus op die huis

van die goddelose,

maar hulle wat opreg lewe,

seën Hy.

34 Hy dryf die spot met mense

wat ander spot.

Hy is goed vir hulle

wat nederig is.

35 Wyse mense word vereer.

Dwase mense

kom in die skande.