PSALMS 124

was nie

1 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.

As die Here

nie aan ons kant was nie,

laat Israel dit nou maar sê,

2 as die Here

nie aan ons kant was

toe mense ons aangeval het nie,

3 sou hulle ons

lewendig ingesluk het

in die hitte van hulle toorn

teen ons.

4 Die waters

sou ons oorspoel het;

strome

sou ons oorweldig het.

5 Die woeste waters

sou ons weggesleur het.

6 Lof aan die Here

wat ons nie as prooi

aan hulle oorgegee het nie.

7 Ons het ontsnap

soos voëls uit ’n voëlvanger

se wip.

Die wip is gebreek,

en ons het ontvlug!

8 Ons hulp kom van die Here,

wat hemel en aarde

gemaak het.

PSALMS 125

Jerusalem

1 ’n Pelgrimslied.

Hulle wat op die Here vertrou,

is soos Sionsberg;

hulle is onbeweeglik

en sal vir altyd bly bestaan.

2 Soos daar berge is

rondom Jerusalem,

so is die Here rondom sy volk

nou, en vir altyd.

3 Die septer van goddeloses

sal nie bly heers oor die land

wat aan regverdiges gegee is nie,

anders kan ook húlle

in kwaad verval.

4 Here, doen goed

aan dié wat goed is,

hulle wat opreg van hart is.

5 Maar mag die Here dié verwyder

wat saam met boosdoeners

op verkeerde paaie loop.

Mag daar vir Israel vrede wees.

PSALMS 126

Here

1 ’n Pelgrimslied.

Toe die Here die bannelinge

teruggebring het na Sion toe,

was dit vir ons soos ’n droom.

2 Ons het toe gelag

en van vreugde gesing.

Die ander nasies het gesê:

“Die Here het groot dinge

vir hierdie mense gedoen.”

3 Die Here het groot dinge

vir ons gedoen

en ons is vol vreugde!

4 Verander tog ons lot, Here,

soos strome in die Suidland.

5 Hulle wat met trane saai,

sal met vreugde maai.

6 Hulle wat met trane

die saadsak loop en dra,

sal beslis sing van vreugde

wanneer hulle die gerwe dra.

PSALMS 127

1 ’n Pelgrimslied. Van Salomo.

As die Here

die huis nie bou nie,

is die bouers se arbeid tevergeefs.

As die Here

die stad nie beskerm nie,

waak die wagte tevergeefs.

2 Tevergeefs werk julle so hard,

van vroegoggend tot laatnag,

soos julle swoeg om te bestaan.

Maar vir hulle wat Hy liefhet,

gee Hy dit in hulle slaap.

3 Kinders is ’n gawe van die Here;

die vrug van die moederskoot

is ’n beloning.

4 Soos pyle

in ’n krygsman se hande,

so is seuns gebore in ’n mens se jeug.

5 Gelukkig is die man

wie se pylkoker vol van hulle is.

Hy sal nie beskaam word

wanneer hy in die stadspoort

met sy vyand onderhandel nie.

PSALMS 128

1 ’n Pelgrimslied.

Geseënd is hulle

wat die Here dien,

wat wandel op sy weë.

2 Jy sal die vrug

van jou arbeid geniet

en gelukkig

en voorspoedig wees.

3 In jou woning

sal jou vrou wees

soos ’n vrugbare wingerdstok.

Jou seuns sal wees

soos jong olyfbome

rondom jou tafel.

4 So seën die Here

die mens wat Hom dien.

5 Mag die Here jou seën uit Sion

sodat jy so lank as wat jy lewe

die voorspoed van Jerusalem

sal sien,

6 en ook jou kleinkinders

sal beleef.

Mag daar vir Israel vrede wees.

PSALMS 129

af

1 ’n Pelgrimslied.

Baie kere, vanaf my jeug,

het hulle my verdruk.

Laat Israel nou ook sê:

2 Baie kere, vanaf my jeug,

het hulle my verdruk,

maar hulle kon nie die oorhand

oor my kry nie.

3 My rug is vol snye,

asof lang vore

daarop geploeg is.

4 Maar die Here is goed;

Hy het die bande afgesny

waarmee die goddeloses

my vasgemaak het.

5 Mag almal

wat Sion haat

skaam omdraai.

6 Mag hulle wees

soos gras op ’n dak,

wat verdroog

voor dit kan uitspruit,

7 en hy wat oes

niks het om af te sny,

en daar niks is

om op te tel nie.

8 Geen verbyganger sal sê:

“Die Here se seën is op julle;

ons seën julle

in die Naam van die Here” nie.

PSALMS 130

1 ’n Pelgrimslied.

Uit die dieptes roep ek na U,

Here,

2 luister tog na my stem, Here.

Let tog goed op die smeking

van my gebed.

3 Here,

as U ons sondes sou opteken,

wie, Here,

sou ooit kon bestaan?

4 Maar by U is vergifnis;

daarom word U gevrees.

5 Ek wag op die Here,

ek wag, en hoop op sy woord.

6 Ek wag op die Here,

meer as wagte wag op die môre,

wag op die môre.

7 Israel, hoop op die Here,

want by die Here

is troue liefde,

by Hom is volkome redding.

8 Hy sal Israel bevry

van al hulle sondes.

PSALMS 131

1 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.

My hart is nie hoogmoedig nie,

Here;

en my oë is nie trots nie.

Ek bemoei my nie

met wat vir my te groot

of te moeilik is nie.

2 Maar ek het kalmte en rus gekry,

soos ’n kindjie by sy moeder rus,

so is my gemoed.

3 Israel, hoop op die Here,

nou en vir altyd.

PSALMS 132

1 ’n Pelgrimslied.

Here, onthou tog vir Dawid

en alles wat hy

deurgemaak het.

2 Hy het ’n eed

voor die Here afgelê,

’n gelofte gemaak

aan die Magtige van Jakob:

3 “Ek sal nie huis toe gaan

en na my bed toe gaan nie.

4 Ek sal my oë nie laat slaap

of laat sluimer nie

5 tot ek ’n plek gekry het

vir die Here,

’n heiligdom

vir die Magtige van Jakob.”

6 Ons het gehoor

die ark is in Efrata,

en dit gekry

in die velde van Jaär.

7 Kom ons gaan sy woning binne;

laat ons laag voor Hom buig.

8 Kom na u rusplek toe, Here,

U en die ark,

die teken van u mag.

9 Laat u priesters geklee word

met regverdigheid;

mag u troue dienaars

sing van vreugde.

10 Ter wille van u dienaar Dawid,

moet tog nie u gesalfde

verwerp nie.

11 Die Here

het vir Dawid gesweer,

en dit staan vas.

Hy sal daarvan nie afwyk nie:

“Een van jou afstammelinge

sal Ek op jou troon laat sit.

12 As jou seuns luister

na my verbond

en die eise navolg

wat Ek hulle leer,

sal ook húlle seuns

vir altyd regeer.”

13 Want die Here het Sion gekies,

dit as sy woning begeer:

14 “Dit is my rusplek vir altyd.

Hier sal Ek woon,

want die plek het Ek begeer.

15 Ek sal die stad oorvloedig seën

met voedsel

en haar armes

van kos voorsien.

16 Haar priesters klee Ek

met redding;

haar getroues sal sing

van vreugde.

17 Hier vestig Ek

die mag van Dawid,

en ’n nageslag vir my gesalfde.

18 Ek klee sy vyande met skaamte,

maar sý kroon

sal bly skitter.”

PSALMS 133

1 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.

Hoe goed, hoe mooi is dit

as broers eensgesind

saamwoon!

2 Dit is soos kosbare olie

op die kop

wat afloop op die baard,

op die baard van Aäron,

tot op die soom van sy kleed.

3 Dit is soos

die dou van Hermonberg

wat neersak op die berge van Sion.

Want daar gee die Here sy seën:

’n baie lang lewe.