PSALMS 4

God verskaf reg en bevryding

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm, met

begeleiding van snaarinstrumente.

2 Antwoord my wanneer ek roep,

my regverdige God!

U staan my by in my verknorsing.

Wees my genadig

en hoor my gebed.

3 O mensdom, hoe lank sal julle

my goeie naam beklad?

Hoe lank sal julle

valse beskuldigings maak?

Hoe lank sal julle leuens najaag?

Sela

4 Hiervan kan julle seker wees:

Die Here het besondere genade

aan die getroues bewys.

Die Here sal antwoord

wanneer ek tot Hom roep.

5 Moenie sondig

as jy ontsteld is nie.

Oordink dit in die nag

op jou bed

en wees rustig.

Sela

6 Bring die voorgeskrewe offers

en vertrou op die Here.

7 Baie mense sê:

“Wie sal vir ons

goeie dinge wys?”

Laat u glimlag oor ons skyn,

Here!

8 U het vir my

meer vreugde verskaf

as dié met graan en wyn

in oorvloed.

9 Ek sal in vrede gaan lê en slaap,

want U alleen, o Here,

laat my veilig woon.

PSALMS 5

Luister na my, Here

1 Vir die koorleier: Met fluitspel.

’n Dawidspsalm.

2 O Here,

luister tog na my gebed;

gee aandag

aan my versugting.

3 Luister tog

na my geroep om hulp,

my Koning en my God,

want dis tot U dat ek bid.

4 Here,

in die oggend

sal U my stem hoor.

Soggens bring ek my versoeke

vol verwagting na U toe.

5 O God,

U verdra geen boosheid nie;

en sonde

vind by U geen tuiste nie.

6 Verwaandes

kan nie voor U kom nie;

U haat almal

wat kwaad bewerk.

7 U vernietig hulle

wat leuens vertel.

Die Here verafsku

moordenaars en bedrieërs.

8 Maar ek kan u huis binnegaan

op grond van u troue liefde;

in u heilige tempel

sal ek met ontsag aanbid.

9 Leer my tog wat reg is, Here,

vanweë my vyande,

en u pad,

maak dit voor my reguit.

10 Hulle praat nie

die waarheid nie,

en begeer ander se vernietiging.

Hulle keel is ’n ope graf,

hulle tong is pure vleiery.

11 O God, verklaar hulle skuldig.

Laat hulle gevang word

deur hulle eie planne.

Jaag hulle weg

oor hulle baie sondes,

want hulle is opstandig

teen U.

12 Laat almal wat by U skuil,

bly wees,

laat hulle altyd juig.

Beskerm dié

wat u Naam liefhet

sodat hulle oor U

kan jubel.

13 Want U seën die vromes, Here,

u genade beskerm hulle

soos ’n skild.

PSALMS 6

’n Gebed om hulp tydens

siekte

1 Vir die koorleier: Met snarespel,

met basstem. ’n Dawidspsalm.

2 Here, straf my nie

in u toorn,

kasty my tog nie

in u woede nie.

3 Wees my genadig, Here,

want ek is swak.

Maak my gesond, Here,

want my liggaam is vol pyne.

4 My hele wese

is angsbevange.

Hoe lank nog, Here?

5 Kom terug, Here, en red my.

Genees my

op grond van u liefde.

6 Want wie onthou U in die graf?

Wie kan U loof

in die doderyk?

7 Ek is vermoeid van verdriet.

Snags is my bed deurweek,

is my kussing nat van trane.

8 My oë is dof van droefheid,

dis verswak

weens al my vyande.

9 Gaan weg,

al julle kwaaddoeners,

want die Here

het na my hulpgeroep geluister.

10 Die Here

het my pleidooi gehoor;

die Here

sal my gebed beantwoord.

11 Al my vyande sal beskaamd

en baie verslae wees;

in ’n oogwink

sal hulle beskaamd wees

en omdraai.

PSALMS 7

God is ’n betroubare regter

1 ’n Dawidspsalm wat hy vir die

Here gesing het na aanleiding

van Kus, ’n Benjaminiet.

2 Here my God,

ek soek u beskerming.

Red my van al my vervolgers, red my!

3 Anders sal hulle my toetakel

soos ’n leeu,

my in stukke skeur

sonder dat iemand my red.

4 Here my God,

as ek iets verkeerds gedoen het,

as ek skuldig is aan onreg,

5 as ek ’n vriend van my

verraai het,

my vyand sonder rede

beroof het,

6 laat my vyande my agtervolg

en vang,

my in die grond in vertrap,

my eer

tot in die stof verneder.

Sela

7 Staan op, Here, in u toorn!

Tree op

teen my vyande se woede!

Kom tot aksie, my God!

Laat u geregtigheid seëvier!

8 Laat die nasies om U versamel.

Sit op u troon,

ver bo hulle verhewe.

9 Here, U wat regspreek

oor die volke,

oordeel my, Here,

volgens my regverdigheid

en in die lig van my onskuld.

10 Regverdige God

wat gedagtes en gevoelens deursoek,

maak ’n einde

aan die boosheid

van die goddelose,

maar ondersteun die regverdiges.

11 God is my skild,

Hy wat opregtes van hart

verlos.

12 God is ’n regverdige regter;

God oordeel

bose mense daagliks.

13 As iemand nie berou het nie,

maak Hy sy swaard skerp.

Hy span sy boog

en hou dit gereed.

14 Hy het dodelike wapens

voorberei

en sy vurige pyle is gereed.

15 Hy wat swanger is van sonde,

wat verwagtend is van onheil,

gee geboorte aan leuens.

16 Hy grawe ’n gat

om ander te vang,

maar val dan self daarin.

17 Sy boosheid tref homself,

sy geweld kom neer

op sy eie kop.

18 Ek wil die Here dank

omdat Hy regverdig is.

Die Naam

van die allerhoogste Here

wil ek besing.

PSALMS 8

Hoe groot is U!

1 Vir die koorleier: Met

snaarinstrumente. ’n Dawidspsalm.

2 Here, ons Here,

hoe vol majesteit is u Naam

op die hele aarde!

U heerlikheid

is hoër as die hemele.

3 Kinders en babas

besing u lof,

want U het dié wat sterk is,

bestraf,

vyand en wreker stilgemaak.

4 Wanneer ek opkyk

na die naghemel

en ek sien die werke

van u vingers,

die maan en sterre

wat U in hulle plekke

geplaas het,

5 wat is die mens

dat U aan hom dink,

die mensdom

dat U vir hulle omgee?

6 U het hom

’n bietjie minder gemaak

as hemelse wesens,

en hom gekroon

met roem en eer.

7 U het hom in beheer gestel

van alles wat u hande

gemaak het.

U het vir hom mag gegee

oor alle dinge:

8 skape en beeste, alles,

en ook die wilde diere

van die veld,

9 die voëls in die lug,

die visse in die see,

en alles wat swem

deur die seestrome.

10 Here, ons God,

hoe vol majesteit is u Naam

oor die hele aarde!

PSALMS 9

Die regverdige Regter

1 Vir die koorleier: Op die wysie van

“Die dood van die seun”.

’n Dawidspsalm.

2 Here, ek sal U prys

met my hele hart.

Ek sal vertel

van al u wonderlike dade.

3 Ek sal juig in die vreugde

wat U gee.

Ek sal u Naam prys,

o Allerhoogste.

4 Wanneer my vyande omdraai

en vlug,

sal hulle voor U struikel

en vernietig word.

5 Want U het in my guns beslis;

U het op u troon as regter

regverdig geoordeel.

6 U het die nasies berispe

en die goddeloses vernietig;

U het hulle name

vir altyd uitgevee.

7 Die vyande se ondergang

het gekom;

hulle stede is puinhope vir altyd.

Niemand kan hulle meer

onthou nie.

8 Maar die Here regeer vir altyd,

sy troon het Hy

vir regspraak ingerig.

9 Hy sal die wêreld

met regverdigheid oordeel,

en in billikheid

oor die volke regspreek.

10 Die Here is ’n skuilplek

vir die onderdrukte,

’n toevlug

in tye van moeilikheid.

11 Dié wat u Naam bely,

vertrou op U,

want niemand wat U soek,

laat U in die steek nie, Here.

12 Sing lofliedere vir die Here

wat op Sion woon,

vertel van sy dade

onder die volke.

13 Want Hy

wat bloedvergieting wreek,

gee om vir hulpelose mense.

Hulle wat tot Hom roep in nood,

dié vergeet Hy nie.

14 Here, wees my genadig.

Kyk na die ellende

wat haters my aangedoen het!

Ruk my uit die poorte

van die dood

15 sodat ek u dade

bekend kan maak,

U kan prys

in die poorte van Sion,

en kan jubel

omdat U my gered het.

16 Die nasies het geval

in die gat wat hulle gegrawe het.

Hulle voete

is in hulle eie net gevang.

17 Die Here is bekend

vir sy regverdige oordeel.

Die goddeloses is gevang

met hulle eie handewerk.

Higgajon Sela

18 Die goddeloses

is op pad na die graf

soos al die nasies

wat God vergeet.

19 Want die behoeftiges

word nie vir altyd vergeet nie,

en die hoop van die armes

sal nie vir altyd

vernietig word nie.

20 Staan tog op, Here!

Moenie dat mense U teëstaan nie!

Laat die nasies

voor U teregstaan.

21 Here, laat hulle bewe van angs

en besef

hulle is maar net mense.

Sela

PSALMS 10

Oordeel tog die goddeloses!

1 Here,

waarom staan U so ver weg?

Hoekom verberg U Uself

in tye van nood?

2 Bose mense vol verwaandheid

vervolg die ellendiges.

Laat hulle gevang word

in die planne

wat hulle vir ander bedink.

3 Want die goddelose spog

met sy bose begeertes;

hy seën die inhaliges

en vervloek die Here.

4 Hierdie bose mens is te trots

om God te soek.

In al sy beplannings

is daar geen plek vir God nie.

5 Hy is suksesvol

in alles wat hy doen.

U oordele is vir hom buite sig.

Minagtend lag hy

oor al sy vyande.

6 Hy sê vir homself:

“Geen onheil

sal my ooit tref nie!

Geslag na geslag

sal ek vry wees van rampe!”

7 Sy mond is vol vervloeking,

leuens en geweld,

onheil en boosheid is op sy tong.

8 Hy lê in ’n hinderlaag

by die dorpe

om mense in die geheim

te vermoor,

hy bly op die uitkyk

na onskuldige slagoffers.

9 Hy lê doodstil in ’n hinderlaag

soos ’n leeu in sy lêplek,

hy wag in die hinderlaag

om hulpeloses aan te val.

Hy vang die ellendiges

en trek hulle met sy net.

10 Die hulpelose is oorrompel

en stort ineen;

hy val onder die aanslag

van die kwaadwilliges.

11 Hy wat kwaad doen,

sê vir homself:

“God het vergeet,

Hy kyk tog nie

en sal dit nooit raaksien nie!”

12 Staan op, Here!

Tree op teen die goddeloses,

o God!

Moenie die hulpeloses

vergeet nie!

13 Hoekom verag die goddelose

vir God

en sê by homself:

“Hy sal tog nie

rekenskap eis nie”?

14 Maar U sien die moeilikheid

en leed

wat hulle veroorsaak,

ja, U, U sien dit raak

en tree teen hulle op.

Die hulpeloses vertrou op U,

die beskermer

van die weeskind.

15 Breek die greep

van die goddelose,

dié wat kwaad bewerk!

Roep hom tot verantwoording

oor sy bose dade

totdat U hom nie meer vind nie.

16 Die Here is koning vir altyd!

Die nasies is uit sy land

verdryf.

17 Here, U hoor die smeking

van die hulpeloses.

U sal hulle gerusstel

en hulle gebede verhoor.

18 U spreek reg oor wese

en verdruktes

sodat mense

hulle nie meer verskrik nie.

PSALMS 11

God regeer

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

Ek vertrou op die Here

vir beskerming.

Hoe kan julle vir my sê:

“Vlug na die berge soos ’n voël!

2 Die goddeloses

span hulle boë.

Hulle sit hulle pyle

op die snaar.

Vanuit die skaduwees

skiet hulle op die opregtes.

3 Wanneer die fondamente

van wet en orde

inmekaartuimel,

wat kan die regverdiges

dan doen?”

4 Maar die Here

is in sy heilige tempel;

die Here se troon

is in die hemel.

Noukeurig kyk Hy na elke ding.

Hy toets die mensdom.

5 Die Here toets die regverdiges,

maar Hy haat die goddeloses

en dié wat geweld liefhet.

6 Hy laat vuur en swael

op die goddeloses reën,

en brandende winde is die beker

waaruit hulle sal drink.

7 Want die Here is regverdig

en het regverdige dade lief.

Hulle wat doen wat reg is,

sal Hom sien.

PSALMS 12

God sal reg laat geskied

1 Vir die koorleier: Met basstem.

’n Dawidspsalm.

2 Help tog, Here,

want opregtes

bestaan nie meer nie!

Onder die mensekinders

is daar geen getroues oor nie.

3 Bure lieg vir mekaar.

Hulle praat

met vleiende lippe,

maar met bedrieglike harte.

4 Die Here

sny hulle vleiende lippe af

en ook hulle grootpraterige tong.

5 Hulle sê:

“Ons sal lieg

soveel soos ons wil.

Ons lippe behoort aan ons.

Wie kan ons keer?”

6 Die Here antwoord:

“Ek het die geweld

teen hulpeloses gesien,

en Ek het die versugting

van die armes gehoor.

Daarom sal Ek hulle beveilig,

die veiligheid bied

waarna hulle smag.”

7 Die Here se beloftes is suiwer,

soos silwer

in ’n oond gesuiwer,

wat sewe keer gesuiwer is.

8 U, Here, hou oor ons wag.

U sal ons vir altyd

teen sulke mense bewaar,

9 selfs al loop die goddeloses

oral rond

om boosheid

onder mense te saai.

PSALMS 13

Vertrou op die Here

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

2 Hoe lank sal U my bly vergeet,

Here?

Vir altyd?

Hoe lank nog sal U

anderpad kyk?

3 Hoe lank

moet ek alleen planne maak,

elke dag deurbring

met droefheid in my hart?

Hoe lank sal my vyand

die oorhand hê?

4 Kyk tog en antwoord my,

Here my God!

Verlig tog weer my oë

dat ek nie

die doodslaap ingaan nie,

5 anders sê my vyand:

“Ek het hom oorwin!”

en is my teenstander bly

oor my ondergang.

6 Maar ek maak self staat

op u troue liefde.

Ek wil juig

omdat U my gered het.

Ek wil sing tot eer van die Here

omdat Hy vir my goed was.