JOB 36

1 Elihu het ook nog gesê:

2 “Laat my voortgaan,

en ek sal die waarheid

vir jou uitwys

in wat ek sê,

want ek is nog nie klaar

om God te verdedig nie!

3 Ek het baie voorbeelde

van die regverdigheid

van my Maker

wat ek aan jou kan voorhou.

4 “Wat ek gaan sê,

is die eerlike waarheid,

want ek is ’n man

met afgeronde kennis.

5 God is magtig,

tog verag Hy niemand nie!

Hy is magtig in sowel krag

as begrip.

6 Hy laat die kwaaddoener

nie lewe nie,

maar sorg vir regverdigheid

vir die verdrukte.

7 Sy oë is altyd

op die onskuldige,

Hy vestig en verhef hulle

vir altyd

saam met konings.

8 Maar as hulle moeilikheid het

en swaar verdruk word,

9 doen Hy moeite

om vir hulle die rede uit te wys,

naamlik hulle sonde

van hoogmoed.

10 So kry Hy hulle aandag

en sê vir hulle

dat hulle moet wegdraai

van die kwaad.

11 As hulle luister

en Hom gehoorsaam,

word hulle geseën

met voorspoed

deur hulle hele lewe.

12 Maar as hulle weier

om te luister,

sal hulle sterf in die geveg

en ondergaan

omdat hulle niks verstaan nie.

13 “Goddelose mense vertroetel

hulle woede.

Selfs wanneer Hy hulle straf,

weier hulle om te roep

om hulp.

14 Hulle sterf jonk.

Hulle lewe eindig

in skandelike dade.

15 Maar deur hulle swaarkry,

red Hy mense wat ly.

Want Hy gebruik hulle lyding

om hulle oë oop te maak.

16 “Ja, ook vir jou wou God

uit die gevaar lei.

Hy wou jou vrymaak.

Hy wou jou oorgenoeg gee

om van te lewe.

17 Maar jy is behep

met die oordeel

oor die goddelose.

Moenie bekommerd wees nie.

Regverdigheid sal seëvier.

18 Oppas dat voorspoed

jou nie verlei nie.

Moenie dat ’n groot

omkoopgeskenk

jou laat sondig nie.

19 Kan al jou geld en moeite

jou help in jou ellende?

20 Moenie wens

dat die nag kom nie.

Dis juis dan

dat mense vernietig word.

21 Wees waaksaam!

Draai weg van die kwaad!

God het juis swaarkry

oor jou gestuur

om jou weg te vat van sonde.”

Elihu herinner Job aan God se

mag

22 “God is almagtig.

Wie kan ’n mens leer

soos Hy?

23 Niemand kan Hom vertel

wat om te doen nie.

Niemand kan vir Hom sê:

‘U was verkeerd’ nie.

24 Nee, verheerlik liewer

sy magtige werke

en sing tot sy lof.

25 Elkeen het hierdie dinge

gesien,

maar net van ver af.

26 Kyk, God is verhewe

bokant ons begrip.

Sy jare is sonder einde.

27 “Hy trek waterdamp op

en laat dit val as reën.

28 Reën stort uit die wolke

en almal baat daarby.

29 Kan iemand verstaan

hoe die wolke uitsprei,

en die donderweer

rol deur die hemel?

30 Kyk hoe Hy die weerlig

rondom Hom laat blits.

Kyk hoe dit die diepsee verlig.

31 Deur sy magtige dade

regeer Hy oor die mense,

Hy sorg vir hulle met oorvloed.

32 Hy vul sy hande met weerlig

en gooi hulle af op sy teiken.

33 Die donderweer verkondig

sy teenwoordigheid.

Die storm kondig sy woede aan.”

JOB 37

1 “As ek hieraan dink,

bons en bewe my hart in my.

2 Luister na God se stem

in die donderweer

as dit voortrol van Hom af.

3 Dit rol deur die ganse hemel.

Sy weerlig slaan

in alle rigtings.

4 Dan kom die gebrul

van die donderweer,

die geweldige stem

van sy majesteit.

Hy hou nie die weerlig terug

wanneer Hy praat nie.

5 God se stem is glorieryk

in die donderweer.

Dis onmoontlik

om sy grootheid en mag

te bedink.

6 Hy laat die sneeu

val op die aarde,

en beveel die reën

om neer te stort.

7 Almal hou dan op om te werk

sodat hulle sy krag

kan aanskou.

8 Die wilde diere

skuil tussen rotse

of bly in hulle lêplekke.

9 Die storm kom uit sy blyplek.

Die wind bring groot koue.

10 Die asem van God

stuur die ys.

Die wye waters vries kliphard.

11 Hy laai die wolke met vog.

Hy verlig die wolke

met sy weerlig.

12 Die wolke draai en draai

soos Hy hulle beveel.

Hulle doen wat Hy beveel

oor die hele bewoonde aarde.

13 Hy laat dinge gebeur op aarde

as straf of as teken

van sy troue liefde.

14 “Luister hierna, Job.

Staan stil en bedink

die wonderdade van God.

15 Weet jy hoe God

die storm beheer

en sy weerlig laat flits

uit sy wolke?

16 Verstaan jy hoe die wolke

in die lug bly hang?

Dis die wonderlike werk

van Hom wat alles weet.

17 As jy vergaan van die hitte

in jou klere,

wanneer die suidewind gaan lê

en alles stil word,

18 weerkaats Hy die hitte

uit die hemelruim

soos ’n reuse spieël.

Kan jy dit doen?

19 “Jy dink mos jy weet so baie.

Leer ons

wat ons vir God moet sê.

Ons is te onkundig

om self te redeneer.

20 Moet ons vir Hom sê dat ons

met Hom wil praat?

Kan ons praat

as ons so deurmekaar is?

21 Ons kan nie in die son kyk

op ’n wolklose dag nie.

Dit skyn helder in die lug

wanneer al die wolke

weggewaai het.

22 Uit die noorde kom God

in goudglans.

Rondom Hom is

ontsagwekkende majesteit.

23 Ons kan ons nie voorstel

hoe magtig God is nie.

Tog is Hy so regverdig

en vol genade

dat Hy ons nie verdruk nie.

24 Geen wonder dat alle mense

Hom vrees nie.

Mense met ware wysheid

het ontsag vir Hom.”

JOB 38

Die Here daag Job uit

1 Toe het die Here

Job uit ’n stormwind

geantwoord:

2 “Wie is dit

wat my wysheid bevraagteken

met woorde van onkunde?

3 Staal jouself!

Ek sal die vrae stel,

en dan antwoord jy My.

4 “Waar was jy

toe Ek die fondasie

van die aarde gelê het?

Sê My as jy so baie weet!

5 Wie het die aarde opgemeet?

Jy weet tog seker!

En wie het die maatband

oor die aarde gespan?

6 Waarop rus die fondasie

van die aarde?

En wie het sy hoeksteen gelê?

7 Toe het al die môresterre

saamgesing

en die hemelse wesens*

het van vreugde gejuig.

8 “Wie het die grense van die see

vasgestel

toe dit uitgeborrel het

9 en Ek dit bedek het met wolke

en dik duisternis?

10 Ek het grense vir hom gestel.

Ek het hom

agter slot en grendel gesit.

11 Ek het gesê:

‘Jy mag tot hier kom,

en nie verder nie.

Hier moet jou trotse golwe breek.’

12 “Het jy ooit die môre beveel

om te verskyn?

Het jy die dag laat breek

in die ooste?

13 Het jy al die lig opdrag gegee

om oor die aarde te sprei

sodat die nag se boosheid

kan ophou?

14 Die aarde neem vorm aan

soos die lig toeneem.

Dit neem vorm aan

soos voue in ’n kledingstuk.

15 Die lig versteur die rooftog

van die kwaaddoener.

Hulle kan nie meer die arm lig

om geweld te pleeg nie.

16 “Was jy al by die fonteine

waar die see ontspring?

Het jy al daar rondgeloop

en sy dieptes verken?

17 Weet jy waar die ingang

van die doderyk is,

waar die donkerte skuil?

18 Begryp jy hoe groot

die aarde is?

Sê My as jy dit alles weet.

19 “Waar kom die lig vandaan?

En waarheen wyk

die donkerte?

20 Kan jy hulle terugvat

na hulle huis toe?

Weet jy hoe om daar uit te kom?

21 Natuurlik weet jy dit alles!

Jy is mos gebore

voor dit alles geskep is.

Jy het nou al soveel ervaring!

22 “Was jy al by die skatkamers

van die sneeu?

Het jy al gesien waar die hael

gebêre word?

23 Ek gaar dit op

vir ’n tyd van rampe,

vir die dag van stryd en oorlog.

24 Waar is die pad

na die oorsprong van lig?

Waar is die tuiste

van die oostewind?

25 Wie grawe ’n kanaal

vir die stortreën?

Wie maak ’n pad

vir die weerlig?

26 Wie giet reën

oor die droë grond,

in ’n woestyn

waar niemand woon nie?

27 Wie stuur die reën

wat die droë land natmaak

sodat groen gras uitspruit?

28 Het die reën ’n vader?

Waar kom dou vandaan?

29 Wie is die moeder van ys?

Wie gee geboorte aan ryp

uit die lug?

30 Dan word water so hard

soos ’n rots,

en die watervlak verys.

31 “Kan jy die Sewester vasknoop?

Of die bande van Orion losmaak?

32 Kan jy sorg dat die sterre

op die regte tyd opkom?

Kan jy die Beer met sy kleintjies

laat uitkom?

33 Ken jy die wette

van die natuur?

Weet jy hoe God

oor die aarde regeer?

34 “Kan jy met die wolke praat

sodat hulle begin reën?

35 Kan jy weerligstrale maak,

en dit laat tref soos jy wil?

36 Wie gee intuïsie en instink

aan die mens?

37 Wie is slim genoeg

om die wolke te tel?

Wie kan die waterkanne

van die hemel omkeer

38 wanneer die grond droog is

en die kluite kliphard?”

JOB 39

1 “Kan jy vir die leeuwyfie

prooi vang

wat genoeg sal wees

vir haar kleintjies

2 waar hulle lê en wag

in hulle wegkruipplek,

waar hulle skuil in die bosse?

3 Wie gee kos vir kraaie

as hulle kleintjies

na God roep

en ronddwaal

omdat hulle honger is?”

Die uitdaging van die Here

gaan voort

4 “Ken jy die tyd

wanneer die bergbokke lam?

Het jy gesien wanneer

die wildsbokke

kleintjies kry?

5 Weet jy hoeveel maande

hulle draagtyd is?

Weet jy wanneer hulle

moet lam?

6 Hulle krimp inmekaar

om geboorte te gee.

Hulle geboortepyne

is vinnig verby.

7 Die klein bokkies word groot

in die oop veld.

Hulle verlaat die ouers

en kom nie weer terug nie.

8 “Wie laat die wildedonkie

vry rondloop?

Wie maak sy harnas los?

9 Ek het hom laat leef in die wildernis.

Die soutvlaktes

is sy blyplek.

10 Hy lag vir die gewoel

in die stad.

Hy steur hom nie aan die geroep

van ’n drywer nie.

11 Hy wei in die berge

op soek na groen gras.

12 “Sal die buffel bereid wees

om in jou diens te staan?

Sal hy in die nag

op stal bly staan?

13 Kan jy hom inspan

en ’n harnas aansit?

Sal hy bereid wees

om vir jou ’n veld te ploeg?

14 Hy is baie sterk,

maar kan jy op hom vertrou

om jou werk vir jou te doen

as jy weggaan?

15 Kan jy op hom vertrou

om jou graan

huis toe te bring?

Sal hy dit op jou dorsvloer

neersit?

16 “Die volstruis klap haar vlerke

met trots.

Maar haar vere kan nie vergelyk

word

met dié van ’n ooievaar nie.

17 Sy lê haar eiers op die grond.

Hulle broei warm

in die grond.

18 Sy is nie bekommerd

dat iemand daarop kan trap

of dat wilde diere

dit kan vernietig nie.

19 Sy tree hardvogtig op

teenoor haar kuikens

asof hulle nie haar eie is nie.

Dit maak nie vir haar saak

of hulle sterf nie.

20 God het haar nie wysheid

of gesonde verstand

gegee nie.

21 Maar as sy haar vlerke optel

om te hardloop,

hardloop sy weg

vir die vinnigste perd

met sy ruiter.

22 “Het jy die perd

sy krag gegee,

of sy nek bedek

met maanhare?

23 Gee jy hom die vermoë

om te spring

soos ’n sprinkaan?

Hy maak almal bang

met sy trotse gesnork.

24 Hy kap die grond

met sy pote.

Hy is bly oor sy krag.

As hy in die geveg storm,

25 is hy vir niks bang nie.

Hy hardloop nie weg

van wapens nie.

26 Die pyle raas

rondom hom.

Spiese en swaarde

flits in die son.

27 Opgewonde kap sy pote

die grond.

Hy storm vorentoe

in die geveg

wanneer die trompet blaas.

28 Hy snork

as die trompet blaas,

van ver af

ruik hy die geveg.

Hy hoor hoe die offisiere

en soldate roep.

29 “Is dit op jou bevel

dat die valk hoog vlieg

en sy vlerke sprei

na die suide?

30 Gee jy bevel dat die arend

hoog moet vlieg

om sy nes te gaan bou?

31 Hy woon op ’n rotslys

en maak sy blyplek

op ’n hoë krans.

32 Van daar af soek hy sy kos.

Sy oë sien dit van ver af.

33 Sy kuikens

vreet bloederige vleis

van enige karkas.”

34 Die Here het vir Job gesê:

35 “Wil jy steeds redeneer

met die Almagtige?

Laat die een wat God aankla,

nou praat!”

Job reageer op die Here se

woorde

36 Job het toe die Here

geantwoord:

37 “Ek het dwase dinge gesê.

Hoe kan ek U antwoord?

Ek sit my hand op my mond.

38 Ek het een keer gepraat

en te veel gesê.

Ek het niks meer

om te sê nie.”

JOB 40

Die Here daag Job weer uit

1 Die Here het toe vir Job

uit ’n storm geantwoord:

2 “Gaan staan regop soos ’n man.

Ek wil ’n paar vrae aan jou stel.

Jy moet My antwoord.

3 “Wil jy sê

dat Ek verkeerd is?

Wil jy My

veroordeel

sodat jy geregverdig kan wees?

4 Is jy so sterk soos God?

Kan jy jou stem

uit die onweer laat hoor?

5 Laat jou gesag dan geld.

Tree op in jou koninklike

majesteit.

6 Gee uiting aan

jou woede

sodat dit oorkook

oor die hoogmoediges

en hulle verneder.

7 Vernietig slegte mense

met een blik.

Loop oor die goddeloses.

8 Begrawe almal in die stof.

Sluit hulle toe in die graf.

9 Selfs Ek sal jou dan prys,

want jy sal jou

deur jou eie krag kan red.

10 “Kyk na die seekoei*.

Ek het hom gemaak

net soos Ek jou gemaak het.

Hy vreet gras soos ’n bees.

11 Hy het ’n kragtige liggaam

met sterk spiere.

12 Sy stert is so reguit

soos ’n seder.

Sy boudspiere

is inmekaargevleg.

13 Sy bene

is soos bronspype.

Sy ledemate

so sterk soos yster.

14 Dit is ’n uitstekende

voorbeeld

van God se handewerk.

Net sy Maker

kan hom in toom hou.

15 Die berge lewer vir hom

voedsel,

en al die wilde diere speel daar.

16 Hy lê onder waterplante.

Hy skuil tussen die riete

in die moeras.

17 Hy skuil in die skadu

van die waterplante

tussen die wilgers

langs die rivier.

18 As die rivier in vloed is,

word hy nie bang nie.

Hy is rustig selfs as die Jordaan

rondom hom bruis.

19 Niemand kan hom

van voor af pak

en ’n ring in sy neus sit nie.”

Die Here daag Job weer uit

20 “Kan jy ’n krokodil*

met ’n hoek vang?

Kan jy ’n tou bind om sy bek?

21 Kan jy ’n lyn

steek deur sy neus

of sy kake met ’n haak deurboor?

22 Sal hy by jou pleit om genade,

of soebat om vir hom

jammer te wees?

23 Sal hy instem

om vir jou te werk?

Kan jy van hom ’n slaaf maak

vir die res van sy lewe?

24 Sal jy hom mak maak

soos ’n voëltjie,

of vir hom ’n leiband aansit

as ’n speelding vir jou dogters?

25 Sal handelaars hom wil koop?

Kan hulle hom verkoop

in hulle winkels?

26 Kan jy sy vel deurboor

met pyle,

of sy kop met ’n harpoen?

27 Lê gerus jou hand op hom!

Jy sal vir altyd

die geveg onthou

en dit nooit weer waag nie.

28 Jy probeer verniet

om hom te vang.

Die jagter is oorweldig

as hy hom net sien.”

JOB 41

1 “Omdat die krokodil

so wreed is,

sal niemand dit waag

om hom wakker te maak nie.

Wie sal dan teenoor My

kan staan?

2 Wie wil dan aan My eise stel

dat Ek moet betaal?

Alles onder die hemel

behoort immers aan My.

3 “Ek wil nog praat

oor die krokodil se krag

en sy ontsaglike liggaamsbou

en sierlike vorm.

4 Wie kan sy vel aftrek?

Wie kan sy dik pantser

deurboor?

5 Wie waag om sy bek

oop te ruk?

Sy verskriklike tande

maak jou bang!

6 Sy skubbe vorm ’n skild

op sy rug, dig aaneengeskakel.

7 Hulle is so dig opmekaar;

geen lug kom daardeur nie.

8 Hulle sluit so dig opmekaar;

hulle skakel inmekaar

en kan nie geskei word nie.

9 As hy nies, flits daar ligte.

Sy oë

is rooi soos die oggendson.

10 Vuur kom uit sy bek

vonke skiet daaruit.

11 Rook kom uit sy neusgate

soos stoom

uit ’n kokende pot op ’n vuur.

12 Sy asem

steek vure aan die brand.

Vlamme kom uit sy bek.

13 Sy nek is baie sterk.

Almal staan verskrik

as hulle hom sien.

14 Sy vleis is ferm saamgepak.

Dit is hard,

jy kan dit nie beweeg nie.

15 Sy hart is so hard soos klip,

net soos ’n meulsteen.

16 Sterkes vlug as hy opstaan,

vervul met vrees wanneer hy

beweeg.

17 Geen swaard kan hom stop nie,

nóg spies, nóg pyl

of skerp harpoen.

18 Yster is vir hom soos strooi,

en brons

soos hout wat verrot.

19 Hy vlug nie vir ’n pyl nie.

Klippe uit ’n slingervel

is vir hom soos strooi.

20 ’n Knopkierie

doen niks aan hom nie.

Hy lag vir ’n werpspies

wat hom tref.

21 Sy pens is bedek met skubbe

so skerp soos glas.

Dit laat ’n spoor

soos ’n dorsslee

in die grond.

22 Hy laat die diep water kook

soos in ’n pot.

Hy roer die see soos ’n pot salf.

23 Agter hom lê ’n blink streep

op die water.

Die see word wit van die skuim.

24 Daar is geen skepsel

so vreesloos soos hy

op die hele aarde nie.

25 Hy is ’n trotse skepsel,

die koning van die diere.”

JOB 42

Job antwoord die Here

1 Job het die Here

geantwoord:

2 “Ek weet nou

U kan enigiets doen,

en niemand kan U keer nie.

3 U vra:

‘Wie waag dit om in sy onkunde

my wysheid te bevraagteken?’

Dit was ek.

Ek het gepraat oor dinge

sonder begrip,

dinge wat te wonderlik is vir my.

4 “U het gesê:

‘Luister, want Ek wil praat!

Ek sal jou vra,

en jy moet My antwoord.’

5 Tot nou toe

het ek net met my ore

van U gehoor,

maar nou het ek U

met my eie oë gesien.

6 Nou verag ek myself

en het berou in stof en as.”

Gevolgtrekking: Die Here seën

Job

7 Nadat die Here klaar met Job gepraat het, het Hy vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende. Julle het nie wat reg is oor My gepraat soos my dienaar Job nie.

8 “Daarom, vat nou sewe jong bulle en sewe ramme, gaan na my dienaar Job en bring ’n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid. Ek sal sy gebed vir julle aanvaar. Ek sal julle nie behandel soos julle verdien nie. Julle het nie wat reg is oor My gesê soos my dienaar Job nie.”

9 Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here beveel het, en die Here het Job se gebed verhoor.

10 Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het.

11 Toe het al sy broers en susters en almal wat hom voorheen geken het, gekom en saam met hom in sy huis feesgevier. Hulle het hom getroos en moed ingepraat oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Hulle het elkeen vir hom ’n stuk silwer en ’n goue ring gegee.

12 Die Here het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste. Hy het 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 spanne osse en 1 000 donkies gekry.

13 Hy het ook vir hom sewe seuns en drie dogters gegee.

14 Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk.

15 In die hele land was daar nêrens vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf.

16 Job het nog 140 jaar gelewe. Hy het sy kinders en kleinkinders gesien, tot in die vierde geslag.

17 Job het ná ’n vol lewe op ’n hoë ouderdom gesterf.

PSALMS 1

BOEK EEN (Psalm 1-41)

Die regverdige en die

goddelose

1 Gelukkig is die mens

wat nie loop

volgens die raad

van goddeloses,

of staan

op die pad van sondaars,

of sit

in die vergadering

van spotters nie.

2 Hy vind egter vreugde

in die gebooie van die Here

en oordink sy voorskrifte

dag en nag.

3 Hy is soos ’n boom

geplant langs waterstrome,

wat vrugte dra

op die regte tyd.

Sy blare verwelk nie;

in alles wat hy doen,

is hy voorspoedig.

4 Maar dit geld nie

vir die goddeloses nie.

Hulle is soos kaf

wat die wind verstrooi.

5 Daarom sal goddeloses

nie voortbestaan

in die oordeel,

of sondaars

in die geselskap

van regverdiges nie.

6 Want die Here waak

oor die pad

van die gelowiges;

maar die paaie

van die goddeloses

lei tot ondergang.

PSALMS 2

Dien die Here en sy gesalfde

1 Hoekom gaan die nasies

so tekere,

en bedink die volke

nuttelose planne?

2 Die konings van die aarde

het saamgesweer;

die heersers span saam

teen die Here

en sy gesalfde.

3 Hulle sê:

“Laat ons hulle kettings

stukkend breek,

onsself bevry

van hulle slawebande.”

4 Maar Hy

wat vanuit die hemel heers,

lag oor hulle.

Die Here spot met hulle.

5 In sy toorn

praat Hy met hulle,

en in sy woede verskrik Hy hulle:

6 “Ek het hom op Sion,

my heilige berg,

as my koning aangestel.”

7 Ek wil vertel

van die Here se besluit.

Hy het vir my gesê:

“Jy is my seun.

Vandag het Ek

jou Pa geword.

8 Vra My, en Ek gee vir jou

nasies as erfporsie,

die einde van die aarde

as jou besitting.

9 Met ’n ysterstaf

sal jy hulle stukkend slaan,

soos ’n kleipot hulle verpletter.”

10 Wees nou verstandig,

o konings!

Wees gewaarsku,

regeerders van die aarde!

11 Dien die Here met eerbied

en juig oor Hom met bewing.

12 Onderwerp julle aan God

sodat Hy nie toornig word

en jy op die pad omkom nie.

Want sy toorn ontvlam gou,

maar daar is vreugde

vir almal wat by Hom skuil.

PSALMS 3

God is my redding

1 ’n Dawidspsalm toe hy voor

sy seun Absalom gevlug het.

2 O Here,

ek het so baie vyande;

so baie kom teen my in opstand.

3 So baie sê:

“God sal hom nooit red nie!”

Sela

4 Maar U, Here,

is ’n skild rondom my.

U herstel my eer,

U lig my kop weer op.

5 Ek het tot die Here geroep.

Vanaf sy heilige berg

het Hy my geantwoord.

Sela

6 Ek het gaan lê en slaap

en weer wakker geword,

want die Here

het oor my waggehou.

7 Ek is nie bang

vir tienduisende mense

wat my van alle kante

bedreig nie.

Sela

8 Staan op, Here!

Bevry my tog, my God!

U het al my vyande

op die kakebeen geslaan,

die tande van die goddeloses

het U gebreek!

9 Verlossing kom van U, Here.

Mag u seëninge op u volk rus.

Sela