JOB 26

Job praat ’n negende keer in

antwoord op Bildad

1 Job het weer gepraat:

2 “Hoe het julle nou

die swakke gehelp?

Hoe het julle

die kragtelose gered?

3 Hoe het julle my onnoselheid

verlig!

Hoeveel wyshede het julle

kwytgeraak!

4 Vir wie het julle

al hierdie dinge gesê?

Wie se gees praat deur julle?

5 Die dooies bewe,

hulle wat onder die water woon.

6 God weet wat daar

in die onderwêreld gebeur.

Hy kyk tot in die plek

van verwoesting.

7 God strek die noordelike

lugruim

oor leë ruimtes

en hang die aarde op

aan niks.

8 Hy rol die reën op

in dik wolke,

maar as hulle swaar is,

skeur hulle nie.

9 Hy bedek die gesig

van die volmaan

en sprei wolke daaroor.

10 Hy het die horison geskep

deur die waters te skei.

Hy stel grense

vir die dag en die nag.

11 Die fondamente

van die hemel bewe,

hulle is verstom as Hy hulle bestraf.

12 Sy krag kalmeer die see.

Hy verslaan die seemonster.

13 Sy wind waai die lug skoon

en Hy vernietig

die vlugtende slang.

14 Dit is maar die kleinste

van sy werke,

’n fluistering van sy krag

wat ons hoor!

Wie kan dan die grootheid

van sy mag begryp?”

JOB 27

Job: Ek is onskuldig

1 Job het die gesprek voortgesit:

2 “So seker as wat God leef,

Hy wat my regte

van my weggeneem het,

die Almagtige

wat my verbitter het,

3 solank ek leef,

solank God my laat asemhaal,

4 sal ek niks verkeerds sê nie.

Ek sal nie leuens

vertel nie.

5 Daarom kan ek nooit erken

dat julle reg is nie.

Tot ek sterf,

sal ek my onskuld verdedig.

6 Ek hou vol dat ek onskuldig is.

My gewete is skoon

solank ek leef.

7 “Mag my vyande gestraf word

soos die kwaaddoeners,

my teenstander

soos bose mense.

8 Want watter hoop

het die goddelose mens

wanneer God hom afsny

en sy lewe wegneem?

9 Sal God luister na hom

wanneer ’n ramp hom tref?

10 Kan hy hom verlustig

in die Almagtige?

Kan hy enige tyd na God roep?

11 “Laat ek julle iets vertel

oor God se mag.

Ek sal niks verswyg

oor die Almagtige nie.

12 Maar dis ook nie nodig nie,

want julle het alles self gesien.

Tog hou julle aan

om hierdie nuttelose goed

vir my te sê.

13 “Dit is wat die kwaaddoeners

van God gaan ontvang,

dit is hulle erfdeel

van die Almagtige.

14 Al hulle baie kinders

sal sterf in die oorlog

of doodgaan van honger.

15 Dié wat oorleef,

sal deur die pes

na hulle graf toe gaan.

Niemand sal oor hulle treur nie,

nie eens hulle vroue nie.

16 Bose mense

besit dalk al die geld

in die wêreld

en kan berge van klere opgaar,

17 maar die regverdige

sal die klere dra,

en die onskuldiges

sal die geld

tussen hulle verdeel.

18 Die huise van bose mense

is broos soos ’n spinnerak,

so wankelrig

soos ’n skuiling van takke.

19 Die kwaaddoener gaan slaap

in rykdom,

maar sal dit nie behou nie.

Hy ontwaak in armoede.

20 Angs oorweldig hulle

soos ’n vloed

en die storm waai hulle weg

in die nag.

21 Die oostewind

waai hulle ver weg,

en hulle is nie meer nie.

22 Sonder genade

kom die wind op hulle af.

Hulle probeer wegkom

van die storm se geweld.

23 Almal is bly

oor hulle ondergang

en spot met hulle.”

JOB 28

Mense weet so baie

1 “Mense weet

hoe om silwer te myn

en goud te suiwer.

2 Hulle weet hoe om yster

uit die grond te haal

en koper te smelt uit klip.

3 Hulle weet hoe om lig te maak

in die donker

en verken

die verste, donkerste dele

van die aarde

op soek na erts.

4 Hulle sink ’n mynskag

diep in die aarde,

ver van waar mense woon.

Dan swaai hulle heen en weer

aan toue.

5 Die aarde waaruit brood voortkom,

word diep onder oopgebreek

met vuur.

6 Mense kan saffiere uit die rots

en goudstof

uit die stof haal.

7 Dit is skatte wat geen roofvoël

kan sien nie,

en geen arendsoog

kan bespeur nie.

8 In diep myne het

geen wilde dier nog gekom,

geen leeu

het daar geloop nie.

9 Mense weet

hoe om rotse te breek

en die wortels van berge

om te keer.

10 Hulle maak tonnels

in die rotse

en kry daar kosbare skatte.

11 Hulle dam strome op

en bring verborge skatte

na die lig.

12 “Maar weet mense

waar om wysheid te vind?

Waar sal hulle soek vir begrip?

13 Niemand weet

waar om dit te vind nie.

Nêrens tussen die lewendes

is dit te vind nie.

14 ‘Dis nie hier nie,’

sê die oseaan.

‘Dis ook nie by my nie!’

sê die see.

15 Jy kan dit nie

met goud koop nie,

jy kan nie silwer

daarvoor afweeg nie.

16 Die waarde daarvan

is meer

as al die goud van Ofir,

en groter as die kosbare stene

van oniks of saffiere.

17 Wysheid is meer kosbaar

as goud en kristal.

Jy kan dit nie koop

met goud-gemonteerde

juwele nie.

18 Koraal en kosbare kristal

kan dit nie betaal nie.

Wysheid het meer waarde

as pêrels.

19 Topaas uit Etiopië*

kan nie daarvoor

ingeruil word nie,

want die waarde daarvan

is meer

as die suiwerste goud.

20 Maar weet mense

waar om wysheid te vind?

Waar kan hulle insig kry?

21 Dit is weggesteek.

Geen lewende wese

kan dit sien nie.

Selfs die voëls in die lug

kan dit nie bespeur nie.

22 Maar Verwoesting en Dood sê:

‘Ons het ’n gerug gehoor

waar jy wysheid kan kry.’

23 God ken die weg daarheen,

Hy alleen weet

waar dit te vind is,

24 want Hy kyk oor die hele aarde

en sien alles

onder die ganse hemel.

25 Hy laat die winde waai

en Hy bepaal hoeveel reën

moet val.

26 Hy maak die wette

van die reën,

en berei ’n pad vir die weerlig.

27 Nadat Hy dit alles gedoen het,

het Hy wysheid gesien

en dit afgemeet.

Hy het dit gevestig

en deeglik getoets.

28 Dit is wat Hy

vir die mensdom sê:

‘Om die Here te dien

is ware wysheid.

Om die kwaad te vermy

is ware insig.’”

JOB 29

Job: Ek verlang na wat verby is

1 Job het die gesprek voortgesit:

2 “Ek verlang na die ou jare,

na die tyd toe God

vir my gesorg het,

3 toe Hy die pad

voor my oë verlig het

sodat ek veilig

in die donkerte kon loop.

4 In my vroegste jare

was God ’n vriend

in my huis.

5 Die Almagtige was nog by my

en my kinders was om my.

6 In daardie dae het my koeie

oorvloedig melk gegee

en daar het strome olie

uit my olyfboorde gevloei.

7 “Ek het na die stadspoort toe

gegaan

om tussen die geëerde leiers

te gaan sit.

8 Jongmense het padgegee

as ek aankom.

Selfs bejaardes het opgestaan

uit respek vir my.

9 Die leiers het stilgebly

en in stilte bly staan

met die hand op die mond.

10 Die belangrikste amptenare

van die stad

het eenkant stil gestaan

en uit respek vir my

stilgebly.

11 Almal wat van my gehoor het,

het my geprys.

Dié wat my gesien het,

het goed

van my gepraat.

12 Want ek het die armes gehelp

in hulle nood,

en die weeskind

wat niemand gehad het

om hom te help nie.

13 Ek het mense gehelp

wat alle hoop verloor het,

en hulle het my geseën.

Ek het ’n lied gebring

in die harte van weduwees.

14 Wat ek ook al gedoen het,

was regverdig en opreg.

Regverdigheid was oor my

soos ’n kleed

en reg het my hoof bedek.

15 Ek was soos oë vir die blindes

en voete vir dié

wat verlam is.

16 Ek was ’n vader vir die armes

en het gesorg

dat die vreemdeling

regverdig verhoor word.

17 Ek het die greep

van wettelose verdrukkers

verbreek

en hulle gevangenes

uit hulle mag vrygestel.

18 “Ek het gedink:

‘Ek sal tog sekerlik sterf,

deur my familie omring,

na ’n lang en goeie lewe.

19 Want ek is soos ’n boom

wat by waters staan,

en wat elke môre

met dou verfris word.

20 Ek ontvang gedurig

eerbewyse,

en my krag word elke dag

vernuwe.’

21 “Elkeen luister na my

en waardeer my raad.

Hulle wag in stilte vir my

om te praat.

22 Wanneer ek gepraat het,

kon hulle niks byvoeg nie,

want hulle was tevrede

met my raad.

23 Hulle het gewag vir my

om te praat,

soos ’n mens wag op reën.

My woorde was vir hulle

soos ’n fris lentereën.

24 Wanneer hulle moedeloos

was,

het ek hulle met ’n glimlag

bemoedig.

Wanneer ek met goedkeuring

na hulle kyk,

was dit vir hulle kosbaar.

25 Ek was soos hulle leier

wat hulle op die regte pad lei.

Ek was soos ’n koning

tussen sy manskappe,

en soos iemand wat die treurendes

vertroos.”

JOB 30

Job: Ek ervaar net ellende

1 “Maar nou word ek bespot

deur jong manne

wie se pa’s te sleg was

om saam met honde

my skape op te pas.

2 Hulle was in elk geval

vir my niks werd nie –

’n klomp nuttelose skurke!

3 Uitgeteer van honger

dwaal hulle verlate

in die woestyn en die wildernis.

4 Hulle maak blare bymekaar

by die bosse

en eet die wortels van besembosse.

5 Hulle is weggejaag

uit die samelewing.

Mense skree op hulle

soos op diewe.

6 Daarom leef hulle nou

in skrikwekkende klowe,

in rotsskeure en grotte.

7 Hulle klink soos diere

waar hulle

tussen die wilde struike lewe

en saam skuiling soek

tussen die bossies.

8 Hulle is naamlose dwase,

uitgeworpenes van die samelewing.

9 “Dit is nou hulle

wat my spot

met hulle walglike liedjies!

Hulle tart my!

10 Hulle kyk op my neer.

Hulle kom nie naby my nie,

behalwe om in my gesig te spoeg.

11 God het my platgeslaan.

Hy het my verneder.

En nou doen mense dieselfde

met my.

12 Die spul val my aan.

Hulle loop my voete

onder my uit.

Hulle lê strikke in my pad.

13 Hulle versper my pad

en doen alles

om my ellende te vererger

terwyl hulle weet

dat ek niemand het

om my te help nie.

14 Hulle storm uit alle rigtings

op my af,

waar ek geval het, storm hulle oor my.

15 Ek lewe in angs

en het geen selfrespek oor nie.

My hoop dat ek gered kan word,

het soos mis voor die son

verdwyn.

16 “Dit voel of die lewe

uit my loop.

Hartseer oorweldig my elke dag.

17 In die nag hou die pyn

my wakker

soos dit vreet aan my bene.

18 God het my met geweld

aan my klere gegryp.

Hy gryp my aan my jas se kraag.

19 Hy gooi my in die modder.

Ek het soos stof en as

geword.

20 “Ek roep na U, o God,

maar U antwoord nie.

Ek staan voor U,

maar U sien my

nie raak nie.

21 U was genadeloos teenoor my.

U vervolg my

met u groot krag.

22 U tel my op

en laat die wind

my wegwaai.

U gooi my rond in die storm.

23 Ek weet U stuur my

na die dood,

die bestemming

van alles wat leef.

24 “Sekerlik sal niemand

die hand lê

op ’n stukkende mens

wat in sy ellende

om hulp roep nie!

25 Het ek nie gehuil

oor mense

wat swaarkry nie?

Was ek nie hartseer

oor arm mense

se lyding nie?

26 Daarom het ek medelye

verwag.

Maar in plaas van goed,

het kwaad my getref.

Ek het gewag vir die lig,

maar dit het donker gebly.

27 Ek is ontsteld en rusteloos.

My lewe bestaan

uit swaarkry.

28 Ek leef in somberheid

waar die son nie meer

vir my skyn nie.

Ek staan op die plein

en roep om hulp.

29 Die jakkalse is my broers

en ek lewe saam met

volstruise.

30 My vel het swart geword,

ek brand van die koors.

31 My harp speel ’n treurlied.

My fluit begelei mense

wat huil.”

JOB 31

Job: Ek het nie sonde gedoen nie

1 “Ek het myself belowe

dat ek nooit

na ’n jong meisie sal kyk

om haar te begeer nie.

2 Wat het God daarbo

vir ons gekies?

Wat is ons erfdeel

van die Almagtige?

3 Dit is ellende

vir die kwaaddoener

en rampe vir die boosdoener.

4 Sien Hy nie hoe ek optree nie?

Tel Hy nie elke tree

wat ek gee nie?

5 “Het ek ooit vir iemand gelieg,

of iemand bedrieg?

6 Laat God my dan weeg

met die regte maatstaf.

Hy ken my onskuld.

7 Het ek van die regte pad

afgedwaal?

Of het ek iets begeer

wat ek gesien het?

Is ek skuldig

aan enige ander sonde?

8 Laat iemand anders dan oes

wat ek geplant het

en alles uitpluk

wat ek gesaai het.

9 “As ek verlei is deur ’n vrou

of my buurman se vrou

begeer het,

10 mag my vrou

aan ’n ander behoort

en ander mans by haar slaap.

11 Want wellus

is ’n skandelike sonde,

’n misdaad

wat gestraf moet word.

12 Dit is ’n vernietigende vuur.

Dit sou alles verwoes het

wat ek besit.

13 “As ek onregverdig was

teenoor my manlike en vroulike

werkers,

of geweier het

om na hulle te luister,

14 hoe sou ek God

in die oë kon kyk

wanneer Hy my tot

verantwoording roep?

Wat sou ek antwoord

as Hy my daaroor ondervra?

15 Want Hy het my

en my werkers gemaak.

Hy is ons almal se Skepper.

16 “Het ek geweier

om die armes te help?

Of die hoop vernietig

van die weduwees

wat na my gekyk het vir hulp?

17 Was ek suinig

met my kos

en het ek geweier om dit te deel

met honger weeskinders?

18 Nee! Van jongs af

sorg ek vir weeskinders

soos ’n pa.

My hele lewe lank

gee ek om vir weduwees.

19 Waar ek ook al mense

dakloos en ’n arm man

sonder klere gesien het,

20 het hulle my geprys

omdat ek vir hulle

wolklere gegee het

om hulle warm te hou.

21 As ek gewelddadig was

teenoor ’n weeskind

omdat ek gedink het

ek sou daarmee wegkom –

22 mag my arm dan uit sy potjie

gedraai word!

Mag my arm van my skouer

afgeruk word!

23 Dit sou beter wees

as om onder die oordeel

van God te kom.

Want as ek

teen die Allerhoogste

moet staan,

watter hoop is daar vir my?

24 “Het ek op geld vertrou,

of gedink is ek veilig

omdat ek baie goud besit?

25 Hang my geluk af

van my rykdom

en alles wat ek besit?

26 Het ek ooit gekyk

na die son wat skyn,

of na die maan se silwerbaan

deur die ruimte,

27 en my heimlik laat verlei

om hulle te aanbid?

28 As dit so was, sou regters

my gestraf het,

want ek sou die God van die hemel

verloën het.

29 “Het ek ooit gejuig

by die ondergang

van my vyande?

Of was ek bly

as hulle skade gely het?

30 Nee, ek het nooit gesondig

deur enigiemand te vervloek

of iemand te verwens nie.

31 My werkers het nooit gesê

dat ek iemand laat honger ly nie.

32 Ek het nooit ’n vreemdeling

weggewys nie.

My deur het altyd

vir almal oopgestaan.

33 Het ek ooit probeer

om my sondes weg te steek

soos mense graag doen?

Het ek my ongeregtighede

probeer ontken?

34 Het ek stilgebly daaroor

en nie buitentoe gegaan nie

omdat ek bang was

dat mense op my sou neersien

en my verag?

35 “As daar maar net iemand was

wat na my wou luister

en my kant van die saak

wou sien!

Kyk, ek teken my naam

as my verdediging.

Laat die Almagtige

my wys dat ek verkeerd is.

Laat my Aanklaer

die klag teen my uitskryf!

36 Dan sou ek die aanklag

teenstaan.

Ek sou dit dra soos ’n kroon.

37 Want ek sou Hom presies sê

wat ek gedoen het.

Ek kan voor Hom staan,

soos ’n prins.

38 “As die grond wat ek bewerk

my aankla,

en al die ploegvore saam ween,

39 as ek dit wat daaruit

opgekom het, geëet het

sonder om te betaal,

of die eienaars vermoor het,

40 laat daar dan dissels groei

op daardie land

in die plek van koring,

en onkruid

in die plek van gort.”

Hier eindig Job se woorde.

JOB 32

Elihu reageer op Job se vriende

1 Job se drie vriende het geweier om verder met hom te argumenteer omdat hy daarop aangedring het dat hy onskuldig is.

2 Barakel se seun Elihu, ’n Bussiet uit die familie van Ram, het hom vir Job vererg. Hy was woedend omdat Job geweier het om te erken dat hy enige sonde gedoen het en dat God reg opgetree het om hom te straf.

3 Maar hy was ook kwaad vir Job se drie vriende omdat hulle Job nie kon antwoord nie en aantoon dat hy skuldig was nie.

4 Elihu het gewag voor hy praat omdat die ander mans ouer as hy was.

5 Maar toe hy sien dat hulle drie niks verder het om te sê nie, was hy woedend.

6 Elihu seun van Barakel die

Bussiet het gesê:

“Ek is nog jonk,

en julle is al oud.

Daarom was ek bang.

Ek wou nie waag

om vir julle te sê

wat ek dink nie.

7 Ek het gedink:

Laat mense wat ouer is, praat,

want wysheid kom met jare.

8 Dit is die gees in die mens

wat die mens insig gee,

die asem wat van die Almagtige

kom.

9 Maar soms is bejaardes

nie wys nie.

Soms het bejaardes

nie begrip

vir regverdigheid nie.

10 “Luister daarom

na my mening.

Ek sal julle sê wat ek dink.

11 Ek het lank gewag.

Ek het versigtig

na julle argumente geluister.

Ek het gehoor

hoe julle na woorde soek.

12 Ek het met aandag geluister,

maar nie een van julle

kon Job se argumente

weerlê of hom antwoord nie.

13 Moenie sê:

‘Ons het wysheid gevind.

Net God kan hom oortuig,

nie ’n mens nie.’

14 As Job met my geredeneer het,

sou ek nie dieselfde

argumente as julle

gebruik het nie!

15 “Julle is verslae.

Julle het niks meer te sê nie, woorde

ontbreek julle.

16 Moet ek aanhou wag,

noudat julle stil geword het?

Moet ek ook stilbly

omdat julle niks het om te sê nie?

17 Nee, ek sal sê wat ek dink.

Ek sal sekerlik

my mening gee.

18 Ek is tot barstens toe

vol woorde

en my gees dryf my

om te praat.

19 Ek is soos gistende wyn

in ’n nuwe wynsak.

My woorde is gereed

om uit te bars!

20 Ek moet praat

om verligting te kry.

Daarom, luister na wat ek sê

as ek antwoord.

21 Ek sal niemand voortrek nie,

en ek sal niemand vlei nie.

22 As ek dit sou probeer doen,

sou my Maker

’n einde aan my maak.”

JOB 33

Elihu spreek Job aan

1 “Luister na my woorde, Job!

Hoor alles wat ek wil sê!

2 Ek het nou begin,

laat my praat.

3 Ek praat in opregtheid,

ek het die waarheid in my mond.

4 Die Gees van God

het my gemaak,

die asem van die Almagtige

gee my lewe.

5 Antwoord my dan, as jy kan!

Berei jou voor

en stel jou standpunt.

6 Kyk, ek en jy

is dieselfde voor God.

Ek is ook van stof gemaak.

7 Daarom hoef jy nie

vir my bang te wees nie.

Ek gaan nie hard op jou afkom nie.

8 “Ek het na jou geluister,

ek het elke woord gehoor

wat jy gesê het.

9 Jy sê: ‘Ek is rein,

sonder sonde,

ek is onskuldig,

ek het nie gesondig nie.

10 God soek skoor met my.

Hy beskou my as sy vyand.

11 Hy sit my voete in die blok.

Elke tree van my

hou Hy dop.’

12 “Ek sê vir jou

jy is verkeerd.

Jy het self gesê:

‘God is groter as ’n mens.’

13 Nou, waarom bring jy dan

’n klag teen Hom?

Jy sê: ‘Hy luister nie

na mense nie.’

14 Maar God praat

op verskillende maniere.

Ons kom dit net nie agter nie.

15 Hy praat deur drome

en visioene,

in die nag wanneer mense

diep slaap

en op hulle beddens lê.

16 Hy fluister in hulle ore

en verskrik hulle

met sy waarskuwings.

17 Hy laat mense van gedagte

verander

om hulle van verkeerde dade

weg te hou,

en hulle van hoogmoed

te weerhou.

18 Hy red hulle van die graf,

van die diep rivier

van die dood.

19 Soms praat Hy met mense

deur ernstige siekte op ’n siekbed,

as pyn aan hulle liggaam knaag.

20 Dan verloor mense hulle

eetlus.

Die lekkerste kos walg hulle.

21 Hulle is later net vel en been.

22 Hulle staan met die een voet

in die graf.

Die dood wag vir hulle.

23 “Maar as ’n hemelse

boodskapper, ’n baie unieke een,

intree vir so ’n persoon

en hom regverdig verklaar,

24 sal God hom genadig wees

en sê:

‘Laat hom vry.

Moenie dat hy sterf nie,

want Ek het ’n losprys gevind

vir sy lewe.’

25 Dan word sy liggaam

weer so gesond

soos dié van ’n kind,

ferm en jeugdig

soos toe hy jonk was.

26 As hy bid tot God,

sal Hy hom aanvaar.

God sal hom met vreugde

ontvang,

en hom ’n mens maak

wat reg lewe.

27 Hy sal vir sy vriende sê:

‘Ek het gesondig

en verkeerd gedoen,

maar God het my nie gestraf

soos wat ek verdien het nie.

28 God het my gered van die graf,

en nou is my lewe

gevul met lig.’

29 “Ja, God doen al hierdie dinge

vir mense, weer en weer.

30 Hy red hulle van die graf

sodat hulle mag lewe

in die lig van die lewendes.

31 “Luister mooi, Job.

Luister na my.

Bly stil

en laat my nog praat.

32 As jy my kan antwoord,

praat dan.

Ek sou jou graag gelyk wou gee

dat jy geregverdig is.

33 As jy niks het om te sê nie,

luister dan na my.

Ek sal vir jou

wysheid leer.”

JOB 34

Elihu herinner Job aan God se

regverdigheid

1 Elihu het gesê:

2 “Luister na my,

julle wyse mans.

Gee aandag,

julle wat baie kennis het.

3 Net soos die mond

goeie kos proe,

so toets die oor die woorde.

4 Daarom, laat ons vir onsself

onderskei wat reg is;

laat ons saam leer wat goed is.

5 “Job het gesê:

‘Ek is onskuldig,

maar God het my regte

weggeneem.

6 Ek is onskuldig,

maar hulle noem my

’n leuenaar.

My lyding is ongeneeslik,

al het ek nie gesondig nie.’

7 Was daar al ooit iemand

so verwaand soos Job,

met sy dors na lasterlike praatjies?

8 Hy soek die geselskap op

van bose mense.

Hy bestee sy tyd

met kwaaddoeners.

9 Hy het selfs gesê:

‘Ek mors my tyd

om God tevrede te stel.’

10 “Luister na my,

julle wat verstand het!

Almal weet dat God

nie sondig nie.

Die Almagtige doen niks

verkeerd nie.

11 Hy vergeld mense

volgens hulle dade.

Hy behandel mense

volgens hulle optrede.

12 Dis ondenkbaar dat God

die verkeerde sou doen.

Die Almagtige kan nie

die reg verdraai nie.

13 Wie het die aarde

aan God se sorg toevertrou?

Wie het Hom aangestel

oor die hele wêreld?

14 As Hy sy Gees wegneem

en sy asem onttrek,

15 hou alle lewe op om te bestaan.

Mense word dan stof.

16 “As jy enige verstand het,

luister dan hierna.

Hoor wat ek sê.

17 Sou God kon regeer

as Hy regverdigheid haat?

Kan jy waag

om die almagtige Regter

te veroordeel?

18 Want Hy sê aan konings:

‘Julle is boos!’

en aan vername mense:

‘Julle is onregverdig.’

19 Dit maak nie vir Hom saak

hoe belangrik jy is nie.

Hy kies ook nie tussen ryk

en arm nie.

Hy het hulle almal gemaak.

20 Hulle sterf in ’n oomblik

teen middernag.

Die sterkstes word verwyder

sonder dat iemand

iets daaraan kan doen.

21 “Hy kyk na hoe mense leef;

Hy sien alles wat hulle doen.

22 Die kwaaddoener

kan in geen donker plek,

hoe donker ook al,

vir Hom wegkruip nie.

23 Dit is nie vir ’n mens

om te besluit

wanneer hy

in God se oordeel kom nie.

24 Hy vernietig sterk mense

sonder om iemand te vra

en stel ander aan in hulle plek.

25 Hy kyk wat hulle doen.

In die nag keer Hy hulle om

en vernietig hulle.

26 Hy straf hulle

vir hulle slegte dade

waar almal dit kan sien.

27 Hulle het mos opgehou

om Hom te volg.

Hulle het hulle nie

aan Hom gesteur nie.

28 Deur hulle toedoen

moes die armes

na Hom roep om hulp.

En God het dit gehoor.

Ja, Hy hoor altyd

die noodroep van mense.

29 Wanneer Hy stilbly,

wie kan Hom kritiseer?

As Hy Hom verberg,

wie kan Hom sien?

Hy besluit oor volke en mense.

30 Hy sorg dat ’n goddelose

nie oor mense regeer

en hulle in ’n valstrik lei nie.

31 “Hoekom sê mense

nie vir God:

‘Ek het gesondig,

maar ek sal nie weer sondig nie’?

32 Of: ‘Ek weet nie wat ek

verkeerd gedoen het nie.

Sê vir my sodat ek daarmee

kan ophou.’

33 Moet God optree

volgens jou eise

omdat jy weier

om jou te bekeer?

Jý moet kies, nie ek nie.

Deel jou wysheid met ons!

34 “Mense met begrip verklaar,

wyse mense wat my hoor,

sê vir my:

35 ‘Job praat sonder kennis.

Sy woorde is sonder insig.’

36 Job, jy verdien

die swaarste straf

vir jou bose praatjies.

37 Want nou het jy

by al jou ander sondes

ook opstand en godslastering

daarby gevoeg.”

JOB 35

1 Elihu het verder gesê:

2 “Dink jy dit is reg om te sê:

‘Ek is regverdig voor God’?

3 Tog het jy ook gevra:

‘Wat help dit

om reg te lewe?

Wat kan dit my baat

om nie te sondig nie?’

4 “Ek sal jou en al jou vriende

antwoord.

5 Kyk op in die lug,

sien die wolke

hoog bokant jou raak.

6 As jy sondig, hoe raak dit Hom?

Selfs as jy aanhou

om weer en weer sonde te doen,

wat doen dit aan Hom?

7 Of as jy reg optree,

wat beteken dit vir Hom?

Wat kan jy vir Hom gee?

8 Jou sondes raak net die mense

soos jy

en jou goeie dade

beïnvloed net ander mense.

9 “Mense roep om hulp

onder hulle swaar

verdrukking.

Hulle kreun onder die mag

van die sterkes.

10 Tog vra hulle nie:

‘Waar is God, ons Maker,

die Een wat ons

’n lied laat sing in die nag?

11 Waar is Hy

wat ons meer geleer het

as vir die diere

en ons slimmer gemaak het

as die voëls?’

12 Mense roep om hulp

en Hy antwoord nie

weens hulle boosheid

en hoogmoed.

13 Maar dit is verkeerd om te sê

God luister nie,

die Almagtige gee nie om nie.

14 Dit is nog meer vals om te sê

Hy sien nie wat aangaan nie.

Hy sal geregtigheid laat geskied

as jy net sal wag.

15 Maar roep jy uit teen Hom

omdat Hy nie in woede

reageer op sondaars nie

en nie weet van boosheid nie?

16 Job, jy het tevergeefs

geprotesteer.

Jy het gepraat soos ’n dwaas.”