NEHEMIA 9

Die Israeliete bely hulle sonde

1 Op 31 Oktober het die Israeliete vir ’n vasdag bymekaargekom.

Hulle het klere van sakmateriaal aangetrek en stof op hulle koppe gegooi.

2 Die mense van Israelitiese afkoms het toe alle bande met vreemdelinge verbreek. Hulle het daar gestaan en hulle sondes en ook die skuld van hulle voorouers bely.

3 Hulle het vir omtrent ’n kwart van die dag gestaan terwyl die wetboek van die Here hulle God vir hulle voorgelees is.

Vir die volgende kwart van die dag het hulle om die beurt belydenis van hulle sondes gedoen en die Here hulle God aanbid.

4 ’n Paar Leviete het op die trappe van die Leviete gestaan en hardop die Here hulle God gesmeek. Hulle name was Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani.

5 Toe het die Leviete, Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja, vir die volk gesê: “Staan op! Loof die Here julle God, want Hy leef van ewigheid tot ewigheid!” Toe het hulle die Here geloof:

“Mag u wonderlike Naam

geprys word!

Geen lofprysing

of danksegging

kan dit ooit beskryf nie.

6 U alleen is die Here.

U het die hemele, die hoë hemel

en al die sterre gemaak.

U het ook die aarde en die see

en alles daarin gemaak.

U gee lewe aan alles,

die hemelse engele aanbid U.

7 U is die Here God,

U het Abram gekies

en hom gebring

uit Ur van die Galdeërs.

U het hom Abraham genoem.

8 Toe U sien dat hy getrou was,

het U ’n verbond gesluit met hom

om aan hom en sy nageslag

die land van die Kanaäniete,

die Hetiete en Amoriete,

die Feresiete, Jebusiete

en Girgasiete te gee.

U het gedoen

wat U beloof het,

want U is getrou aan u woord.

9 “U het gesien

hoe ons voorouers

swaarkry in Egipte,

U het gehoor

hoe hulle roep by die Rietsee.

10 U het wonders en tekens

teen die farao gedoen,

teen sy diensknegte

en al die mense van sy land.

U het geweet dat hulle u volk

sonder respek behandel.

U dwing tot vandag toe nog

net soveel respek af.

11 U het die see voor hulle oopgekloof

sodat u volk

op droë grond kon deurtrek!

Maar U het hulle agtervolgers

in die diep waters gegooi,

soos ’n klip in magtige waters.

12 Bedags het U ons voorouers

deur ’n wolkkolom gelei

en snags deur ’n vuurkolom.

So kon hulle weet

watter rigting om te gaan.

13 “U het uit die hemel

na Sinaiberg toe afgekom

en met hulle gepraat.

U het vir hulle gegee:

voorskrifte wat regverdig is

en gebooie wat seker is,

voorskrifte en bevele

wat goed is.

14 U het hulle geleer

van u heilige Sabbatdag,

hulle beveel om die opdragte,

voorskrifte en gebooie

wat U gegee het

deur u dienskneg Moses

te gehoorsaam.

15 “Toe hulle honger was,

het U uit die hemel

vir hulle brood gegee.

Toe hulle dors was,

water uit die rots.

U het hulle opdrag gegee

om die land in te neem

wat U met ’n eed

aan hulle beloof het.

16 Maar ons voorouers

was verwaand en hardkoppig,

hulle wou u bevele

nie gehoorsaam nie.

17 “Hulle was ongehoorsaam

en het vergeet

van al die wonders

wat U vir hulle gedoen het.

Hulle was hardkoppig.

Hulle het ’n leier aangestel

om hulle terug te vat

na hulle slawerny in Egipte.

Maar U is ’n God wat vergewe,

genadig en vol deernis.

U word nie vinnig kwaad nie,

U is liefdevol en getrou.

U het hulle

nie in die steek gelaat nie,

18 selfs toe hulle vir hulle

’n beeld van ’n kalf gemaak het.

Hulle het gesê:

‘Hierdie is julle god

wat julle gebring het

uit Egipte!’

Hulle het verskriklike,

godslasterlike dinge gedoen.

19 Maar in u groot liefde

het U hulle nie in die woestyn

aan hulle lot oorgelaat nie.

In die dag het die wolkkolom

steeds vir hulle

die koers aangedui.

In die nag het die vuurkolom

steeds hulle pad verlig.

20 U het u goeie Gees gegee

om hulle te leer.

U het ook nie opgehou

om vir hulle brood uit die hemel

te gee en water

om hulle dors te les nie.

21 U het hulle vir 40 jaar

in die woestyn onderhou.

In dié tyd

het hulle niks kortgekom nie.

Hulle klere het nie verweer nie,

hulle voete nie geswel nie!

22 “U het ons voorouers gehelp

om koninkryke en nasies

te oorwin.

U het groot dele land

aan hulle toegewys.

Hulle het die grondgebied

van koning Sihon

van Hesbon

en koning Og van Basan

oorgeneem.

23 U het hulle kinders

so baie gemaak

soos die sterre in die hemel.

U het hulle gebring in die land

wat U gesê het

hulle voorouers

moet in besit neem.

24 Hulle het die land ingegaan

en dit in besit geneem.

U het die mense van die land

aan hulle onderwerp.

Selfs die konings

en die Kanaäniete

wat in die land gebly het,

was magteloos!

U volk kon met hulle doen

net wat hulle wou.

25 Ons voorouers

het versterkte stede

ingeneem

en vrugbare grond ingepalm.

Hulle het ook huise

vol kosbaarhede oorgeneem.

Die putte was klaar gegrawe,

die wingerde, olyfbome

en vrugteboorde was volop.

Hulle het geëet, en vet geword,

en die voorspoed geniet

wat U gegee het.

26 “Ten spyte hiervan

was hulle ongehoorsaam

en opstandig teen U.

Hulle het u wet verwerp.

U profete

het hulle probeer oortuig

om na U toe terug te keer.

Maar hulle het

hulle doodgemaak

en godslasterlike dinge gedoen.

27 Daarom het U

hulle oorgegee

aan hulle vyande

wat die lewe

vir hulle moeilik gemaak het.

Toe dit met hulle swaar gaan,

het hulle by U

om hulp geroep.

U het hulle gehoor

uit die hemel.

In u groot goedheid

het U mense gestuur

om hulle te verlos

uit die mag van hulle vyande.

28 Maar sodra dit goed gaan,

begin u volk weer sondig.

U het toegelaat dat hulle vyande

hulle weer oorwin.

Elke keer as u volk hulp vra,

het U maar weer gehoor

uit die hemel.

U het hulle keer op keer

vrygemaak

omdat U so baie

vir hulle omgee.

29 U het hulle gewaarsku

om u wet te gehoorsaam,

maar hulle was hoogmoedig

en wou nie u wette

gehoorsaam nie.

Mense wat u voorskrifte

gehoorsaam,

ontdek wat die lewe werklik is.

Maar u voorskrifte

het hulle oortree.

Hulle het die rug op U gedraai

en geweier om na U te luister.

30 U was vir baie jare

geduldig met hulle.

U het gereeld deur u Gees

profete gestuur

om hulle te waarsku,

maar hulle

wou nie luister nie!

Daarom het U hulle weer

oorgelewer

aan die heidense inwoners

van die land.

31 Maar omdat U meegevoel

met hulle het,

het U hulle

nie heeltemal uitgeroei

of verwerp nie.

U is ’n God wat liefdevol is

en baie genade het!

32 “U is ons God,

U is groot en magtig!

U is die ongelooflike God.

U hou die verbond

en is getrou in u liefde.

Moet tog nie al ons swaarkry

geringskat nie.

Ons en ons konings,

ons leiers, priesters, profete,

ons voorouers en die hele volk

het gely vanaf die tyd

van die Assiriese konings

tot vandag toe.

33 Elke keer as U ons straf,

was dit regverdig.

U was reg,

ons het verkeerd gedoen.

34 Ons konings en leiers,

priesters en voorouers

was ongehoorsaam aan u wet.

Hulle het hulle nie gesteur

aan u bevele

en u waarskuwings nie.

35 Selfs in die tyd

toe hulle eie konings

oor hulle regeer het

en U hulle

baie voorspoedig gemaak het,

het hulle U nie gedien nie.

Al het U vir hulle

’n groot, vrugbare land gegee,

het hulle nog steeds aangehou

om verkeerde dinge te doen.

36 “En nou is ons vandag slawe!

U het vir ons voorouers

’n vrugbare land gegee

waar hulle voorspoed

kon geniet.

Nou is ons slawe daarin!

37 Die oorvloed van die land

behoort nou aan die konings

wat U aangestel het

om oor ons te heers.

Omdat ons gesondig het,

het hulle mag oor ons

en ons vee.

Ons kry baie swaar,

want hulle doen met ons

net wat hulle wil.

38 “Ten spyte hiervan maak ons ’n plegtige belofte wat ons op skrif stel. Op hierdie verseëlde dokument staan die name van ons leiers, ons Leviete en priesters.”

NEHEMIA 10

Belofte om gehoorsaam te wees

1 Die volgende name was in die geseëlde dokument: Die goewerneur Nehemia seun van Gakalja.

Verder ook die priesters Sedekia,

2 Seraja, Asarja, Jeremia,

3 Pasgur, Amarja, Malkija,

4 Gattus, Sebanja, Malluk,

5 Garim, Meremot, Obadja,

6 Daniël, Ginneton, Baruk,

7 Mesullam, Abia, Mijamin,

8 Maäsja, Bilga en Semaja.

9 Die Leviete was Jesua seun van Asanja, Binnuï uit die Genadadgroep en Kadmiël,

10 met hulle ampsgenote, Sebanja, Hodija, Kelita, Pelaja, Ganan,

11 Miga, Regob, Gasabja,

12 Sakkur, Serebja, Sebanja,

13 Hodija, Bani en Beninu.

14 Die leiers van die volk was Paros, Pagat-Moab, Elam, Sattu, Bani,

15 Bunni, Asgad, Bebai,

16 Adonia, Bigwai, Adin,

17 Ater, Hiskia, Assur,

18 Hodija, Gasum, Besai,

19 Garif, Anatot, Nebai,

20 Magpias, Mesullam, Gesir,

21 Mesesabel, Sadok, Jaddua,

22 Pelatja, Ganan, Anaja,

23 Hosea, Gananja, Gassub,

24 Loges, Pilga, Sobek,

25 Regum, Gasabna, Maäseja,

26 Agija, Ganan, Anan,

27 Malluk, Garim en Baäna.

28 Die res van die volk wie se name op die geseëlde dokument was, was die priesters, Leviete, poortwagte, sangers en die tempelwerkers. Verder ook al die ander mense wat hulle van die heidenvolke afgeskei het om die wet van God te gehoorsaam. Hierdie groep wat bestaan het uit die vroue en seuns en dogters wat reeds kon verstaan waaroor dit gaan,

29 het hulle leiers se voorbeeld gevolg. Hulle het ’n plegtige belofte afgelê om te leef volgens die wet van God wat Moses, die dienaar van God, aan die volk gegee het. Hulle het ook beloof om gehoorsaam te wees aan al die gebooie van die Here ons God en aan sy reëls en voorskrifte.

Die mense se belofte

30 Hulle het onderneem: “Ons sal nie ons dogters met die heidense mense van die land laat trou nie. Ons sal ook nie ons seuns toelaat om met hulle dogters te trou nie.

31 Verder, as die mense van die land handelsware of koring bring om op die Sabbat of op ’n dag wat aan die Here gewy is, te verkoop, sal ons weier om dit te koop. Ons sal ook elke sewende jaar nie die grond bewerk nie en alle skuld kanselleer.

32 “Ons onderneem ook om jaarliks die belasting van vier gram goud vir die onderhoud van ons God se tempel te betaal.

33 Dit sal voorsiening maak vir die offerbrood, die gereelde graanoffers en brandoffers, offers op die Sabbat, Nuwemaanfeeste en die jaarlikse feeste. Verder ook vir spesiale gewyde dae, offers om Israel se sondes te versoen en vir ander werk by ons God se tempel.

34 “Daar was ook hout nodig wat volgens die wet op die altaar by die tempel van die Here ons God moes brand. Ons het lootjies getrek om te besluit wanneer die families van die priesters, die Leviete en die gewone mense volgens vasgestelde beurte die hout moes bring.

35 “Ons sal ook elke jaar die eerste graan wat ons oes of die eerste vrugte van al die bome na die Here se tempel toe bring.

36 Soos die wet vereis, sal ons ons oudste seuns en die eerste kalf en lammetjie na die tempel van God bring. Ons sal hulle bring na die priesters wat by die tempel van ons God diens doen.

37 Ons sal ons beste meel en koring, ons beste vrugte, nuwe wyn en olyfolie bring. Ons sal dit opgaar in die stoorkamers van ons God se tempel. Ons sal ook vir die Leviete ’n tiende bring van alles wat ons land oplewer. Hulle versamel mos die tiendes in al die dorpies waar ons werk.

38 Daar sal ’n priester uit Aäron se familie by die Leviete wees as hulle die tiendes ontvang. Die Leviete sal ’n tiende van alle tiendes wat hulle insamel na die tempel toe bring en in die stoorkamers wegbêre.

39 Die mense van Israel en die Leviete moet al hierdie graanoffers, die nuwe wyn en die olyfolie na die stoorkamers by die tempel bring. Dit is waar hulle die tempelgereedskap bêre, en waar die priesters wat diens doen asook die tempelwagte en sangers bly.

“Ons sal die tempel van ons God nie verwaarloos nie.”

NEHEMIA 11

Mense wat in Jerusalem gaan

woon het

1 In hierdie stadium het die leiers van die mense in Jerusalem gebly. ’n Tiende van die mense uit ander dorpe van Juda en Benjamin is deur die lot aangewys om ook daar te gaan bly. Die res van die mense moes bly waar hulle is.

2 Sommige mense het vrywillig in Jerusalem gaan woon. Die mense het hulle net die beste toegewens.

3 Hier volg nou ’n lys van die name van die leiers van die provinsies wat na Jerusalem toe gekom het. Die meeste van die mense, priesters, Leviete, tempelwerkers en van die nageslag van Salomo se dienaars, het in hulle eie huise in die verskillende dorpe van Juda bly woon.

4 Sommige van die mense van Juda en Benjamin het egter in Jerusalem hervestig: Uit die Judastam was daar: Ataja seun van Ussia, seun van Sagaria, seun van Amarja, seun van Sefatja, seun van Mahalalel, uit die familie van Peres.

5 Maäseja seun van Baruk, seun van Kol-Gose, seun van Gasaja, seun van Adaja, seun van Jojarib, seun van Sagaria, seun van Siloni.

6 Die nakomelinge van Peres wat in Jerusalem gewoon het, was altesaam 468, almal dapper mans.

7 Nou volg die Benjaminiete: Sallu seun van Mesullam, seun van Joëd, seun van Pedaja, seun van Kolaja, seun van Maäseja, seun van Itiël, seun van Jesaja,

8 en dan ook Gabbai en Sallai. Die Benjaminiete was 928.

9 Joël seun van Sikri het die bevel oor hulle gevoer, en Juda seun van Senua was tweede in bevel oor die stad.

10 Priesters: Jedaja seun van Jojarib, en Jakin;

11 Seraja seun van Gilkija, seun van Mesullam, seun van Sadok, seun van Merajot, seun van Agitub, was hoof van die tempel.

12 Hulle ampsgenote, wat die dienswerk in die tempel gedoen het, was 822. Verder was daar Adaja seun van Jerogam, seun van Pelalja, seun van Amsi, seun van Sagaria, seun van Pasgur, seun van Malkija,

13 met sy ampsgenote, 240 familiehoofde; en Amassai seun van Asarel, seun van Agsai, seun van Mesillemot, seun van Immer,

14 met sy ampsgenote, 128 dapper manne. Die bevelvoerder oor hulle was Sabdiël seun van Gedolim.

15 Leviete: Semaja seun van Gassub, seun van Asrikam, seun van Gasabja, seun van Bunni;

16 Sabbetai en Josabad was hoofde van die Leviete. Hulle moes toesig hou oor die werk buite die tempel.

17 Mattanja seun van Miga, seun van Sabdi, seun van Asaf, wat in beheer van die sang was, moes die lofprysing by die gebed behartig. Verder was daar Bakbukja, tweede in rang onder sy ampsgenote, en Abda seun van Sammua, seun van Galal, seun van Jedutun.

18 Al die Leviete in die heilige stad was 284.

19 Die poortwagte was: Akkub, Talmon en hulle ampsgenote wat by die poorte waggehou het. Hulle was 172.

20 Die res van Israel en van die priesters en Leviete het oral in die dorpe van Juda gewoon, elkeen op hulle familiegrond.

21 Die tempelslawe het op die Ofel gewoon. Siga en Gispa was hulle leiers.

22 Ussi seun van Bani het toesig gehou oor die Leviete in Jerusalem. Hy was die seun van Gasabja, seun van Mattanja, seun van Miga, uit Asaf se familie wat as sangers by die tempel diens gedoen het.

23 Daar het ’n koninklike opdrag bestaan wat aan die sangers voorgeskryf het hoe hulle daaglikse aktiwiteite moes geskied.

24 Petagja seun van Mesesabel, uit die nageslag van Serag seun van Juda, was die verteenwoordiger van die koning vir alle sake van die volk.

25 Sommige van die Judeërs in die landelike gebiede met hulle velde het in Kirjat-Arba en in die dorpies daar rondom gewoon. Dit was in Dibon en die omringende gebiede, in Kabseël en die dorpies daar naby,

26 in Jesua, in Molada, in Bet-Pelet,

27 in Gasar-Sual, in Berseba en die omringende dorpies.

28 Verder ook in Siklag, in Mekona en omgewing,

29 in En-Rimmon, in Sora, in Jarmut,

30 in Sanoag en Adullam en die dorpies naby hulle, in Lakis en die omringende oop velde en in Aseka en die dorpies in die omgewing. Hulle was dus gevestig oor die gebied van Berseba af tot by Hinnomdal.

31 Die Benjaminiete het in Geba, Mikmas, Aja, Bet-El en nabygeleë dorpies gewoon.

32 Verder ook in Anatot, Nob, Ananeja,

33 Gasor, Rama, Gittajim,

34 Gadid, Seboïm, Neballat,

35 Lod, Ono en Vakmansdal.

36 Sommige groepe Leviete uit Juda was toegewys om in Benjamin te gaan woon.

NEHEMIA 12

’n Lys van die priesters en die

Leviete

1 Hier volg ’n lys van die priesters en die Leviete wat saam met Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua teruggekom het: Seraja, Jeremia, Esra,

2 Amarja, Malluk, Gattus,

3 Sekanja, Regum, Merajot,

4 Iddo, Ginneton, Abia,

5 Mijamin, Maädja, Bilga,

6 Semaja, Jojarib, Jedaja,

7 Sallu, Amok, Gilkija en Jedaja.

Hulle was die hoofde van die priesters en van hulle ampsgenote in die tyd van Jesua.

8 Die Leviete was Jesua, Binnuï, Kadmiël, Serebja, Juda en Mattanja. Mattanja en sy ampsgenote was verantwoordelik vir die lofsang.

9 Hulle medewerkers Bakbukja en Unni het regoor hulle diens gedoen.

10 Jesua was die vader van Jojakim, Jojakim die vader van Eljasib, Eljasib van Jojada;

11 Jojada was die vader van Jonatan en Jonatan die vader van Jaddua.

12 In die tyd van Jojakim was die volgende persone hoofde van die priesterfamilies: Meraja was hoof van die familie Seraja, Gananja van Jeremia,

13 Mesullam van Esra, Joganan van Amarja,

14 Jonatan van Malluk, Josef van Sebanja,

15 Adna van Garim, Gelkai van Merajot,

16 Sagaria van Iddo, Mesullam van Ginneton,

17 Sikri van Abia, Piltai van Mijamin en Maädja,

18 Sammua van Bilga, Jonatan van Semaja,

19 Mattenai van Jojarib, Ussi van Jedaja,

20 Kallai van Sallu, Eber van Amok,

21 Gasabja van Gilkija, Netanel van Jedaja.

22 Tydens die regering van Darius van Persië, in die tyd van Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua, is die name van die familiehoofde van die Leviete en die priesters opgeskryf.

23 Die Levitiese familiehoofde is opgeskryf in die Kroniekboeke tot die tyd van Joganan seun van Eljasib.

24 Die leiers van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua seun van Kadmiël. Oorkant hulle was hulle medewerkers wat die Here moes loof en dank. Die groepe het regoor mekaar gestaan en beurtelings op mekaar gereageer soos Dawid, die man van God, aan hulle voorgeskryf het om te doen.

25 Die ander was Mattanja, Bakbukja en Obadja.

Mesullam, Talmon en Akkub was deurwagte wat by die voorraadkamers in die poorte diens gedoen het.

26 Hierdie mense het in die tyd van Jojakim seun van Jesua, seun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die priester en skrifkenner Esra diens gedoen.

Inwyding van die muur van

Jerusalem

27 Met die inwyding van die muur om Jerusalem het hulle die Leviete oral by hulle huise gaan soek en gevra om na Jerusalem toe te kom. Hulle moes met die seremonies help en met lofliedere en die musiek van simbale, harpe en liere aan die feesvierings deelneem.

28 Hulle het sangers uit die omgewing van Jerusalem en uit die Netofanedorpies bymekaargebring.

29 Verder ook uit Bet-Gilgal en uit die landelike gebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers het almal hulle blyplekke rondom Jerusalem gebou.

30 Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die mense, die poorte en die muur.

31 Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel om lofliedere te sing. Ek het die een koor suid op die muur langs laat loop tot by die Vullispoort.

32 Agter hulle het Hosaja en die helfte van die leiers van Juda geloop,

33 en verder Asarja, Esra, Mesullam,

34 Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia.

35 Daar het ook ’n aantal priesters met trompette geloop. Hulle was Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf.

36 Laastens het sy medewerkers Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, gekom. Die skrifkenner Esra het die optog gelei.

37 By die Fonteinpoort het hulle reguit met die trappe teen die skuinste van die muur opgestap na die Dawidstad toe. Hulle het bokant die paleis van Dawid langs gestap tot by die Waterpoort aan die oostekant.

38 Die ander koor wat ook lofliedere gesing het, het noord geloop. Ek en die ander helfte van die ander mense het hulle op die muur langs gevolg, oor die Bakoondtoring tot by die Breë Muur,

39 van daar af verder bokant die Efraimspoort verby na die Ou Stadspoort toe, verby die Vispoort en die Gananeltoring. Ons het aangehou verby die Toring van die Honderd tot by die Skaappoort en toe by die Wagpoort gaan staan.

40 Die twee kore het daarna hulle plekke in die tempel ingeneem. Ek en die helfte van die leiers saam met my het dieselfde gedoen.

41 Die priesters Eljakim, Maäseja, Mijamin, Miga, Eljoënai, Sagaria en Gananja het die trompette geblaas.

42 Maäseja, Semaja, Eleasar, Ussi, Joganan, Malkija, Elam en Eser het dit ook gedoen. Die kore het onder leiding van Jisragja gesing.

43 Hulle het daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly, want God het hulle baie rede gegee om bly te wees. Die vroue en kinders was ook bly. ’n Mens kon die blydskap van die mense in Jerusalem ver hoor.

Die tempelonderhoud

44 Daardie dag het hulle mans aangestel oor die voorraadkamers vir die offergawes, die eerste deel van die oes en die tiendes. Dit was hulle verantwoordelikheid om die deel in te samel wat die wet bepaal het dat die priesters en die Leviete uit die landerye om die dorpe moes kry. Die mense van Juda was baie tevrede met die werk wat die priesters en die Leviete gedoen het.

45 Die priesters en die Leviete het hulle beurte in diens van God gedoen. Hulle het ook die voorskrifte vir die reiniging nagekom. Die sangers en die poortwagte het ook hulle werk gedoen volgens die reëls wat Dawid en sy seun Salomo neergelê het.

46 Die tradisie om koorleiers te hê wat die koor in lof- en dankliedere lei, het reeds in die tyd van Dawid en Asaf al bestaan.

47 In die tyd van Serubbabel en Nehemia het die hele Israel vir die sangers en die poortwagte se onderhoud gesorg soos dit elke dag nodig was. Hulle het ook vir die Leviete die deel gegee wat hulle toekom. Die Leviete het op hulle beurt weer gesorg dat die priesters, die nageslag van Aäron, dié deel kry wat hulle toekom.

NEHEMIA 13

Nehemia se hervormings

1 Op daardie selfde dag het hulle ook die boek van Moses vir die mense voorgelees. In die boek was ’n opdrag dat geen Ammoniet of Moabiet ooit in ’n byeenkoms van die volk van God mag kom nie.

2 Hierdie mense het destyds nie brood en water vir die Israeliete voorsien nie. Trouens, hulle het eerder vir Bileam gehuur om hulle te vervloek. Maar ons God het die vloek in ’n seën verander.

3 Nadat hulle gehoor het wat in die wet staan, het hulle dadelik mense van vreemde afkoms afgesonder van die Israeliete.

4 Net voordat dit gebeur het, het die priester Eljasib vir Tobija, ’n familielid van hom,

5 ’n groot vertrek by die tempel reggemaak. Eljasib was aangestel as toesighouer oor die stoorkamers van die tempel. Hierdie vertrek was voorheen gebruik om die graanoffers, wierook, tempelgereedskap, tiende porsies van die koring, nuwe wyn en olyfolie in te stoor. Hierdie offers was bedoel vir die Leviete, die sangers, die hekwagte en die priesters.

6 Ek was in hierdie stadium nie in Jerusalem nie. Ek het toe reeds na koning Artasasta van Babel teruggekeer. Dit was in sy 32ste jaar as koning. Ek het mettertyd by die koning toestemming gevra om na Jerusalem toe terug te gaan.

7 Met my terugkoms in Jerusalem het ek gehoor van die wandaad dat Eljasib vir Tobija ’n vertrek in die binneterrein van die tempel voorberei het.

8 Dit het my baie kwaad gemaak. Ek het al Tobija se besittings uit die vertrek uitgegooi.

9 Toe het ek opdrag gegee dat hulle die vertrekke moes reinig. Ek het die gereedskap van God se tempel, die graanoffers en die wierook daarheen teruggebring.

10 Ek het ook ontdek dat die Leviete nie hulle deel van die graanoffers gekry het nie. Hulle en die sangers wat diens gedoen het, het daarom na hulle eie grond toe teruggegaan.

11 Ek het onmiddellik die leiers voor stok gekry en gevra: “Waarom het julle die tempel van God verwaarloos?” Ek het ook die Leviete laat terugkom om hulle pligte te hervat.

12 Daarna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, nuwe wyn en olyfolie na die stoorkamers by die tempel begin bring.

13 Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook Ganan die seun van Sakkur en kleinkind van Mattanja aangestel om hulle te help. Hulle was baie betroubaar en moes toesien dat hulle medewerkers hulle regmatige dele ontvang.

14 Onthou wat ek gedoen het, my God. Moenie al die mooi dinge wat ek getrou vir u tempel gedoen het, vergeet nie.

Nehemia reël die viering van die

Sabbat

15 In daardie tyd het ek gesien hoe party van Juda se mense op die Sabbat wyn pars. Hulle het ook bondels koringgerwe aangedra en op donkies gelaai. Meer nog, hulle het wyn, druiwe, vye en allerlei ander produkte gebring om in Jerusalem op die Sabbat te verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie op dié dag kos te verkoop nie.

16 Daar was ook mense wat van Tirus afkomstig was wat vis en ander handelsprodukte gebring het. Hulle het dit op die Sabbat aan die mense van Juda verkoop, en dit in Jerusalem!

17 Ek het die leiers van Juda aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so verkeerd optree? Julle misbruik die Sabbatdag!

18 Is dit nie genoeg dat julle voorouers presies net so opgetree het nie? Dit is die rede hoekom ons God al hierdie rampe oor hierdie stad gebring het. Julle veroorsaak nog net meer woede teen die mense van Israel deur toe te laat dat hulle die Sabbat so misbruik.”

19 Ek het opdrag gegee dat hulle die ingange van Jerusalem op Vrydagaande teen sononder moes sluit. Eers as die Sabbat verby is, mag hulle dit weer oopmaak. Ek het verder van die mense in my diens gestuur om die hekke op te pas sodat niemand enige handelsware op die Sabbat inbring nie.

20 Dit het een of twee keer gebeur dat die handelaars wat met allerhande soorte ware handel dryf, buite Jerusalem moes oornag.

21 Maar ek het hulle gewaarsku en gesê: “Hoekom oornag julle hier buite die muur? As julle dit weer doen, sal ek julle arresteer!”

Dit was die laaste keer dat hulle op die Sabbat gekom het.

22 Ek het die Leviete toe beveel om hulle te reinig en om by die ingange wag te staan sodat niemand die Sabbatdag oneervol sal vier nie.

Onthou asseblief ook hierdie optrede van my, my God! Wees goed vir my omdat u liefde groot is en U niemand ooit in die steek laat nie.

Nehemia en die vreemde

vroue

23 Min of meer in dieselfde tyd het ek besef dat sommige Judese mans met vroue uit Asdod, Ammon en Moab getroud was.

24 Van hierdie mense se kinders kon omtrent die helfte nie die taal van Juda praat nie. Hulle het net die taal van Asdod of een van die ander tale van die omgewing gepraat.

25 Ek het hulle aangespreek en hulle vervloek. Party van hulle het ek berispe, hulle vervloek, sommige geslaan en ander se hare uitgetrek. Ek het hulle ’n belofte voor God laat aflê dat hulle nie sou toelaat dat hulle kinders met die heidense mense van die land ondertrou nie.

26 “Was dit nie presies die rede hoekom koning Salomo van Israel in sonde beland het nie?” het ek gevra. “Daar was geen koning van enige nasie wat met hom vergelyk kan word nie. God het hom liefgehad en het hom koning oor die hele Israel gemaak. Die waarheid is dat dit sy heidense vroue was wat veroorsaak het dat hy sondig.

27 Hoe kan julle ooit daaraan dink om so ’n sonde te doen deur met heidense vroue te trou en so aan God ontrou te wees?”

28 Selfs die hoëpriester Eljasib se seun Jojada was met die dogter van Sanballat, die Goroniet, getroud. Ek het hom voor my weggejaag.

29 Moenie van hulle vergeet nie, my God! Hulle het die priesterskap ontheilig en ook die plegtige ooreenkoms wat met die priesters en Leviete bestaan.

30 So het ek van al die vreemde elemente onder die mense ontslae geraak. Ek het aan die priesters en Leviete spesifieke take gegee en seker gemaak dat elkeen weet wat die werk behels.

31 Ek het ook gesorg dat die houtvoorraad vir die offers op die regte tyd voorsien was.

Verder ook dat hulle die eerste opbrengs van die oes vir die priesters gebring het.

My God, onthou my. Wees goed vir my!

ESTER 1

1 Ahasveros koning in Susan

Hierdie dinge het gebeur in die tyd van Ahasveros, wat koning was oor 127 provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Etiopië.

2 Die setel van sy regering was in daardie tyd in die vestingstad Susan.

3 In die derde jaar van sy regering het hy ’n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en die ander vooraanstaande persone in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die goewerneurs van die provinsies was daar.

4 Die fees het 180 dae lank aangehou, terwyl die koning gespog het met die rykdom van sy koninkryk en al die prag en praal daarvan.

5 Na afloop hiervan het die koning almal wat in die vestingstad Susan gebly het, van die belangrikste tot die minste, ’n week lank in die tuin van sy paleis onthaal.

6 Die tuin was versier met wit en bloedrooi gordyne wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan die marmerpilare. Daar was goue en silwerrusbanke op die plaveisel wat uitgelê was met vier soorte edelstene.

7 Drank is bedien in goue bekers met verskillende ontwerpe. Daar was ’n oorvloed wyn wat die koning voorsien het.

8 Die koning se opdrag was dat elkeen sonder beperking kon drink. Hy het sy paleispersoneel beveel om elkeen se wense te eerbiedig.

Die koningin weier om te luister

9 Koningin Vasti het terselfdertyd ook die vroue in Ahasveros se paleis onthaal.

10 Teen die sewende dag was die koning al goed vrolik van die wyn. Hy het sy sewe persoonlike paleisbeamptes nadergeroep. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.

11 Hy het hulle aangesê om koningin Vasti met haar koninklike kroon op haar kop na hom toe te laat kom. Hy wou hê al die mense en die hoë amptenare moes sien hoe mooi sy is. Sy was beeldskoon.

12 Toe koningin Vasti by die amptenare hoor wat die koning sê, het sy geweier om te kom. Die koning het baie kwaad geword. Hy het gekook van woede.

13 Hy het met sy verstandige raadgewers gepraat. Hulle het die gebruike en gewoontes, die wet en die reg geken. Die koning het hulle altyd geraadpleeg.

14 Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was die koning se vertrouelinge. Die sewe mans was hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het. Hulle het die hoogste poste in die koninkryk beklee.

15 “Volgens die wet, hoe moet met Vasti gehandel word?” vra hy hulle. “Sy wou nie gehoorsaam wees aan die opdrag wat koning Ahasveros amptelik deur sy paleisbeamptes aan haar gegee het nie.”

Memukan se voorstel

16 Memukan sê toe vir die koning en sy hoë amptenare: “Dit is nie net teen die koning alleen wat koningin Vasti oortree het nie, maar tegelykertyd ook teen al die hoë amptenare en al die volke in al die provinsies van die koning.

17 Sodra haar optrede onder die vroue bekend word, sal hulle oral hulle mans begin minag. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het geweier om te kom.’

18 Die vroue van die hoë amptenare van Persië en Medië sal vandag nog te hore kom wat die koningin gedoen het. Dit gaan vir hulle rede gee om hulle mans ook met minagting te behandel.

19 “As dit reg is vir die koning, vaardig dan ’n skriftelike bevel van Persië en Medië uit wat nooit verander mag word nie, dat Vasti nooit weer voor koning Ahasveros mag kom nie. Die koning sal vir hom ’n ander koningin kry wat dit meer werd is as sy.

20 Sodra die bevel wat die koning uitgevaardig het oor sy uitgestrekte koninkryk bekend word, sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met die nodige eerbied behandel.”

21 Dit het vir die koning en sy hoë amptenare reg gelyk. Die koning het toe gemaak soos Memukan voorgestel het.

22 Hy het na elke provinsie briewe gestuur in hulle eie skrif en in die taal van die mense wat daar bly. Hy het bevel gegee dat elke man baas moet wees in sy eie huis en kan sê wat hy wil.

ESTER 2

Ester word koningin

1 Toe koning Ahasveros se woede hierna tot bedaring kom, het hy Vasti begin mis. Hy het onthou wat sy alles gedoen het. Hy het nagedink oor wat hy oor haar besluit het.

2 Die amptenare wat in sy persoonlike diens was, sê toe vir hom: “Laat ons na mooi meisies vir die koning soek.

3 Hy moet agente aanstel om in al die provinsies van sy koninkryk mooi meisies te werf vir die koning se harem in die vestingstad Susan. Hegai, die hoof-haremopsigter, moet dan toesien dat hulle skoonheidsbehandeling ontvang.

4 Die meisie wat vir die koning die mooiste is, moet in Vasti se plek koningin gemaak word.”

Die koning het van hierdie idee gehou. Hy het toe so gemaak.

5 In die vestingstad Susan was daar ’n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was ’n seun van Jaïr, die seun van Simi, die seun van Kis.

6 Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer het.

7 Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi.

8 Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas.

Die koning kies Ester

9 Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif.

10 Ester het vir niemand gesê van watter volk sy kom, of wie haar familie is nie. Mordegai het haar verbied om dit te doen.

11 Mordegai het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur.

12 Voordat dit ’n meisie se beurt was om na die koning te kom, moes sy volgens voorskrif eers twaalf maande lank skoonheidsbehandeling kry. Sy is ses maande lank met mirre-olie behandel en ses maande lank met lekkerruikkruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna kon sy voor koning Ahasveros gaan verskyn.

13 Elke meisie kon, wanneer dit haar beurt was om voor die koning in sy paleis te verskyn, uit die harem kies wat sy wou aantrek.

14 Elke meisie is in die aand na die koning se paleis toe geneem en die volgende oggend teruggeneem na ’n ander deel van die koning se harem. Dit was onder die sorg van Saäsgas, die haremopsigter oor die byvroue. Sy kon nooit weer na die koning toe teruggaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en spesifiek vir haar gevra het.

15 Toe kom Ester se beurt, die dogter van Abigajil, die oom van Mordegai wat haar as sy eie dogter aangeneem het. Sy het vir niks meer gevra as wat Hegai, die hoof van die koning se harem, vir haar aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, was opgewonde oor haar.

16 Ester is na koning Ahasveros se koninklike paleis gevat in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning.

17 Die koning het Ester meer liefgehad as enige van die ander jong meisies. Sy was meer na sy sin as enigeen van die ander. Hy het toe die koningin se kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.

18 Ter ere van Ester het die koning ’n groot onthaal gereël vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was. Hy het daarvan ’n vakansiedag in al die provinsies gemaak. Hy het rojaal geskenke vir almal uitgedeel.

Mordegai voorkom ’n moord

19 In die tyd toe die jong meisies na die tweede harem oorgeplaas is, is Mordegai as amptenaar van die koning aangestel.

20 Ester het nog steeds stilgebly oor haar familie en haar volk. Sy het nog steeds gedoen wat Mordegai vir haar sê, soos toe sy nog ’n kind by hom in die huis was.

21 In die tyd dat Mordegai aan diens was in die poort van die paleis, het die twee haremamptenare Bigtana en Teres, wat diens as deurwagte gedoen het, kwaad geword vir die koning. Hulle het saamgesweer om koning Ahasveros te vermoor.

22 Mordegai het daarvan gehoor en vir koningin Ester daarvan laat weet. Ester het dit toe namens Mordegai aan die koning gaan oorvertel.

23 Toe die gerug ondersoek word, is gevind dat dit waar is. Die twee mans is toe opgehang. Die gebeurtenis is voor die koning in die geskiedenisboek van sy regering opgeteken.

ESTER 3

Haman se plan

1 ’n Ruk na hierdie dinge gebeur het, het koning Ahasveros vir Haman, seun van Hammedata die Agagiet, bevordering gegee. Hy het hom in ’n posisie aangestel wat hoër is as enige van sy ander amptenare.

2 Die koning het bepaal dat al sy amptenare wat in die poort van sy paleis diens doen, voor Haman moes buig om aan hom eer te bewys.

Mordegai het egter geweier om dit te doen.

3 Die koning se ander dienaars wat in die poort van die paleis gewerk het, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die opdrag van die koning?”

4 Dag na dag het hulle dit vir hom gevra, maar hy het volgehou om dit te ignoreer. Hulle het dit vir Haman gaan vertel, want hulle wou kyk of Mordegai by sy standpunt sou hou. Hy het ook vir hulle gesê dat hy ’n Jood is.

5 Toe Haman sien dat Mordegai nie voor hom wil buig om hom eer te bewys nie, was hy briesend.

6 Toe hy boonop ook hoor wat Mordegai se volksverband is, was dit nie vir hom goed genoeg om net vir Mordegai dood te maak nie. Haman het na ’n manier gesoek om sommer al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei.

7 Die lot is die Pur genoem. Dit is voor Haman gewerp in die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, om ’n presiese dag en maand te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar.

Haman oorreed die koning

8 Haman is toe na koning Ahasveros toe om vir hom te sê: “Daar is ’n sekere volk wat verspreid is in die provinsies van u koninkryk. Hulle hou hulle apart van al die ander volke. Hulle volg ander wette as dié van die ander nasies. Hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang dat hulle so lewe nie.

9 As dit vir die koning goed is, maak dan ’n wet om hulle uit te roei. Ek sal 342 ton silwer aan die regeringsamptenare betaal om dit in die skatkis te sit.”

10 Die koning is oorreed. Hy het sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman seun van Hammedata die Agagiet, die vyand van die Jode, gegee.

11 “Jy kan maar die geld vir jouself hou,” het die koning gesê, “maar maak met hierdie volk soos jy wil.”

12 Die koning se sekretarisse is op die dertiende van die eerste maand laat kom. Haman het beveel dat hulle alles aan die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk moes skryf. Dit was in hulle eie skrif en in hulle eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en met sy ring verseël.

13 Briewe is met hardlopers uitgestuur na elke provinsie van die koning met die opdrag dat al die Jode geheel en al uitgeroei moes word, oud en jonk, vrou en kind. Dit moes gebeur op die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Daar moes dan op hulle besittings beslag gelê word.

14 ’n Afskrif van die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan al die volke bekendgemaak word sodat hulle op daardie dag gereed kon wees.

15 Boodskappers het haastig met die koninklike bevel vertrek. Ook in die vestingstad Susan is die proklamasie afgekondig. Die koning en Haman het toe gaan sit om te drink. In die stad Susan was daar groot beroering.

ESTER 4

Mordegai stuur Ester na die

koning

1 Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy is in die stad in en het hard en droewig loop en huil.

2 Hy het voor die ingang van die paleis gaan staan. Iemand met rouklere aan was nie toegelaat om deur die hek in te gaan nie.

3 In elke provinsie waar die besluit en opdrag van die koning afgekondig is, was die Jode baie hartseer. Hulle het gevas en gehuil en getreur. Baie het rouklere aangetrek en as oor hulle gegooi.

4 Koningin Ester se diensmeisies en die haremamptenare het haar van Mordegai kom vertel. Sy was baie ontsteld. Sy het vir hom ander klere gestuur om in die plek van sy rouklere aan te trek. Hy het geweier.

5 Ester het vir Hatak laat kom. Hy was een van die koning se haremopsigters wat haar moes oppas. Hy moes by Mordegai gaan uitvind wat aan die gang is en hoekom hy so maak.

6 Hatak gaan toe na Mordegai waar hy op die plein voor die ingang van die koninklike paleis is.

7 Mordegai het hom ingelig oor alles wat gebeur het en van die bedrag wat Haman aangebied het aan die skatkis van die koning om die Jode te kan doodmaak.

8 Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is om hulle uit te roei. Hatak moes dit aan Ester wys en vir haar alles verduidelik. Hy moes by haar aandring om na die koning toe te gaan en by hom om genade te smeek vir haar volk.

9 Hatak het met Mordegai se boodskap na Ester toe teruggegaan.

10 Sy het Hatak weer na Mordegai gestuur om vir hom te sê:

11 “Elke amptenaar van die koning en die volke in die provinsies van die koning weet dat enige man of vrou wat na die koning toe gaan as hulle nie ontbied is nie, volgens voorskrif net daar doodgemaak word, tensy die koning sy goue septer na so ’n persoon toe uitsteek. Dit is nou al 30 dae sedert die koning my laas laat kom het.”

12 Ester se woorde is aan Mordegai oorgedra.

13 Mordegai het haar laat weet: “Moenie vir een oomblik dink dat jy daar in die koning se paleis gaan vrykom van die lot van die ander Jode nie.

14 As jy in hierdie tyd gaan stilbly, gaan uitkoms en redding vir die Jode van ’n ander plek af kom. Jy en jou familie sal dan uitgewis word. Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ’n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!”

15 Ester het hom geantwoord:

16 “Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry bymekaar. Vas ter wille van my. Vir drie dae lank moet julle dag en nag niks eet of drink nie. Ek en my diensmeisies sal net so vas. Al is dit in stryd met die voorskrif sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf.”

17 Mordegai het toe gegaan en alles gedoen wat Ester hom laat weet het.

ESTER 5

Ester doen soos sy gesê het

1 Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek. Sy het in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die saal waar die koning se troon is. Die koning was toe juis op sy troon met sy gesig na die ingang.

2 Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan. Hy het die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek om haar te verwelkom. Ester het nadergekom en aan die punt van die septer gevat.

3 Die koning vra haar toe: “Wat het jy op die hart, koningin Ester? Wat is jou versoek? Jy sal dit kry, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.”

4 Toe sê Ester: “As dit die koning behaag, sal hy en Haman dan asseblief vandag na die onthaal kom wat ek vir u voorberei het?”

5 Die koning sê toe: “Gaan kry gou vir Haman dat ons kan doen wat koningin Ester vra.” Die koning en Haman is na die onthaal toe wat Ester reggemaak het.

6 Terwyl hulle besig was om wyn te drink, vra die koning vir Ester: “Wat is jou versoek? Jy sal dit kry. Wat het jy nodig? Al is dit ook die helfte van my koninkryk wat jy nodig het, sal ek dit vir jou gee.”

7 Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg:

8 As die koning my goedgesind is en bereid is om te gee wat ek vra deur my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal voorberei. Dan sal ek my wens aan die koning bekendmaak.”

Haman en Mordegai

9 Haman is daardie dag in ’n goeie bui en vrolik daar weg. Toe hy egter by die ingang van die paleis op Mordegai afkom en hy weer nie opstaan om aan hom eer te bewys nie, of glad nie wys dat hy bang is vir hom nie, het hy woedend geword vir Mordegai.

10 Haman het hom egter beteuel.

Toe hy by die huis kom, het hy sy vriende en sy vrou Seres nadergeroep.

11 Haman het by hulle gespog oor hoe ryk hy is en oor hoe baie seuns hy het. Hy het uitgewei oor die koning wat hom so vereer het en hom bo al die ander hoë amptenare en onderdane van die koning bevorder het.

12 “En dit is ook nie al nie,” het hy verder gesê. “Koningin Ester het vandag net vir my saam met die koning uitgenooi na die onthaal wat sy gegee het. Boonop is ek uitgenooi om môre weer saam met die koning te eet.

13 Maar dit alles help my niks solank ek teen daardie Jood Mordegai in die poort van die paleis moet vaskyk nie.”

14 Sy vrou Seres en sy vriende stel toe voor: “Plant ’n paal van 23 meter hoog en vra môre-oggend vir die koning dat hulle Mordegai daaraan moet ophang. Jy kan dan met ’n vrolike hart saam met die koning na die onthaal toe gaan.”

Haman het gedink dit is ’n goeie voorstel. Hy het toe die galg laat inplant.