ESRA 9

Esra en ondertrouery

1 Nadat hierdie dinge afgehandel was, het die leiers na my toe gekom en gesê: “Baie van die Israeliete, selfs ook van die priesters en die Leviete, het hulle nie van die ander volke in die land afgesonder nie. Hulle het van die afstootlike praktyke van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en die Amoriete begin beoefen.

2 Van die mans en hulle seuns het met van die vroue van die land getrou. Deur dit te doen, het hulle die heilige volk van God met die bevolking van die land vermeng. Om die kroon te span, was die amptenare en die leiers die eerstes om dit te doen.”

3 Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur en my hare uit my kop en baard getrek. Ek het geskok bly sit.

4 Almal wat bang was vir die woorde van die God van Israel, het oor die ontrouheid van die ballinge by my bymekaargekom. Ek het geskok daar bly sit tot die tyd van die aandoffer.

5 Toe die tyd vir die aandoffer aangebreek het, het ek met geskeurde klere opgestaan en my verootmoedig daar waar ek gesit het. Ek het op my knieë geval en my hande na die Here my God opgesteek.

6 Ek het gebid: “My God, ek is so skaam en verneder, ek kan nie na U kyk nie. Ons sondes is hoër as ons koppe en ons skuld reik tot aan die hemel.

7 Van ons voorgeslagte af tot nou toe het ons ons al aan verskriklike oortredings skuldig gemaak. Dit is hoekom U ons, ons konings en ons priesters uitgelewer het aan die mag van die heidense konings van die land. Net soos dit nou die geval is, het hulle ons doodgemaak, gevange geneem, beroof en verneder.

8 “Die Here ons God het nou vir ’n klein rukkie genade aan ons bewys deur toe te laat dat sommige van ons as ’n oorblyfsel oorleef het. Hy het in sy heilige plek vir ons ’n vaste plek gegee. So het God ons moed laat skep en ons vir ’n rukkie losgemaak van ons slawerny.

9 Ons was slawe, maar ons God het ons in sy troue liefde nie in ons slawerny vergeet nie. Hy het toegesien dat die koning van Persië ons goed behandel. Hy het ons vrygelaat sodat ons die tempel van ons God kon herbou en die bouvalle kon herstel. Hy het vir ons in Juda en Jerusalem ’n muur gegee om ons te beskerm.

10 “Wat kan ons nou hieroor sê, ons God? Ons het weer u bevele verontagsaam.

11 U het ons deur u dienaars die profete duidelik beveel en gesê: ‘Die land wat julle sal inneem, sal onrein wees as gevolg van die verwerplike gewoontes van die inwoners van die land. Die land is van hoek tot kant gevul met hulle afskuwelike praktyke.

12 Julle dogters mag nie met hulle seuns trou nie, en julle seuns nie met hulle dogters nie. Moenie hierdie volke se vrede en voorspoed bevorder nie. As julle onderneem om hierdie dinge nie te doen nie, sal julle ’n voorspoedige volk wees. Dit sal met julle goed gaan en julle sal ’n sterk volk wees. Julle sal die voorspoed wat die land oplewer, geniet en dit sal vir ewig julle nageslag se erfenis wees.’

13 “Maar nou word ons gestraf vir die sonde wat ons gedoen het en vir ons groot skuld. Ons straf is eintlik baie minder as wat ons verdien, want U, ons God, het sommige van ons as ’n oorblyfsel laat oorleef.

14 Maar ons verbreek al weer u bevele met ons ondertrouery met mense wat hierdie afstootlike dinge doen. U gaan ons sekerlik in u woede vernietig sodat selfs hierdie oorblyfsel dit nie sal oorleef nie.

15 O Here, God van Israel, U is regverdig! Vandag is ons niks anders as ’n ontsnapte oorblyfsel wat voor U staan nie. Eintlik durf nie een van ons in u teenwoordigheid kom staan as gevolg van ons skuld nie.”

ESRA 10

Die volk erken hulle sonde

1 Esra het voor die tempel van God op die grond geval en gehuil terwyl hy bid en hulle sondes bely. ’n Groot groep mans, vroue en kinders van Israel het saamgekom en hardop saam met hom gehuil.

2 Sekanja seun van Jegiël, uit die familie van Elam het gereageer en gesê: “Ons bely dat ons aan ons God ontrou was, ons het met hierdie vreemde vroue van die land getrou. Maar daar is tog nog hoop vir Israel.

3 Kom ons maak nou ’n verbond met ons God dat ons hierdie vroue en hulle kinders sal wegstuur. Ons sal u en die persone wat ons God se bevele respekteer se raad volg. Ons sal u raad gehoorsaam.

4 Staan op! Die aangeleentheid is nou u verantwoordelikheid! Skep moed en doen wat u moet doen, ons sal met u saamwerk.”

5 Esra het opgestaan en die leiers van die priesters en die Leviete en die hele Israel ’n eed laat neem dat hulle sal doen wat hulle onderneem het. Hulle het toe die eed geneem.

6 Esra het opgestaan en van die tempel van God af weggegaan na Joganan seun van Eljasib se kamer toe. Hy het geen brood geëet of water gedrink terwyl hy daar was nie, want hy het nog steeds oor die ontrouheid van die teruggekeerde ballinge getreur.

7 ’n Aankondiging is toe deur die hele Juda en Jerusalem gemaak dat al die ballinge wat teruggekom het, na Jerusalem toe moet kom.

8 Die amptenare en die oudstes het ’n besluit geneem oor hierdie aankondiging. As mense hulle in drie dae nie hieraan steur nie, sal hulle hulle eiendom verloor en uit die gemeenskap van die ballinge gestoot word.

9 Al die mense van Juda en Benjamin het binne drie dae in Jerusalem byeengekom. Dit was op 19 Desember. Al die mense het op die oop plein voor die tempel van God gesit. Hulle het van spanning gesit en bewe, maar ook omdat dit hard gereën het.

10 Die priester Esra staan toe op en sê vir hulle: “Julle was ontrou deur met vreemde vroue te trou. Daardeur het julle Israel se skuld nog net meer gemaak.

11 Bely teenoor die Here, die God van julle voorouers, en doen wat Hy wil hê julle moet doen. Maak julle los van die mense van die land en van hierdie vreemde vroue.”

12 Die hele groep mense wat bymekaar was, het hardop uitgeroep: “Dit is goed, ons sal doen wat u sê!

13 Maar u moet besef dat baie mense van die volk betrokke is by hierdie groot oortreding wat ons begaan het. Dit is nie ’n aangeleentheid wat in ’n dag of twee opgelos kan word nie. Boonop is dit die reënseisoen, ons kan nie so onbeskut bly staan nie.

14 “Laat ons leiers namens ons almal optree. Elkeen van ons wat ’n vreemde vrou het, kan dan op ’n vasgestelde tyd saam met die oudstes en regters van elke stad kom. Ons kan dit aanhou doen totdat ons God se verskriklike woede teenoor ons oor hierdie aangeleentheid bedaar.”

15 Net Jonatan seun van Asael, en Jagseja seun van Tikwa was teen hierdie reëling gekant. Hulle het ook van Mesullam en die Leviet Sabbetai steun gekry.

16 Die teruggekeerde ballinge het toe so gemaak. Esra het as priester manne uit die familiehoofde gekies en hulle name opgeskryf. Hulle het op 29 Desember bymekaargekom en die sake begin aanhoor.

17 Eers op 27 Maart van die volgende jaar het hulle met al die gevalle van mans wat met heidense vroue getrou het, klaargemaak.

Die mans wat ondertrou het

18 Hier volg die lys van priesters wat met heidense vroue getrou het: Uit die familie van Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote, was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja.

19 Hulle het onderneem om van hulle vroue te skei en het ’n ram as versoeningsoffer vir hulle misdaad teen God geoffer.

20 Uit die familie van Immer: Ganani en Sebadja.

21 Uit die familie van Garim: Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija.

22 Uit die familie van Pasgur: Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa.

23 Uit die Leviete: Josabad, Simeï, Kelaja, ook Kelita genoem, Petagja, Juda en Eliëser.

24 Uit die sangers: Eljasib.

Uit die poortwagte: Sallum, Telem en Uri.

25 Onder die ander Israeliete: Uit die Parosfamilie: Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja.

26 Uit die Elamfamilie: Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia.

27 Uit die Sattufamilie: Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa.

28 Uit die Bebaifamilie: Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai.

29 Uit die Banifamilie: Mesullam, Malluk, Adaja, Jasub en Seal-Jeremot.

30 Uit die Pagat-Moabfamilie: Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse.

31 Uit die Garimfamilie: Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simon,

32 Benjamin, Malluk en Semarja.

33 Uit die Gasumfamilie: Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simi.

34 Uit die Banifamilie: Maädai, Amram, Uel,

35 Benaja, Bedja, Keluhi,

36 Wanja, Meremot, Eljasib,

37 Mattanja, Mattenai en Jaäsai.

38 Uit die Binnuïfamilie: Simi,

39 Selemja, Natan, Adaja,

40 Maknadbai, Sasai, Sarai,

41 Asarel, Selemja, Semarja,

42 Sallum, Amarja en Josef.

43 Uit die Nebofamilie: Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja.

44 Al dié mense was met vreemde vroue getroud, en sommige het ook kinders by die vroue gehad.

NEHEMIA 1

1 Hier is die gedenkskrif van Nehemia, die seun van Gakalja.

Nehemia se kommer oor

Jerusalem

In die twintigste jaar van Artasasta se koningskap, in November, was ek by sy vestingstad Susan.

2 Ganani, een van my broers, het my saam met ander persone uit Juda kom besoek. Ek het hulle uitgevra oor die Jode wat die ballingskap oorleef het en oor die omstandighede in Jerusalem.

3 Hulle antwoord was: “Dit gaan nie goed met die mense wat uit die ballingskap teruggekeer het en daar oorgebly het nie. In die provinsie Juda is daar groot ellende en bespotting. Jerusalem se muur lê om en die stadspoorte is deur vuur vernietig.”

4 Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Vir dae aaneen het ek getreur, gevas en tot die God van die hemel gebid.

5 Ek het gesê: “Here, God van die hemel, U is die groot en vreesaanjaende God. U hou by u verbondsbelofte. U is getrou in u liefde teenoor dié wat u gebooie liefhet en gehoorsaam.

6 Hoor my gebed!

“Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen!

7 Ons het verkeerd opgetree deur nie die opdragte, voorskrifte en bepalings wat U vir u kneg Moses beveel het, te gehoorsaam nie.

8 “Hou tog in gedagte wat U vir u kneg Moses gesê het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi.

9 As julle egter na My toe terugkeer en my bevele gehoorsaam, sal Ek julle terugbring na die plek waar Ek verkies dat julle My moet aanbid, al is julle oor die uithoeke van die aarde versprei.’

10 “Hulle is u diensknegte, u volk wat U deur u groot mag en oorweldigende krag verlos het.

11 Here, hoor asseblief my gebed! Luister na ons gebede, ons wat U graag wil eer. Laat my tog vandag suksesvol wees wanneer ek die koning ’n groot guns vra. Laat hy my goedgesind wees.”

In dié stadium was ek die koning se wynkelner.

NEHEMIA 2

Nehemia gaan Jerusalem toe

1 Vier maande later, nog in die twintigste jaar van koning Artasasta, was ek besig om wyn vir die koning te skink. Nooit tevore was ek so swaarmoedig in sy teenwoordigheid nie.

2 Die koning vra my toe: “Hoekom lyk jy so hartseer? Jy is mos nie siek nie. Jy lyk diep bekommerd.”

Toe het groot vrees my beetgepak,

3 maar ek het geantwoord: “Mag die koning lank lewe! Ek het rede om hartseer te wees. Die stad waar my voorouers begrawe lê, is verwoes. ’n Vuur het ook die poorte afgebrand.”

4 Toe vra die koning: “Hoe kan ek jou help?”

Ek bid toe tot die God van die hemel,

5 en antwoord die koning: “As dit reg is met u, en u is tevrede met my as u dienskneg, stuur my dan na Juda toe. Ek sal dan kan gaan na die stad waar my voorouers begrawe lê, en dit herbou.”

6 Die koning, met die koningin wat langs hom sit, vra toe: “Hoe lank sal jy weg wees? Wanneer sal jy terugkom?” Nadat ek vir hom ’n aanduiding van die tyd gegee het, het die koning ingestem om my te stuur.

7 Ek het ook vir die koning gesê: “As u dit goedvind, gee vir my briewe saam vir die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier. Beveel hulle om my veilig deur hulle gebiede te laat trek op pad na Juda toe.

8 Gee my ook asseblief ’n brief vir Asaf, die toesighouer van die staatsbos. Beveel hom om hout aan my te voorsien. Ek het dit nodig vir die balke van die deure van die vesting wat by die tempel is, vir die stadsmure en die huis waarin ek sal woon.”

Die koning het hierdie versoeke toegestaan, want God was my goedgesind.

9 Met my aankoms by die provinsie wes van die Eufraatrivier het ek die briewe van die koning aan die goewerneurs oorhandig. Vir my beskerming het die koning ook offisiere en ruiters saamgestuur.

10 Maar toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar van my aankoms te hore kom, was hulle baie kwaad dat iemand van plan was om die Israeliete te help.

Nehemia ondersoek die

stadsmuur

11 Drie dae ná my aankoms in Jerusalem

12 het ek en ’n paar ander mense in die nag uitgesluip. Ek het toe nog vir niemand vertel van die planne wat God oor Jerusalem in my wakker gemaak het nie. Ons het geen pakdiere saam met ons gevat nie, behalwe die donkie waarop ek gery het.

13 Dié nag het ek by die Valleipoort uitgegaan, verby die Jakkalsfontein tot by die Mispoort. Ek het die beskadigde mure van Jerusalem en die afgebrande hekke gaan ondersoek.

14 Daarna het ek na die Fonteinhek en die Koningsdam gery, maar my donkie kon nie deur die bourommel loop nie.

15 Ek het toe in plaas daarvan in die Kidronvallei op beweeg. Ek het die muur ondersoek en daarna teruggedraai en weer deur die Valleipoort die stad binnegegaan.

16 Die amptenare van die stad het nie geweet dat ek uitgegaan het of waarmee ek besig was nie. Ek het nog nie die Jode oor my planne ingelig nie. Ek het ook nog nie met die godsdienstige of die politieke leiers daaroor gepraat nie, ook nie met die amptenare of die mense wat die werk sou doen nie.

17 Hierna het ek egter vir hulle gesê: “Julle sien self in hoe ’n benarde posisie ons is. Jerusalem is verwoes en die stadshekke is verbrand! Maar kom ons begin die mure van Jerusalem herbou sodat ons nie langer verleë hoef te wees nie.”

18 Toe het ek hulle begin vertel hoe goed God vir my voorsien het en van my gesprek met die koning.

Hulle het dadelik reageer en gesê: “Dit is reg so. Kom ons bou die muur weer op!”

Hulle het toe met die goeie werk begin.

19 Maar toe Sanballat, Tobija die Ammonitiese amptenaar en die Arabier Gesem van ons planne hoor, het hulle ons minagtend gekoggel en gevra: “Wat dink julle doen julle om so teen die koning in opstand te kom?”

20 Ek het hulle geantwoord: “Ons sal met die hulp van die God van die hemel suksesvol wees. Ons is sy diensknegte, ons sal die mure begin herstel. Julle het geen aandeel aan of historiese aanspraak op Jerusalem nie.”

NEHEMIA 3

Die mure van Jerusalem word

herbou

1 Die hoëpriester Eljasib en van die ander priesters het by die Skaappoort met die bouwerk begin. Nadat hulle die deure gehang het, het hulle dit aan die Here toegewy. Hulle het ook die gedeeltes van die muur tot by die Toring van die Honderd en die Gananeltoring toegewy.

2 Mense uit Jerigo het die volgende deel gebou en langs húlle het Sakkur seun van Imri gebou.

3 Die Senaäfamilie het die Vispoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

4 Meremot, seun van Urija en kleinseun van Kos, het die volgende deel van die muur herstel. Langs hom het Mesullam, seun van Berekja en kleinseun van Mesesabel, gewerk, en langs hóm Sadok seun van Baäna.

5 Langs hulle het die mense van Tekoa gewerk, maar hulle leiers het geweier om vir hulle Here te werk.

6 Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het op hulle beurt weer die Ou Stadspoort herbou. Hulle het al die balke ingesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

7 Langs hulle het Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot herstelwerk gedoen. So ook die mense van Gibeon en Mispa waar die hoofkwartier van die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier gesetel was.

8 Ussiël seun van Garhaja, ’n goudsmid, het aan die volgende deel van die muur gewerk, gevolg deur Gananja, ’n parfuumvervaardiger. Hulle het ’n deel van die muur om Jerusalem gebou tot so ver as die gedeelte bekend as die Breë Muur.

9 Die volgende deel van die muur is deur Refaja seun van Gur herstel. Hy was die hoof van die helfte van die Jerusalemdistrik.

10 Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte van die muur wat reg langs sy huis was, reggemaak. Langs hom het Gattus seun van Gasabneja gewerk.

11 Op hulle beurt het Malkija seun van Garim en ook Gassub seun van Pagat-Moab langs hulle gewerk. Hulle het die Bakoondtoring asook ’n verdere gedeelte van die muur herstel.

12 Sallum seun van Loges het saam met sy dogters die volgende gedeelte van die muur herstel. Sallum was die hoof van die ander helfte van die Jerusalemdistrik.

13 Ganun en die inwoners van Sanoag het die Dalpoort herstel. Hulle het dit herbou, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Hulle het ook die 450 meter lange muur tot by die Mispoort herstel.

14 Milkija seun van Rekab het die Mispoort herstel. Hy was die hoof van die Bet-Keremdistrik. Nadat hy die poort herstel het, het hy die deure gehang en die slotte en grendels aangesit.

15 Sallum seun van Kol-Gose was die hoof van die Mispadistrik. Hy het aan die Fonteinpoort gewerk. Hy het dit herbou, die dak opgesit, die deure gehang en die slotte en grendels aangesit. Daarna het hy die muur van die Siloampoel naby die koning se tuin herstel. Hy het die muur herbou tot by die trappe wat van die stad van Dawid af kom.

16 Langs hom het Nehemia seun van Asbuk gewerk. Hy was die hoof van die helfte van die Bet-Surdistrik. Hy het aan die muur gewerk tot oorkant die koningsbegraafplaas en tot by die opgaardam en die soldate-kwartiere.

17 ’n Groep Leviete onder die toesig van Regum seun van Bani was die volgende werkgroep. Langs hulle het Gasabja, die hoof van die helfte van die Keiladistrik, gewerk. Hy het namens sy distrik oor die herstel van die muur toesig gehou.

18 Hulle familie was die volgende groep wat gewerk het. Hulle het onder leiding van Binnuï seun van Genadad, hoof van die res van die Keiladistrik, gewerk.

19 Hulle is gevolg deur Eser seun van Jesua wat die hoof van die Mispagebied was. Hy het aan ’n gedeelte van die muur wat ’n hoek vorm, gewerk. Dit was reg oorkant die wapenkamer.

20 Barug seun van Sabbai het aan die aangrensende deel van die muur gewerk. Die deel van die muur het vanaf die versterkte hoekgedeelte tot by die deur van die huis van die hoëpriester Eljasib gestrek.

21 Meremot seun van Urija, kleinseun van Kos, het verder aan die muur gewerk wat gestrek het vanaf die deur van die huis van Eljasib tot aan die einde van die huis.

22 ’n Volgende stuk van die muur is deur die priesters van die omgewing herstel.

23 Langs hulle het Benjamin, Gassub en Asarja seun van Maäseja, kleinseun van Ananeja gewerk. Hulle het die gedeeltes van die muur reg voor hulle huise herstel.

24 Die volgende stuk, die deel van Asarja se huis tot by die versterkte hoekgedeelte, het Binnuï seun van Genadad reggemaak.

25 Palal seun van Usai het die gedeelte van regoor die hoekgedeelte herstel tot by die toring teen die boonste paleis by die Wagplein. Aan die gedeelte van die muur langs hom het Pedaja seun van Paros gewerk,

26 asook die tempelslawe wat op die Ofelheuwel gewoon het. Hulle het die gedeelte van die muur tot regoor die Waterpoort aan die oostekant en die aangeboude toring herstel.

27 Die mense van Tekoa het aan die volgende deel gewerk. Hulle het die stuk van die muur van regoor die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herstel.

28 Die priesters het die volgende gedeelte van die muur bokant die Perdepoort herstel. Elkeen het aan die gedeelte regoor sy huis gewerk.

29 Sadok seun van Immer het die volgende deel wat reg oorkant sy huis was, herstel. Semaja seun van Sekanja en opsigter van die Oospoort het die stuk van die muur wat gevolg het, reggemaak.

30 Langs hulle het Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, aan die muur gewerk. Hulle is gevolg deur Mesullam seun van Berekja wat die deel regoor sy kamer herstel het.

31 Malkija, een van die goudsmede, het die volgende stuk van die muur herstel. Hy het gewerk tot by die kwartiere van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiepoort en verder tot by die kamer bo-op die hoek.

32 Die ander goudsmede en handelaars het aan die gedeelte van die muur tussen die kamer op die hoek en die Skaappoort herstelwerk gedoen.

NEHEMIA 4

Teenstand teen die bouwerk

1 Toe Sanballat hoor dat hulle besig was om die muur te herstel, was hy baie kwaad. Hy het in woede uitgebars en smalend met die Jode gepraat.

2 Hy het voor sy vriende en die leër van Samaria uitgevaar: “Wat dink hierdie armsalige Jode doen hulle? Dink hulle miskien hulle kan die muur in een dag bou as hulle net genoeg offers bring? Kyk net hoe lyk die swartgebrande klippe wat hulle onder die rommel uitkrap om weer te gebruik!”

3 Tobija die Ammoniet wat langs hom gestaan het, het gesê: “Daardie klipmuur sal omval selfs as ’n jakkals daarop loop!”

4 Toe het ek gebid: “O God, hoor ons tog, want ons word verag. Laat hulle beledigings teen hulle draai. Laat hulle self die buit wees, gevangenes in ’n ander land!

5 Moenie hulle skuld oorsien nie. Moet ook nie hulle sondes sommer net voor U uitvee nie, want hulle het U uitgelok om hier voor die bouers u woede te wys.”

6 Die mense het baie hard gewerk. Uiteindelik was die muur reg rondom die stad tot halfpad die oorspronklike hoogte herbou.

7 Die werk het gevorder en hulle het die gapings in die muur herstel. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod dit hoor, het hulle baie kwaad geword.

8 Hulle het almal planne beraam om teen Jerusalem te veg. Hulle wou kom om verwarring te veroorsaak.

9 Maar ons het tot ons God gebid. Ons het die stad dag en nag bewaak om onsself teen hulle te beskerm.

10 Maar die mense van Juda het begin sê: “Die bouers is besig om moeg te word en daar is baie rommel wat ons moet verwyder. Ons sal die muur nie alleen kan bou nie.

11 “Boonop sê ons vyande: ‘Voordat hulle besef wat gebeur, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en bring ’n einde aan die bouery.’”

12 Die Jode wat naby die vyand gebly het, het herhaaldelik vir ons kom sê: “Hulle sal uit alle rigtings kom om ons aan te val!”

13 Ek het toe wagte agter die laagste dele van die muur geplaas waar daar oop gedeeltes was. Ek het ook mense by die families laat wagstaan, gewapen met swaarde, spiese en boë.

14 Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: “Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is. Veg vir julle vriende, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise!”

15 Toe ons vyande hoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit in die wiele gery het, kon elkeen van ons weer na ons werk aan die muur teruggaan.

16 Maar van toe af kon net die helfte van my mense met die werk aangaan. Die ander het met harnasse aan waggestaan, gewapen met spiese, skilde en boë.

Die offisiere het agter die mense van Juda posisie ingeneem

17 terwyl hulle aan die muur gebou het. Die werkers wat die boumateriaal aangedra het, het hulle werk met net een hand gedoen. In die ander hand was ’n wapen.

18 Al die bouers het gewerk met ’n swaard aan hulle sye vasgemaak. Die trompetblaser het by my gebly om alarm te maak.

19 Ek het vir die leiers, amptenare en die res van die volk verduidelik: “Kyk, ons werk oor ’n groot gebied en ons is ver van mekaar af al langs die muur versprei.

20 As julle die trompet hoor blaas, kom vinnig by daardie punt bymekaar. Ons God sal vir ons veg!”

21 Ons het van vroeg tot laat gewerk, van sonsopkoms tot sonsondergang. Een helfte van die mense was altyd op wag, gewapen met spiese.

22 Ek het ook almal wat buite die mure gebly het, beveel om in Jerusalem te kom slaap. Op dié manier kon hulle en hulle slawe in die nag help wagstaan en bedags met die werk help.

23 In dié tyd het niemand van ons ooit ons klere uitgetrek nie – nie ek of my familie of my diensknegte of die wagte wat by my was nie. Ons het ons wapens te alle tye saam met ons gedra, selfs wanneer ons water gaan drink het.

NEHEMIA 5

Nehemia verdedig mense wat

onderdruk word

1 In hierdie tyd was daar ook ernstige klagtes van die volk en die vroue teen sommige van hulle mede-Jode.

2 Party van hulle het gesê: “Ons het groot families. Ons moet koring in die hande kry om te kan oorleef.”

3 Ander het gesê: “Ons het ons landerye, wingerde en huise verpand om gedurende die hongersnood kos in die hande te kry.”

4 Nog ander het gesê: “Ons het geld geleen om die koningsbelasting op ons landerye en wingerde te betaal.

5 Ons is almal familie van mekaar, ons kinders is vir hulle net soos hulle kinders. Tog moet ons ons kinders as slawe verkoop om net genoeg geld te kry om van te leef. Ons moes al van ons dogters verkoop. Ons is magteloos om iets daaraan te doen, want ons landerye en wingerde is alreeds aan ander mense verpand.”

6 Toe ek hulle klagtes hoor en al die dinge wat hulle sê, was ek baie kwaad.

7 Nadat ek dit goed oordink het, het ek die leiers en amptenare aangespreek en vir hulle gesê: “Julle buit julle eie mense uit deur geld teen rente aan hulle te leen!”

Ek het toe ’n groot openbare vergadering oor die probleem belê.

8 By die vergadering het ek vir hulle gesê: “Ons het ons bes gedoen om ons Joodse volksgenote wat hulleself aan vreemde volke moes verkoop, vry te kry. Nou verkoop julle julle eie mense weer as slawe en ons moet hulle terugkoop!”

Hulle was stil en het nie ’n woord gesê nie.

9 Ek het voortgegaan en gesê: “Wat julle doen, is nie reg nie! Behoort julle leefwyse nie te wys dat julle ons God respekteer nie? Die vyandige volke sou dan mos nie rede gehad het om julle te minag nie.

10 Ek, my familie en my werkers het self ook geld en graan aan van die mense geleen. Kom ons hou nou op om op hierdie manier geld teen rente uit te leen.

11 “Julle moet vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle teruggee. Betaal ook die rente terug wat julle op hulle geld, graan, wyn en olyfolie gehef het.”

12 Hulle het toe gesê: “Ons sal maak soos u sê. Ons sal alles teruggee en niks meer van hulle eis nie.”

Ek het die priesters geroep en die leiers en amptenare ’n eed laat sweer dat hulle sal doen wat hulle beloof het om te doen.

13 Toe het ek ook my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God julle net so uitskud uit julle huise en julle eiendom as julle nie julle belofte nakom nie!”

Die vergadering het heelhartig daarmee saamgestem en die Here geprys. Die mense het hulle beloftes nagekom.

14 Ek was twaalf jaar lank goewerneur van Juda. Dit het gestrek vanaf die twintigste tot die 32ste jaar wat koning Artasasta regeer het. In dié tyd het nie ek of enige van my amptenare die kostoelaag waarop die goewerneur geregtig is, gebruik nie.

15 Maar dit was nie die geval met die goewerneurs wat my voorgangers was nie. Hulle het die mense swaar belas. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog 460 gram silwer geëis. Selfs die goewerneurs se amptenare het van die mense misbruik gemaak. Maar ek het nie so opgetree nie omdat ek vir God ontsag het.

16 Ek het my aandag aan die bou van die muur gegee en nie vir my grond aangeskaf nie. Ek het ook van al my amptenare verwag om aan die muur te werk.

17 Ek het gereeld 150 Judeërs en amptenare aan tafel gehad. Dit was bo en behalwe die besoekers wat uit lande van die omgewing gekom het.

18 Elke dag moes hulle vir my ’n bees, ses slagskape en ’n groot hoeveelheid hoenders slag. Verder het ons elke tiende dag ’n groot verskeidenheid wyn nodig gehad. Ten spyte daarvan het ek geweier om die goewerneur se kostoelaag op te eis, want die werkslas op hierdie mense was alreeds baie swaar.

19 My God, onthou asseblief alles wat ek vir hierdie mense gedoen het. Wees daaroor goed vir my.

NEHEMIA 6

Verdere weerstand teen die

bouwerk

1 Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die ander vyande het gehoor dat ek die bouwerk aan die muur voltooi het. Daar was geen openinge meer in die muur nie. Hulle moes wel nog die deure in die poorte hang.

2 Toe stuur Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap met die versoek dat ek hulle in een van die dorpies in die Onolaagte moes ontmoet. Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen.

3 Ek het toe vir hulle ’n boodskap teruggestuur: “Ek is met ’n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.”

4 Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur.

5 Die vyfde keer het Sanballat sy assistent na my gestuur met ’n oop brief in sy hand.

6 In die brief het daar gestaan:

“Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ’n opstand beplan. Dit is hoekom julle die muur bou. Volgens die gerugte het jy planne om hulle koning te word.

7 Hy vertel ook dat jy profete aangestel het om in Jerusalem oor jou te profeteer. Hulle sê glo: ‘Daar is nou ’n koning in Juda!’

“Die koning sal sonder enige twyfel van hierdie gerugte te hore kom. My voorstel is dat jy liewer kom en die saak met my kom bespreek.”

8 Ek het toe die volgende antwoord vir hom gestuur: “Daar is nie ’n greintjie waarheid in jou storie nie. Dit is goed wat jy self uitgedink het.”

9 Dit was bloot hulle manier om ons te intimideer. Hulle het gedink dit sou ons moedeloos maak en dat die werk tot stilstand sou kom. Ek het vir krag gebid dat die werk kon voortgaan.

10 Semaja seun van Delaja en kleinseun van Mehetabel was in sy huis toegesluit. Ek het hom gaan besoek. Hy het gesê: “Kom ons ontmoet mekaar in die tempel van God en sluit die deure van die tempel. U vyande is op pad om u vannag te kom doodmaak.”

11 Ek het hom geantwoord: “Behoort iemand soos ek vir gevaar weg te vlug? Behoort iemand soos ek in die tempel te skuil om my lewe te red? Nee, ek sal nie ingaan nie!”

12 Ek het besef dat dit nie God is wat hom gestuur het nie. Dit was Tobija en Sanballat wat hom gehuur het om hierdie woorde vir my te profeteer.

13 Hulle het hom gehuur met die hoop om my bang te maak en dan deur my verkeerde optrede te sondig. Dit sou dit vir hulle moontlik gemaak het om my naam sleg te maak en my te verneder.

14 O, my God, onthou al die slegte dinge wat Tobija en Sanballat gedoen het. En vergeet ook nie van die profeet Noadja en al die ander profete soos sy wat my probeer afskrik het nie.

Die bouers voltooi die muur

15 Op 2 Oktober is die muur uiteindelik voltooi. Dit was net 52 dae vandat ons begin bou het.

16 Toe die nuus ons vyande bereik en die volke in die omgewing sien wat gebeur het, was hulle uit die veld geslaan. Hulle het besef dat ons God ons met hierdie werk gehelp het.

17 Gedurende hierdie 52 dae was daar baie briefwisseling tussen Tobija en die leiers van Juda.

18 Baie van die mense in Juda het trou aan hom gesweer, want hy was die skoonseun van Sekanja, die seun van Arag. Verder was sy seun Joganan met die dogter van Mesullam seun van Berekja getroud.

19 Hulle het ook voortdurend vir my vertel hoe ’n wonderlike man Tobija is. Hulle het ook vir hom alles oorvertel wat ek gesê het. En Tobija het baie briewe aan my gestuur om my te probeer bangmaak.

NEHEMIA 7

1 Nadat ons die muur klaar gebou het, het ek die hekke gehang. Daarna het ons die hekwagte, sangers en die Leviete aangestel.

2 Ek het my broer Ganani en Gananja, die bevelvoerder van die vesting, in bevel van Jerusalem geplaas. Gananja was ’n meer betroubare en godvresende persoon as enige van die ander mense.

3 Ek het vir hom gesê: “Moenie die poorte van Jerusalem oopmaak voordat die son eers warm skyn nie. Maak die poorte ook weer toe en sluit hulle terwyl die wagte nog aan diens is. Stel ook snags wagte aan uit die inwoners van Jerusalem. Laat party van hulle by vasgestelde punte wagstaan en ander in die omgewing van hulle eie huise.”

Nehemia stel ’n register van die

mense op

4 Jerusalem was groot en uitgestrek, maar die inwonertal was min. Die huise was nog nie weer herbou nie.

5 My God het my toe die idee gegee om al die leiers, die amptenare en die mense bymekaar te roep en volgens hulle families te registreer.

Ek het op die register afgekom met die name van die mense wat eerste uit ballingskap teruggekom het. Daarin het geskryf gestaan:

6 “Hierdie is die mense van die provinsie wat teruggekom het na Jerusalem en die ander stede van Juda. Nebukadnesar, die koning van Babel, het hulle vroeër in ballingskap weggevoer.

7 Hulle het saam met Serubbabel, Josua, Nehemia, Asarja, Raämja, Nagamani, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna teruggekom.”

Die getalle van die mense van Israel wat uit ballingskap teruggekom het, was: “Ingedeel volgens families:

8 Paros 2 172,

9 Sefatja 372,

10 Arag 652,

11 Pagat-Moab, uit die families van Josua en Joab 2 818,

12 Elam 1 254,

13 Sattu 845,

14 Sakkai 760,

15 Bani 648,

16 Bebai 628,

17 Asgad 2 322,

18 Adonikam 667,

19 Bigwai 2 067,

20 Adin 655,

21 Ater, uit die familie van Hiskia 98,

22 Gasum 328,

23 Besai 324,

24 Garif 112.

“Ingedeel volgens plek van herkoms:

25 Gibeon 95,

26 Betlehem en Netofa 188,

27 Anatot 128,

28 Bet-Asmawet 42,

29 Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot 743,

30 Rama en Geba 621,

31 Mikmas 122,

32 Bet-El en Ai 123,

33 Nebo 52,

34 Elam 1 254,

35 Garim 320,

36 Jerigo 345,

37 Lod, Gadid en Ono 721,

38 Senaä 3 930.

39 “Priesterfamilies: Jedaja, uit die huis van Jesua, 973,

40 Immer 1 052,

41 Pasgur 1 247,

42 Garim 1 017.

43 “Levitiese families: Jesua, uit die familie van Kadmiël, uit die Hodaujagroep 74,

44 sangers uit die Asafgroep 148,

45 hekwagte uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai 138.

46 “Tempelslawe met hulle families: Siga, Gasufa, Tabbaot,

47 Keros, Sia, Padon,

48 Lebana, Gagaba, Salmai,

49 Ganan, Giddel, Gagar,

50 Reaja, Resin, Nekoda,

51 Gassam, Ussa, Paseag,

52 Besai, Meünim, Nefusim,

53 Bakbuk, Gakufa, Gargur,

54 Baslut, Megida, Garsa,

55 Barkos, Sisera, Temag,

56 Nesiag en Gatifa.

57 “Nakomelinge van die dienaars van Salomo, met hulle families: Sotai, Soferet, Peruda,

58 Jala, Darkon, Giddel,

59 Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Amon.

60 “Al die tempelslawe en die nakomelinge van die amptenare van Salomo was saam 392 mense.

61 “Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie.

62 Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam 642 mense.

63 “Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dié Barsillai wat getroud is met ’n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is.

64 Hierdie families het probeer vasstel of hulle in die registers opgeneem is, maar hulle kon niks vind nie. Hulle is van hulle priesterskap onthef.

65 Die amptenaar wat met dié saak belas was, het besluit dat hulle nie van die gewyde gawes mag eet voordat ’n priester met die Urim en die Tummim uitsluitsel gegee het nie.

66 “Die hele groep was in totaal 42 360 mense,

67 afgesien van hulle slawe en slavinne wat in totaal 7 337 was. Dan was daar ook nog 245 manlike en vroulike sangers.

68 Hulle het ook 736 perde, 245 muile

69 asook 435 kamele en 6 720 donkies saamgevat.”

70 Party familiehoofde het bydraes vir die werk gegee. Die goewerneur het agt en ’n half kilogram goud, 50 goue komme en 530 stelle priesterklere gegee.

71 Van die familiehoofde het vir die werkfonds 168 kilogram goud en een en ’n kwart ton silwer bygedra.

72 Die res van die mense het 168 kilogram goud, meer as ’n ton silwer en 67 stelle priesterklere gegee.

73 Die priesters, Leviete, poortwagte, sangers, ’n deel van die volk en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. Almal in Israel het dit gedoen. Teen middelherfs was die mense van Israel in hulle eie dorpe gevestig.

NEHEMIA 8

Esra lees die wetboek

1 Die mense het toe almal op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom. Hulle het die skrywer Esra gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here vir Israel was, te bring.

2 Die priester Esra het die wetboek op 8 Oktober na die byeenkoms toe gebring. Daar was mans, vroue en kinders wat reeds kon verstaan, teenwoordig.

3 Op die plein voor die Waterpoort het hy daaruit voorgelees vir almal wat kon verstaan. Hy het van vroeg die môre af tot die middag toe daaruit vir hulle voorgelees. Almal het baie aandagtig na die wetboek geluister.

4 Esra het op ’n houtverhoog wat vir die geleentheid gemaak is, gestaan. Regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan. Links van hom was Pedaja, Misael, Malija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.

5 Al die mense kon Esra op die verhoog sien staan. Toe hulle sien dat hy die boek oopmaak, het almal opgestaan.

6 Esra het die Here, die groot God geprys. Die mense het hierop “Amen! Amen!” gesê terwyl hulle hulle hande na die hemel toe uitstrek. Almal het voor die Here gekniel en met hulle gesigte laag teen die grond neergebuig.

7 Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die gebooie uitgelê aan die mense wat daar gestaan het.

8 Hulle het uit God se wetboek voorgelees en mooi verduidelik wat dit beteken. Hulle het seker gemaak die mense verstaan wat gelees is.

9 Die mense het begin huil toe hulle hoor wat in die boek staan.

Toe het Nehemia vir die goewerneur, die priester en skrywer Esra en vir die Leviete wat die gebooie vir die mense verduidelik het, gesê: “Julle moenie treur of huil nie, vandag is ’n spesiale dag wat aan die Here, julle God, gewy is.”

10 Hy het ook vir hulle gesê: “Gaan eet ’n lekker maaltyd en drink soet drankies. Deel ook van die kos met mense wat niks voorberei het nie. Hierdie is ’n dag wat aan ons God toegewy is. Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!”

11 Die Leviete het die volk ook ge-troos en vir hulle gesê: “Wees stil! Moenie huil nie! Hierdie dag is spesiaal, dit is aan die Here toegewy.”

12 Die mense het toe weggegaan om ’n feesmaal te eet en te drink en hulle kos met ander mense te deel. Hulle het goed verstaan wat voorgelees is. Dit het hulle baie bly gemaak.

Die Huttefees

13 Op 9 Oktober het die familieleiers, die priesters en die Leviete by Esra bymekaargekom om die wetboek verder te bespreek.

14 In hulle bestudering van die voorskrifte het hulle ontdek dat die here deur Moses die Israeliete beveel het om gedurende die fees wat hulle in dié maand vier, in hutte te bly.

15 Hy het gesê dat hulle in al die dorpe en veral in Jerusalem die volgende boodskap moet aankondig: “Gaan haal olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en vyeboomtakke in die heuwels. Maak hutte daarvan soos vir julle voorgeskryf is.”

16 Die mense het toe uitgegaan en die takke gaan sny. Hulle het die takke gebruik om op die platdakke van hulle huise of in die binnehowe van hulle huise hutte te maak. Ander het hutte in die binneplein van die tempel gemaak of op die pleine by die Waterpoort en die Efraimspoort.

17 Almal wat uit gevangenskap teruggekeer het, het vir die sewe dae van die fees in hierdie hutte gebly. Hulle het laas in die tyd van Josua die seun van Nun so fees gevier. Daar was groot blydskap onder hulle!

18 Esra het elke dag, vir sewe dae lank, uit die Wetboek van God voorgelees. Sewe dae lank het hulle so feesgevier. Op 15 Oktober, die agtste dag van die fees, het hulle, soos voorgeskryf, ’n plegtige byeenkoms gehou.