2 KRONIEKE 35

Josia vier die Paasfees

1 Josia het die Paasfees van die Here in Jerusalem gevier. Die paaslam is op die veertiende dag van die eerste maand geslag.

2 Josia het die priesters se pligte aan hulle toegewys en hulle bemoedig in hulle werk in die tempel van die Here.

3 Hy het die Leviete wat aan die Here gewy was, en wat die hele Israel onderrig het, beveel: “Sit die heilige ark nou in die tempel wat Salomo seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het, dan is dit nie nodig om dit op julle skouers te dra nie. Dien nou die Here julle God en sy volk Israel.

4 Meld aan vir diens volgens die familiegroepe van julle voorouers. Volg die geskrewe voorskrifte van koning Dawid van Israel en die voorskrifte van sy seun Salomo.

5 Gaan staan dan in julle aangewese plekke in die heiligdom. Daar moet vir elke familiegroep van julle volksgenote ’n familie-afdeling Leviete wees.

6 Slag die paaslam, reinig julleself en berei dit voor vir julle volksgenote. Volg al die voorskrifte wat die Here deur Moses gegee het.”

7 Josia self het 30 000 skaaplammers en boklammers vir die volk se Paasfees gegee en ook nog 3 000 beeste uit die koninklike kudde.

8 Die koning se amptenare het ook vrywillig voorsien vir die volk, die priesters en Leviete. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel van God, het vir die priesters 2 600 skaaplammers en boklammers, asook 300 beeste as paasoffers gegee.

9 Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het vir die Leviete 5 000 paasoffers en 500 beeste gegee.

10 Toe alles gereed was vir die Paasfees, het die priesters en Leviete hulle plekke ingeneem. Hulle is ingedeel volgens hulle afdelings soos die koning beveel het.

11 Die Leviete het toe die paaslammers geslag, die bloed aan die priesters gegee, en hulle het die bloed op die altaar gesprinkel terwyl die Leviete die diere voorberei het.

12 Hulle het die brandoffers eenkant gehou om aan die familiegroepe uit te deel sodat hulle dit aan die Here kon offer volgens die voorskrifte in die Boek van Moses. So het hulle ook met die beeste gedoen.

13 Daarna het hulle die paaslammers volgens die voorskrif oor vure gebraai. Die gewyde offers is in potte, kastrolle en skottels gekook en vir die lede van die volk gegee.

14 Daarna het die Leviete vir hulleself en die priesters vleis gaargemaak, want die priesters uit die geslag van Aäron moes die hele dag tot die nag toe brandoffers en die vetdele as offerande verbrand. Die Leviete moes dus vir hulleself en die Aäronitiese priesters vleis gaarmaak.

15 Die musikante, afstammelinge van Asaf, was op die plekke wat vir hulle toegewys is volgens die voorskrifte van Dawid, Asaf, Heman en Jedutun, die koning se siener.

Die poortwagters het die ingange bewaak. Dit was vir hulle nie nodig om hulle poste te verlaat nie, want hulle mede-Leviete het vir hulle kos gebring.

16 Die viering van die Paasfees van die Here is op dié manier daardie dag voltooi. Al die brandoffers is op die altaar van die Here gebring soos koning Josia beveel het.

17 Al die Israeliete teenwoordig het toe die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank gevier.

18 Sedert die tyd van Samuel die profeet was daar nie weer so ’n groot Paasfees in Israel nie. Nie een van die konings van Israel het ooit so ’n Paasfees gevier soos Josia nie. Al die priesters en Leviete, die hele Juda en Israel en al die inwoners van Jerusalem het daaraan deelgeneem.

19 Hierdie Paasfees is in die agtiende jaar van Josia se regering gevier.

Josia sneuwel in ’n geveg

20 Nadat Josia die tempel herstel het, het koning Neko van Egipte met sy leër uit Egipte opgetrek om by Karkemis aan die Eufraatrivier te veg. Josia het met sy leër teen hom opgetrek.

21 Maar koning Neko het vir hom die volgende boodskap gestuur: “Daar is tog geen geskil tussen ons nie, koning van Juda! Ek wil nie vandag teen jou veg nie, maar net teen die huis met wie ek oorlog voer. God het gesê ek moet gou maak! Moenie inmeng met God wat met my is nie, want Hy sal jou vernietig.”

22 Josia wou egter nie omdraai nie, maar het homself vir die geveg vermom. Hy wou nie luister na die waarskuwing wat Neko op God se bevel gegee het nie. In die vlakte van Megiddo het hy die geveg begin.

23 Maar die vyandige boogskutters het koning Josia raakgeskiet. Hy roep toe sy lyfwagte: “Neem my weg uit die geveg, want ek is swaar gewond!”

24 Hulle het hom uit sy strydwa gehaal, in ’n ander strydwa gesit en hom teruggebring na Jerusalem toe. Daar het hy gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het oor hom getreur.

25 Die profeet Jeremia het treurliedere oor Josia geskryf. Al die sangers en sangeresse het treurliedere oor Josia gesing. Tot vandag toe word die treurliedere nog gesing. Dit het ’n gebruik geword in Israel en is opgeteken inDie boek van treurliedere.

26 Die ander gebeurtenisse tydens Josia se regering en sy dade van getrouheid aan die voorskrifte van die Here,

27 van begin tot einde, is opgeteken inDie boek van die konings van Israel en Juda.

2 KRONIEKE 36

Joahas regeer in Juda

1 Die burgers van die land het Josia se seun Joahas in Jerusalem in die plek van sy pa koning gemaak.

2 Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het, maar hy het net drie maande in Jerusalem regeer.

3 Neko, die koning van Egipte, het koning Joahas in Jerusalem onttroon en die land met ’n halwe ton silwer en 34 kilogram goud beboet.

4 Die koning van Egipte het Eljakim, broer van Joahas, as die nuwe koning van Juda en Jerusalem aangestel. Hy het ook die naam van Eljakim verander na Jojakim. Neko het Joahas as gevangene na Egipte toe geneem.

Jojakim regeer in Juda

5 Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en het elf jaar in Jerusalem regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God.

6 Koning Nebukadnesar van Babel het na Jerusalem toe gekom en dit ingeneem. Hy het Jojakim met bronskettings geboei en hom na Babel toe geneem.

7 Nebukadnesar het ook van die skatte uit die tempel van die Here gevat en dit in sy paleis in Babel gesit.

8 Die ander gebeurtenisse tydens Jojakim se regering, die afskuwelike dinge wat hy gedoen het en alles wat teen hom gevind is, is opgeteken inDie boek van die konings van Israel en Juda.Sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.

Jojagin regeer in Juda

9 Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het, maar hy het net drie maande en tien dae in Jerusalem regeer. Jojagin het gedoen wat verkeerd was vir die Here.

10 In die lente het koning Nebukadnesar hom laat haal. Hulle het ook baie kosbare voorwerpe uit die tempel van die Here geneem en dit na Babel toe gebring. Hy het Sedekia, die oom van Jojagin, oor Juda en Jerusalem koning gemaak.

Sedekia regeer in Juda

11 Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar in Jerusalem regeer.

12 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God en het nie berou gehad toe Jeremia die profeet die woorde van die Here verkondig het nie.

13 Hy het ook teen koning Nebukadnesar in opstand gekom al het hy ’n eed van getrouheid voor God afgelê. Sedekia was hardkoppig en onversetlik en het geweier om terug te draai na die Here die God van Israel.

14 Al die leiers van die priesters en die volk het al meer ontrou geword. Hulle het die heidense praktyke van die omringende nasies gevolg en die tempel van die Here in Jerusalem, wat Hy geheilig het, ontheilig.

15 Die Here die God van hulle voorouers het herhaaldelik sy profete gestuur om hulle te waarsku, want Hy het medelye gehad met sy volk en sy woning,

16 maar hulle het met die boodskappers van God gespot, sy woorde geminag en sy profete uitgelag totdat die woede van die Here teen sy volk ontbrand het en daar vir hulle nie meer genesing was nie.

Die val van Jerusalem

17 Die Here het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek. Hy het hulle jong mans in die heiligdom met die swaard afgemaai, en geen genade aan jong man of jong meisie, bejaardes of verswaktes betoon nie. God het hulle almal in Nebukadnesar se mag oorgegee.

18 Hy het al die voorwerpe in die tempel van God, groot en klein, die skatte van die Here se tempel en die skatte in die koninklike paleis en sy amptenare weggevat na Babel toe.

19 Hulle het die tempel van God aan die brand gesteek, die mure van Jerusalem afgebreek en die paleise verband, en elke ding van waarde vernietig.

20 Almal wat ontkom het aan die swaard, is na Babel toe geneem. Hulle het slawe van die koning en sy seuns geword totdat die Perse die mag oorgeneem het.

21 So is die boodskap van die Here vervul wat deur Jeremia gebring is. Die land het ’n sabbatsrus beleef toe dit 70 jaar lank ontvolk was soos die profeet gesê het.

Kores laat die ballinge

terugkom

22 In die eerste jaar van koning Kores van Persië het die Here die profesie van Jeremia vervul. Hy het koning Kores van Persië aangespoor om ’n proklamasie uit te vaardig, dit skriftelik te doen en deur sy hele koninkryk te stuur. Dit het soos volg gelui:

23 Dit is wat koning Kores van Persië sê: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke op die aarde aan my gegee. Hy het my aangestel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. Elkeen van julle wat deel is van sy volk, mag teruggaan. Mag die Here met hom wees.

ESRA 1

1 Kores laat die ballinge terugkeer

In die eerste jaar wat Kores koning van Persië was, het die Here die belofte wat Jeremia gebring het, vervul. Die Here het gesorg dat Kores koning van Persië ’n besluit neem, dit neerskryf en deur sy hele ryk sirkuleer. Die besluit was soos volg:

2 “So sê Kores koning van Persië: Die Here, die God van die hemel, het my beheer oor al die koninkryke van die aarde gegee. Hy het my aangestel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou.

3 As julle deel is van sy volk, mag julle teruggaan na Jerusalem in Juda om hierdie tempel van die Here, die God van Israel, die God wat in Jerusalem is, te gaan herbou. Mag God by julle wees!

4 Van die mense van Juda wat nog in ander gebiede oorbly, se bure moet hulle deel bydra om te help dra aan die uitgawes van dié wat wil teruggaan. Hulle moet silwer en goud, voorraad vir die terugtog en vee voorsien, asook vrywillige offers vir die tempel vir God in Jerusalem.”

5 God het toe die gesindheid van die priesters en die Leviete, en ook van die stamleiers van Juda en Benjamin beïnvloed om na Jerusalem toe terug te gaan om die tempel van die Here te herbou.

6 Al hulle bure het hulle bygestaan deur vir hulle voorwerpe van silwer en goud te gee. Hulle het ook voorraad en vee vir die terugtog voorsien. Bo en behalwe alles wat hulle vrywillig aan hulle gegee het, het hulle ook waardevolle geskenke saamgegee.

7 Koning Kores het self ook waardevolle voorwerpe gegee. Dit was die voorwerpe wat Nebukadnesar voorheen uit die tempel van die Here in Jerusalem gevat het en in die tempel van sy eie gode gesit het.

8 Kores het aan Mitredat, die tesourier van Persië, opdrag gegee om die voorwerpe te tel en aan Sesbassar te gee. Sesbassar was die leier van die ballinge wat op pad was terug na Juda toe.

9 Die voorwerpe wat Kores geskenk het, was soos volg: goue skinkborde 30, silwerbakke 1 000, silwermesse 29,

10 goue bakke 30, silwerbakke 410, ander voorwerpe 1 000.

11 In totaal is daar 5 400 voorwerpe van goud en silwer aan Sesbassar gegee om na Jerusalem toe terug te vat wanneer die ballinge uit Babel daarheen sou terugkeer.

ESRA 2

Die ballinge wat saam met

Serubbabel teruggekom het

1 Hier is die lys ballinge wat uit die provinsie na Jerusalem en die ander stede van Juda teruggekom het. Hulle is destyds deur koning Nebukadnesar na Babel toe weggevoer.

2 Hulle het saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna teruggekeer. Die getal mense wat uit gevangenskap teruggekeer het, was:

3 Paros 2 172,

4 Sefatja 372,

5 Arag 775,

6 Pagat-Moab (uit die familie van Jesua en Joab) 2 812,

7 Elam 1 254,

8 Sattu 954,

9 Sakkai 760,

10 Bani 642,

11 Bebai 632,

12 Asgad 1 222,

13 Adonikam 666,

14 Bigwai 2 056,

15 Adin 454,

16 Ater (uit die familie van Hiskia) 98,

17 Besai 323,

18 Jora 112,

19 Gasum 223,

20 Gibbar 95.

21 Die bewoners van: Betlehem 123,

22 Netofa 56,

23 Anatot 128,

24 Bet-Asmawet 42,

25 Kirjat-Jearim, Kefira, en Beërot 743,

26 Rama en Geba 621,

27 Mikmas 122,

28 Bet-El en Ai 223,

29 Nebo 52,

30 Magbis 156,

31 Elam 1 254,

32 Garim 320,

33 Lod, Gadid en Ono 725,

34 Jerigo 345,

35 Senaä 3 630.

36 Die volgende is die priesterfamilies wat uit ballingskap teruggekeer het: Jedaja (uit die nageslag van Jesua) 973,

37 Immer 1 052,

38 Pasgur 1 247,

39 Garim 1 017.

40 Die volgende is die Leviete wat uit ballingskap teruggekeer het: Jesua en Kadmiël (uit die nageslag van die Hodauja) 74,

41 sangers uit die nageslag van Asaf 128,

42 poortwagters by die ingange van die tempel uit die nageslag van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai, altesaam 139.

43 Die volgende is die nageslag van die tempelslawe met hulle families: Siga, Gasufa, Tabbaot,

44 Keros, Sia, Padon,

45 Lebana, Gagaba, Akkub,

46 Gagab, Salmai, Ganan,

47 Giddel, Gagar, Reaja,

48 Resin, Nekoda, Gassam,

49 Ussa, Paseag, Besai,

50 Asna, Meünim, Nefusim,

51 Bakbuk. Gakufa, Gargur,

52 Baslut, Megida, Garsa,

53 Barkos, Sisera, Temag,

54 Nesiag en Gatifa.

55 Die volgende is die nageslag van die slawe van koning Salomo wat uit ballingskap teruggekeer het: Sotai, die seuns van Soferet, Peruda,

56 Jala, Darkon, Giddel,

57 Sefatja, Gattil, Pokeret-Sebajim en Ami.

58 Die getal tempelwerkers en die nageslag van die slawe van koning Salomo was saam 392.

59 ’n Groep mense het uit die stede Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer ook na Jerusalem toe teruggekom. Hulle kon egter nie bewys dat hulle of hulle nageslag afstammelinge van Israel was nie.

60 Hierdie groep het bestaan uit die nageslag van Delaja, Tobija en Nekoda. Hulle was saam 652 mense.

61 Drie priesterfamilies, naamlik Gabaja, Kos en Barsillai het ook na Jerusalem toe teruggekom. Barsillai het met ’n vrou getrou wat ’n afstammeling van Barsillai van Gilead was. Hy het haar van aangeneem.

62 Hulle het hulle geslagsregister verloor en is daarom nie toegelaat om as priesters diens te doen nie.

63 Die goewerneur wou hulle nie toelaat om van die kos wat as offers gebring was, te eet nie, altans nie voordat ’n priester die lot daaroor gewerp het om te besluit of hulle dit mag eet of nie.

64 ’n Totaal van 42 360 mense het na Juda toe teruggekeer.

65 Daarby moet nog 7 337 slawe en slavinne en 200 manlike en vroulike sangers getel word.

66 Hulle het 736 perde en 245 muile saamgebring,

67 asook 435 kamele en 6 720 donkies.

68 Toe hulle by die tempel van die Here in Jerusalem aankom, het sommige van die familiehoofde vrywillige bydraes gemaak sodat God se tempel op die oorspronklike plek herbou kon word.

69 Elkeen van hulle het soveel gegee as wat hulle kon. Die somtotaal van wat hulle geskenk het, was ongeveer 500 kilogram goud, 3 000 kilogram silwer en 100 kledingstukke vir die priesters.

70 Die priesters, die Leviete, die sangers, die werkers by die ingange van die tempel, die tempelwerkers en ook van die gewone mense, het in hulle eie dorpies naby Jerusalem gaan woon. Die res van die mense het in die ander stede in Juda, waarvandaan hulle vantevore gekom het, gaan bly.

ESRA 3

Die altaar word herbou

1 Die Israeliete het hulle in hulle stede gaan vestig. Vroegherfs het die hele volk in Jerusalem bymekaargekom.

2 Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, asook Serubbabel seun van Sealtiël en sy familie het toe die altaar van die God van Israel begin herbou. Hulle wou offers daarop bring soos die wet van Moses, die man van God, voorgeskryf het.

3 Hoewel hulle bang was vir die plaaslike inwoners, het hulle die altaar weer op sy oorspronklike plek herbou. Hulle het dadelik vir die Here brandoffers op die altaar begin offer. Hulle het dit elke oggend en aand gedoen.

4 Hulle het ook die Huttefees gevier soos die wet van Moses voorgeskryf het. Elke dag van die fees het hulle die voorgeskrewe offer vir die dag gebring.

5 Ná die fees het hulle voortgegaan om die gereelde brandoffers te bring. Hulle het ook die offers gebring wat met die Nuwemaanfees en ook die ander feeste van die Here saamgaan. Die mense het ook weer vrywillige offers vir die Here gebring.

6 Reeds vyftien dae voor die Huttefees sou begin, het die priesters al vir die Here brandoffers geoffer. Hulle het dit al gedoen selfs voordat hulle die fondasies vir die Here se tempel begin lê het.

Die herbou van die tempel

7 Eers het hulle klipkappers en skrynwerkers gehuur. Hulle het ook vir die mense van Sidon en Tirus kos, wyn en olyfolie gegee om vir hulle sederhout te bring. Hulle het die houtstompe afgebring uit die Libanonberge en na Joppe toe gebring. Dit is met toestemming van koning Kores van Persië gedoen.

8 Die bouwerk aan die tempel van God het in die tweede maand van die tweede jaar begin nadat hulle in Jerusalem teruggekom het. Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, die Leviete en almal wat uit ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, het saamgebou. Die Leviete van twintig jaar en ouer is aangestel om oor die bouwerk toesig te hou.

9 Jesua, sy seuns en sy familie, Kadmiël en sy seuns, en al die afstammelinge van Hodaja het toesig gehou oor die herbouing van God se tempel. Die Leviete uit die nageslag van Genadad het hulle ook gehelp om toesig te hou.

10 Die dag toe die bouers die fondasie van die Here se tempel gelê het, het die priesters, geklee in hulle seremoniële drag, hulle plekke ingeneem en op hulle trompette geblaas. Die Leviete en die Asafgroep het lof aan die Here gebring deur simbale te slaan soos koning Dawid van Israel voorgeskryf het.

11 Hulle het die Here geloof en gedank deur te sing: “Hy is goed! Sy troue liefde vir Israel sal nooit ophou nie!” Al die mense het daarna hard uitgeroep terwyl hulle die Here geloof het omdat die fondasie van die Here se tempel gelê is.

12 Baie van die ouer priesters, Leviete en van die ander leiers het onthou hoe die eerste tempel gelyk het. Toe hulle die fondasie van die nuwe tempel sien, het hulle hardop begin huil. Van die ander het op hulle beurt weer geskreeu van blydskap.

13 Die geskreeu en gehuil kon nie onderskei word nie, maar het saam ’n oorverdowende lawaai veroorsaak. Dit kon baie ver gehoor word.

ESRA 4

Teenstand teen die

herbouprogram

1 Die vyande van Juda en Benjamin het gehoor dat die ballinge besig was om die tempel van die Here, die God van Israel, te herbou.

2 Hulle het toe vir Serubbabel en die ander leiers genader en gesê: “Ons wil saamwerk, want ons aanbid dieselfde God as julle. Ons het al van die tyd af toe koning Esarhaddon van Assirië ons hierheen gebring het, aan Hom offers gebring.”

3 Maar Serubbabel, Jesua en die ander leiers van Israel het geantwoord: “Ons het niks in gemeen met julle nie, julle mag nie deel wees van hierdie projek nie. Koning Kores het ons beveel om die tempel vir die Here, die God van Israel, te bou, en ons sal dit doen.”

4 Die plaaslike bevolking het toe die mense van Juda uit die werk probeer hou deur hulle moed te breek en hulle bang te maak.

5 Hulle het mense omgekoop om hulle te frustreer en hulle planne in die wiele te ry. Tydens die bewind van Kores van Persië het hulle aangehou om so op te tree totdat koning Darius van Persië aan bewind gekom het.

Teenstand onder koning

Artasasta

6 In die tyd toe Ahasveros koning geword het, het die teenstanders van Juda ’n brief geskryf waarin hulle die inwoners van Juda en Jerusalem aangekla het.

7 Later, toe koning Artasasta van Persië aan bewind was, het die vyande van Juda onder leiding van Bislam, Mitredat en Tabeël ’n brief in Aramees vir hom gestuur. Dit is vir koning Artasasta vertaal.

8 Die brief is deur die goewerneur Regum en Simsai die sekretaris geskryf met die doel om koning Artasasta oor die omstandighede in Jerusalem in te lig.

9 Rehum die goewerneur en Simsai het die koning namens al hulle medewerkers gegroet. Dit was namens die regters en die plaaslike leiers, die amptenare uit Persië, die Babiloniërs en ook die mense uit Erek en Susan, dit is Elam.

10 Hulle het ook groete oorgedra namens al die mense wat die hoogaangeskrewe en beroemde Asenappar weggevoer en in Samaria hervestig het. Verder ook namens al die mense in die aangrensende lande van die provinsie wes van die Eufraatrivier.

11 Hier is ’n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het:

“Aan koning Artasasta, van al die lojale onderdane in die provinsie wes van die Eufraatrivier.

12 “Hiermee stel ons U Majesteit in kennis dat die Jode in Jerusalem wat uit Babel na ons teruggekeer het, besig is om daardie opstandige en slegte stad weer op te bou. Hulle het alreeds die fondasies herstel en sal die mure binnekort voltooi.

13 U Majesteit moet egter weet dat as daardie stad eers herbou en die mure voltooi is, die Jode sal weier om enige belasting, heffings of tolgelde te betaal. Dit sal tot nadeel van u ryk se inkomste strek.

14 “Ons is egter as u onderdane aan u lojaal. Omdat ons nie wil sien dat dit u tot oneer strek nie, voorsien ons u van hierdie inligting.

15 Ons stel voor dat u u voorgangers se argiewe nagaan om vas te stel hoe opstandig hierdie stad in die verlede was. Dit was juis vanweë ’n lang geskiedenis van verset teen die konings en lande wat hulle wou beheer, dat die stad vernietig is.

16 Daarom stel ons dit aan u dat as hierdie stad herbou en die mure herstel is, die provinsie wes van die Eufraatrivier vir u verlore sal wees.”

17 Die koning het toe die volgende antwoord gestuur:

“Ek groet die goewerneur Rehum, die sekretaris Simsai en al die amptenare wat in Samaria en die provinsie wes van die Eufraat woon.

18 “Die brief wat julle aan my gestuur het, is vertaal en aan my voorgelees.

19 Ek het bevel gegee dat die rekords ondersoek word. Dit het aan die lig gekom dat Jerusalem van die vroegste tye af teen menige koning in opstand gekom het. Om die waarheid te sê, dit was ’n broeiplek vir opstand en rebellie!

20 Magtige konings het al oor Jerusalem en die hele provinsie wes van die Eufraatrivier regeer. Hulle het groot bedrae belasting, heffings en tolgelde ontvang.

21 Daarom moet julle ’n bevel uitreik dat hierdie mense hulle boubedrywighede moet staak. Daardie stad moet nie herbou word nie, behalwe as ek self die opdrag gee.

22 Gee sonder versuim aandag aan die aangeleentheid sodat die belange van my ryk nie enige verdere skade ly nie.”

23 Toe hierdie brief van koning Artasasta aan Rehum, Simsai die skrywer en hulle amptenare voorgelees is, het hulle dadelik Jerusalem toe gegaan en die Jode gedwing om met die bouery op te hou.

Voortsetting van die bouwerk

24 Die werk aan die tempel van God in Jerusalem is toe gestop. Alles het net so bly lê tot in die tweede jaar van koning Darius van Persië se regering.

ESRA 5

1 In die tyd het die profete Haggai en Sagaria, die seun van Iddo, vir die Jode in Juda en Jerusalem in die Naam van die God van Israel geprofeteer.

2 In reaksie hierop het Serubbabel seun van Sealtiël en Jesua seun van Josadak, weer aan die tempel van God in Jerusalem begin bou. Die profete van God het hulle hierin bygestaan en ondersteun.

3 Maar die goewerneur Tattenai van die provinsie wes van die Eufraat, Setar-Bosnai en hulle amptenare het toe na Jerusalem toe gegaan en gevra: “Wie het vir julle toestemming gegee om hierdie tempel te herbou en die gebou klaar te maak?”

4 Hulle het ook ’n lys gevra van die name van al die mense wat aan die tempel gewerk het.

5 Maar omdat hulle God vir hulle gesorg het, het die leiers van die Judeërs met die bouwerk voortgegaan. Dit sou so aangaan totdat Darius ’n antwoord sou gee op die verslag wat aan hom gestuur is.

Tattenai se brief aan koning

Darius

6 Hierdie is ’n afskrif van die brief wat die goewerneur Tattenai, Setar-Bosnai en die ander amptenare van die provinsie wes van die Eufraat vir koning Darius gestuur het.

7 In die verslag wat hulle aan hom gestuur het, het die volgende gestaan:

“Ons groet koning Darius.

8 Hiermee wil ons aan u bekendmaak dat ons na die bouterrein van die tempel van die groot God in die provinsie Juda gegaan het. Die bouwerk word met spesiaal voorbereide stene gedoen en balke word ook in die mure ingebou. Die werk word met groot ywer gedoen en hulle maak goeie vordering.

9 Ons het die leiers gevra: ‘Wie het vir julle toestemming gegee om hierdie tempel te herbou en hierdie gebou te herstel?’

10 Ons het ook hulle name gevra sodat ons u kon inlig wie die leiers is.

11 “Hulle het soos volg geantwoord: ‘Ons is die dienaars van die God van die hemel en die aarde. Ons herbou die tempel wat baie lank gelede hier deur ’n beroemde koning van Israel klaar gebou is.

12 ‘Ons voorouers het egter die God van die hemel kwaad gemaak. Daarom het Hy hulle toe aan die mag van die Galdeër koning Nebukadnesar van Babel oorgelewer.

‘Nebukadnesar het hierdie tempel vernietig en die mense na Babilonië in ballingskap weggevoer.

13 Maar koning Kores van Babel het gedurende sy eerste regeringsjaar ’n dekreet uitgevaardig dat hierdie tempel van God herbou moet word.

14 Koning Nebukadnesar het goue en silwer voorwerpe uit die tempel van God in Jerusalem verwyder en in die tempel in Babel gesit. Maar koning Kores het dit weer teruggesit in die tempel in Jerusalem. Hy het die voorwerpe aan Sesbassar, wat hy as goewerneur van Juda aangestel het, vir veilige bewaring gegee.

15 Die koning het hom beveel om hierdie gebruiksvoorwerpe op hulle plek in die tempel in Jerusalem terug te sit. Hy moes ook die tempel van God weer herbou op die plek waar dit oorspronklik was.

16 ‘Hierdie Sesbassar het gekom en die fondasie van die tempel van God in Jerusalem kom lê. Sedertdien het die mense daaraan kom werk, maar dit is nog nie voltooi nie.’

17 “As dit vir u goed is, o Koning, soek dan in die koningsargiewe van Babel of koning Kores wel ’n dekreet uitgevaardig het dat hierdie tempel van God in Jerusalem herbou moet word. Laat ons dan asseblief weet, o Koning, wat u beslissing hieroor is.”

ESRA 6

Darius keur die bouwerk goed

1 Koning Darius het toe opdrag gegee dat ’n ondersoek in die argiewe in Babel gedoen moes word. Die dokumente is daar gehou.

2 Die boekrol is egter in Agmeta, ’n vestingstad in die provinsie Medië, gevind. Dit het só gelees:

3 “In die eerste jaar van koning Kores se regering is ’n dekreet uitgevaardig oor die tempel van God in Jerusalem. Hulle moet die tempel op dieselfde fondasie herbou as ’n plek waar hulle altyd die offers kan bring. Die gebou moet 30 meter hoog en 30 meter breed wees.

4 Op elke drie lae van die gekapte steenblokke moet hulle ’n laag hout plaas. Die koninklike skatkis sal alle kostes vir die bouwerk dra.

5 Al die goue en silwer voorwerpe wat Nebukadnesar uit die tempel van God in Jerusalem gevat het en na Babel toe gebring is, moet teruggegee word. Dit sal soos vroeër weer in die tempel van God in Jerusalem gesit word.”

6 Koning Darius het die volgende boodskap gestuur:

“Aan die goewerneur Tattenai van die provinsie wes van die Eufraatrivier, Setar-Bosnai en die ander amptenare van die provinsie wes van die Eufraat: Bly weg daarvandaan!

7 Moenie in die pad staan van die bouwerk aan die tempel van God nie. Laat die goewerneur van Juda en die Judese leiers toe om die tempel van God op die oorspronklike plek te herbou.

8 “Ek beveel verder ook dat julle hierdie leiers van die Jode moet bystaan om die tempel van God te herbou.

“Betaal ook dadelik al die kostes van die bouwerk uit die belastings wat julle in julle provinsie wes van die Eufraat ingesamel het sodat die werk nie stilstaan nie.

9 “Voorsien ook aan die priesters in Jerusalem wat hulle nodig het om aan die God van die hemel te offer. Dit sluit in jong bulle, ramme en lammers. Moet ook nie nalaat om vir hulle die koring, sout, wyn en olyfolie te gee wat hulle daagliks nodig het nie.

10 Hulle sal dan in staat wees om aanvaarbare offers aan die God van die hemel te bring en vir my en my seuns te bid.

11 “Ek beveel ook dat as mense hierdie bevel verontagsaam, ’n balk uit hulle huise geruk moet word. Nadat hulle aan die balk opgehang en geslaan is, sal hulle huise ’n rommelhoop gemaak word.

12 “God het Jerusalem gekies as ’n plek waar hulle sy Naam sal eer. Mag Hy enige koning of nasie wat my bevel verontagsaam en die tempel afbreek, vernietig. Ek, Darius, het hierdie dekreet uitgevaardig. Mense moet dit met sorg nakom.”

Inwyding van die tempel

13 Tattenai die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier, Setar-Bosnai en die ander amptenare het die bevel van koning Darius sorgvuldig nagekom.

14 Die prediking van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het die Joodse leiers aangespoor om met die werk aan te gaan. Soos die God van Israel beveel het en op bevel van Kores, Darius en Artasasta, die konings van Persië, het hulle die tempel uiteindelik klaar gebou.

15 Die werk aan die tempel was klaar op 12 Maart. Dit was in die sesde jaar wat koning Darius regeer het.

16 Die mense van Israel, die priesters, die Leviete en al die mense wat uit ballingskap teruggekom het, het die tempel van God met groot blydskap ingewy.

17 By die inwyding van die tempel van God is 100 jong bulle, 200 skaapramme en 400 lammers geoffer. Hulle het ook twaalf bokramme as ’n sonde-offer vir die twaalf stamme van Israel geoffer.

18 Hulle het die priesters en die Leviete in verskillende groepe ingedeel om God in Jerusalem te dien net soos dit in Moses se boek voorgeskryf is.

Viering van die Paasfees

19 Op 21 April het die ballinge wat teruggekom het, die Paasfees gevier.

20 Die priesters en die Leviete het hulle almal gereinig vir die geleentheid en hulle was seremonieel rein. Hulle het die paaslam vir die mense wat teruggekeer het, vir die ander priesters en vir hulleself geslag.

21 Die Israeliete wat uit ballingskap teruggekeer het, het die paasmaal geëet saam met ander mense van die land. Dit was van die mense wat nie langer aan afgodsdiens deelgeneem het nie, maar die Here, die God van Israel, gedien het.

22 Hulle het vir sewe dae lank die Fees van die Ongesuurde Brood gevier. Die mense in die land was baie bly, want die Here het die gesindheid van die Assiriese koning teenoor hulle verander. Die koning het hulle gehelp sodat hulle die tempel van God, die God van Israel, kon herbou.

ESRA 7

Esra kom in Jerusalem aan

1 Baie jare later, in die tyd toe koning Artasasta van Persië regeer het, het Esra op die toneel verskyn. Hy was die seun van Seraja, die seun van Asarja, seun van Gilkija,

2 seun van Sallum, seun van Sadok, seun van Agitub,

3 seun van Amarja, seun van Asarja, seun van Merajot,

4 seun van Seragja, seun van Ussi, seun van Bukki,

5 seun van Abisua, seun van Pinehas, seun van Eleasar, seun van Aäron die hoëpriester.

6 Esra het uit Babel gekom en was ’n geleerde man. Hy het baie goeie kennis gehad van die gebooie van Moses wat die Here, die God van Israel, vir hom gegee het. Die koning het alles wat hy wou hê vir hom gegee, want die hand van die Here sy God was op hom.

7 In die sewende jaar van koning Artasasta se regering, het van die mense van Israel saam met hom na Jerusalem toe gegaan. Onder hulle was priesters, Leviete, sangers, hekwagte en tempelwerkers.

8 Esra het in Augustus van daardie jaar in Jerusalem aangekom.

9 Esra het Babel op 8 April verlaat en op 4 Augustus in Jerusalem aangekom, want sy God het hom beskerm.

10 Dit het gebeur omdat Esra besluit het om die gebooie van die Here te bestudeer en toe te pas. Hy wou die reëls en regulasies vir die mense van Israel leer.

Artasasta se brief aan Esra

11 Hier volg ’n afskrif van koning Artasasta se brief aan Esra. Esra was ’n priester en ’n skrifkenner wat die voorskrifte en bepalings van die Here vir Israel uitgelê het:

12 “Van: Artasasta, die koning van die konings. Aan: Die priester Esra, die kenner van die wet van die God van die hemel. Groete.

13 “Ek verklaar dat enige van die mense van Israel wat in my ryk is, priesters en Leviete ingesluit, mag kies om saam met jou na Jerusalem toe terug te keer.

14 Ek en my raad van sewe gee jou opdrag om ondersoek in te stel na omstandighede in Juda en Jerusalem. Doen dit aan die hand van die voorskrifte van jou God wat in jou besit is.

15 Ek as koning en my raadgewers gee jou ook opdrag om silwer en goud saam met jou te vat. Ons gee dit as ’n vrywillige bydrae aan die God van Israel wat in Jerusalem woon.

16 “Neem ook al die silwer en goud wat jy in die provinsie Babilonië in die hande kan kry. Verder ook die vrywillige offers wat die mense van die land en die priesters vir die tempel van hulle God in Jerusalem gee.

17 Gebruik hierdie bydraes uitsluitlik om bulle, ramme, lammers en die nodige graanoffers en drankoffers te koop. Dit is vir alles wat julle op die altaar van die tempel van God in Jerusalem gaan offer.

18 Die goud en die silwer wat oorbly, mag jy en jou mense gebruik soos julle goeddink volgens die wil van julle God.

19 Maar die voorwerpe wat ons aan jou gegee het vir diens in die tempel van jou God, moet jy net so vir die God van Jerusalem gaan gee.

20 As jy nog iets nodig het vir die tempel van jou God en geld kortkom, mag jy dit uit die koninklike fondse vat.

21 “Ek, koning Artasasta, gee die volgende opdrag aan al die amptenare van die tesourie in die provinsie wes van die Eufraatrivier: ‘Julle moet vir Esra alles gee wat hy julle vra, want hy is ’n priester en kenner van die bevele van die God van die hemel.

22 Hy mag tot soveel as drie en ’n half ton silwer, sestien en ’n half ton graan, 2 200 liter wyn, 2 200 liter olyfolie en ’n onbeperkte voorraad sout aanvra.

23 Julle moet enigiets wat die God van die hemel vir sy tempel vereis, voorsien. Daar is geen rede waarom ons die risiko moet loop om sy woede teen die ryk van die koning en van sy nageslag te laat ontvlam nie.

24 Ek gee ook opdrag dat geen priester, Leviet, sanger, deurwag, tempelwerker of enige werker in hierdie tempel van God verplig mag word om enige belasting te betaal nie.’

25 “En jy, Esra, moet met die wysheid wat God jou gegee het, amptenare en regters aanstel oor die mense van die provinsie wes van die Eufraatrivier. Hulle moet die wette van jou God ken. As hulle hierdie wette nie ken nie, moet jy dit vir hulle leer.

26 Enigiemand wat nie die wet van jou God of die wet van die koning gehoorsaam nie, moet julle dadelik straf met die dood, verbanning, konfiskering van besittings of tronkstraf.”

Esra loof die Here

27 Loof die Here, die God van ons voorouers wat die koning laat besluit het om op hierdie manier eer te bring aan die tempel van die Here in Jerusalem.

28 Hy het met sy troue liefde gesorg dat ek die agting van die koning, sy raadgewers en sy sleutelamptenare geniet! Ek het moed geskep toe ek besef dat ek die hulp van die Here my God het. Toe het ek van die leiers van Israel byeengebring om saam met my na Jerusalem toe terug te gaan.

ESRA 8

Mense wat saam met Esra

teruggekom het

1 Hier is ’n lys van die familiehoofde wat saam met my uit Babilonië gekom het in die tyd toe koning Artasasta regeer het:

2 Gersom uit die familie van Pinehas. Daniël uit die familie van Itamar.

3 Gattus seun van Sekanja uit die familie van Dawid. Sagaria uit die fami-lie van Paros en nog 150 ander mense.

4 Eljehoënai seun van Seragja uit die familie van Pagat-Moab en nog 200 ander mense.

5 Sekanja seun van Jagasiël uit die familie van Sattu en nog 300 ander mense.

6 Ebed seun van Jonatan uit die familie van Adin en nog 50 ander mense.

7 Jesaja seun van Atalia uit die familie van Elam en saam met hom 70 ander mense.

8 Sebadja seun van Migael uit die familie van Sefatja en nog 80 ander mense.

9 Obadja seun van Jegiël uit die familie van Joab en nog 218 ander mense.

10 Selomit seun van Josifja uit die familie van Bani en nog 160 ander mense.

11 Sagaria seun van Bebai uit die familie van Bebai en nog 28 ander mense.

12 Joganan seun van Katan uit die familie van Asgad en nog 110 ander mense.

13 Die laaste was Elifelet, Jeïel en Semaja en nog 60 mense saam met hulle.

14 Utai en Sabud uit die familie van Bigwai en nog 70 ander mense.

Esra se reis na Jerusalem

15 Ek het die ballinge by die kanaal wat by Ahawa verbyloop, laat bymekaarkom. Daar het ons vir drie dae gekamp terwyl ek die lyste met mense en priesters wat aangekom het, nagegaan het. Ek het uitgevind dat daar nie een Leviet onder hulle was nie.

16 Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep. Hulle was die leiers van die mense. Ek het ook vir Jojarib en Elnatan, twee verstandige mense, laat roep.

17 Ek het hulle na Iddo, die leier van die Leviete in Kasifja gestuur met ’n versoek. Hy en sy naasbestaandes, asook die tempelwerkers, moes mense stuur om in die tempel van ons God diens te doen.

18 Omdat ons God vir ons goed was, het hulle ’n verstandige man met die naam Serebja gestuur saam met agtien van sy seuns en broers. Hy was uit die familie van Magli seun van Levi, ’n seun van Israel.

19 Hulle het ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die familie van Merari en twintig van sy seuns en broers

20 en 220 tempelwerkers. Die tempelwerkers was ’n groep werkers wat destyds deur koning Dawid en sy amptenare aangestel is om die Leviete te help. Hulle name is almal op die lys geplaas.

21 Ek het daar by die Ahawakanaal vir almal opdrag gegee om te vas sodat hulle nederig kon wees voor ons God. Ons het gebid dat ons reis veilig sou wees en dat Hy ons en ons kinders en ons besittings sou beskerm.

22 Ek was skaam om die koning te vra om soldate en ruiters saam met ons te stuur om ons teen vyande op ons pad te beskerm, want ons het vir die koning gesê: “Ons God beskerm almal wat Hom aanbid, maar sy toorn woed voort teen hulle wat Hom in die steek laat.”

23 Dit is hoekom ons gevas en ernstig gebid het dat God na ons moes omsien. Hy het ons gebed verhoor.

24 Ek het twaalf leiers uit die priesters gekies, naamlik Serebja, Gasabja en nog tien ander priesters

25 om in beheer te wees van die vervoer van die silwer, goud, die goue bakke en ander voorwerpe. Die koning, sy raadgewers, sy leiers en al die mense van Israel het dit vir die tempel van ons God gegee.

26 Ek het dit alles geweeg en vir hulle gegee. Dit was: 24 ton silwer, voorwerpe van silwer wat 68 kilogram geweeg het, en goue voorwerpe van drie en ’n half ton.

27 Verder was daar twintig goue bakke wat saam agt en ’n half kilogram geweeg het en twee kosbare koperbakke net so waardevol soos goud.

28 Ek het vir hierdie priesters gesê: “Julle en hierdie geskenke is vir die Here afgesonder. Hierdie silwer en goud is offers wat vrywillig vir die Here, die God van ons voorouers gemaak is.

29 Julle moet hierdie geskenke goed oppas totdat julle dit by die stoorplekke by die tempel van die Here in Jerusalem oorhandig. Daar mag geen verliese wees wanneer julle dit aan die priesters, die Leviete en die leiers van Israel oorhandig nie.”

30 Die priesters en die Leviete het die taak om hierdie geskenke na die tempel van ons God in Jerusalem te vervoer, aanvaar.

31 Op 19 April het ons van die Ahawakanaal vertrek om na Jerusalem te gaan. Ons God het ons beskerm. Hy het ons op ons reis gered van ons vyande en van hinderlae.

32 Toe ons in Jerusalem aangekom het, het ons vir drie dae daar gerus.

33 Op die vierde dag het hulle die silwer, goud en die ander kosbare voorwerpe by die tempel van ons God geweeg. Dit is toe in die hande gelaat van Meremot seun van Urija die priester, en Eleasar seun van Pinehas. Nog twee Leviete, Josabad die seun van Jesua en Noadja seun van Binnuï, was saam met hulle.

34 Soos hulle dit oorhandig het, het hulle alles getel en geweeg en die totale gewig opgeskryf.

35 Die bannelinge wat teruggekom het uit die land waar hulle gevange gehou was, het toe brandoffers vir die God van Israel gebring. Hulle het twaalf bulle vir die hele Israel geoffer, verder ook 96 skaapramme en 77 lammers. Hulle het ook nog twaalf bokramme as ’n sonde-offer gebring. Hulle het al hierdie brandoffers tot eer van die Here gebring.

36 Daarna het hulle die geskrewe opdragte van die koning vir sy senior amptenare en die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier gegee. Hierdie mense het van toe af hulle ondersteuning aan die volk en die tempel van God gegee.