1 KRONIEKE 24

Pligte van die priesters

1 Dit is hoe Aäron se afstammelinge, die priesters, in groepe ingedeel was vir dienswerk. Die seuns van Aäron was Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar.

2 Maar Nadab en Abihu het voor hulle pa gesterf, en hulle het geen seuns gehad nie. Net Eleasar en Itamar was oor om as priesters te dien.

3 Met die hulp van Sadok, wat ’n afstammeling van Eleasar was, en van Agimelek, wat ’n afstammeling van Itamar was, het Dawid hulle in groepe ingedeel volgens hulle verskillende dienswerke.

4 Eleasar se nageslag is in sestien groepe verdeel en Itamar in agt groepe, want daar was meer familieleiers tussen die afstammelinge van Eleasar.

5 Alle take is tussen die groepe verdeel deur middel van die gewyde lot sodat niemand voorkeur gekry het nie, want daar was baie bekwame amptenare wat God in die heiligdom kon dien tussen die afstammelinge van beide Eleasar en Itamar.

6 Die sekretaris Semaja, seun van Netanel, ’n Leviet, het al die name opgeteken in die teenwoordigheid van die koning, die leiers, Sadok, die priester, Agimelek, seun van Abjatar, en die familieleiers van die priesters en Leviete. Die afstammelinge van Eleasar en Itamar is om die beurt met die lot aangewys.

7 Die eerste lot het op Jojarib geval. Die tweede het op Jedaja geval.

8 Die derde het op Garim geval. Die vierde het op Seorim geval.

9 Die vyfde het op Malkija geval. Die sesde het op Mijamin geval.

10 Die sewende het op Kos geval. Die agtste het op Abia geval.

11 Die negende het op Jesua geval. Die tiende het op Sekanja geval.

12 Die elfde het op Eljasib geval. Die twaalfde het op Jakim geval.

13 Die dertiende het op Guppa geval. Die veertiende het op Jesebab geval.

14 Die vyftiende het op Bilga geval. Die sestiende het op Immer geval.

15 Die sewentiende het op Gesir geval. Die agtiende het op Pisses geval.

16 Die negentiende het op Petagja geval. Die twintigste het op Esegiël geval.

17 Die 21ste het op Jakin geval. Die 22ste het op Gamul geval.

18 Die 23ste het op Delaja geval. Die 24ste het op Maäsja geval.

19 Elke groep het sy pligte in die huis van die Here uitgevoer volgens die prosedures wat hulle voorouer Aäron vir hulle voorgeskryf het, soos die Here, die God van Israel, hom beveel het.

Familieleiers van die Leviete

20 Hier is die ander familieleiers wat van Levi afgestam het:

Van die afstammelinge van Amram was Subael die leier.

Van die afstammelinge van Subael was Jegdeja die leier.

21 Van die afstammelinge van Regabja was Jissija die leier.

22 Van die afstammelinge van Jissija was Selomit die leier.

Van die afstammelinge van Selomit was Jagat die leier.

23 Van die afstammelinge van Hebron was Jerija die leier, Amarja die tweede in bevel, Jagasiël die derde en Jekamam die vierde.

24 Van die afstammelinge van Ussiël was Miga die leier.

Van die afstammelinge van Miga was Samir die leier,

25 saam met Jissija, die broer van Miga.

Van die afstammelinge van Jissija was Sagaria die leier.

26 Van die afstammelinge van Merari was Magli en Musi die leiers.

Van die afstammelinge van Jaäsija was Beno die leier.

27 Van die afstammelinge van Merari was die leiers Soham, Sakkur en Ibri.

28 Van die afstammelinge van Magli was Eleasar die leier, maar hy het nie seuns gehad nie.

29 Van die afstammelinge van Kis was Jeragmeël die leier.

30 Van die afstammelinge van Musi was Magli, Eder en Jerimot die leiers.

Hierdie was almal die afstammelinge van Levi volgens hulle families.

31 Soos die afstammelinge van Aäron is hulle ook aan dienswerke toegewys deur middel van die gewyde lot, sonder om ouderdom of rang in ag te neem.

Dit is in die teenwoordigheid van koning Dawid, Sadok, Agimelek en die familieleiers van die priesters en Leviete gedoen.

1 KRONIEKE 25

Pligte van die musikante

1 Dawid en die leërhoofde het mans uit die families van Asaf, Heman en Jedutun aangestel om God se boodskappe te verkondig terwyl daar op siters, harpe en simbale gespeel word. Hier is die lys van hulle name en hulle dienswerke:

2 Van die seuns van Asaf was daar Sakkur, Josef, Netanja en Asarela. Hulle het gewerk onder leiding van hulle pa, Asaf, wat God se boodskappe op bevel van die koning verkondig het.

3 Jedutun het ses seuns gehad: Gedalja, Seri, Jesaja, Simi, Gasabja en Mattitja. Hulle het onder leiding van hulle pa, Jedutun, gewerk wat God se boodskappe verkondig het terwyl die siter gespeel is, en dank en lof aan die Here geoffer is.

4 Heman se seuns was Bukkija, Mattanja, Ussiël, Subael, Jerimot, Gananja, Ganani, Eliata, Giddalti, Romamti-Eser, Josbekasa, Malloti, Hotir en Magasiot.

5 Hulle almal was die seuns van Heman, die koning se siener, want God het hom geëer met veertien seuns en drie dogters.

6 Al hierdie mans het onder leiding van hulle pa’s gewerk terwyl hulle in die huis van die Here musiek gemaak het.

Hulle verantwoordelikhede het ingesluit dat hulle die simbale, harpe en siters bespeel het in die huis van God. Asaf, Jedutun en Heman het direk aan die koning gerapporteer.

7 Hulle en hulle families is almal opgelei om voor die Here musiek te maak. Elkeen van hulle, 288 in totaal, was ’n bedrewe musikant.

8 Die musikante is vir ’n bepaalde dienstermyn aangestel deur die gewyde lot te werp, sonder om in ag te neem hoe oud iemand was en of hy ’n meester of student was.

9 Die eerste lot het op Josef van die Asafgroep geval, en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

Die tweede lot het op Gedalja geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

10 Die derde lot het op Sakkur geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

11 Die vierde lot het op Seri geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

12 Die vyfde lot het op Netanja geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

13 Die sesde lot het op Bukkija geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

14 Die sewende lot het op Asarela geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

15 Die agtste lot het op Jesaja geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

16 Die negende lot het op Mattanja geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

17 Die tiende lot het op Simi geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

18 Die elfde lot het op Asarel geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

19 Die twaalfde lot het op Gasabja geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

20 Die dertiende lot het op Subael geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

21 Die veertiende lot het op Mattitja geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

22 Die vyftiende lot het op Jeremot geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

23 Die sestiende lot het op Gananja geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

24 Die sewentiende lot het op Josbekasa geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

25 Die agtiende lot het op Ganani geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

26 Die negentiende lot het op Malloti geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

27 Die twintigste lot het op Eliata geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

28 Die 21ste lot het op Hotir geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

29 Die 22ste lot het op Giddalti geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

30 Die 23ste lot het op Magasiot geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

31 Die 24ste lot het op Romamti-Eser geval, hy en twaalf van sy seuns en bloedverwante.

1 KRONIEKE 26

Pligte van die poortwagters

1 Hier is die afdelings van die poortwagters: Van die Koragiete was daar Meselemja, seun van Kore, uit die geslag van Asaf.

2 Die seuns van Meselemja was Sagaria, die oudste, Jediael, die tweede, Sebadja, die derde, Jatniël, die vierde,

3 Elam, die vyfde, Joganan, die sesde, en Eljehoënai, die sewende.

4 Die seuns van Obed-Edom was Semaja, die oudste, Josabad, die tweede, Joag, die derde, Sakar, die vierde, Netanel, die vyfde,

5 Ammiël, die sesde, Issaskar, die sewende, en Peülletai, die agtste. God het Obed-Edom ryklik geseën.

6 Obed-Edom se seun Semaja het uiters bekwame seuns gehad wat posisies van groot gesag in die familiegroep verwerf het.

7 Hulle name was Otni, Refael, Obed en Elsabad. Hulle familie, Elihu en Semakja, was ook bekwame mans.

8 Hulle almal was afstammelinge van Obed-Edom, insluitende hulle seuns en kleinseuns, 62 in totaal. Hulle was bekwame mans, goed gekwalifiseer vir hulle werk.

9 Meselemja se agtien seuns en families was ook bekwame mans.

10 Gosa van die Merarigroep het Simri as die leier tussen sy seuns aangestel, alhoewel hy nie die oudste was nie.

11 Sy ander seuns was Gilkija, die tweede, Tebalja, die derde, en Sagaria, die vierde. Gosa se familie wat as poortwagters gedien het, was dertien in totaal.

12 Hierdie afdelings van die poortwagters is vernoem na hulle familiehoofde, en soos die ander Leviete het hulle in die huis van die Here gedien.

13 Hulle is as families aangestel vir poortdiens by die verskillende ingange, sonder om ouderdom of opleiding in ag te neem, want dit is deur die gewyde lot bepaal.

14 Die verantwoordelikheid vir die oostelike ingang het op Meselemja en sy groep geval. Die noordelike ingang is toegeken aan sy seun Sagaria, ’n man van uitsonderlike wysheid.

15 Die suidelike ingang het na Obed-Edom gegaan, en sy seuns was in beheer van die pakhuise.

16 Aan Suppim en Gosa is die westelike ingang toegeken en ook die ingang wat na die tempel lei.

17 Ses Leviete is vir elke dag aan die oostelike ingang toegeken, vier vir die noordelike ingang, vier vir die suidelike ingang en twee vir die pakhuise.

18 Ses is vir die westelike ingang toegeken, vier vir die ingang wat na die tempel lei en twee vir die voorhof.

19 Dit was die afdelings van die poortwagters van die familiegroepe van Korag en Merari.

Tesouriers en ander amptenare

20 Ander Leviete wat deur Agija gelei is, was in beheer van die skatkamers van die huis van God en die pakhuise.

21 Van die familie van Ladan in die Gersonfamilie was Jegiël die leier.

22 Die seuns van Jegiël, Setam en Joël, was in beheer van die skatkamers van die huis van die Here.

23 Hier is die leiers wat afgestam het van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël:

24 Van die familiegroep van Amram was Sebael, ’n afstammeling van Gersom, seun van Moses, die hoofamptenaar van die skatkamers.

25 Sy familie stam af van Eliëser deur Regabja, Jesaja, Joram, Sikri en Selomit.

26 Selomit en sy familie was in beheer van die skatkamers waarin alles gehou is wat koning Dawid, die familieleiers, die generaals, kapteins en ander offisiere van die leër aan die Here gewy het.

27 Hierdie mans het deel van die buit wat hulle in oorloë gekry het, gewy om die huis van die Here in stand te hou.

28 Selomit en sy familie het ook gesorg vir die artikels wat aan die Here gewy is deur Samuel, die siener, Saul, seun van Kis, Abner, seun van Ner, en Joab, seun van Seruja. Al die ander gewyde artikels was ook in hulle sorg.

29 Van die Jisharfamilie het Kenanja gekom. Hy en sy seuns is aangestel om buite die tempel as opsigters en regters in Israel te dien.

30 Van die Hebronfamilie het Gasabja gekom. Hy en sy familie, 1 700 bekwame mans, was in beheer van die Israelitiese grond wes van die Jordaanrivier. Hulle was verantwoordelik vir alle sake wat verband gehou het met die dinge van die Here en die diens van die koning in daardie gebied.

31 Van die Hebronfamilie het ook Jerija gekom. Hy was volgens die geslagsregister die leier van die Hebroniete. In die 40ste jaar van Dawid se regering is die rekords ondersoek en bekwame mans van die Hebronfamilie is by Jaser in Gilead gevind.

32 Jerija het 2 700 bekwame mans uit sy familie gehad. Koning Dawid het hulle na die oostekant van die Jordaanrivier gestuur en in beheer geplaas van die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse. Hulle was verantwoordelik vir alles wat verband hou met die dinge van God en die diens van die koning.

1 KRONIEKE 27

Militêre bevelvoerders en

afdelings

1 Dit is die lys van Israel se familiehoofde, generaals en offisiere wat die koning gedien het deur die weermagafdelings te lei wat elke maand van die jaar aan diens was. Elke afdeling het vir een maand gedien, en bestaan uit 24 000 soldate.

2 Jasobam, seun van Sabdiël, was bevelvoerder van die eerste afdeling, wat die eerste maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

3 Hy was ’n afstammeling van Peres en was in beheer van al die offisiere vir die eerste maand.

4 Dodai, ’n afstammeling van Agoag, was bevelvoerder van die tweede afdeling, wat die tweede maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling, en Miklot was sy hoofoffisier.

5 Benaja, seun van Jojada, die hoëpriester, was bevelvoerder van die derde afdeling, wat die derde maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

6 Hierdie Benaja was in beheer van Dawid se elite militêre groep bekend as die Dertig. Sy seun, Ammisabad, was sy hoofoffisier.

7 Asael, broer van Joab, was bevelvoerder van die vierde afdeling, wat die vierde maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling. Asael is deur sy seun Sebadja opgevolg.

8 Samhut, die Jisragiet, was bevelvoerder van die vyfde afdeling, wat die vyfde maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

9 Ira, seun van Ikkes van Tekoa, was bevelvoerder van die sesde afdeling, wat die sesde maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

10 Geles, ’n afstammeling van Efraim uit Pelon, was bevelvoerder van die sewende afdeling, wat die sewende maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

11 Sibbekai, ’n afstammeling van Gusa, was bevelvoerder van die agtste afdeling, wat die agtste maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

12 Abiëser van Anatot, bevelvoerder van die negende afdeling, was die negende maand aan diens. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

13 Marai, ’n afstammeling van Sera uit Netofa was bevelvoerder van die tiende afdeling, wat die tiende maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

14 Benaja van Piraton in Efraim was bevelvoerder van die elfde afdeling, wat die elfde maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

15 Geled, ’n afstammeling van Otniël uit Netofa, was bevelvoerder van die twaalfde afdeling, wat die twaalfde maand aan diens was. Daar was 24 000 soldate in sy afdeling.

Stamleiers

16 Die volgende was die stamme van Israel en hulle leiers:

Stam Leier

Ruben Eliëser,

seun van Sikri.

Simeon Safatja,

seun van Maäka.

17 Levi Gasabja,

seun van Kemuel.

Aäron (priesters) Sadok.

18 Juda Elihu,

’n broer van Dawid.

Issaskar Omri,

seun van Migael.

19 Sebulon Jismaja,

seun van Obadja.

Naftali Jerimot,

seun van Asriël.

20 Efraim Hosea,

seun van Asasja.

Manasse-wes Joël,

seun van Pedaja.

21 Manasse-oos Jiddo,

seun van Sagaria.

Benjamin Jaäsiël,

seun van Abner.

22 Dan Asarel,

seun van Jerogam.

Hulle was die leiers van die stamme van Israel.

23 Toe Dawid die sensus opgeneem het, het hy nie mense getel wat jonger as twintig was nie omdat die Here belowe het dat Hy Israel soveel sal maak soos die sterre aan die hemel.

24 Joab, Seruja se seun, het met die sensus begin, maar dit nooit voltooi nie omdat die woede van God teen Israel ontbrand het. Die finale totale is nooit in koning Dawid se amptelike rekords aangeteken nie.

Amptenare van Dawid se

regering

25 Asmawet, seun van Adiël, was in beheer van die tempel se skatkamers.

Jonatan, seun van Ussia, was in beheer van die streke se skatkamers in al die dorpe, dorpies en vestings van Israel.

26 Esri, seun van Kelub, was in beheer van die arbeiders wat die koning se landerye bewerk het.

27 Simi van Rama was in beheer van die koning se wingerde.

Sabdi van Sefam was verantwoordelik vir die druiwe en die voorsiening van wyn.

28 Baäl-Ganan van Geder was in beheer van die koning se olyfboorde en wildevyebome in die vlaktes van Juda.

Joas was verantwoordelik vir die olyfolievoorrade.

29 Sitrai van Saron was in beheer van die vee op die Saronvlakte.

Safat, seun van Adlai, was verantwoordelik vir die vee in die vlaktes.

30 Obil, die Ismaeliet, was in beheer van die kamele.

Jegdeja van Meronot was in beheer van die donkies.

31 Jasis, die Hagareër, was in beheer van die koning se kleinvee.

Al hierdie amptenare was opsigters oor koning Dawid se eiendom.

32 Jonatan, Dawid se oom, was ’n wyse raadgewer vir die koning, ’n man van groot insig en ’n sekretaris. Jegiël, die Gakmoniet, was verantwoordelik vir die onderrig van die koning se seuns.

33 Agitofel was die koning se raadgewer. Gusai, die Arkiet, was die koning se vriend.

34 Agitofel is opgevolg deur Jojada, seun van Benaja, en Abjatar. Joab was die hoof van Israel se weermag.

1 KRONIEKE 28

Dawid se instruksies aan

Salomo

1 Dawid het al die amptenare van Israel na Jerusalem toe ontbied, die stamleiers, bevelvoerders van die twaalf leërgroepe, die ander generaals en kapteins, opsigters oor die koninklike eiendom en vee, paleisamptenare, magtige manne en ander soldate in die koninkryk.

2 Koning Dawid het opgestaan en hulle toegespreek: “My broers en my volk! Dit was my begeerte om ’n huis vir die verbondsark van die Here te bou om as ’n voetbankie vir ons God te dien. Ek het voorbereidings getref om dit te bou.

3 Maar God het vir my gesê: ‘Jy mag nie ’n tempel bou om my Naam te eer nie, want jy is ’n soldaat wat baie bloed vergiet het.’

4 “Tog het die Here, die God van Israel, my uit al my pa se familielede gekies om vir altyd koning oor Israel te wees. Hy het die stam Juda gekies om te regeer, en uit al die families van Juda het Hy my pa se familie gekies, en Hy het besluit om my uit my pa se familie koning te maak oor die hele Israel.

5 Die Here het my baie kinders gegee, en onder hulle het Hy Salomo gekies om ná my op die troon van sy koninkryk van Israel te sit.

6 Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo sal my tempel en my voorhowe bou, want Ek het hom as my seun uitgekies, en Ek sal sy Vader wees.

7 As hy aanhou om my gebooie en regulasies te gehoorsaam soos hy nou doen, sal Ek sy koninkryk vir altyd bevestig.’

8 “Daarom gee ek nou hierdie opdrag voor die hele Israel, die Here se gemeente, terwyl God my getuie is: ‘Wees versigtig om al die gebooie van die Here julle God te gehoorsaam sodat julle hierdie goeie land kan besit en vir julle kinders nalaat as ’n permanente besitting.’

9 “En jy, Salomo, my seun, sorg dat jy die God van jou pa leer ken. Dien en aanbid Hom met jou hele hart en met ’n gewillige verstand. Want die Here sien elke hart en verstaan en ken elke plan en gedagte. As jy na Hom soek, sal jy Hom vind. Maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp.

10 Neem dit nou ernstig op. Die Here het jou verkies om ’n tempel as sy heiligdom te bou. Wees sterk en doen die werk.”

11 Toe het Dawid aan sy seun Salomo die planne gegee vir die voorportaal van die tempel, die ander geboue, die skatkamers, die bovertrekke, die binnevertrekke, die vertrek van die versoendeksel

12 en van alles wat hy in gedagte gehad het vir die voorhowe van die Here se tempel, die buitenste kamers, die skatkamers van God se tempel en die kamers vir die gewyde offers.

13 Die koning het ook vir Salomo instruksies gegee oor die dienswerk van die verskillende afdelings priesters en Leviete in die tempel van die Here. Hy het spesifikasies gegee vir die artikels in die Here se tempel wat vir aanbidding en diens gebruik moes word.

14 Dawid het instruksies gegee oor hoeveel goud en silwer vir die noodsaaklike artikels gebruik moes word.

15 Hy het ook vir Salomo gesê watter gewig in goud nodig was vir die goue kandelare en lampe, en hoeveel silwer vir die silwerkandelare en -lampe nodig was, ooreenkomstig hoe elkeen gebruik sou word.

16 Hy het ook die hoeveelheid goud aangedui vir elke tafel waarop die heilige brode gesit moes word, en die hoeveelheid silwer vir ander tafels.

17 Dawid het ook die hoeveelheid goud bepaal vir die vurke, komme en kanne wat van suiwer goud gemaak moes word, en vir die goue bekers, en die hoeveelheid silwer vir die silwerbekers.

18 Laastens het hy ook die hoeveelheid gesuiwerde goud bepaal vir die wierookaltaar en die goue gerubs, wie se vlerke uitstrek oor die verbondsark van die Here.

19 “Elke deel van hierdie plan,” het Dawid vir Salomo gesê, “is deur die hand van die Here op papier vir my gegee.”

20 Dawid het ook vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk en vol moed, en doen die werk. Moenie bang wees of moedeloos word oor die groot werk nie. Want die Here God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie. Hy sal toesien dat jy al die werk aan die tempel van die Here sal voltooi.

21 Die verskillende afdelings van priesters en Leviete sal in die tempel van God dien. Daar is vakmanne met allerlei bekwaamhede tot jou beskikking. Die leiers en die hele volk is tot jou beskikking.”

1 KRONIEKE 29

Gawes vir die bou van die

tempel

1 Koning Dawid het toe na die hele vergadering gedraai en vir hulle gesê: “My seun Salomo, wat God as die volgende koning verkies het, is nog maar jonk en onervare. Die werk wat vir hom wag, is groot. Want die tempel wat hy bou, is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit is vir die Here God self!

2 Ek het elke hulpbron tot my beskikking gebruik en soveel as wat ek kon, bymekaargemaak om die tempel van my God te bou. Daarom is daar nou genoeg goud, silwer, koper, yster en hout, sowel as groot hoeveelhede oniksstene, ander kosbare stene, duur juwele en allerhande stene en marmerstene.

3 “Omdat die tempel van my God my na aan die hart lê, gee ek al my persoonlike skatte van goud en silwer om met die konstruksie daarvan te help. Dit is buiten die boumateriaal wat ek reeds bymekaargemaak het vir sy heilige tempel.

4 Ek gee nou meer as 102 ton goud van Ofir en meer as 238 ton gesuiwerde silwer om die mure van die geboue oor te trek

5 en vir die ander werk van goud en silwer wat die ambagsmanne moet maak. Wie gaan my voorbeeld volg? Wie is gewillig om vandag geskenke vir die Here te bring?”

6 Toe het die familieleiers, die stamleiers van Israel, die generaals en kapteins van die leër en die koning se administratiewe personeel gewillig bygedra.

7 Vir die oprigting van die tempel van God het hulle gegee: byna 170 ton goud, 10 000 goue muntstukke, 340 ton silwer, 612 ton koper en 3 400 ton yster.

8 Onder toesig van Jegiël, ’n afstammeling van Gerson, het hulle ook talle edelgesteentes bygedra vir die skatkamers van die huis van die Here.

9 Die volk het gejuig oor die vrywillige gawes, want hulle het vrywillig en heelhartig bygedra vir die Here. Koning Dawid was ook vol vreugde.

Dawid se lofsang

10 Dawid het die Here geprys waar die hele vergadering teenwoordig was:

“O Here,

God van ons voorouer Israel,

mag U vir altyd geloof word!

11 Aan U, Here,

behoort die grootheid

en heerlikheid,

mag, roem en majesteit.

Alles in die hemel

en op die aarde

behoort aan U, Here.

Aan U behoort die koninkryk.

U is verhewe bo alles.

12 Rykdom en eer

kom van U alleen,

want U heers oor alles.

Krag en mag is in u hand,

om te verhoog en te versterk.

13 Ons dank U, ons God,

en prys u heerlike Naam!

14 “Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!

15 Net soos ons voorouers is ons vreemdelinge en bywoners in die land. Ons dae op die aarde gaan soos ’n skaduwee verby, sonder enige verwagting.

16 “Here ons God, selfs hierdie boumateriaal wat ons ingesamel het om vir U ’n tempel te bou om u heilige Naam te eer, kom van U af. Dit behoort alles aan U!

17 Ek weet, my God, dat U ons harte ondersoek en opregtheid verlang. U weet dat ek dit alles met goeie motiewe geskenk het, en ek het ook gesien hoe u volk vrywillig en vreugdevol hulle geskenke gebring het.

18 “Here, God van ons voorouers Abraham, Isak en Israel, laat u volk altyd hierdie gesindheid behou. Laat hulle harte altyd getrou wees aan U.

19 Gee my seun Salomo die heelhartige begeerte om al u bevele, gebooie en beginsels te gehoorsaam, en om hierdie tempel te bou, waarvoor ek al hierdie voorbereidings getref het.”

20 Daarna het Dawid vir die hele vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God!” Die hele vergadering het toe die Here, die God van hulle voorouers, geloof. Hulle het in eerbied voor die Here en die koning gekniel.

Salomo as koning aangewys

21 Die volgende dag het hulle 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers as brandoffers aan die Here geoffer. Hulle het ook drankoffers en baie ander offers ter wille van die hele Israel gebring.

22 Hulle het in die Here se teenwoordigheid feesgevier en gedrink en was daardie dag vol vreugde.

Hulle het weer vir Dawid se seun Salomo gekroon as hulle nuwe koning. Hulle het hom voor die Here gesalf as hulle heerser, en vir Sadok as hulle priester.

23 So het Salomo die troon in die plek van sy pa, Dawid, uit die hand van die Here ontvang. Dit het goed gegaan met hom, en die hele Israel het hom gehoorsaam.

24 Al die koninklike amptenare, leërbevelvoerders en selfs al Dawid se seuns het trou aan koning Salomo gesweer.

25 En die Here het Salomo verhoog sodat die hele Israel hom bewonder het. Hy het Salomo selfs meer koninklike eer gegee as enige koning van Israel voor hom.

Opsomming van Dawid se

regering

26 So het Dawid, seun van Isai, oor die hele Israel regeer.

27 Hy het 40 jaar oor Israel regeer, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem.

28 Hy is op ’n ryp ouderdom dood nadat hy ’n lang lewe, rykdom en eer geniet het. Sy seun Salomo het in sy plek regeer.

29 Alles wat in koning Dawid se regering gebeur het, van die begin tot die einde, is opgeteken inDie gedenkskrif van Samuel die siener,Die gedenkskrif van Natan die profeetenDie gedenkskrif van Gad die siener.

30 Hierdie verslae sluit al die magtige dade van sy regering in en alles wat met hom en Israel en die omliggende volke gebeur het.

2 KRONIEKE 1

1 Salomo vra vir wysheid

Salomo, seun van koning Dawid, het beheer oor sy koninkryk verkry, want die Here sy God was met hom en het hom baie magtig gemaak.

2 Hy het die hele Israel bymekaargeroep, al die generaals en kapteins van die leër, die regters, en al die leiers en die familiehoofde.

3 Salomo en die hele vergadering saam met hom het na die hoogte by Gibeon gegaan. God se tent van ontmoeting was daar. Moses, die dienaar van die Here, het dit nog in die woestyn gemaak.

4 Dawid het reeds die ark van God verskuif vanaf die woning van Kirjat-Jearim na die tent wat hy daarvoor in Jerusalem opgeslaan het.

5 Maar die bronsaltaar wat Besaleël seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was voor die tabernakel van die Here. Salomo en die volk het gekom om die Here te raadpleeg.

6 Salomo het opgegaan na die bronsaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting, en 1 000 brandoffers daar geoffer.

7 Daardie nag het God in ’n droom aan Salomo verskyn en gesê: “Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!”

8 Salomo het God geantwoord: “U het oorvloedige troue liefde aan my pa Dawid betoon, en my in sy plek ko-ning gemaak.

9 Nou, Here God, bevestig tog u belofte aan my pa Dawid, want U het my koning gemaak oor ’n volk wat so baie is soos die stof van die aarde!

10 Gee my tog wysheid en kennis sodat ek hulle reg kan regeer, want wie kan oor hierdie groot volk van U regeer?”

11 God sê toe vir Salomo: “Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ’n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer;

12 sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor jou of na jou ooit sal hê nie.”

13 Daarna het Salomo vanaf die tent van ontmoeting op die hoogte in Gibeon na Jerusalem toe teruggegaan. Hy het oor die hele Israel regeer.

14 Salomo het ’n groot militêre mag opgebou. Dit het 1 400 strydwaens en 12 000 perde ingesluit. Hy het hulle in die stede geplaas, en sommige naby hom in Jerusalem.

15 Hy het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe gemaak. Seders was so volop soos wildevyebome in die Laeveld.

16 Salomo se perde is uit Egipte en Kewé ingevoer. Die koning se handelaars het hulle in Kewé gekoop teen pryse waarop daar ooreengekom is.

17 Destyds is strydwaens vir byna sewe kilogram silwer uit Egipte ingevoer, en ’n perd vir een en ’n driekwart kilogram. Baie hiervan is na die Hetitiese en Aramese konings uitgevoer.

2 KRONIEKE 2

Voorbereidings vir die bou van

die tempel

1 Salomo het besluit om ’n tempel vir die Naam van die Here en ’n koninklike paleis vir homself te bou.

2 Hy het 70 000 draers, 80 000 klipkappers in die berge en 3 600 opsigters opgeroep.

3 Salomo het die volgende brief aan koning Hiram in Tirus gestuur:

U het voorheen aan my pa Dawid sederhout verskaf toe hy sy paleis gebou het om daarin te woon.

4 Ek wil nou ’n tempel tot eer van die Naam van die Here my God bou en dit aan Hom toewy. Daar sal geurige wierook voor Hom gebrand word, offerbrode sal gedurig daar wees. Brandoffers sal elke oggend en aand gebring word, asook tydens die Sabbat, met nuwemaan en tydens ander vasgestelde feeste van die Here ons God. Hy het Israel beveel om altyd hierdie dinge te doen.

5 Dit sal ’n groot tempel wees wat ek beplan om te bou, want ons God is groter as alle ander gode.

6 Maar wie kan ’n waardige woning vir Hom bou? Nie eens die hoogste hemele kan Hom bevat nie! Wie is ek om te dink dat ek vir Hom ’n tempel sal bou, behalwe om brandoffers aan Hom te bring?

7 Daarom, stuur tog vir my ’n bekwame ambagsman wat vaardig is in die bewerking van goud, silwer, brons en yster; en van pers, bloedrooi en blou materiaal. Hy moet bedrewe wees in graveerwerk en moet saamwerk met die vakmanne van Juda en Jerusalem wat my pa Dawid voorsien het.

8 Stuur tog ook vir my seder-, sipres- en jenewerhout van die Libanon, want ek weet u vakmanne is sonder gelyke by die afkap van bome van die Libanon. Ek sal my arbeiders stuur om hulle by te staan.

9 Ek sal ’n groot hoeveelheid hout nodig hê, want die tempel wat ek wil bou, sal baie groot en indrukwekkend wees.

10 Ek sal jou werkers die volgende betaal: 3 300 ton koring, 2 640 ton gars, 440 kiloliter wyn en 440 kiloliter olie.

11 Koning Hiram het Salomo met ’n brief wat hy gestuur het, soos volg geantwoord: “Dis omdat die Here sy volk liefhet dat Hy jou as hulle koning aangestel het.

12 Loof die Here die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het! Hy het vir koning Dawid ’n wyse seun gegee, een wat toegerus is met bekwaamheid en insig, wat ’n tempel vir die Here en ’n koninklike paleis vir homself gaan bou.

13 “Ek stuur dan nou vir jou ’n ambagsman met die naam Huram. Hy is ’n baie bekwame man,

14 die seun van ’n vrou uit Dan. Sy pa is uit Tirus. Hy is bedrewe in die maak van voorwerpe van goud, silwer, brons, yster, klip, houtwerk en in pers, blou en bloedrooi stowwe. Daarby is hy ’n graveerder wat enige ontwerp saam met jou pa Dawid se vakmanne kan uitvoer.

15 “Stuur nou gerus vir ons die koring, gars, olyfolie en wyn soos jy beloof het.

16 Ons sal in die Libanon hout kap vir al jou behoeftes, en dit op vlotte al met die see langs na Joppe toe bring. Van daar af kan jy die stompe na Jerusalem toe vervoer.”

17 Salomo het ’n opname van al die vreemdelinge in Israel gemaak, net soos sy pa Dawid destyds gedoen het, en vasgestel dat daar 153 600 van hulle was.

18 Hy het 70 000 van hulle as draers aangestel, 80 000 as klipkappers in die berge, en 3 600 as opsigters om die mense te laat werk.

2 KRONIEKE 3

Salomo bou die tempel

1 Salomo het toe begin om die tempel van die Here in Jerusalem op die Moriaberg te bou, daar waar die Here aan Salomo se pa Dawid verskyn het. Die tempel is gebou op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet, op die plek wat Dawid uitgekies het.

2 Die bouwerk het in die middel van die lente begin, in die vierde jaar van Salomo se bewind.

3 Die fondament wat Salomo gelê het vir die tempel van God, was 30 meter lank en tien meter breed.

4 Die voorportaal was langs die hele breedte van die tempel, dus tien meter lank en 60 meter hoog. Die binnekant was oordek met suiwer goud.

5 Die hoofvertrek van die tempel is met sipreshoutpanele bedek, met suiwer goud oorgetrek en versier met graverings van palms en kettings.

6 Die mure van die tempel is versier met pragtige juwele en suiwer goud uit Parwajim.

7 Al die mure, balke, deure en drumpels in die hele tempel is oorgetrek met goud, en figure van gerubs is teen die mure uitgekerf.

8 Die Allerheiligste was tien meter lank, soos die wydte van die tempel. Dit was ook tien meter breed en oorgetrek met suiwer goud, ongeveer twintig ton.

9 Hulle het goue spykers gebruik wat ongeveer ’n halwe kilogram weeg. Die mure van die bokamers was ook met suiwer goud oorgetrek.

10 Salomo het twee figure gemaak wat soos gerubs gelyk het en met goud oorgetrek. Dit is in die Allerheiligste neergesit.

11 Die vlerke van die gerubs wat langs mekaar gestaan het, was saam tien meter lank. Een vlerk van die eerste gerub het die muur geraak. Die ander vlerk het aan die vlerk van die tweede gerub geraak. Altesaam was die een se vlerkspan vyf meter lank.

12 Net so het die een vlerk van die tweede gerub die ander muur geraak en die ander vlerk die vlerk van die eerste gerub.

13 Tesame was die vlerkspan van albei gerubs tien meter. Albei het op hulle eie voete gestaan en uitgekyk op die hoofvertrek van die tempel.

14 Salomo het ’n gordyn voor die ingang na die Allerheiligste gehang. Dit is gemaak van fyn linne en blou, pers en bloedrooi stof, met figure van gerubs daarop uitgewerk.

15 Aan die voorkant van die tempel het Salomo twee pilare van sewentien en ’n half meter hoog opgerig. Elkeen het ’n kapiteel bo-op gehad van twee en ’n half meter.

16 Hy het kettings gemaak soos ’n krans en het die bopunte van die pilare daarmee verfraai. Hy het ook 100 granate gemaak en aan die kettings vasgemaak.

17 Daarna het hy die twee pilare by die ingang tot die tempel gesit, een aan die suidekant van die ingang en die ander aan die noordekant. Hy het die suidelike een Jakin genoem en die een aan die noordelike een Boas.

2 KRONIEKE 4

Toebehore vir die tempel

1 Salomo het ook ’n bronsaltaar gemaak. Dit was tien meter lank, tien meter breed, en vyf meter hoog.

2 Toe het hy ’n groot waterbak gegiet. Dit was vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, met ’n omtrek van vyftien meter.

3 Onderom die rand was daar twee rye beeste in reliëf, twintig beeste per meter. Dit is saam met die waterbak gegiet.

4 Die waterbak het gerus op ’n basis van twaalf beelde van beeste wat almal buitentoe kyk. Drie het noord gekyk het, drie wes, drie suid en drie oos. Die waterbak het bo-op hulle gerus, met hulle agterkante onder die bak.

5 Die rand van die waterbak was ongeveer ’n handbreedte dik en die rand is gevorm soos ’n beker of die kelk van ’n lelie. Dit kon 66 kiloliter water bevat.

6 Hy het ook tien waskomme gemaak waarin die offergereedskap gewas kon word, vyf was aan die suidekant en vyf aan die noordekant. Die priesters het hulleself in die waterbak gewas.

7 Daarna het Salomo tien goue kandelare gegiet volgens die voorskrifte wat reeds gegee is, en dit in die tempel gesit. Vyf van hulle is teen die suidelike muur neergesit, en vyf teen die noordelike muur.

8 Hy het ook tien tafels gemaak en dit in die tempel neergesit. Vyf was teen die suidelike muur en vyf teen die noordelike muur. Daarna het hy 100 goue komme gemaak.

9 Salomo het ook ’n binnehof vir die priesters gebou, asook die groot voorhof. Verder het hy deure vir die ingange tot die binneste voorhof gemaak en dit met brons gedek.

10 Die waterbak is aan die suidekant naby die suidoostelike hoek van die tempel neergesit.

11 Huram het ook die nodige potte, skoppe en komme gemaak.

Eindelik het Huram alles voltooi wat koning Salomo aan hom opgedra het om vir die tempel van God te maak:

12 twee pilare, met die komvormige pilaarkrone bo-op die pilare, twee kettings soos ’n krans waarmee die bopunte van die pilare verfraai is,

13 400 granate wat aan die kettings aan die kapitele gehang is (twee rye granate vir elke ketting wat om die kapitele en bo-op die pilare gehang is),

14 die waentjies vir die waskomme,

15 die waterbak en die beeste daaronder,

16 die potte, skoppe en vurke, en al die tempelgereedskap. Hiram het al hierdie voorwerpe vir die tempel van die Here van gepoleerde brons gemaak net soos koning Salomo gevra het.

17 Die koning het dit in kleivorms in die Jordaanvallei tussen Sukkot en Saretan gegiet.

18 Daar is so baie brons gebruik vir die toebehore wat Salomo gemaak het dat die gewig daarvan nie bereken kon word nie.

19 So het Salomo al die toebehore vir die tempel van God gemaak: die goue altaar, die tafels vir die offerbrood,

20 die kandelare met hulle lampe van suiwer goud wat voor die binneste heiligdom aan die brand gehou moet word,

21 die blomkelke, lampe en pithouers, alles van suiwer goud,

22 die snuiters, komme vir besprinkeling, skottels en vuurpanne, alles van suiwer goud, die deure vir die toegang tot die binnedeure na die heiligdom en die Allerheiligste en die deure na die voorste heiligdom, alles met goud oorgetrek.