1 KRONIEKE 14

Dawid se paleis en familie

1 Hiram, koning van Tirus, het boodskappers na Dawid toe gestuur en ook sederhout, messelaars en skrynwerkers om vir hom ’n paleis te bou.

2 Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel aangestel het en sy koninkryk groot gemaak het ter wille van sy volk Israel.

3 Dawid het met meer vroue in Jerusalem getrou, en hy het baie seuns en dogters gehad.

4 Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo,

5 Jibgar, Elisua, Elpelet,

6 Noga, Nefeg, Jafia,

7 Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid verslaan die Filistyne

8 Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor die hele Israel gesalf is, het hulle al hulle magte gemobiliseer om Dawid te vang. Dawid het daarvan gehoor. Hy en sy manne het teen hulle uitgetrek.

9 Die Filistyne het aangekom in die Refaimdal en dit geplunder.

10 Dawid het God gevra: “Moet ek uitgaan en teen die Filistyne gaan veg? Sal U hulle aan my oorgee?”

Die Here het geantwoord: “Ja, gaan voort! Ek gee hulle aan jou oor.”

11 Dawid en sy soldate het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. “God het dit gedoen!” het Dawid uitgeroep. “Hy het my gebruik om soos ’n watervloed deur my vyande te bars. Daarom is daardie plek Baäl-Perasim genoem, wat “die Here wat deurbars” beteken.

12 Die Filistyne het hul afgode daar gelos. Dawid het beveel dat dit met vuur verbrand moes word.

13 Maar na ’n ruk het die Filistyne teruggekom en die dal weer geplunder.

14 Dawid het weereens vir God gevra wat hy moet doen.

“Moenie hulle van voor af aanval nie,” het God geantwoord. “In plaas daarvan, trek agter hulle om en val hulle dan naby die balsembosse aan.

15 As jy die geluid hoor soos van voete wat marsjeer in die toppe van die balsembosse, val aan! Dit is vir jou die teken dat God voor jou uit gaan om die Filistyne plat te loop.”

16 Dawid het gedoen wat God hom beveel het. Hy het die Filistynse leër verslaan al die pad van Gibeon af tot by Geser.

17 Dawid het wêreldwyd beroemd geword. Die Here het gesorg dat al die nasies bang was vir Dawid.

1 KRONIEKE 15

Voorbereidings om die ark te

skuif

1 Dawid het verskillende geboue vir homself in die Stad van Dawid gebou. Hy het ook ’n plek gereed gekry vir die ark van God. Hy het ’n spesiale tent daarvoor opgeslaan.

2 Daarna het Dawid die volgende instruksies gegee: “Wanneer ons die ark van God dié keer vervoer, mag niemand behalwe die Leviete dit dra nie. Die Here het hulle gekies om die ark van die Here te dra en Hom vir altyd te bedien.”

3 Dawid het toe die hele Israel in Jerusalem laat bymekaarkom om die ark van die Here na die plek te bring wat hy daarvoor gereedgemaak het.

4 Hierdie is die priesters en Leviete wat saamgeroep is:

5 Daar was 120 van die Kehatgroep, met Uriël as hulle leier.

6 Daar was 220 van die Merarigroep, met Asaja as hulle leier.

7 Daar was 130 van die Gersongroep, met Joël as hulle leier.

8 Daar was 200 van die Elisafangroep, met Semaja as hulle leier.

9 Daar was 80 van die Hebrongroep, met Eliël as hulle leier.

10 Daar was 112 van die Ussiëlgroep, met Amminadab as hulle leier.

11 Dawid het ook vir Sadok en Abjatar, die priesters, en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab ontbied.

12 Hy het vir hulle gesê: “Julle is die leiers van die Levietefamilies. Julle moet julleself en julle mede-Leviete afsonder sodat julle die ark van die Here, die God van Israel, na die plek kan bring wat ek daarvoor gereedgemaak het.

13 Omdat julle Leviete nie die eerste keer die ark gedra het nie, het die woede van die Here ons God teen ons ontbrand. Ons het God nie gevra hoe om dit op die regte manier te verskuif nie.”

14 Die priesters en die Leviete het hulleself afgesonder sodat hulle die ark van die Here, die God van Israel, na Jerusalem kon bring.

15 Die Leviete het die ark van God met die drahoute op hulle skouers gedra, soos die Here vir Moses gesê het.

16 Dawid het die leiers van die Leviete beveel om ’n Levietekoor van sangers en musikante met harpe, siters en simbale aan te stel sodat hulle saam lofliedere kon sing.

17 Die Leviete het Heman, seun van Joël, Asaf, seun van Berekja, en Etan, seun van Kusaja uit die Merarigroep aangestel om die musikante te lei.

18 Die volgende manne is as hulle assistente aangewys: Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja asook die poortwagters Obed-Edom en Jeïel.

19 Heman, Asaf en Etan is gekies om met kopersimbale musiek te maak.

20 Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja het die liere gespeel.

21 Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja is gekies om met harpe te speel.

22 Kenanja, die leier van die Leviete, is as koorleier gekies omdat hy bekwaam was.

23 Berekja en Elkana is gekies om die ark te beskerm.

24 Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser, almal priesters, is gekies om die trompette te blaas terwyl hulle voor die ark van God uitloop. Obed-Edom en Jegija is gekies om die ark te beskerm.

Die ark na Jerusalem

25 Dawid en die leiers van Israel en die hoofde van die weermag het na Obed-Edom se huis gegaan om die ark van die Here se verbond in feestelike stemming te gaan haal.

26 Omdat God die Leviete gehelp het terwyl hulle die verbondsark van die Here gedra het, het hulle sewe bulle en sewe ramme geoffer.

27 Dawid het ’n mantel van fyn linne aangehad, nes die Leviete wat die ark gedra het, die sangers en Kenanja, die sangleier. Dawid het ook ’n linneskouerkleed aangehad.

28 Die hele Israel het die verbondsark van die Here opgeneem na Jerusalem toe met uitroepe van blydskap, die geblaas van horings en trompette, die slag van simbale en harde klank van harpe en siters.

29 Terwyl die verbondsark van die Here die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur haar venster gekyk. Toe sy sien hoe koning Dawid dans en van vreugde spring, het sy hom in stilte verag.

1 KRONIEKE 16

1 So het hulle die ark na die spesiale tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, gevat. Hulle het brandoffers en dankoffers vir God gebring.

2 Toe hulle klaar was met die offers, het Dawid die volk geseën in die Naam van die Here.

3 Hy het ’n geskenk van kos vir elke man en vrou in Israel gegee: ’n sny brood, ’n dadelkoek en ’n rosynekoek.

4 Dawid het die volgende Leviete aangestel om die volk in aanbidding voor die ark van die Here te lei deur sy seën te vra en die Here die God van Israel te dank en te prys.

5 Asaf, die leier van die groep, het die simbale geslaan. Sy assistente was Sagaria, tweede in bevel, Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel. Hulle het harpe en siters bespeel.

6 Benaja en Jagasiël, die priesters, het aanhoudend trompette voor die verbondsark van God geblaas.

Dawid se loflied

7 Daardie dag het Dawid vir Asaf en sy mede-Leviete hierdie danklied vir die Here gegee:

8 Dank die Here,

roep sy Naam aan.

Laat die nasies weet

wat Hy gedoen het.

9 Sing vir Hom, ja, besing sy lof!

Vertel van sy wonderwerke.

10 Juig oor sy heilige Naam.

Aanbidders van die Here,

wees bly!

11 Soek na die Here en sy krag.

Hou aan om Hom te soek.

12 Dink oor die wonders

wat Hy gedoen het,

die wonderwerke en die oordele

wat Hy uitgespreek het.

13 Kinders van Israel,

God se kneg,

afstammelinge van Jakob,

God se verkore een!

14 Hy is die Here ons God.

Sy heerskappy

is oor die hele aarde.

15 Hy staan by sy verbond –

sy belofte

aan duisend geslagte.

16 Dit is sy verbond

wat Hy met Abraham gesluit het,

die eed wat Hy aan Isak

gesweer het.

17 Hy het dit aan Jakob

as insetting bevestig,

aan Israel as ’n verbond vir altyd:

18 “Ek gee julle die land Kanaän

as julle eiendom en erfdeel.”

19 Hy het dit gesê

toe hulle min was in getal,

’n klein groepie vreemdelinge.

20 Hulle het rondgetrek

tussen nasies,

van een koninkryk na die ander.

21 Hy het nie toegelaat

dat iemand hulle verdruk nie.

Hy het konings

oor hulle gewaarsku:

22 “Moenie vat

aan my gesalfdes nie,

moenie my profete beseer nie.”

23 Laat almal vir die Here sing!

Vertel elke dag dat Hy red.

24 Vertel vir die nasies van Hom.

Vertel almal

van sy wonderdade.

25 Want die Here is groot,

waardig om geprys te word!

Bo al die gode

moet Hy geëer word.

26 Die gode van die volke

is maar net afgode,

maar die Here

het die hemel gemaak!

27 Eer en heerskappy

omring Hom,

krag en vreugde

is in sy woonplek.

28 Gee aan die Here,

families van die volke,

gee aan die Here

eer en krag.

29 Gee aan die Here

die eer wat Hom toekom!

Bring jou offers en aanbid Hom.

Aanbid die Here

in sy heilige heerlikheid.

30 Laat die aarde voor Hom bewe.

Die wêreld is gevestig

en kan nie wankel nie.

31 Laat die hemel bly wees

en die aarde juig!

Sê vir die volke:

Die Here is Koning.

32 Laat die see weergalm

en alles daarin!

Laat die veld bly wees

en alles daarin!

33 Laat die bome van die bos

jubel voor die Here!

Want Hy kom

om die aarde te oordeel.

34 Dank die Here,

want Hy is goed!

Sy troue liefde duur vir altyd.

35 Julle moet uitroep:

“Red ons, God van ons heil!

Versamel en red ons

van die nasies,

sodat ons u heilige Naam

kan dank,

sodat ons kan bly wees,

en U kan prys!”

36 Prys die Here,

die God van Israel,

vir altyd en altyd!

Al die mense het “Amen!” uitgeroep en die Here geprys.

Aanbidding by Jerusalem en

Gibeon

37 Dawid het gereël dat Asaf en sy mede-Leviete gereeld voor die verbondsark van die Here diens doen soos elke dag vereis word.

38 Hierdie groep sluit ook Obed-Edom, seun van Jedutun, en Gosa en 68 ander Leviete in. Hulle was poortwagters.

39 Intussen het Dawid vir Sadok, die priester, en sy medepriesters by die tabernakel van die Here op die Gibeonhoogte gestasioneer.

40 Hulle het elke môre en aand die gereelde brandoffers aan die Here geoffer op die altaar wat daarvoor afgesonder is. Hulle het alles gedoen wat geskryf is in die bepalings wat die Here vir Israel gegee het.

41 Dawid het ook Heman, Jedutun en die ander aangestel wat uitgesoek is om dank aan die Here te bring, “want sy getroue liefde duur vir altyd!”

42 Hulle het hulle trompette, simbale en ander instrumente gebruik om lofliedere aan God te sing. Die seuns van Jedutun is as poortwagters aangestel.

43 Die hele volk het na hulle huise toe teruggegaan, en Dawid het teruggegaan om sy familie te seën.

1 KRONIEKE 17

Die Here se belofte aan Dawid

1 Toe Dawid in sy paleis gevestig is, het hy vir Natan die profeet gesê: “Hier bly ek in hierdie pragtige sederhoutpaleis, maar die verbondsark van die Here is buitekant in ’n tent!”

2 Natan het geantwoord: “Gaan voort met wat u in gedagte het, want God is met u!”

3 Daardie selfde nag het God vir Natan gesê:

4 “Gaan sê vir my kneg Dawid: Dit is wat die Here sê: Jy is nie die een wat vir My ’n tempel sal bou om in te woon nie.

5 Vanaf die dag dat Ek Israel uit Egipte gelei het tot vandag toe het Ek nooit in ’n tempel gewoon nie. My huis was nog altyd ’n tent, terwyl Ek van een plek na die volgende gegaan het.

6 Ek het nie een keer teenoor Israel se leiers, my volk se herders, gekla nie, waar Ek ook al gegaan het. Ek het hulle ook nooit gevra nie: ‘Waarom het julle nie vir My ’n pragtige sederhouttempel gebou nie?’

7 “Gaan sê dan vir my kneg Dawid: So sê die Here, die Almagtige: Ek self het jou gekies om my volk Israel te lei toe jy nog maar in die veld skape opgepas het.

8 Ek was met jou waar jy ook al gegaan het, en Ek het al jou vyande vernietig. Nou gaan Ek jou ook nog deur die hele wêreld beroemd maak!

9 En Ek het ’n permanente blyplek vir my volk Israel gegee en hulle daar gevestig, ’n veilige plek waar hulle nie langer gepla sal word nie. Dit sal hulle eie land wees waar bose nasies hulle nie soos in die verlede kan verdruk nie,

10 selfs toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te regeer. Ek sal al jou vyande onderwerp.

“Ek verklaar nou vir jou dat Ek, die Here, vir jou ’n huis sal bou, ’n koningshuis.

11 Wanneer jy oud geword het en sterf, sal Ek een van jou seuns aanstel, en Ek sal sy koninkryk sterk maak.

12 Hy is die een wat ’n huis, ’n tempel vir My sal bou. En Ek sal sy troon vir baie lank bevestig.

13 Ek sal vir hom soos ’n pa wees, en hy sal vir My soos ’n seun wees. Ek sal nie my troue liefde van hom wegvat soos Ek dit van Saul wat voor jou regeer het, weggevat het nie.

14 Ek sal hom vir baie lank oor my koningshuis en koninkryk aanstel, en sy troon sal vasstaan vir baie lank.”

15 Natan het teruggegaan na Dawid toe en hom alles vertel wat die Here gesê het.

Dawid se dankgebed

16 Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, Here God, en wat is my familie dat U my tot sover gebring het?

17 En dit was maar nog net iets kleins vir U, o God. Daarom het U ook gepraat van my koningshuis wat lank ná my sal bestaan! U praat asof ek iemand groots is, Here God!

18 Wat meer kan ek sê van die manier waarop U my geëer het? U weet hoe ek eintlik is!

19 Ter wille van my, o Here, en volgens u wil het U al hierdie groot dinge gedoen en dit ook bekendgemaak.

20 “Here, daar is niemand soos U nie. Daar is geen ander God nie. Ons het nog nooit eers gehoor van ’n ander god soos U nie!

21 Watter ander nasie op aarde is soos Israel? Watter ander nasie, o God, het U gered uit slawerny om u volk te wees? U het ’n groot Naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het. U het wonderdade gedoen en die nasies wat in u pad gestaan het, uitgedryf.

22 U het Israel gekies om u volk vir altyd te wees en U, o Here, het hulle God geword.

23 “En nou, Here, doen soos U belowe het oor my en my familie. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd geld!

24 En mag u Naam altyd gevestig en geëer word sodat die hele wêreld sal sê: ‘Die Here, die Almagtige, is God oor Israel!’ En mag die koningshuis van u kneg Dawid in u teenwoordigheid gevestig wees.

25 “O my God, ek was dapper genoeg om hierdie gebed tot U te bid omdat U openbaar het dat U ’n huis vir my sal bou, ’n ewige koningshuis!

26 Want U is God, o Here. En U het hierdie goeie dinge oor my, u kneg, belowe.

27 Dit het U behaag om my en my familie te seën sodat ons koningshuis vir altyd voor U sal bestaan. Want wanneer U seën, o Here, is dit ’n ewige seën!”

1 KRONIEKE 18

Dawid se militêre oorwinnings

1 Hierna het Dawid die Filistyne onderwerp en hulle verneder toe hy Gat met sy omringende dorpies verower het.

2 Dawid het ook die Moabiete verslaan, en die Moabiete het Dawid se onderdane geword en belasting betaal.

3 Toe koning Hadad-Eser van Soba uitmarsjeer het om sy mag al langs die Eufraat te versterk, het Dawid ook die soldate van Hadad-Eser tot so ver as Hamat verslaan.

4 Dawid het van hom 1 000 strydwaens, 7 000 perderuiters en 20 000 voetsoldate gevang. Hy het al die trekperde se hakskeensenings afgesny, behalwe vir 100 trekperde.

5 Toe die Arameërs van Damaskus opdaag om vir koning Hadad-Eser van Soba te help, het Dawid 22 000 van hulle doodgemaak.

6 Hy het ook verskeie wagposte in Damaskus, die Aramese hoofstad, gestasioneer. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en aan hom belasting betaal. Die Here het vir Dawid die oorwinning gegee waar hy ook al gegaan het.

7 Dawid het die goue skilde wat Hadad-Eser se offisiere gedra het, na Jerusalem gebring.

8 Hy het ook baie koper gebring uit Hadad-Eser se stede, Tibgat en Kun. Later het Salomo dit gesmelt en vir die tempel gebruik. Hy het die kopersee, pilare en kopergereedskap daarvan gemaak.

9 Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die hele weermag van koning Hadad-Eser van Soba vernietig het,

10 het hy sy seun Joram na koning Dawid gestuur om hom te groet en geluk te wens met sy sukses oor Hadad-Eser. Hadad-Eser en Toï was lank vyande, en daar was baie oorloë tussen hulle. Joram het ook vir Dawid baie geskenke van goud, silwer en koper saamgebring.

11 Koning Dawid het al hierdie geskenke aan die Here geheilig, en so ook al die silwer en die goud wat hy afgeneem het van die nasies wat hy onderwerp het. Dit was Edom, Moab, Almon, die Filistyne en Amalek.

12 Abisai, seun van Seruja, het 18 000 Edomiete in die Soutdal verslaan.

13 Hy het wagposte deur die hele Edom geplaas, en al die Edomiete het Dawid se onderdane geword. Dit was nog ’n voorbeeld van hoe die Here aan Dawid die oorwinning gegee het waar hy ook al gegaan het.

14 Dawid het oor die hele Israel regeer. Hy het almal regverdig behandel.

15 Joab, seun van Seruja, was hoof van die leër. Josafat, seun van Agilud, was die koning se historikus.

16 Sadok, seun van Agitub, en Agimelek, seun van Abjatar, was die priesters. Sausa was die hofsekretaris.

17 Benaja, seun van Jojada, was kaptein van die koning se lyfwag. Dawid se seuns het as die koning se hoofassistente gedien.

1 KRONIEKE 19

Dawid verslaan die Ammoniete

1 ’n Ruk later het koning Nagas van die Ammoniete gesterf, en sy seun Ganun het in sy plek koning geword.

2 Dawid het gesê: “Ek gaan Ganun goed behandel omdat sy pa, Nagas, my altyd goed behandel het.” Dawid het ambassadeurs gestuur om simpatie met Ganun te betoon oor sy pa se dood.

Maar toe Dawid se ambassadeurs in die land van Ammon aankom,

3 het Ganun se adviseurs vir hom gesê: “Dink u regtig hierdie manne het gekom om u oor u pa te eer? Nee! Dawid het hulle gestuur om op die land te spioeneer sodat hy kan kom en dit verower!”

4 Ganun het toe Dawid se ambassadeurs gevange geneem en hulle baarde afgeskeer, hulle klere in die helfte by hulle heupe afgesny, en hulle in skaamte na Dawid toe teruggestuur.

5 Toe Dawid hoor wat gebeur het, het hy boodskappers gestuur om vir die manne te sê: “Bly in Jerigo totdat julle baarde uitgegroei het en kom dan eers terug.” Die ambassadeurs was verneder.

6 Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid kwaad gemaak het. Ganun en die Ammoniete het toe 34 ton silwer gestuur om vir hulle strydwaens en perderuiters uit Aram-Nagarajim, Aram-Maäka en Soba te huur.

7 Hulle het ook 32 000 waens gehuur, asook die koning van Maäka met sy leër. Hierdie magte het by Medeba uitgekamp waar die Ammoniete wat Ganun uit sy eie stede opgeroep het, by hulle aangesluit het.

8 Toe Dawid dit hoor, het hy Joab en al sy soldate gestuur om teen hulle te veg.

9 Die Ammoniete se soldate het hulle in slagorde opgestel by die poort van die stad terwyl die ander konings hulleself in die oop veld opgestel het vir die geveg.

10 Joab het gesien dat hy aan twee kante sal moet veg. Toe kies hy die beste soldate in sy leër en laat hulle onder hom veg. Hy het hulle uitgelei om teen die Arameërs in die oop veld te gaan veg.

11 Die res van die leër het hy onder die bevel van sy broer Abisai gesit, en hulle moes die Ammoniete aanval.

12 Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, kom dan oor en help my. En as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou kom help.

13 Wees vol moed! Laat ons ons krag gebruik om te veg vir ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen wat Hy wil!”

14 Toe Joab en sy soldate aanval, het die Arameërs begin weghardloop.

15 En toe die Ammoniete sien die Arameërs hardloop weg, het hulle ook voor Abisai, sy broer, weggehardloop en in die stad gaan wegkruip. Joab het teruggegaan Jerusalem toe.

16 Die Arameërs het nou besef dat Israel hulle behoorlik verslaan het. Toe het hulle weer ambassadeurs gestuur en nog meer Aramese soldate van oorkant die Eufraat gaan huur. Hierdie soldate was onder leiding van Sobak, die hoof van Hadad-Eser se weermag.

17 Dawid het gehoor wat gebeur het, en hy het die hele Israel gemobiliseer. Hulle het deur die Jordaan getrek en hy het sy soldate in gevegsformasie opgestel. Hy het die Aramese soldate begin aanval, en hulle het teen hom geveg.

18 Weereens het die Arameërs voor die Israeliete gevlug. Hierdie keer het Dawid se soldate 7 000 trekperde en 40 000 soldate doodgemaak, insluitende Sobak, die hoof van die weermag.

19 Toe die amptenare van Hadad-Eser besef dat Israel hulle verslaan het, het hulle hulle aan Dawid oorgegee en sy onderdane geword. Hierna was die Arameërs nie weer bereid om die Ammoniete te help nie.

1 KRONIEKE 20

Rabba beset

1 Die volgende lente, die tyd wanneer die konings gaan oorlog maak, het Joab die Israelitiese leërmag gelei. Hulle het die stede en dorpe van die Ammoniete verwoes. In die proses het hulle die stad Rabba beleër en dit vernietig. Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2 Toe Dawid in Rabba aankom, het hy die kroon van die koning se kop afgehaal en dit is op Dawid se kop gesit. Die kroon was van goud met juwele daarin, en dit het 34 kilogram geweeg. Dawid het ook ’n baie groot buit uit die stad gevat.

3 Hy het van die mense van Rabba slawe gemaak en hulle gedwing om met sae, pikke en byle te werk. So het Dawid al die mense van die Ammonitiese stede behandel. Hierna het Dawid en sy leër na Jerusalem toe teruggegaan.

Oorloë teen die Filistyne

4 Hierna het daar by Geser oorlog teen die Filistyne uitgebreek. Terwyl hulle veg, het Sibbekai van Gusa vir Sippai, ’n afstammeling van die reuse, verslaan. Die Filistyne is onderwerp.

5 In ’n volgende geveg met die Filistyne het Elganan, seun van Jaïr, vir Lagmi, broer van Goliat uit Gat, doodgemaak. Die handvatsel van Lagmi se spies was so dik soos ’n wewersbalk!

6 In nog ’n geveg met die Filistyne by Gat was daar ’n reuse man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, 24 in totaal, ’n afstammeling van die reuse.

7 Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, het hom doodgemaak.

8 Hierdie Filistyne was afstammelinge van die reuse van Gat, maar hulle is deur Dawid en sy soldate doodgemaak.

1 KRONIEKE 21

Dawid neem ’n sensus op

1 Satan het teen Israel opgestaan en Dawid aangepor om ’n sensus van die Israeliete op te neem.

2 Dawid het opdrag aan Joab en sy offisiere gegee: “Gaan neem ’n sensus op van al die mense in die land, van Berseba in die suide tot Dan in die noorde. En bring dan vir my die uitslag sodat ek kan weet hoeveel mense daar is.”

3 Maar Joab het geantwoord: “Mag die Here sy volk honderd maal vermeerder! Maar hoekom, o Koning, wil u dit doen? Is hulle nie almal u dienaars nie? Waarom wil u dit doen? Hoekom moet u Israel laat sondig?”

4 Maar die koning het daarop aangedring dat Joab die sensus opneem. Daarom het Joab deur die hele Israel getrek om die volk te tel. Toe is hy terug Jerusalem toe.

5 Joab het die getal mense aan Dawid kom rapporteer. Daar was 1 100 000 mense wat militêre diens kon lewer in Israel, en 470 000 in Juda.

6 Joab het nie die stamme van Levi en Benjamin getel nie omdat die opdrag van die koning vir hom afskuwelik was.

Oordeel vir Dawid se sonde

7 God was baie ontevrede met die sensus, en Hy het Israel daarvoor gestraf.

8 Toe sê Dawid vir God: “Ek het baie teen U gesondig en moes nie die sensus opgeneem het nie. Vergewe my asseblief omdat ek hierdie dwase ding gedoen het!”

9 Die Here het met Gad, Dawid se siener, gepraat. Dit was die boodskap:

10 “Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Ek gaan jou drie keuses gee. Kies een van hierdie strawwe, en Ek sal dit doen.’”

11 Gad het by Dawid gekom en vir hom gesê: “Hierdie is die keuses wat die Here u gegee het.

12 U kan drie jaar van hongersnood kies, drie maande van verwoesting deur u vyande of drie dae van ’n swaar plaag waar die engel van die Here deur die hele land vernietiging bring. Dink hieroor na en laat my weet watter antwoord ek vir die Here moet gee.”

13 “Dit is ’n desperate situasie!” het Dawid vir Gad geantwoord. “Maar laat my eerder in die hande van die Here val, want sy genade is baie groot. Moet my tog nie in mense se hande laat val nie.”

14 Die Here het ’n plaag oor Israel gestuur, en 70 000 mense van Israel is dood as gevolg daarvan.

15 En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes. Maar net toe die engel gereed was om die verderf te saai, het die Here berou gekry oor die ellende en vir die engel gesê: “Dis genoeg! Trek nou jou hand terug.” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

16 Dawid het opgekyk en die engel van die Here sien staan tussen hemel en aarde met sy ontblote swaard wat oor Jerusalem uitgestrek is. Toe het Dawid en die leiers van Israel in sak en as op die grond neergeval.

17 En Dawid het vir God gesê: “Ek was die een wat die sensus beveel het! Ek is die een wat gesondig het en hierdie baie verkeerde ding gedoen het! Maar hierdie mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? O Here my God, laat u woede teen my en my familie ontbrand, maar moenie u volk vernietig nie!”

Dawid bou ’n altaar

18 Die engel van die Here het vir Gad gesê om Dawid te beveel om ’n altaar vir die Here te gaan bou op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

19 Dawid het gedoen wat die Here hom deur Gad beveel het.

20 Arauna was besig om koring te dors toe hy omdraai en die engel sien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggehardloop en gaan wegkruip.

21 Toe Arauna sien dat die koning aankom, het hy sy dorsvloer verlaat en voor Dawid met sy gesig na die grond gebuig.

22 Dawid sê toe vir Arauna: “Laat my asseblief hierdie dorsvloer vir sy volle koopprys koop! Ek wil ’n altaar vir die Here hier bou sodat Hy hierdie plaag sal stop.”

23 “Vat dit, o Koning, en gebruik dit soos u wil,” het Arauna vir Dawid gesê. “Hier is ook beeste vir brandoffers en u kan die dorsgereedskap vir hout gebruik om die vuur op die altaar te maak. En vat die koring as ’n spysoffer. Ek wil dit alles vir u gee!”

24 Maar die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek dring daarop aan om te betaal wat dit werd is. Ek kan nie wat joune is, vat en vir die Here gee nie. Ek sal nie ’n brandoffer bring wat my niks kos nie!”

25 Dawid het Arauna toe byna sewe kilogram goud betaal vir die dorsvloer.

26 Dawid het daar ’n altaar vir die Here gebou en brandoffers en dankoffers geoffer. Terwyl Dawid gebid het, het die Here hom geantwoord met vuur uit die hemel wat sy offers op die altaar verbrand het.

27 Toe het die Here met die engel gepraat, en hy het sy swaard in die skede teruggesteek.

28 Dawid het op daardie tydstip gesien dat die Here sy gebed geantwoord het. Daarom het hy aangehou om offers op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, te offer.

29 In daardie stadium was die tabernakel van die Here en die altaar wat Moses in die woestyn gemaak het, op die hoogte in Gibeon.

30 Maar Dawid wou nie daarheen gaan om God te raadpleeg nie omdat hy bang was vir die uitgetrekte swaard van die engel van die Here.

1 KRONIEKE 22

1 Dawid het gesê: “Hier is die plek vir die huis van die Here God en die plek vir die altaar vir Israel se brandoffers!”

Voorbereidings vir die tempel

2 Dawid het beveel dat al die vreemdelinge wat in Israel leef, bymekaar moet kom. Hy het hulle aangestel om die blokke klip reg te kap om die tempel van God mee te bou.

3 Dawid het ook groot hoeveelhede yster verskaf vir die spykers wat nodig sou wees vir die poortdeure en vir kramme, en koper wat soveel was dat dit nie geweeg kon word nie.

4 Daarby het hy ontelbaar baie sederblokke verskaf, want die mense van Sidon en Tirus het vir Dawid groot hoeveelhede sederhout gebring.

5 Want Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, en die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend en groot wees, ’n roem en ’n sieraad vir alle lande. Daarom tref ek vir hom die voorbereidings.” Daarom het Dawid voor sy dood al groot hoeveelhede boumateriaal bymekaargemaak.

6 Daarna het Dawid sy seun Salomo laat haal en vir hom verduidelik dat hy ’n tempel vir die Here, die God van Israel, moes bou.

7 “Ek wou ’n tempel tot eer van die Here my God bou,” het Dawid vir hom gesê.

8 “Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy het baie mense doodgemaak in die groot oorloë waarin jy geveg het. Omdat jy so baie bloed voor My op die grond vergiet het, is jy nie die een wat ’n tempel tot my eer sal bou nie.

9 Maar jy sal ’n seun hê wat vrede en rus in sy tyd sal beleef. Ek sal hom vrede met sy vyande en al die omliggende lande gee. Sy naam sal Salomo wees, en Ek sal vrede en rus in Israel gedurende sy regering gee.

10 Hy is die een wat ’n tempel tot my eer sal bou. Hy sal my seun wees, en Ek sal sy Vader wees. Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel vir altyd bevestig.’

11 “Nou, my seun, mag die Here met jou wees en jou suksesvol maak terwyl jy die instruksies volg wanneer jy die tempel van die Here jou God bou.

12 Mag die Here jou ook wysheid en begrip gee sodat jy die opdragte van die Here jou God sal gehoorsaam terwyl jy oor Israel regeer.

13 Want as jy sorgvuldig al die opdragte en bepalings uitvoer wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, sal jy suksesvol wees. Daarom, wees sterk en vol moed. Moenie bang of moedeloos word nie.

14 “Ek het hard gewerk om materiaal vir die bou van die tempel van die Here te verskaf – byna drie en ’n half ton goud en 34 000 ton silwer, en soveel yster en koper dat dit nie geweeg kan word nie. Ek het ook hout en klip bymekaargemaak, alhoewel jy meer nodig kan kry.

15 Jy het baie vaardige klipkappers, ambagsmanne in klip en hout, en kunstenaars van elke soort.

16 Hulle is vaardige goudsmede, silwersmede en bewerkers van koper en die yster. Begin nou met die werk, en mag die Here met jou wees!”

17 Dawid het al die leiers in Israel beveel om sy seun Salomo by te staan.

18 “Die Here julle God is met julle,” het hy verklaar. “Hy het julle rus gegee van die omringende volke. Hy het al die inwoners van die land aan my oorgegee, en hulle is nou onderdane van die Here en sy volk.

19 Soek nou die Here julle God met julle hele hart. Bou die heiligdom van die Here God sodat julle die verbondsark van die Here en die heilige voorwerpe van God in die tempel kan bring om die Here te eer.”

1 KRONIEKE 23

Pligte van die Leviete

1 Toe Dawid al ’n ou man was, by die einde van sy lewe, het hy sy seun Salomo as koning oor Israel aangestel.

2 Dawid het al die leiers van Israel bymekaargeroep, saam met die priesters en Leviete, vir die kroningseremonie.

3 Al die Leviete wat 30 jaar en ouer was, is getel, en hulle was 38 000 in totaal.

4 Toe het Dawid gesê: “Van hulle moet 24 000 toesig hou oor die werk by die tempel van die Here. En 6 000 moet as amptenare en regters werk.

5 4 000 moet as poortwagters werk en nog 4 000 moet die Here loof met die musiekinstrumente wat ek gemaak het.”

6 Toe het Dawid die Leviete in afdelings opgedeel, genoem na die drie seuns van Levi, naamlik Gerson, Kehat en Merari.

Die Gersoniete

7 Die Gersoniete se families is gedefinieer deur hulle afstamming van Ladan en Simi, seuns van Gerson.

8 Drie van die afstammelinge van Ladan was Jegiël, die familieleier, Setam en Joël.

9 Drie van die afstammelinge van Simi was Selomit, Gasiël en Haran. Hulle was die leiers van die familie van Ladan.

10 Vier ander afstammelinge van Simi was Jagat, Sisa, Jeüs en Beria.

11 Jagat was die familieleier, en Sisa was volgende. Jeüs en Beria is as een familie getel omdat nie een van hulle baie seuns gehad het nie.

Die Kehatiete

12 Die afstammelinge van Kehat het Amram, Jishar, Hebron en Ussiël ingesluit.

13 Die seuns van Amram was Aäron en Moses. Aäron en sy afstammelinge is afgesonder om die hoogheilige dinge te wy, om offers in die Here se teenwoordigheid te bring, om die Here te dien en om altyd seëninge in sy Naam uit te spreek.

14 Wat Moses, die man van God betref, sy seuns is ingesluit by die stam van Levi.

15 Die seuns van Moses was Gersom en Eliëser.

16 Die afstammelinge van Gersom het Subael, die familieleier, ingesluit.

17 Eliëser het net een seun gehad, Regabja, wat die familieleier was. Regabja het baie afstammelinge gehad.

18 Die afstammelinge van Jishar het Selomit, die familieleier, ingesluit.

19 Die afstammelinge van Hebron was Jeria, die familieleier, Amarja, die tweede, Jagasiël, die derde, en Jekamam, die vierde.

20 Die afstammelinge van Ussiël was Miga, die familieleier, en Jissija, die tweede.

Die Merariete

21 Die afstammelinge van Merari was Magli en Musi.

Die seuns van Magli was Eleasar en Kis.

22 Eleasar is dood sonder om ’n seun te hê. Hy het net dogters gehad. Sy dogters is met hulle nefies, die seuns van Kis, getroud.

23 Die drie seuns van Musi was Magli, Eder en Jeremot.

24 Hulle was almal die afstammelinge van Levi volgens hulle families, die familieleiers, sorgvuldig aangeteken volgens hulle name. Elkeen moes twintig jaar of ouer wees om te kwalifiseer om in die huis van die Here te dien.

25 Want Dawid het gesê: “Die Here, die God van Israel, het ons vrede gegee, en Hy sal vir altyd in Jerusalem woon.

26 Nou hoef die Leviete nie meer die tabernakel en al sy voorwerpe van plek tot plek te dra nie.”

27 Dit was volgens Dawid se finale instruksies dat al die Leviete van twintig en ouer vir die dienswerk geregistreer is.

28 Die werk van die Leviete was om die priesters, die afstammelinge van Aäron, by te staan wanneer hulle in die huis van die Here dien. Hulle moes ook sorg dra vir die voorhowe en sykamers, help om die reinigingseremonies uit te voer en op baie ander maniere in die huis van God te werk.

29 Hulle was in beheer van die offerbrode wat op die tafel gesit is, die fynmeel vir die spysoffer, die ongesuurde platkoeke, die gebakte offers en die offers wat met olie gemeng is.

Hulle was ook verantwoordelik om al die mate en gewigte te kontroleer.

30 En elke môre en aand het hulle voor die Here gestaan om Hom te loof en te prys.

31 Hulle het ook met die brandoffers gehelp wat op Sabbatdae vir die Here gebring is, en op nuwemane en feestye.

Die regte getal Leviete het te alle tye in die Here se teenwoordigheid gedien, en hulle het al die prosedures gevolg wat vir hulle voorgeskryf is.

32 So het die Leviete onder toesig van die priesters, aan wie hulle verwant was, oor die tent van samekoms en die heiligdom gewaak en getrou hulle pligte in die tempel van die Here uitgevoer.