2 KONINGS 19

Hiskia soek die hulp van die

Here

1 Toe koning Hiskia dit hoor, skeur hy sy klere, trek rouklere aan en gaan na die Here se tempel toe.

2 Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leierpriesters, almal met rouklere aan, na die profeet Jesaja seun van Amos.

3 Hulle het hom vertel: “So sê koning Hiskia: Dit is ’n dag van benoudheid, teregwysing en skande. Dit is soos ’n kind wat gereed is om gebore te word, maar die moeder het geen krag om geboorte te gee nie.

4 Maar miskien het die Here jou God gehoor hoe die hoofadjudant van die Assiriese koning die lewende God gespot het. Dalk sal die Here jou God hom straf oor wat Hy gehoor het. Bid tog vir ons wat nog oorgebly het!”

5 Nadat koning Hiskia se amptenare die boodskap by Jesaja afgelewer het,

6 antwoord die profeet: “Sê vir julle koning: Dit is wat die Here sê: ‘Moenie bang wees oor die woorde van die boodskappers van die Assiriese koning, en hoe hulle My belaster het nie.

7 Luister! Ek sal teen hom optree sodat die koning ’n gerug sal kry en hy na sy land toe sal teruggaan. Dan sal Ek sorg dat hy daar met ’n swaard doodgemaak word.’”

8 Die hoofadjudant het toe na die koning van Assirië teruggegaan, maar gehoor dat hy vanaf Lakis verskuif het en besig was om Libna aan te val.

9 Kort daarna kry koning Sanherib van Assirië berig dat koning Tirhaka van Kus met ’n leër op pad is om hom aan te val. Voordat hy vertrek om die aanval te weerstaan, stuur hy die volgende brief met boodskappers aan Hiskia in Jerusalem:

10 “Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda. Moenie toelaat dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met beloftes dat die koning van Assirië nie Jerusalem sal inneem nie.

11 Jy weet alte goed wat die konings van Assirië gedoen het waar hulle ook al gegaan het. Hulle het elkeen wat in hulle pad was, vernietig! Hoekom sou jy dit vryspring?

12 Het die gode van ander nasies hulle kom red, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die inwoners van Eden wat in Telassar was? My voorgangers het hulle almal vernietig!

13 Wat het gebeur met die koning van Hamat en die koning van Arpad? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14 Nadat Hiskia die brief van die boodskappers ontvang en gelees het, gaan hy op na die Here se tempel toe en sprei dit oop voor die Here.

15 Toe bid hy voor die Here soos volg:

“O Here, God van Israel,

U wat oor die serafs troon!

U alleen is God

oor al die koninkryke

op die aarde.

U het die hemel

en die aarde

gemaak.

16 Luister tog na my, o Here,

en hoor wat ek sê.

Maak tog u oë oop en kyk,

Here!

Luister hoe Sanherib

die lewende God beledig!

17 “Dit is waar, Here, die konings van Assirië het al hierdie nasies met hulle grondgebiede verwoes.

18 Dis waar dat hulle die gode van hierdie nasies verbrand het. Maar natuurlik kon die Assiriërs hulle vernietig! Hulle was glad nie gode nie, net maar beelde van hout en klip, die werk van mensehande.

19 Nou, o Here, ons God, red ons uit die mag van Assirië! Dan sal al die koninkryke op die aarde weet dat U alleen, o Here, God is.”

Jesaja kondig Juda se redding

aan

20 Toe stuur Jesaja seun van Amos die volgende boodskap aan Hiskia: “Dis wat die Here, die God van Israel, sê: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië gehoor.

21 Dit is wat die Here oor hom sê:

“Die dogter van Sion verag jou

en lag vir jou.

Die dogter van Jerusalem

kyk jou spottend agterna.

22 Wie dink jy het jy beledig

en belaglik gemaak?

Teen wie het jy

jou stem verhef

en met trots

jou oë opgeslaan?

Dit was die Heilige van Israel!

23 Deur jou boodskappers

het jy die Here gelaster.

Jy het gesê:

‘Met my baie strydwaens

het ek hoë berge bestyg,

die hoogste pieke

van die Libanon.

Ek het sy hoogste seders,

sy keurigste sipresse afgekap.

Ek het sy verste uithoeke bereik,

sy digte woude binnegedring.

24 Ek het putte gegrawe

in vreemde lande,

myself verkwik met hulle water.

Met my voetsole

het ek al die riviere van Egipte

laat opdroog!’

25 “Maar het jy nie gehoor nie?

Ek het lankal daaroor besluit.

Lank gelede het Ek dit beplan.

Nou maak Ek dit werklikheid:

dat jy versterkte stede

tot rommelhope sal verpletter.

26 Hulle inwoners is magteloos,

verskrik en beskaamd;

soos gras op die veld,

broos soos sagte groen gras;

soos gras op ’n dak verskroei

nog voordat dit opkom.

27 “Maar Ek ken jou goed:

Ek weet of jy kom of gaan,

ook hoe jy uitvaar teen My.

28 En weens jou woede teen My

en jou verwaandheid

wat Ek self gehoor het,

sit Ek my haak deur jou neus

en my stang in jou mond.

Dan sal Ek jou laat teruggaan

op die pad

waarlangs jy gekom het.

29 “Hier is die teken vir jou:

Hierdie jaar sal julle eet

wat vanself opkom

en die volgende jaar

wat dáárvan opkom.

Maar in die derde jaar

sal julle saai en oes.

Julle sal wingerde plant

en die vrug daarvan eet.

30 Dié wat in Juda

oorgebly het,

sal weer wortelskiet

en vrugte dra.

31 Want uit Jerusalem

sal ’n oorblyfsel voortkom,

uit Sionsberg

dié wat oorgebly het.

Die ywer van die Here self

sal dit laat gebeur!

32 “Daarom, so sê die Here

oor die koning van Assirië:

“Hy sal nie in Jerusalem inkom

of ’n pyl hier afskiet nie.

Hy sal nie met skilde opruk

of beleëringswalle

teen sy mure ophoop nie.

33 Met die pad

waarlangs hy gekom het,

sal hy teruggaan.

Hierdie stad

sal hy nie binnegaan nie,

sê die Here.

34 Ek sal hierdie stad beskerm

en red

ter wille van my eer

en van my dienaar Dawid.”

35 Daardie nag het die engel van die Here na die kamp van die Assiriërs gegaan en 185 000 Assiriese manskappe doodgemaak. Toe die Assiriërs die volgende oggend wakker word, kry hulle oral net lyke.

36 Toe het koning Sanherib van Assirië kamp afgeslaan en na sy eie land toe teruggegaan. Hy het huis toe, na sy hoofstad Nineve, gegaan en daar gebly.

37 Eendag, terwyl hy in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het sy seuns Adrammelek en Sareser hom met hulle swaarde doodgemaak. Hulle het na Ararat toe gevlug. ’n Ander seun, Eserhaddon, het hom as koning van Assirië opgevolg.

2 KONINGS 20

Hiskia se siekte en herstel

1 Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek. Hy gee toe hierdie boodskap aan die koning: “Dit is wat die Here sê: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf. Jy sal nie bly leef nie.”

2 Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai en tot die Here gebid:

3 “O Here, onthou tog hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly en om dit te doen wat vir U reg is.” Daarna het Hiskia in trane uitgebars en bitterlik gehuil.

4 Jesaja was skaars weg, toe sê die Here vir hom:

5 “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: ‘Dit is wat die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en jou trane gesien. Ek sal jou gesond maak. Oor drie dae sal jy uit die bed opstaan en na die tempel van die Here toe gaan.

6 Ek sal nog vyftien jaar by jou lewe voeg, en Ek sal jou en hierdie stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal die stad beskerm om my ontwil en ter wille van my dienaar Dawid.’”

7 Toe sê Jesaja vir Hiskia se dienaars: “Gaan maak ’n pap van vye!” Hulle het dit gedoen, dit op die sweer gesit en Hiskia het daarna beter gevoel.

8 Hiskia het vir Jesaja gesê: “Watter teken sal die Here my gee om te bevestig dat Hy my sal gesond maak sodat ek oor drie dae weer in die tempel van die Here kan ingaan?”

9 Jesaja antwoord hom: “Dit is die teken wat die Here vir jou gee om te bevestig dat Hy sal doen wat Hy beloof het: Wil jy hê dat die skaduwee tien trappe vorentoe moet gaan of tien trappe agteruit?”

10 “Die skaduwee beweeg altyd vorentoe,” antwoord Hiskia. “Laat dit liewer agteruit gaan.”

11 Die profeet Jesaja vra toe vir die Here om dit te doen en die Here het die skaduwee op die trappe van Agas tien trappe agteruit laat gaan.

Gesante uit Babel

12 Kort hierna het Merodak-Baladan, seun van Baladan en koning van Babel, goeie wense en ’n geskenk aan Hiskia gestuur omdat hy verneem het dat Hiskia baie siek was.

13 Hiskia het die gesante verwelkom en alles in sy skatkamers vir hulle gewys: die silwer, die goud, die speserye en die reukolies. Hy het hulle ook geneem om sy wapens en ander skatte te sien. Daar was niks in sy paleis of koninkryk wat Hiskia nie vir hulle gewys het nie.

14 Daarna gaan die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra hom: “Wat wou hierdie manne hê? Waar kom hulle vandaan?”

Hiskia antwoord hom: “Hulle kom van ’n ver land, van Babel af.”

15 “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.

“Hulle het alles gesien,” antwoord Hiskia. “Ek het vir hulle alles gewys wat ek besit, al my skatte.”

16 Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Luister na die boodskap van die Here:

17 Die tyd sal aanbreek wanneer alles wat jy besit, al die skatte wat jou voorgangers tot vandag toe versamel het, na Babel weggevoer sal word. Niks sal daarvan oorbly nie, sê die Here.

18 Sommige van jou nageslag sal in ballingskap weggevoer word. Hulle sal as ontmandes in die paleis van die koning van Babel diens doen.”

19 Toe sê Hiskia vir Jesaja: “Hierdie boodskap wat jy van die Here bring, is goed.” Maar die koning het gedink: “Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees.”

20 Die ander gebeurtenisse tydens sy regering, sy dapper dade en hoe hy die dam gebou het en ’n kanaal wat die water in die stad ingebring het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

21 Toe Hiskia sterf, het sy seun Manasse hom opgevolg.

2 KONINGS 21

Manasse regeer in Juda

1 Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Gefsiba.

2 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat die Here voor die Israeliete uit die land gedryf het, nagevolg.

3 Hy het die hoogtes wat sy pa, Hiskia, vernietig het, weer opgebou. Hy het Baälaltare en Asjerapale opgerig net soos koning Agab van Israel gedoen het. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid.

4 Hy het selfs afgodsaltare opgerig in die tempel van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem wil Ek my Naam vestig.”

5 Hierdie altare ter ere van al die hemelliggame het hy in die twee voorhowe van die Here se tempel gebou.

6 Manasse het selfs sy eie seun as offer verbrand. Hy het toordery, waarsêery en goëlery beoefen en het geeste geraadpleeg. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd was vir die Here en Hom uitgetart.

7 Manasse het ook ’n Asjerapaal gemaak en dit opgerig in die tempel, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam moet vir altyd vereer word in hierdie tempel in Jerusalem, die stad wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het.

8 Die Israeliete moet my gebooie gehoorsaam, al die gebooie wat Ek deur my dienaar Moses gegee het. Dan sal Ek hulle nie uit hierdie land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het, in ballingskap laat gaan nie.”

9 Maar die mense het geweier om te luister. Manasse het hulle nog meer kwaad laat doen as die heidense volke wat die Here vernietig het toe die Israeliete die land binnegekom het.

10 Toe het die Here deur sy dienaars die profete gesê:

11 “Koning Manasse van Juda het baie afstootlike dinge gedoen. Hy is meer goddeloos as die Amoriete wat voor Israel in die land gewoon het. Hy het die mense van Juda gelei om afgodery te pleeg.

12 Daarom, so sê die Here, die God van Israel: Ek bring soveel onheil oor Jerusalem en Juda dat die twee ore van hulle wat dit hoor, sal tuit.

13 Ek sal Jerusalem oordeel met dieselfde maatstaf wat Ek vir Samaria gebruik het en waarmee Ek die familie van Agab geoordeel het. Ek sal Jerusalem uitvee soos ’n mens ’n skottel uitvee en dit onderstebo draai.

14 Dan sal Ek die oorblyfsel van my volk verwerp en hulle oorgee as buit vir hulle vyande.

15 Want hulle het gedoen wat vir My verkeerd was, en het My uitgetart vandat hulle voorouers uit Egipte gekom het tot vandag toe.”

16 Manasse het ook so baie onskuldige bloed vergiet dat hy Jerusalem van hoek tot kant daarmee vol gemaak het. Dit was benewens die sonde wat hy Juda laat doen het. Dit alles was verkeerd vir die Here.

17 Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, alles wat hy gedoen het, asook die sondes wat hy gepleeg het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

18 Toe hy sterf, is hy in die tuin van die paleis begrawe, die tuin van Ussa. Na hom het sy seun Amon koning geword.

Amon regeer in Juda

19 Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Mesullemet, die dogter van Garus uit Jotba.

20 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa Manasse gedoen het.

21 Hy het die voorbeeld van sy pa nagevolg deur dieselfde afstootlike afgode te dien as wat sy pa gedien het.

22 Hy het die Here, die God van sy voorouers, verlaat en nie die Here se voorskrifte gevolg nie.

23 Amon se eie dienaars het teen hom saamgesweer en die koning in sy paleis vermoor.

24 Maar die burgers van die land het almal wat teen koning Amon saamgesweer het, doodgemaak. Hulle het sy seun Josia in sy plek koning gemaak.

25 Die ander gebeurtenisse tydens Amon se regering en wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

26 Hy is begrawe in die grafkelder in die tuin van Ussa. Sy seun Josia het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 22

Josia regeer in Juda

1 Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het en het 31 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jedida, die dogter van Adaja uit Boskat.

2 Hy het gedoen wat vir die Here reg was en het die voorbeeld van sy voorvader Dawid nagevolg sonder om daarvan links of regs af te wyk.

3 In die agtiende jaar van sy regering het koning Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja en kleinseun van Mesullam, na die tempel van die Here toe gestuur. Hy het hom beveel:

4 “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld tel wat die poortwagters ingesamel het by die mense wat die Here se tempel besoek het.

5 Gee hierdie geld aan die toesighouers van die werk aan die Here se tempel. Hulle moet dit gebruik om die werkers wat die tempel herstel, te betaal.

6 Dit is vir die skrynwerkers, bouers en messelaars en vir die aankoop van hout en gekapte klip om die tempel te herstel.

7 Die toesighouers hoef nie rekenskap te gee van die geld wat hulle ontvang nie, want hulle is betroubaar.”

Gilkija ontdek God se wet

8 Gilkija die hoëpriester sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die tempel van die Here gekry!” Gilkija het die wetboek vir Safan gegee en hy het dit gelees.

9 Safan het by die koning gaan verslag doen: “U amptenare het die geld wat by die tempel van die Here ingesamel is aan die werkers en toesighouers by die tempel gegee.”

10 Safan sê ook vir die koning: “Die priester Gilkija het vir my ’n boekrol gegee.” Safan lees toe vir die koning wat daarin staan.

11 Toe die koning hoor wat in die wetboek geskryf staan, skeur hy sy klere.

12 Hy beveel die priester Gilkija, Agikam seun van Safan, Akbor seun van Miga, die staatsekretaris Safan en die koning se hoofamptenaar Asaja:

13 “Gaan en raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor dit wat geskryf is in die boekrol wat gevind is. Die Here se toorn het teen ons ontvlam omdat ons voorvaders ongehoorsaam was aan die voorskrifte in hierdie boekrol. Ons het nie opgetree volgens wat in die boekrol van ons vereis word nie.”

14 Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja gaan toe na die nuwe deel van Jerusalem om die profetes Gulda te raadpleeg. Sy was die vrou van Sallum seun van Tikwa en kleinseun van Gasra, die klerebewaarder. Hulle het haar ingelig

15 en sy antwoord hulle: “‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: Gaan en sê vir die man wat vir julle gestuur het.

16 Dit is wat die Here sê: Ek bring onheil oor hierdie stad en sy inwoners, net soos dit in die boekrol staan wat die koning van Juda gelees het.

17 Want my volk het My verlaat deur aan ander gode offers te bring en My uit te tart met al die maaksels van hulle eie hande. My toorn brand teen hierdie plek en dit sal nie geblus word nie.’

18 “Maar gaan na die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg en sê vir hom: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê aangaande die boodskap wat jy so pas gehoor het:

19 Jy was berouvol en het jouself voor die Here verneder toe jy hoor wat Ek gesê het oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat die land ontvolk en vervloek sal word. Jy het jou klere geskeur en voor My gehuil as teken van berou. Ek het jou inderdaad gehoor, sê die Here.

20 Daarom sal Ek jou in vrede laat sterf en in vrede laat begrawe word. Jy sal nie al die onheil wat Ek oor hierdie plek gaan bring, self beleef nie.’” Hulle het toe hierdie boodskap aan die koning oorgedra.

2 KONINGS 23

Josia se godsdienshervorming

1 Toe roep die koning al die leiers van Juda en Jerusalem bymekaar.

2 Die koning het opgegaan na die Here se tempel toe. Saam met hom het al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, asook die priesters en die profete, almal, klein en groot, gegaan. Daar het die koning die hele boek van die verbond wat in die tempel van die Here gekry is, voorgelees.

3 Die koning neem toe sy plek in langs die pilaar en het die verbond voor die Here hernu. Hy het onderneem om die Here te volg deur al sy voorskrifte, bepalings en gebooie met hart en siel te gehoorsaam. So het hy al die voorwaardes van hierdie verbond soos dit in die boekrol geskryf was, bekragtig. Die hele volk het hulle ook tot die verbond verbind.

4 Daarop het die koning vir die hoëpriester Gilkija, die priesters tweede in bevel en die poortwagters van die tempel beveel om al die voorwerpe wat vir Baäl, Asjera en al die hemelliggame gemaak is, uit die tempel van die Here te verwyder. Hulle moes al hierdie voorwerpe buite Jerusalem op die terrasse van die Kidronvallei verbrand en die as na Bet-El toe vat.

5 Hy het ontslae geraak van die afgodspriesters wat die vorige konings van Juda aangestel het, want hulle het op die hoogtes in die dorpe van Juda, asook in die omgewing van Jerusalem offers gebring. Hulle het ook offers gebring vir Baäl, die son, die maan, die sterrebeelde en al die ander hemelliggame.

6 Die koning het die Asjerapaal uit die Here se tempel na die Kidronvallei buite Jerusalem laat bring. Daar is dit verbrand, vergruis en op die grafte van die gewone mense gestrooi.

7 Hy het ook die kamers van die manlike prostitute binne die tempel van die Here afgebreek. Dis waar die vroue weefwerk vir Asjera gedoen het.

8 Josia het al die priesters van ander dorpe in Juda laat kom en die hoogtes waar hulle geoffer het, ontwy. Dit was vanaf Geba tot by Berseba. Hy het die hoogtes by die poorte vernietig, ook die een by die poort van Josua, die stadsbevelvoerder. Hierdie poort was aan die linkerkant wanneer ’n mens die stadspoort binnegaan.

9 Die priesters wat by die hoogtes geoffer het, is nie toegelaat om by die Here se altaar in Jerusalem diens te doen nie, maar kon saam met die ander priesters ongesuurde brood eet.

10 Die Tofet in die Ben-Hinnomdal het hy laat ontwy sodat niemand dit weer kon gebruik om ’n seun of dogter in die vuur te offer as offer vir Molek nie.

11 Hy het ook die perdestandbeelde wat die vorige konings van Juda aan die son gewy het, verwyder. Dit was by die ingang na die tempel van die Here en naby die woonkwartiere van die ontmande amptenaar Netan-Melek. Die koning het ook die waens wat aan die son gewy was, verbrand.

12 Op die dak van die bokamer van Agas het die konings van Juda altare gebou. Josia het dit afgebreek. Hy het die altare wat Manasse in die twee binnehowe van die Here se tempel gebou het, vernietig. Hy het hulle aan stukke gekap en die puin in die Kidronvallei gegooi.

13 Die koning het verder ook die hoogtes oos van Jerusalem en suid van die Berg van Verwoesting ontwy. Dis waar koning Salomo van Israel hoogtes ter verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, en Kemos, die afskuwelike afgod van die Moabiete, en vir Milkom, die veragtelike god van die Ammoniete, opgerig het.

14 Hy het die heilige pilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Daarna het hy al hierdie plekke ontwy deur mensbene daaroor te strooi.

15 Daarby het die koning sowel die altaar in Bet-El as die hoogte wat Jerobeam seun van Nebat opgerig het en so Israel tot sonde gelei het, afgebreek. Hy het die klippe fyngemaal tot stof en die Asjerapaal verbrand.

16 Toe Josia verder rondkyk, sien hy verskeie grafte teen die kant van die heuwel. Hy het die bene uitgehaal en dit op die altaar in Bet-El verbrand om dit te ontwy. Dit het gebeur net soos die Here destyds deur die man van God aangekondig het.

17 “Watter grafsteen sien ek daar anderkant?” vra Josia. Die mense van die stad vertel hom toe: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u so pas met die altaar in Bet-El gedoen het!”

18 Josia sê toe: “Laat hom met rus. Moenie aan die bene raak nie.” Hulle het toe sy bene en dié van die ou profeet uit Samaria met rus gelaat.

19 Daarna het Josia al die heiligdomme by die afgodshoogtes in die dorpe van Samaria afgebreek, net soos hy in Bet-El gedoen het. Die konings van Israel het hierdie geboue opgerig en daardeur die Here getart.

20 Hy het al die priesters van die hoogtes op hulle eie altare doodgemaak en die altare ontwy deur mensbene daarop te verbrand. Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan.

Josia vier die Paasfees

21 Hierna het koning Josia die hele volk beveel: “Kom vier nou die Paasfees van die Here julle God soos dit in hierdie boek van die verbond beskryf is.”

22 Daar was nog nooit so ’n Paasfeesviering sedert die dae toe die rigters in Israel regeer het, of selfs gedurende die regering van die konings in Israel en Juda nie.

23 Hierdie Paasfees is in Jerusalem tot eer van die Here gevier gedurende die agtiende jaar van koning Josia se regering in Jerusalem.

24 Josia het ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode, die afgode en elke afstootlike ding wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgewis. Hy het dit gedoen in gehoorsaamheid aan al die voorskrifte van die wet wat in die boekrol was wat die priester Gilkija in die Here se tempel gekry het.

25 Voor hom was daar nie ’n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het nie. Dit het hy gedoen met sy hele hart en siel en met al sy kragte volgens al die gebooie van Moses. Ná hom was daar ook nie weer ’n koning soos hy nie.

26 Nogtans het die Here se toorn oor Juda voortgeduur. Dit was as gevolg van die bose dade van koning Manasse. Hy het nie sy toorn oor hulle laat vaar nie.

27 Die Here het gesê: “Ek sal my teenwoordigheid uit Juda wegneem net soos Ek met Israel gedoen het. Ek sal hierdie stad Jerusalem wat Ek verkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het: ‘My Naam sal daar wees.’”

28 Die ander gebeurtenisse tydens Josia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

29 Terwyl Josia koning was, was farao Neko, die koning van Egipte, op pad na die Eufraatrivier om die koning van Assirië te gaan help. Koning Josia het teen hom opgetrek, maar koning Neko het hom doodgemaak toe hulle by Megiddo teenoor mekaar te staan gekom het.

30 Josia se soldate het sy liggaam in ’n wa uit Megiddo na Jerusalem toe gebring en hom in sy eie graf begrawe. Die burgers van die land het sy seun Joahas as koning in sy plek gesalf.

Joahas regeer in Juda

31 Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, dogter van Jeremia uit Libna.

32 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders gedoen het.

33 Farao Neko het Joahas in Ribla, in die land Hamat, gevange geneem sodat hy nie verder kon regeer nie. Hy het ook Juda ’n boete opgelê van drie en ’n halwe ton silwer en 34 kilogram goud.

34 Farao Neko het toe vir Eljakim seun van Josia as koning in die plek van sy pa aangestel. Die farao het Eljakim se naam verander na Jojakim. Joahas is as gevangene na Egipte toe geneem, waar hy gesterf het.

Jojakim regeer in Juda

35 Ten einde die silwer en goud wat farao Neko as boete opgelê het, te betaal, het Jojakim ’n belasting op die burgers van die land gelê. Elkeen moes volgens hulle vermoëns betaal.

36 Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sebida, ’n dogter van Pedaja uit Ruma.

37 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorouers gedoen het.

2 KONINGS 24

1 Gedurende Jojakim se regering het koning Nebukadnesar van Babel teen hom opgetrek. Jojakim het oorgegee en drie jaar lank aan hom belasting betaal, maar daarna teen Nebukadnesar in opstand gekom.

2 Die Here het bendes Galdeërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete teen Juda gestuur om dit te verwoes net soos die Here deur sy dienaars die profete aangekondig het.

3 Hierdie rampe het oor Juda gekom op bevel van die Here. Hy het besluit om Juda uit sy teenwoordigheid weg te neem oor die baie sondes wat Manasse gedoen het.

4 Hy het baie onskuldige mense in Jerusalem doodgemaak, en die Here wou dit nie vergewe nie.

5 Die ander gebeurtenisse tydens Jojakim se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

6 Toe Jojakim sterf, het sy seun Jojagin hom opgevolg.

7 Die koning van Egipte het daarna nooit weer buite sy land oorlog gemaak nie, want die koning van Babel het die hele gebied beset wat Egipte voorheen oorheers het, vanaf die Egiptespruit tot by die Eufraatrivier.

Jojagin regeer in Juda

8 Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Negusta, die dogter van Elnatan uit Jerusalem.

9 Jojagin het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa gedoen het.

10 Gedurende Jojagin se bewind het die leër van koning Nebukadnesar van Babel opgetrek teen Jerusalem en dit beleër.

11 Koning Nebukadnesar van Babel het self gedurende die beleg daar aangekom.

12 Toe het koning Jojagin en sy ma, sy amptenare en sy offisiere hulle aan die koning van Babel oorgegee.

Tydens die agtste jaar van Nebukadnesar se bewind het hy Jojagin gevange geneem.

13 Soos die Here voorheen gesê het, het Nebukadnesar al die skatte van die Here se tempel en die koninklike paleis gevat. Hy het al die goue artikels wat koning Salomo in die tempel gesit het, stukkend gebreek.

14 Koning Nebukadnesar het almal in Jerusalem weggevoer: al die offisiere, al die soldate – 10 000 in getal, al die ambagsmanne en smede. Net die armste mense is in die land agtergelaat.

15 Nebukadnesar het koning Jojagin, sy ma, sy vroue, sy amptenare en al die vooraanstaande mense van Jerusalem as gevangenes na Babel toe geneem.

16 Hy het ook 7 000 van die weerbare manne en 1 000 vakmanne en smede, almal wat geskik was vir oorlog, saamgeneem na Babel toe.

17 Daarna het die koning van Babel vir Mattanja, Jojagin se oom, as koning aangestel en sy naam na Sedekia verander.

Sedekia regeer in Juda

18 Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, ’n dogter van Jeremia uit Libna.

19 Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos Jojakim gedoen het.

20 Daarom het die Here in sy toorn die inwoners van Jerusalem en Juda finaal voor Hom weggevee en hulle in ballingskap gestuur.

Die val van Jerusalem

Sedekia het teen die koning van Babel in opstand gekom.

2 KONINGS 25

1 Dit was in die negende jaar van Sedekia se bewind in Jerusalem. Op die tiende dag van die tiende maand het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het by die stad kamp opgeslaan en beleëringswalle rondom teen die mure opgehoop.

2 Jerusalem is beleër tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind.

3 Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad baie erg. Daar was nie meer kos vir die inwoners nie.

4 Toe is ’n opening in die stadsmuur gemaak waardeur al die soldate gedurende die nag ontsnap het. Hulle het deur die opening tussen die twee mure by die koning se tuin gevlug hoewel daar Galdeërs rondom die stad was, en het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.

5 Maar die Galdese leër het hulle agternagesit en die koning op die Jerigovlakte ingehaal. Teen hierdie tyd was al sy manskappe van hom af verstrooi.

6 Hulle het hom gevang en na die koning van Babel in Ribla gebring waar ’n vonnis oor hom uitgespreek is.

7 Die koning van Babel het al sy seuns voor Sedekia doodgemaak. Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe geneem.

Die tempel word verwoes

8 In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende jaar van koning Nebukadnesar se bewind in Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag en ’n amptenaar van die koning van Babel.

9 Hy het die tempel van die Here, die koninklike paleis, al die huise en al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand.

10 Daarna het die Galdese soldate onder sy bevel die muur van Jerusalem afgebreek.

11 Nebusaradan, hoof van die lyfwag, het verder die mense wat in die stad agtergebly het, dié wat na die koning van Babel oorgeloop het en almal wat oorgebly het, in ballingskap weggeneem.

12 Hy het die armste mense in Juda laat agterbly om die wingerde en landerye te bewerk.

13 Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die tempel van die Here was, stukkend gebreek en die brons na Babel toe gevat.

14 Hulle het ook die potte, skoppe, skêre en panne, asook al die bronswerktuie wat in die tempeldiens gebruik is, weggevat.

15 Die hoof van die lyfwag het die vuurpanne en skottels vir besprinkeling en al die werktuie van goud en silwer gevat.

16 Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies was te veel om te weeg. Hierdie voorwerpe is in die tyd van koning Salomo vir die Here se tempel gemaak.

17 Elke pilaar was agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was van brons. Die ander pilaar en sy rooster het net so gelyk.

18 Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en drie poortwagters as gevangenes saamgeneem.

19 Uit die mense wat nog in die stad was, het hy ’n offisier in bevel van die soldate, vyf van die koning se vertrouelinge, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en 60 ander burgers saamgeneem.

20 Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle almal na die koning van Babel in Ribla geneem.

21 Daar in Ribla, in Hamat, het die koning van Babel almal laat doodmaak. So is die mense van Juda uit hulle land in ballingskap weggevoer.

Gedalja regeer in Juda

22 Nebukadnesar stel toe vir Gedalja seun van Agikam en kleinseun van Safan as goewerneur aan oor die mense wat hy in Juda laat oorbly het.

23 Toe die leërbevelvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja as goewerneur aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netufa, en Jaäsanja uit Maäka en al hulle manskappe.

24 Gedalja verseker toe vir hulle met ’n eed: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en dien die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.”

25 Maar teen middelherfs van daardie jaar het Ismael seun van Netanja kleinseun van Elisama wat uit die koninklike geslag was, saam met tien manne na Mispa toe gegaan en Gedalja aangeval en doodgemaak, asook die Judeërs en Galdeërs wat by hom was.

26 Toe het almal, klein en groot, uit vrees vir die Galdeërs paniekbevange saam met die leërbevelvoerders na Egipte toe gevlug.

Hoop vir Israel se koninklike

geslag

27 In die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die 27ste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak koning van Babel geword en Jojagin uit die gevangenis vrygelaat.

28 Hy het Jojagin begenadig en hom ’n hoër status as die ander konings in Babel gegee.

29 Jojagin is toegelaat om sy tronkklere uit te trek en kon vir die res van sy lewe van die koninklike voorrade lewe.

30 Hy het vir sy daaglikse behoeftes lewenslank ’n vaste toelaag van die koning ontvang.

1 KRONIEKE 1

1 Van Adam tot Noag se seuns

Die afstammelinge van Adam was Set, Enos,

2 Kenan, Mahalalel, Jered,

3 Henog, Metusalag, Lameg

4 en Noag.

Die seuns van Noag was Sem, Gam en Jafet.

Afstammelinge van Jafet

5 Die seuns van Jafet was Gomer, Magog, Madai en Jawan, Tubal, Mesek en Tiras.

6 Die seuns van Gomer was Askenas, Rifat en Togarma.

7 Die seuns van Jawan was Elisa, Tarsis, die Kittiërs en Rodaners.

Afstammelinge van Gam

8 Die seuns van Gam was Kus, Misraim, Put en Kanaän.

9 Die seuns van Kus was Seba, Gawila, Sabta, Rama en Sabteka. Die seuns van Rama was Skeba en Dedan.

10 Kus was ook die pa van Nimrod, wat oor die hele aarde as ’n heldhaftige soldaat bekend geword het.

11 Uit Misraim het gekom die Ludeërs, Anammers, Lehabeërs, Naftoagiete,

12 Patrosane, Kaslugiete – waaruit die Filistyne voortgekom het – en die Kaftoriete.

13 Kanaän se oudste seun was Sidon. Kanaän was ook die voorvader van die Hetiete,

14 Jebusiete, Amoriete, Girgasiete,

15 Hewiete, Erekiete, Siniete,

16 Arwadters, Semariërs en Hamatiete.

Afstammelinge van Sem

17 Die seuns van Sem was Elam, Assirië, Arpaksad, Lud en Aram.

Die seuns van Aram was Us, Gul, Geter en Mesek.

18 Arpaksad was die pa van Selag. Selag was die pa van Heber.

19 Heber het twee seuns gehad. Die naam van die een was Peleg – “verdeling” – want in sy dae het die aardbewoners in verskillende taalgroepe verdeel geraak. Sy broer se naam was Joktan.

20 Joktan was die pa van Almodad, Selef, Gasarmawet, Jerag,

21 Hadoram, Usal, Dikla,

22 Obal, Abimael, Skeba,

23 Ofir, Gawila en Jobab. Hulle almal was seuns van Joktan.

24 Dit was die familie wat van Sem afgestam het: Arpaksad, Selag,

25 Heber, Peleg, Reü,

26 Serug, Nahor, Tera

27 en Abram, later bekend as Abraham.

Afstammelinge van Abraham

28 Die seuns van Abraham was Isak en Ismael.

29 Die seuns van Ismael was Nebajot, die oudste, Kedar, Adbeël, Mibsam,

30 Misma, Duma, Massa, Gadad, Tema,

31 Jetur, Nafis en Kedma. Hulle was die seuns van Ismael.

32 Die seuns van Ketura, die byvrou van Abraham, was Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag. Die seuns van Joksan was Skeba en Dedan.

33 Die seuns van Midian was Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Hulle almal was seuns van Abraham by sy byvrou Ketura.

Afstammelinge van Isak

34 Abraham was die pa van Isak. Die seuns van Isak was Esau en Israel.

Afstammelinge van Esau

35 Die seuns van Esau was Elifas, Reüel, Jeüs, Jalam en Korag.

36 Die seuns van Elifas was Teman, Omar, Sefo, Gatam, Kenas en Amalek wat vir Timna gebore is.

37 Die seuns van Reüel was Nagat, Serag, Samma en Missa.

Oorspronklike mense van Edom

38 Die seuns van Seïr was Lotan, Sobal, Sibon, Ana, Dison, Eser en Disan.

39 Die seuns van Lotan was Gori en Hemam. Lotan se suster is Timna genoem.

40 Die seuns van Sobal was Alwan, Managat, Ebal, Sefi en Onam. Die seuns van Sibon was Aja en Ana.

41 Die seun van Ana was Dison. Die seuns van Dison was Gemdan, Esban, Jitran en Keran.

42 Die seuns van Eser was Bilhan, Saäwan en Akan. Die seuns van Disan was Us en Aran.

Regeerders van Edom

43 En dit is die konings wat in die land Edom regeer het voordat daar konings in Israel was: Bela, seun van Beor, het oor sy stad Dinhaba regeer.

44 Toe Bela dood is, het Jobab seun van Serag uit Bosra koning geword.

45 Toe Jobab dood is, het Gusam uit die land van die Temaniete koning geword.

46 Toe Gusam dood is, het Hadad seun van Bedad koning geword en in Awit regeer. Hy het die Midianiete se leër in die land Moab verslaan.

47 Toe Hadad dood is, het Samla uit die stad Masreka koning geword.

48 Toe Samla dood is, het Saul uit die stad Regobot-aan-die-Eufraatrivier koning geword.

49 Toe Saul dood is, het Baäl-Ganan seun van Akbor koning geword.

50 Toe Baäl-Ganan dood is, het Hadar koning geword en in die stad Paü regeer. Sy vrou was Mehetabel, dogter van Matred en kleindogter van Me-Sahab.

51 Toe het Hadar ook gesterf.

Die stamleiers van Edom was Timna, Alwa, Jetet,

52 Oholibama, Ela, Pinon,

53 Kenas, Teman, Mibsar,

54 Magdiël en Iram. Hulle was die regeerders van Edom.

1 KRONIEKE 2

Afstammelinge van Israel

1 Die seuns van Israel was Ruben, Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Sebulon,

2 Dan, Josef, Benjamin, Naftali, Gad en Aser.

Afstammelinge van Juda

3 Juda het drie seuns by Bat-Sua, ’n Kanaänitiese vrou, gehad. Hulle name was Er, Onan en Sela. Die oudste seun, Er, was ’n bose man in die oë van die Here en daarom het Hy hom doodgemaak.

4 Later het Juda tweelingseuns by Tamar, sy weduwee-skoondogter gehad. Hulle name was Peres en Serag. Juda het dus vyf seuns in totaal gehad.

5 Die seuns van Peres was Gesron en Gamul.

6 Die seuns van Serag was Simri, Etan, Heman, Kalkol en Darda. Hulle was vyf in totaal.

7 Akan seun van Karmi het ’n ramp oor Israel gebring toe hy van die buit gevat het wat vir die Here opsy gesit is.

8 En die seun van Etan was Asarja.

Van Juda se kleinseun Gesron

tot Dawid

9 Die seuns van Gesron was Jeragmeël, Ram en Kaleb.

10 Ram was die pa van Amminadab. Amminadab was die pa van Nagson, ’n leier van Juda.

11 Nagson was die pa van Salmon. Salmon was die pa van Boas.

12 Boas was die pa van Obed. Obed was die pa van Isai.

13 Isai se oudste seun was Eliab, sy tweede was Abinadab, sy derde was Samma,

14 sy vierde was Netanel, sy vyfde Raddai,

15 sy sesde was Osem en sy sewende was Dawid.

16 Hulle susters was Seruja en Abigal. Seruja het drie seuns gehad met die name Abisai, Joab en Asael.

17 Abigal het met ’n man met die naam Jeter, ’n Ismaeliet, getrou. Hulle seun was Amasa.

Afstammelinge van Gesron se

seun Kaleb

18 Gesron se seun Kaleb het twee vroue gehad, Asuba en Jeriot. Asuba se seuns was Jeser, Sobab en Ardon.

19 Na Asuba dood is, het Kaleb met Efrata getrou en hulle het ’n seun met die naam Gur gehad.

20 Gur was die pa van Uri. Uri was die pa van Besaleël.

21 Toe Gesron 60 jaar oud was, het hy met Gilead se suster, die dogter van Makir getrou. Hulle het ’n seun met die naam Segub gehad.

22 Segub was die pa van Jaïr, wat oor 23 stede in die land Gilead regeer het.

23 (Later het Gesur en Aram die dorpe van Jaïr, asook Kenat en sy 60 omliggende dorpies as buit geneem.) Hulle was almal afstammelinge van Makir, die pa van Gilead.

24 Kort ná Gesron se dood in die stad Kaleb-Efrata het sy vrou Abia geboorte gegee aan ’n seun wat Asgur genoem is. Hy was die pa van Tekoa.

Afstammelinge van Gesron se

seun Jeragmeël

25 Jeragmeël, die oudste seun van Gesron, se seuns was Ram, die oudste, gevolg deur Buna, Oren, Osem en Agija.

26 Jeragmeël het ’n tweede vrou gehad met die naam Atara. Sy was die ma van Onam.

27 Die seuns van Ram, die oudste seun van Jeragmeël, was Maäs, Jamin en Eker.

28 Die seuns van Onam was Sammai en Jada. Die seuns van Sammai was Nadab en Abisur.

29 Die seuns van Abisur en sy vrou Abihajil was Agban en Molid.

30 Die seuns van Nadab was Seled en Appajim. Seled is dood sonder kinders,

31 maar Appajim het ’n seun met die naam Jisi gehad. Die seun van Jisi was Sesan. Sesan se afstammeling was Aglai.

32 Sammai se broer Jada het twee seuns gehad, Jeter en Jonatan. Jeter is dood sonder kinders,

33 maar Jonatan het twee seuns gehad, Pelet en Sasa. Dit was die afstammelinge van Jeragmeël.

34 Sesan het geen seuns gehad nie, alhoewel hy dogters gehad het. Hy het ook ’n Egiptiese dienaar gehad met die naam Jarga.

35 Sesan het een van sy dogters aan Jarga as vrou gegee. Hulle het ’n seun met die naam Attai gehad.

36 Attai was die pa van Natan. Natan was die pa van Sabad.

37 Sabad was die pa van Eflal. Eflal was die pa van Obed.

38 Obed was die pa van Jehu. Jehu was die pa van Asarja.

39 Asarja was die pa van Geles. Geles was die pa van Elasa.

40 Elasa was die pa van Sismai. Sismai was die pa van Sallum.

41 Sallum was die pa van Jekamja. Jekamja was die pa van Elisama.

Afstammelinge van Gesron se

seun Kaleb

42 Die oudste seun van Kaleb, broer van Jeragmeël, was Mesa, die pa van Sif. Kaleb se tweede seun was Maresa, die pa van Hebron.

43 Die seuns van Hebron was Korag, Tappuag, Rekem en Sema.

44 Sema was die pa van Ragam. Ragam was die pa van Jorkoam. Rekem was die pa van Sammai.

45 Die seun van Sammai was Maon. Maon was die pa van Bet-sur.

46 Kaleb se byvrou Efa het geboorte gegee aan Garan, Mosa en Gases. Garan was die pa van Gases.

47 Die seuns van Jodai was Regem, Jotam, Gesan, Pelet, Efa en Saäf.

48 Nog een van Kaleb se byvroue, Maäka, het geboorte gegee aan Seber en Tirgana.

49 Sy het ook geboorte gegee aan Saäf, die pa van Madmanna, en Sewa, die pa van Makbena en Giba. Kaleb het ook ’n dogter gehad met die naam Aksa.

50 Dit was die afstammelinge van Kaleb.

Afstammelinge van Kaleb se

seun Gur

Die seuns van Gur, die oudste seun van Kaleb se vrou Efrata, was Sobal, die pa van Kirjat-Jearim,

51 Salma, die pa van Betlehem, en Garef, die pa van Bet-Gader.

52 Die afstammelinge van Sobal, die pa van Kirjat-Jearim, was Reaja, helfte van Managat

53 en die families van Kirjat-Jearim, die Jitreërs, Puteërs, Sumaners en Misraners. Uit hulle het die mense van Sora en Estaol voortgekom.

54 Die seuns van Salma was Betlehem, die Netofaners, Atrot-Bet-Joab, die helfte van Managat, die Soreërs

55 en die families van die skrywers wat in Jabes gewoon het, die Tirateërs, die Simateërs en die Sukateërs. Hulle was almal Keniete wat van Gammat, die pa van die familie van Rekab, afgestam het.

1 KRONIEKE 3

Nageslag van Dawid

1 Dit is die seuns wat vir Dawid in Hebron gebore is:

Die oudste was Amnon, wie se ma Aginoam uit Jisreël was.

Die tweede was Kilead, wie se ma Abigajil uit Karmel was.

2 Die derde was Absalom, wie se ma Maäka, dogter van Talmai, die koning van Gesur, was.

Die vierde was Adonia, wie se ma Gaggit was.

3 Die vyfde was Sefatja, wie se ma Abital was.

Die sesde was Jitream, wie se ma Egla was.

4 Hierdie ses seuns is vir Dawid in Hebron gebore waar hy sewe en ’n half jaar regeer het.

In Jerusalem het hy ’n verdere 33 jaar regeer.

5 Die seuns wat vir hom in Jerusalem gebore is, is Sima, Sobab, Natan en Salomo. Batseba, die dogter van Ammiël, was die ma van hierdie seuns.

6 Dawid het ook nege ander seuns gehad: Jibgar, Elisua, Elpelet,

7 Noga, Nefeg, Jafia,

8 Elisama, Eljada en Elifelet.

9 Hulle was die seuns van Dawid, behalwe die seuns van sy byvroue. Dawid het ook ’n dogter met die naam Tamar gehad.

Afstammelinge van Salomo

10 Die afstammelinge van Salomo was Rehabeam, Abia, Asa, Josafat,

11 Joram, Ahasia, Joas,

12 Amasia, Asarja, Jotam,

13 Agas, Hiskia, Manasse,

14 Amon en Josia.

15 Die seuns van Josia was Joganan, die oudste, Jojakim, die tweede, Sedekia, die derde, en Sallum, die vierde.

16 Jojakim is opgevolg deur sy seun Jojagin. Hý is weer opgevolg deur sy oom, Sedekia.

Afstammelinge van Jojagin

17 Die seuns van Jojagin, wat deur die Babiloniërs gevange geneem is, was Sealtiël,

18 Malkiram, Pedaja, Senassar, Jekamja, Hosama en Nedabja.

19 Die seuns van Pedaja was Serubbabel en Simi.

Die seuns van Serubbabel was Mesullam en Gananja. Hy het ook ’n dogter met die naam Selomit gehad.

20 Sy vyf ander seuns was Gasuba, Ohel, Berekja, Gasadja en Jusab-Gesed.

21 Die seuns van Gananja was Pelatja en Jesaja. Jesaja se seun was Refaja. Refaja se seun was Arnan. Arnan se seun was Obadja. Obadja se seun was Sekanja.

22 Die afstammelinge van Sekanja was Semaja en sy seuns, Gattus, Jigal, Bariag, Nearja en Safat, ses in totaal.

23 Die seuns van Nearja was Eljoënai, Hiskia en Asrikam, drie in totaal.

24 Die seuns van Eljoënai was Hodauja, Eljasib, Pelaja, Akkub, Joganan, Delaja en Anani, sewe in totaal.