2 KONINGS 9

Jehu as koning van Israel gesalf

1 Intussen het die profeet Elisa een van die groep profete geroep en gesê: “Maak jou gereed en gaan gou na Ramot in Gilead. Vat hierdie fles met olie saam.

2 Wanneer jy daar kom, sal jy vir Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi sien. Laat hom opstaan tussen sy offisiere, lei hom na ’n agterkamer wég van hulle af.

3 Vat die fles en gooi die olie uit op sy kop. Sê vir hom: ‘Dis wat die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’

“Maak dan die deur oop en vlug vir jou lewe.”

4 Die jong man, die profeet, het so gemaak en na Ramot in Gilead gegaan.

5 Toe hy daar aankom, kry hy vir Jehu wat saam met ander offisiere beraadslaag. “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal,” sê hy.

“Vir watter een van ons?” vra Jehu.

“Vir u, Generaal,” antwoord hy.

6 Jehu het toe die vergadering verlaat en die huis binnegegaan. Toe vat die profeet die fles en giet die olie uit op Jehu se kop en sê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou as koning oor die Here se volk Israel.

7 Jy moet die koningshuis van Agab uitroei. Op hierdie manier sal Ek die bloed van my dienaars die profete wreek en die bloed van al die dienaars van die Here wat Isebel doodgemaak het.

8 Die hele familie van Agab moet uitgeroei word. Dit geld elke manlike persoon, slaaf of vry, in Israel.

9 ‘Ek sal met die koningshuis van Agab maak soos Ek met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat, en met dié van Baesa seun van Agija gemaak het.

10 Die honde sal Isebel opvreet op die stuk grond in Jisreël en niemand sal haar begrawe nie.’” Toe het die profeet die deur oopgemaak en weggehardloop.

11 Jehu het teruggegaan na die offisiere van die koning. Een van hulle het vir hom gevra: “Wat wou die kranksinnige man hê? Is alles reg?”

“Jy ken mos die praatjies van so ’n mens,” antwoord Jehu.

12 “Jy vertel nie die waarheid nie,” sê hulle. “Toe, sê nou vir ons!”

Jehu antwoord hulle: “Dis wat hy gesê het: ‘Die Here salf jou as koning oor Israel.’”

13 Hulle het dadelik hulle klere voor hom op die trappe uitgesprei en op die trompet geblaas terwyl hulle skreeu: “Jehu is koning!”

Jehu maak Joram en Ahasia

dood

14 Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi het saamgesweer teen koning Joram. Joram was saam met die hele leër van Israel by Ramot in Gilead, besig om Israel teen koning Gasael van Aram te verdedig.

15 Maar Joram het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel van die wonde wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael van Aram. Jehu sê vir die manskappe by hom: “As julle met my saamstem, sorg dan dat niemand wegkom uit die stad om dit in Jisreël te vertel nie.”

16 Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gery. Koning Joram het daar van sy wonde herstel en koning Ahasia van Juda het hom daar gaan besoek.

17 Terwyl die wag op die toring van Jisreël gestaan het, sien hy Jehu en sy geselskap naderkom. Hy sê: “Ek sien ’n afdeling soldate aankom!”

“Stuur ’n perderuiter uit om vas te stel of hulle in vrede kom,” antwoord Joram.

18 Die perderuiter het Jehu tegemoetgegaan en gesê: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”

Jehu antwoord hom: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

Die wag sê toe vir die koning: “Die boodskapper het by hulle aangekom, maar hy kom nie terug nie.”

19 Toe stuur die koning ’n tweede perderuiter. Hy het tot by hulle gery en gevra: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”

Jehu het weer geantwoord: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

20 Die wag sê weer: “Die perderuiter het by hulle aangekom, maar hy kom ook nie terug nie! Die een wat voor ry, lyk soos Jehu seun van Nimsi, want hy ry soos ’n besetene.”

21 “Gou, kry my strydwa gereed!” beveel koning Joram.

Die perde is ingespan en koning Joram van Israel het hom tegemoetgegaan. Koning Ahasia van Juda het ook op sy wa geklim en saamgery. Hulle het Jehu by die grond wat aan Nabot van Jisreël behoort het, ontmoet.

22 Toe koning Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”

Jehu antwoord: “Wat praat jy van vrede terwyl jou ma, Isebel, al hierdie afgodery en toordery beoefen?”

23 Toe draai koning Joram sy strydwa om en vlug terwyl hy vir koning Ahasia skree: “Verraad, Ahasia!”

24 Maar Jehu het sy boog gespan en Joram tussen sy blaaie getref. Die pyl het sy hart deurboor sodat hy op sy strydwa inmekaargesak het.

25 Jehu beveel toe vir Bidkar, sy luitenant: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy toe ek en jy saam agter sy pa, Agab, aangery het? Die Here het toe hierdie uitspraak gemaak:

26 ‘So seker as Ek gister die bloed van Nabot en sy seuns gesien het, so seker sal Ek hom hier op dieselfde stuk grond vergeld.’ Daarom, vat hom en gooi hom op Nabot se grond soos die Here gesê het.”

27 Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, vlug hy in die rigting van Bet-Gan. Jehu het hom agternagesit en geskreeu: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur naby Jibleam het hulle hom op sy strydwa gewond. Hy kon tot by Megiddo vlug, maar het daar gesterf.

28 Sy dienaars het hom op ’n strydwa na Jerusalem toe geneem en hom daar in die familiegraf in die Stad van Dawid begrawe.

29 Ahasia het in die elfde jaar van koning Joram se bewind in Israel koning van Juda geword.

Die dood van Isebel

30 Toe Isebel, die koninginmoeder, hoor dat Jehu na Jisreël toe gekom het, het sy haar oë geverf, haar hare mooi gemaak en by ’n venster uitgekyk.

31 Toe Jehu die poort binnekom, roep sy na hom: “Kom jy in vrede, jou moordenaar? Jy is nes Simri wat sy koning vermoor het.”

32 Jehu het opgekyk en toe hy haar by die venster sien, roep hy: “Wie is aan my kant? Ja, wie?” Twee of drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe.

33 “Gooi haar af!” skree Jehu. Hulle gooi haar toe daar af sodat haar bloed teen die muur en die perde gespat het. Die perde het haar daar vertrap.

34 Jehu het toe die paleis binnegegaan en daar geëet en gedrink. Daarna sê hy: “Iemand moet tog aandag gee aan hierdie vervloekte vrou. Gaan begrawe haar. Sy is immers ’n koningsdogter.”

35 Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar net haar kopbeen, voete en handpalms gekry.

36 Toe hulle terugkom en dit vir Jehu vertel, sê hy: “Dis volgens die woord van die Here toe Hy deur sy dienaar, Elia die Tisbiet, gesê het: ‘By die stuk grond in Jisreël sal die honde Isebel opvreet.

37 Haar liggaam sal soos mis verstrooi word op die stuk grond in Jisreël sodat niemand haar meer sal kan herken nie.”

2 KONINGS 10

Jehu roei Agab se familie uit

1 Agab het 70 seuns gehad wat in Samaria gewoon het. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria toe, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die oppassers van koning Agab se seuns. In die brief sê hy:

2 “Die koning se seuns is daar by julle en julle het strydwaens, perde, ’n versterkte stad en wapens. Sodra julle hierdie brief ontvang,

3 moet julle die beste en bekwaamste van koning Agab se seuns as koning aanwys. Wees dan gereed om vir Agab se koningshuis te veg.”

4 Maar hulle was doodbang en sê: “Twee konings kon nie teen hierdie man weerstand bied nie! Hoe sal ons dit kan doen?”

5 Gevolglik het die paleisbestuurder en die persoon in beheer van die stad, asook die ander leiers en die oppassers van die koning se seuns die volgende brief aan Jehu gestuur:

“Ons is u dienaars en sal enigiets doen wat u ons beveel. Ons sal niemand koning maak nie. Doen wat u dink die beste is.”

6 Jehu het ’n tweede brief gestuur:

“As julle aan my kant is en vir my wil luister, moet julle môre teen hierdie tyd die koppe van die koning se seuns na my toe bring in Jisreël.”

Die 70 seuns van die koning is versorg deur vooraanstaandes van die stad wat hulle moes grootmaak.

7 Toe die leiers die brief ontvang, het hulle die koning se seuns geneem en al 70 doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en dit na Jehu in Jisreël gestuur.

8 Die boodskapper het gekom en gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” Jehu beveel toe: “Sit dit in twee hope by die poort van die stad en los dit daar tot môre-oggend.”

9 Die volgende oggend gaan hy buitentoe en gaan staan daar in die poort. Hy sê vir die groeiende skare: “Julle is onskuldig. Kyk, dis ek wat teen die koning saamgesweer en hom doodgemaak het. Maar wie het al hierdie mense doodgemaak?

10 Weet dan dat niks van wat die Here aangaande Agab se familie gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia aangekondig het.”

11 Daarna het Jehu al Agab se bloedverwante wat nog in Jisreël oor was, doodgemaak, asook al die vooraanstaandes, sy vriende en sy priesters. So het dit gebeur dat daar vir Agab niemand oorgebly het nie.

12 Toe het Jehu na Samaria toe vertrek. Op pad, by Bet-Eked-Roïm,

13 kom hy bloedverwante van koning Ahasia van Juda teë. “Wie is julle?” vra hy.

Hulle antwoord hom: “Ons is naasbestaandes van koning Ahasia. Ons is op pad om die seuns van die koning en van die koninginmoeder te besoek.”

14 “Vang hulle lewendig!” beveel Jehu. Hulle het toe al 42 gevang en net daar by die put van Bet-Eked doodgemaak. Nie een van hulle het oorgebly nie.

15 Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab wat hom tegemoetkom. Nadat hy hom gegroet het, sê Jehu vir hom: “Is jy lojaal aan my soos ek lojaal is aan jou?”

“Ja, ek is,” antwoord Jonadab.

“As jy is,” sê Jehu, “gee my dan jou hand.” Jonadab gee hom toe sy hand en Jehu het hom op sy wa laat klim.

16 Daarna sê Jehu: “Kom saam met my en jy sal my toewyding aan die Here sien.” Jonadab het toe saam met hom gery.

17 Toe Jehu in Samaria aankom, het hy almal doodgemaak wat nog oor was van Agab se bloedverwante. Hy het hulle uitgeroei soos die Here deur Elia gesê het.

Jehu maak die profete van Baäl

dood

18 Daarna het Jehu al die inwoners van die stad bymekaargeroep en gesê: “Agab se verering van Baäl is niks in vergelyking met wat ek sal doen nie!

19 Roep nou al die profete en aanbidders van Baäl, asook al die priesters na my toe. Niemand mag wegbly nie, want ek gaan ’n groot offer aan Baäl bring. Enigeen wat nie opdaag nie, sal doodgemaak word.” Maar eintlik was Jehu van plan om al die Baälaanbidders uit te roei.

20 Toe beveel Jehu: “Heilig ’n byeenkoms ter ere van Baäl!” Hulle het dit gedoen.

21 Hy het boodskappers deur die hele Israel gestuur om die Baälaanbidders op te roep. Hulle almal het gekom; niemand het weggebly nie. Hulle het ingegaan in die Baältempel sodat dit van hoek tot kant vol was.

22 Jehu het aan die persoon in bevel van die klerekamer gesê: “Maak seker dat elke aanbidder van Baäl een van hierdie kledingstukke aanhet.” Daar is toe aan hulle klere uitgedeel.

23 Daarna het Jehu saam met Jonadab seun van Rekab die tempel binnegegaan. Toe sê Jehu vir die Baälaanbidders: “Kyk goed dat net aanbidders van Baäl hier is. Sorg dat geen aanbidder van die Here hier inkom nie!”

24 Toe hulle ingaan in die tempel om offers en brandoffers te bring, het Jehu 80 van sy manne buitekant opgestel. Hy het hulle beveel: “As julle enigeen toelaat om te vlug, sal julle met julle eie lewens daarvoor boet.”

25 Net nadat Jehu die brandoffer gebring het, beveel hy die hardlopers en offisiere: “Gaan in en maak hulle almal dood. Nie een van hulle mag uitkom nie!” Hulle het hulle toe met die swaard doodgemaak en die wagte en offisiere het die liggame buitentoe gesleep. Daarna het hulle ingegaan in die binneste heiligdom van die Baältempel,

26 die Asjerapaal uit die Baältempel uitgebring en verbrand.

27 Hulle het die heilige klippilaar van Baäl stukkend geslaan, die tempel van Baäl verwoes en dit omskep in toilette, soos dit vandag nog is.

28 So het Jehu elke teken van Baälaanbidding in Israel uitgeroei.

29 Hy het egter nie die goue kalwers in Bet-El en Dan vernietig nie. Daarom het Israel die verering daarvan voortgesit, net soos Jerobeam seun van Nebat gedoen het.

30 Nogtans het die Here vir Jehu gesê: “Jy het goed gedoen deur my bevele uit te voer, naamlik om die familie van Agab uit te roei. Omdat jy reg gedoen het, sal Ek toesien dat jou kinders tot in die vierde geslag konings van Israel sal wees.”

31 Maar Jehu het nie die bevele van die Here, die God van Israel, heelhartig gehoorsaam nie. Hy het nie weggedoen met die afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het nie.

Jehu se dood

32 Ongeveer hierdie tyd het die Here begin om Israel se gebied kleiner te maak. Koning Gasael het verskeie dele van die land verower.

33 Dit was die streke oos van die Jordaanrivier, die hele Gilead, insluitend die stamme Gad, Ruben en Manasse, vanaf die dorp Aroër by die Arnonrivier, sowel Gilead as Basan.

34 Die ander gebeurtenisse tydens Jehu se bewind, wat hy gedoen het en sy dapper dade, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

35 Toe Jehu sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg.

36 Jehu het altesaam 28 jaar in Samaria oor Israel geheers.

2 KONINGS 11

Atalia heers in Juda

1 Toe Atalia, die ma van koning Ahasia van Juda, hoor dat haar seun dood is, het sy begin om die res van die koningsgeslag uit te wis.

2 Maar Jehoseba, dogter van koning Joram en suster van koning Ahasia, het Ahasia se jongste seun Joas stilletjies weggevat tussen die ander seuns van Ahasia wat doodgemaak sou word. Jehoseba het Joas saam met sy oppasser in ’n slaapkamer vir Atalia weggesteek. So het dit gebeur dat hy nie doodgemaak is nie.

3 Gedurende die ses jaar dat Atalia regeer het, is Joas en sy oppasser in die tempel van die Here weggesteek.

Opstand teen Atalia

4 In die sewende jaar van Atalia se regering het die priester Jojada die bevelvoerders oor honderd van die Kariërs en die hardlopers na hom toe laat kom in die tempel van die Here. Hy het met hulle ’n ooreenkoms aangegaan en hulle ’n eed in die tempel van die Here laat aflê. Daarna het hy die koning se seun aan hulle gewys.

5 Jojada het hulle beveel: “Julle moet soos volg te werk gaan: ’n Derde van julle wat op die Sabbat aan diens is, moet die koninklike paleis bewaak.

6 Nog ’n derde van julle moet by die Surpoort wagstaan. Die laaste derde moet by die poort agter die hardlopers wagstaan. Al drie afdelings moet om die beurt die paleis bewaak.

7 Die twee ander eenhede wat op die Sabbat van diens af gaan, moet wagstaan by die koning in die tempel van die Here.

8 Vorm ’n lyfwag vir die koning en hou julle wapens gereed. Enige persoon wat deur julle geledere wil kom, moet doodgemaak word. Bly die hele tyd by die koning.”

9 Die bevelvoerders oor honderd het presies so gemaak soos die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manskappe geneem, dié wat daardie Sabbat vir diens aangemeld het, asook dié wat van diens af gegaan het. Hulle het almal na die priester Jojada toe gekom.

10 Hy het hulle toegerus met spiese en skilde wat in die tempel van die Here bewaar is en nog aan koning Dawid behoort het.

11 Die hardlopers het rondom die koning gaan staan, gereed met hulle wapens. Hulle het gestaan vanaf die suidelike kant van die tempel óm na die noordelike kant toe en rondom die altaar.

12 Toe bring Jojada die seun van die koning na vore en sit die kroon op sy kop. Hy gee vir Joas ’n afskrif van die Here se vereistes en verklaar hom tot koning. Hulle het hom gesalf en almal het hande geklap en uitgeroep: “Lank lewe die koning!”

Die dood van Atalia

13 Atalia het die lawaai van die hardlopers en die volk gehoor en na die mense by die tempel van die Here toe gegaan.

14 Daar sien sy die pasgekroonde koning wat volgens tradisie op die gebruiklike plek staan. Die leiers en trompetblasers het rondom hom gestaan en al die burgers van die land het gejuig en op trompette geblaas. Toe skeur Atalia haar klere en skree: “Verraad! Verraad!”

15 Maar Jojada die priester het die be-velvoerders oor honderd in beheer van die manskappe beveel: “Vat haar buitentoe. Enigeen wat haar ondersteun, moet julle met die swaard doodmaak.” Hy voeg toe by: “Moenie haar hier in die tempel van die Here doodmaak nie.”

16 Hulle het haar gegryp, haar deur die Perdepoort na die paleisgronde toe geneem en haar daar doodgemaak.

Die godsdienstige hervormings

van Jojada

17 Toe het Jojada ’n verbond tussen die Here, die koning en die volk gesluit naamlik dat hulle die volk van die Here sou wees. Hy het ook ’n verbond tussen die koning en die volk tot stand gebring.

18 Daarna het al die burgers van die land na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het al die altare vernietig en die afgodsbeelde stukkend geslaan en vir Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.

Die priester Jojada het wagte oor die tempel van die Here aangestel.

19 Daarna het die bevelvoerders oor honderd van die Kariërs en die hardlopers, asook al die burgers van die land die koning uit die tempel van die Here begelei. Hulle het deur die Wagterspoort na die paleis toe gegaan en die koning het op die troon gaan sit.

20 Al die burgers van die land was bly en daar was vrede in die stad. So het dit gebeur dat Atalia by die koning se paleis doodgemaak is.

21 Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het.

2 KONINGS 12

Joas herstel die tempel

1 In die sewende jaar van koning Jehu se bewind in Israel, het Joas koning in Juda geword. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja uit Berseba.

2 Joas het sy lewe lank, terwyl die priester Jojada hom onderrig het, volgens die Here se eise regeer.

3 Die hoogtes van die afgode het hy egter nie vernietig nie. Die volk het nog steeds daar offers gebring en wierook gebrand.

4 Op ’n dag sê Joas vir die priesters: “Vat al die geld wat as ’n gewyde offer na die Here se tempel gebring is. Dit is waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word, en dit wat elkeen vrywillig na die tempel van die Here toe bring.

5 Laat die priesters ’n deel van hierdie geld gebruik om die nodige herstelwerk aan die tempel te doen oral waar daar bouvallige plekke is.”

6 In die 23ste regeringsjaar van Joas het die priesters egter nog nie die vervalle dele aan die tempel herstel nie.

7 Koning Joas roep toe vir Jojada en die ander priesters en vra vir hulle: “Hoekom het julle nie die tempel herstel nie? Julle mag niks meer van die gawes vir julle eie behoeftes gebruik nie. Van nou af moet alles gebruik word om die tempel te herstel.”

8 Die priesters onderneem toe om nie meer geld van die mense te kollekteer nie. Hulle het ook ooreengekom om nie self die herstelwerk van die tempel te doen nie.

9 Die priester Jojada het ’n kis gevat, ’n gat in die deksel geboor en dit by die altaar regs van die ingang van die tempel van die Here neergesit. Die priesters wat by die ingang waggehou het, het al die geld wat na die tempel van die Here gebring is, in die kis gegooi.

10 Telkens wanneer die kis vol geld was, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester die geld wat na die tempel van die Here gebring is, getel en in sakke gesit.

11 Daarna het hulle die geld aan die opsieners van die bouery gegee. Hulle, weer, het dit gebruik om die werkers wat die tempel van die Here herstel het, te betaal. Daar was skrynwerkers en bouers,

12 messelaars en klipkappers. Hulle het ook die geld gebruik om hout en gekapte klip te koop waarmee die tempel van die Here herstel is. Ook ander uitgawes ten opsigte van die herstelwerk van die tempel het hulle hieruit betaal.

13 Die geld wat na die tempel toe gebring is, is nie gebruik om silwerbekers, snuiters vir die lampe, wasbakke, trompette of ander gereedskap van goud of silwer vir die tempel van die Here te maak nie.

14 Dit is aan die werksmense betaal om die tempel te herstel.

15 Daar is nie boekgehou van die geld wat aan die opsieners van die bouery gegee is nie, want hulle was eerlik en getrou.

16 Die geld wat gegee is vir skuldoffers en sonde-offers is egter nie na die tempel van die Here gebring nie. Dit was vir die priesters bedoel.

Die einde van Joas se regering

17 Ongeveer hierdie tyd het koning Gasael van Aram teen Gat oorlog gemaak en dit verower. Daarna het hy besluit om teen Jerusalem op te trek.

18 Koning Joas van Juda het al die gewyde voorwerpe wat sy voorvaders Josafat, Joram en Ahasia, die vorige konings van Juda, gegee het, aan koning Gasael van Aram gestuur. Hy het ook dit wat hy gegee het saam met al die goud wat in die skatkamers van die tempel van die Here en die paleis te vind was aan koning Gasael gestuur. Gasael het toe sy aanslag op Jerusalem afgelas.

19 Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

20 Sy amptenare het teen hom saamgesweer en hom by Bet-Millo op die afdraande na Silla doodgemaak.

21 Die samesweerders was sy amptenare Sabad seun van Simat en Josabad seun van Somer. Joas is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Amasia het hom opgevolg.

2 KONINGS 13

Joahas regeer in Israel

1 In die 23ste regeringsjaar van koning Joas seun van Ahasia in Juda het Joahas seun van Jehu koning geword in Israel. Hy het sewentien jaar in Samaria regeer.

2 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het net soos Jerobeam seun van Nebat vir Israel tot afgodery verlei. Hy het nie daarvan afgewyk nie.

3 Daarom was die Here kwaad vir Israel en het Hy toegelaat dat koning Gasael van Aram en sy seun Ben-Hadad Israel keer op keer verslaan.

4 Maar Joahas het tot die Here gebid om hulp en die Here het sy gebed verhoor. Die Here het gesien hoe die koning van Aram vir Israel onderdruk.

5 Daarom het die Here ’n redder verwek om Israel van die tirannie van Aram te verlos. Daarna kon die Israeliete weer soos voorheen in hulle eie huise lewe.

6 Nogtans het hulle voortgegaan om te sondig deur die bose voorbeeld van Jerobeam na te volg. Selfs die Asjerabeeld het in Samaria bly staan.

7 Joahas se leër is verminder tot 50 berede troepe, tien strydwaens en 10 000 voetsoldate. Die koning van Aram het die ander doodgemaak soos stof onder sy voete.

8 Die ander gebeurtenisse tydens Joahas se bewind, alles wat hy gedoen het en sy dapper dade, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

9 Toe Joahas sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joas het in sy plek koning geword.

Joas se bewind in Israel

10 In die 37ste jaar van koning Joas se regering in Juda het Joas seun van Joahas koning geword oor Israel. Hy het sestien jaar in Samaria regeer.

11 Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie afgesien van die afgodery wat Jerobeam seun van Nebat hulle geleer het om te doen nie, maar daarmee volhard.

12 Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, alles wat hy gedoen het, sy dapper dade tydens sy oorloë met koning Amasia van Juda, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

13 Toe Joas sterf, het Jerobeam II hom opgevolg. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.

Elisa se laaste optrede

14 Elisa het siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom besoek en oor hom gehuil. “My vader! My vader! Die strydwa en ruiters van Israel!” het hy uitgeroep.

15 Elisa sê toe vir hom: “Vat jou boog en pyle.” Die koning het so gemaak.

16 Elisa sê vir hom: “Sit jou hande op die boog.” Hy het so gemaak. Elisa sit toe sy eie hande oor die koning s’n.

17 Daarna beveel hy: “Maak die venster na die ooste toe oop.” Hy het so gemaak. Elisa sê vir hom: “Skiet!” Hy het so gemaak.

Toe kondig Elisa aan: “Die pyl van die Here se oorwinning, ’n pyl van oorwinning oor Aram. Jy sal die Arameërs by Afek heeltemal verslaan.

18 Vat nou die ander pyle en slaan teen die grond.” Die koning het hulle opgetel, drie keer geslaan en toe opgehou.

19 Maar die man van God het baie kwaad geword vir hom. “Jy moes vyf of ses keer geslaan het!” roep hy uit. “Dan sou jy Aram verslaan en heeltemal verwoes het. Nou sal jy net drie keer oor Aram seëvier.”

20 Daarna het Elisa gesterf en hulle het hom begrawe.

Moabitiese bendes het elke lente die land binnegeval.

21 Eenkeer was ’n klompie Israeliete besig om ’n man te begrawe toe hulle so ’n bende plunderaars opmerk. Hulle gooi toe die liggaam gou in Elisa se graf. Maar net toe die liggaam Elisa se bene raak, het die dooie man herlewe en regop gestaan!

22 Tydens die hele regering van koning Joahas het koning Gasael vir Israel verdruk.

23 Maar die Here was hulle genadig. Hy het Hom oor hulle ontferm op grond van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou hulle nie vernietig nie. Tot nou toe het Hy hulle nie van sy teenwoordigheid verdryf nie.

24 Koning Gasael van Aram het gesterf en sy seun Ben-Hadad het hom opgevolg.

25 Joas seun van Joahas het die dorpe wat Ben-Hadad seun van Gasael van Joas se pa Joahas geneem het, herower. Joas het Ben-Hadad drie keer verslaan en die Israelitiese dorpe herwin.

2 KONINGS 14

Amasia regeer in Juda

1 In die tweede jaar van die regering van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van Joas koning van Juda geword.

2 Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem.

3 Amasia het gedoen wat vir die Here reg was, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die voorbeeld van sy pa Joas gevolg.

4 Hy het net nie die heidense hoogtes waar die volk offers gebring het en wierook gebrand het, vernietig nie.

5 Toe hy as koning gevestig was, het hy die mans wat sy pa in ’n sluipmoord doodgemaak het, tereggestel.

6 Hy het egter nie die sluipmoordenaars se kinders doodgemaak nie, want hy was gehoorsaam aan die eise van die Here volgens die boek van die bepalings van Moses, wat lui: “Ouers moenie doodgemaak word vir die sondes van hulle kinders nie, of die kinders vir die sondes van die ouers nie. Elkeen moet vir sy eie misdade tereggestel word.”

7 Amasia het 10 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan. Hy het ook Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit vandag nog genoem word.

8 Op ’n dag stuur Amasia hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas, seun van Joahas en kleinseun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar!”

9 Maar koning Joas van Israel antwoord koning Amasia van Juda: “Die doringbos op die Libanon het ’n boodskap aan die sederboom op die Libanon gestuur: ‘Gee my jou dogter as vrou vir my seun.’ Maar ’n wilde dier van die Libanon het daar verbygekom en die doringbos vertrap.

10 Jy het wel vir Edom verslaan, maar nou gaan dit na jou kop toe. Wees nou tevrede met jou oorwinning en bly tuis! Hoekom soek jy moeilikheid wat vir jou en Juda saam met jou ellende sal bring?”

11 Maar Amasia wou nie luister nie. Koning Joas van Israel het toe sy leër opgeroep om teen koning Amasia oorlog te maak. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem.

12 Die leër van Israel het egter vir Juda verslaan en die manskappe het huis toe gevlug.

13 Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang. Daarna ruk hy op na Jerusalem toe waar hy ongeveer 180 meter van Jerusalem se muur afgebreek het. Dit was vanaf die Efraimspoort tot by die Hoekpoort.

14 Hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe uit die tempel van die Here en die skatkamers van die paleis gevat en saam met gyselaars na Samaria toe geneem.

15 Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Ahasia van Juda is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

16 Toe Joas sterf, is hy in Samaria by die ander konings van Israel begrawe. Sy seun Jerobeam II het hom opgevolg.

17 Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar gelewe.

18 Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se bewind is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

19 Daar is in Jerusalem teen Amasia saamgesweer sodat hy na Lakis gevlug het. Sy vyande het egter mense agter hom aan gestuur en hom daar doodgemaak.

20 Hulle het sy liggaam op perde na Jerusalem toe gebring en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad.

21 Al die mense van Juda het toe vir Asarja, die sestienjarige seun van Amasia, as koning gekroon in sy pa se plek.

22 Hy het die dorp Elat herbou en dit ná die betrokke koning se dood weer onder die mag van Juda gebring.

Jerobeam II se regering in Israel

23 Jerobeam II seun van Joas het koning van Israel geword in die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia, seun van Joas in Juda. Jerobeam II het 41 jaar in Samaria regeer.

24 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel verlei het, laat vaar nie.

25 Jerobeam II het die gebiede van Israel tussen Lebo-Hamat en die see in die Jordaanvallei herower. Dit was net soos die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona seun van Amittai uit Gat-Gefer gesê het.

26 Want die Here het die bittere lyding in Israel gesien, en dat daar hoegenaamd niemand was wat hulle kon help nie.

27 Die Here het nog nie gesê dat Hy die naam van Israel heeltemal sou uitwis nie. Daarom het Hy Jerobeam II, seun van Joas, gebruik om hulle te red.

28 Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Jerobeam II, alles wat hy gedoen het, asook sy heldedade, sy oorloë en hoe hy Damaskus en Hamat, wat aan Juda behoort het, vir Israel herower het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

29 Toe Jerobeam II sterf, is hy begrawe in die familiegraf van die konings van Israel. Sy seun Sagaria het hom opgevolg.

2 KONINGS 15

Asarja regeer in Juda

1 In die 27ste jaar van koning Jerobeam II van Israel het Asarja seun van Amasia koning van Juda geword.

2 Hy was toe sestien jaar oud en het 52 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja van Jerusalem.

3 Hy het gedoen wat vir die Here reg was, presies soos sy pa Amasia gedoen het.

4 Die hoogtes waar die volk vir die afgode geoffer het en wierook gebrand het, het hy egter nie vernietig nie.

5 Die Here het die koning met melaatsheid getref en hy het tot sy dood toe in ’n plek van afsondering gewoon. Sy seun Jotam het die paleis beheer en oor die hele land as regent opgetree.

6 Die ander gebeurtenisse tydens Asarja se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

7 Toe Asarja sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg.

Sagaria heers in Israel

8 In die 38ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda, het Sagaria seun van Jerobeam II koning geword oor Israel. Hy het ses maande in Samaria regeer.

9 Maar Sagaria het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie.

10 Sallum seun van Jabes het teen Sagaria saamgesweer, hom voor almal vermoor en in sy plek koning geword.

11 Die ander gebeurtenisse tydens Sagaria se regering is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

12 Op hierdie manier het die Here se boodskap aan Jehu waar geword, naamlik: “Jou nageslag sal tot die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

Sallum regeer oor Israel

13 Sallum seun van Jabes het koning oor Israel geword in die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda. Sallum het net een maand in Samaria geheers.

14 Toe het Menahem seun van Gadi uit Tirsa na Samaria toe gegaan. Hy het Sallum seun van Jabes aangeval, hom doodgemaak en hom as koning opgevolg.

15 Die ander gebeurtenisse tydens Sallum se bewind en die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

Menahem regeer oor Israel

16 Menahem het die dorp Tifsag aangeval en almal tot so ver as Tirsa doodgemaak omdat die inwoners geweier het om hulle poorte vir hom oop te maak. Hy het al die inwoners doodgemaak en selfs swanger vroue oopgesny.

17 In die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda het Menahem seun van Gadi begin om oor Israel te regeer. Hy het tien jaar in Samaria regeer.

18 Maar Menahem het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Gedurende sy hele bewind het hy nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie.

19 Koning Tiglat-Pileser van Assirië het die land binnegeval. Menahem het hom toe 34 ton silwer betaal om sy steun te kry sodat hy ’n beter houvas op die koningskap kon uitoefen.

20 Menahem het die geld by die rykes in Israel bekom deur te eis dat elkeen van hulle 570 gram silwer as bykomende belasting moes betaal. Die koning van Assirië het toe sy manskappe onttrek en die land verlaat.

21 Die ander gebeurtenisse tydens Menahem se bewind en wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

22 Toe hy sterf, het sy seun Pekahia hom opgevolg.

Pekahia regeer oor Israel

23 In die 50ste jaar van koning Asarja se regering in Juda, het Pekahia seun van Menahem koning geword oor Israel. Hy het twee jaar in Samaria regeer.

24 Maar Pekahia het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25 Sy bevelhebber, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer. Hy het met 50 manskappe van Gilead af gekom en Pekahia saam met Argob en Arje in die toring van die paleis in Samaria aangeval. Hy het hom doodgemaak en in sy plek koning geword.

26 Die ander gebeurtenisse tydens Pekahia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

Peka regeer oor Israel

27 Peka seun van Remalja het koning geword oor Israel in die 52ste jaar van Asarja se bewind in Juda. Hy was twintig jaar lank koning in Samaria.

28 Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

29 Gedurende sy bewind het koning Tiglat-Pileser van Assirië die dorpe Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor verower. Hy het ook die streke van Gilead, Galilea en Naftali verower en die inwoners as gevangenes na Assirië toe weggevoer.

30 Hosea seun van Ela het toe teen Peka seun van Remalja saamgesweer. Hy het hom aangeval, hom doodgemaak en koning van Israel geword in die twintigste jaar van Jotam seun van Asarja.

31 Die ander gebeurtenisse tydens Peka se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

Jotam regeer in Juda

32 Jotam seun van Asarja het koning geword oor Juda in die tweede jaar van koning Peka se bewind oor Israel.

33 Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, dogter van Sadok.

34 Jotam het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Asarja gedoen het.

35 Hy het egter nie die hoogtes waar die volk vir die afgode offers gebring en wierook gebrand het, vernietig nie. Hy het die boonste poort van die tempel van die Here herbou.

36 Die ander gebeurtenisse tydens Jotam se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

37 Gedurende sy bewind het die Here begin om koning Resin van Aram en koning Peka van Israel te stuur om Juda aan te val.

38 Toe Jotam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg.

2 KONINGS 16

Agas regeer in Juda

1 Agas seun van Jotam het in die sewentiende jaar van koning Peka se bewind in Israel oor Juda koning geword.

2 Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat vir die Here reg was soos sy voorvader Dawid nie.

3 In plaas daarvan het hy die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en selfs sy seun as offer verbrand. Hy het die afskuwelike praktyke van die heidennasies wat die Here voor die Israeliete uit die land verdryf het, nagevolg.

4 Hy het op die hoogtes en heuwels, asook onder elke groen boom offers gebring en wierook gebrand.

5 Koning Resin van Aram en koning Peka seun van Remalja van Israel het teen Agas oorlog verklaar. Hulle het Jerusalem beleër, maar dit nie verower nie.

6 In daardie tyd het koning Resin van Aram die stad Elat vir Aram herower, die Judeërs daaruit verdryf en Arameërs gestuur om daar te woon. Dit is nog so tot vandag toe.

7 Koning Agas stuur toe boodskappers na Tiglat-Pileser van Assirië met die boodskap: “Ek is u onderdaan en u seun. Kom en red my uit die mag van die koning van Aram en die koning van Israel, want hulle val my aan.”

8 Agas vat toe die silwer en goud wat in die tempel van die Here en die paleis se skatkamers was en stuur dit as geskenk aan die Assiriese koning.

9 Die koning van Assirië het toe so gemaak en teen Damaskus, hoofstad van die Arameërs, opgetrek en dit ingeneem. Hy het die inwoners as gevangenes weggeneem en hulle in Kir hervestig. Hy het ook koning Resin doodgemaak.

10 Daarna het koning Agas na Damaskus toe gegaan om koning Tiglat-Pileser van Assirië te ontmoet. In Damaskus het ’n altaar sy aandag getrek. Hy stuur toe ’n afbeelding en die bouplanne daarvan na die priester Urija.

11 Urija het ’n altaar presies volgens die koning se planne gebou. Met die terugkoms van die koning uit Damaskus was die altaar klaar.

12 Daar aangekom uit Damaskus, het die koning na die altaar gekyk en nadergekom om daarop te offer.

13 Die koning het sy brandoffer en sy graanoffer gebring, sy drankoffer uitgegiet en die bloed van sy maaltydoffer teen die altaar uitgegooi.

14 Daarna het hy die ou bronsaltaar wat voor die Here gestaan het, verskuif van sy plek voor die Here se tempel. Hierdie plek was tussen die nuwe altaar en die tempel. Die bronsaltaar het hulle nou noord van die nuwe altaar neergesit.

15 Koning Agas sê toe vir die priester Urija: “Gebruik die nuwe groot altaar vir die oggendbrandoffer en die aandgraanoffer, vir die koning se brandoffer en graanoffer, en die volk se brandoffer, graanoffer en drankoffer. Die bloed van die brandoffer en ander diere-offers moet teen die nuwe altaar gesprinkel word. Die ou bronsaltaar sal net vir my persoonlike doeleindes gebruik word.”

16 Die priester Urija het presies so gedoen soos koning Agas hom beveel het.

17 Koning Agas het die sluitplate van die waentjies verwyder, die waskomme weggevat, die waterbak opgelig waar dit op die gegote bronsbeeste gerus het en dit op ’n klipvloer neergesit.

18 Hy het die oordekte gang vir die Sabbat wat hulle by die tempel gebou het, asook die buitenste ingang vir die koning, uit ontsag vir die koning van Assirië uit die tempelkompleks verwyder.

19 Die ander gebeurtenisse tydens Agas se bewind en wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

20 Toe Agas sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Hiskia het hom opgevolg.

2 KONINGS 17

Hosea regeer in Israel

1 In die twaalfde jaar van koning Agas se bewind in Juda het Hosea seun van Ela koning geword oor Israel. Hy het nege jaar in Samaria regeer.

2 Hy het gedoen wat vir die Here verkeerd was, maar dit was nie so erg soos die konings wat sy voorgangers in Israel was nie.

3 Toe koning Salmaneser van Assirië teen hom optrek, het koning Hosea hom aan die koning van Assirië onderwerp en jaarliks belasting aan hom betaal.

4 Maar Hosea het teen die koning van Assirië saamgesweer deur koning So van Egipte te vra vir hulp. Hy het ook geweier om die jaarlikse belasting aan die koning van Assirië te betaal. Daarom het koning Salmaneser vir Hosea gevang en in die tronk gesit.

Die verowering van Samaria

5 Die koning van Assirië het die hele land binnegeval, Samaria aangeval en drie jaar lank beleër.

6 In die negende jaar van koning Hosea se bewind het die koning van Assirië Samaria ingeneem en die inwoners in ballingskap na Assirië toe weggevoer. Hulle is in kolonies in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië hervestig.

7 Hierdie ramp het oor die Israeliete gekom omdat hulle ander gode vereer het. Sodoende het hulle gesondig teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte bevry het uit die mag van Farao, die koning van Egipte. Hulle het ander gode gedien.

8 Hulle het geleef soos die ander nasies wat die Here uit die land verdryf het sodat die Israeliete daar kon woon. Hulle het ook opgetree volgens die gebruike wat die konings van Israel ingestel het.

9 Die Israeliete het verder in die geheim dinge gedoen wat teen die wil van die Here was. In elke plek waar hulle gewoon het, van wagtorings tot vestingstede, het hulle afgodshoogtes gebou.

10 Hulle het bo-op elke heuwel en onder elke groen boom klippilare opgerig wat gewy is aan Asjera.

11 Hulle het op al die hoogtes wierook gebrand net soos die nasies wat die Here voor hulle uit verjaag het. Hulle het bose dinge gedoen wat die Here uitgetart het.

12 Hulle het afstootlike beelde aanbid ten spyte van die Here se uitdruklike waarskuwings.

13 Die Here het al sy profete en sieners gestuur om sowel Israel as Juda te waarsku: “Bekeer julle van julle bose lewenswyses. Luister na my opdragte en voorskrifte volgens al die gebooie wat Ek julle voorvaders beveel het en wat Ek deur my dienaars die profete aan julle bekendgemaak het.”

14 Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle was net so koppig soos hulle voorvaders wat nie op die Here hulle God vertrou het nie.

15 Hulle het sy voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het, verwerp en die rug gedraai op al sy waarskuwings. Hulle het waardelose afgode aanbid en het self waardeloos geword. Hulle het gelewe net soos die nasies rondom hulle hoewel die Here gesê het: “Moenie soos hulle maak nie!”

16 Hulle het al die gebooie van die Here hulle God geïgnoreer en vir hulle twee kalwerbeelde gegiet. Hulle het ook ’n Asjerabeeld gemaak, voor die hemelliggame gebuig en vir Baäl gedien.

17 Hulle het hulle eie seuns en dogters as offers laat verbrand en waarsêers en toekomsvoorspellers geraadpleeg. Hulle het hulleself oorgegee aan dinge wat vir die Here verkeerd is, en Hom so uitgetart.

18 Die Here was so ontevrede met Israel dat Hy hulle van Hom verstoot het. Net die stam Juda het oorgebly.

19 Maar ook Juda het geweier om die gebooie van die Here hulle God te gehoorsaam. Hulle het volgens die voorbeeld van Israel gelewe.

20 Die Here het toe die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan die plunderaars totdat Hy Israel van Hom af verwyder het.

21 Want toe Hy Israel van die koninkryk van Dawid afgeskeur het, het hulle Jerobeam seun van Nebat koning oor hulle gemaak. Maar Jerobeam het Israel weggelok van die Here af en hulle baie laat sondig.

22 Die Israeliete het volgehou met al die sondes van Jerobeam en dit nie gestaak nie.

23 Uiteindelik het die Here hulle finaal verwyder, net soos Hy deur al sy dienaars die profete gewaarsku het. Israel is uit hulle land weggevoer na Assirië toe, waar hulle vandag nog is.

Vreemdelinge kom woon in

Israel

24 Die koning van Assirië het mense uit Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim verskuif en in die dorpe van Samaria in die plek van die Israeliete laat vestig. Hulle het Samaria oorgeneem en in die stede gaan woon.

25 Omdat hierdie vreemdelinge nie die Here vereer het toe hulle daar aangekom het nie, het die Here leeus gestuur wat sommige van hulle doodgemaak het.

26 Daarom stuur hulle toe ’n boodskap na die koning van Assirië: “Die nasies wat u in die dorpe van Samaria hervestig het, weet nie hoe om die God van die land te aanbid nie. Hy het leeus onder hulle losgelaat wat hulle doodmaak omdat hulle nie weet hoe hulle Hom moet vereer nie.”

27 Die koning van Assirië beveel toe: “Stuur een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is daarheen terug. Hy moet daar gaan woon en die nuwe inwoners leer aangaande die godsdienstige gebruike ter ere van die God van die land.”

28 Een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, het toe teruggekom. Hy het in Bet-El gaan woon en die nuwe inwoners geleer hoe om die Here te aanbid.

29 Maar elkeen van die nasies het tog voortgegaan om ook hulle eie afgode te maak in die stede en dorpe waar hulle gewoon het. Hulle het dit neergesit in die tempels op die hoogtes wat die mense van Samaria destyds opgerig het.

30 Die mense uit Babel het Sukkot-Benot gemaak, dié uit Kuta vir Nergal, dié uit Hamat vir Asima,

31 en die Awwiete vir Nibgas en Tartak. Die Sefarwajiete het selfs hulle kinders ter ere van hulle gode Adrammelek en Anammelek verbrand.

32 Hierdie inwoners het wel die Here vereer, maar het tog uit eie geledere priesters aangestel om in die heiligdomme op die hoogtes diens te doen.

33 Hoewel hulle die Here vereer het, het hulle voortgegaan om ook die godsdienstige gebruike van die nasies waaruit hulle gekom het, te beoefen.

34 Tot vandag toe nog beoefen hulle hulle vorige praktyke en is hulle nie gehoorsaam aan die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat die Here gegee het vir die afstammelinge van Jakob wie se naam Hy na Israel verander het nie.

35 Want dis met die afstammelinge van Jakob dat die Here ’n verbond gemaak en hulle beveel het: “Moenie enige ander gode vereer, voor hulle buig, hulle dien, of aan hulle offers bring nie.

36 Julle moet net die Here vereer, Hy wat julle met wonderwerke en groot mag en krag uit Egipte gebring het. Hom moet julle vereer, voor Hom buig, en aan Hom offers bring.

37 Sorg dat julle al die voorskrifte, bepalings, gebooie en bevele wat Hy vir julle neergeskryf het, gehoorsaam. Julle moenie ander gode dien nie.

38 Moenie die verbond wat Ek met julle gesluit het, vergeet nie en moenie ander gode dien nie.

39 Net die Here julle God moet julle aanbid. Hy sal julle uit die mag van al julle vyande verlos.”

40 Maar die mense wou nie luister nie en het met hulle ou gebruike voortgegaan.

41 Hierdie nasies het nie net die Here vereer nie, maar het ook hulle afgodsbeelde vereer. Tot vandag toe maak hulle afstammelinge nog soos hulle voorvaders.

2 KONINGS 18

Hiskia regeer oor Juda

1 In die derde jaar van koning Hosea seun van Ela se bewind in Israel het Hiskia seun van Agas koning van Juda geword.

2 Hy was 25 toe hy koning geword het en het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi dogter van Sagaria.

3 Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het.

4 Hy het die heidense hoogtes verwyder, die heilige klippilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hy het ook die bronsslang wat Moses gemaak het, stukkend geslaan omdat die Israeliete dit tot op daardie stadium met brandoffers vereer het. Die bronsslang is Negustan genoem.

5 Hiskia het op die Here, die God van Israel, vertrou. Daar was nie ’n koning in Juda soos hy nie, nie vóór hom of ná hom nie.

6 Hy het in alles getrou gebly aan die Here sonder dat hy afgedwaal het. Hy het al die gebooie wat die Here vir Moses gegee het, gehoorsaam.

7 Die Here was met Hiskia en hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie.

8 Hy het ook die Filistyne verslaan, of dit buitepos was of vestingstad, en hulle tot so ver as Gasa en sy grondgebied onderwerp.

9 In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia was Hosea seun van Ela in sy sewende regeringsjaar in Israel. In daardie jaar het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die stad Samaria beleër.

10 Na drie jaar, gedurende die sesde jaar van koning Hiskia se bewind en die negende jaar van koning Hosea se regering in Israel, is Samaria verower.

11 Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig.

12 Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die Here hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die Here deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.

Assirië val Juda binne

13 In die veertiende jaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië gekom en al die vestingstede van Juda aangeval en verower.

14 Koning Hiskia stuur toe ’n boodskap aan die koning van Assirië in Lakis: “Ek het verkeerd gedoen. Ek sal betaal watter bedrag u eis, as u maar net die aanval sal staak.” Die koning van Assirië eis toe ’n boete van meer as tien ton silwer en omtrent een ton goud van koning Hiskia van Juda.

15 Hy het al die silwer wat in die tempel van die Here en in die skatkamers van die paleis te vind was, gebruik om die boete te betaal.

16 Hy het selfs op daardie tydstip die goud wat hy self aan die deure en die kosyne van die Here se tempel aangebring het, afgestroop en dit alles aan die Assiriese koning gegee.

17 Nogtans het die koning van Assirië sy hoofbevelvoerder, sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met ’n groot leër vanuit Lakis gestuur na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het tot by Jerusalem opgeruk en stelling ingeneem by die kanaal van die boonste dam, naby die pad na die Bleikveld toe.

18 Hulle roep toe na koning Hiskia, maar die koning stuur die volgende beamptes na hulle toe: die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf.

Sanherib dreig Jerusalem

19 Die hoofadjudant van die Assiriese koning stuur toe hierdie boodskap aan koning Hiskia: “Dit is wat die groot koning van Assirië sê: Waarop vertrou jy dat jy so hoopvol is?

20 Dink jy dat blote woorde weerstand kan bied teen militêre strategie en krag? Op wie vertrou jy dat jy teen my in opstand kom?

21 Is dit op Egipte? Egipte is ’n versplinterde riet wat onder jou gewig breek en ’n gat deur jou hand steek. Dit is wat die farao van Egipte doen met almal wat op hom staatmaak!

22 “Maar dalk sal julle sê: ‘Ons vertrou op die Here ons God!’ Is Hy dan nie die Een vir wie koning Hiskia beledig het nie? Dis mos al sy hoogtes en altare wat Hiskia afgebreek het en beveel het: ‘Elkeen in Juda moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid!’

23 “Ek sal jou sê! My meester, die koning van Assirië, sal ’n ooreenkoms met jou aangaan: As jy 2 000 ruiters kan voorsien, sal ek jou 2 000 perde gee om op te ry.

24 Hoe sal jy weerstand kan bied teen een afdeling, die swakste van my heer se troepe, selfs met die hulp van Egipte se strydwaens en perderuiters?

25 Wat meer is, dink jy ons het jou land binnegeval sonder die goedkeuring van die Here? Die Here self het vir ons gesê: ‘Trek op en verwoes die land!’”

26 Toe sê Eljakim seun van Gilkija, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Asseblief, praat met ons in Aramees, want ons verstaan dit goed. Moenie in Judees praat nie, want die verdedigers op die muur sal dit verstaan.”

27 Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle en julle koning toe gestuur met hierdie boodskap? Nee, die manskappe op die muur moet dit hoor, want hulle sal net soos julle hulle eie ontlasting eet en hulle eie urine drink!”

28 Toe gaan staan hy en skree hard in Judees: “Luister na die boodskap van die groot koning van Assirië!

29 Dit is wat die koning sê: Moenie toelaat dat koning Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie.

30 Moenie dat hy julle oorreed om op die Here te vertrou deur te sê: ‘Die Here sal ons beslis red! Hy sal nie toelaat dat hierdie stad in die mag van die koning van Assirië oorgegee word nie.’

31 “Moenie na Hiskia luister nie! Dit is wat die koning van Assirië sê: Maak vrede met my en kom oor na my toe. Dan sal ek toelaat dat elkeen van sy eie wingerdstok en vyeboom eet en uit sy eie put water drink.

32 Dan sal ek kom en julle na ’n ander land soos hierdie een van julle neem. Dis ’n land met koring en wyn, kos en wingerde, olyfbome en heuning. Kies nou die lewe in plaas van die dood!

“Moenie na Hiskia luister wanneer hy sê ‘Die Here sal ons red!’ nie.

33 Het die gode van enige ander nasie ooit hulle mense uit die mag van die koning van Assirië gered?

34 Waar is die gode van Hamat en Arpad? En waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Het enige gode Samaria uit my mag gered?

35 Watter god van enige nasie was in staat om sy land uit my mag te red? Noem net één! Wat laat julle dink dat die Here vir Jerusalem sal red?”

36 Maar die manskappe het stilgebly en hom nie geantwoord nie, want koning Hiskia het hulle beveel om nie te praat nie.

37 Toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf teruggegaan na Hiskia toe. Hulle het hulle klere geskeur en hom vertel wat die Assiriese stafhoof gesê het.