GENESIS 21

Die geboorte van Isak

1 Die Here het vir Sara gesorg en sy belofte aan haar nagekom.

2 Sara het swanger geword en vir Abraham in sy ouderdom ’n seun gegee. Dit het gebeur op die bestemde tyd soos God beloof het.

3 Abraham het sy seun Isak genoem.

4 Agt dae ná Isak se geboorte het Abraham hom besny soos God hom beveel het.

5 Abraham was toe 100 jaar oud.

6 Sara het gejuig: “God het my laat lag van vreugde! Almal wat dit hoor, sal saam met my lag.

7 Wie sou ooit vir Abraham sê: Sara sal seuns borsvoed? Tog het ek op sy oudag vir Abraham ’n seun gegee!”

Hagar en Ismael word

weggestuur

8 Isak het groter geword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gereël om die geleentheid te vier.

9 Maar toe Sara opmerk hoe die seun van Abraham en Hagar vir Isak staan en lag,

10 het sy by Abraham aangedring: “Raak ontslae van die slavin en haar seun! Ek sal nie toelaat dat hy, die seun van ’n slavin, die erfporsie met my seun, Isak, deel nie!”

11 Dit het Abraham hewig ontstel, want Ismael was tog ook sy seun.

12 Maar God sê vir Abraham: “Moenie oor die seun en jou slavin ontsteld word nie. Doen soos Sara vra, want uit Isak sal jou nageslag voortgesit word.

13 Ek sal egter ook die nageslag van Hagar se seun tot ’n groot nasie maak, want hy is jou seun.”

14 Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het padkos voorberei en ’n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal.

15 Toe die water op was, het sy die seun in die koelte van ’n bos gelos.

16 Sy self het ’n entjie daarvandaan gaan sit, so ver as wat ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet. “Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,” het sy in trane gesê.

17 Maar God het die seun hoor huil. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: “Hagar, wat is verkeerd? Moenie bang wees nie! God het die seun gehoor huil daar waar hy onder die bos lê.

18 Gaan na hom toe en vertroos hom, want Ek gaan sy nageslag ’n groot nasie maak.”

19 Toe maak God Hagar se oë oop en sy sien ’n put met water. Sy het haar watersak vol gemaak en vir die seun water gegee om te drink.

20 God was met die seun. Hy het in die Paranwoestyn grootgeword en ’n knap boogskutter geword.

21 Sy ma het gesorg dat hy later met ’n Egiptiese meisie trou.

’n Verdrag met Abimelek

22 Omstreeks hierdie tyd kom Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, op besoek by Abraham. “Dit is baie duidelik dat God jou help in alles wat jy doen,” sê Abimelek.

23 “Belowe my met ’n eed in God se Naam dat jy nie oneerlik teenoor my sal optree nie, ook nie teenoor my kinders of my kleinkinders nie. Ek was lojaal aan jou; belowe nou dat jy ook aan my en hierdie land lojaal sal wees solank jy lewe.”

24 Abraham antwoord hom: “Nou goed, ek belowe!”

25 Hy het egter by Abimelek beswaar gemaak oor ’n waterput wat Abimelek se slawe met geweld van hom afgeneem het.

26 “Dis die eerste keer dat ek hiervan hoor,” sê Abimelek. “Ek het nie die vaagste benul wie dit gedoen het nie. Hoekom het jy my nie al eerder gesê nie?”

27 Abraham gee toe kleinvee en beeste vir Abimelek en hulle sluit ’n ooreenkoms met mekaar.

28 Maar toe Abraham nog sewe ooilammers eenkant sit,

29 vra Abimelek: “Wat doen jy nou met die ooilammers?”

30 Abraham antwoord: “Neem dit. Dis ’n sigbare teken dat jy erken dat ek hierdie put gegrawe het.”

31 Sedert dié voorval staan die put bekend as Berseba, die put van die eed, want dis waar hulle ’n eed teenoor mekaar afgelê het.

32 Ná die sluiting van die ooreenkoms, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na hulle tuiste in die land van die Filistyne.

33 Abraham plant toe ’n tamarisk by Berseba en het die Here, die ewige God, daar aanbid.

34 Abraham het nog vir ’n lang tyd in die land van die Filistyne gewoon.

GENESIS 22

Die Here toets Abraham

1 Na ’n tyd wou God Abraham toets. “Abraham!” roep God.

“Hier is ek,” antwoord Abraham.

2 God sê vir hom: “Neem jou seun, jou enigste seun, ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys.”

3 Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het sy donkie opgesaal vir die reis en hout gekap vir die brandoffer. Toe het hy twee slawe en ook sy seun Isak geneem om saam te gaan. Daarna het hy vertrek na die plek wat God vir hom aangedui het.

4 Op die derde dag sien Abraham die plek in die verte.

5 “Bly ’n bietjie hier by die donkie,” sê Abraham vir die slawe. “Ek en die seun sal ’n entjie verder gaan. Ons sal daar aanbid en dan terugkom.”

6 Abraham sit toe die hout op Isak se skouers. Hy het self die mes en die vuur gedra. Terwyl die twee so saamloop,

7 sê Isak: “Pa?”

“Ja, my seun?” antwoord Abraham.

“Ons het nou wel die hout en die vuur,” sê die seun, “maar waar is die lam vir die offerande?”

8 “God sal self die lam voorsien, my seun,” antwoord Abraham. So het die twee verder gestap.

9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, bou hy daar ’n altaar en sit die hout daarop neer. Hy maak Isak vas en sit hom bo-op die hout op die altaar.

10 Daarna vat Abraham die mes en lig dit op om sy seun as offer aan die Here te slag.

11 Op daardie oomblik roep die engel van die Here na hom uit die hemel: “Abraham, Abraham!”

“Ek luister,” antwoord Abraham.

12 “Moenie jou hand oplig teen die seun en hom enige kwaad aandoen nie!” sê die engel. “Nou weet Ek dat jy regtig vir God dien, want jy het selfs jou geliefde seun nie van My weerhou nie.”

13 Abraham kyk op en sien ’n ram wat met sy horings in ’n bos vassit. Hy neem die ram en offer dit as brandoffer op die altaar in die plek van sy seun.

14 Abraham het toe die plek genoem “Die Here voorsien”. Hierdie naam het sedertdien ’n spreekwoord geword: “Op die berg van die Here sal voorsien word.”

15 Die engel van die Here roep toe weer uit die hemel na Abraham:

16 “Die Here sê: ‘Omdat jy My gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun van My weerhou het nie, neem Ek ’n eed

17 dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ’n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel en die sand aan die see en hulle sal hulle vyande oorwin.

18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word. Dit sal alles gebeur omdat jy My gehoorsaam het.’”

19 Daarna het hulle na die twee slawe toe teruggekeer en almal saam Berseba toe gegaan waar Abraham gewoon het.

20 Kort hierna hoor Abraham dat Milka, sy broer Nahor se vrou, vir Nahor agt seuns in die wêreld gebring het.

21 Die oudste se naam was Us en die ander was Bus, Kemuel (die voorvader van die Arameërs),

22 Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.

23 Betuel het later die pa van Rebekka geword.

24 Benewens hierdie agt seuns by Milka, het Nahor ook nog vier kinders by sy byvrou Reüma gehad. Hulle name was Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.

GENESIS 23

Abraham koop ’n begraafplaas

1 Toe Sara 127 jaar oud was,

2 is sy by Kirjat-Arba dood. Dit is Hebron in die land Kanaän. Abraham het daar gerou en oor haar gehuil.

3 Hy het haar lyk net so gelaat, na die leiers van die Hetiete toe gegaan en gesê:

4 “Ek is maar ’n vreemdeling onder julle. Verkoop asseblief aan my ’n stuk grond waar ek my vrou kan begrawe.”

5 Die Hetiete antwoord hom:

6 “Sekerlik, want jy is ’n gerespekteerde persoon in ons omgewing. Kies vir jou die beste graf waarin jy haar kan begrawe. Nie een van ons sal daarteen beswaar maak nie.”

7 Abraham buig toe laag voor die volksleiers van die Hetiete en sê:

8 “Aangesien julle so dink, wees so vriendelik en vra Efron, seun van Soar,

9 om die spelonk van Makpela op die punt van sy grond aan my af te staan. Wat ook al die prys is waarop besluit word, ek sal dit in julle teenwoordigheid ten volle betaal sodat ek ’n begraafplaas van my eie kan besit.”

10 Efron het daar tussen die ander Hetiete gesit. Hy antwoord Abraham in die teenwoordigheid van die oudstes in die stadspoort:

11 “Nee, Meneer! Luister tog asseblief vir my. Ek sal die grot en die stuk land vir jou skenk. Ek gee dit vir jou hier in die teenwoordigheid van my mense. Gaan begrawe gerus jou vrou daar.”

12 Abraham het weer voor die leiers van die land gebuig.

13 Terwyl almal luister, sê hy vir Efron: “Nee, luister vir mý. Ek sal dit van jou koop. Laat my die volle prys betaal sodat ek my vrou daar kan begrawe.”

14 Efron antwoord vir Abraham:

15 “Meneer, luister na my. Die land is 400 sikkels silwer werd, maar wat is dit nou tussen ons? Gaan voort en begrawe jou vrou.”

16 Abraham betaal toe die prys wat Efron gevra het, soos voor almal ooreengekom. Dit was 400 sikkels silwer.

17 So het hy wettiglik die stuk grond by Makpela naby Mamre van Efron gekoop. Dit het ingesluit die grond, die grot daarop, en al die bome tot by die grens van die grond.

18 Dit het Abraham se vaste eiendom geword volgens die ooreenkoms wat voor almal in die poort van die stad gemaak is.

19 Daarop het Abraham Sara daar begrawe, in die grot van Makpela, naby Mamre. Dit is Hebron in Kanaän.

20 Abraham het op dié manier wettiglik die grond en die grot as ’n begraafplaas van die Hetiete gekoop.

GENESIS 24

’n Vrou vir Isak

1 Teen hierdie tyd was Abraham ’n baie ou man. Die Here het hom op alle terreine geseën.

2 Op ’n dag sê hy vir die oudste slaaf wat oor sy huishouding aangestel is: “Kom sit jou hand hier,

3 en lê ’n eed af by die Here, die God van die hemel en die aarde, dat jy nie sal toelaat dat my seun met een van hierdie plaaslike Kanaänitiese meisies trou nie.

4 Gaan liewer na my geboorteland en my bloedverwante en soek daar ’n vrou vir my seun Isak.”

5 Die slaaf antwoord hom: “Sê nou net ek kry nie ’n jong vrou wat bereid is om saam met my te kom nie? Mag ek Isak dan soontoe neem om weer by u bloedverwante te woon?”

6 “Nee!” waarsku Abraham. “Pas op! Jy moet my seun nooit daarheen terugneem nie.

7 Die Here, die God van die hemel wat my uit my pa se huis en my geboorteland geroep het, het met ’n eed belowe om hierdie land aan my nageslag te gee. Hy sal sy engel voor jou uitstuur en sorg dat jy daar ’n meisie kry wat met my seun sal trou.

8 Maar as sy onwillig is om saam met jou terug te kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie. Maar jy mag my seun nie daarheen terugneem nie.”

9 Die slaaf het toe ’n eed afgelê dat hy Abraham se voorskrifte sou uitvoer.

10 Hy het tien kamele gelaai met allerlei kosbare geskenke van Abraham. Daarna het hy vertrek na Mesopotamië, na die dorp waar Abraham se broer Nahor gewoon het.

11 Daar aangekom, laat hy die kamele kniel by ’n fontein net buite die dorp. Dit was laatnamiddag en tyd dat die vroue uitkom om water te kom haal.

12 “O Here, God van my meester Abraham,” het hy gebid. “Laat ek suksesvol wees, en bewys u getrouheid aan my meester Abraham.

13 Kyk, hier staan ek by hierdie fontein en die meisies is besig om hierheen te kom om water te kry.

14 Ek sal vir een van hulle water vra om te drink. As sy sê ‘sekerlik, en ek sal sommer ook vir jou kamele water gee om te drink’ – laat dit die een wees wat U gekies het as vrou vir Isak. Dit sal ’n bevestiging wees van u troue liefde teenoor my meester.”

15 Hy was nog besig om te bid toe ’n meisie met die naam Rebekka daar aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Haar pa se naam was Betuel, die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka.

16 Rebekka was ’n besonder mooi meisie en het nog nooit by ’n man geslaap nie. Sy gaan af na die water toe, maak haar kruik vol en kom weer boontoe.

17 Die slaaf hardloop oor na haar toe en vra: “Gee asseblief vir my water om te drink.”

18 “Sekerlik, Meneer, drink gerus,” antwoord sy terwyl sy dadelik die kruik laat sak.

19 Toe hy klaar gedrink het, sê sy vir hom: “Ek sal sommer ook vir u kamele water skep totdat hulle genoeg gehad het!”

20 Sy maak toe gou haar kruik leeg in die drinkbak en gaan vinnig af na die water toe. Sy het aangehou om water vir die kamele aan te dra totdat almal genoeg gedrink het.

21 Die slaaf het haar in stilte dopgehou en gewonder of dit werklik die een is wat die Here beskik het dat hy moes teëkom.

22 Toe die kamele klaar gedrink het, gee hy haar ’n goue ring van ’n halwe sikkel vir haar neus en twee armbande van tien sikkels goud.

23 “Wie se dogter is jy?” vra hy. “Het jou pa dalk plek waar ons vannag kan slaap?”

24 “My pa se naam is Betuel,” antwoord sy. “My oupa en ouma is Nahor en Milka.

25 En ja, ons het genoeg strooi en voer vir die diere, en ook slaapplek.”

26 Toe buig die man neer en aanbid die Here.

27 “Aan die Here, die God van my meester Abraham, kom toe die lof,” sê hy. “Die Here was goed vir my en getrou aan Abraham, want hy het my reguit na my meester se bloedverwante toe gelei.”

28 Die meisie hardloop toe na haar huis toe en vertel haar familie alles wat gebeur het.

29 Rebekka se broer se naam was Laban.

30 Hy het die neusring en die armbande gesien wat sy suster dra, en die storie gehoor wat sy vertel het. Daarom hardloop hy haastig na die fontein toe. Die man het nog daar by sy kamele gestaan. Laban sê vir hom:

31 “Kom saam en bly oor by ons. U is ’n geseënde van die Here. Hoekom sal u hier buitekant die dorp bly staan terwyl ek alreeds vir u slaapplek reggemaak het? Ek het ook plek reg vir u kamele.”

32 Die man gaan toe saam met Laban huis toe. Laban het die kamele afgesaal, vir hulle voer gegee en strooi om op te slaap. Hy het ook vir die slaaf en die mense by hom water gegee om te was.

33 Daarna is aandete bedien. Maar die slaaf sê: “Ek wil nie eet voordat ek vertel het waarom ek hierheen gekom het nie.”

“Goed,” sê Laban, “vertel ons wat jy kom doen het.”

34 “Ek is Abraham se slaaf,” verduidelik hy.

35 “Die Here het hom baie geseën sodat hy ryk geword het. Die Here het hom troppe kleinvee en beeste gegee, ’n fortuin aan goud en silwer, en baie slawe, kamele en donkies.

36 “Toe Sara, my meester se vrou, alreeds bejaard was, het sy geboorte gegee aan sy seun. My meester het alles wat hy besit aan hom bemaak.

37 Hy het my met ’n eed laat belowe dat ek nie sou toelaat dat Isak met een van die Kanaänitiese meisies trou waar hy woon nie.

38 ‘Gaan liewer na my familie toe en kry daar ’n vrou vir my seun,’ het hy beveel.

39 “‘Maar sê nou ek kan nie ’n meisie kry wat bereid is om saam met my terug te gaan nie?’ het ek gevra.

40 ‘Jy sal,’ het hy gesê, ‘want die Here voor wie ek lewe, sal sy engel saam met jou stuur sodat jou sending suksesvol sal wees. Jy moet beslis onder my bloedverwante, uit my pa se mense, ’n vrou vir my seun kry.

41 Maar as jy na my bloedverwante gaan en hulle weier dat sy kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie.’

42 “Vanmiddag, toe ek by die fontein aankom, het ek so gebid: ‘O Here, God van my meester Abraham, laat my tog asseblief slaag.

43 Hier staan ek nou by die fontein. Ek sal vir ’n meisie wat kom water haal, vra: ‘Gee my asseblief water om te drink!’

44 As sy vir my sê: ‘Sekerlik, drink gerus, en ek sal sommer vir jou kamele ook water gee!’ – Here, laat sý die een wees wat U bestem het as vrou vir die seun van my meester.’

45 “Ek het skaars so saggies klaar gebid, of ek sien Rebekka aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Sy het afgegaan na die fontein toe en haar kruik vol gemaak. Ek sê toe vir haar: ‘Gee asseblief vir my water om te drink.’

46 Sy het dadelik die kruik van haar skouer laat afsak sodat ek kon drink en gesê: ‘Sekerlik, Meneer, en ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Dit het sy gedoen.

47 “Toe ek haar vra wie se dogter sy is, het sy gesê: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en sy vrou Milka.’ Dis toe dat ek haar die neusring en armbande gegee het.

48 “Ek het gebuig en die Here aanbid. Ek het die Here, die God van my meester Abraham, geloof omdat Hy my op die regte pad gelei het sodat ek ’n vrou uit die familie van my meester se bloedverwante kon kry.

49 Nou wil ek graag weet: Sal julle lojaal en getrou wees aan my meester, of nie? Sê vir my ja of nee sodat ek kan weet wat my te doen staan.”

50 Laban en Betuel het geantwoord: “Dit kom van die Here af. Wat kan ons dan sê?

51 Hier is Rebekka. Neem haar en gaan. Ja, laat sy die vrou word van jou meester se seun soos die Here bepaal het.”

52 Toe hy dit hoor, het Abraham se slaaf laag afgebuig en die Here aanbid.

53 Toe haal hy silwer en goue voorwerpe uit, asook klere, en gee dit vir Rebekka. Vir haar broer en haar ma het hy duur geskenke gegee.

54 Toe eers het die slaaf en die mense saam met hom aandete geëet en daar oorgebly. Vroeg die volgende oggend sê hy: “Stuur my terug na my meester toe.”

55 “Maar ons wil hê Rebekka moet nog tien dae hier by ons bly, dan kan sy gaan,” sê haar broer en ma.

56 Maar hy sê: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my reis suksesvol gemaak. Laat my toe om na my meester terug te gaan.”

57 “Kom ons vra liewer wat Rebekka self dink,” sê hulle.

58 Hulle roep haar toe en vra: “Is jy gewillig om saam met hierdie man te gaan?”

“Ja, ek wil gaan,” antwoord sy.

59 Hulle het Rebekka gegroet en haar saam met Abraham se slaaf en sy reisgenote laat gaan. Die vrou wat haar van kleins af opgepas het, het ook saam met haar gegaan.

60 Hulle het haar geseën met die volgende seën:

“Ons suster, mag jou nageslag

tienduisende word;

mag jou afstammelinge

die stede van hulle vyande oorwin.”

Isak trou met Rebekka

61 Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en saam met Abraham se slaaf vertrek.

62 Intussen het Isak teruggekeer huis toe van Lagai-Roï-fontein. Sy huis was in die Negev.

63 Teen laatnamiddag het Isak in die veld gaan stap. Hy kyk op en sien ’n klomp kamele aankom.

64 Rebekka kyk ook op, sien hom en klim van die kameel af.

65 “Wie is daardie man wat deur die veld na ons toe aankom?” vra sy vir die slaaf.

Toe hy sê: “Dit is my meester,” bedek sy haar gesig met haar sluier.

66 Die slaaf het Isak alles vertel wat met hom gebeur het.

67 Daarna het Isak Rebekka na sy ma se tent gebring en sy het sy vrou geword. Hy was baie lief vir haar en sy was vir hom ’n groot troos ná die dood van sy ma.

GENESIS 25

Die dood van Abraham

1 Abraham het weer getrou. Die vrou se naam was Ketura.

2 Sy het vir hom die volgende kinders in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag.

3 Joksan se twee seuns was Skeba en Dedan. Die inwoners van Assur, Letus en Leüm was die nageslag van Dedan.

4 Midian se seuns was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense was nasate van Abraham en Ketura.

5 Abraham het alles wat hy besit het aan sy seun Isak nagelaat.

6 Voor sy dood het hy geskenke vir die seuns van sy byvroue gegee en hulle ooswaarts, wég van Isak af, na die land Kedem toe gestuur.

7 Abraham het 175 jaar oud geword.

8 Hy het op ’n rype ouderdom na ’n lang en vol lewe gesterf.

9 Sy seuns Isak en Ismael het hom in die grot van Makpela begrawe. Dit is naby Mamre en op die grond van Efron, seun van Sogar, die Hetiet.

10 Dit is die stuk grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het en waar hy sy vrou Sara begrawe het.

11 Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het by Lagai-Roï-fontein in die Negev gaan woon.

Ismael se nageslag

12 Nou volg die stamboom van die nageslag van Ismael, die seun van Abraham en Hagar, Sara se Egiptiese slavin.

13 Dit is die name van die seuns en die familiegroepe van Ismael se nageslag. Die oudste seun was Nebajot, gevolg deur Kedar, Adbeël, Mibsam,

14 Misma, Duma, Massa,

15 Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16 Hierdie is die seuns van Ismael en ook die name van hulle nedersettings en blyplekke – twaalf heersers van die stamme wat na hulle vernoem is.

17 Ismael was 137 jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is.

18 Ismael se nageslag was oor die land versprei vanaf Gawila tot by Sur, oos van Egipte, in die rigting van Assur. Die familiegroepe het in konflik met mekaar gelewe.

Die geboorte van Jakob en Esau

19 Nou volg die besonderhede van die nageslag van Isak, die seun van Abraham.

20 Isak was 40 jaar oud toe hy met Rebekka getrou het. Sy was die dogter van Betuel, die Arameër uit Paddan-Aram en die suster van die Arameër Laban.

21 Rebekka was kinderloos. Daarom het Isak by die Here gepleit vir ’n kind. Die Here het sy gebed verhoor en sy vrou het swanger geword.

22 Die twee kinders het in haar teen mekaar gestamp. Sy het gewonder: “Hoekom gebeur so iets met my?” Sy raadpleeg toe die Here.

23 Die Here antwoord haar: “Die twee seuns wat jy verwag, sal twee nasies word wat teen mekaar wedywer. Die een sal sterker wees as die ander. Die nageslag van die oudste sal die nageslag van die jongste dien.”

24 Toe die tyd aanbreek, is die tweeling gebore.

25 Die eerste was by geboorte baie rooierig. Hy was so van die hare oortrek dat dit soos ’n harige kleed gelyk het. Daarom het hulle hom Esau genoem.

26 Sy broer is ná hom gebore terwyl hy die hak van Esau vashou. Toe noem hulle hom Jakob. Isak was 60 jaar oud toe die tweeling gebore is.

Esau verkoop sy eersgeboorte-

reg

27 Die seuns het groter geword. Esau was ’n bekwame jagter, iemand van die veld. Jakob, weer, het verkies om rustig tuis te bly.

28 Isak het ’n voorkeur vir Esau gehad oor die wildsvleis wat hy vir hom gebring het. Rebekka weer, was liewer vir Jakob.

29 Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het doodmoeg van die veld af teruggekom.

30 Esau sê toe vir Jakob: “Gee my tog van daardie rooi goed, want ek wil doodgaan van die honger.” Dis hoe Esau sy ander naam, Edom – wat “rooi” beteken – gekry het.

31 Jakob antwoord hom: “Dis alles goed en wel, maar dan moet jy jou regte as oudste seun in ruil daarvoor gee.”

32 “Wat maak dit eintlik saak,” antwoord Esau, “ek is tog op die punt om van honger te sterf. Wat beteken my eersgeboortereg dan vir my?”

33 Jakob dring egter daarop aan: “Lê ’n eed af dat jou regte nou myne word.” Esau het toe ’n eed afgelê en so sy eersgeboortereg as oudste aan Jakob, die jongste, verkoop.

34 Toe gee Jakob vir Esau brood en sop. Hy het dit geëet en gedrink en weggegaan asof sy eersgeboortereg vir hom niks beteken nie.

GENESIS 26

Isak gee voor dat sy vrou sy

suster is

1 ’n Swaar hongersnood het weer die land getref, soos in die tyd van Abraham. Daarom het Isak verskuif na Gerar waar Abimelek, die koning van die Filistyne, gewoon het.

2 Daar verskyn die Here aan Isak en sê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly hier waar Ek vir jou sê.

3 Bly in hierdie land as ’n uitlander. Ek sal met jou wees en jou seën. Ek sal hierdie hele land aan jou en jou nageslag gee, soos Ek aan jou pa, Abraham, beloof het.

4 Ek sal jou nageslag so ontelbaar maak soos die sterre in die lug. Ek sal die hele land aan hulle gee. Jou nageslag sal die draer wees van seën vir al die nasies op die aarde.

5 Ek sal dit doen omdat Abraham na My geluister het en gehoorsaam was aan al my vereistes, bevele, voorskrifte en gebooie.”

6 Isak het dus in Gerar gebly.

7 Toe die inwoners navraag doen oor Rebekka, sê hy: “Sy is my suster.” Hy was bang hulle sal hom dalk doodmaak as hulle weet dis sy vrou, want Rebekka was baie mooi.

8 Na hulle al ’n tyd lank daar gebly het, het Abimelek, die koning van die Filistyne, eendag deur die venster gesien hoe Isak vir Rebekka liefkoos.

9 Abimelek het Isak laat roep en sê vir hom: “Sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”

“Dis omdat ek bang was iemand maak my dood om haar in die hande te kry,” antwoord Isak.

10 “Hoe kon jy dit aan ons doen?” sê Abimelek. “Iemand kon maklik jou vrou geneem en by haar geslaap het. Dan sou jy skande oor ons gebring het!”

11 Abimelek het toe in die openbaar gewaarsku: “Enigeen wat hierdie man of sy vrou kwaad aandoen, sal met die dood gestraf word.”

Twis met die bure

12 Daardie jaar het Isak ’n baie groot oes gehad. Hy het honderd maal meer geoes as wat hy geplant het, want die Here het hom geseën.

13 Hy het baie ryk geword en sy rykdom het aanhou vermeerder.

14 Hy het groot troppe kleinvee en beeste gehad en baie slawe. Die Filistyne het daaroor jaloers geword op hom.

15 Hulle het Isak se putte met grond toegegooi. Dit was putte wat sy pa, Abraham, se slawe nog in sy tyd gegrawe het.

16 Abimelek sê toe vir Isak: “Gaan weg van ons, want jy het sterker as ons geword!”

17 Daarom het Isak na Gerarlaagte verskuif en daar gaan woon.

18 Hy het die putte wat sy pa gegrawe het, maar wat die Filistyne ná Abraham se dood toegegooi het, weer oopgegrawe. Isak het dieselfde name vir die putte gegee as wat Abraham vir hulle gegee het.

19 Sy skaapwagters het ook in Gerarlaagte gegrawe en ’n sterk fontein gekry.

20 Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. “Dis ons water,” het hulle gesê en met Isak se skaapwagters rusie gemaak. Isak noem toe die put Esek omdat hulle daaroor rusie gemaak het.

21 Isak se mense het toe ’n ander put gegrawe, maar die Filistyne het ook daaroor beswaar gemaak. Isak noem dit toe Sitna.

22 Hy het weer verskuif en nog ’n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, “want,” het hy gesê, “uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees.”

23 Isak het daarvandaan na Berseba toe getrek.

24 Met sy aankoms daar het die Here die aand aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën. Ek sal jou nageslag baie maak en hulle sal ’n groot nasie word. Ek sal dit doen omdat Ek dit vir Abraham, my dienskneg, belowe het.”

25 Toe bou Isak daar ’n altaar en aanbid die Here. Hy het daar kamp opgeslaan en sy slawe het daar ’n put gegrawe.

’n Ooreenkoms met Abimelek

26 Op ’n dag kry Isak besoekers uit Gerar. Dit was koning Abimelek saam met sy raadgewer Agussat en Pikol, die bevelvoerder van sy leër.

27 “Hoekom het julle na my toe gekom?” vra Isak hulle. “Julle haat my en het my van julle af weggestuur.”

28 Hulle antwoord hom: “Dis vir ons duidelik dat die Here met jou is. Daarom het ons gekom om ’n verdrag met jou te sluit.

29 Lê ’n eed af dat jy ons nie kwaad sal aandoen nie, net soos ons jou nie skade berokken het nie. Ons het jou net goed behandel en jou in vrede weggestuur. En kyk hoe seën die Here jou!”

30 Isak het ’n groot fees voorberei en hulle het geëet en gedrink.

31 Vroeg die volgende oggend het hulle onder eed ’n verdrag gesluit. Isak het hulle toe in vrede laat gaan.

32 Daardie selfde dag kom rapporteer Isak se slawe oor ’n put wat hulle gegrawe het. “Ons het water gekry!” het hulle gesê.

33 Isak noem toe die put Seba. Daarom is die naam van die stad nou nog Berseba, “put van die eed”.

34 Toe hy 40 jaar oud was, het Esau met Jehudit, die dogter van Beëri, ’n Hetiet, getrou. Hy het ook met Basemat, die dogter van Elon, ook ’n Hetiet, getrou. Esau se twee vroue het egter vir Isak en Rebekka baie verdriet besorg.

GENESIS 27

Jakob bedrieg sy pa

1 Toe Isak baie oud was en blind begin word het, roep hy Esau, die oudste seun, en sê: “My seun.”

“Hier is ek,” antwoord Esau.

2 “Ek is reeds ’n ou man,” sê Isak. “Ek kan enige dag sterf.

3 Vat jou boog en pylkoker, gaan veld toe en skiet vir my ’n wildsbok.

4 Maak die vleis gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my om te eet. Dan sal ek jou seën voordat ek sterf.”

5 Maar Rebekka het die gesprek gehoor. Toe Esau uitgaan om te gaan jag,

6 sê sy vir haar seun Jakob: “Ek het gehoor jou pa vra vir Esau

7 om wildsvleis te kry en gaar te maak soos hy daarvan hou. Hy wil Esau seën in die teenwoordigheid van die Here voordat hy sterf.

8 Nou, my seun, luister na my en doen presies soos ek sê.

9 Gaan na die vee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan maak ek hulle gaar soos jou pa daarvan hou.

10 Dan neem jy dit vir hom sodat hy dit kan eet en jóú kan seën voor hy sterf.”

11 “Maar, Ma!” antwoord Jakob. “My broer Esau is harig en my vel is glad!

12 Wat sal gebeur as Pa aan my vat? Hy sal weet dat ek besig is om hom te bedrieg. Dan sal hy my vervloek pleks van seën.”

13 “Laat die vloek dan op my neerkom, my seun,” sê Rebekka. “Maak nou soos ek sê en gaan haal die bokkies.”

14 Jakob het sy ma se opdragte uitgevoer en die twee bokkies gebring. Sy het hulle gevat en ’n heerlike vleisgereg klaargemaak, net soos Isak daarvan hou.

15 Toe vat sy Esau se beste klere in die huis, en laat Jakob dit aantrek.

16 Van die harige vel van die bokkies draai sy om sy arms en om sy nek.

17 Toe gee sy hom die geurige vleisgereg en ook vars gebakte brood.

18 Jakob het dit na Isak toe geneem en gesê: “Pa?”

“Ja, my seun,” antwoord hy. “Wie is dit, Esau of Jakob?”

19 Jakob antwoord hom: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gemaak soos Pa gesê het. Kom sit regop en eet van die wildsvleis. Dan kan Pa my seën.”

20 Maar Isak vra: “Hoe is dit dat jy dit so gou kon doen, my seun?”

“Omdat die Here, u God, dit oor my pad laat kom het!” antwoord Jakob.

21 Isak sê toe vir Jakob: “Kom ’n bietjie hier dat ek aan jou kan vat om seker te maak jy is regtig Esau.”

22 Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom en sê: “Die stem klink soos Jakob s’n, maar die hande is dié van Esau.”

23 Hy kon Jakob nie herken nie omdat Jakob se hande net so harig soos dié van Esau gevoel het. Isak seën toe vir Jakob.

24 “Is jy regtig my seun Esau?” vra hy.

“Natuurlik, Pa!” antwoord Jakob.

25 Toe sê Isak: “Bring vir my die wildsvleis sodat ek dit kan eet. Dan sal ek jou my seën gee.” Jakob het dit vir hom gebring en Isak het geëet. Hy het ook die wyn gedrink wat Jakob bedien het. Toe sê Isak:

26 “Kom nader en soen my, my seun.”

27 Jakob gaan toe nader en soen hom. Toe Isak sy klere ruik, was hy tevrede en het hy sy seun geseën. Hy het gesê:

“Die reuk van my seun is die geur

van die veld wat die Here geseën het.

28 Mag God vir jou die dou van die

hemel

en die vrugbaarheid van die aarde

gee

sodat jy goeie oeste van graan en wyn

sal hê.

29 Mag baie nasies jou dien.

Jy sal heers oor jou familie

en jou broers sal voor jou buig.

Almal wat jou vervloek,

sal self vervloek wees,

en almal wat jou seën,

sal ook geseën word.”

30 Nadat sy pa hom geseën het, was Jakob skaars weg van Isak af, of sy broer Esau kom terug van die jag.

31 Hy het ’n lekker gereg gaargemaak en dit vir Isak gebring. Hy sê toe: “Sit regop, Pa, en eet van my wildsvleis sodat Pa my kan seën.”

32 “Wie is jy dan?” vra Isak.

“Maar dis ek, Esau, Pa se oudste seun!” antwoord hy.

33 Isak was baie ontsteld en vra: “Nou wie was dit dan wat so pas vir my wildsvleis gegee het? Ek het dit reeds geëet en hom geseën voor jy gekom het en hy sal onherroeplik geseën bly.”

34 Toe Esau dit hoor, het hy hard en bitter geskree. “Ag, Pa, seën my tog ook!” het hy gepleit.

35 Maar Isak sê: “Jou broer was hier en hy het my bedrieg. Hy het reeds jou seën ontvang.”

36 Esau sê: “Dis geen wonder sy naam is Jakob nie, want dis nou al die tweede keer dat hy my bedrieg het. Eers het hy my eersgeboortereg gevat en nou het hy my seën gesteel. Ai, het Pa dan nie eers één seën vir my oor nie?”

37 Isak antwoord Esau: “Ek het Jakob jou meerdere gemaak en al sy broers sal aan hom onderdanig wees. Ek het hom volop graan en wyn beloof. Wat bly nou nog oor?”

38 Esau het aanhou pleit: “Het Pa dan net één seën? Pa, seën my tog ook!” Hy het bitterlik gehuil.

39 Sy pa sê toe vir hom:

“Jy sal lewe weg van die rykdom

van die aarde

en die dou van die hemel.

40 Jy sal ’n bestaan maak uit oorlog.

Jy sal ’n tyd lank jou broer dien,

maar as jy jou daarteen verset,

sal jy loskom van die oorheersing.”

Jakob vlug na Paddan-Aram

41 Esau het Jakob gehaat omdat hy hom van sy seën beroof het. Hy sê toe vir homself: “My pa sal nie meer lank lewe nie. Wanneer hy sterf, maak ek vir Jakob dood.”

42 Esau se uitlatings is vir Rebekka oorvertel. Sy het vir Jakob laat roep en gesê: “Esau dreig om jou dood te maak.

43 Luister nou, my seun. Vlug na jou oom Laban in Haran.

44 Bly daar totdat jou broer se woede bedaar het.

45 Wanneer hy vergeet het van wat jy gedoen het, sal ek jou laat weet om jou te kom haal. Hoekom moet ek albei van julle op een dag verloor?”

46 Rebekka praat toe met Isak: “Ek is nou moeg van hierdie plaaslike Hetitiese vroue. Ek sal liewer sterf as dat Jakob ook met een van hulle trou.”

GENESIS 28

1 Isak roep toe vir Jakob. Hy seën hom en sê: “Jy moenie met enige van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie.

2 Gaan eerder na Paddan-Aram toe, na die huis van jou oupa Betuel, en trou met een van jou oom Laban se dogters.

3 Mag God die Almagtige jou seën en vir jou baie kinders gee. Mag Hy jou ’n groot nasie maak.

4 Jy en jou nageslag sal die beloftes aan Abraham ontvang. Hierdie land waar ons nou as vreemdelinge woon, sal die eiendom van jou nageslag word, want God het dit reeds aan Abraham gegee.”

5 Isak het toe vir Jakob weggestuur. Hy het na Paddan-Aram toe vertrek, na sy ma se broer Laban, die seun van Betuel die Arameër.

6 Esau het geweet dat sy pa vir Jakob geseën en Paddan-Aram toe gestuur het om daar ’n vrou te kry. Toe hy Jakob geseën het, het hy hom gewaarsku: “Jy moenie met ’n Kanaänitiese meisie trou nie.”

7 Hy het ook gehoor dat Jakob gehoorsaam was aan sy ouers en na Paddan-Aram toe vertrek het.

8 Dit was vir Esau duidelik dat sy pa nie van die plaaslike Kanaänitiese vroue gehou het nie.

9 Daarom gaan hy na sy oom Ismael toe en trou met Magalat, dogter van Abraham se seun Ismael, en suster van Nebajot. Dit was benewens die vroue wat hy reeds gehad het.

Die Here verskyn aan Jakob by

Bet-El

10 Jakob is van Berseba af weg en het na Haran toe vertrek.

11 Teen sononder kom hy by ’n geskikte plek aan waar hy kon oornag. Hy neem toe een van die klippe van die plek en sit dit by sy kop neer. Toe gaan lê hy om te slaap.

12 Dié nag droom hy dat hy ’n leer sien wat op die aarde staan met die bopunt in die hemel. Engele van God het daarmee op en af geklim.

13 Die Here het aan die bokant van die leer gestaan en vir hom gesê: “Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham en die God van Isak. Die grond waarop jy lê, gee Ek vir jou en jou nageslag.

14 Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde. Hulle sal versprei na die ooste en die weste, en na die noorde en die suide. Al die mense op aarde sal deur middel van jou nageslag geseën word.

15 Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou weer terugbring na hierdie land toe. Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.”

16 Toe Jakob wakker word, sê hy: “Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie eers geweet nie!”

17 Hy was egter ook bang en het gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek! Dis niks anders nie as die woning van God, die poort na die hemel!”

18 Die volgende oggend staan hy vroeg op. Hy neem die klip by sy kop en sit dit regop as ’n gedenkteken. Daarna gooi hy olie daarop uit.

19 Hy noem die plek toe Bet-El, “huis van God”. Die dorp daar naby was voorheen bekend as Lus.

20 Toe lê Jakob ’n eed af en sê: “As U, o God, by my sal wees, my op hierdie reis sal beskerm en vir my kos en klere gee

21 sodat ek weer veilig terugkom by my ouerhuis, dan sal U, Here, my God wees.

22 Hierdie gedenkteken sal ’n plek wees waar God aanbid word. Van alles wat U vir my gee, sal ek vir U ’n tiende afstaan.”

GENESIS 29

Jakob kom in Paddan-Aram

aan

1 Jakob het sy reis voortgesit en uiteindelik in die land van die mense in die ooste aangekom.

2 Op ’n afstand sien hy toe onverwags ’n put in die veld en tot sy verbasing sien hy ook drie troppe kleinvee wat daar lê en wag om te drink! ’n Swaar klip was oor die opening van die put.

3 Dit was die gebruik om te wag totdat al die troppe by die put is voordat hulle die klip wegrol. Nadat die vee gedrink het, rol hulle die klip weer terug oor die put.

4 Jakob gaan praat toe met die skaapwagters en vra: “Waar woon julle, vriende?”

“In Haran,” sê hulle.

5 “Ken julle iemand met die naam Laban, die kleinseun van Nahor?”

“O ja, ons ken hom!” antwoord hulle.

6 “Hoe gaan dit met hom?” vra Jakob.

“Dit gaan goed met hom,” antwoord hulle hom. “Kyk, hier kom sy dogter Ragel juis nou aan met die vee.”

7 “Die son sit nog hoog. Dis nog nie tyd om hulle in die kraal te jaag nie. Gee vir die vee water sodat hulle kan teruggaan om te wei,” sê Jakob.

8 “Ons laat hulle nie drink voordat al die troppe en hulle skaapwagters hier is nie,” antwoord hulle. “Dan eers haal ons die klip van die put af.”

9 Terwyl hulle besig was om te praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee wat sy opgepas het.

10 Toe Jakob sy niggie Ragel met haar pa se kleinvee sien, het hy na die put toe gegaan, die klip weggerol om sy oom se vee laat drink.

11 Daarna soen Jakob vir Ragel, terwyl die trane oor sy wange loop.

12 Hy verduidelik toe vir Ragel dat hy haar neef is, die seun van haar tante Rebekka. Ragel hardloop toe vinnig en gaan vertel dit vir haar pa Laban.

13 Toe Laban van Jakob hoor, het hy haastig uitgekom om hom te ontmoet. Hy het hom omhels en gesoen. Laban het hom saamgevat huis toe waar Jakob sy verhaal aan hom vertel het.

14 “Dink net,” roep Laban uit. “Jy is my eie bloedfamilie!”

Jakob trou met Lea en met

Ragel

Na hy ongeveer ’n maand lank by hom gebly het,

15 sê Laban vir hom: “Jy hoef darem nie verniet vir my te werk net omdat ons familie is nie. Wat wil jy as betaling hê?”

16 Laban het twee dogters gehad. Lea was die oudste en Ragel die jongste.

17 Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was baie aantreklik en het ’n pragtige figuur gehad.

18 Jakob was verlief op Ragel. Daarom sê hy: “Ek sal sewe jaar werk om Ragel, die jongste dogter, as vrou te kry.”

19 “Afgespreek!” sê Laban. “Ek sal haar eerder vir jou gee as vir iemand buite die familiekring. Bly by ons.”

20 Jakob het toe sewe jaar gewerk om Ragel as vrou te kry. Maar hy het haar so liefgehad dat dit vir hom soos ’n paar dae was.

21 Toe die tyd verby was, sê Jakob vir Laban: “Ek het my deel van die ooreenkoms nagekom. Gee haar nou vir my sodat ons kan trou.”

22 Laban nooi toe almal in die omgewing uit om saam die bruilof te kom vier.

23 Maar daardie nag, toe dit donker was, neem Laban vir Lea na Jakob toe; en hy het by haar geslaap.

24 Laban het Silpa as persoonlike slavin vir Lea gegee.

25 Toe Jakob die volgende oggend wakker word, sien hy met skok dis Lea! “U het my bedrieg!” sê Jakob vir Laban. “Ek het sewe jaar lank vir u gewerk om Ragel te kry! Hoekom het u my verkul?”

26 “Dis nie ons gebruik dat ’n jonger dogter voor die oudste een trou nie,” antwoord Laban.

27 “Wag totdat die huweliksweek verby is, dan gee ek Ragel ook vir jou op voorwaarde dat jy nog ’n verdere sewe jaar vir my werk.”

28 Jakob het ingestem. ’n Week na die huwelik met Lea het Laban ook Ragel as vrou vir hom gegee.

29 Laban het Bilha as persoonlike slavin vir Ragel gegee.

30 Jakob het toe ook by Ragel gaan slaap. Hy het haar baie liewer gehad as vir Lea en nog ’n verdere sewe jaar vir Laban gewerk.

Jakob se vroue en sy kinders

31 Omdat Lea minder geliefd was, het die Here vir haar kinders gegee, maar Ragel was kinderloos.

32 Lea het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die Here het my verdriet gesien; dalk sal my man my nou liefhê.”

33 Sy het weer swanger geword en nog ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Simeon genoem, “want,” het sy gesê, “die Here het gehoor dat ek minder geliefd is. Daarom het Hy my nog ’n seun gegee.”

34 Sy het nog ’n keer swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Levi genoem, “want,” het sy gesê, “my man sal nou sekerlik aan my geheg raak omdat ek nou al vir hom drie seuns gegee het!”

35 Sy het nog ’n keer swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Juda genoem, “want,” het sy gesê, “nou sal ek die Here prys!” Daarna het sy nie meer kinders gehad nie.

GENESIS 30

1 Toe Ragel besef dat sy nie kinders kan kry nie, het sy jaloers geword op haar suster. “As jy my nie kinders gee nie, sal ek sterf!” sê sy vir Jakob.

2 Jakob het baie kwaad geword vir Ragel. “Is ek dan God?” vra hy. “Hy verhoed dat jy kinders kry!”

3 Ragel sê toe vir hom: “Gaan slaap by my slavin Bilha. Sy sal namens my vir jou ’n kind in die wêreld bring.”

4 So het Ragel Bilha as vrou vir Jakob gegee en Jakob het by haar gaan slaap.

5 Bilha het swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun.

6 Ragel het hom Dan genoem, want, het sy gesê: “God het in my guns uitspraak gelewer. Hy het my versoek gehoor en vir my ’n seun gegee.”

7 Bilha het weer swanger geword en het aan ’n tweede seun geboorte gegee.

8 Ragel het hom Naftali genoem, want sy het gesê: “Ek is in ’n hewige stryd met my suster gewikkel, maar nou begin ek wen!”

9 Intussen het Lea besef dat sy nie meer swanger gaan word nie. Toe gee sy haar slavin Silpa as vrou vir Jakob.

10 Daarna het Silpa ook geboorte gegee aan ’n seun vir Jakob.

11 Lea het hom Gad genoem, want sy het gesê: “Hoe gelukkig is ek!”

12 Daarna het Silpa geboorte gegee aan ’n tweede seun.

13 Lea het hom Aser genoem, want sy het gesê: “Watter vreugde het my te beurt geval! Die ander vroue sal my sekerlik as gelukkig beskou!”

14 Eendag het Ruben tydens die oestyd op liefdesappels in die veld afgekom. Hy het dit vir sy ma, Lea, gebring. Ragel pleit toe by Lea om daarvan vir haar te gee.

15 Maar Lea het haar vererg en gesê: “Is dit nie genoeg dat jy my man gevat het nie? Nou wil jy nog boonop my seun se liefdesappels ook vat?”

Ragel sê toe vir haar: “Hy kan vannag by jou slaap in ruil vir die liefdesappels.”

16 Daardie aand, toe Jakob uit die veld tuiskom, gaan Lea hom tegemoet. “Jy moet vanaand by my slaap,” sê sy. “Ek het daarvoor betaal met die liefdesappels van my seun.” Jakob het toe by haar geslaap.

17 God het haar gebede verhoor. Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n vyfde seun.

18 Sy het hom Issaskar genoem, want sy het gesê: “God het my beloon omdat ek my slavin vir my man as vrou gegee het.”

19 Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n sesde seun.

20 Sy het hom Sebulon genoem, want sy het gesê: “God het ’n goeie geskenk vir my gegee. Nou sal my man by my kom bly, want ek het vir hom al ses seuns gegee.”

21 Later het sy ook aan ’n dogter geboorte gegee en haar Dina genoem.

22 Uiteindelik het God aan Ragel gedink en haar gebede verhoor deur vir haar kinders te gee.

23 Sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. “God het my skande weggeneem,” het sy gesê.

24 Sy het hom Josef genoem, “want,” het sy gesê, “mag die Here my nog ’n seun gee.”

Jakob laat sy rykdom

vermeerder

25 Kort nadat Josef gebore is, sê Jakob vir Laban: “Stel my vry, want ek wil na my geboorteland toe teruggaan.

26 Laat my toe om met my vroue en kinders te vertrek. Pa weet dat ek ten volle vir hulle betaal het deur vir Pa te werk.”

27 “Moenie nou al gaan nie,” sê Laban. “Ek het agtergekom dat die Here my geseën het omdat jy by my is.

28 Hoeveel moet ek jou betaal vir jou dienste? Sê net, en ek sal dit betaal.”

29 Jakob antwoord: “Pa weet hoe hard ek vir Pa gewerk het en hoe Pa se troppe vee groter geword het.

30 Pa het maar min gehad toe ek hier gekom het, maar sedertdien het Pa se rykdom baie toegeneem. Die Here het Pa geseën in alles wat ek vir Pa onderneem het. Maar nou, wat van my? Wanneer kan ek vir my eie gesin voorsiening maak?”

31 “Watter vergoeding wil jy hê?” vra Laban weer.

Jakob antwoord hom: “Moenie my iets betaal nie. As u my die volgende toelaat, sal ek nog steeds Pa se vee oppas.

32 Gee my vandag al die skape en bokke wat bont of gevlek is saam met die swart gekleurde skape.

33 Dít sal my beloning wees. Dit sal vir Pa maklik wees om te sien of ek eerlik is of nie. As Pa onder my vee enige skape of bokke kry wat nie bont is nie, sal Pa weet dat ek hulle van Pa gesteel het.”

34 “Dis goed,” sê Laban. “Laat dit wees soos jy voorgestel het.”

35 Daardie selfde dag nog het Laban veld toe gegaan en al die bokramme wat bont en gevlek is, al die ooie wat gevlek en bont is, alles met wit kolle en ook die swart skape uitgekeer. Hy het hierdie vee aan sy seuns gegee om op te pas.

36 Hy het hulle wég van Jakob af verskuif, drie dae se trek ver. Jakob self het agtergebly en Laban se vee opgepas.

37 Jakob het toe vars lote van populiere, amandels en plataanbome geneem en stroke van die bas afgetrek sodat daar wit strepe daarop was.

38 Toe sit hy die lote wat hy afgestroop het in die waterbakke waar Laban se vee kom drink het. Wanneer die ooie op hitte was en hulle kom drink, is hulle voor die lote gedek.

39 Wanneer hulle voor die wit-gestreepte lote gedek is, was al hulle lammers gestreep, bont en gevlek.

40 Jakob het hierdie lammers uit Laban se kuddes uitgekeer. Wanneer die ander op hitte was, het hy hulle gedraai sodat die kuddes die gestreepte en swart ramme in Laban se kudde sien. Op hierdie manier het hy sy eie kudde uit Laban s’n opgebou.

41 Wanneer die sterker ooie op hitte was, het Jakob die gestroopte lote voor hulle neergesit.

42 Hy het dit egter nie met die swakker ooie gedoen nie. Die swakker lammers het dus aan Laban behoort en die sterker lammers aan Jakob.

43 As gevolg hiervan het Jakob se kuddes vinnig vermeerder. Hy het al ryker geword, met baie slawe, kamele en donkies.