2 SAMUEL 15

Die opstand van Absalom

1 Kort hierna het Absalom vir hom ’n koets en perde aangeskaf. 50 man het voor hom uit gehardloop.

2 Hy het elke oggend vroeg opgestaan en by die ingang na die stad gaan stelling inneem. Wanneer mense na die koning toe daar verbykom om uitspraak oor ’n saak te kry, het Absalom hulle gevra: “Van watter stad kom jy?” As hy sê dat hy uit een van die stamme van Israel kom,

3 sê Absalom: “Jy het ’n sterk en regverdige saak, maar daar is niemand om namens die koning na jou te luister nie.”

4 Dan voeg hy by: “As ek maar as regter in die land aangestel was, kon elkeen met ’n regsgeding of ’n klagte na my toe kom en ek sou regverdige uitsprake lewer!”

5 Wanneer iemand dan voor hom wil buig, het hy sy hand gevat, hom omhels en hom gesoen.

6 So het Absalom gemaak met elkeen wat vir regspraak na die koning toe gekom het. Op hierdie manier het hy die toegeneentheid van almal in Israel gewen.

7 Na vier jaar sê Absalom vir die koning: “Laat my toe om na Hebron toe te gaan om daar my gelofte vir die Here te gaan betaal.

8 Terwyl ek in Gesur was, het ek belowe dat ek die Here sal aanbid as Hy my na Jerusalem toe terugbring.”

9 “Gaan gerus maar,” antwoord die koning hom.

Absalom het toe na Hebron toe gegaan.

10 Terwyl hy daar was, stuur hy boodskappers na al die stamme van Israel en sê: “Sodra julle die trompette hoor, moet julle sê: ‘Absalom is in Hebron tot koning gekroon.’”

11 Hy het 200 gaste uit Jerusalem saamgeneem. Hulle het niks geweet van die hele plan nie.

12 Hy het ook vir Agitofel, een van Dawid se raadgewers wat in Gilo gewoon het, laat haal waar hy besig was om te offer. Kort voor lank het al hoe meer mense hulle by Absalom aangesluit sodat die sameswering al groter afmetings aangeneem het.

Dawid vlug uit Jerusalem

13 Daar het spoedig ’n boodskapper in Jerusalem aangekom en koning Dawid meegedeel: “Die hele Israel het in ’n sameswering teen u by Absalom aangesluit!”

14 “Kom, ons moet onmiddellik gaan,” sê Dawid aan sy ondersteuners by die hof, “anders sal ons nie van Absalom kan ontvlug nie. Maak gou voordat hy ons inhaal en ’n ramp oor ons bring en die stad met die swaard oorweldig.”

15 “Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle.

16 Die koning en sy huishouding het toe dadelik per voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg.

17 Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan.

18 Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat.

Terwyl hulle voor die koning verbytrek,

19 vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap.

20 Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die Here se goedheid en trou met jou wees.”

21 Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die Here leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.”

22 Dawid het geantwoord: “Goed dan, kom saam!” Ittai en sy 600 manne en hulle families het toe saamgegaan.

23 Daar was groot droefheid in die stad en daar is hardop gehuil toe die koning en sy volgelinge verbytrek. Hulle het deur die Kidronvallei gegaan op pad na die woestyn toe.

24 Sadok en al die Leviete wat die ark van die verbond van God dra, was ook by. Hulle het die ark van God langs die pad neergesit totdat almal uit die stad was.

25 Dawid beveel toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad toe. As die Here my genadig is, sal Hy my terugbring om weer die ark en die heiligdom te sien.

26 Maar as Hy sê: ‘Ek is nie met jou tevrede nie,’ sal ek aanvaar wat Hy ook al besluit.”

27 Die koning sê toe vir Sadok die priester: “Kyk, jy is mos ’n siener! Gaan vreedsaam terug stad toe, jy en jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar.

28 Jy sal sien dat ek by die driwwe na die woestyn toe wag totdat ek van julle hoor wat in Jerusalem gebeur.”

29 Sadok en Abjatar het toe die ark van God na Jerusalem toe teruggeneem en daar gebly.

30 Dawid het met die pad geloop wat teen die Olyfberg opgegaan het en het die hele tyd gehuil. Sy kop was toegemaak en hy was kaalvoet as ’n teken van rou. Die mense saam met hom het ook hulle koppe toegemaak en gehuil terwyl hulle teen die skuinste opgegaan het.

31 Iemand het vir Dawid gesê: “Agitofel, u raadgewer, is deel van Absalom se sameswering.” Toe bid Dawid: “O Here, dwarsboom tog die raad van Agitofel!”

32 Toe Dawid die kruin bereik, het hy daar voor God gebuig. Gusai die Erekiet het onverwags daar aangekom met klere wat geskeur is en grond op sy kop.

33 Maar Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, sal jy vir my ’n las wees.

34 Gaan terug na Jerusalem toe en sê vir Absalom: ‘Ek is u onderdaan, Koning. Ek was eers in u pa se diens, maar nou is ek tot u diens.’ Dan kan jy Agitofel se raad dwarsboom.

35 Sadok en Abjatar, die priesters, is daar tot jou beskikking. Sê vir hulle watter planne in die paleis beraam word.

36 Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar. Enigiets wat jy hoor, kan jy deur middel van hulle vir my laat weet.”

37 Dawid se vriend Gusai het in Jerusalem aangekom net toe Absalom die stad binnekom.

2 SAMUEL 16

Dawid gee Mefiboset se eiendom

vir Siba

1 Dawid was net oor die kruin van die heuwel toe Siba, die bestuurder van Mefiboset se eiendom, hom onverwags teëkom. Hy het twee donkies by hom gehad, gelaai met 200 brode, 100 trosse rosyntjies, 100 houers vrugte en ’n sak vol wyn.

2 “Wat wil jy met al hierdie goed doen?” vra die koning vir Siba.

Siba antwoord: “Die donkies is vir u gesin om op te ry, die brood en vrugte is vir u manskappe om te eet. Die wyn is vir hulle wat in die wildernis uitgeput raak.”

3 “Waar is Mefiboset?” vra die koning hom.

“Hy het in Jerusalem agtergebly,” antwoord Siba. “Hy dink: ‘Vandag sal Israel die koninkryk van my oupa Saul vir my teruggee.’”

4 “O, so!” sê die koning vir Siba. “Alles wat Mefiboset besit, gee ek nou vir jou!”

“Ek buig voor u in dankbaarheid, my heer die koning,” antwoord Siba. “Mag ek altyd u guns geniet.”

Simeï vloek Dawid

5 Toe Dawid en sy geselskap by Bagurim aankom, kom ’n man uit die dorp en vloek hulle so ver as wat hy gaan. Sy naam was Simeï, seun van Gera en ’n lid van Saul se familie.

6 Hy het klippe gegooi na die koning en sy amptenare, asook na die dapper krygsmanne wat links en regs van die koning was.

7 Terwyl hy klippe gooi, skree hy: “Maak dat jy wegkom, jou moordenaar, jou skurk!

8 Die Here vergeld jou nou omdat jy Saul en sy familie uitgeroei en in sy plek koning geword het. Nou gee die Here dit aan jou seun Absalom, terwyl die onheil jou tref omdat jy ’n moordenaar is!”

9 “Hoekom laat u toe dat hierdie lae hond my heer die koning vloek?” vra Abisai, seun van Seruja, vir die koning. “Laat ek tog sy kop van hom gaan afkap!”

10 “Nee!” sê die koning. “Dit het niks met my of julle te doen nie, seuns van Seruja. Hy vloek so omdat die Here vir hom gesê het ‘Vloek Dawid’. Laat hy dit maar doen. Wie kan dan vra: ‘Hoekom doen jy dit?’”

11 Dawid sê verder vir Abisai en die amptenare: “My eie seun probeer my doodmaak. Hoeveel te meer hierdie Benjaminiet? Los hom uit en laat hom vloek, want die Here het vir hom gesê om dit te doen.

12 Dalk sal die Here my swaarkry raaksien en my seën as gevolg van hierdie vervloekings.”

13 Dawid en sy mense het verder getrek. Simeï het op die oorkantse heuwel gelyk met hulle geloop en gedurig bly vloek, klippe gegooi en stof opgeskop.

14 Die koning en sy geselskap het moeg by hulle bestemming aangekom en daar gerus.

Agitofel se raad aan Absalom

15 Intussen het Absalom en die hele leër van Israel by Jerusalem aangekom. Agitofel was saam met hom.

16 Toe Dawid se vriend Gusai die Erekiet by Absalom aankom, sê hy vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”

17 “Is jy dan nie aan jou vriend getrou nie?” vra Absalom. “Hoekom het jy nie saam met hom gegaan nie?”

18 “Nee! Ek is getrou aan die een vir wie die Here, hierdie mense en die magte van Israel gekies het. Al my lojaliteit gaan na hom toe,” antwoord Gusai.

19 “Wie sal ek dien? Behoort ek nie die seun te dien nie? Soos ek u pa gedien het, so sal ek nou vir u dien!”

20 Daarna vra Absalom vir Agitofel: “Gee julle nou vir my raad oor wat my nou te doen staan!”

21 Agitofel sê vir hom: “Gaan en slaap by jou pa se byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas. Dan sal die hele Israel weet dat jy jou pa beledig het sodat daar geen sprake van versoening meer is nie. Dit sal u volgelinge se hande versterk.”

22 Hulle het toe ’n tent bo-op die dak van die paleis opgerig sodat almal kon sien hoe hy by sy pa se byvroue gaan slaap.

23 Absalom het Agitofel se raad aanvaar net soos Dawid gedoen het, want elke woord wat Agitofel gesê het, was destyds asof dit direk van God afkomstig was.

2 SAMUEL 17

1 Agitofel het toe by Absalom aangedring: “Laat my tog 12 000 man kies en vannag nog vir Dawid agternajaag.

2 Ek sal hom inhaal terwyl hy moeg en moedeloos is. Hy en sy manskappe sal paniekbevange wees en sal almal vlug sodat ek die koning kan doodmaak waar hy alleen oor is.

3 Ek sal al die mense na u toe oorhaal, soos ’n bruid wat terugkom na haar man, behalwe die een man na wie u soek. Die hele volk sal dan vrede hê.”

4 Hierdie plan het vir Absalom en al die ander leiers van Israel goed geklink.

Gusai uitoorlê vir Agitofel

5 Maar toe sê Absalom: “Bring Gusai die Erekiet in sodat ons kan hoor wat hy hiervan sê.”

6 Toe Gusai inkom, vertel Absalom hom wat Agitofel aanbeveel het. Daarna vra hy: “Wat dink jy hiervan? Moet ons Agitofel se raad volg? Indien nie, wat beveel jy aan?”

7 “Ek dink Agitofel het hierdie keer ’n fout begaan,” sê Gusai.

8 “U weet dat u pa en sy manne dapper vegters is en op hierdie oomblik so aggressief is soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Onthou tog dat u pa ’n deurwinterde soldaat is. Hy sal nie by sy troepe oornag nie.

9 Hy kruip waarskynlik alreeds weg in een van die klowe of op ’n ander plek. En dan, sou daar in die begin al sommige manne omkom, sal daar paniek onder u troepe ontstaan sodat daar gesê sal word: ‘Daar was ’n groot slagting onder die manskappe van Absalom.’

10 Dan sal selfs die dapperstes van hulle bang word, selfs al het hulle die hart van ’n leeu. Onthou, die hele Israel weet u pa is baie dapper en dat sy manskappe heldhaftige krygers is.

11 “Ek beveel aan dat u die hele Israel, van Dan tot Berseba, oproep, ’n menigte so talryk soos die sand by die see. Dan moet u self die troepe lei.

12 Wanneer ons dan vir Dawid kry, waar hy ook al is, sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Dan sal daar niks van hom of een van sy manne oorbly nie.

13 En as hy dalk na ’n stad toe vlug, kan die hele Israel toue gaan haal en die stad wegsleep tot in die naaste vallei sodat daar nie meer ’n klip oorbly nie.”

14 Toe sê Absalom en die leiers van Israel: “Gusai se raad is beter as dié van Agitofel.” Dis die Here wat gesorg het dat die goeie raad van Agitofel verydel word omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.

Gusai laat waarsku Dawid om

te vlug

15 Gusai het toe Sadok en Abjatar, die priesters, ingelig oor wat Agitofel gesê het en wat hy aanbeveel het. “Maak gou!” het hy gesê.

16 “Laat weet vir Dawid dat hy nie vannag by die driwwe na die woestyn moet oornag nie. Hy moet dadelik deurtrek, anders kan hy en sy hele leër uitgewis word.”

17 Jonatan en Agimaäs het by die Rogelfontein gewag. ’n Slavin het die boodskap vir koning Dawid aan hulle gebring, want iemand sou hulle dalk sien as hulle die stad binnegaan.

18 Maar ’n jong seun het hulle tog gesien en het vir Absalom gaan sê. Hulle het egter weggekom en hulle na ’n huis in Bagurim gehaas. Die man het ’n put in sy binneplaas gehad en hulle het daarin gaan wegkruip.

19 Die man se vrou het ’n doek oor die put gegooi en graan daarop gestrooi om in die son droog te word. Niemand sou hulle daar verwag nie.

20 Toe Absalom se manne daar aankom, vra hulle vir die vrou: “Waar is Agimaäs en Jonatan?”

Sy het geantwoord: “Hulle het die spruit oorgesteek.” Absalom se manne het oral rond gesoek, maar kon hulle nie kry nie, en is terug na Jerusalem toe.

21 Toe hulle weer weg is, het die twee jong manne uit die put geklim en hulle na Dawid toe gehaas. “Julle moet vannag nog gou die Jordaanrivier oorsteek!” sê hulle. Hulle vertel toe wat Agitofel aanbeveel het.

22 Dawid en al sy mense het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek sodat hulle almal teen dagbreek aan die ander kant was.

23 Intussen het Agitofel agtergekom dat sy advies nie aanvaar is nie. Hy het toe sy donkie opgesaal en na sy huis in sy tuisdorp gegaan. Daar het hy finale opdragte aan sy familie gegee en homself gaan ophang. Hy het gesterf en is in die familiegraf begrawe.

24 Dawid het by Maganajim aangekom. Absalom en die hele leër van Israel het deur die Jordaanrivier getrek.

25 Absalom het Amasa in Joab se plek as bevelvoerder van sy leër aangestel. Amasa was Joab se neef. Sy pa was Jeter, ’n Ismaeliet. Sy ma, Abigal dogter van Nagas, was ’n suster van Joab se ma Seruja.

26 Die leër van Israel en Absalom het in Gilead kamp opgeslaan.

27 Toe Dawid by Maganajim uitkom, het Sobi seun van Nagas van Rabba, ’n Ammoniet; en Makir seun van Ammiël van Lo-Dabar; en Barsillai die Gileadiet van Rogelim

28 slaapmatte en erdepotte vir hulle gebring. Hulle het ook koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies,

29 asook heuning, botter, skape en kaas vir Dawid en sy mense saamgebring. Hulle het gesê: “Julle moet almal baie moeg en honger en dors wees na julle lang tog deur die woestyn.”

2 SAMUEL 18

Absalom word verslaan en sterf

1 Dawid het die leër wat by hom was, slaggereed gekry en hoofde oor honderd en oor duisend aangewys.

2 Een derde het hy onder Joab se bevel geplaas, een derde onder Joab se broer Abisai, en een derde onder Ittai die Gattiet. Toe sê die koning vir hulle: “Ek sal ook saam met julle uittrek.”

3 Maar die soldate het sterk beswaar gemaak. “Nee! U moenie saamgaan nie,” sê hulle. “As ons moet vlug, sal niemand hulle aan ons steur nie; selfs as die helfte van ons doodgaan, sal niemand ag slaan op ons nie. Maar u is soos 10 000 van ons. Dit sal beter wees as u ons liewer van die stad se kant af kom help as dit nodig is.”

4 “Ek sal maak soos julle sê,” stem die koning in. Hy het by die stadspoort gaan staan terwyl die soldate in afdelings van honderd en duisend by hom verbygegaan het.

5 Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Julle moet om my ontwil mooi werk met die jong man Absalom.” Al die soldate het gehoor watter opdrag die koning aan sy bevelvoerders gegee het.

6 Die leër het op die vlakte teen Israel opgetrek. Die geveg het tot in die Efraimsbos uitgebrei.

7 Dawid se leër het die magte van Israel verslaan. Daar was ’n groot slagting en 20 000 soldate het daardie dag gesneuwel.

8 Die gevegte het oor die hele gebied uitgebrei. Meer mense het as gevolg van die bos omgekom as wat deur die swaard gesneuwel het.

9 Dawid se manne het op Absalom afgekom. Hy het op ’n muil gery. Die muil het onder die digte takke van ’n groot boom deurgegaan waar Absalom se kop tussen die takke vasgevang is. Sy muil het onder hom uit gehardloop sodat hy tussen hemel en aarde bly hang het.

10 Iemand het gesien wat gebeur het en vir Joab gaan vertel: “Weet u, ek het Absalom gesien waar hy aan ’n boom hang!”

11 “Wat?” sê Joab. “Jy het hom gesien en hom nie eers doodgemaak nie? Ek sou jou dan met tien silwerstukke en ’n gordel beloon het!”

12 “Selfs al sou 1 000 silwerstukke in my hand afgeweeg word, sou ek nie my hand teen die koning se seun gelig het nie,” sê die man. “Ons het tog almal gehoor hoe die koning vir u en Abisai en Ittai beveel: ‘Wees ter wille van my versigtig met die jong man Absalom.’

13 As ek verraad teen my koning sou pleeg deur sy seun dood te maak, sal die koning dit uitvind en u sou nie vir my intree nie.”

14 “Dis nou genoeg van jou praatjies,” sê Joab. Hy vat toe drie spiese en steek dit deur Absalom se hart terwyl hy nog lewendig tussen hemel en aarde aan die boom hang.

15 Tien van Joab se wapendraers het Absalom omsingel, hom aangeval en afgemaai.

16 Daarna het Joab op die ramshoring laat blaas en sy soldate het opgehou om die leër van Israel te agtervolg.

17 Hulle het Absalom se liggaam in ’n diep gat in die bos gegooi en ’n groot hoop klippe daarop gestapel. Die hele Israel het egter na hulle huise toe gevlug.

18 Terwyl hy nog gelewe het, het Absalom vir homself ’n gedenkteken in die Koningslaagte opgerig, want hy het gesê: “Ek het tog nie ’n seun wat my naam in gedagtenis kan hou nie.” Hy het die gedenkteken na homself vernoem en dit staan vandag nog bekend as “Absalom se Gedenkteken”.

Dawid hoor van Absalom se

dood

19 Sadok se seun Agimaäs sê toe: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie nuus bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”

20 “Nee!” sê Joab vir hom. “Vandag moet jy nie die tyding bring nie. Op ’n ander keer kan jy my boodskapper wees, maar nie vandag nie, want die koning se seun is dood.”

21 Toe sê Joab vir ’n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.” Die man het voor Joab gebuig en begin hardloop.

22 Maar Agimaäs het aanhou pleit by Joab: “Wat ook al gebeur, laat ek tog ook agter die Kussiet aan hardloop.”

“Hoekom wil jy gaan, my seun?” sê Joab. “Daar sal geen boodskappersloon vir jou wees nie.”

23 “Dit maak nie saak nie. Laat my in elk geval gaan,” pleit hy.

Joab het ingestem: “Nou gaan dan maar!”

Agimaäs het met ’n kortpad oor die Jordaanvlakte gehardloop en die Kussiet verbygesteek.

24 Terwyl Dawid in die stadspoort gesit het, het die wag op die poort se dak geklim en na die uitkykpunt by die muur gegaan. Terwyl hy uitkyk, sien hy ’n man wat alleen na hulle toe aangehardloop kom.

25 Hy roep toe die koning en sê wat hy sien. “As hy alleen is, bring hy nuus,” sê die koning.

Soos hy naderkom,

26 sien die wag nog iemand wat hardloop. Hy skree toe: “Hier kom nog iemand alleen aangehardloop!”

Die koning antwoord: “Hy sal ook nuus bring.”

27 “Dit lyk vir my die eerste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” sê die wag.

“Hy is ’n goeie man en kom met ’n goeie boodskap,” antwoord die koning.

28 Toe Agimaäs daar aankom, groet hy die koning en buig laag voor hom. Hy sê: “Geseënd is die Here u God wat die opstandelinge teen die koning in ons mag oorgegee het.”

29 “Is die jong man Absalom veilig?” vra die koning.

Agimaäs antwoord: “Toe Joab vir my sê om te kom, was daar ’n groot rumoer, maar ek weet nie wat gebeur het nie.”

30 “Wag ’n bietjie hier eenkant,” sê die koning vir hom. Agimaäs het toe eenkant gaan staan.

31 Toe kom die Kussiet daar aan en hy sê: “Ek het nuus vir my heer die koning. Vandag het die Here u verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”

32 “Is die jong man Absalom veilig?” vra die koning.

Die Kussiet het geantwoord: “Mag dit met al u vyande en met almal wat met bose planne teen u in opstand kom, gaan soos met daardie jong man.”

33 Die koning was oorstelp van droefheid. Hy het in trane uitgebars en opgegaan na sy kamer bokant die poort. So ver as wat hy loop, het hy geroep: “My seun Absalom! My seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!”

2 SAMUEL 19

Joab raas met die koning

1 Joab is vertel: “Kan jy dit glo! Die koning huil en rou sowaar oor Absalom!”

2 En hoe meer soldate gehoor het van die koning se hartseer oor sy seun, hoe meer het die vreugde van die oorwinning verander in trane.

3 Hulle het die stad binnegesluip soos manne wat skaam was omdat hulle uit die geveg weggehardloop het.

4 Maar die koning het sy gesig toegemaak en hard geroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!”

5 Joab het na die koning se kamer toe gegaan en vir hom gesê: “Vandag het u al die manskappe laat skaam kry. Hulle het u lewe en die lewe van u seuns en dogters, u vroue en byvroue gered.

6 U het nou hulle lief wat u haat, en u haat hulle wat u liefhet.

U het dit vandag duidelik gemaak dat u niks omgee vir u bevelvoerders en manskappe nie. As Absalom nog gelewe het en ons almal dood was, sou u eerder tevrede gewees het.

7 “Kom nou buitentoe en stel die soldate gerus, want ek sê nou voor die Here, as u dit nie doen nie, sal daar teen vanaand nie een van hulle meer hier wees nie. Dit sal vir u rampspoediger wees as enige ramp wat u nog getref het.”

8 Die koning het toe uitgegaan en in die stadspoort gaan sit. Toe die soldate hoor: “Die koning sit in die poort,” het al die manskappe voor die koning verskyn.

Dawid keer terug na Jerusalem

Intussen het die Israeliete wat Absalom ondersteun het na hulle huise toe gevlug.

9 Al die stamme van Israel het onder mekaar begin praat. Die volk het gesê: “Die koning het ons verlos van ons vyande, die Filistyne, maar Absalom het hom uit die land verjaag.

10 Nou is Absalom wat ons gesalf het om oor ons te regeer, dood. Laat ons Dawid vra om terug te kom en weer ons koning te wees.”

11 Die koning het verneem wat oral in Israel gesê word. Toe stuur hy die priesters Sadok en Abjatar om vir die leiers in Juda te sê: “Hoekom sou julle die heel laaste wees om die koning weer in sy amp te herstel?

12 Julle is tog my familie, my bloedverwante. Hoekom is julle die laaste om die koning terug te bring?”

13 Dawid laat weet toe vir Amasa: “Is jy dan nie bloedfamilie van my nie? Voor God beloof ek dat ek jou permanent sal aanstel as aanvoerder van die leër in die plek van Joab.”

14 Op hierdie manier het hy almal in Juda oortuig en hulle het eenparig vir Dawid laat weet: “Kom terug na ons toe en bring almal saam wat by u is!”

15 Die koning het teruggekom en die Jordaanrivier bereik. Die mense van Juda het by Gilgal bymekaargekom om die koning terug te verwelkom en hom oor die rivier te begelei.

16 Simeï seun van Gera die Benjaminiet uit Bagurim het hom gehaas om koning Dawid saam met die mense van Juda te ontmoet.

17 ’n Afdeling soldate uit die stam van Benjamin was saam met hom, en ook Siba, die bestuurder van Saul se eiendomme, saam met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle het hulle na die Jordaanrivier gehaas om voor die koning daar te wees.

18 Hulle het deur die drif gegaan om die koning en sy huishouding deur die rivier te bring en hom op allerlei maniere te help.

Dawid spaar Simeï se lewe

Die koning was op die punt om deur die rivier te gaan, toe val Simeï voor hom neer.

19 “Vergewe tog my oortreding, my heer,” pleit hy. “Moet asseblief tog nie dink aan die verskriklike ding wat ek gedoen het toe u Jerusalem verlaat het nie.

20 Ek weet dat ek baie gesondig het. Dis hoekom ek vandag die heel eerste persoon uit Israel is wat u kom ontmoet.”

21 Abisai seun van Seruja sê toe: “Moet Simeï nie net hier doodgemaak word nie? Het hy dan nie die gesalfde van die Here gevloek nie?”

22 Maar Dawid sê: “Wat moet ek met julle maak, seuns van Seruja, dat julle vandag soos ’n teenstander geword het? Dis nie ’n dag van teregstelling in Israel nie, want ek weet ek is weereens koning van Israel!”

23 Toe het hy vir Simeï met ’n eed belowe: “Jou lewe sal gespaar word.”

Dawid se welwillendheid

teenoor Mefiboset

24 Mefiboset, Saul se kleinkind, het ook gekom om die koning te ontmoet. Hy het nie sy voete of sy klere gewas of sy baard geknip vanaf die dag dat die koning uit Jerusalem weg is totdat hy veilig teruggekom het nie.

25 Toe hy die koning in Jerusalem gaan ontmoet, vra die koning hom: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”

26 Mefiboset het geantwoord: “My heer die koning, my dienaar het my in die steek gelaat. Omdat ek kreupel is, het ek vir hom gesê: ‘Jy moet vir my die donkie opsaal sodat ek saam met die koning kan gaan.’

27 Hy het my boonop vals beskuldig, maar ek weet dat u soos ’n engel van God is. Doen dus met my wat u goedvind.

28 My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie. Tog het u my aan u tafel laat eet. Watter reg het ek dan om nog meer van die koning te verwag?”

29 “Dis nie nodig dat jy nog iets sê nie,” sê Dawid. “Ek oordeel dat jy en Siba die grond tussen julle moet verdeel.”

30 “Noudat u weer veilig tuis is, kan hy ook maar alles kry, my heer!” sê Mefiboset.

Dawid se dankbaarheid teenoor

Barsillai

31 Barsillai die Gileadiet het uit Rogelim daar aangekom om die koning oor die Jordaan te help.

32 Hy was baie oud, 80 jaar oud. Hy was welgesteld en kon die koning gedurende sy verblyf in Maganajim onderhou.

33 “Kom saam met my oor en kom woon in Jerusalem,” sê die koning vir Barsillai. “Ek sal daar vir jou sorg.”

34 “Nee dankie,” antwoord hy. “Ek is heeltemal te oud om saam met die koning Jerusalem toe te gaan.

35 Ek is 80 jaar oud en kan nie meer baie geniet nie. Ek kan nie meer proe wat ek eet of drink nie. Ek kan ook nie meer die stemme van sangers en sangeresse waardeer nie. Ek sal net ’n oorlas wees vir my heer die koning.

36 U dienaar het maar ’n klein entjie saam met die koning gekom. Hoekom sou die koning my met so ’n beloning wou vergoed?

37 Laat my teruggaan om in my eie dorp te sterf, daar waar my pa en ma begrawe is. Maar hier is my seun Kimham. Laat hy saam met u gaan en doen aan hom soos wat u verkies.”

38 “Dis goed so,” sê die koning. “Kimham kan saam met my gaan. Ek sal vir hom doen wat ek dink goed is, en ook enigiets wat jy van my verwag.”

39 Daarna het die soldate saam met die koning die Jordaanrivier oorgesteek. Nadat Dawid hom omhels en geseën het, het Barsillai na sy huis toe teruggegaan.

40 Die koning het toe deurgetrek en is na Gilgal toe en Kimham het saam met hom gegaan. Die hele leër van Juda en die helfte van die leër van Israel het saam met die koning getrek.

’n Dispuut oor die koning

41 Maar toe kom al die manne van Israel na die koning toe en sê vir die koning: “Hoekom het ons broers, die manne van Juda, u geskaak? Hulle het die koning en sy huishouding en al die manskappe van Dawid deur die Jordaanrivier gebring.”

42 “Hoekom nie?” het die mense uit Juda geantwoord. “Die koning is tog ons familie. Hoekom word julle daaroor kwaad? Het ons dalk op sy rekening geëet of het ons daarvoor vergoeding gekry?”

43 “Maar daar is tien stamme in Israel,” sê die ander stamme. “Ons het dus tien keer meer reg op die koning. Hoekom het julle ons nie in die saak geken nie? Het ons nie eerste gepraat oor die terugbring van ons koning nie?” Verwyte is heen en weer geslinger en die manne van Juda was meer bitsig in hulle antwoord.

2 SAMUEL 20

Die opstand van Seba

1 ’n Moeilikheidmaker met die naam Seba seun van Bikri, ’n Benjaminiet, was ook daar. Hy het op die ramshoring geblaas en gesê: “Ons het niks te doen met Dawid nie. Ons wil geen aandeel hê in hierdie seun van Isai nie. Komaan, manne van Israel, laat ons almal huis toe gaan!”

2 Toe het al die manne van Israel Dawid verlaat en vir Seba gevolg. Maar die manskappe van Juda het getrou gebly aan hulle koning en hom van die Jordaanrivier af na Jerusalem toe begelei.

3 Toe die koning by sy paleis in Jerusalem aankom, beveel hy dat die tien byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis te versorg, in afsondering geplaas moes word. Hy het hulle versorg, maar hy het nooit weer by hulle geslaap nie. Tot die dag van hulle dood was hulle afgesonder en het soos weduwees gelewe.

4 Daarna het Dawid vir Amasa beveel: “Roep die manskappe van Juda binne drie dae op. Kom dan en meld hier aan.”

5 Amasa het gegaan om Juda op te roep, maar hy het langer weggebly as die voorgeskrewe tyd.

6 Toe sê Dawid vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat gou my manskappe en sit hom agterna voordat hy in ’n versterkte stad gaan wegkruip waar ons hom nie in die hande kan kry nie.”

Joab maak Amasa dood

7 Die manskappe van Joab het ook uitgetrek, asook die koning se Filistynse lyfwag en al die dapper krygers. Hulle het uit Jerusalem getrek om Seba agterna te sit.

8 Toe hulle by die groot klip in Gibeon kom, kom Amasa net daar aan. Joab het sy mantel aangehad, en bo-oor was sy swaard in die skede, vasgemaak aan die gordel oor sy heupe. Toe hy naderkom, het die swaard uitgeglip.

9 “Hoe gaan dit met jou, my broer?” sê Joab vir hom. Hy het hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.

10 Amasa het nie die swaard in sy ander hand raakgesien nie. Joab het hom toe daarmee deur sy onderlyf gesteek sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. Dit was nie nodig om ’n tweede keer te steek nie. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba agtervolg.

11 Een van Joab se manne het daar bly staan en gesê: “Wie aan die kant van Joab is en wie vir Dawid is, kom agter Joab aan!”

12 Amasa het egter nog in die middel van die pad in sy bloed gelê en krul. Toe die man sien dat die soldate daar gaan bly staan, sleep hy Amasa uit die pad en gooi ’n kleed oor hom, want hy het besef dat elkeen wat verbykom daar sou stilstaan.

13 Met Amasa uit die pad, het almal saam met Joab vir Seba seun van Bikri agtervolg.

Joab eis Seba se kop

14 Intussen het Seba deur die gebied van al die stamme van Israel getrek tot by Abel Bet-Maäka. Die Beriete het bymekaargekom en hom tot in die stad gevolg.

15 Toe Joab met sy soldate daar aankom, het hulle Abel Bet-Maäka beleër. Hulle het ’n beleëringswal teen die stad gebou. Dit was alreeds tot teen die muur. Almal by Joab was besig om deur die dorp se muur te breek.

16 Maar ’n wyse vrou het uit die stad geroep en gesê: “Luister! Luister tog na my! Sê asseblief vir Joab: ‘Kom hierheen sodat ek met jou kan praat.’”

17 Toe Joab naderkom, vra die vrou: “Is jy Joab?”

“Ja, ek is Joab,” antwoord hy.

Sy sê toe: “Luister goed na wat ek sê.”

“Ek luister,” sê hy.

18 Sy het voortgegaan: “Voorheen was daar ’n spreekwoord: ‘Vra gerus raad by Abel’ en dan het hulle daarvolgens opgetree.

19 Ons is van die vreedsames en getroues in Israel. Maar jy is besig om ’n getroue stad wat in Israel hoogaangeskrewe is, te vernietig. Hoekom wil jy dit wat aan die Here behoort, vernietig?”

20 Joab het geantwoord: “Glo my, dis nie wat ek wil doen nie! Nee, ek wil nie julle stad vernietig nie.

21 Al wat ek soek, is ’n man met die naam Seba seun van Bikri uit die Efraimsberge. Hy het in opstand gekom teen koning Dawid. As julle hom aan ons uitlewer, sal ons die stad in vrede laat.”

“Dis goed so,” antwoord die vrou. “Let op! Ons sal sy kop vir julle oor die muur gooi.”

22 Die vrou gaan toe na die inwoners met haar wyse raad. Hulle het Seba seun van Bikri se kop afgekap en dit oor die muur na Joab toe gegooi. Toe het hy op die ramshoring laat blaas en die soldate het uitmekaargegaan, elkeen na sy huis toe. Joab het teruggegaan na die koning in Jerusalem.

23 Joab is weer herstel in sy pos as bevelvoerder van die leër van Israel. Benaja seun van Jojada was bevelvoerder van Dawid se Filistynse lyfwag.

24 Adoram was in bevel van die dwangarbeiders. Josafat seun van Agilud was die skrywer.

25 Sewa was die staatsekretaris. Sadok en Abjatar was die priesters.

26 Ira uit Jaïr was ook Dawid se priester.

2 SAMUEL 21

Die Gibeoniete eis vergelding

1 Gedurende Dawid se bewind was daar ’n hongersnood wat drie jaar lank geduur het. Toe het Dawid die Here daaroor geraadpleeg. Die Here het geantwoord: “Daar rus ’n bloedskuld op Saul en sy familie omdat hy van die Gibeoniete doodgemaak het.”

2 Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was nie Israeliete nie, maar ’n oorblyfsel van die Amoriete. Israel het voorheen met ’n eed belowe dat hulle nie die Gibeoniete sou uitroei nie. Tog het Saul in sy geesdrif vir Israel en Juda hulle probeer uitwis.

3 Dawid vra toe vir hulle: “Wat kan ek vir julle doen? Waarmee kan ek julle vergoed? Sê my sodat julle tot seën kan wees vir die erfdeel van die Here.”

4 “Wel,” antwoord die Gibeoniete, “dit gaan nie om silwer of goud nie. Ons wil ook nie hê dat een Israeliet doodgemaak word nie.”

“Sê my net wat wil julle hê,” sê Dawid, “en ek sal dit vir julle doen.”

5 Hulle het geantwoord: “Dit gaan om die man wat ons wou uitwis en beplan het dat ons geen plek binne die grondgebied van Israel sou hê nie.

6 Sewe mans uit sy familie moet aan ons uitgelewer word sodat ons hulle voor die Here in Gibea van Saul, die een wat die Here uitgekies het, kan teregstel.”

“Dis goed so,” sê die koning. “Ek sal dit doen.”

7 Dawid het Mefiboset seun van Jonatan en kleinseun van Saul se lewe gespaar op grond van die eed wat hy en Saul se seun Jonatan voor die Here afgelê het.

8 Hy het egter Saul se twee seuns Armoni en Mefiboset uitgelewer. Hulle ma was Rispa, die dogter van Aja. Hy het ook die vyf seuns van Saul se dogter Merab, die vrou van Adriël, die seun van Barsillai die Megolatiet

9 uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle op die berg voor die Here tereggestel het. Die sewe is almal saam doodgemaak. Dit was aan die begin van die garsoes.

10 Maar Rispa, dogter van Aja, het rouklere gevat en op ’n rots oopgegooi. Sy het gedurende die hele garsoestyd daar gebly totdat die eerste reën geval het. Sy het nie toegelaat dat roofvoëls bedags of roofdiere snags aan haar seuns se lyke vreet nie.

11 Toe Dawid hoor wat Aja se dogter Rispa, byvrou van Saul, doen,

12 het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan by die inwoners van Jabes in Gilead laat haal. Saul en Jonatan het destyds in die geveg op Gilboa teen die Filistyne omgekom. Die Filistyne het die liggame op die stadsplein van die Filistynse stad Bet-San opgehang, maar die inwoners van Jabes in Gilead het hulle liggame daar gaan steel.

13 Dawid het hierdie bene van Saul en Jonatan laat haal. Hy het dit saam met die bene van die manne wat die Gibeoniete tereggestel het

14 op die dorp Sela in Betlehem, in die grafkelder van Saul se pa, Kis, laat begrawe. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. Daarna het God die gebede vir die land verhoor.

Verskillende gevegte teen die

Filistyne

15 Op ’n keer was daar weer oorlog tussen die Filistyne en Israel. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg, maar Dawid self het moeg en uitgeput geraak.

16 Jisbi van Nob was uit die geslag van die Refaïete. Die gewig van sy bronsspies was ongeveer 3,4 kilogram en hy was gewapen met ’n nuwe uitrusting. Hy het kans gesien om Dawid dood te maak.

17 Maar Abisai seun van Seruja het tot sy redding gekom en die Filistyn verslaan. Daarna het Dawid se soldate gesê: “U gaan nie weer saam in die gevegte nie! Ons kan tog nie die risiko loop dat die lig van Israel uitgedoof word nie!”

18 Daarna was daar ’n ander geveg teen die Filistyne in Gob. In die geveg het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete, doodgemaak.

19 Tydens nog ’n geveg teen die Filistyne by Gob, het Elganan seun van Jaäre-Origam uit Betlehem, vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel.

20 In nog ’n geveg teen die Filistyne in Gat was daar ’n baie groot man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, saam 24. Hy was ook uit die geslag van die Refaïete.

21 Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan seun van Dawid se broer Samma het hom doodgemaak.

22 Hierdie vier Filistyne was uit die geslag van die Refaïete van Gat. Dawid en sy soldate het hulle almal doodgemaak.

2 SAMUEL 22

Dawid se loflied

1 Nadat die Here Dawid van al sy vyande en van Saul verlos het, het hy hierdie lied tot eer van die Here gesing. Dit is die woorde van die lied:

2 Die Here is my rots,

my vesting en my Redder;

3 my God is my rots,

by wie ek skuil.

Hy is my skild,

die krag van my redding,

my vesting, my toevlug,

my verlosser

wat my red van geweld.

4 Ek sal roep tot die Here,

Hy wat lofwaardig is,

want Hy red my van my vyande.

5 Golwe van die dood

omring my;

strome van onheil

oorweldig my.

6 Bande van die dood omring my,

strikke van die dood

wag my in.

7 In my angs

het ek tot die Here geroep,

tot my God geroep om hulp.

In sy heiligdom het Hy geluister;

my hulpgeroep

het Hy gehoor.

8 Toe het die aarde geskud

en gebewe;

die fondamente van die hemele

het gerammel;

hulle het geruk

vanweë sy toorn.

9 Rook het uit sy neusgate

geborrel,

verterende vlamme

uit sy mond,

gloeiende kole

uit sy binnekant.

10 Hy het die hemele oopgebreek

en afgekom;

donkerte was onder sy voete.

11 Hy het op ’n gerub geklim

en gevlieg,

Hy is gesien

op die vlerke van die wind.

12 Hy het homself

in donkerte gehul,

watermassas en onweerswolke

het Hom omsluier.

13 Uit die gloed voor Hom

het weerligstrale geblits.

14 Die Here se stem donder

uit die hemele;

die Allerhoogste

laat sy stem hoor.

15 Hy skiet sy pyle,

verstrooi sy vyande;

sy weerlig flits,

hulle is verbysterd.

16 Die bodem van die see

word sigbaar,

die fondamente van die aarde

word ontbloot

deur die gebulder van die Here,

deur die rukwind van sy asem.

17 Van bo af

het Hy sy hand uitgestrek

en my gegryp,

uit diepwaters

het Hy my uitgetrek.

18 Hy verlos my

van magtige vyande,

van haters wat te sterk was vir my.

19 Hulle het aangeval

toe ek swak was,

maar die Here hou my staande.

20 Hy lei my na ’n oop ruimte,

en red my omdat Hy my liefhet.

21 Die Here beloon

my opregtheid;

Hy vergoed my onskuld,

22 Want ek was getrou

aan die voorskrifte

van die Here;

ek was nie skuldig

teenoor my God nie.

23 Sy voorskrifte het ek gevolg

en van sy bepalings

nie afgewyk nie.

24 Ek is onskuldig voor Hom

en het myself weerhou

van sonde.

25 Die Here het my opregtheid

beloon,

want ek was onskuldig

voor Hom.

26 Vir die getroues is U getrou;

vir die opregtes is U opreg.

27 Vir dié wat rein is, is U rein;

vir dié wat vals is, is U vals.

28 U red hulle wat nederig is,

maar U verneder

die hoogmoediges.

29 U is my lig, o Here.

Here, U verlig my duisternis.

30 Met U loop ek ’n leër storm,

met my God

spring ek oor ’n muur.

31 God se pad is volmaak.

Die Here se woorde

is betroubaar.

Hy beskerm

dié wat by Hom skuil.

32 Want wie anders as die Here

is God?

Wie anders as ons God

is ’n rots?

33 God maak my sterk;

Hy maak my pad veilig.

34 Hy maak my voete

soos dié van ’n wildsbok,

op hoë plekke

laat Hy my veilig staan.

35 Hy oefen my hande

vir die geveg,

my arms

om ’n bronsboog te trek.

36 U redding is vir my ’n skild,

u hulp maak my sterk.

37 U verbreed die pad

onder my

en my enkels swik nie.

38 Ek het my vyande agtervolg

en vernietig,

ek het nie omgedraai

voordat hulle uitgewis was nie.

39 Ek het hulle oorrompel

en platgeslaan;

hulle kon nie opstaan nie;

hulle het voor my voete

gesneuwel.

40 U het my met krag toegerus

vir die stryd,

my teenstanders

aan my onderwerp.

41 U het my vyande voor my

laat vlug;

my haters het ek uitgewis.

42 Hulle roep om hulp,

maar niemand kom help nie;

hulle roep selfs tot die Here,

maar Hy antwoord hulle nie.

43 Ek maal hulle fyn

soos die stof van die aarde;

soos modder op straat

laat ek hulle uitmekaarspat.

44 In die stryd met teenstanders

het U my verlos,

my oor nasies

as koning aangestel.

’n Volk wat ek nie geken het nie,

dien my nou.

45 Uitlanders word my onderdane;

as hulle van my hoor,

gehoorsaam hulle my.

46 Vreemdelinge

word moedeloos

en kom bewend

uit hulle vestings.

47 Die Here leef!

Ek prys my Rots!

Ek loof God,

die rots van my redding,

48 God gee die oorwinning vir my,

onderwerp volke aan my.

49 Hy red my van my vyande.

Buite bereik van teenstanders

verhef U my;

U verlos my van geweldenaars.

50 Daarom, Here, sal ek U prys

voor die nasies.

Tot eer van u Naam

sal ek ’n loflied sing!

51 U gee groot oorwinnings

aan u koning;

aan u gesalfde is U getrou,

aan Dawid en sy nageslag

vir altyd!

2 SAMUEL 23

Die laaste woorde van Dawid

1 Hier volg die laaste woorde van Dawid:

“Dit is Dawid seun van Isai

wat praat,

dis woorde van die man

vir wie God

aansien gegee het,

die gesalfde

van die God van Jakob,

die geliefde psalmdigter

van Israel.

2 “Die Gees van die Here

het deur my gepraat;

sy woorde was op my lippe.

3 Die God van Israel het gepraat,

die Rots van Israel

het vir my gesê:

‘Die mens

wat regeer

met regverdigheid,

wat regeer

in eerbied teenoor God,

4 hy is soos die môrelig

wanneer die son

in die oggend verskyn

in ’n wolklose hemel,

soos helderheid ná die reën

wat jong gras

uit die aarde laat groei.’

5 “Staan my huis nie by God nie?

Het Hy dan nie

’n blywende verbond

met my gemaak,

een wat in elke opsig

bevestig, gewaarborg is nie?

Al my redding, al my vreugde–

kom net van Hom af.

6 “Maar bose mense

is soos dorings

wat weggegooi word

en nie met kaal hande

hanteer moet word nie.

7 Wie dit aanraak,

moet dit doen met yster

of met die steel van ’n spies.

In ’n vuur brand dit uit.”

Dawid se helde

8 Hier volg die name van Dawid se helde. Die eerste was Joseb-Bassebet die Tagkemoner, leier van die Driemanskap. Hy het op ’n keer met sy spies 800 vyandige soldate tydens een veldslag doodgemaak.

9 Na hom was daar Eleasar seun van Dodo, die Agoagiet. Hy was een van die Driemanskap by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het vir oorlog. Die Israeliete het gevlug,

10 maar hy het bly staan en die Filistyne afgemaai totdat sy hand so moeg geword het dat hy nie sy hand kon oopmaak en sy swaard kon los nie. Daardie dag het die Here ’n groot oorwinning gegee. Toe eers het die leër Eleasar gevolg, maar net om te plunder.

11 Die volgende in rang van die Driemanskap, was Samma seun van Agee uit Harar. Die Filistyne het op ’n keer by Legi versamel naby ’n landery vol lensies. Die Israeliete het gevlug,

12 maar Samma het vasgestaan in die landery, dit verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het aan hulle ’n groot oorwinning gegee.

13 Drie van die Dertigtal het eenkeer tydens die oestyd by Dawid by die Adullamgrot aangekom. Die Filistyne het in die Spooklaagte kamp opgeslaan.

14 Dawid was toe in die bergskuiling, terwyl ’n afdeling Filistyne die dorp Betlehem beset het.

15 Dawid het teenoor sy manskappe opgemerk: “Ag! As iemand my net ’n bietjie water kan bring uit die put in Betlehem se poort!”

16 Die drie helde het toe deur die Filistynse linie gebreek, die water uit die put opgetrek en dit vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit as ’n offer voor die Here uitgegiet

17 en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek hiervan drink! Is dit nie soos die bloed van hierdie manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?” Dawid het dit dus nie gedrink nie. Dis die soort heldedade van die drie krygsmanne.

Dawid se dertig helde

18 Abisai seun van Seruja en broer van Joab, was die leier van die Dertigtal. Hy het eenkeer met sy spies 300 man in een geveg doodgemaak. Dis waarom hy beroemd geword het by die Dertigtal.

19 Abisai was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle bevelvoerder, maar hy was nie een van die Driemanskap nie.

20 Dan was daar Benaja seun van Jojada, ’n dapper vegter uit Kabseël. Hy het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op ’n dag toe dit gesneeu het, het hy in ’n droë put geklim en ’n leeu daar doodgemaak.

21 ’n Ander keer het hy ’n sterk Egiptenaar doodgemaak. Die Egiptenaar was gewapen met ’n spies, terwyl Benaja net ’n stok gehad het. Maar Benaja het die spies uit die man se hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak.

22 Dit is sommige van die dade wat Benaja seun van Jojada gedoen het. Hy was beroemd onder die Dertigtal.

23 Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertigtal, maar het nie een van die Driemanskap geword nie. Dawid het hom bevelvoerder van sy lyfwag gemaak.

24 Ander lede van die Dertigtal was: Asael, Joab se broer, Elganan seun van Dodo uit Betlehem,

25 Samma uit Garod, Elika uit Garod,

26 Geles uit Pelet, Ira seun van Ikkes uit Tekoa,

27 Abiëser uit Anatot, Sibbekai uit Gusa,

28 Salmon uit Agoag, Marai uit Netofa,

29 Geled seun van Baäna uit Netofa, Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin,

30 Benaja uit Piraton, Hiddai uit Nagale-Gaäs,

31 Abi-Albon uit Bet-Araba, Asmawet uit Bagurim,

32 Eljagba uit Saälbon, die seuns van Jasen, Jonatan, seun van

33 Samma die Harariet, Agiam seun van Sarar uit Arar,

34 Elifelet seun van Agasbai, die Maäkagiet, Eliam seun van Agitofel uit Gilo,

35 Gesro uit Karmel, Paärai uit Arab,

36 Jigal seun van Natan uit Soba, Bani uit Gad,

37 Selek die Ammoniet, Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja,

38 Ira uit Jeter, Gareb uit Jeter,

39 Urija die Hetiet.

Daar was altesaam 37.

2 SAMUEL 24

Dawid laat die volk tel

1 Die woede van die Here het weer teen Israel ontvlam. Hy het Dawid beïnvloed. “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs,” het die Here vir hom gesê.

2 Die koning sê toe vir Joab, bevelvoerder van die leër: “Gaan deur die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, en tel die volk. Ek wil weet hoeveel mense daar is.”

3 Maar Joab het die koning geantwoord: “Mag die Here u God in u leeftyd nog die volk honderd maal meer maak as nou! Maar watter bevrediging kan dit u verskaf?”

4 Die koning het egter Joab en sy offisiere verplig. Hulle het toe gegaan om die volk Israel te gaan tel.

5 Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en begin by Aroër suid van die dorp by die droë waterloop. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe.

6 Hulle het Gilead deurgegaan tot by die land anderkant Kades en Dan, en daarvandaan verby Sidon.

7 Daarna het hulle by die vesting van Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete langs gekom. Toe het hulle na die suide van Juda, so ver as Berseba, gegaan.

8 Hulle het die hele land deurkruis en hulle opdrag na nege maande en twintig dae voltooi en na Jerusalem toe teruggekeer.

9 Joab het aan die koning verslag gedoen oor die sensus. Daar was 800 000 manne van weerbare ouderdom in Israel en 500 000 in Juda.

Die straf op Dawid se oortreding

10 Nadat Dawid die sensusopname laat maak het, het sy gewete hom begin pla. Hy bely toe teenoor die Here:

“Ek het swaar gesondig

met wat ek gedoen het.

Vergeef tog my oortreding,

Here,

want ek het ’n baie dwase ding

gedoen.”

11 Die volgende oggend, nadat Dawid opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom. Die woord van die Here het na Gad gekom. Dit het gesê:

12 “Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Ek gee jou drie keuses. Kies een van die volgende strawwe en Ek sal dit laat gebeur.’”

13 Gad het toe na Dawid toe gegaan en gevra: “Wat sal jy verkies? Drie jaar hongersnood in jou land, drie maande vlug voor jou vyande uit terwyl hulle jou agtervolg, of drie dae pes in jou land? Dink hieroor en laat my weet wat om die Here te antwoord.”

14 “Ek is in ’n hoek gedryf!” sê Dawid vir Gad. “Laat ek liewer in die hande van die Here val, want sy genade is groot. Moenie dat ek in die hande van mense val nie.”

15 Die Here stuur toe daardie oggend ’n pes oor Israel wat tot op die bestemde tyd geduur het. Oor die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, het 70 000 mense gesterf.

16 Die engel was op die punt om Jerusalem te verwoes, maar die Here het besluit om nie verder te gaan nie. Hy sê vir die engel wat die verwoesting gebring het: “Hou op! Dit is genoeg!” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.

17 Toe Dawid die engel sien wat die mense tref, sê hy vir die Here: “Ek is die een wat gesondig het. Dis ek wat oortree het. Maar hierdie arme mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? Laat u hand eerder teen my en my familie wees!”

Dawid bou ’n altaar

18 Nog daardie dag kom Gad na Dawid toe en sê vir hom: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”

19 Dawid het gedoen soos die Here deur Gad beveel het.

20 Toe Arauna sien dat die koning en sy amptenare na hom toe kom, het hy hom tegemoetgegaan en diep voor die koning gebuig.

21 “Hoekom kom my heer na sy dienaar toe?” vra Arauna.

Dawid het geantwoord: “Ek het gekom om jou dorsvloer te koop om daar ’n altaar vir die Here te bou sodat die Here die plaag kan stop.”

22 “Vat dit gerus vir u, my heer die koning. Offer daar wat u wil,” sê Arauna vir Dawid. “Hier is ook osse vir die brandoffer. Die dorsslee en jukke kan u gebruik as brandhout.

23 Ek, Arauna, gee dit alles vir die koning. Mag die Here u God u offer aanvaar.”

24 Maar die koning het geantwoord: “Nee, Arauna, ek dring daarop aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die Here my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die osse vir omtrent 600 gram silwer gekoop.

25 Dawid het daar ’n altaar opgerig tot eer van die Here en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het die Here die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou.