2 SAMUEL 5

Dawid word koning van die hele

Israel

1 Toe het al die stamme van Israel na Dawid in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal bloedverwante.

2 ’n Lang tyd al, selfs destyds toe Saul ons koning was, was u eintlik maar die een wat Israel in gevegte gelei het. En die Here het vir u gesê: ‘Jy sal die herder van my volk Israel wees. Jy sal heerser oor Israel wees.’”

3 Dawid het toe daar in Hebron voor die Here ’n ooreenkoms met die leiers van Israel gesluit, en hulle het hom as koning van Israel gesalf.

4 Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het altesaam 40 jaar lank regeer.

5 Hy het sewe en ’n half jaar in Hebron oor Juda regeer, en in Jerusalem 33 jaar oor Israel en Juda saam.

Dawid verower Jerusalem

6 Dawid en sy persoonlike leër het teen Jerusalem opgeruk waar die Jebusiete gewoon het. “Jy sal nooit hier inkom nie,” tart die Jebusiete hom en sê: “Selfs die blindes en die lammes sal julle hier uit hou!” Hulle het gedink: “Dawid sal nooit hier kan inkom nie.”

7 Nogtans het Dawid die Sionsvesting verower. Dit word nou genoem die Stad van Dawid.

8 Daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat ’n Jebusiet wil verslaan, moet die watertonnel gebruik om daardie sogenaamde lammes en blindes te bereik, want ek, Dawid, het ’n afsku aan hulle.” Dit is die oorsprong van die spreekwoord: “Die lammes en die blindes mag nie in die tempel ingaan nie.”

9 Dawid het toe die vesting sy tuiste gemaak en dit die Stad van Dawid genoem. Hy het verdere versterkings rondom gebou. Dit was vanaf die Milloterras in die rigting van die paleis.

10 Dawid het al sterker geword, want die Here, die Almagtige, was met hom.

11 Koning Hiram van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout, skrynwerkers en messelaars gestuur om vir Dawid ’n paleis te bou.

12 Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en sy koninkryk aansien gegee het ter wille van sy volk Israel.

13 Nadat Dawid van Hebron af na Jerusalem toe verhuis het, het hy meer vroue en byvroue geneem. Daar is nog seuns en dogters vir hom gebore.

14 Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

15 Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,

16 Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid oorwin die Filistyne in

Spooklaagte

17 Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het hulle almal opgetrek om hom te vang. Dawid het dit gehoor en afgegaan na ’n skuilplek toe.

18 Die Filistynse leër het oor die hele Spooklaagte uitgesprei.

19 Dawid raadpleeg toe die Here: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my mag oorgee?”

En die Here het geantwoord: “Ja, trek op. Ek sal verseker die oorwinning aan jou gee.”

20 Dawid het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. Toe roep Dawid uit: “Die Here het soos ’n verwoestende stroom water deur my vyande gebreek!” Daarom het Dawid die plek Baäl-Perasim (Grootkloof) genoem.

21 Die Filistyne het selfs hulle afgode net daar laat lê sodat Dawid en sy soldate dit kon wegdra.

22 Maar na ’n tyd het die Filistyne teruggekom en weer oor die Spooklaagte versprei.

23 Weereens raadpleeg Dawid die Here. “Moenie hulle van voor af aanval nie,” antwoord die Here. “Julle moet eerder óm hulle trek en hulle daar by die bome van agter af aanval.

24 Wanneer julle in die toppe van die bome ’n geruis hoor soos mense wat marsjeer, moet julle toeslaan. Dit is die teken dat die Here voor julle uit gaan om die Filistyne te tref.”

25 Dawid het gedoen soos die Here beveel het. Hy het die Filistyne verslaan vanaf Geba tot by Geser.

2 SAMUEL 6

Die ark word uiteindelik na

Jerusalem toe gebring

1 Dawid het 30 afdelings uitgesoekte soldate bymekaargemaak.

2 Hy en al die mense by hom het na Baäla in Juda gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die naam “die Here, die Almagtige, wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is.

3 Hulle het die ark van God op ’n nuwe wa gelaai en dit uit die huis van Abinadab op die heuwel weggevat. Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, het die wa vergesel.

4 Die ark van God was bo-op die wa, terwyl Agjo voor geloop het.

5 Dawid en al die mense van Israel het met oorgawe voor die Here gedans terwyl hulle sing en op allerlei musiekinstrumente gespeel het. Daar was liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.

6 Maar toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die osse gestruikel. Ussa het sy hand uitgesteek om die ark van God te keer.

7 Toe ontvlam die toorn van die Here teen Ussa en tref hom sodat hy daar langs die ark van God gesterf het.

8 Dawid was ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het. Hy noem toe die plek Peres-Ussa. Dit is nou nog die naam.

9 Dié dag het Dawid bang geword vir die Here en gevra: “Hoe kan die ark van die Here ooit na my toe kom?”

10 Dawid was toe nie meer bereid om die ark van die Here in die Dawidstad te laat inkom nie. Hy het dit eerder na die huis van Obed-Edom, die Gittiet geneem.

11 Die ark van die Here het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly. Die Here het hom en sy hele huis geseën.

12 Dis aan koning Dawid meegedeel: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat hy besit, geseën as gevolg van die ark van God.” Dawid het toe daarheen gegaan en die ark met groot feestelikheid na die Dawidstad toe geneem.

13 Telkens nadat die draers ses tree gegee het, het hulle gaan stilstaan sodat Dawid ’n bul en ’n vetgemaakte kalf kon offer.

14 Dawid het met volle oorgawe voor die Here gedans terwyl hy slegs ’n linneskouerkleed aangehad het.

15 So het Dawid en die hele Israel die ark van die Here met groot gejuig en geklank van die ramshoring in die stad ingebring.

Mikal vaar teen Dawid uit

16 Terwyl die ark van die Here die Dawidstad binnegekom het, het Mikal, die dogter van Saul, van bo uit haar venster toegekyk. Toe sy koning Dawid sien spring en dans voor die Here het sy hom in haar hart verafsku.

17 Hulle het die ark van die Here neergesit in ’n tent wat Dawid spesiaal daarvoor laat opslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer.

18 Toe hy daarmee klaar was, het Dawid die volk geseën in die Naam van die Here, die Almagtige.

19 Daarna het hy aan die hele volk, vir elke man en vrou in Israel, ’n ringbrood, ’n dadelkoek en ’n bietjie rosyntjies gegee. Almal het toe huis toe gegaan.

20 Dawid het by sy huis gekom om sy gesin te seën. Maar Mikal, Saul se dogter, kom hom tegemoet en sê sarkasties: “Hoe eerbiedwaardig het die koning van Israel vandag opgetree! Hy het homself voor die slavinne ontbloot en soos ’n skaamtelose mens gedra!”

21 Dawid het teruggekap: “Ja, ek het gedans voor die Here wat my bo jou pa en sy familie verkies het! Hy het my aangewys as heerser oor Israel, die volk van die Here.

22 En ek sal myself selfs nog meer verneder: Ek sal myself volgens jou siening nog geringer ag en steeds geëer word deur die slavinne van wie jy praat!”

23 Mikal het haar lewe lank kinderloos gebly.

2 SAMUEL 7

Die Here se belofte aan Dawid

1 Toe Dawid in sy paleis gevestig was en die Here hom rus gegee het van al sy vyande om hom,

2 het Dawid die profeet Natan ontbied. “Kyk!” sê Dawid. “Hier woon ek in ’n pragtige paleis van sederhout, maar die ark van God staan in ’n tent!”

3 Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus wat u in gedagte het, want die Here is met u.”

4 Maar daardie selfde nag het die Here vir Natan gesê:

5 “Gaan sê vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon?

6 Vandat Ek die Israeliete uit Egipte gelei het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. My huis was ’n tentwoning wat van plek tot plek verskuif het.

7 Ek het al die tyd saam met Israel getrek. Ek het nooit enigeen van die leiers wat Ek beveel het om die volk Israel te lei, gevra: Hoekom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?’

8 “Gaan en sê nou vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek het jou uit die weiveld, van agter die skape weggevat om oor my volk Israel te kom heers.

9 Ek was by jou oral waar jy gegaan het en Ek het al jou vyande vernietig. Ek het jou naam beroemd maak oor die hele aarde.

10 Ek het my volk Israel ’n vaste woonplek gegee, en hulle daar gevestig. Dit is ’n veilige plek waar hulle nie weer gesteur sal word nie. Bose mense sal hulle nie onderdruk soos in die verlede,

11 in die tyd toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te heers nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande.

“‘Nou verklaar die Here dat Hy vir jou ’n koningshuis sal bou.

12 Wanneer jy sterf en by jou voorouers begrawe word, sal Ek een uit jou nageslag, jou eie seun, in jou plek koning maak en Ek sal sy koninkryk vas laat staan.

13 Hy sal tot eer van my Naam ’n huis bou en Ek sal sy troon bevestig vir altyd.

14 Ek sal vir hom soos ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees. As hy oortree, sal Ek hom bestraf deur mense en menslike middels.

15 Maar my troue liefde sal Ek nie van hom af wegneem soos Ek dit tot jou voordeel van Saul af weggeneem het nie.

16 Jou koningshuis en jou koninkryk sal vir altyd vasstaan en jou troon sal vir altyd voortbestaan.’”

17 Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en hom alles vertel wat die Here gesê het.

Dawid se dankgebed

18 Toe het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, oppermagtige Here, en wie is my nageslag dat U so baie vir my gedoen het?

19 En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige Here, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige Here!

20 Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige Here.

21 Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak.

22 “Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie.

23 En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het.

24 U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, Here, het hulle God geword.

25 En nou, Here God, doen wat U belowe het oor my en my nageslag en bevestig dit vir altyd

26 sodat u Naam vir altyd geëer mag word. Mag daar gesê word: ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel!’ En mag die koningshuis van u dienaar Dawid in u teenwoordigheid vas bly staan.

27 “Here, Almagtige, God van Israel, ek het die vrymoedigheid geneem om hierdie gebed tot U te bid, want U het bekendgemaak dat U ’n huis vir my sal bou!

28 Nou, oppermagtige Here, U is God en u woorde is waarheid. U het hierdie goeie dinge aan u dienaar belowe.

29 Mag U nou asseblief die huis van u dienaar seën sodat dit vir altyd voor U mag bestaan, want U, oppermagtige Here, het dit belowe. Met u seën sal die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën wees!”

2 SAMUEL 8

Dawid se militêre suksesse

1 Hierna het Dawid die Filistyne gaan verslaan. Hy het hulle verneder en die mag van die Filistyne gebreek.

2 Dawid het ook die land van Moab onderwerp. Hy het die mense langs mekaar in ’n ry op die grond laat lê en hulle met ’n tou in groepe afgemeet. Hy het twee lengtes gemeet om tereggestel te word en een om gespaar te word. Die Moabiete het aan Dawid onderhorig geword en aan hom belasting betaal.

3 Dawid het ook die magte van Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba, verslaan toe hy uitgetrek het om sy mag by die Eufraatrivier te versterk.

4 Dawid het 1 700 oorlogsperde en 20 000 voetsoldate van hom gevang. Hy het 100 perde vir homself gehou en die ander se hakskeensenings afgesny.

5 Die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadad-Eser, koning van Soba te help, maar Dawid het 22 000 van hulle doodgemaak.

6 Daarna het hy verskeie verdedigingsposte in Damaskus, die hoofstad van Aram, opgerig. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en belasting betaal. Oral waar hy gegaan het, het die Here vir Dawid die oorwinning laat behaal.

7 Dawid het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgeneem en dit na Jerusalem toe gebring.

8 Hy het ook ’n groot klomp brons uit Tebag en Berotai, stede van Hadad-Eser, saamgebring.

9 Toe Koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die leër van Hadad-Eser verwoes het,

10 stuur hy sy seun Joram om groete aan Dawid te bring. Hy het hom ook gelukgewens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het dikwels teen Toï geveg. Joram het baie geskenke van silwer, goud en brons aan Dawid gegee.

11 Dawid het al hierdie geskenke aan die Here gewy, asook die silwer en goud wat hy gebuit het by al die nasies wat hy onderwerp het.

12 Dit was Aram, Moab, Ammon, die Filistyne en Amalek, asook van die buit van Hadad-Eser seun van Regob, koning van Soba.

13 Na sy oorwinning oor Aram, het Dawid vir hom naam gemaak toe hy 18 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.

14 Hy het oral in Edom garnisoene geplaas sodat die hele Edom Dawid se onderdane geword het. Oral waar Dawid gegaan het, het die Here hom die oorwinning gegee.

15 Dawid het oor die hele Israel regeer en was regverdig en billik teenoor almal.

16 Joab seun van Seruja was die bevelvoerder van die leër. Josafat seun van Agilud was die skrywer.

17 Sadok seun van Agitub en Agimelek seun van Abjatar was die priesters. Seraja was staatsekretaris.

18 Benaja seun van Jojada was hoof oor die koning se Filistynse lyfwag. Dawid se seuns het as priesters opgetree.

2 SAMUEL 9

Dawid doen goed aan Mefiboset

1 Op ’n dag het Dawid gevra: “Is daar nog iemand van Saul se afstammelinge oor? Ek wil aan so iemand goeddoen ter wille van Jonatan.”

2 Saul se hofhouding het ’n bestuurder gehad met die naam Siba. Hulle het hom na Dawid toe geroep. “Is jy Siba?” vra die koning.

“Ja, my heer, ek is,” antwoord Siba.

3 Die koning vra hom toe: “Is daar iemand uit Saul se huis wat nog lewe? Ek wil graag ’n besondere guns aan hom bewys.”

Siba het geantwoord: “Ja, een van Jonatan se seuns lewe nog, maar hy is kreupel.”

4 “Waar is hy?” vra die koning.

“In Lo-Dabar,” antwoord Siba, “in die huis van Makir seun van Ammiël.”

5 Koning Dawid het Jonatan se seun toe uit Makir se huis laat haal.

6 Sy naam was Mefiboset. Hy was Jonatan se seun en Saul se kleinseun. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë gegaan en laag gebuig.

“Mefiboset?” het Dawid gevra.

“Ja, dis ek, u dienaar,” het hy geantwoord.

7 Dawid sê vir hom: “Moenie bang wees nie! Ek sal na jou omsien ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet.”

8 Mefiboset het voor die koning gebuig. “Wie is u dienaar tog dat u so goed is vir ’n dooie hond soos ek?” het hy uitgeroep.

9 Toe het die koning vir Siba, Saul se bestuurder, beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek nou aan sy kleinseun.

10 Jy en jou seuns en jou slawe moet die landerye bewerk om kos te verskaf vir sy gesin. Mefiboset self sal egter hier in my paleis kom eet.”

Siba, wat vyftien seuns en twintig slawe gehad het,

11 het geantwoord: “U dienaar sal doen soos u my beveel het.” Van daardie dag af het Mefiboset gereeld aan Dawid se tafel geëet asof hy een van Dawid se eie seuns was.

12 Mefiboset het ’n seuntjie met die naam Miga gehad. Van toe af was die hele huishouding van Siba dienaars van Mefiboset.

13 Mefiboset self het egter in Jerusalem gebly omdat hy in die paleis geëet het. Al twee sy voete was verlam.

2 SAMUEL 10

Dawid verslaan die Ammoniete

1 ’n Tyd hierna het koning Nagas van die Ammoniete gesterf en sy seun Ganun het hom opgevolg.

2 Dawid het gedink: “Ek sal ’n goeie verhouding met Ganun handhaaf ter wille van sy pa Nagas. Hy was altyd lojaal aan my.” Dawid stuur toe gesante om sy medelye oor sy pa se dood aan Ganun oor te dra.

Maar toe Dawid se gesante in die land Ammon aankom,

3 sê die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun: “Dink u werklik hierdie manne het gekom om u vader te eer? Nee! Dawid het hulle gestuur om op die stad te spioeneer sodat hulle kan kom en dit verower!”

4 Ganun gryp toe Dawid se gesante, skeer die helfte van hulle baarde af, sny hulle klere onderkant die heupe af en stuur hulle terug.

5 Toe Dawid dit hoor, stuur hy boodskappers na die manne toe om hulle te gaan ontmoet, want hulle het baie vernederd gevoel. Hy het hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het. Dan kan julle terugkom huis toe.”

6 Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid beledig het. Hulle stuur toe gesante en huur 20 000 voetsoldate by die Arameërs uit Bet-Regob en Soba, asook 1 000 by die koning van Maäka, en 12 000 uit die land Is-Tob.

7 Toe Dawid dit hoor, stuur hy Joab en die hele leër van Israel, almal dapper manne.

8 Die Ammoniete het hulle gevegslinie voor die stadspoort opgestel, terwyl die Arameërs van Soba en Regob, en die manskappe van Is-Tob en Maäka in die oop veld stelling ingeneem het.

9 Toe Joab sien dat hy aan twee fronte sou moes veg, kies hy van die beste soldate in sy leër en voer hulle aan teen die Arameërs.

10 Die res van die leër plaas hy onder bevel van sy broer Abisai teenoor die Ammoniete.

11 “As die Arameërs die oorhand oor my kry, moet jy oorkom en my kom help,” sê Joab vir sy broer. “As die Ammoniete jou oorweldig, sal ek oorkom om jou te help.

12 Hou goeie moed! Laat ons dapper veg ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die wil van die Here geskied!”

13 Joab en sy leër het aangeval, maar die Arameërs het gevlug.

14 Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs op die vlug geslaan het, het hulle ook vir Abisai gevlug en in die stad gaan skuil. Hierna het Joab na Jerusalem toe teruggegaan.

15 Die Arameërs het nou besef dat hulle nie teen die Israeliete opgewasse was nie. Hulle het bondgenootskappe gesluit

16 en Hadad-Eser het nog Aramese troepe van die oorkant van die Eufraatrivier af ontbied. Hierdie manskappe het onder die bevel van Sobak, die bevelvoerder van Hadad-Eser se leër, in Gelam aangekom.

17 Toe Dawid hoor wat aan die gang was, het hy die hele Israel opgeroep, die Jordaan oorgesteek en die leër na Gelam gelei. Die Arameërs het stelling ingeneem en Dawid aangeval.

18 Weereens het die Arameërs voor die Israeliete gevlug. Hierdie keer het Dawid se magte 700 soldate op strydwaens en 40 000 perderuiters doodgemaak. Hy het ook Sobak, die bevelvoerder van die leër, gewond sodat hy gesneuwel het.

19 Toe Hadad-Eser en sy Aramese bondgenote besef dat Israel hulle verslaan het, het hulle vrede gesluit en aan Israel onderhorig geword. Daarna was die Arameërs bang om weer die Ammoniete te help.

2 SAMUEL 11

Dawid maak Batseba swanger

1 Die volgende lente, die tyd waarin die konings gewoonlik gaan veg, het Dawid vir Joab en sy manskappe, asook die hele leër van Israel gestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba gaan beleër. Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2 Een namiddag, nadat hy gerus het, het Dawid opgestaan en op die dak van die paleis rondgeloop. Van die dak af sien hy ’n besonder mooi vrou wat besig was om te bad.

3 Hy stuur toe iemand om uit te vind wie sy is. “Dis Batseba, die dogter van Eliam en vrou van Urija die Hetiet,” verneem hy.

4 Dawid het haar laat haal. Sy het so pas die reinigingsrituele na haar maandstonde voltooi. Sy het na die paleis toe gekom en hy het by haar geslaap. Daarna het sy teruggegaan na haar huis toe.

5 Toe sy later agterkom dat sy verwag, stuur sy vir Dawid ’n boodskap: “Ek is swanger.”

6 Dawid het vir Joab laat weet: “Stuur Urija die Hetiet na my toe.” Joab het so gemaak.

7 Toe Urija by Dawid kom, vra hy hoe dit met Joab en die leër gaan en hoe die oorlog verloop.

8 Toe sê hy vir Urija: “Gaan gerus huis toe en rus ’n bietjie.” Dawid het selfs ’n geskenk agter Urija aan gestuur nadat hy die paleis verlaat het.

9 Maar Urija wou nie huis toe gaan nie. Hy het die nag by die ingang van die paleis geslaap by die slawe van die koning.

10 Dawid het gehoor dat Urija nie huis toe gegaan het nie. Hy vra toe vir Urija: “Wat is verkeerd met jou? Hoekom het jy nie laas nag huis toe gegaan nadat jy so lank weg was nie?”

11 Urija antwoord: “Die ark en die leër van Israel en Juda oornag in tente, en Joab en u manskappe kampeer in die oop veld. Hoe kan ek dan huis toe gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? So waar as u leef, ek sal nie so iets doen nie.”

12 “Bly vannag nog hier,” sê Dawid vir hom. “Môre stuur ek jou terug.” Urija het toe daardie dag en die volgende dag in Jerusalem gebly.

13 Dawid nooi hom toe om saam met hom te kom eet en drink. Hy het hom dronk gemaak, maar selfs toe het hy nog nie huis toe gegaan nie, maar weer by die ingang van die paleis by die koning se slawe geslaap.

Dawid reël Urija se dood

14 Die volgende oggend skryf Dawid ’n brief aan Joab en stuur dit saam met Urija.

15 Die brief het gelui: “Plaas Urija op die voorpunt waar die geveg op sy hewigste is. Val dan terug sodat hy kan sneuwel.”

16 Joab was besig om die stad te beleër. Hy het vir Urija op ’n plek gesit waar hy geweet het die stryd is vel.

17 Die verdedigers het uitgekom om teen Joab te veg. Verskeie van Dawid se soldate het gesneuwel, ook Urija die Hetiet.

18 Joab het ’n verslag van die geveg na Dawid toe gestuur.

19 Hy sê vir die boodskapper: “Lewer verslag oor die geveg aan die koning.

20 As hy kwaad word en vra: ‘Hoekom het julle so naby aan die stad gekom? Weet julle nie dat daar van die mure af op julle geskiet sal word nie?

21 Wie het Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit dan nie ’n vrou wat bo van die muur af ’n maalklip op hom gegooi het sodat hy by Tebes gesterf het nie? Hoekom het julle so naby aan die muur gekom?’ Dan moet jy vir hom sê: ‘Urija die Hetiet het ook gesneuwel.’”

22 Die boodskapper het toe volledig aan Dawid verslag gedoen.

23 “Die vyand het sterk weerstand gebied en teen ons in die oop veld uitgetrek,” sê hy. “Ons het hulle egter tot by die stadspoort teruggedryf.

24 Toe het die boogskutters van die muur af op ons begin skiet. Sommige van u soldate is getref, ook Urija die Hetiet is dood.”

25 Dawid antwoord: “Sê vir Joab: ‘Moenie jou hieroor ontstel nie. Die swaard tref nou een, dan ’n ander. Veg net nog harder en verower die stad!’ So moet jy hom bemoedig.”

26 Toe Batseba hoor dat haar man dood is, het sy oor hom gerou.

27 Toe die routyd verby was, het Dawid haar na sy paleis toe laat haal en sy het een van Dawid se vroue geword. Sy het geboorte gegee aan ’n seuntjie. Maar die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het.

2 SAMUEL 12

Natan onthul Dawid se vergryp

1 Die Here het toe die profeet Natan na Dawid toe gestuur. Hy het by Dawid gekom en vir hom vertel: “In ’n bepaalde dorpie was daar twee mans. Die een was ryk en die ander arm.

2 Die ryk man het troppe kleinvee en beeste besit.

3 Die arm man het niks besit nie behalwe ’n klein ooilammetjie wat hy gekoop het. Hy het haar versorg en saam met sy kinders grootgemaak. Sy het van die oorskietkos geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot gelê. Sy was vir hom soos ’n dogter.

4 Op ’n dag kom daar ’n besoeker by die huis van die ryk man aan. Hy wou nie ’n skaap uit sy eie kudde vang en as kos voorberei nie. Toe neem hy die arm man se ooilam, slag dit en berei dit voor vir die gas.”

5 Dawid was woedend. “So seker as wat die Here leef,” sê hy vir Natan, “die man wat dit gedoen het, verdien die dood!

6 Hy moet met vier lammers vergoed vir die ooilam wat hy gevat het en ook omdat hy geen medelye gehad het nie.”

7 Toe antwoord Natan vir Dawid: “Jy is daardie man! Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek het jou tot koning van Israel gesalf en jou uit die mag van Saul gered.

8 Ek het sy huis vir jou gegee, asook sy vroue en die koninkryke van Israel en Juda. En, as dit nie genoeg was nie, sou Ek jou nog baie meer gegee het.

9 Hoekom het jy dan die woord van die Here geminag en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard laat vermoor en sy vrou gevat. Jy het hom deur die swaard van die Ammoniete doodgemaak!

10 Van nou af sal die swaard ’n permanente bedreiging vir jou familie inhou omdat jy My verag het en Urija se vrou vir jouself toegeëien het.

11 “Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vroue voor jou oë vir ’n ander man gee, en hy sal oop en bloot, in die helder daglig, by hulle gaan slaap.

12 Jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen.”

Dawid bely sy skuld

13 Toe bely Dawid sy skuld en sê vir Natan: “Ek het teen die Here gesondig.”

Natan antwoord hom: “Die Here het jou sonde vergewe sodat jy nie oor hierdie sonde sal sterf nie.

14 Maar jy het vir die vyande van die Here geleentheid gegee om Hom te laster. Daarom sal hierdie kind sterf.”

15 Nadat Natan daar weg is, het die Here die kind van Urija se vrou en Dawid dodelik siek laat word.

16 Dawid het die Here gesmeek om die kind se lewe te spaar. Hy het gevas, en die hele nag op die vloer gelê.

17 Die oudstes van sy huishouding het by hom gepleit om op te staan, maar hy het geweier en wou nie saam met hulle eet nie.

18 Op die sewende dag het die kind gesterf. Dawid se amptenare was bang om dit vir hom te vertel. “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy wou nie vir ons luister nie,” het hulle gesê. “Watter onverantwoordelike ding sal hy dalk doen as ons hom vertel dat die kind dood is?”

19 Dawid het opgemerk dat hulle onder mekaar fluister en hy het besef dat die kind gesterf het. “Is die kind dood?” vra hy.

“Ja, hy is dood,” antwoord hulle.

20 Toe het Dawid van die grond af opgestaan, homself gewas en reukolie aangesmeer. Nadat hy skoon klere aangetrek het, het hy in die heiligdom ingegaan en daar aanbid. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en kos gevra. Hulle het dit gebring en hy het geëet.

21 Maar sy amptenare vra vir hom: “Hoe moet ons nou u optrede verstaan? Terwyl die kind nog gelewe het, het u gehuil en gevas. Maar noudat die seun dood is, het u opgestaan en geëet.”

22 Dawid antwoord hulle: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: ‘Miskien sal die Here genadig wees en die kind laat lewe.’

23 Maar nou is hy dood! Hoekom moet ek nou nog vas? Kan ek hom weer terugbring? Eendag sal ek na hom toe gaan, maar hy kan nie na my toe terugkom nie.”

24 Dawid het toe vir Batseba sy vrou getroos en by haar geslaap. Sy het ’n seun in die wêreld gebring. Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het die seun liefgehad

25 en het deur die profeet Natan laat weet dat sy naam Jedidja, geliefde van die Here, moes wees, want die Here het hom liefgehad.

Dawid verower Rabba

26 Intussen was Joab suksesvol in die stryd teen Rabba. Hy het die hoofstad van Ammon en die koninklike vesting verower.

27 Toe stuur Joab boodskappers na Dawid toe om te sê: “Ek het teen Rabba geveg en hulle waterbron verower.

28 Roep nou die burgermag op, kom beleër die stad en neem dit in sodat u die eer vir die oorwinning kan ontvang en nie ek nie.”

29 Dawid het toe die burgers opgeroep, na Rabba toe gegaan en die stad verower.

30 Dawid het die kroon van die koning se kop afgehaal en dit op sy eie kop gesit. Die kroon was van goud met edelgesteentes en het omtrent 34 kilogram geweeg. Dawid het ook ’n groot buit uit die stad geneem.

31 Hy het die inwoners van Rabba weggevoer en hulle dwangarbeid laat doen met sae, ysterpikke en byle, en ook in die steengroewe. So het hy met al die Ammonitiese stede gemaak. Daarna het Dawid en die hele leër teruggekeer na Jerusalem toe.

2 SAMUEL 13

Amnon verkrag sy suster Tamar

1 Daarna het iets leliks gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n mooi halfsuster met die naam Tamar gehad. Amnon het smoorverlief op haar geraak.

2 Dit het so ’n obsessie geword dat hy siek van begeerte was. Omdat sy ’n maagd was, het dit onmoontlik gelyk om iets met haar te doen.

3 Amnon het ’n vriend gehad met die naam Jonadab, ’n uitgeslape man. Hy was die seun van Dawid se broer Samma.

4 Op ’n dag vra Jonadab vir Amnon: “Wat is verkeerd? Hoe is dit dat die seun van ’n koning dag na dag so neerslagtig lyk? Kom vertel my!”

Amnon sê toe: “Ek is verlief op Tamar, Absalom se suster.”

5 “Ek sal jou sê wat jy moet doen,” sê Jonadab. “Gaan lê in die bed en maak of jy siek is. Wanneer jou pa kom kyk hoe dit gaan, vra hom: ‘Laat Tamar asseblief kom om vir my iets te ete te bring. Sy moet dit voor my oë voorberei sodat ek dit uit haar hande kan eet.’”

6 Amnon het gaan lê en voorgegee dat hy siek is. Toe die koning kom om te sien wat verkeerd is, vra Amnon: “Laat my suster Tamar asseblief kom en voor my oë vir my twee hartvormige roosterkoeke bak sodat ek uit haar hande kan eet.”

7 Dawid het ingestem en vir Tamar na Amnon se huis toe gestuur om vir hom kos voor te berei.

8 Toe Tamar by Amnon se huis kom, gaan sy in die kamer in waar hy gelê het. Sy het deeg geneem en dit voor sy oë geknie, hartvormige koeke gemaak en dit gebak.

9 Maar toe sy die pan voor hom neersit, het hy geweier om te eet. “Almal van julle moet hier uitgaan!” sê hy. Toe almal weg was,

10 vra hy vir Tamar: “Bring die kos hier na my toe dat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar neem toe die hartvormige koeke wat sy voorberei het en bring dit na haar broer Amnon se bed.

11 Maar net toe sy vir hom die kos wou voer, gryp hy haar en eis: “Kom slaap by my, my suster.”

12 “Nee, my broer!” smeek sy. “Moenie my onteer nie! Jy weet mos dat so iets nie in Israel gedoen word nie. Moenie hierdie dwase ding aanvang nie!

13 Waarheen sal ek met hierdie skande vlug? Jy sal soos ’n dwaas in Israel wees. Praat gerus met die koning hieroor. Hy sal toelaat dat jy met my trou.”

14 Maar Amnon wou nie luister nie. Omdat hy sterker was as sy, het hy haar oorrompel en verkrag.

15 Toe verander sy verliefdheid in haat. Sy haat was selfs groter as sy verliefdheid vir haar. “Staan op en loop!” skree hy vir haar.

16 “Nee!” sê sy. “Om my nou weg te jaag is ’n groter onreg as wat jy my reeds aangedoen het.”

Maar Amnon wou nie na haar luister nie.

17 Hy roep toe sy slaaf en beveel hom: “Smyt hierdie vrou hier uit en sluit die deur agter haar!”

18 Die slaaf het haar toe uitgeneem en die deur gesluit. Sy het ’n lang mantel gedra volgens die destydse gebruik vir die koning se dogters wat nog maagde was.

19 Tamar het stof op haar kop gegooi, die mantel stukkend geskeur, haar hand op haar kop gesit en hardop gehuil so ver sy gegaan het.

20 Haar broer Absalom het haar gevra: “Was Amnon by jou? Wees nou eers stil, my suster. Aangesien hy jou broer is, moet jy jou nie daaroor ontstel nie.” Daarna het Tamar as ’n eensame vrou in Absalom se huis gaan woon.

21 Toe koning Dawid hiervan hoor, was hy baie kwaad.

22 Hoewel Absalom nooit met Amnon hieroor gepraat het nie, het hy Amnon intens gehaat oor wat hy aan sy suster gedoen het.

Absalom wreek hom op Amnon

23 Twee jaar later was Absalom besig om sy skape in Baäl-Gasor naby Efraim te laat skeer. Hy het al die seuns van die koning soontoe uitgenooi.

24 Hy het ook na die koning toe gegaan en gesê: “My skeerders is nou besig. Sal die koning en sy personeel asseblief saamkom om deel te neem aan die geleentheid?”

25 Die koning antwoord: “Nee, my seun. As ons almal gaan, sal dit vir jou ’n groot oorlas wees.” Alhoewel Absalom daarop aangedring het, wou die koning nie kom nie, maar het hom voorspoed toegewens.

26 “As u nie kan kom nie, kan my broer Amnon dan asseblief saamgaan?” vra Absalom.

“Hoekom nou juis Amnon?” vra die koning.

27 Maar Absalom het by die koning daarop aangedring totdat hy ingestem het dat al sy seuns, insluitend Amnon, kon gaan.

28 Absalom het vir sy lyfwagte gesê: “Wag totdat Amnon dronk is. Wanneer ek die teken gee, moet julle hom doodmaak. Moenie bang wees nie. Ek is die een wat die bevel gegee het. Wees sterk en dapper.”

29 Die lyfwagte het met Amnon gemaak soos Absalom hulle beveel het en Amnon doodgemaak. Die ander seuns van die koning het elkeen op sy muil gespring en gevlug.

30 Terwyl hulle nog op pad terug was, het die gerug Dawid bereik: “Absalom het al u seuns doodgemaak sodat niemand oorgebly het nie!”

31 Die koning het opgestaan van sy troon, sy klere geskeur en op die grond neergeval. Sy onderdane by hom het ook hulle klere geskeur.

32 Maar Jonadab, seun van Dawid se broer Samma sê: “Nee, my heer, moenie dink al die seuns van die koning is doodgemaak nie. Dit is net Amnon wat dood is. Dit was duidelik dat Absalom dit lankal beplan het, sedert Amnon sy suster Tamar verkrag het.

33 Nee, die koning moenie die gerug ernstig opneem nie. Die seuns is nie almal dood nie. Dit is net Amnon wat dood is!”

34 Intussen het Absalom gevlug.

Die wagter het opgekyk en ’n groot klomp mense sien aankom uit die rigting van Bet-Goron teen die kant van die heuwel.

35 “Kyk!” sê Jonadab vir die koning. “Daar kom u seuns. Dis net soos ek gesê het.”

36 Hulle het kort daarna daar aangekom terwyl hulle huil en treur. Die koning en sy amptenare het ook bitterlik saam met hulle gehuil.

37 Absalom het na sy oupa Talmai van Gesur, seun van Ammigur, gevlug. Dawid het nog lank oor sy seun Amnon getreur.

38 Absalom het drie jaar lank daar in Gesur gebly.

39 Dawid het homself versoen met die dood van Amnon en het nie teen Absalom opgetree nie.

2 SAMUEL 14

Joab en die slim vrou van Tekoa

1 Seruja se seun Joab het opgemerk dat die koning na Absalom verlang.

2 Hy laat roep toe ’n vrou van Tekoa wat bekend was vir haar wysheid. Hy sê vir haar: “Maak of jy iemand is wat rou. Trek rouklere aan en moenie reukolie gebruik nie. Tree op soos ’n vrou wat vir ’n lang tyd al treur oor iemand wat dood is.

3 Gaan dan na die koning toe en maak soos wat ek jou nou gaan voorsê.” Joab het haar toe vertel wat om te sê.

4 Toe die vrou van Tekoa by die koning kom, het sy voor hom op die grond neergeval en uitgeroep: “Koning! Help my tog!”

5 “Wat is die probleem?” vra die koning.

“Ek is ’n weduwee,” antwoord sy, “want my man is dood.

6 Ek het twee seuns gehad. Hulle het in die veld met mekaar baklei. Omdat daar niemand was om hulle uitmekaar te maak nie, het die een die ander doodgeslaan.

7 Nou het die hele familie teen my gedraai en eis: ‘Lewer jou seun uit. Ons sal hom teregstel omdat hy sy broer doodgemaak het. Ons wil hom doodmaak, al is hy die enigste erfgenaam.’ Maar as hulle dit doen, sal daar niemand vir my oorbly nie en die naam van my man en sy familie sal van die aarde af verdwyn.”

8 “Gaan maar gerus huis toe,” sê die koning vir haar. “Ek sal toesien dat niemand hom kwaad aandoen nie.”

9 “My heer die koning,” antwoord sy, “laat enige skuld op my en my familie neerkom, want die koning en sy troon is onskuldig.”

10 “Moenie jou daaroor bekommer nie!” antwoord die koning. “As iemand hieroor met jou praat, bring hom na my toe. Hy sal jou nie weer pla nie!”

11 Toe sê sy: “Lê asseblief ’n eed af by die Here u God dat die bloedwrekers nie wraak op my seun sal neem en hom doodmaak nie.”

“So waar as die Here leef,” antwoord die koning, “daar sal nie ’n haar van jou seun se kop val nie!”

12 “Mag ek net nog iets vir u sê?” sê sy.

“Praat gerus,” moedig hy haar aan.

13 Sy het geantwoord: “Hoekom neem u dan ook wraak tot nadeel van die volk van God? Met hierdie uitspraak het u uself veroordeel, want u het geweier om u eie verstote seun weer huis toe te bring.

14 Almal van ons moet een of ander tyd sterf. Ons lewens is soos water wat op die grond gestort is en nie weer herwin kan word nie. Maar God wil nie ’n lewe neem nie. Hy beraam planne sodat die verstoteling nie van Hom verstote sal bly nie.

15 “Ek het na u toe gekom om vir my seun te pleit omdat ek bang was vir die mense. Ek het vir myself gesê: ‘Laat ek met die koning praat. Dalk sal hy iets aan my probleem doen.

16 Ja, die koning sal luister en my red uit die mag van die man wat my en my seun wil beroof van die erfdeel wat God ons gegee het.’

17 Ek het ook gedink: ‘Mag die uitspraak van die koning my gerusstel, want u is soos ’n engel van God wat tussen goed en kwaad kan onderskei.’ Mag die Here u God met u wees.”

18 “Ek wil net een ding weet,” sê die koning. “Jy moet dit nie wegsteek nie.”

“Wat is dit, my heer?” vra sy.

19 “Is dit Joab wat jou hierheen gestuur het?” vra die koning.

Die vrou antwoord: “My heer die koning, hoe kan ek dit ontken? Niemand kan iets vir u wegsteek nie. Ja, so waar as wat u lewe, Joab, u leërowerste, het my gestuur en het my vertel wat om te sê.

20 Hy het dit gedoen om ’n ander kant van die saak te stel. Maar u het wysheid soos ’n engel van God wat alles weet wat in die land gebeur!”

Dawid laat Joab toe om

Absalom te gaan haal

21 Die koning het Joab toe laat roep en sê vir hom: “Goed dan, ek sal maak soos jy vra. Gaan en bring die jong man Absalom terug.”

22 Joab het in eerbetoon voor die koning op die grond neergeval en gesê: “Die Here seën u. Nou weet ek dat u goedgesind is teenoor my, want u het my versoek toegestaan.”

23 Joab is na Gesur toe en het Absalom na Jerusalem toe teruggebring.

24 Maar die koning het beveel: “Absalom kan na sy huis toe gaan, maar hy mag nie voor my verskyn nie.” Absalom het na sy huis toe gegaan sonder om die koning te sien.

Absalom uiteindelik met Dawid

versoen

25 Daar was niemand in die hele Israel wat so aantreklik was en so bewonder is soos Absalom nie. Van sy kop tot sy tone het hy geen gebrek gehad nie.

26 Hy het sy hare een keer per jaar laat sny omdat dit te swaar geword het om te dra. Dit het meer as twee kilogram geweeg volgens die koninklike skaal.

27 Absalom het drie seuns en een dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was beeldskoon.

28 Absalom was twee jaar terug in Jerusalem sonder dat hy die koning gesien het.

29 Absalom laat roep toe vir Joab sodat hy hom na die koning toe kon stuur, maar Joab het geweier om te kom. Hy het dit ’n tweede keer gedoen, maar Joab wou weer nie kom nie.

30 Toe sê Absalom vir sy dienaars: “Kyk, Joab se grond lê langsaan myne en daar staan gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.” Absalom se dienaars het gemaak soos hy gesê het.

31 Hierdie keer kom Joab na Absalom toe en vra: “Hoekom het jou dienaars my gesaaides aan die brand gesteek?”

32 Absalom het geantwoord: “Kyk, ek het jou laat roep om die koning te vra hoekom hy my uit Gesur laat terugkom het as hy nie van plan was om my te sien nie. Ek kon maar netsowel daar gebly het. Laat my die koning sien. As ek skuldig is, moet hy my teregstel.”

33 Joab het toe vir die koning daaroor ingelig. Uiteindelik het Dawid sy vervreemde seun laat roep. Absalom het gekom en diep voor die koning gebuig, en Dawid het hom gesoen.