1 SAMUEL 16

Samuel salf Dawid as koning

1 Die Here het weer met Samuel gepraat: “Jy het nou lank genoeg oor Saul getreur vandat Ek besluit het dat hy nie langer koning van Israel moet wees nie. Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe. Daar moet jy ’n man met die naam Isai soek. Ek het besluit dat een van sy seuns die nuwe koning sal wees.”

2 Maar Samuel vra: “Hoe kan ek dit doen? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”

“Vat ’n jong vers saam met jou,” antwoord die Here, “en sê: ‘Ek kom om ’n offer aan die Here te bring.’

3 Nooi Isai ook na die offer. Dan sal Ek jou sê watter een van sy seuns jy vir My moet salf.”

4 Samuel het gedoen wat die Here beveel het. Toe Samuel in Betlehem aankom, was die leiers van die dorp bang. Hulle vra hom toe: “Wat is verkeerd? Kom u in vrede?”

5 “Ja, in vrede,” antwoord Samuel. “Ek het gekom om ’n offer aan die Here te bring. Sorg dat julle die reinigingseremonie uitgevoer het sodat julle saam met my daaraan kan deelneem.” Hy het Isai en sy seuns self gereinig en na die geleentheid genooi.

6 Toe hulle daar aankom, kyk hy na Eliab en dink: “Dis sekerlik die Here se gesalfde!”

7 Maar die Here sê vir Samuel: “Moenie volgens voorkoms of grootte of liggaamsbou oordeel nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na die binnekant.”

8 Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbyloop, maar Samuel sê: “Dis ook nie die Here se keuse nie.”

9 Daarna roep Isai vir Samma, maar Samuel sê: “Hierdie een het die Here ook nie gekies nie.”

10 Sewe van Isai se seuns is so aan Samuel voorgestel, maar Samuel sê vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11 Daarom vra hy: “Is hierdie al jou seuns?”

“Die jongste is nie hier nie,” antwoord Isai. “Hy pas die skape op.”

“Stuur iemand om hom te gaan haal,” sê Samuel. “Ons kan nie eet voordat hy ook hier is nie.”

12 Isai het so gemaak en hom laat roep. Hy was rooierig van voorkoms, aantreklik met mooi oë. Uiteindelik sê die Here: “Dis die regte een. Salf hom.”

13 Terwyl Dawid daar tussen sy broers staan, neem Samuel die olie wat hy saamgebring het en gooi dit uit op Dawid se kop. Van toe af het die Gees van die Here kragtig in hom gewerk. Daarna het Samuel na Rama toe teruggegaan.

Dawid tree in diens van Saul

14 Maar die Gees van die Here het Saul verlaat. ’n Bose gees wat die Here gestuur het, het hom geteister.

15 Toe sê sy amptenare vir hom: “Dis duidelik dat ’n bose gees deur God gestuur is om u te teister.

16 Laat ons iemand kry wat goed op die lier kan speel. Wanneer die bose gees u lastig val, sal die musiek u kalmeer sodat u gou weer beter sal voel.”

17 “Goed,” sê Saul. “Soek iemand wat goed kan speel en bring hom na my toe.”

18 Een van Saul se amptenare sê toe vir hom: “Ek het ’n seun van Isai uit Betlehem teëgekom wat goed kan speel. Hy is dapper en ’n goeie vegter. Hy is goed met woorde en ook aantreklik. Die Here is met hom.”

19 Saul het boodskappers na Isai toe gestuur en gesê: “Stuur jou seun Dawid, die skaapwagter, na my toe.”

20 Isai het ’n jong bokkie geneem, kos en wyn op ’n donkie gelaai en dit alles saam met sy seun Dawid na Saul toe gestuur.

21 So het dit gebeur dat Dawid in Saul se diens getree het. Saul het so baie van Dawid gehou dat Dawid selfs sy wapendraer geword het.

22 Saul laat weet toe vir Isai: “Laat Dawid tog vir my werk, want ek is baie tevrede met hom.”

23 Telkens wanneer die bose gees vir Saul kwel, het Dawid op die lier gespeel. Dit het Saul beter laat voel en die bose gees het hom laat staan.

1 SAMUEL 17

Goliat daag die Israeliete uit

1 Die Filistynse troepe het saamgetrek vir oorlog. Hulle het by Soko in Juda bymekaargekom en kamp opgeslaan by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka.

2 Saul en die manskappe van Israel het in die vallei by die groot boom kamp opgeslaan en hulle vir die geveg teen die Filistyne gereedgemaak.

3 Die Filistyne en die Israeliete het op twee heuwels teenoor mekaar stelling ingeneem. Daar was ’n vallei tussen hulle.

4 Goliat, ’n uithalervegter van Gat, het uit die leër van die Filistyne na vore gekom. Hy was drie meter lank.

5 Hy het ’n bronshelm op sy kop gehad en ’n harnas met skubbe. Die gewig van die harnas was 57 kilogram.

6 Sy beenplate was ook van brons, en ’n bronsswaard het tussen sy skouerblaaie gehang.

7 Die steel van sy spies was so dik soos ’n wewer se balk en die ysterlem van die spies het sewe kilogram geweeg. ’n Wapendraer het voor hom uitgeloop en ’n skild gedra.

8 Hy het teenoor die manskappe van Israel gaan staan en geskreeu: “Is dit regtig nodig dat die gevegslinies opgestel moet word? Ek is tog ’n Filistyn en julle is onderdane van Saul. Kies iemand wat ’n tweegeveg met my kan voer.

9 As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees!

10 Ek daag vandag die gevegsmagte van Israel uit! Stuur tog iemand om teen my te veg!”

11 Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang.

Isai stuur Dawid na Saul se

magte

12 Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud.

13 Die oudste drie, Eliab, Abinadab en Samma, was soldate in Saul se leër.

14 Dawid was die jongste seun, terwyl die drie oudstes reeds in Saul se leër diens gedoen het.

15 Dawid het heen en weer beweeg tussen Saul en sy pa se skape wat hy in Betlehem moes versorg.

16 Vir 40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig.

17 Op ’n dag sê Isai vir Dawid: “Vat sestien kilogram gebraaide koring en tien brode na jou broers toe in die militêre kamp.

18 Gee hierdie tien stukke kaas vir hulle bevelvoerder. Kyk ’n bietjie hoe dit met jou broers gaan en bring iets saam om te bewys dat dit goed gaan met hulle.”

19 Dawid se broers was manskappe in Saul se leër wat in die laagte by die groot boom teen die Filistyne geveg het.

20 Dawid het vroeg opgestaan, die skape in die sorg van ’n ander herder gelos, die kos geneem en gedoen soos sy pa hom beveel het. Net toe hy daar aankom, het die manskappe met ’n oorlogskreet in gevegsorde uitgetrek

21 waar Israel en die Filistyne teenoor mekaar opgestel was.

22 Dawid het sy bagasie net so in die sorg van ’n oppasser gelos en hom na sy broers in die linie gehaas. Daar verneem hy na hulle welstand.

23 Juis toe kom Goliat, die uithalervegter van Gat, uit die Filistyne se linies na vore. Dawid het sy herhaalde uitdaging gehoor.

24 Toe die Israeliete Goliat hoor, het hulle weggehardloop omdat hulle vir hom bang was.

25 Die manskappe van Israel sê toe: “Het julle hom gesien? Elke dag kom hy uit om Israel te beledig. Die koning het ’n groot beloning aangebied vir enigeen wat die man sal doodmaak. Die koning sal een van sy dogters vir hom as vrou gee en sy hele familie sal van belasting vrygestel word!”

26 Dawid praat toe met die ander wat daar by hom staan. “Wat sal gebeur met die man wat hierdie Filistyn doodmaak en so ’n einde bring aan die skande oor Israel? Wie is hierdie onbesnyde Filistyn dat hy die leër van die lewende God so kan beledig?”

27 Dawid het dieselfde antwoord as vroeër ontvang: “Dit is wat sal gebeur met die man wat hom doodmaak.”

28 Maar Dawid se oudste broer het gehoor hoe hy met die manskappe praat en het kwaad geword. “Hoekom het jy hierheen gekom?” vra hy. “En by wie het jy daardie klompie vee in die wildernis gelos? Ek ken jou domastrantheid en vermetelheid. Jy wil net die geveg sien!”

29 “Wat het ek dan nou gedoen?” antwoord Dawid. “Ek het maar net ’n vraag gevra!”

30 Hy gaan toe na iemand anders toe en vra dieselfde vraag en kry dieselfde antwoord.

31 Al meer mense het gehoor wat Dawid sê en het dit aan Saul oorgedra. Hy het Dawid laat roep.

Dawid veg teen Goliat

32 “Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” sê Dawid vir Saul. “Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!”

33 “Moenie verspot wees nie,” sê Saul. “Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ’n seun, terwyl hy van jongs af ’n vegter is!”

34 Maar Dawid het volgehou: “Ek pas my pa se skape op,” sê hy. “As ’n leeu of ’n beer kom om ’n lam uit die trop weg te dra, sit ek hom agterna.

35 Ek val hom aan en red die lam uit sy bek. As hy my wil aanval, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood.

36 Ek het dit al met sowel ’n leeu as ’n beer gedoen, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos een van hulle word omdat hy die leër van die lewende God beledig het!

37 Die Here wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!”

Saul het uiteindelik ingestem. “Goed, doen dit,” sê hy. “En mag die Here met jou wees!”

38 Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek: ’n bronshelm op sy kop en ’n borsharnas.

39 Dawid het ook sy swaard bo-oor sy uitrusting vasgemaak. Toe hy probeer loop, kon hy nie, want hy het dit nog nie vantevore gedra nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy. “Ek is nie daaraan gewoond nie.” Daarom het hy die uitrusting uitgetrek.

40 Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit uit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet.

41 Die Filistyn het na Dawid toe uitgekom, met sy skilddraer voor hom.

42 Toe hy hom sien, het hy hierdie jong rooierige en aantreklike seun geminag.

43 Hy skreeu vir hom: “Is ek ’n hond dat jy met ’n stok na my toe kom?” Toe vervloek hy Dawid in die naam van die Filistyne se gode.

44 “Kom nader sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee!” skree hy.

45 Maar Dawid skree terug: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here, die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy staan en beledig.

46 Vandag gee die Here jou oor in my mag. Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap, en die lyke van die Filistynse leër vir die roofvoëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee.

47 Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die Here nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die Here s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!”

48 Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan.

49 Hy steek sy hand in sy slingersak, vat ’n klip daaruit, gooi dit met sy slingervel en tref die voorkop van die Filistyn. Die klip het in sy kop ingedring en hy het met sy gesig vooroor op die grond geval.

50 So het Dawid met sy slinger en ’n klip die Filistyn oorwin. Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ’n swaard in Dawid se hande was.

51 Toe hardloop Dawid, trek die Filistyn se swaard uit die skede en kap sy kop daarmee af.

Israel verslaan die Filistyne

Toe die Filistyne sien dat hulle baasvegter dood is, het hulle gevlug.

52 Die manskappe van Israel en Juda het opgespring en met ’n geskree die Filistyne agternagesit tot by die ingang na Gat en die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het gestrooi gelê langs die pad vanaf Saärim na Gat toe en tot by Ekron.

53 Daarna het die Israeliete omgedraai van die agtervolging en die kamp van die Filistyne geplunder.

54 Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar sy wapens in sy eie tent gaan neersit.

55 Toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn aan te durf, vra hy vir Abner, die hoof van die leër: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?”

Abner antwoord: “Ek weet regtig nie, Koning!”

56 “Dan moet jy uitvind wie die jong man is,” beveel Saul.

57 Nadat Dawid die Filistyn doodgemaak het, bring Abner hom na Saul toe. Die kop van die Filistyn was nog in sy hand.

58 Saul sê vir hom: “Sê my wie se kind is jy, my seun?”

Dawid antwoord: “Ek is die seun van u onderdaan Isai. Ons woon in Betlehem.”

1 SAMUEL 18

Saul word afgunstig op Dawid

1 Nadat Dawid met Saul gepraat het, het Saul se seun Jonatan baie geheg geraak aan Dawid. Daar was dadelik ’n band tussen hulle sodat hulle boesemvriende geword het.

2 Daardie dag nog het Saul hom saamgeneem huis toe en wou nie toelaat dat hy na sy pa toe teruggaan nie.

3 Jonatan en Dawid het toe ’n plegtige ooreenkoms aangegaan omdat Jonatan baie aangetrokke tot hom gevoel het.

4 Jonatan het sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee. Hy het ook sy wapenrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel vir hom gegee.

5 Dawid het toe uitgetrek teen wie ook al Saul hom uitgestuur het. Dawid het dit suksesvol uitgevoer. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Sowel die soldate as Saul se amptenare het dit goedgekeur.

6 Toe hulle terugkeer huis toe ná Dawid se oorwinning oor die Filistyn, het die vroue uit al die dorpe van Israel koning Saul tegemoetgegaan. Hulle het gesing en gejubel saam met dansers met tamboeryne en met driesnarige instrumente.

7 Die vroue het gesing en gesê:

“Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende.”

8 Saul het gebrand van jaloesie, en die woorde was vir hom ’n belediging. Hy sê toe: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee, maar vir my net die duisende. Al wat hy nog kortkom, is die koningskap!”

9 Van daardie dag af het Saul vir Dawid gewantrou.

10 Die volgende dag het ’n bose gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak sodat hy in sy huis soos ’n besetene opgetree het. Dawid het weer op die lier begin speel soos hy gewoonlik gedoen het. Saul het egter ’n spies in sy hand gehad.

11 Toe gooi hy na Dawid met die spies en dink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen.” Maar Dawid het gekoes, ook vir ’n tweede keer.

12 Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by Dawid was, maar vir hom verlaat het.

13 Daarom het hy Dawid weggestuur en hom elders as hoof van ’n leërafdeling aangestel.

14 Dawid was suksesvol in alles wat hy gedoen het en die Here was met hom.

15 Toe Saul dit opmerk, was hy bang vir hom,

16 maar die hele Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy ’n suksesvolle aanvoerder was.

Dawid trou met Saul se dogter

17 Saul sê toe vir Dawid: “Ek is van plan om my oudste dogter, Merab, vir jou as vrou te gee. Jy moet net jouself bewys en die oorloë van die Here veg.” Saul het gedink: “Ek moet hom nie self doodmaak nie, maar hom eerder teen die Filistyne stuur sodat hulle dit kan doen.”

18 Dawid sê egter vir Saul: “Wie is ek en wie is my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun sal wees?”

19 Maar teen die tyd dat Saul sy dogter Merab aan Dawid moes gee, is sy aan Adriël, die Megolatiet, as vrou gegee.

20 Intussen het Saul se dogter Mikal op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, was hy in sy skik daarmee.

21 Saul het gedink: “Ek sal haar vir hom gee sodat ek deur haar vir hom ’n lokval kan stel. Die Filistyne sal ook teen hom wees.” Daarop sê Saul die tweede keer vir Dawid: “Jy kan my skoonseun wees!”

22 Saul sê toe vir sy amptenare: “Praat met Dawid en sê: ‘Die koning hou van jou en al die amptenare is geheg aan jou. Hoekom aanvaar jy nie die koning se aanbod om sy skoonseun te word nie?’”

23 Toe die amptenare so met Dawid praat, antwoord hy: “Dink julle dis so maklik om skoonseun van die koning te word? Ek is maar ’n arm man sonder aansien.”

24 Die amptenare van Saul het hom meegedeel wat Dawid gesê het.

25 Saul antwoord: “Sê vir Dawid: ‘As bruidsprys wil die koning niks anders hê nie as 100 voorhuide van die Filistyne. Eintlik soek ek maar net wraak op my vyande.’” In werklikheid het Saul gehoop die Filistyne sal Dawid doodmaak.

26 Die amptenare het dit vir Dawid vertel en hy het dit goedgevind om so skoonseun van die koning te word voordat die aanbod verstryk het.

27 Dawid en sy manskappe het uitgegaan en 200 Filistyne doodgemaak. Dawid het hulle voorhuide vir Saul gebring sodat hy skoonseun van die koning kon word. Saul het toe sy dogter Mikal vir hom as vrou gegee.

28 Saul het opgelet dat die Here met Dawid was en dat sy dogter Mikal hom liefhet.

29 Daarom het Saul nog banger vir Dawid geword. Saul was lewenslank Dawid se vyand.

30 Telkens wanneer die Filistynse heersers vir oorlog uitgetrek het, was Dawid meer suksesvol as enige van die ander bevelvoerders van Saul. So het hy baie aansien verwerf.

1 SAMUEL 19

Saul probeer Dawid weer

doodmaak

1 Saul het sy seun Jonatan en sy amptenare aangemoedig om Dawid te vermoor. Maar omdat Jonatan en Dawid boesemvriende was,

2 sê hy vir Dawid: “My pa wil jou doodmaak. Wees baie versigtig. Môre-oggend moet jy in die veld gaan wegkruip.

3 Ek sal daar by my pa gaan staan en hom oor jou uitvra. Dan sal ek jou laat weet.”

4 Jonatan het toe ’n goeie woord vir Dawid by Saul gedoen en gesê: “Die koning moenie sondig teen u onderdaan Dawid nie. Hy het niks wat sleg is teen u gedoen nie, maar net goeie dinge.

5 Trouens, hy het sy lewe op die spel geplaas en die Filistyn doodgemaak. Daarmee het die Here ’n groot verlossing vir die hele Israel bewerk. U het dit gesien en was saam bly. Hoekom sal u sondig en onskuldige bloed vergiet deur Dawid sonder rede dood te maak?”

6 Saul het na Jonatan geluister. Hy het ’n eed afgelê: “So waar as die Here leef, hy sal nie doodgemaak word nie.”

7 Daarna roep Jonatan vir Dawid en vertel hom alles. Hy het Dawid na Saul toe gebring en Dawid was in Saul se diens soos voorheen.

8 Daar het weer oorlog uitgebreek. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg. Die slagting was groot en die Filistyne het van hom af weggevlug.

9 Maar die bose gees wat die Here gestuur het, het weer oor Saul gekom. Hy het in sy huis gesit en sy spies was in sy hand terwyl Dawid op die lier gespeel het.

10 Saul het Dawid met die spies teen die muur probeer vaspen, maar Dawid het gekoes sodat die spies in die muur vasgesteek het. Daardie nag het Dawid gevlug.

Mikal red Dawid se lewe

11 Saul stuur toe soldate om wag te hou oor Dawid se huis en hom in die oggend dood te maak. Maar Dawid se vrou Mikal waarsku hom: “As jy nie vannag nog vlug nie, sal jy môre sekerlik doodgemaak word.”

12 Mikal het Dawid deur ’n venster laat afsak sodat hy kon wegkom en vlug.

13 Daarna neem sy ’n huisgod, laat lê dit op die bed met bokhaar by die kop en gooi dit toe met ’n kombers.

14 Toe die soldate kom om Dawid te vang, sê sy: “Hy is siek.”

15 “Bring hom dan met bed en al sodat hy doodgemaak kan word,” sê Saul.

16 Die soldate het ingekom, en daar kry hulle ’n huisgod op die bed met bokhaar by die koppenent!

17 Saul sê vir Mikal: “Hoekom het jy my bedrieg deur my vyand te laat ontsnap?”

Mikal antwoord: “Ek moes, want hy het gedreig om my dood te maak as ek hom nie help nie.”

18 Dawid het gevlug en by Samuel in Rama aangekom. Hy het hom alles vertel wat Saul aan hom gedoen het. Samuel en Dawid het toe in die profetekwartiere gaan woon.

19 Dis aan Saul vertel: “Dawid is in die profetekwartiere in Rama!”

20 Toe stuur Saul van sy mense om Dawid gevange te neem. Daar aangekom, sien hulle die groep mense wat met Samuel as leier soos profete optree. Die Gees van God kom toe oor Saul se boodskappers en hulle het self soos profete begin optree.

21 Dit is aan Saul meegedeel sodat hy ander boodskappers gestuur het. Hulle het egter ook soos profete opgetree. Saul het weer mense gestuur, maar dieselfde het ook met hulle gebeur.

22 Toe gaan hy self na Rama toe. By die groot opgaardam in Seku aangekom, vra hy: “Waar is Samuel en Dawid?”

“Hulle is in die profetekwartiere in Rama,” was die antwoord.

23 Op pad daarheen het die Gees van God oor Saul gekom sodat hy tot in Rama soos ’n profeet opgetree het.

24 Hy het selfs sy klere uitgetrek terwyl hy soos ’n profeet voor Samuel opgetree het. Die hele dag en nag het hy daar sonder klere gelê sodat die mense gevra het: “Wat, is Saul ook tussen die profete?”

1 SAMUEL 20

Jonatan lig Dawid in oor sy pa

1 Dawid vlug toe uit die profetekwartiere in Rama en kom by Jonatan aan. Hy vra hom: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding, en wat het ek teen jou pa verkeerd gedoen dat hy my lewe soek?”

2 “Nee!” antwoord Jonatan. “Jy sal nie doodgemaak word nie! Kyk, my pa sal niks, groot of klein, doen sonder dat ek dit weet nie. En hoekom sou my pa so iets vir my wegsteek? Nee, dit is nie so nie.”

3 Maar Dawid het onder eed gesê: “Jou pa weet dat ons goed bevriend is en toe dink hy: ‘Ek sal dit nie vir Jonatan sê nie sodat ek hom nie seermaak nie.’ Wees verseker, so waar as die Here en jy leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood.”

4 “Wat jy ook al voorstel, sal ek vir jou doen,” sê Jonatan.

5 Dawid antwoord hom: “Kyk, dis môre nuwemaan. Ek behoort saam met die koning aan tafel te sit. Stuur my weg dat ek in die veld kan wegkruip tot die derde aand.

6 As jou pa oor my navraag doen, moet jy sê: ‘Dawid het dringend gevra om na sy tuisdorp Betlehem te gaan sodat hy daar die jaarlikse feesviering saam met sy familie kan vier.’

7 As hy sê: ‘Dis goed!’ beteken dit ek is veilig. Maar as hy baie kwaad word, moet jy weet dat hy reeds besluit het om my om die lewe te bring.

8 Wys dat jy aan my getrou is, want jy het voor die Here ’n verbond met my gesluit. As ek teen jou pa oortree het, moet jy my self doodmaak. Dit sal dan nie nodig wees om my aan jou pa uit te lewer nie.”

9 “Nooit!” sê Jonatan. “As ek seker is my pa het vas besluit om jou dood te maak, sal ek jou beslis daaroor inlig.”

10 Dawid vra toe: “Wie sal vir my vertel of jou pa kwaad geword het of nie?”

11 “Kom saam na die veld toe,” sê Jonatan. Hulle gaan toe saam daarheen.

12 Jonatan sê vir Dawid: “So waar as die Here die God van Israel leef, ek sal môre hierdie tyd of oormôre met hom praat. As hy gunstig oor jou praat, sal ek jou laat weet.

13 Indien nie, mag die Here met my afreken as ek jou nie waarsku en veilig wegstuur nie. Mag die Here met jou wees soos Hy by my pa was.

14 As ek dan nog lewe, moet jy my behandel met die troue liefde van die Here sodat ek nie doodgemaak word nie.

15 Wees getrou aan my familie, selfs wanneer die Here jou vyande een vir een van die aarde af wegvee.

16 Mag die huis van Dawid nie Jonatan se familie uitroei nie, anders sal die Here Dawid deur middel van sy vyande vergeld.”

17 Jonatan het sy eed van vriendskap met Dawid hernu, want Jonatan was besonder geheg aan hom – hy het hom liefgehad soos homself.

18 Jonatan sê verder: “Môre is dit nuwemaan. Jou afwesigheid sal opval omdat jou sitplek leeg sal wees.

19 Op die derde dag moet jy teen die aand na die plek gaan waar jy voorheen weggekruip het. Wag daar by die kliphoop.

20 Ek sal kom en drie pyle daarheen skiet asof ek teikenskiet.

21 Ek sal dan ’n seun stuur om die pyle te gaan soek. As ek vir hom sê: ‘Hulle is aan die duskant; bring dit,’ weet dan so waar as die Here leef dat alles reg is en dat daar geen probleme is nie.

22 Maar as ek vir hom sê: ‘Die pyle lê aan die anderkant,’ moet jy gaan, want die Here stuur jou weg.

23 En mag die Here ons help om die beloftes aan mekaar na te kom – Hy is immers getuie daarvan.”

24 Dawid het toe volgens afspraak in die veld weggekruip. Toe die Nuwemaanfees begin, het die koning aangesit om te eet.

25 Hy het op sy gewone plek teen die muur gaan sit, met Jonatan teenoor hom en Abner langs Saul. Dawid se plek was egter leeg.

26 Daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: “Dawid is dalk seremonieel onrein. Dis seker hoekom hy nie hier is nie.”

27 Maar toe Dawid se plek die volgende dag ook weer leeg is, vra Saul vir Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai dan nie gister en vandag vir die ete opgedaag nie?”

28 Jonatan het geantwoord: “Dawid het my dringend verlof gevra of hy Betlehem toe kon gaan.

29 Hy het gesê: ‘Laat my asseblief toe om die familie-offer op die dorp by te woon. My broer het my beveel om te kom. As jy dit goedvind, gee my toestemming om te gaan en my broers te besoek.’ Dis hoekom hy nie hier by die koning se tafel is nie.”

30 Maar Saul het in woede teenoor Jonatan uitgebars: “Seun van ’n opstandige en rebelse vrou! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou skande en die van jou ma wat jou in die wêreld gebring het!

31 Solank daardie seun van Isai lewe, sal jy nooit koning word nie. Stuur en bring hom hier, want hy moet sterf!”

32 “Maar wat het hy dan gedoen?” vra Jonatan. “Hoekom moet hy doodgemaak word?”

33 Toe tel Saul sy spies op om na Jonatan te gooi. Jonatan het besef sy pa het vas besluit om Dawid dood te maak.

34 Jonatan het woedend van die tafel af opgestaan en wou die hele dag niks eet nie, want hy was ontsteld oor sy pa se skaamtelose gedrag teenoor Dawid.

35 Die volgende oggend het Jonatan veld toe gegaan soos hy met Dawid afgespreek het, en ’n jong seun saamgeneem om die pyle op te tel.

36 “Hardloop,” sê hy vir die seun, “en gaan haal die pyle wat ek afskiet.” Die seun het gehardloop en Jonatan het anderkant hom verby geskiet.

37 Toe die seun by die plek kom waarheen die pyl geskiet was, roep Jonatan: “Die pyl is nog anderkant jou.

38 Maak gou, moenie nog talm nie.” Die seun het gou die pyle opgetel en dit na hom teruggebring.

39 Hy het natuurlik niks van die saak geweet nie. Net Jonatan en Dawid het van die afspraak geweet.

40 Toe gee Jonatan sy boog en pyle vir die seun en beveel hom: “Hierso! Vat dit terug huis toe.”

41 Nadat die seun weg is, kom Dawid uit sy wegkruipplek by die kliphoop en buig drie keer diep voor Jonatan. Hulle het mekaar omhels en gegroet. Albei was in trane, Dawid meer as Jonatan.

42 Jonatan sê toe vir Dawid: “Gaan in vrede. Ons het in die Naam van die Here aan mekaar trou gesweer. Die Here is vir altyd getuie van hierdie ooreenkoms tussen my en jou en tussen ons nageslagte.”

Dawid is toe daar weg, en Jonatan is terug na die stad toe.

1 SAMUEL 21

Dawid kom in Nob aan

1 Dawid het by die priester Agimelek in Nob aangekom. Agimelek was bang toe hy Dawid sien en vra: “Hoekom is jy alleen sonder iemand anders by jou?”

2 “Die koning het my op ’n geheime sending gestuur,” sê Dawid. “Hy het my verbied om vir enigiemand te sê hoekom ek hier is. Ek het my manskappe aangesê om my op ’n bepaalde plek te ontmoet.

3 Maar sê my, wat het julle hier om te eet? Gee vir my vyf brode of enigiets anders wat beskikbaar is.”

4 “Ons het nie gewone brood hier nie,” antwoord die priester. “Ons het net die heilige brode wat julle maar kan kry as jou manne nie onlangs by ’n vrou geslaap het nie.”

5 “Geen probleem nie,” antwoord Dawid. “My manskappe mag nie by vroue kom wanneer ons op ’n veldtog uitgaan nie. Dis die reël vir gewone veldtogte, hoeveel te meer vir hierdie een!”

6 Omdat daar dus nie gewone brood beskikbaar was nie, gee die priester hom die offerbrood wat net daardie dag uit die heiligdom geneem is en met vars brode vervang is.

7 Doëg die Edomiet, hoof van Saul se veewagters, moes dié dag daar in die heiligdom deurbring.

8 Dawid vra vir Agimelek: “Is hier dalk ’n spies of ’n swaard beskikbaar? Die koning se opdrag was so dringend dat ek nie eens tyd gehad het om my wapens te gryp nie!”

9 “Al wat ek hier het,” antwoord Agimelek, “is die swaard van Goliat die Filistyn wat jy in die vallei van die groot boom doodgemaak het. Dit is toegedraai in ’n mantel agter die skouerkleed. Jy kan dit vat as jy wil, want daar is niks anders hier nie.”

“Daar is niks beters as dié swaard nie. Gee dit vir my!” sê Dawid.

Dawid kom by Akis aan

10 Dawid het nog dieselfde dag van Saul af weggevlug en by Akis, die koning van Gat, aangekom.

11 Maar Akis se amptenare het gevra: “Is dit dan nie Dawid, die koning van die land nie? Is dit nie die een wat die mense met danse vereer het en oor wie hulle gesing het:

‘Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende’ nie?”

12 Dawid het hierdie opmerkings gehoor en was bang dat Akis teen hom sou optree.

13 Daarom het hy gemaak of hy mal is deur teen die poorte te krap en sy spoeg teen sy baard te laat afloop.

14 Toe sê Akis vir sy amptenare: “Kan julle nie sien die man is mal nie? Hoekom bring julle hom na my toe?

15 Het ons nog mal mense nodig dat julle hom na my toe bring om voor my mal te wees? Hoekom moet ek so iemand in my huis toelaat?”

1 SAMUEL 22

Dawid by die Adullamgrot

1 Dawid is daar weg en het in die Adullamgrot gaan skuil. Sy broers en al die ander familielede het dit gehoor en daar by hom aangesluit.

2 Daarna het al meer mense wat in die moeilikheid was, of hulle skuld nie kon betaal nie, of oor iets ontevrede was, by hom aangesluit. Mettertyd was Dawid die leier van omtrent 400 man.

3 Dawid het intussen die koning van Moab in Mispa besoek en vir hom gevra: “Mag my ouers hier by julle kom woon totdat ek weet wat God met my gaan doen?”

4 Die koning het ingestem en Dawid se ma en pa het tydens Dawid se verblyf in die bergskuiling in Moab gewoon.

5 Die profeet Gad sê op ’n dag vir Dawid: “Moenie in die bergskuiling bly nie. Gaan terug na Juda toe.” Dawid gaan toe na die Geretbos.

6 Die nuus van sy aankoms in Juda het gou Saul se ore bereik. Saul het onder ’n tamariskboom op die hoogte by Gibea gesit met sy spies in sy hand en sy offisiere rondom hom.

7 “Luister hier, manne van Benjamin!” roep Saul uit toe hy die nuus hoor. “Sal die seun van Isai ook vir julle landerye en wingerde gee? Sal hy julle hoofde oor duisend en oor honderd in sy leër maak?

8 Julle het almal teen my saamgesweer! Nie een van julle het my vertel dat my eie seun met die seun van Isai teen my saamgesweer het nie. Julle is nie eens jammer vir my nie. Dink daaraan! My eie seun hits my onderdaan aan om my dood te maak!”

Die priesters van Nob uitgemoor

9 Toe antwoord Doëg die Edomiet wat oor Saul se veewagters aangestel was. “Toe ek in Nob was,” sê hy, “het ek gesien die seun van Isai praat met die priester Agimelek seun van Agitub.

10 Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg om te hoor wat Dawid moes doen. Boonop het hy ook brood en die swaard van Goliat die Filistyn vir Dawid gegee.”

11 Die koning het dadelik Agimelek seun van Agitub en sy hele familie in Nob laat roep.

12 Daar aangekom, sê Saul: “Luister, seun van Agitub!”

“Ek luister, o Koning,” antwoord Agimelek.

13 “Hoekom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer?” vra Saul. “Hoekom het jy vir hom brood en ’n swaard gegee? Hoekom het jy God vir hom geraadpleeg en hom aangemoedig om teen my in opstand te kom sodat ek nou deur hom bedreig word?”

14 “Maar, Koning,” verweer Agimelek hom, “daar is tog niemand onder u amptenare wat so betroubaar is as u skoonseun Dawid nie. Hy is dan die aanvoerder van u lyfwag en ’n geëerde lid van u huishouding!

15 Dis tog nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Moet asseblief nie my en my familie hiervan beskuldig nie, want ek het absoluut niks geweet van ’n komplot teen u nie.”

16 “Jy sal sekerlik sterf, Agimelek, jy en jou hele familie!” roep die koning uit.

17 Toe beveel hy die lyfwagte rondom hom: “Maak die priesters van die Here dood, want hulle is kop in een mus met Dawid. Hulle het geweet dat hy van my af vlug, maar het my nie laat weet nie!”

Maar Saul se wagte het geweier om die priesters van die Here dood te maak.

18 Toe beveel die koning vir Doëg: “Val die priesters aan!” Doëg het die priesters aangeval en 85 mans wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak.

19 Daarna is ook Nob, die priesterdorp, aangeval en al die mans, vroue, kinders en babas, asook al die grootvee, donkies en kleinvee afgemaai.

20 Net Abjatar, een van die seuns van Agimelek en kleinseun van Agitub, het ontkom en na Dawid toe gevlug.

21 Toe hy vir Dawid vertel dat Saul al die priesters van die Here doodgemaak het,

22 roep Dawid uit: “Ek het so gedink! Toe ek dié dag vir Doëg die Edomiet daar sien, het ek geweet hy sou alles vir Saul vertel. Ek het die dood van jou pa se hele familie veroorsaak.

23 Bly hier by my en moenie bang wees nie. Die een wat jou wil doodmaak, wil my ook doodmaak. By my is jy egter veilig.”

1 SAMUEL 23

Dawid bevry die dorp Keïla

1 Dit is aan Dawid berig dat die Filistyne teen Keïla veg en hulle dorsvloere plunder.

2 Dawid het vir die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval?”

“Ja, gaan verdryf die Filistyne en verlos Keïla,” sê die Here vir hom.

3 Sy manskappe sê egter vir hom: “Wag ’n bietjie! Selfs hier in Juda voel ons onveilig. Moet ons dan nou na Keïla toe gaan en die hele Filistynse mag daar teen ons kry?”

4 Dawid vra toe weer vir die Here, en die Here het herhaal: “Gaan na Keïla toe, want Ek sal jou help om die Filistyne te verslaan.”

5 Dawid en sy manskappe het toe na Keïla toe gegaan. Hulle het die Filistyne verslaan, al hulle vee buitgeneem en die inwoners van Keïla bevry.

6 Die priester Abjatar seun van Agimelek wat na Dawid toe gevlug het, het die skouerkleed saamgebring na Keïla toe.

7 Saul het gehoor dat Dawid in Keïla was. “God het hom aan Dawid onttrek!” het hy gesê. “Nou is hy in ons mag, want deur in ’n ommuurde dorp met grendels te skuil, het hy homself opgesluit.”

8 Saul het toe sy hele leër bymekaargemaak om na Keïla te gaan en Dawid en sy manskappe daar te beleër.

9 Maar Dawid het van Saul se planne gehoor. Hy vra toe vir Abjatar om die skouerkleed te bring en by die Here te hoor wat hom te doen staan.

10 Dawid het gebid: “O Here, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is.

11 Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? Here, God van Israel, sê my, asseblief.”

Die Here antwoord hom: “Ja, hy sal kom.”

12 Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?”

En die Here antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.”

Dawid amper gevang in die

Maonwoestyn

13 Dawid en sy manskappe, nou omtrent 600 man, het Keïla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid gevlug het, het hy nie na Keïla toe gegaan nie.

14 Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie.

15 Dawid het besef dat Saul hom nog steeds wou doodmaak; daarom is hy na Goresa toe in die woestyn van Sif.

16 Jonatan het daar na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou.

17 “Moenie bang wees nie,” verseker Jonatan hom. “My pa sal jou nie vang nie. Jy sal koning van Israel word en ek sal onder jou dien. My pa weet dit baie goed.”

18 Die twee het toe hulle ooreenkoms opnuut met ’n eed voor die Here bevestig. Daarna is Jonatan terug huis toe, terwyl Dawid verder in Goresa gebly het.

19 Die mense van Sif gaan toe na Saul in Gibea en sê: “Dawid kruip weg by ons in die skuilplekke van Goresa op die Gakilahoogte wat suid van die woestyn is.

20 As dit vir die koning goed is, kom hierheen, en ons sal hom aan u uitlewer!”

21 “Mag die Here julle seën,” sê Saul. “Daar is tog mense wat vir my omgee.

22 Gaan kyk en maak seker waar hy hom bevind en wie hom gesien het, want ek het verneem hy is baie uitgeslape.

23 Soek sy skuilplek en bring vir my meer inligting. Dan sal ek saam met julle gaan. As hy hoegenaamd in die omgewing is, sal ek hom opspoor onder al die duisende in Juda!”

24 Hulle het toe voor Saul uit teruggegaan na Sif toe. Intussen het Dawid en sy krygers verskuif na die Maonwoestyn in die dorre landstreek suid van die woestyn.

25 Toe Dawid hoor dat Saul en sy leër hom soek, het hy nog dieper die woestyn ingetrek na die groot rots in die woestyn van Maon. Maar Saul het dit gehoor en hom in die Maonwoestyn agtervolg.

26 Saul het aan die een kant om die berg gegaan, en Dawid en sy manskappe aan die ander kant. Dawid het haastig van Saul se leër probeer ontvlug. Net toe Saul en sy magte op die punt was om Dawid en sy manne vas te trek,

27 ontvang Saul ’n dringende boodskap: “Maak gou! Die Filistyne is besig om strooptogte in Israel uit te voer!”

28 Saul moes toe noodgedwonge die agtervolging staak en terugkeer huis toe om die Filistynse inval te keer. Van toe af is daardie plek die Rots van Skeiding genoem.

1 SAMUEL 24

Dawid spaar Saul se lewe

1 Dawid het toe in En-Gedi gaan bly.

2 Toe Saul van die inval van die Filistyne teruggekom het, het hy gehoor dat Dawid in die bergskuilings van En-Gedi is.

3 Saul kom toe met drie afdelings uitgesoekte manskappe van Israel om Dawid en sy manne by die Klipbokkrans te gaan soek.

4 Op pad daarheen, naby skaapkrale, sien Saul ’n grot. Hy gaan toe daar in om ’n draai te loop, onwetend dat Dawid en sy manskappe agter in dieselfde grot is.

5 “Dis nou jou kans!” fluister Dawid se manskappe. “Vandag is die dag waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: ‘Ek sal Saul sekerlik in jou mag gee sodat jy met hom kan doen wat jy wil!’” Dawid het toe stilletjies vorentoe gekruip en ’n stuk van Saul se mantel afgesny.

6 Maar daarna begin Dawid se gewete hom pla omdat hy ’n stuk van Saul se mantel afgesny het.

7 “Ek het verkeerd gedoen om so teen die gesalfde van die Here op te tree,” sê hy vir sy manne. “Ek mag nie my hand teen hom oplig nie, want hy is die Here se gesalfde.”

8 Dawid het sy manskappe skerp berispe en nie toegelaat dat hulle Saul aanval nie. Saul het uit die grot uitgegaan om sy agtervolging voort te sit.

9 Daarna kom Dawid uit die grot en roep agter hom aan: “Meneer die koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep voor hom gebuig.

10 Hy sê vir Saul: “Hoekom luister u na mense wat sê ek wil u leed aandoen?

11 Vandag kan u met u eie oë sien dat dit nie waar is nie. Want die Here het u daar agter in die grot in my mag gegee. Sommige van my manskappe het gesê dat ek u moet doodmaak. Maar ek het u lewe gespaar, want ek het gedink: ‘Ek sal hom nooit leed aandoen nie, want hy is die gesalfde van die Here.’

12 Kyk, Pa, wat het ek in my hand. Dis ’n stuk van u mantel! Ek het dit afgesny, maar ek het u nie doodgemaak nie. Dit bewys dat ek nie ’n kwaaddoener of ’n opstandeling is nie. Ek het nie teen u gesondig nie. Tog agtervolg u my om my dood te maak.

13 Die Here sal tussen ons twee oordeel. Die Here sal wraak neem oor wat u aan my doen. Ek self sal u egter nooit kwaad aandoen nie.

14 Dis soos die spreekwoord lui:

‘Van slegte mense

kom slegte dinge.’

“Ek self, egter, sal u nooit kwaad aandoen nie.

15 Vir wie wil die koning van Israel nou eintlik vang? Wie is dit wat u agtervolg? ’n Dooie hond? Een enkele vlooi?

16 Die Here is die regter en sal tussen ons uitspraak lewer. Hy sal my saak behartig en my uit u mag bevry!”

17 Nadat Dawid dit gesê het, antwoord Saul: “Is dit regtig jy, my seun Dawid?” Hy het begin huil

18 en sê vir Dawid: “Jy is ’n beter man as ek, want jy het aan my goedgedoen, maar ek wou dit met kwaad vergeld.

19 Deur my nie dood te maak nie het jy vandag bewys dat jy goed wil doen aan my. Die Here het my in jou mag oorgelewer, maar jy het my nie doodgemaak nie.

20 “Wie sal toelaat dat sy vyand wegkom terwyl hy hom in sy mag het? Mag die Here jou beloon omdat jy vandag vir my goed was.

21 Ek weet dat jy sekerlik koning sal word en dat die koningskap in Israel onder jou leiding gevestig sal word.

22 Lê nou ’n eed af voor die Here dat wanneer dit gebeur, jy nie my familie sal uitroei en my naam sal uitwis uit my nageslag nie.”

23 Dawid het toe ’n eed afgelê, en Saul is terug na sy huis toe. Maar Dawid en sy manskappe het na hulle bergskuiling toe teruggegaan.

1 SAMUEL 25

Die dood van Samuel

1 Samuel is toe dood. Die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe.

Nabal en Dawid

Dawid het na die Maonwoestyn toe getrek.

2 Daar was ’n ryk man in Maon wat ’n plaas in Karmel gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was besig om in Karmel te skeer.

3 Die man se naam was Nabal en sy vrou s’n Abigajil. Sy was ’n verstandige en mooi vrou. Maar Nabal, ’n Kalebiet, was rof en onbeskof in alles wat hy gedoen het.

4 Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer,

5 stuur hy tien van sy jong manne na Karmel toe met die volgende boodskap: “Gaan na Karmel toe en wanneer julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan.

6 Sê dan vir hom: ‘Mag jy lank in vrede lewe! Voorspoed ook vir jou familie en alles wat aan jou behoort!

7 Ek het gehoor die skeerders is besig om by jou te skeer. Toe jou veewagters by ons was naby Karmel, het ons hulle nooit skade aangedoen nie, en niks is ooit van hulle gesteel nie.

8 Vra maar jou wagters uit, en hulle sal dit as die waarheid bevestig. Daarom, wees asseblief vriendelik teenoor my mense. Kyk! Ons het juis tydens die feesvierings gekom. Gee ons asseblief enigiets wat jy beskikbaar het vir ons en jou vriend Dawid.’”

9 Dawid se jong manne het hierdie boodskap net so aan Nabal oorgedra en op sy antwoord gewag.

10 “Wie is dié man Dawid nogal?” antwoord hy minagtend. “Wie dink hierdie seun van Isai is hy? Daar is deesdae baie slawe wat van hulle meesters af wegloop.

11 Moet ek my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit net so gee vir mense wat van wie weet waar af kom?”

12 Dawid se boodskappers het omgedraai en teruggegaan. Hulle het vir Dawid alles vertel wat Nabal gesê het.

13 “Maak vas julle swaarde!” beveel Dawid terwyl hy sy eie swaard vasbind. Ongeveer 400 man het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om hulle besittings op te pas.

14 Intussen het een van Nabal se veewagters na Abigajil gegaan en vir haar vertel: “Dawid het manne uit die woestyn gestuur om ons meester te groet, maar hy het hulle beledig.

15 Tog was Dawid se manskappe baie goed vir ons. Die hele tyd dat hulle by ons in die veld rondgetrek het, het hulle ons nooit skade berokken nie en is niks van ons gesteel nie.

16 Trouens, hulle was dag en nag soos ’n muur van beskerming om ons en die skape.

17 Nou moet u asseblief vinnig ’n plan maak, want hy sal sekerlik ons meester en sy hele familie daaroor straf. Ons meester is so opvlieënd dat niemand eers met hom daaroor kan praat nie!”

18 Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke. Sy het dit op donkies laat laai

19 en vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit, en ek sal agterna kom.” Aan haar man het sy egter absoluut niks hiervan gesê nie.

20 Terwyl sy op ’n donkie ’n bergkloof afgaan, sien sy vir Dawid en sy manskappe wat in haar rigting aankom.

21 Dawid het so pas gedink: “Dis verniet dat ons hierdie vent se kuddes in die woestyn beskerm het sodat niks van sy besittings weggeraak het of gesteel is nie. Maar hy het my goedheid met kwaad vergeld.

22 Mag God met my afreken indien selfs net een manlike lid van sy huishouding teen môre-oggend nog lewe!”

Abigajil laat Dawid van sy plan

afsien

23 Toe Abigajil vir Dawid sien, klim sy vinnig van die donkie af. Sy buig laag voor hom.

24 Sy val toe by sy voete neer en sê: “Verskoon my tog asseblief, Meneer. Luister tog na wat ek vertroulik vir u wil sê.

25 Nabal is ’n niksnut. Asseblief, moenie u aan hom steur nie. Hy is soos sy naam lui ’n dwaas. Ek het ongelukkig nooit eens u boodskappers te sien gekry nie.

26 “Maar nou, my heer, so seker as wat die Here leef en u leef, aangesien die Here u weerhou het van bloedvergieting en om self wraak te neem, mag al u vyande word soos Nabal, elkeen wat kwaad teen u beplan.

27 “Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. U kan dit vir u manskappe gee wat saam met u is.

28 Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die Here sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die Here se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.

29 “Selfs wanneer iemand u agtervolg om u dood te maak, mag u lewe dan veilig wees in die bewaring van die Here u God! Maar mag Hy die lewens van u vyande weggooi soos klippe uit ’n slingervel!

30 “Wanneer die Here al die goeie dinge gedoen het wat Hy u beloof het en u leier van Israel gemaak het,

31 mag hierdie saak nie ’n klad op u naam wees en onskuldige bloedvergieting en wraak op u gewete gaan lê nie. En wanneer die Here hierdie groot dinge aan u gedoen het, onthou my dan asseblief!”

32 Dawid antwoord vir Abigajil: “Prys die Here, die God van Israel wat jou vandag na my toe gestuur het.

33 Geseënd is jy vir jou wyse optrede wat my verhinder het om bloed te vergiet en eiehandig wraak te neem.

34 Want so seker as die Here, die God van Israel leef, wat my weerhou het om jou kwaad aan te doen, as jy nie so gou na my toe gekom het nie, sou nie een van Nabal se manne teen môre-oggend nog gelewe het nie.”

35 Dawid aanvaar toe haar geskenke en sê vir haar: “Gaan gerus in vrede huis toe. Ek het na jou versoek geluister. Ek sal nie jou man doodmaak nie.”

36 Toe Abigajil by haar huis terugkom, was Nabal besig met ’n groot onthaal en het hy soos ’n koning feesgevier. Omdat hy dronk was, het sy vir hom niks gesê voor die volgende oggend nie.

37 Eers die volgende oggend toe hy nugter was, het sy hom vertel wat gebeur het. Toe hy dit hoor, het hy ’n hartaanval gekry sodat hy verlam was.

38 Omtrent tien dae later het die Here hom weer getref en het hy gesterf.

Dawid trou met Abigajil

39 Toe Dawid van Nabal se dood hoor, sê hy: “Prys die Here wat Nabal vergeld het vir die onreg teenoor my en my verhinder het om dit self te doen. Nabal het hierdie straf oor homself gebring.”

Daarna het Dawid boodskappers na Abigajil toe gestuur en gevra dat sy met hom moes trou.

40 Die boodskappers het by Karmel aangekom en vir Abigajil gesê: “Dawid het ons gestuur om te vra of jy met hom sal trou.”

41 Sy het opgestaan, laag na die grond toe gebuig en geantwoord: “Ja, ek is selfs bereid om ’n slavin te wees wat Dawid se manskappe versorg!”

42 Abigajil het toe gou klaargemaak en saam met Dawid se boodskappers gegaan. Sy het op ’n donkie gery terwyl vyf van haar diensmeisies saamgegaan het. So het sy Dawid se vrou geword.

43 Dawid het ook met Aginoam uit Jisreël getrou sodat hy nou twee vroue gehad het.

44 Intussen het Saul sy dogter Mikal, wat reeds Dawid se vrou was, vir ’n man met die naam Palti gegee. Hy was die seun van Lajis uit Gallim.