1 SAMUEL 6

Die Filistyne stuur die ark terug

1 Die ark van die Here was sewe maande lank in die land van die Filistyne.

2 Toe roep die Filistyne hulle priesters en waarsêers bymekaar en vra vir hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die Here? Sê vir ons hoe ons dit na sy eie plek toe kan terugstuur.”

3 Die priesters en waarsêers het gesê: “Wanneer julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie net so terugstuur nie. Stuur ’n skuldoffer daarmee saam. Wanneer julle gesond word, sal julle weet dat dit Hy was wat julle so swaar getref het.”

4 “Watter soort skuldoffer moet ons stuur?” vra die Filistyne.

“Aangesien die plaag julle en julle vyf heersers getref het,” antwoord hulle, “moet julle vyf goue swere en vyf goue muise maak, net soos dié wat julle land laat swaarkry het.

5 Sodoende sal julle eer betoon aan die God van Israel. Dalk sal Hy dan ophou om julle, julle gode en julle land te teister.

6 Moenie hardkoppig en opstandig wees soos die farao en die Egiptenaars was nie. Hulle wou Israel nie toelaat om te gaan nie totdat God hulle met verskriklike plae getref het.

7 “Bou nou ’n nuwe wa en kry twee koeie wat pas gekalf het en nog nooit ingespan is nie. Span die koeie in, maar hou hulle kalwers op hok.

8 Sit die ark van die Here op die wa. Julle moet die goue muise en swere in ’n houer sit en dit langs die ark op die wa laai. Dan moet julle die koeie toelaat om te gaan waar hulle wil.

9 As hulle oor ons land se grens gaan in die rigting van Bet-Semes, sal ons weet dit was die Here wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. As hulle nie soontoe gaan nie, sal ons weet dat die plaag blote toeval was en dat dit glad nie die Here was wat dit gestuur het nie.”

10 Hierdie voorskrifte is uitgevoer. Twee koeie met pasgebore kalwers is voor die wa ingespan en hulle kalwers is op hok gesit.

11 Die ark van die Here en die kis met die goue muise en swere is op die wa gelaai.

12 En sowaar, daar gaan die koeie reguit met die pad na Bet-Semes toe terwyl hulle loop en bulk! Die Filistynse heersers het hulle tot by die grens by Bet-Semes gevolg.

Die ark kom in Bet-Semes aan

13 Die inwoners van Bet-Semes was besig om koring in die vallei te oes. Toe hulle die ark sien, het hulle gejuig.

14 Die wa het tot by die landerye van ’n man met die naam Josua gekom en by ’n groot rots gaan staan. Toe kap die mense die wa stukkend vir vuurmaakhout, slag die koeie en offer dit as ’n brandoffer vir die Here.

15 ’n Aantal manne uit die stam van Levi het die ark van die Here en die kis met goue muise en swere van die wa afgelaai en dit op die rots neergesit. Die mense van Bet-Semes het daardie dag baie brandoffers en ander offers vir die Here geoffer.

16 Die vyf Filistynse heersers het gesien wat gebeur het en het nog dieselfde dag na Ekron toe teruggegaan.

17 Die vyf swere wat die Filistyne as ’n skuldoffer aan die Here gestuur het, was geskenke van elkeen van die heersers van Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron.

18 Die goue muise het die vyf Filistynse stede en die omliggende dorpe waar die vyf heersers gesag uitgeoefen het, verteenwoordig. Die groot rots by Bet-Semes waarop hulle die ark van die Here neergesit het, is vandag nog te sien in die landerye van Josua as ’n herinnering aan wat daar gebeur het.

19 Die Here het egter 70 man van Bet-Semes laat sterf omdat hulle die ark van die Here bekyk het. Die inwoners het gerou omdat die Here so baie mense laat sterf het.

20 “Wie kan standhou in die teenwoordigheid van die Here, hierdie heilige God?” het hulle uitgeroep. “Waarheen kan ons die ark stuur?”

21 Hulle stuur toe boodskappers na die inwoners van Kirjat-Jearim en sê vir hulle: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggestuur. Kom haal dit asseblief hier!”

1 SAMUEL 7

Die ark gaan na Kirjat-Jearim

1 Die inwoners van Kirjat-Jearim het toe gekom om die ark van die Here weg te neem. Hulle het dit na die huis van Abinadab wat op ’n heuwel gestaan het, gebring. Hulle het ook sy seun Eleaser aangestel om daarna om te sien.

2 Die ark het vir ’n lang tyd, vir twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly.

Samuel lei Israel tot oorwinning

Die hele Israel het by die Here begin kla oor hulle lot.

3 Toe sê Samuel vir die hele volk Israel: “As julle regtig ernstig is om na die Here terug te keer, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en die beelde van Astarte. As julle besluit om net die Here te dien, sal Hy julle red van die Filistynse onderdrukking.”

4 Die Israeliete het toe die beelde van Baäl en Astarte verwyder en net die Here gedien.

5 Toe sê Samuel vir hulle: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom. Dan sal ek vir julle tot die Here bid.”

6 Hulle het toe daar bymekaargekom. Hulle het water uit ’n put opgetrek en dit voor die Here uitgegooi. Hulle het ook vir ’n dag lank gevas. “Ons het teen die Here gesondig,” het hulle bely. By Mispa het Samuel as rigter in Israel begin optree.

7 Toe die Filistynse heersers hoor dat die hele Israel by Mispa bymekaargekom het, het hulle teen Israel opgetrek. Die Israeliete was baie bang vir die Filistyne.

8 “Bid tog ernstig by die Here ons God om ons van die Filistyne te verlos!” smeek hulle vir Samuel.

9 Samuel neem toe ’n lam, offer dit as ’n brandoffer vir die Here en pleit dat die Here Israel teen die Filistyne sal help. En die Here het sy gebed verhoor.

10 Terwyl Samuel nog besig was om te offer, kom die Filistyne daar aan om teen Israel te veg. Maar die Here het ’n groot donderstorm laat losbars. Dit het die Filistyne verwar sodat Israel hulle verslaan het.

11 Die Israeliete het hulle agtervolg van Mispa af en hulle tot by Bet-Kar afgemaai.

12 Samuel neem toe ’n groot klip en sit dit regop tussen Mispa en Sen. Hy noem dit toe Eben-Haeser, want het hy gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”

13 Die Filistyne is verslaan en het Israel vir ’n lang tyd nie weer binnegeval nie. Solank Samuel gelewe het, het die Here Israel teen hulle beskerm.

14 Israel het die dorpe wat die Filistyne voorheen beset het vanaf Ekron tot by Gat herower. Israel het ook die grensgebiede bevry van die Filistynse oorheersing. In daardie tyd was daar vrede tussen Israel en die Amoriete.

15 Samuel was rigter in Israel vir die res van sy lewe.

16 Hy het elke jaar rondgegaan, eers by Bet-El, dan by Gilgal en daarna by Mispa, waar hy geskille aangehoor het.

17 Daarna het hy teruggekeer na Rama toe waar hy gewoon het en daar ook as regter opgetree. Samuel het in Rama ’n altaar vir die Here gebou.

1 SAMUEL 8

Israel vra vir ’n koning

1 Toe Samuel ouer begin word, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel.

2 Sy twee oudste seuns, Joël en Abia, was rigters in Berseba.

3 Hulle het anders as Samuel opgetree en was ingestel op eie gewin en omkopery, en selfs in die regspraak was hulle korrup.

4 Die leiers van Israel het toe by Rama bymekaargekom en die saak met Samuel bespreek.

5 “Kyk,” sê hulle vir hom, “u is nou al bejaard en u seuns volg nie u voorbeeld nie. Stel vir ons ’n koning aan soos die gebruik is by al die ander nasies.”

6 Samuel was baie ontsteld oor hierdie versoek en het eers die Here gaan raadpleeg.

7 “Maak soos hulle sê,” antwoord die Here, “want dis nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar vir My wat hulle nie meer as hulle koning wil hê nie.

8 Sedert Ek hulle uit Egipte verlos het, het hulle My aanhoudend verwerp en ander gode gedien. Nou maak hulle net so met jou ook.

9 Doen soos hulle vra, maar waarsku hulle ernstig oor wat ’n koning met hulle sal doen.”

Samuel se waarskuwing oor ’n

koning

10 Samuel het toe die waarskuwing van die Here aan die mense oorgedra.

11 “Dis hoe ’n koning met julle sal maak,” sê hy. “Die koning sal die reg hê om julle seuns op te roep vir sy diens, sommige by sy wa en perderuiters, ander om voor sy wa uit te hardloop.

12 “Sommige sal bevelvoerders van sy troepe wees en ander sal sy landerye ploeg en oes; nog ander sal vir hom wapens maak en toerusting vir sy strydwaens.

13 “Julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, en om te kook en te bak.

14 Hy sal die beste landerye, wingerde en olyfboorde vir hom vat en aan sy amptenare gee.

15 Hy sal ’n tiende van julle oeste neem en dit ook aan sy amptenare en personeel gee.

16 “Julle slawe en slavinne, die beste van julle jong manne en julle donkies sal hy neem en vir sy eie werk gebruik.

17 Hy sal ’n tiende van julle kleinvee vat. Julle sal niks anders as sy slawe wees nie.

18 “Wanneer dit gebeur, sal julle om hulp roep oor die koning wat julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”

19 Maar die volk wou nie na Samuel se waarskuwings luister nie. “Nee, ons wil nogtans ’n koning hê!” het hulle gesê.

20 “Ons wil soos die nasies om ons wees. Ons koning moet oor ons regeer en ons op die slagveld lei.”

21 Samuel het die Here vertel wat die mense gesê het.

22 Die Here se antwoord was: “Doen soos hulle sê en stel ’n koning oor hulle aan.”

Samuel sê toe vir die manne van Israel: “Gaan nou elkeen na sy huis toe.”

1 SAMUEL 9

Saul ontmoet Samuel

1 Daar was ’n welvarende man uit die stam van Benjamin. Sy naam was Kis. Hy was die seun van Abiël en kleinseun van Seror, uit die familie van Bekorat en die familiegroep van Afiag.

2 Sy seun Saul was baie aantreklik, meer as enigiemand anders in Israel. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigeen van sy volksgenote.

3 Eendag het die donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak. Hy sê toe vir Saul: “Vat een van die jong manne saam met jou en gaan soek na die donkies.”

4 Hulle het oral in die Efraimsberge gesoek, in die Salisa-omgewing, die Saälimgebied en die hele Jeministreek. Hulle kon die donkies egter nêrens kry nie.

5 Toe hulle die gebied van Suf binnegaan, sê Saul vir die jong man: “Kom ons gaan terug huis toe. Teen hierdie tyd sal my pa meer bekommerd wees oor ons as oor die donkies!”

6 Maar die jong man sê: “Wag ’n bietjie, daar is ’n man van God in hierdie dorp. Hy word deur almal hoog geag omdat alles wat hy sê waar word. Laat ons eers na hom toe gaan. Dalk kan hy vir ons sê waar die donkies is.”

7 “Ons kan gaan, maar hoe kan ons hom vergoed?” antwoord Saul. “Selfs ons kos is al op. Ons het niks om vir hom as geskenk te gee nie.”

8 “Kyk,” sê die jong man. “Ek het nog hierdie drie gram silwer in my sak! Ek sal dit vir die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waarheen om te gaan.”

9 Destyds, wanneer mense ’n boodskap van God wou kry, is in Israel gesê: “Laat ons na die siener toe gaan.” Vandag se profete is toe sieners genoem.

10 “Dis goed so,” stem Saul in, “kom ons probeer.” Hulle gaan toe na die dorp waar die man van God was.

11 Terwyl hulle teen die steilte opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat op pad was om water te gaan haal. Hulle vra vir die meisies: “Is die siener hier?”

12 “Ja,” antwoord hulle. “Kyk, hy is net daar voor julle in die dorp. Maar maak gou, want hy het vandag hierheen gekom om deel te neem aan die volk se offer op die hoogte.

13 Wanneer julle die dorp binnegaan, sal julle hom kry net voor hy teen die hoogte opgaan om daar te eet. Die mense sal nie eet voordat hy opgedaag het om die offer te seën nie. Daarna sal die genooides eet. Gaan dadelik op daarheen, want hy sal nou daar wees.”

14 Hulle het teen die steilte opgegaan. Toe hulle die dorp binnekom, kom Samuel hulle tegemoet terwyl hy op pad was om op te gaan na die hoogte toe.

15 Die Here het al die vorige dag vertroulik aan Samuel bekendgemaak dat Saul sou kom. Hy het gesê:

16 “Môre omtrent hierdie tyd sal Ek ’n man uit Benjamin na jou toe stuur. Salf hom tot leier van my volk Israel. Hy sal hulle red van die mag van die Filistyne, want Ek het die nood van my volk raakgesien en hulle hulpgeroep gehoor.”

17 Toe Samuel vir Saul sien, sê die Here vir hom: “Dit is die man waarvan Ek jou vertel het. Hy sal oor my volk regeer.”

18 Op daardie oomblik gaan Saul na Samuel toe en vra: “Kan u asseblief vir my sê waar die huis van die siener is?”

19 “Ek is die siener!” antwoord Samuel. “Gaan solank voor my teen die hoogte uit na die offerplek toe. Daar sal ons saam eet. Môre-oggend sal ek vir jou sê wat jy wil weet en jou dan laat gaan.

20 En moet jou nie meer bekommer oor jou pa se donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie, want hulle is alreeds gevind. Die hoop van die hele Israel is egter op jou en jou familie gerig.”

21 Saul antwoord hom: “Ek is maar net ’n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste van al die families van ons stam! Hoekom praat u so met my?”

22 Samuel neem toe vir Saul en die jong man na die eetvertrek en laat hulle op ’n ereplek sit saam met die ongeveer 30 genooides.

23 Daarna sê Samuel vir die kok: “Bring dit wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te sit.”

24 Die kok bring toe die boud vleis en sit dit neer voor Saul. Samuel sê toe: “Eet wat aan jou voorgesit is. Ek het dit vir jou gebêre voordat ek die ander genooi het!” So het Samuel en Saul op dié dag saamgeëet.

25 Daarna, nadat hulle van die hoogte af terug na die dorp toe gegaan het, het Samuel op die dak van die huis met Saul gepraat.

26 Die volgende oggend het hulle vroeg opgestaan. Reeds teen dagbreek het Samuel vir Saul op die dak geroep en gesê: “Staan op sodat ek jou kan afsien!” Saul het opgestaan en hulle het saam buitentoe gegaan.

27 Toe hulle buite die dorp kom, sê Samuel vir hom: “Gee die jong man opdrag om vooruit te loop, maar jy moet hier bly staan, want ek het ’n boodskap van God vir jou.”

1 SAMUEL 10

Samuel salf Saul

1 Samuel neem toe ’n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: “Die Here het jou gesalf as leier oor sy besitting.

2 Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee persone by Ragel se graf naby Selsag op die grens van Benjamin teëkom. Hulle sal vir jou vertel: ‘Die donkies wat jy gesoek het, is gekry. Nou is jou pa oor jou bekommerd en vra: Ek wonder waar is my seun!’

3 “Wanneer jy by die groot boom by Tabor kom, sal jy drie persone sien wat opgaan om God by Bet-El te dien. Een sal drie jong bokkies dra, die tweede drie brode en die derde ’n sak wyn.

4 Hulle sal jou groet en twee brode aanbied. Jy moet dit aanvaar.

5 “Daarna sal jy aankom by Gibea-van-God waar die garnisoen van die Filistyne is. Naby die dorp sal jy ’n klompie profete teëkom op pad vanaf die altaar op die hoogte. Hulle sal met begeleiding van ’n harp, ’n tamboeryn, ’n fluit en ’n lier profeteer.

6 Dan sal die Gees van die Here met krag op jou kom en jy sal soos hulle profeteer en ’n ander mens word.

7 Ná hierdie tekens moet jy doen wat nodig is, want God is met jou.

8 Gaan dan vooruit na Gilgal toe en wag daar vir my. Ná sewe dae sal ek kom om brandoffers en maaltydoffers te bring en verdere opdragte aan jou te gee.”

Is Saul ook tussen die profete?

9 Toe Saul omdraai om te gaan, het God sy hart verander. Al die tekens waarvan Samuel gepraat het, het daardie dag gebeur.

10 Toe Saul en die jong man by Gibea aankom, sien hulle die profete hulle tegemoet kom. Die Gees van God het toe met krag in Saul begin werk sodat hy ook soos ’n profeet opgetree het.

11 Almal wat hom voorheen geken het en gesien het hoe hy soos ’n profeet optree, het vir mekaar gesê: “Wat het dan met die seun van Kis gebeur? Hoe is dit dat Saul ook tussen die profete is?”

12 Iemand uit die omgewing het gevra: “Waarvandaan kom hulle nou eintlik?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?”

13 Toe Saul klaar soos ’n profeet opgetree het, het hy na die altaar toe opgegaan.

14 “Waar was jy die hele tyd?” vra sy oom vir hom en die jong man by hom.

“Ons het die donkies gaan soek. Toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan,” antwoord hy.

15 “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.”

16 “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het.

Saul as koning aangewys

17 Samuel het die hele volk voor die Here by Mispa bymekaargeroep

18 en die volgende boodskap van die Here God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het.

19 Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die Here volgens julle stamme en familiegroepe.”

20 Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die Here en die stam van Benjamin is aangewys.

21 Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die Here, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie.

22 Hulle vra toe vir die Here: “Maar is die man al hier?”

Toe antwoord die Here: “Hy kruip weg agter die mense se reisgoed.”

23 Hulle het hom daar gekry en vorentoe laat kom. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigiemand anders.

24 Samuel sê toe vir die volk: “Dit is die man wat die Here gekies het om julle koning te wees. Daar is niemand in Israel wat sy gelyke is nie!”

Toe roep al die mense: “Mag die koning lank lewe!”

25 Daarna het Samuel die mense ingelig oor die regte en verpligtings van ’n koning. Hy het dit op ’n rol neergeskryf en dit voor die Here neergesit. Toe het Samuel die mense huis toe gestuur.

26 Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea. Hy was vergesel van ’n groep dapper manne wie se harte deur God aangeraak is.

27 Maar daar was ook sommige kwaadwillige manne wat ontevrede was en gesê het: “Hoe kan hierdie man ons red?” Hulle het hom verag en het geen geskenke vir hom gebring nie. Saul het hom egter nie aan hulle gesteur nie.

1 SAMUEL 11

Saul lei Israel teen die

Ammoniete

1 Koning Nagas van Ammon het met sy leër teen die Israelitiese stad Jabes-Gilead opgetrek. Maar die inwoners van Jabes het vir vrede gevra: “Maak ’n ooreenkoms met ons en ons sal u onderdanig wees,” het hulle gesê.

2 “Goed,” sê Nagas, “maar net op hierdie voorwaarde: dat ek die regteroog van elkeen van julle uitsteek tot die skande van almal in Israel!”

3 “Gee ons sewe dae om boodskappers deur die hele Israel te stuur!” antwoord die leiers van Jabes. “As niemand van ons bloedverwante tot ons redding kom nie, sal ons tot jou voorwaardes instem.”

4 Die boodskappers het by Gibea, Saul se tuisdorp, aangekom en vir die mense van die dreigende ramp vertel. Almal het in trane uitgebars.

5 Saul het toe van die landerye af gekom waar hy besig was om te ploeg. Met sy tuiskoms vra hy: “Wat gaan aan dat almal so huil?” Hulle vertel hom toe van die boodskap van Jabes.

6 Maar die Gees van God het met krag oor Saul gekom en hy het baie kwaad geword.

7 Hy neem toe twee osse, sny hulle in stukke en stuur dit met boodskappers deur die hele Israel en laat weet: “Dis wat sal gebeur met die beeste van elkeen wat nie saam met Saul en Samuel optrek nie!” Die skrik van die Here het die mense oorval en hulle het soos een man opgeruk.

8 Saul het hulle by Besek bymekaargemaak. Daar was 300 afdelings uit Israel en 30 afdelings uit Juda.

9 Saul het die boodskappers na Gilead toe teruggestuur met die woorde: “Ons sal julle môre op die middel van die dag kom verlos!” Daar was groot blydskap in die stad toe hulle hierdie boodskap hoor.

10 Die inwoners van Jabes laat weet toe vir hulle vyande: “Ons sal môre uitkom na julle toe en dan kan julle met ons maak soos julle wil.”

11 Vroeg die volgende môre het Saul sy leër in drie afdelings verdeel. Voor dagbreek het hy ’n verrassingsaanval teen die Ammoniete geloods en hulle tot die middag toe afgemaai. Die oorblyfsel van hulle leër was so verjaag dat daar nie twee van hulle bymekaargebly het nie.

Saul as koning bevestig

12 Toe sê die volk vir Samuel: “Waar is daardie mense wat gesê het Saul moenie oor ons regeer nie? Bring hulle sodat ons hulle kan doodmaak!”

13 Maar Saul het geantwoord: “Niemand sal vandag tereggestel word nie, want die Here het Israel verlos!”

14 Daarna sê Samuel vir die mense: “Kom ons gaan almal Gilgal toe en herbevestig Saul se koningskap.”

15 Hulle gaan toe almal na Gilgal toe. Daar het hulle tydens ’n plegtigheid in die teenwoordigheid van die Here Saul tot koning gekroon. Daarna het hulle maaltydoffers aan die Here gebring. Saul en al die Israeliete was baie bly.

1 SAMUEL 12

Samuel praat weer met die volk

1 Samuel het weer met die hele Israel gepraat en gesê: “Ek het gedoen wat julle gevra het en vir julle ’n koning gegee.

2 Van nou af sal hierdie koning julle lei. Ek het oud en grys geword en my seuns is by julle. Ek het julle van jongs af tot nou toe gelei.

3 Sê nou hier voor die Here en sy gesalfde: By wie het ek ’n os of ’n donkie gevat? Het ek enigeen van julle ooit bedrieg? Vir wie het ek verdruk? Van wie het ek ooit omkoopgeld ontvang? Sê my, en ek sal wat ek ook al verkeerd gedoen het, vergoed.”

4 “Nee!” antwoord hulle. “U het ons nooit op enige manier bedrieg of verdruk nie. U het ook nooit omkoopgeld aanvaar nie.”

5 “Die Here en sy gesalfde is my getuie dat ek niks verkeerds teen julle gedoen het nie,” sê Samuel.

“Ja, Hy is getuie,” antwoord hulle.

6 Verder sê Samuel: “Dit is die Here wat Moses en Aäron aangestel het en ons voorouers uit Egipte gebring het.

7 Staan nou hier voor die Here terwyl ek julle herinner aan al die goeie dinge wat die Here vir julle en julle voorvaders gedoen het.

8 “Toe Jakob in Egipte tot die Here geroep het, het Hy Moses en Aäron gestuur om hulle uit Egipte na hierdie land te bring.

9 Maar die volk het spoedig die Here hulle God vergeet. Daarom het Hy toegelaat dat Sisera, die bevelvoerder van Hasor se leër, die Filistyne en die koning van Moab julle onderwerp.

10 “Toe het hulle weer tot die Here geroep en bely: ‘Ons het gesondig deur weg te draai van die Here af en die beelde van Baäl en Astarte te vereer. Maar red ons tog nou van ons vyande, en ons sal U dien.’

11 Daarop stuur die Here vir Gideon, Barak, Jefta en Simson om julle te bevry sodat julle in veiligheid kon lewe.

12 “Maar toe julle vir Nagas, koning van Ammon, bang was, het julle na my toe gekom en gesê julle wil ’n koning hê om oor julle te heers alhoewel die Here julle God reeds julle koning was.

13 Nou goed, hier is die koning wat julle gekies het. Kyk, julle het vir hom gevra, en die Here het julle versoek toegestaan.

14 “As julle nou die Here dien, aanbid en na Hom luister; en as julle nie teen die Here se voorskrifte in opstand kom nie; as julle en julle koning die Here julle God navolg, dan sal alles met julle goed gaan.

15 Maar as julle teen die bevele van die Here in opstand kom en weier om Hom gehoorsaam te wees, dan sal die Here teen julle draai soos destyds met julle voorouers.

16 “Staan ’n bietjie stil en aanskou die groot ding wat die Here gaan laat gebeur.

17 Julle weet dit reën nie hierdie tyd van die jaar wanneer die koring geoes word nie. Ek sal die Here vra om vandag donderweer en reën te stuur. Dan sal julle besef dat julle gesondig het deur vir die Here ’n koning te vra!”

18 Toe roep Samuel die Here aan en die Here het donderweer en reën gestuur. Almal was met ontsag gevul vir die Here en vir Samuel.

19 “Bid tog tot die Here u God ter wille van ons, anders sal ons sterf!” smeek hulle vir Samuel. “Ons het nou nog toegevoeg tot ons sondes deur vir ’n koning te vra.”

20 “Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die Here met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie.

21 Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos!

22 Ter wille van sy grote Naam sal die Here nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak.

23 “Wat my betref, ek sal sekerlik nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook voortgaan om julle te leer wat goed en reg is.

24 Maar dien die Here in opregtheid. Dink aan al die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het.

25 Maar as julle voortgaan om te sondig, sal julle en julle koning uitgewis word.”

1 SAMUEL 13

Saul lok die Filistyne uit

1 Saul was ’n kort tyd koning in Israel

2 toe het hy vir hom 3 000 manskappe uit Israel gekies en die res huis toe gestuur het. 2 000 van hulle was by hom by Mikmas en in die heuwelagtige omgewing van Bet-El gestasioneer. Die ander 1 000 was saam met sy seun Jonatan in Gibea in Benjamin.

3 Jonatan het die garnisoen Filistyne by Gibea aangeval en verslaan. Die nuus het vinnig onder die Filistyne versprei. Saul het oor die hele land op die ramshoring laat blaas om die Hebreërs vir oorlog op te roep.

4 Almal in Israel het gehoor dat Saul die garnisoen van die Filistyne verslaan en so hulle die onguns van die Filistyne op die hals gehaal het. Daarom is almal in Israel opgeroep om hulle agter Saul te skaar en in Gilgal saam te trek.

5 Die Filistyne het ’n groot mag bymekaargemaak: 3 000 oorlogwaens, 6 000 perderuiters en voetsoldate soveel as die sand aan die see. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, kamp opgeslaan.

6 Toe die Israeliete hierdie groot leër sien, het hulle paniekbevange geword en in gate, grotte, grafkelders, rotsskeure en droë putte probeer wegkruip.

7 Sommige het deur die Jordaanrivier gegaan en na die gebied van Gad en Gilead gevlug.

Saul bring self die offer

Intussen het Saul in Gilgal vertoef terwyl sy manskappe van vrees gebewe het.

8 Soos afgespreek, het Saul sewe dae daar vir Samuel gewag, maar hy het nie opgedaag nie. Die manskappe het intussen begin dros.

9 Toe beveel Saul: “Bring die brandoffer en die maaltydoffer hiernatoe!”

Toe offer hy self die brandoffer.

10 Net toe Saul daarmee klaar was, toe kom Samuel daar aan! Saul het hom tegemoetgegaan om hom te groet.

11 Maar Samuel sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang?”

Saul antwoord hom: “Ek het gesien hoe my manskappe dros terwyl die Filistyne by Mikmas saamgetrek het, maar u daag nie op soos ons afgespreek het nie.

12 Toe het ek gedink: ‘Die Filistyne gaan teen my in Gilgal optrek, en ek het nog nie die Here om hulp gevra nie!’ Ek het toe verplig gevoel om die brandoffer self te bring, aangesien u nog nie gekom het nie.”

13 “Dit was dwaas van jou!” sê Samuel. “Jy het nie geluister na die bevel van die Here jou God nie. As jy geluister het, sou die Here jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het.

14 Maar nou sal jou koningskap nie voortduur nie, want die Here het reeds ’n man na sy hart gesoek. Die Here het hom alreeds gekies om koning oor sy volk te wees, want jy het nie die bevele van die Here gehoorsaam nie.”

Israel in ’n ongunstige posisie

15 Daarna het Samuel vanaf Gilgal na Gibea in Benjamin gegaan. Saul het die manskappe by hom getel, en dit was net 600!

16 Saul en sy seun Jonatan met die manskappe by hulle was in Gibea, in Benjamin. Die Filistyne se kamp was nog steeds by Mikmas.

17 Uit die kamp van die Filistyne het drie roofbendes opgetrek. Die een het na Ofra in die omgewing van Sual gegaan,

18 ’n ander na Bet-Goron, en die derde na die grens wat uitkyk op die vallei van Seboïm in die rigting van die woestyn.

19 In daardie dae was daar geen smede in Israel nie, want die Filistyne het gesê: “Dalk maak die Hebreërs swaarde of spiese!”

20 Gevolglik, wanneer die Israeliete hulle ploegskare, skoffelpikke, byle of ander gereedskap moes skerp maak, moes hulle dit na die Filistyne toe neem om skerp gemaak te word.

21 Die prys was een derde sikkel silwer vir ploegskare, pikbyle, drietandvurke, byle en so ook om osprikkels skerp te maak.

22 Dis hoe dit gekom het dat niemand in Israel ’n swaard of ’n spies in oorlogtyd gehad het nie, behalwe Saul en Jonatan.

23 Die bergpas by Mikmas is intussen deur ’n afdeling Filistyne beset.

1 SAMUEL 14

Jonatan se waaghalsige plan

1 Op ’n dag sê Saul se seun Jonatan vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos.” Jonatan het nie vir sy pa gesê wat hy gaan doen nie.

2 Intussen het Saul en sy 600 man kamp opgeslaan onder die granaatboom by die dorsvloer buite Gibea.

3 Saam met hom was ook Agija die priester wat die skouerkleed gedra het. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Agitub was die seun van Pinehas en die kleinseun van Eli, wat die priester vir die Here in Silo was.

Niemand het agtergekom dat Jonatan weg was uit die kamp van die Israeliete nie.

4 Om by die Filistyne uit te kom, moes Jonatan teen ’n pas uit en tussen twee spits rotskranse deur. Die een rots is Boses genoem en die ander Senne.

5 Die krans aan die noordekant was teenoor Mikmas en die een aan die suidekant was teenoor Gibea.

6 “Kom ons gaan oor na hierdie heidene toe,” sê Jonatan vir sy wapendraer. “Dalk help die Here ons. Hy kan tog deur baie of deur min die oorwinning gee!”

7 “Doen wat u dink goed is,” sê die wapendraer. “Ek is hart en siel saam met u!”

8 “Goed dan,” sê Jonatan. “Ons sal oorgaan sodat hulle ons kan sien.

9 As hulle vir ons sê: ‘Bly waar julle is, of ons sal julle doodmaak,’ moet ons hier bly en nie na hulle toe gaan nie.

10 Maar as hulle sê: ‘Kom op hierheen,’ dan gaan ons op na hulle toe. Dit sal die teken wees dat die Here hulle aan ons oorgegee het.”

11 Toe die Filistyne hulle sien aankom, roep hulle: “Kyk! Die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggekruip het!”

12 Toe roep hulle na Jonatan: “Kom op hierheen sodat ons vir julle ’n les kan leer!”

Jonatan sê vir sy wapendraer: “Kom, klim net agter my aan, want die Here gee hulle oor in ons mag!”

13 Hulle klim toe hande-viervoet boontoe. Die Filistyne het voor Jonatan geval en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak.

14 In hierdie eerste geveg het Jonatan en sy wapendraer omtrent twintig man op ’n klein stukkie grond doodgemaak.

15 Daar het paniek onder die Filistyne ontstaan, onder dié wat in die kamp was en dié in die veld. Selfs die buiteposte en die roofbendes was vreesbevange. Daar was ook ’n groot aardbewing sodat almal nog banger geword het.

Israel verslaan die Filistyne

16 Saul se wagte by Gibea in Benjamin het gesien dat die Filistynse magte in alle rigtings uitmekaarspat.

17 “Maak seker wie van ons mense is nie hier nie,” beveel Saul. Hulle stel toe vas dat Jonatan en sy wapendraer nie daar was nie.

18 Daarop sê Saul vir Agija: “Bring die skouerkleed hier!” Destyds het Agija die skouerkleed in Israel gedra.

19 Terwyl Saul nog met die priester praat, het die geraas in die Filistynse kamp al harder geword. Daarom sê Saul vir Agija: “Laat staan maar!”

20 Saul en sy 600 man het hulle na die gevegsfront gehaas. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak en daar was groot verwarring.

21 Selfs die Hebreërs wat voorheen die Filistyne gesteun het, het oorgeloop na die Israeliete wat by Saul en Jonatan was.

22 Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg.

23 So het die Here Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen.

Saul se dwase eed

24 Op dié dag is die manskappe van Israel totaal ooreis. Saul het op almal ’n eed gelê en gesê: “Vervloek is elkeen wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Gevolglik het niemand daardie dag iets geëet nie.

25 Hulle het ’n bos binnegegaan waar daar baie heuning was.

26 Toe die manne in die bos kom, het dit gedrup van heuning, maar niemand het sy mond daaraan gesit nie weens die eed wat hulle opgelê is.

27 Maar Jonatan was nie bewus daarvan dat sy pa ’n eed afgelê het nie. Hy steek toe die punt van sy stok in die heuning en eet daarvan. Daarna het hy sterker gevoel.

28 Een van die manskappe het gesien wat hy doen en sê: “Jou pa het die manskappe ’n streng eed laat aflê dat elkeen wat vandag iets eet, vervloek sal wees. Dis hoekom almal moeg en flou voel.”

29 “My pa het dit vir die hele land moeilik gemaak!” sê Jonatan. “So ’n bevel skep net probleme vir ons almal. Ek het nou sommer baie meer energie noudat ek hierdie bietjie heuning geëet het!

30 As die manskappe toegelaat is om van die kos te eet wat die vyand agtergelaat het, sou ons baie meer van hulle doodgemaak het!”

31 Hulle het die Filistyne die hele dag agtervolg en doodgemaak, van Mikmas af tot by Ajalon. Maar die manskappe het baie moeg geword.

32 Teen die aand het hulle op die buit toegeslaan en skape, beeste en kalwers geslag en dit geëet sonder dat hulle eers die bloed laat uitloop het.

33 Iemand sê toe vir Saul: “Kyk, die manskappe sondig teen die Here deur vleis te eet wat nog bloederig is.”

“Dit is baie verkeerd,” sê Saul. “Kry ’n groot klip en rol dit tot hier.

34 Gaan sê dan vir die manskappe: ‘Bring elkeen sy slagding hierheen, grootvee of kleinvee, en slag hulle hier sodat die bloed kan uitloop. Moenie teen die Here sondig deur die vleis te eet terwyl die bloed nog daarin is nie.’” Toe het die manskappe die diere gebring en daar geslag.

35 Saul het daar ’n altaar vir die Here gebou. Dit was die eerste keer dat hy dit gedoen het.

36 Daarna sê Saul: “Laat ons die Filistyne die hele nag deur agtervolg en plunder, en elkeen van hulle van kant maak.”

Sy manskappe antwoord hom: “Ons sal doen soos wat u goeddink.”

Maar die priester sê: “Laat ons eers vir God vra.”

37 Saul vra toe vir God: “Moet ons die Filistyne agtervolg? Sal U ons help om hulle te verslaan?” Maar God het nie geantwoord nie.

38 Toe sê Saul vir die leiers: “Iets is verkeerd! Al die bevelvoerders moet hierheen kom. Ons moet vasstel watter sonde vandag gepleeg is.

39 Ek lê ’n eed af by die Naam van die Here wat Israel bevry het dat die skuldige sekerlik sal sterf, selfs as dit my eie seun Jonatan is!” Niemand het egter ’n woord geantwoord nie.

40 Toe sê Saul vir al die Israeliete: “Ek en Jonatan sal hier eenkant staan, en julle daar anderkant.” Die bevelvoerders het ingestem.

41 Saul het gebid: “O Here, God van Israel, gee tog duidelikheid.” Jonatan en Saul is deur die lot aangewys, maar die manskappe was onskuldig.

42 Saul sê toe: “Laat daar nou tussen my en my seun Jonatan geloot word.” Jonatan is aangewys.

43 “Sê my wat het jy gedoen?” vra Saul vir Jonatan.

“Ek het ’n bietjie heuning wat aan die punt van my stok was, geproe,” antwoord Jonatan. “Hier is ek! Ek is bereid om te sterf.”

44 Saul sê vir hom: “Jy moet sekerlik sterf, Jonatan! Mag God met my afreken as jy nie doodgemaak word nie.”

45 Maar die manskappe het tussen-beide gekom en vir Saul gesê: “Moet Jonatan, die een wat Israel vandag verlos het, sterf? Dit mag nie gebeur nie! So waar as die Here leef, geen haar aan sy kop sal aangeraak word nie. God het hom gebruik om vandag hierdie groot verlossing te bewerk.” Op dié manier het die manskappe vir Jonatan in die bres getree sodat hy nie doodgemaak is nie.

46 Saul het daarop die agtervolging van die Filistyne gestaak en die Filistyne het teruggegaan huis toe.

Saul se militêre suksesse

47 Nadat Saul homself as koning gevestig het, het hy teen sy vyande aan alle kante geveg. Dit was Moab, Ammon, Edom, die konings van Soba en die Filistyne. Hy was oral suksesvol.

48 Hy was baie dapper en het die Amalekiete verslaan. Hy het Israel bevry uit die houvas van hulle plunderaars.

Saul se familie

49 Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Sy oudste dogter was Merab en die jonger een was Mikal.

50 Saul se vrou was Aginoam, dogter van Agimaäs. Die bevelvoerder van die leër was Abner, seun van Ner, ’n oom van Saul.

51 Saul se pa, Kis, en Abner se pa, Ner, was broers, seuns van Abiël.

52 Tydens Saul se bewind was daar voortdurend oorlog tussen die Israeliete en die Filistyne.

Wanneer Saul ’n dapper en sterk jong man sien, het hy hom in sy leër opgeneem.

1 SAMUEL 15

Saul moet die Amalekiete uitroei

1 Op ’n dag sê Samuel vir Saul: “Ek het jou as koning oor Israel gesalf omdat dit die Here se opdrag aan my was. Luister nou na die boodskap van die Here:

2 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: ‘Ek het besluit om Amalek tot verantwoording te roep omdat hulle Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het.

3 Jy moet nou gaan en Amalek heeltemal uitroei. Doen dit sonder dat jy iemand oorsien, mans, vroue, kinders, babas, grootvee, kleinvee, kamele en donkies.’”

4 Saul het toe sy soldate by Telaim bymekaargeroep. Daar was 200 000 manskappe behalwe die 10 000 uit Juda.

5 Saul gaan toe na die stad van Amalek en stel ’n hinderlaag by die spruit.

6 Hy stuur ook ’n boodskap aan die Keniete: “Gee pad tussen die Amalekiete, anders sal julle saam met hulle omkom. Julle was Israel immers goedgesind toe hulle uit Egipte opgetrek het.” Die Keniete het toe padgegee.

7 Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot by Sur, oos van Egipte.

8 Hy het Agag, die koning van Amalek, gevange geneem, maar al die ander mense en diere totaal uitgewis.

9 Saul en sy manskappe het Agag se lewe gespaar, asook die beste skape en beeste, die vet kalwers en lammers – trouens, alles wat hulle begeer het. Hulle het net dit wat waardeloos was, vernietig.

Die Here verwerp Saul

10 Die Here sê toe vir Samuel:

11 “Ek is spyt daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy was ontrou aan My en ongehoorsaam aan my opdragte.” Samuel was baie ontsteld hieroor en het die hele nag lank by die Here gepleit.

12 Vroeg die volgende môre het Samuel vir Saul gaan soek. Iemand sê vir hom: “Saul is Karmel toe om ’n gedenkteken vir homself op te rig. Hy het toe omgedraai en Gilgal toe gegaan.”

13 Toe Samuel hom uiteindelik kry, het Saul hom vriendelik gegroet en gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die Here se opdrag uitgevoer!”

14 “Hoekom hoor ek dan die geblêr van skape en die gebulk van beeste?” vra Samuel.

15 “Die soldate het van die diere gespaar,” antwoord Saul. “Hulle het die beste van die skape en die beeste van Amalek saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons vernietig.”

16 Daarop sê Samuel vir Saul: “Wag ’n bietjie, laat ek jou vertel wat die Here laas nag vir my gesê het!”

“Wat was dit?” vra Saul.

17 Samuel sê vir hom: “Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword. Die Here het jou tot koning van Israel gesalf.

18 Die Here het jou met hierdie opdrag gestuur en gesê: ‘Jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan vernietig en hulle almal totaal uitwis.’

19 Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy jou aan die buit vergryp en presies dit gedoen wat die Here gesê het jy nie moes doen nie?”

20 “Maar ek hét na die Here geluister,” hou Saul vol. “Ek het die opdrag wat Hy my gegee het, uitgevoer. Ek het koning Agag teruggebring, maar ek het al die ander mense doodgemaak.

21 Die soldate het die beste van die skape en beeste gebring om vir die Here u God in Gilgal te offer.”

22 Maar Samuel antwoord:

“Wat verkies die Here:

brandoffers

of gehoorsaamheid?

Gehoorsaamheid

is beter as offers;

om te luister

is beter as die vet van ramme.

23 Opstandigheid is

net so ’n oortreding

soos waarsêery,

en hardkoppigheid is net so ’n sonde

soos afgodery.

Omdat jy die Here se woord

verwerp het,

het Hy jou as koning verwerp.”

Saul pleit om vergifnis

24 Toe bely Saul: “Ek het gesondig. Ek was ongehoorsaam aan die Here se opdrag en u voorskrifte, want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee.

25 Maar nou vra ek om vergifnis en dat u saam met my sal gaan om die Here te aanbid.”

26 Maar Samuel antwoord: “Ek sal nie saam met jou gaan nie! Omdat jy die Here se opdrag verwerp het, het Hy jou verwerp as koning oor Israel.”

27 Toe Samuel omdraai om te gaan, gryp Saul aan sy kleed sodat dit geskeur het.

28 Samuel sê vir hom: “Die Here het vandag die koninkryk van Israel van jou afgeskeur en dit vir iemand anders gegee wat beter is as jy.

29 Die Ewige van Israel lieg nie en sal ook nie sy plan verander nie, want Hy is nie ’n mens wat van gedagte verander nie!”

30 Saul het weer by hom gepleit: “Ek weet ek het gesondig. Maar asseblief, eer my voor die leiers en die manskappe deur saam met my te gaan om die Here u God te aanbid.”

31 Uiteindelik het Samuel ingestem en saam met hom gegaan. Saul het toe die Here aanbid.

Samuel maak Agag dood

32 Samuel sê toe vir Saul: “Bring Agag, koning van die Amalekiete, hier na my toe.” Agag kom toe vol verwagtings, en sê vir homself: “Hulle gaan my beslis nie doodmaak nie!”

33 Maar Samuel sê:

“Soos jou swaard baie ma’s

kinderloos gemaak het,

so sal jou ma

nou kinderloos wees.”

Toe het Samuel vir Agag voor die Here in Gilgal in stukke gekap.

34 Daarna het Samuel na sy huis in Rama gegaan en Saul na sy huis in Gibea.

35 Samuel het tot op die dag van sy dood nooit weer vir Saul gesien nie, hoewel hy oor hom gerou het. Die Here het berou gehad dat Hy Saul koning van Israel gemaak het.