JOSUA 4

Die gedenktekens by die Jordaan

1 Toe almal veilig aan die ander kant van die rivier was, het die Here met Josua gepraat:

2 “Kies twaalf mans uit die volk, een uit elke stam

3 en sê vir hulle: ‘Kry twaalf klippe uit die middel van die Jordaan van die plek waar die priesters staan. Dra hulle saam met julle en gaan pak hulle op ’n hoop waar julle vannag gaan oorbly.’”

4 Josua het toe die twaalf mans wat uit elke stam kom, nadergeroep.

5 Hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan. Elkeen moet ’n klip op sy skouer tel sodat daar vir elke stam een is.

6 Ons sal daarmee ’n gedenkteken bou. Julle kinders sal julle in die toekoms vra: ‘Waaraan herinner hierdie klippe julle?’

7 Julle moet dan vir hulle vertel: ‘Die water van die Jordaan is afgesny toe die ark van die verbond van die Here deur die Jordaan gegaan het.’ Hierdie klippe sal die Israeliete altyd daaraan herinner.”

8 Die Israeliete het gemaak soos Josua vir hulle gesê het. Hulle het twaalf klippe vir elkeen van die twaalf stamme uit die middel van die Jordaan uitgedra, soos die Here vir Josua beveel het. Hulle het dit saam met hulle gevat na die plek waar hulle kamp sou opslaan. Hulle het dit daar opmekaargestapel.

9 Josua het ook twaalf klippe in die middel van die Jordaan opmekaar laat stapel, daar waar die priesters wat die ark van die verbond gedra het, gestaan het. Daardie klippe is vandag nog daar.

10 Die priesters wat die ark van die verbond gedra het, het daar in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het haastig deur die rivier getrek.

11 Toe die volk klaar deur was, het die priesters met die ark van die Here deurgetrek. Die volk het vir hulle gestaan en kyk.

12 Die gewapende vegters van die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het aan die voorpunt van die Israeliete eerste deur die rivier getrek, soos Moses bepaal het.

13 Omtrent 40 000 mans gewapen vir oorlog het deur die rivier gegaan voor die ark van die Here uit na die vlakte van Jerigo.

14 Op daardie dag het die Here Josua groot aansien in die oë van al die Israeliete gegee. Hy was sy hele lewe lank net so belangrik vir hulle soos Moses.

15 Die Here het vir Josua gesê:

16 “Sê vir die priesters wat die ark dra dat hulle uit die Jordaanrivier moet uitkom.”

17 Josua het hulle so beveel.

18 Die priesters wat die ark van die verbond van die Here dra, het uit die Jordaan uitgekom. Toe hulle voete die droë grond van die wal raak, het die rivier se waters weer na sy ou plek begin terugvloei. Dit het weer sy walle begin oorstroom.

19 Op die tiende dag van die eerste maand het die volk deur die Jordaan getrek. Hulle het gaan kamp opslaan by Gilgal, oos van Jerigo.

20 Hier by Gilgal het Josua die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan uit saamgebring het, opmekaargestapel.

21 Hy het vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle kinders in die toekoms vir hulle pa’s vra: ‘Watse klippe is dit hierdie?’

22 moet julle hulle vertel: ‘Israel het hier op droë grond deur die Jordaanrivier getrek.

23 Die Here julle God het die water van die Jordaan voor julle laat wegdroog sodat julle daar deur kon gaan, net soos die Here destyds die Rietsee voor ons laat wegdroog het sodat ons daar deur kon trek.’

24 Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kon erken dat die Here groot mag het, en dat julle solank julle lewe die Here julle God moet vereer.”

JOSUA 5

1 Al die konings van die Amoriete wat wes van die Jordaan bly en al die konings van die Kanaäniete wat by die Middellandse See bly, het gehoor hoe die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat wegdroog het sodat hulle daar deur kon gaan. Hulle harte het gekrimp. Hulle het nie kans gesien om teen die Israeliete te veg nie.

Besnydenis by Gibeat-Haaralot

2 Op daardie stadium het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou messe van klip. Besny die Israeliete weer ’n keer.”

3 Josua het toe vir hom klipmesse gemaak. Hy het al die Israeliete besny by Gibeat-Haaralot.

4 Josua moes almal besny omdat al die mans van die volk wat uit Egipte getrek het en wat oorlog kon gaan maak, langs die pad in die woestyn dood is.

5 Almal wat destyds uit Egipte getrek het, was wel besny. Almal van die volk wat intussen langs die pad in die woestyn gebore is, was egter nie besny nie.

6 Die Israeliete het 40 jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat almal wat uit Egipte weg is wat kon oorlog maak, uitgesterf het. Hulle wou nie na die Here luister nie. Hy het daarom gesweer dat hulle nie die land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie. Dit is ’n baie vrugbare land.

7 Josua het nou hulle kinders besny wat in hulle plek gekom het. Hulle was nog nie besny nie. Hulle is ook nie langs die pad besny nie.

8 Nadat die hele nasie besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle weer gesond was.

9 Die Here het vir Josua gesê: “Ek het vandag julle vernedering van Egipte van julle af weggerol.” Josua het daardie plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog sy naam.

10 Toe hulle die Paasfees gevier het, was die Israeliete nog steeds by Gilgal op die vlakte by Jerigo. Hulle het dit op die veertiende dag van die maand teen die aand gevier.

11 Die volgende oggend het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring geëet wat in Kanaän geoes is.

12 Op daardie dag dat hulle van die opbrengs van die land Kanaän begin eet het, het die manna opgehou. Die Israeliete sou nie meer manna eet nie. Van toe af het hulle die graan en vrugte begin eet wat in die land Kanaän geoes is.

Die aanvoerder van die Here

se leër

13 Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ’n man voor hom sien staan met ’n swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Is jy ons vriend of ons vyand?”

14 “Nie een nie,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die hemelse leër. Ek is nou hier vir julle.” Josua het op die grond neergeval in aanbidding. Hy vra vir die man: “Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?”

15 Die leëraanvoerder van die Here se mag sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene. Jy staan op ’n heilige plek.” Josua het so gemaak.

JOSUA 6

Oorwinning oor Jerigo

1 Jerigo se poorte was dig gesluit omdat hulle bang was vir die Israeliete. Niemand het dit gewaag om in of uit te gaan nie.

2 Die Here het vir Josua gesê: “Ek gee jou beheer oor Jerigo, sy koning en sy soldate.

3 Al die soldate moet een keer rondom die stad marsjeer. Doen dit vir die volgende ses dae.

4 Sewe priesters wat elkeen ’n ramshoring dra, moet voor die ark loop. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad marsjeer. Die priesters moet dan hard op die ramshorings blaas.

5 Sodra julle hoor dat die priesters ’n uitgerekte sein op die ramshorings gee, moet almal ’n harde kreet gee. Die stad se muur sal dan inmekaarstort. Die manskappe kan dan daaroor klim om in die stad in te gaan.”

6 Josua, die seun van Nun, het toe die priesters bymekaargeroep. Hy het vir hulle gesê: “Tel die ark van die verbond op. Laat sewe priesters elkeen met ’n ramshoring voor die ark van die Here uit loop.”

7 Vir die volk het hy gesê: “Trek rondom die stad. Die afdeling soldate moet voor die ark van die Here uit marsjeer.”

8 Toe Josua klaar met die volk gepraat het, het die sewe priesters met die ramshorings voor die ark van die Here begin loop. Hulle het op die ramshorings geblaas. Die ark van die verbond van die Here het agter hulle aan gekom.

9 Terwyl die priesters heeltyd op die ramshorings geblaas het, het die soldate voor hulle uit marsjeer. Die res van die volk het agter die ark gevolg.

10 Josua het die volk gewaarsku: “Moenie skreeu nie. Moenie ’n geluid maak nie. Daar moenie ’n woord uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie. Dan moet julle hard begin skreeu.”

11 Hy het die ark van die Here toe een maal om die stad laat gaan. Daarna is hulle terug na hulle kamp toe en het die nag in die kamp gebly.

12 Josua was die volgende môre vroeg op. Die priesters het weer die ark van die Here gedra.

13 Die sewe priesters met die ramshorings het voor die ark van die Here geloop en op die ramshorings geblaas. Die soldate het voor hulle uit marsjeer. Die volk het agter die ark van die Here aangekom. Die priesters het die hele tyd op die ramshorings geblaas.

14 Op die tweede dag het hulle weer een keer om die stad geloop en teruggegaan na hulle kamp toe. So het hulle ses dae lank gemaak.

15 Op die sewende dag het hulle vroeg opgestaan toe dit nog skemer was. Hulle het oudergewoonte om die stad gegaan, maar op hierdie dag sewe keer.

16 Die sewende keer het die priesters die teken op die ramshorings gegee. Josua het vir die volk geskreeu: “Gee die kreet! Die Here gee die stad vir julle!

17 Die stad is ’n banoffer vir die Here. Die stad en alles wat daarin is, moet heeltemal uitgewis word. Die prostituut Ragab en almal wat by haar in die huis is, moet bly lewe. Sy het die verkenners wat ons uitgestuur het, weggesteek.

18 Bly weg van die goed wat vernietig moet word sodat julle nie julleself onder die ban bring nie. Moenie enigiets vat van die goed wat aan die Here behoort nie. Julle sal die kamp van Israel ’n banvloek maak. Julle sal onheil daaroor bring.

19 Alles wat van silwer en goud gemaak is en al die brons- en ystergoed behoort aan die Here. Alles moet in die skatkis van die Here kom.”

20 Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaargestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem.

21 Hulle het alles in die stad met die swaard uitgewis: mans en vroue, oud en jonk, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22 Josua het vir die twee mans wat die land kom verken het, gesê: “Gaan na die prostituut se huis toe en bring die vrou met almal wat by haar is daar uit, soos julle haar beloof het.”

23 Die twee verkenners het gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en hulle gesinne en haar familie uitgebring. Die mans het hulle na ’n veilige plek buite die kamp van Israel gebring.

24 Hulle het die stad met alles wat daarin was, verbrand. Die goed wat van silwer en goud gemaak was en die brons- en ystergoed het hulle egter in die skatkis van die Here se heiligdom gaan sit.

25 So het Josua die prostituut Ragab en haar familie wat saam met haar in die huis was, laat bly leef. Sy het haar tussen die Israeliete gevestig tot vandag toe. Sy het die mans wat Josua gestuur het om Jerigo te gaan verken, weggesteek.

26 In daardie tyd het Josua ’n eed afgelê: “Die Here vervloek die man wat die stad Jerigo probeer herbou. As hy weer sy fondament probeer lê, sal dit hom sy oudste seun kos. As hy die deure van die poorte weer probeer insit, gaan hy sy jongste seun verloor.”

27 Die Here was met Josua. Josua het deur die hele land beroemd geword.

JOSUA 7

Israel verloor teen Ai

1 Die Israeliete het kwaad gedoen. Hulle het nie met die ban gemaak soos die Here vir hulle gesê het nie. Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die stam Juda, het van die goed gevat wat deur die ban aan die Here gewy moes wees. Die Here het toe kwaad geword vir die Israeliete.

2 Josua het manskappe van Jerigo af na Ai toe uitgestuur. Ai was naby Bet-Awen en oos van Bet-El. Hy het vir hulle gesê: “Gaan en verken die land.”

Die mans het toe Ai gaan verken.

3 Hulle het teruggekom en aan Josua rapporteer: “Die hele volk hoef nie daarteen op te trek nie. Daar hoef net so 2 000 of 3 000 man soontoe te gaan. Hulle sal Ai kan inneem. Dit is maar ’n klein plekkie.”

4 Ongeveer 3 000 mans het toe daarheen opgetrek. Hulle moes egter vlug voor die mense van Ai.

5 Die mense van Ai het die Israeliete van die poort van die stad af agternagesit en hulle gejaag tot by die klipskeure waar hulle omtrent 36 van hulle teen die skuinste doodgemaak het. Die volk se moed het in hulle skoene gesak.

6 Josua het sy klere geskeur. Hy het voor die ark van die Here op die grond neergeval en daar bly lê tot die aand toe. Hy en die leiers van Israel het stof oor hulle koppe gestrooi.

7 Josua het toe gehuil: “Ag, oppermagtige Here, waarom het U hierdie volk oor die Jordaan laat kom om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan vernietig? As ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly het!

8 Here, wat kan ek nou sê nadat Israel vir sy vyande moes vlug?

9 Wanneer die Kanaäniete en almal wat in die land woon daarvan hoor, gaan hulle ons omsingel en ons van die aarde af verdelg. Wat sal dan van u eervolle Naam word?”

10 Die Here sê toe vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy daar op die grond?

11 Israel het oortree. Hulle het my ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed van die ban gevat. Hulle het daarvan gesteel. Hulle het daaroor gelieg en dit by hulle goed gaan wegsteek.

12 Die Israeliete sal nie weerstand kan bied teen hulle vyande nie. Hulle sal moet vlug vir hulle vyande, want hulle het nou self ’n banvloek geword wat vernietig moet word.

“Ek sal nie langer by julle bly as julle nie alles tussen julle vernietig wat onder die ban staan nie.

13 Staan op! Laat die volk hulle reinig en toewy aan God. Sê vir hulle: ‘Kry julle reg vir môre. Die Here die God van Israel sê: Daar is nog van die goed van die ban onder julle, Israel. Julle sal nie teen julle vyande opgewasse wees solank julle dit nie onder julle verwyder het nie.

14 “‘Julle moet môre-oggend volgens julle stamme kom aanmeld. Die Here sal die skuldige stam uitwys. Daardie stam wat deur die Here aangewys word, moet met sy familie naderkom sodat die Here die skuldige familie onder hulle kan uitwys. Hulle moet weer volgens hulle gesinne een vir een naderkom dat die Here die gesin kan aanwys.

15 Die man wat met die bangoed in sy besit gevang word, moet met vuur verbrand word, saam met al sy mense. Hy het die ooreenkoms met die Here verbreek. Hy het iets skandeliks in Israel aangevang.’”

16 Josua het die volgende oggend vroeg opgestaan. Hy het Israel volgens sy stamme voor die Here laat kom. Die stam van Juda is aangewys.

17 Hy het die families uit Juda laat naderstaan en die Seragfamilie is uitgewys. Hy het toe die Seragfamilie laat naderkom. Sabdi is uitgewys.

18 Toe hy die gesinne van Sabdi een vir een laat naderkom, is Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, uit die stam van Juda, uitgewys.

19 Josua het toe vir Akan gesê: “My seun, erken die almag van die Here die God van Israel. Bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my wegsteek nie.”

20 Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het teen die Here die God van Israel oortree. Dit is wat ek gedoen het:

21 Ek het tussen die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook silwer van ongeveer twee kilogram en ’n stuk goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek het dit begeer en toe vir myself gevat. Dit is in die grond in my tent weggesteek. Die silwer lê onder.”

22 Josua het toe mense gestuur. Hulle het na die tent toe gehardloop. Daar kry hulle toe alles weggesteek in die tent, met die silwer heel onder.

23 Hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit vir Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit daar voor die Here neergesit.

24 Josua en al die Israeliete het Akan die seun van Serag gevat en ook die silwer, die klere en die stuk goud, Akan se seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort. Hulle is daarmee na die laagte van Akor toe.

25 Josua het met hom geraas: “Hoekom het jy onheil oor ons gebring? Die Here bring vandag onheil oor jou!”

Die hele Israel het toe vir Akan en sy mense met klippe doodgegooi. Hulle het al sy besittings met vuur verbrand.

26 Hulle het hom onder ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar. Die Here se woede het toe afgekoel.

Daardie plek se naam is tot vandag toe nog die Laagte van Akor.

JOSUA 8

Die oorwinning oor Ai

1 Die Here het toe vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie. Moenie moedeloos word nie. Vat al jou manskappe en gaan veg teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk en sy stad en sy land in jou mag.

2 Maak met Ai en sy koning net soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Hierdie keer mag julle egter die buit en die vee vir julleself vat. Stel ’n hinderlaag aan die agterkant van die stad op.”

3 Josua en al sy manskappe het toe teen Ai opgetrek. Josua het 30 000 dapper manskappe uitgekies en hulle gedurende die nag uitgestuur.

4 Hy het hulle beveel: “Gaan kruip aan die agterkant van die stad weg. Moenie te ver van die stad af gaan nie. Hou julle gereed.

5 Ek en almal saam met my sal die stad van voor af nader. Wanneer hulle soos die vorige keer uittrek om teen ons te veg, sal ons op die vlug slaan.

6 Hulle sal uit die stad uit kom om ons agterna te sit. Hulle sal dink ons vlug weer vir hulle soos die vorige keer. Ons sal voor hulle uit padgee.

7 Julle moet dan uit julle skuilplek opstaan en die stad inval. Die Here julle God sal dit in julle mag gee.

8 “Wanneer julle beheer van die stad oorgeneem het, moet julle dit aan die brand steek. Maak soos die Here gesê het. Julle het nou my bevele.”

9 Josua het hulle weggestuur. Hulle het die hinderlaag gaan opstel en hulle ingegrawe tussen Bet-El en die westekant van Ai. Josua self het daardie nag in die kamp geslaap.

10 Josua het die môre vroeg opgestaan en sy manskappe opgeroep. Hy en die aanvoerders van Israel het die manskappe teen Ai gelei.

11 Al die manskappe het saam met hom opgetrek en nader aan die stad beweeg. Hulle het kamp opgeslaan aan die noordekant van Ai. Daar was ’n laagte tussen hulle en Ai.

12 Josua het ongeveer 5 000 man gevat en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Bet-El en Ai aan die westekant van die stad.

13 Die hoofkamp was dus noord van die stad en die manskappe in die hinderlaag aan die westekant van die stad. Josua self het daardie nag in die laagte geslaap.

14 Toe die koning van Ai hulle sien, het hy en sy leër haastig klaargemaak en vroeg die môre uitgetrek om teen Israel oorlog te maak. Hy en sy mense is na ’n plek regoor die Jordaanvallei. Hy het egter nie geweet van die hinderlaag wat agter die stad gelê het nie.

15 “Josua en die hele Israel het omgevlieg en op die vlug geslaan in die rigting van die woestyn.

16 Almal in die stad is opgeroep om hulle te agtervolg. Hulle is agter Josua aan en is so van die stad af weggelok.

17 Daar was nie ’n man in Ai of Bet-El oor wat nie agter die Israeliete aan was nie. Hulle het egter die stad net so oop gelos toe hulle agter Israel aan is.

18 Toe sê die Here vir Josua: “Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor.”

Josua het die spies in sy hand na Ai toe uitgesteek.

19 Toe hy sy hand uitsteek, was dit die teken. Die manskappe wat weggekruip het, het vinnig uit hulle skuilplekke opgespring en die stad bestorm. Hulle het die stad ingestorm en dit verower. Hulle het dit dadelik aan die brand gesteek.

20 Toe die mans van Ai omkyk, sien hulle hoe die rook uit die stad in die lug optrek. Hulle kon absoluut nêrens heen vlug nie. Die mense wat in die rigting van die woestyn gevlug het, het nou teen hulle agtervolgers omgedraai.

21 Josua en al die Israeliete het gesien dat die hinderlaag gewerk het. Toe die rook uit die stad begin opstyg, het hulle omgedraai en die mans van Ai aangeval.

22 Die manskappe van Israel het uit die stad gekom en hulle van agter aangeval. Die mense van Ai het nou Israeliete voor en agter hulle gehad. Die Israeliete het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat kon oorleef of vrykom nie.

23 Die Israeliete het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua toe gevat.

24 Nadat die Israeliete al die inwoners van Ai wat hulle op die oop stuk veld en die woestyn agternagesit het, doodgemaak het, is hulle terug na Ai toe en het al die mense in die stad doodgemaak.

25 Die mense van Ai wat daardie dag dood is, sowel mans as vroue, was 12 000.

26 Josua het nie sy hand met die spies wat hy uitgesteek het, teruggetrek voordat almal wat in Ai gebly het, uitgewis was nie.

27 Net die vee en die oorlogsbuit van die stad het oorgebly. Israel het dit vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua gesê het.

28 Josua het Ai afgebrand en daarvan ’n verlate ruïneheuwel gemaak. Dit is vandag nog so.

29 Josua het die koning van Ai aan ’n boom opgehang. Hy het hom daar laat hang tot die son ondergegaan het. Josua het toe opdrag gegee om sy liggaam van die boom af te haal. Hulle het dit in die ingang van die stad gaan gooi en dit met ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar.

’n Altaar by Ebal

30 Josua het daarna ’n altaar op die Ebalberg vir die Here, die God van Israel, gebou.

31 Hy het dit gebou soos Moses, die dienaar van die Here, dit vir die Israeliete voorgeskryf het. So staan dit geskryf in die wetboek van Moses: “Maak vir my ’n altaar met klip wat nie met ’n ysterinstrument bewerk is nie.” Hulle het op die altaar brandoffers vir die Here gebring en ook maaltydoffers geoffer.

32 Terwyl die Israeliete staan en kyk, het Josua ’n afskrif van die wet van Moses op die altaar se klippe uitgraveer.

33 Al die Israeliete, sy leiers, sy beamptes en sy regters, is in twee groepe aan weerskante van die ark verdeel. Daar was vreemdelinge sowel as burgers. Een deel het aan die voet van die Gerisimberg gestaan en die ander deel onder die Ebalberg. Hulle het na mekaar gekyk met die Levitiese priesters wat die ark dra tussen hulle. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, vroeër beveel het, toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang.

34 Josua het toe vir hulle alles wat die wet sê oor seën en straf voorgelees, soos in die boek van die wet geskryf staan.

35 Josua het voor almal van Israel wat daar bymekaar was, vroue en kinders en vreemdelinge wat saam met hulle gebly het, alles gelees wat Moses beveel het. Hy het niks uitgelaat nie.

JOSUA 9

Die Gibeoniete se slenter

1 Al die konings wes van die Jordaan het hiervan gehoor. Dit was die konings van die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Hulle het in die heuwelgebied, in die laagland en aan die kus van die Middellandse See tot so ver noord as die Libanonberge gebly.

2 Hulle het ’n verdrag met mekaar gesluit om teen Josua en die Israeliete te veg.

3 Ook die inwoners van Gibeon het gehoor wat Josua met Jerigo en Ai gedoen het.

4 Hulle het toe ’n slim plan gemaak. Hulle het mense na Josua gestuur. Die mense het verslete saalsakke oor hulle donkies gegooi en verslete wynsakke saamgevat wat geskeur en weer toegewerk was.

5 Hulle het ou gelapte sandale en verslete klere aangetrek. Hulle het ou brood vir padkos saamgevat.

6 Hulle het by Josua in die kamp by Gilgal aangekom en vir hom en die Israeliete gesê: “Ons kom van ’n ver land af. Ons wil graag met julle ’n verdrag sluit.”

7 Die Israeliete het vir die Hewiete gevra: “Bly julle nie miskien hier naby ons nie? Ons kan dan nie met julle ’n verdrag sluit nie.”

8 Hulle het egter vir Josua probeer gerusstel: “Ons is julle onderdane.”

“Maar wie is julle regtig,” wou Josua weet, “en van waar af kom julle?”

9 Hulle het geantwoord: “Ons kom van ’n baie ver land af. Ons het gehoor van die Here u God en alles wat Hy met Egipte gedoen het.

10 Ons het ook gehoor van alles wat Hy gedoen het met die twee Amoritiese konings Sihon van Gesbon en Og van Basan in Astarot aan die ander kant van die Jordaan.

11 Ons leiers en die inwoners van ons land het ons beveel: ‘Vat kos vir die pad saam en gaan ontmoet die Israeliete. Sê vir hulle: Ons sal julle onderdane wees. Wil julle nie asseblief met ons ’n verdrag sluit nie?’

12 Hierdie brood wat ons vir padkos gevat het, was nog warm toe ons by die huis weg is. U kan sien dit is nou uitgedroog en verkrummel.

13 Ons wynsakke was nog nuut toe ons hulle vol gemaak het, nou is hulle geskeur. Ons klere en ons skoene is verrinneweer van die lang pad.”

14 Die Israeliete het die padkos bekyk. Hulle het egter nie by die Here gaan raad vra nie.

15 Josua het hulle gasvry behandel. Hy het met hulle ’n verdrag gesluit dat hulle lewens gespaar sal bly. Die leiers van die volk het die verdrag met ’n eed bevestig.

16 Drie dae nadat hulle met die Gibeoniete hierdie verdrag gesluit het, het die Israeliete egter uitgevind dat die Gibeoniete eintlik hulle bure is en naby hulle woon.

17 Die Israeliete het dadelik vertrek om ondersoek in te stel. Hulle het op die derde dag by die stede van die Gibeoniete aangekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18 Die Israeliete het hulle nie aangeval nie. Die leiers van die volk het immers ’n eed voor die Here die God van Israel afgelê! Die hele volk het egter gekla oor wat die leiers gedoen het.

19 Die leiers het egter vir die volk gesê: “Ons het dan ’n eed voor die Here die God van Israel vir hulle afgelê. Ons kan hulle mos nie nou aanval nie.

20 Ons moet by die verdrag hou. Ons moet hulle laat bly leef sodat God nie op ons wraak neem as ons die eed verbreek wat ons teenoor hulle afgelê het nie.

21 Laat hulle bly leef, maar hulle moet die volk se houtkappers en waterdraers word.” So het die leiers hulle gepaai.

22 Josua het die Gibeoniete bymekaar geroep en vir hulle gevra: “Hoekom het julle ons so mislei? Julle het gesê dat julle baie ver van ons af bly, en hier woon julle al die tyd naby ons.

23 Julle is vervloek. Van nou af sal julle die houtkappers en waterdraers vir die huis van my God wees.”

24 Hulle het Josua geantwoord: “Dit is vir ’n feit aan u diensknegte vertel dat die Here u God vir sy dienaar Moses opdrag gegee het om die land in besit te neem en al sy inwoners voor julle uit te wis. Ons was bang dat ons doodgemaak sal word. Ons het toe hierdie plan uitgedink.

25 Ons is nou in u hand. U moet met ons maak soos dit vir u goed en reg is.”

26 Josua het gekeer dat die Israeliete hulle doodmaak.

27 Van daardie dag af tot vandag toe het Josua hulle die houtkappers en waterdraers vir die volk en vir die altaar van die Here gemaak, waar dit ook al was. Dit is vandag nog steeds so.

JOSUA 10

Israel help Gibeon

1 Adoni-Sedek was die koning van Jerusalem. Hy het gehoor dat Josua Ai ingeneem en dit heeltemal verwoes het, net soos hy met Jerigo gemaak het. Hy het gehoor dat hy ook so gemaak het met sowel Ai se koning as dié van Jerigo. Hy het ook gehoor van die verdrag wat die Gibeoniete met Israel gesluit het en dat hulle nou tussen hulle woon.

2 Hy en sy mense het baie bang geword. Gibeon was ’n sterk stad. Dit was groter as Ai en so sterk soos ’n stad met ’n koning. Sy soldate was dapper vegters.

3 Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe na verskillende konings boodskappe gestuur: Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon. Hy het hulle laat weet:

4 “Kom en help my dat ons Gibeon kan gaan aanval. Hulle het ’n verdrag gesluit met Josua en die Israeliete.”

5 Die vyf Amoritiese konings, dié van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe hulle magte gekombineer. Hulle het gaan kamp opslaan by Gibeon om teen hom oorlog te maak.

6 Die Gibeoniete het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moenie nou u dienaars in die steek laat nie. Kom tog vinnig hiernatoe om ons te red. Kom help ons. Al die Amoritiese konings wat in die heuwelgebied bly, het teen ons saamgespan.”

7 Josua en al sy bekwame soldate het uit Gilgal opgeruk.

8 “Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie,” het die Here vir Josua gesê. “Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle sal teen jou kan standhou nie.”

9 Nadat Josua die hele nag deur van Gilgal af getrek het, het hy ’n verrassingsaanval op die Amoriete geloods.

10 Die Here het hulle paniekbevange vir die Israeliete gemaak. Israel het hulle by Gibeon verpletterend verslaan. Hulle het die vyand teen die hoogte by Bet-Goron uitgedryf en hulle doodgemaak tot by Aseka en by Makkeda.

11 Terwyl die Amoriete nog aan die vlug was teen die hoogte uit na Bet-Goron toe, het die Here hulle al die pad van daar af tot by Aseka met groot haelstene uit die lug neergevel. Daar is baie meer dood van die hael as wat die Israeliete met die swaard doodgemaak het.

12 Op die dag dat die Here vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die Here om hulp gevra. Voor almal het hy by die Here gebid:

“Laat die son tog stilstaan

bo Gibeon.

Laat die maan stilstaan

oor die Ajalonlaagte!”

13 Die son het gaan stilstaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het. Dit is soos dit opgeteken staan inDie boek van die Opregte.Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie.

14 So ’n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die Here het geluister na wat ’n mens vir Hom vra! Die Here het aan Israel se kant geveg.

Josua stel die vyf Amoritiese

konings tereg

15 Josua en almal saam met hom is toe terug na die kamp in Gilgal.

16 Die vyf konings het op die vlug geslaan. Hulle het in ’n grot in Makkeda gaan wegkruip.

17 Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle in die grot van Makkeda wegkruip.

18 Hy het opdrag gegee: “Rol groot klippe voor die bek van die grot. Sit wagte daar om dit op te pas.

19 Julle ander moenie daar bly nie. Agtervolg die vyand. Vel hulle neer. Moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God gee hulle oor aan julle.”

20 Josua en die Israeliete het hulle heeltemal uitgewis. ’n Klein klompie van hulle het oorleef en na die versterkte stede ontvlug.

21 Toe hulle klaar was, is al die Israeliete veilig terug na Josua by die kamp in Makkeda. Niemand het iets verder oor die Israeliete te sê gehad nie.

22 Josua het toe opdrag gegee: “Maak die grot se bek oop. Bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.”

23 Hulle het so gemaak. Hulle het die vyf konings uit die grot na Josua toe gebring. Dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.

24 Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, het hy al die Israeliete bymekaargeroep. Hy sê toe vir die offisiere wat saam met hom gegaan het: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke.” Hulle het dit toe gedoen.

25 Hy het voortgegaan: “Julle moenie bang wees nie. Moenie ontstel wees nie. Julle moet sterk en dapper wees. Dit is soos die Here gaan maak met al julle vyande teen wie julle moet oorlog maak.”

26 Josua het daarna die vyf konings doodgemaak. Hy het elkeen aan ’n boom laat ophang. Hulle het aan daardie vyf bome bly hang tot skemeraand toe.

27 Terwyl die son ondergaan, het Josua beveel om hulle liggame van die bome af te haal. Hulle het dit in die grot gaan gooi waar die konings weggekruip het. Hulle het weer klippe voor die bek van die grot gerol. Dit is vandag nog daar.

Josua se suidelike veldslae

28 Daardie selfde dag nog het Josua ook Makkeda ingeneem. Hy het die koning en elkeen wat in die stad bly, heeltemal uitgewis. Daar het nie ’n mens daarin oorgebly nie. Hy het met Makkeda se koning net so gemaak soos met die koning van Jerigo.

29 Josua en almal by hom het van Makkeda af opgetrek teen Libna om daarteen oorlog te maak.

30 Die Here het ook hierdie stad met sy koning aan Israel gegee. Josua het al die mense wat in die stad gebly het, doodgemaak. Nie een het oorleef nie. Josua het met Libna se koning gedoen wat hy met die koning van Jerigo gedoen het.

31 Van Libna af is Josua en al die Israeliete na Lakis toe. Hy het dit beleër en daarteen geveg.

32 Die Here het ook Lakis in Israel se hand oorgegee. Hulle het op die tweede dag die stad ingeneem en al wat daarin bly, doodgemaak, net soos hulle met Libna gemaak het.

33 Horam, die koning van Geser, het Lakis gaan help. Josua het hom en sy manskappe egter verslaan. Nie een het vrygekom nie.

34 Van Lakis af is Josua saam met al die Israeliete na Eglon toe. Hy het die stad beleër om daarteen te veg.

35 Op dieselfde dag nog het hulle die stad ingeneem en al wat daarin leef, doodgemaak. Hy het daardie dag die stad uitgewis net soos hy met Lakis gedoen het.

36 Van Eglon af het hulle Hebron gaan aanval.

37 Hulle het die stad verower en die koning, asook die inwoners van al die dorpies rondom, doodgemaak. Niemand het oorleef nie. Net soos Eglon het Josua Hebron en alles wat daarin was, heeltemal uitgeroei.

38 Daarna het Josua saam met al die Israeliete by hom teruggedraai na Debir om dit aan te val.

39 Hy het die stad, sy koning en al die dorpies rondom verower. Hy het almal wat daar gebly het, doodgemaak. Nie ’n siel daarin het oorleef nie. Hy het met Debir en sy koning gedoen soos hy met Hebron en Libna en sy koning gedoen het.

40 So het Josua die hele gebied ingeneem: die heuwelgebied, die Negevwoestyn, die kusvlakte en die hange tussenin met al hulle konings. Niemand het vrygekom nie. Hy het alles wat leef met die banvloek uitgewis, net soos die Here, die God van Israel, beveel het.

41 Josua het hulle vernietig van Kades-Barnea af tot by Gasa, en die hele gebied van Gosen af tot by Gibeon.

42 Hy het al hierdie gebiede en hulle konings in een enkele veldtog oorwin. Die Here, die God van Israel, het saam met Israel geveg.

43 Josua en al die Israeliete saam met hom is daarna terug na die kamp in Gilgal.

JOSUA 11

Josua se noordelike veldslae

1 Koning Jabin van Hasor het van Josua se veldslae gehoor. Hy het boodskappe na Jobab, koning van Madon, gestuur en ook na die konings van Simron en Aksaf.

2 Sy boodskappe het ook uitgegaan na die konings in die noordelike heuwelgebied, dié in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea, in die kusvlakte en in die heuwels van Dor by die Middellandse See,

3 die Kanaäniete – oos en wes – die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die heuwelgebied en die Hewiete aan die hange van die Hermonberg in die Mispegebied.

4 Almal het met hulle leërs en perde en strydwaens saamgetrek vir oorlog teen Israel. Hulle was so baie soos die sandkorrels op die strand.

5 Al hierdie konings het ’n bondgenootskap gesluit. Hulle het almal by die Meromwaters bymekaargekom en reggemaak om teen Israel te gaan veg.

6 Die Here het toe vir Josua gesê: “Jy moenie vir hulle bang wees nie. Môre hierdie tyd sal Ek hulle aan Israel oorgee en dan sal hulle almal dood wees. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7 Josua en sy hele mag het na die Meromwaters opgeruk en hulle in ’n verrassingsaanval oorval.

8 Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Hulle het die vyand agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en tot in die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei totdat daar nie een oor was nie.

9 Josua het gemaak soos die Here gesê het en hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10 Josua het toe omgedraai en Hasor ingeneem. Hy het sy koning met die swaard doodgemaak. Hasor was destyds die hoofstad van al die omringende koninkryke.

11 Hulle het elke lewende wese in die stad doodgemaak en niemand gespaar nie. Josua het die stad afgebrand.

12 Hy het ook al die omringende dorpe ingeneem en hulle konings en inwoners uitgewis. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het.

13 Israel het egter nie die plekke wat op ruïneheuwels gebou was, afgebrand nie. Josua het net Hasor afgebrand.

14 Alles wat hulle in hierdie stede kon buit en die vee het Israel vir hulleself gehou. Hulle het die mense uitgeroei tot daar nie een oor was nie.

15 Alles wat die Here sy dienaar Moses beveel het, en wat Moses weer vir Josua opgedra het, het Josua gedoen. Hy het nêrens van enigiets wat die Here Moses beveel het, afgewyk nie.

16 Josua het die hele gebied ingeneem: die heuwelgebied, die hele Negevgebied, die hele Gosengebied, die kusvlakte, die Jordaanvallei en die heuwels van Israel met hulle valleie.

17 Die gebied van Israel het nou geloop van Kaalbergwat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei aan die voet van die Hermonberg. Josua het al die konings van hierdie gebiede verslaan en hulle doodgemaak.

18 Die oorlog wat hy met hulle gemaak het, het lank geduur.

19 Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gewoon het, wou geen stad met die Israeliete vrede sluit nie. Hulle moes almal deur gevegte verower word.

20 Dit was die Here wat hulle oorreed het om eerder oorlog teen Israel te maak sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en hulle geheel en al kon uitwis soos die Here vir Moses gesê het.

21 Dit was in hierdie tyd dat Josua ook die afstammelinge van die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge, uitgewis het. Josua het hulle saam met hulle stede totaal uitgeroei.

22 Daar het in die hele land van Israel nie ’n enkele Enakiet oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod het daar Enakiete oorgebly.

23 Josua het die hele land ingeneem, soos die Here vir Moses beveel het. Josua het toe die land soos dit tussen die stamme verdeel is, aan Israel as hulle erfgrond gegee. Die land kon toe tot rus kom van die oorlog.

JOSUA 12

Verowerde konings oos van die

Jordaan

1 Hier volg nou die name van die konings aan die oorkant van die Jordaan wat die Israeliete verslaan het en van wie die lande verower is. Hulle gebied was vanaf die Arnonvallei tot by Hermonberg. Dit sluit die hele deel oos van die Jordaanvallei in:

2 Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gebly. Hy het geheers van Aroër af aan die kant van die Arnon, deur die middel van die vallei, tot aan die Jabbokspruit waar die Ammoniete se gebied begin. Dit is die helfte van Gilead se gebied aan die noordekant van die Jabbok.

3 Hy was ook in beheer van die oostelike deel van die Jordaanvallei, van die See van Galilea af suid tot by die Soutsee, en verder in die rigting van Bet-Jesimot en suidwaarts van onderkant die Pisgahange af.

4 Koning Og van Basan was een van die laaste Refaïete. Hy het in Astarot en Edreï regeer.

5 Die gebied waaroor hy geheers het, was vanaf Hermonberg na Salka in die noorde en die hele Basan in die ooste. Na die weste was dit tot aan die grens van Gesur en Maäka. Sy deel was die noordelike deel van Gilead tot aan die grens van die gebied van koning Sihon van Gesbon.

6 Moses, die dienaar van die Here, en die Israeliete het hierdie twee konings verslaan. Moses het die gebied aan die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam as erfgrond gegee.

Verowerde konings wes van die

Jordaan

7 Die volgende is die konings duskant die Jordaan, die westekant, wat Josua en die Israeliete verslaan het. Dit strek van Baäl-Gad in die Libanonvallei af tot by Kaalberg wat oploop na Seïr toe. Josua het dit onder die ander stamme as hulle erfgrond verdeel:

8 Dit was die heuwelgebied, die kusvlakte, die Jordaanvallei, die heuwelhange, die woestyngebied en die Negevwoestyn. Die mense wat hier gebly het, was die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

9 Die konings wat hy verslaan het, was: die koning van Jerigo, die koning van Ai naby Bet-El,

10 die koning van Jerusalem, die koning van Hebron,

11 die koning van Jarmut, die koning van Lakis,

12 die koning van Eglon, die koning van Geser,

13 die koning van Debir, die koning van Geder,

14 die koning van Gorma, die koning van Arad,

15 die koning van Libna, die koning van Adullam,

16 die koning van Makkeda, die koning van Bet-El,

17 die koning van Tappuag, die koning van Gefer,

18 die koning van Afek, die koning van Saron,

19 die koning van Madon, die koning van Hasor,

20 die koning van Simron-Meron, die koning van Aksaf,

21 die koning van Taänak, die koning van Megiddo,

22 die koning van Kedes, die koning van Jokneam by Karmelberg,

23 die koning van Dor op die heuwels van Dor, die koning van Gojim by Gilgal,

24 die koning van Tirsa.

Dit was in totaal 31 konings.

JOSUA 13

Land wat nog ingeneem moes

word

1 Josua het oud geword. Die Here het vir hom gesê: “Jy het aangestap in jare en baie van die land is nog oor om in besit geneem te word.

2 Die deel van die land wat oorbly, is al die gebiede van die Filistyne en van Gesur.

3 Die gebied van die spruit van Sigor af teen die grens met Egipte tot by die Ekrongebied in die noor-de is Kanaänitiese gebied. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron. Daar is nog die gebied van die Awwiete in die suide.

4 “In die noorde is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, Meara, wat aan die Sidoniërs behoort, noord tot by Afek aan die Amoritiese grens.

5 Dan is daar die Gebalgebied en die hele Libanongebergte na die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.

6 Al die bewoners van die Libanonberg af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs, sal Ek tussen die Israeliete uit verdryf. Sorg dat hierdie gebiede as erfgrond na Israel toe kom, soos Ek jou beveel het.”

Die dele oos van die Jordaan

7 Verdeel nou hierdie grond tussen die nege stamme en die halwe Manassestam.

8 Ruben en Gad se stamme het reeds saam met die ander helfte van die Manassestam hulle grond gekry. Dit het gebeur toe Moses dit vir hulle gegee het terwyl hulle aan die oorkant, oos van die Jordaan, was. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebiede vir hulle gegee:

9 Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad teen die rivier, die hele vlakte van Madeba tot by Dibon,

10 al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat vanuit Gesbon regeer het, tot teen die Ammonitiese grens,

11 Gilead met die gebiede van Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka

12 en die hele koninkryk van Og in Basan wat vanuit Astarot en Edreï regeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en uitgedryf.

13 Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka uitgedryf nie. Hulle bly nou nog saam met die Israeliete.

14 Aan die stam van Levi het Moses nie hulle eie grond gegee nie. Hulle erfenis is die offers wat vir die Here, die God van Israel, gebring word. Dit is soos Hy hulle beloof het.

Ruben se grond

15 Moses het vir die stam van Ruben die volgende gebiede gegee:

16 Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad teen die rivier, die hele vlakte tot by Madeba,

17 en tot by Gesbon met al sy ander stede op die plato: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon,

18 Jahas, Kedemot, Mefaät,

19 Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg bo die plato,

20 Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot,

21 al die stede op die plato, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon regeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook sy bondgenote, die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, wat saam met hom in die land gewoon het.

22 Die Israeliete het ook die waarsêer Bileam, die seun van Beor, doodgemaak.

23 Die grond van die stam Ruben het aan die Jordaan gegrens. Hierdie dorpe en hulle buiteposte is vir die afstammelinge van Ruben gegee as hulle erfgrond.

Gad se grond

24 Vir die afstammelinge van die stam Gad het Moses die volgende gebiede toegeken:

25 Die gebied van Jaser, al die dorpe in Gilead, die helfte van die Ammoniete se gebied tot by Aroër net wes van Rabba,

26 van Gesbon af tot by Ramat-Mispe en Betonim, en van Maganajim af tot by Lo-Dabar,

27 Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon in die vallei, die oorblywende deel van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon, die Jordaanstreek tot so ver noord as die See van Galilea, oos van die Jordaan.

28 Saam met die stede en hulle dorpies was dit dan die erfgrond van die families van die stam Gad.

Grond van die halwe

Manassestam

29 Aan die nageslag van die halwe Manassestam het Moses die volgende gebiede gegee:

30 Van Maganajim af die hele Basan, die hele koninkryk van koning Og van Basan, al 60 die tentdorpe van Jaïr in Basan,

31 die helfte van Gilead, en Astarot en Edreï, die koningstede van Og in Basan. Dit is die dele wat die nakomelinge van Makir, die een seun van Manasse, ontvang het.

32 Dit is dan die gebiede wat Moses toegeken het toe hulle in die Moabsvlakte aan die oorkant van die Jordaan, oos van Jerigo, was.

Levi se erfenis

33 Aan die stam Levi het Moses nie enige grond toegeken nie. Die Here, die God van Israel, was hulle erfdeel, soos Hy vir hulle beloof het.