DEUTERONOMIUM 28

Seën vir gehoorsaamheid

1 “As jy ten volle gehoorsaam is aan die Here jou God en die opdragte nakom wat ek jou vandag gee, sal die Here jou God jou bo al die nasies van die wêreld verhoog.

2 “Al hierdie seëninge sal oor jou kom

en by jou bly

wanneer jy die Here jou God

gehoorsaam:

3 In jou stede

en in jou oop velde

sal jy geseën wees.

4 Jy sal geseën word

met baie kinders

en goeie oeste.

Jy sal geseën word

met vrugbare beeste

en kleinvee.

5 Jy sal geseën word

met mandjies wat oorloop

van vrugte

en jou knieskottel

sal vol brood wees.

6 Jy sal geseën word

waar jy ook al beweeg,

of jy nou kom of gaan.

7 “Die Here sal jou vyande oorwin

wanneer hulle jou aanval.

Hulle sal jou vanuit een rigting aanval,

maar hulle sal

in sewe rigtings wegvlug.

8 Die Here sal jou seën

in alles wat jy doen

en Hy sal jou graanskure

vol maak met graan.

Die Here jou God sal jou seën

in die land wat Hy aan jou gee.

9 “As jy die opdragte van die Here jou God gehoorsaam en doen wat Hy wil hê, sal die Here jou sy heilige volk maak soos Hy beloof het Hy sal doen.

10 Al die nasies van die wêreld sal sien dat die Here jou sy volk gemaak het en hulle sal in vrees en bewing voor julle staan.

11 “Die Here sal ’n oorvloed van goeie dinge vir jou gee in die land wat Hy aan jou voorouers belowe het: baie kinders, talle diere en goeie oeste.

12 Die Here sal uit sy ryk voorraadskuur, die hemel, dit op die regte tyd laat reën om al die werk wat jy doen, te seën. Jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal nooit nodig hê om van hulle te leen nie.

13 As jy luister na hierdie opdragte van die Here jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die Here jou die kop maak en nie die stert nie. Jy sal altyd die leiding neem.

14 Moenie links of regs afwyk van enige van hierdie opdragte wat ek jou vandag gee deur ander gode na te volg en hulle te aanbid nie.”

Vervloeking vir

ongehoorsaamheid

15 “As jy weier om na die Here jou God te luister en nie gehoorsaam is aan al die opdragte en voorskrifte wat ek vandag vir jou gee nie, sal al die volgende vervloeking oor jou kom en jou oorweldig:

16 “Vervloek is jy in jou stede

en vervloek is jy in die oop veld.

17 Vervloek is jy

met leë mandjies

sonder enige vrugte

en met knieskottels

sonder brood.

18 Vervloek is jy met min kinders

en kaal landerye.

Vervloek is jy

met onvrugbare beeste

en kleinvee.

19 Vervloek is jy

waar jy ook al is,

of jy nou kom of gaan.

20 “Die Here self sal vervloeking, verwarring en straf bring oor alles wat jy doen, totdat jy uiteindelik heeltemal vernietig is oor al die slegte dinge wat jy gedoen het en omdat jy Hom verlaat het.

21 Die Here sal siektes julle laat aantas totdat daar niemand oorbly nie in die land wat julle binnetrek om in besit te neem.

22 Die Here sal julle met tering, koors en inflammasie tref, met skroeiende hitte en droogte, met brandkoring en roes. Hierdie verskriklike dinge sal jou agtervolg totdat jy sterf.

23 Die blou lug bokant jou sal brons word en die aarde onder jou so hard soos yster.

24 Die Here sal jou reën in sand en stof verander en dit sal uit die lug op jou neersak en jou verswelg.

25 “Die Here sal maak dat jy deur jou vyande verslaan word. Jy sal jou vyande van een kant af aanval, maar jy sal in sewe rigtings wegvlug. Jy sal ’n verbasing vir al die nasies van die aarde word.

26 Jou lyke sal kos vir voëls en wilde diere wees sonder dat daar iemand sal wees om hulle weg te jaag.

27 “Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met gewasse, skurfte en jeuksiektes waarvan jy nie gesond sal word nie.

28 Die Here sal jou tref met kranksinnigheid, blindheid en paniek.

29 Jy sal in helder daglig rondtas soos wat ’n blinde in die donker rondtas en jy sal onsuksesvol wees in alles wat jy doen. Jy sal aanhoudend onderdruk en beroof word, en niemand sal tot jou redding kom nie.

30 “Jy sal aan ’n vrou verloof wees, maar ’n ander man sal haar by haar slaap. Jy sal ’n huis bou, maar nie self daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar nooit die vrugte daarvan geniet nie.

31 Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar sonder dat jy ’n stukkie van die vleis daarvan kry om te eet. Jou donkie sal weggeneem word sonder dat dit ooit weer na jou toe sal terugkom. Jou skaap sal vir jou vyande gegee word sonder dat daar iemand sal wees om jou te help.

32 Jy sal sien hoe jou seuns en dogters as slawe weggevoer word na ’n vreemde volk. Jou oë sal moeg word wanneer jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal magteloos wees om ’n hand op te lig.

33 ’n Vreemde nasie van wie jy nog nooit gehoor het nie, sal die opbrengs van jou land opeet waaraan jy so hard gewerk het. Jy sal ly onder aanhoudende onderdrukking en swaarkry.

34 Jy sal kranksinnig word van die tragedie wat jy rondom jou sien.

35 Die Here sal jou van kop tot tone bedek met ongeneeslike swere.

36 “Die Here sal jou en die koning wat jy aangewys het in ballingskap laat gaan na ’n nasie wat nie jy of jou voorouers geken het nie. Daar in ballingskap sal jy gode van hout en klip aanbid!

37 Jy sal verbasing uitlok, ’n spreekwoord en ’n bespotting word onder die nasies waarheen die Here jou sal stuur.

38 “Jy sal baie plant, maar min oes, want sprinkane sal jou oeste opvreet.

39 Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie enige wyn daarvan drink of druiwe daarvan eet nie, want wurms sal dit opvreet.

40 Jy sal oral in jou land olyfbome hê, maar jy sal nooit olyfolie daarvan kan maak nie, want die olywe sal voor die tyd al afval.

41 Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal nie in staat wees om hulle te behou nie, want hulle sal in gevangenskap weggevoer word.

42 Swerms insekte sal jou bome en oeste vernietig.

43 Die vreemdelinge wat tussen julle woon, sal al sterker en sterker word, terwyl jy al hoe swakker en swakker sal word.

44 Hy sal aan jou geld leen, maar jy sal nie vir hom kan leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert!

45 “Al hierdie vervloekings sal jou agtervolg, inhaal en vernietig as jy weier om na die Here jou God te luister en nie die bevele en voorskrifte gehoorsaam wat Hy aan jou gee nie.

46 Al hierdie dinge sal vir altyd ’n waarskuwingsteken vir jou en jou afstammelinge wees.

47 Omdat jy nie die Here jou God met vreugde en entoesiasme gedien het vir die oorvloed van seën wat jy ontvang het nie,

48 sal jy jou vyande dien wat die Here jou God teen jou sal stuur. Jy sal honger, dors en kaal gelaat word en in alles gebrek ly. Hulle sal jou wreed onderdruk totdat jy vernietig is.

49 “Die Here sal ’n nasie van ver af, van die einde van die aarde af, teen jou bring. Hy sal soos ’n arend neerswiep op jou. Dit is ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,

50 ’n sterk en hartelose nasie wat geen respek vir oumense het nie en geen jammerte vir jongmense nie.

51 Sy leërs sal jou diere en die oes op jou lande verteer en jy sal van honger doodgaan. Hulle sal vir jou geen graan of wyn, olyfolie, kalwers of lammers laat oorbly totdat hulle jou ook heeltemal vernietig het nie.

52 Hulle sal jou stede beleër totdat al die versterkte mure in jou land, die mure wat jou moes beskerm, afgebreek is. Hulle sal al die dorpe in die land aanval wat die Here jou God vir jou gegee het.

53 Die beleg sal so erg wees dat jy die vleis van jou eie seuns en dogters wat die Here jou God aan jou gegee het, sal eet.

54 Die sagste man onder julle sal geen simpatie hê met sy eie broer of sy geliefde vrou of sy kinders wat nog lewe nie.

55 Hy sal vir nie een van hulle gee van die vleis van sy eie kinders wat hy besig is om te eet nie. Dit is al wat hy sal oorhê as gevolg van die lyding wat die vyand gedurende die beleëring van al die stede sal meebring.

56 Die sagste en mees sensitiewe vrou onder julle, so sag dat sy nie eers haar voet op die grond sal sit nie, sal niks omgee vir die man wat sy liefhet of vir haar eie seun en dogter nie.

57 Sy sal die nageboorte en die baba waaraan sy geboorte gegee het, wegsteek sodat sy dit in die geheim kan eet. Sy sal niks anders hê om te eet gedurende die beleëring en die verskriklike nood wat jou vyand oor al die stede sal bring nie.

58 “As jy weier om al die woorde van die gebooie te gehoorsaam wat in hierdie boek geskryf is, as jy nie eerbied het vir die glorieryke en ontsagwekkende Naam van die Here jou God nie,

59 sal die Here jou en jou kinders met onbeskryflike plae tref. Hierdie plae sal intens en sonder verligting wees wat jou mislik en ondraaglik siek sal maak.

60 Die Here sal al die siektes waarvoor jy in Egipte so bang was oor jou bring, en hulle sal hulle tol van jou eis.

61 Die Here sal elke siekte en plaag wat daar is oor jou bring, selfs dié wat nie in hierdie wetboek genoem word nie, totdat jy vernietig is.

62 “Al is julle so baie soos die sterre in die lug, sal daar min van julle oorbly omdat julle nie wou luister na die Here julle God nie.

63 “Net soos die Here vreugde daarin gevind het om julle te help om voorspoedig en baie te word, sal die Here daarin vreugde vind om julle te vernietig totdat julle verdwyn uit die land wat julle nou binnegaan en in besit neem.

64 Die Here sal julle tussen al die nasies, van die een kant van die aarde tot die ander kant toe, uitstrooi. Daar sal julle vreemde gode aanbid, gode wat nie jy of jou voorouers geken het nie, gode wat van hout en klip gemaak is!

65 Daar tussen die nasies sal daar vir jou geen plek van sekerheid of rus wees nie. Die Here sal jou hart laat bewe van angs, jou oë sal swak word en jy sal wanhoop aan die lewe.

66 “Jy sal in voortdurende twyfel lewe. Jy sal dag en nag bang wees, met geen rede om te glo dat jy die volgende oggend sal sien nie.

67 “In die oggend sal jy wil sê: ‘As dit maar net aand wil word!’ In die aand sal jy wil sê: ‘As dit maar net oggend wil word!’ Jy sal dit sê as gevolg van die verskriklike dinge wat jy rondom jou sal sien.

68 “Dan sal die Here jou na Egipte toe terugstuur met skepe, ’n reis waarvan ek jou gesê het dat jy dit nooit weer sal onderneem nie. Daar sal julle julleself aanbied om as slawe aan jou vyande verkoop te word, maar niemand sal belangstel om jou te koop nie.”

DEUTERONOMIUM 29

1 Dit is die bepalings van die verbond wat die Here vir Moses beveel het om met die Israeliete te maak terwyl hulle in die land Moab was. Dit is bo en behalwe die verbond wat Hy met hulle by Sinaiberg gemaak het.

Moses sluit ’n tweede verbond

2 Moses het al die Israeliete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het met julle eie oë alles gesien wat die Here in Egipte aan die farao, aan al sy onderdane en die hele land gedoen het,

3 al die groot dade van krag, die wondertekens en die verstommende wonders.

4 Maar tot vandag toe nog het die Here julle nie die verstand gegee om dit te verstaan, ook nie oë om te sien of ore om te hoor nie!

5 Vir 40 jaar lank het ek julle deur die woestyn gelei sonder dat julle klere of sandale ooit verweer het.

6 Julle het nie brood of wyn of enige ander sterk drank gehad nie, maar Hy het vir julle kos gegee sodat julle kon ervaar dat die Here julle God is.

7 Toe ons hier aankom, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan teen ons kom veg, maar ons het hulle verslaan.

8 Ons het hulle land by hulle weggevat en dit aan die stamme van Ruben en Gad en aan die halwe stam van Manasse as hulle erfdeel gegee.

9 “Daarom, wees gehoorsaam aan die bepalings van hierdie verbond sodat julle voorspoedig kan wees in alles wat julle doen.

10 Almal van julle, stamleiers, regters, amptenare, en die hele Israel, staan vandag hier voor die Here julle God.

11 Julle kinders, vroue en die vreemdelinge wat tussen julle leef, dié wat vir julle hout kap en water aandra, is ook by julle.

12 Julle staan vandag hier om met die Here julle God ’n verbond te sluit. Die Here sluit hierdie verbond met julle en Hy verseël dit met ’n eed.

13 Hy wil dit vandag bo alle twyfel stel dat julle sy volk is en dat Hy julle God is, net soos Hy dit aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob belowe het.

14 Die Here sluit nie net met julle ’n verbond met al sy verpligtings nie.

15 Die Here julle God sluit hierdie verbond met julle wat vandag hier in sy teenwoordigheid is, maar ook met al die toekomstige geslagte van Israel.

16 “Julle onthou tog hoe ons in die land Egipte gebly het en deur die lande van vyandelike nasies getrek het toe ons Egipte verlaat het.

17 Julle het hulle afskuwelike afgode gesien wat van hout, klip, silwer en goud gemaak is.

18 Die Here het sy verbond met julle gesluit sodat geen man, vrou, familie of stam onder julle van die Here julle God sal wegdraai om hierdie gode van die ander nasies te aanbid nie, en sodat daar geen wortel onder julle mag wees wat bitter en giftige vrugte dra nie.

19 Laat niemand van julle wat die waarskuwings van hierdie eed hoor, hulleself alte hoog ag en by hulleself dink: ‘Ek is veilig, selfs al hou ek aan om my eie harde kop te volg,’ nie. Dit sal net tot verwoesting lei.

20 Die Here sal sulke mense nie vergewe nie. Sy woede en sy wrewel sal teen hulle opvlam. Al die vervloekings wat in hierdie boek beskryf is, sal oor hulle kom en die Here sal hulle name onder die hemel uitwis.

21 Die Here sal hulle van al die stamme van Israel afsonder sodat al die rampe hom kan tref volgens die vervloekings van die verbond wat opgeskryf is in hierdie boek van die gebooie.

22 “Dan sal die geslagte wat kom, julle kinders wat ná julle kom, en die vreemdelinge wat van ver lande af kom, die verwoesting van die land en siektes sien wat die Here teen hierdie land stuur.

23 Hulle sal vind dat die grond in swael en sout verander, met niks wat geplant kan word en niks wat kan groei nie, selfs nie eers ’n groen blaartjie nie. Dit sal net soos Sodom en Gomorra, Adma en Sebojim wees wat die Here in sy woede vernietig het.

24 Die naburige nasies sal vra: ‘Waarom het die Here so met hierdie land gemaak? Wat het Hom so kwaad gemaak?’

25 “Hulle sal ingelig word: ‘Dit het gebeur omdat die volk van die land die verbond verbreek het wat die Here, die God van hulle voorouers, met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gelei het.

26 Hulle het ander, vreemde gode gaan dien en aanbid, gode wat hulle nie geken het nie en wat ook nie vir hulle bedoel was nie.

27 Dit is waarom die Here se woede teen hierdie land ontbrand het en hoekom Hy al die vervloekings wat in hierdie boek beskryf is, oor die land gebring het.

28 Die Here was so woedend dat Hy sy volk uit die land geruk het en hulle in ballingskap in ’n ander land gaan gooi het, waar hulle vandag nog leef!’

29 “Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat wel bekendgemaak is, vir ons en ons nageslag vir altyd sodat ons kan lewe volgens die woorde van hierdie gebooie.”

DEUTERONOMIUM 30

Wanneer julle weer terugkeer

1 “As al hierdie dinge met jou gebeur het, die seën en vervloeking wat ek aan jou voorhou, dink daaroor na wanneer jy tussen die vreemde nasies moet leef waarheen die Here jou God jou in ballingskap weggevoer het.

2 As jy dan na die Here jou God terugkeer en jy en jou kinders begin weer om van harte gehoorsaam te wees aan die gebooie wat ek jou vandag gee,

3 sal die Here jou God jou situasie verander. Hy sal jou genadig wees en jou terugbring uit al die nasies waarheen Hy jou verstrooi het.

4 Selfs al was jy tot aan die uithoeke van die aarde verstrooi, sal die Here jou God jou daar bymekaarmaak en jou weer terugbring.

5 Hy sal jou terugbring na die land wat aan jou voorouers behoort het en jy sal weer die land besit. Hy sal jou selfs meer voorspoedig en talryker maak as wat jou voorouers was.

6 “Die Here jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag besny sodat jy Hom met hart en siel sal liefhê. Dan sal jy lewe!

7 Die Here jou God sal al die vervloekings op jou vyande en jou vervolgers laat neerkom.

8 Dan sal julle weer die Here gehoorsaam en al die opdragte nakom wat ek jou vandag gee.

9 Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee, jy sal baie diere hê en jou landerye sal oorvloedige oeste oplewer. Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak soos met jou voorouers.

10 Dit sal gebeur as jy die Here jou God gehoorsaam, sy opdragte en voorskrifte nakom soos dit in die boek van die gebooie geskryf is, en as jy met hart en siel na die Here jou God terugkeer.”

Kies tussen lewe en dood

11 “Hierdie gebod wat ek jou vandag gee, is nie te moeilik vir jou of buite jou bereik nie.

12 Dit is nie daarbo in die hemel dat jy nodig het om te vra: ‘Wie sal hemel toe opgaan en dit afbring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

13 Dit is ook nie ver aan die ander kant van die see, dat jy moet vra: ‘Wie sal die see oorsteek om dit vir ons te bring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

14 Die boodskap is baie naby aan jou, dit is op jou lippe en in jou hart sodat jy daarvolgens kan lewe.

15 “Luister nou! Vandag gee ek vir julle ’n keuse tussen voorspoed en teëspoed, lewe en dood.

16 Ek beveel jou vandag om die Here jou God lief te hê en om sy opdragte, voorskrifte en reglemente na te kom deur in sy weë te wandel. As jy dit doen, sal jy lewe en ’n groot nasie word. Die Here jou God sal jou en die land seën wat jy op die punt is om in besit te neem.

17 Maar as jy jou hart wegdraai en jy weier om gehoorsaam te wees en as jy aangetrek word na ander gode toe om hulle te dien en te aanbid,

18 dan waarsku ek jou nou dat jy verseker vernietig gaan word. Jy sal nie ’n lang en goeie lewe geniet in die land wat jy in besit gaan neem wanneer jy die Jordaan oorsteek nie.

19 “Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!

20 Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam, jou aan Hom te verbind, bring vir jou die lewe. Dan sal jy lank bly lewe in die land wat die Here jou God gesweer het om aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob te gee.”

DEUTERONOMIUM 31

Josua die nuwe leier van Israel

1 “Moses het verder met die hele Israel gepraat

2 en gesê: “Ek is nou 120 jaar oud en is nie meer in staat om julle te lei nie. Die Here het vir my gesê dat ek nie die Jordaanrivier mag oorsteek nie.

3 Die Here julle God sal self voor julle uit deur die Jordaanrivier trek. Hy sal die nasies daar vernietig en julle sal hulle land in besit neem. Josua is julle nuwe leier en hy sal saam met julle gaan, net soos die Here beloof het.

4 Die Here sal daardie nasies vernietig net soos Hy vir Sihon en Og, die konings van die Amoriete, vernietig het.

5 Die Here sal hulle in julle hand oorgee en julle moet met hulle maak soos ek julle beveel het.

6 Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.”

7 Toe het Moses vir Josua geroep. In die teenwoordigheid van die hele Israel het hy vir Josua gesê: “Wees sterk en hou moed! Jy sal hierdie volk die land inlei, die land wat die Here aan hulle voorouers beloof het. Jy sal die land as hulle erfdeel aan hulle gee.

8 Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”

Lees die gebooie tydens die

feeste

9 Moses het toe hierdie gebooie neergeskryf en dit vir die priesters wat die ark van die verbond dra en vir die leiers van Israel gegee.

10 Moses het hulle toe soos volg beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, die jaar van die kwytskelding, gedurende die Huttefees,

11 moet jy hierdie gebooie vir die hele volk van Israel lees. Doen dit wanneer hulle in die teenwoordigheid van die Here julle God byeengekom het op die plek wat Hy sal kies.

12 Roep almal bymekaar, mans, vroue en kinders en ook die vreemdelinge wat in julle dorpe woon, sodat hulle kan luister en leer om ontsag te hê vir die Here julle God en om sorgvuldig gehoorsaam te wees aan al die bepalings van hierdie gebooie.

13 Doen dit sodat jou kinders wat hierdie gebooie nie ken nie, sal hoor en sal leer om ontsag te hê vir die Here julle God. Doen dit so lank as wat julle in die land bly, hierdie land wat julle in besit gaan neem wanneer julle deur die Jordaan trek.”

Israel se ongehoorsaamheid

vooraf voorsien

14 Toe het die Here vir Moses gesê: “Die dag van jou dood is naby. Roep vir Josua en neem hom saam met jou na die tabernakel en daar sal Ek hom sy opdragte gee.” Moses en Josua het toe na die tent van ontmoeting gegaan.

15 Die Here het by die ingang van die heilige tent in ’n wolkkolom aan hulle verskyn.

16 Die Here sê toe vir Moses: “Jou tyd het gekom om by jou voorouers aan te sluit. As jy eers weg is, gaan hierdie volk vreemde gode begin aanbid, die gode van die land waarheen hulle nou gaan. Hulle gaan My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hulle gesluit het.

17 Dan sal my woede teen hulle ontbrand. Ek sal hulle verlaat, my gesig vir hulle wegsteek sodat hulle agteruitgaan. In daardie tyd sal ellende en rampe hulle tref sodat hulle sal sê: ‘Hierdie swaarkry het oor ons gekom omdat God nie meer by ons is nie!’

18 Ek sal dan nie meer aan hulle verskyn nie weens al die sondes wat hulle gedoen het deur ander gode te aanbid.

19 “Skryf nou die woorde van hierdie lied neer en leer dit vir die volk Israel. Leer hulle om dit te sing sodat dit as ’n getuienis teen hulle kan dien.

20 Ek sal hulle in die land bring wat Ek aan hulle voorouers met ’n eed beloof het. Dit is ’n vrugbare land. Hulle sal voorspoedig wees daar, met genoeg om te eet en te floreer. Dan sal hulle begin om ander gode te aanbid. Hulle sal My verag en my verbond verbreek.

21 Wanneer daar groot rampe oor hulle kom, sal hierdie lied ’n getuienis teen hulle wees. Hulle nageslagte sal dit nooit vergeet nie. Ek weet wat in hierdie volk se binneste aangaan, selfs nog voordat hulle die land binnegekom het wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het.”

22 Op daardie selfde dag nog het Moses die woorde van die lied neergeskryf en dit vir die Israeliete geleer.

23 Die Here het toe vir Josua, die seun van Nun, soos volg beveel: “Wees sterk en hou moed! Jy moet die Israeliete inbring in die land wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het. Ek sal by jou wees.”

24 Nadat Moses die woorde van die wet in ’n boekrol neergeskryf het,

25 het hy die Leviete wat die ark van die verbond moes dra, beveel:

26 “Neem hierdie wetboek en sit dit langs die ark van die verbond van die Here julle God neer, sodat dit as getuie teen die volk van Israel kan dien.

27 Ek weet hoe opstandig en hardkoppig julle is. Selfs nou, terwyl ek nog hier by julle is, is julle reeds opstandig teen die Here. Hoeveel te meer sal julle ná my dood wees!

28 Roep die leiers en die ampsdraers van die stamme bymekaar sodat ek met hulle kan praat, en die hemel en die aarde as getuies teen hulle kan roep.

29 Ek weet verseker dat julle ná my dood sal afwyk van die pad wat ek julle beveel het om te volg. Wanneer julle in die toekoms doen wat verkeerd is vir die Here en Hom met julle dade tart, sal daar rampe oor julle kom.”

30 Moses het toe hierdie lied vir die hele vergadering van Israel voorgesing:

DEUTERONOMIUM 32

Die lied van Moses

1 “Luister, hemele,

ek wil praat!

Luister, aarde,

na die woorde wat ek sê!

2 Wat ek jou leer,

is soos reën op jou,

my woorde soos dou.

My woorde

is soos fyn reën op jong gras,

soos sagte reënbuie op plante.

3 Ek wil die Naam verkondig

van die Here.

Prys die grootheid

van ons God!

4 Hy is die Rots;

sy werk is volmaak.

Alles wat Hy doen, is reg.

Hy is ’n getroue God,

sonder enige onreg.

Hy is regverdig en betroubaar!

5 “Maar hulle het teen Hom

skandelik opgetree.

Wie so maak,

is hulle nog sy kinders?

Hulle is ’n vals

en verdraaide geslag.

6 Is dit hoe julle

die Here behandel,

julle dom en onwyse volk?

Is Hy nie jou Vader

wat jou geskep het nie?

Het Hy jou nie gemaak

en gevorm nie?

7 Onthou die dae van ouds,

dink terug aan die vorige geslagte.

Vra jou pa uit

en hy sal jou vertel.

Vra vir die oumense

en hulle sal jou vertel.

8 Toe die Allerhoogste

aan die nasies

grondgebied toegeken het,

het Hy die mensdom verdeel,

en grense van volke bepaal

volgens die aantal Israeliete.

9 Want die volk Israel

behoort aan die Here;

Jakob is sy besondere eiendom.

10 “Hy het hulle gevind

in ’n woestyn,

’n leë land vol onaardse geluide.

Hy het hulle omarm

en hulle opgepas.

Hy het hulle beskerm

as sy kosbaarste besitting.

11 Soos ’n arend

haar kuikens grootmaak

en bo-oor hulle sweef,

so sprei Hy sy vlerke

en vang

en dra hulle op sy vlerke.

12 Net die Here bewaar hulle.

Hulle leef

sonder enige vreemde gode.

13 Hy laat hulle ry

op die hooglande,

Hy voed hulle

met die opbrengs van die land.

Hy het uit die klowe

heuning aan hulle voorsien,

olyfolie uit klipharde rots.

14 Hy voed hulle met dikmelk

van beeste en melk

van kleinvee;

saam met die vet van lammers

en bokke.

Hy gee aan hulle

die keur van die ramme

en bokke van Basan,

met die beste koring.

Julle het gedrink

van die beste wyn,

gemaak van keur druiwesap.

15 Maar Israel het vet

en opstandig geword,

die volk het swaar geword,

vet en opgestop!

Toe het hulle die God verlaat

wat hulle gemaak het,

en die Rots van hulle redding

verwerp.

16 Hulle het Hom jaloers gemaak

met hulle aanbidding

van vreemde gode.

Met hulle veragtelike dade

het hulle Hom kwaad gemaak.

17 Hulle het offers gebring

aan demone

wat nie gode was nie,

gode wat hulle nie geken het nie,

gode wat onlangs aangekom het,

gode wat hulle voorouers

nooit gedien het nie.

18 Julle het die Rots verlaat

wat julle verwek het,

die God vergeet

wat julle voortgebring het.

19 “Die Here het dit alles gesien

en hulle verwerp.

Sy eie seuns en dogters

het Hom kwaad gemaak.

20 Hy het gesê:

‘Ek sal hulle verlaat.

Ek sien wat dan gebeur,

hoe hulle tot ’n einde kom!

Hulle is ’n verdraaide geslag,

kinders sonder integriteit.

21 Deur hulle aanbidding

van gode wat nie bestaan nie,

het hulle My jaloers gemaak.

Met hulle nuttelose afgode

het hulle My kwaad gemaak.

Nou sal Ek hulle jaloers maak

deur ander nasies te seën.

Ek sal hulle kwaad maak

deur dwase heidene te seën.

22 Want my woede is aangesteek

soos ’n vuur,

en dit brand tot in die dieptes

van die graf.

Dit verteer die aarde

en sy opbrengs,

die fondamente van die berge

steek dit aan die brand.

23 Ek sal rampe op hulle ophoop

en hulle met my pyle afskiet.

24 Ek stuur teen hulle

’n uitmergelende hongersnood,

’n vurige koors

en dodelike siekte.

Hulle sal geteister word

deur tande van wilde diere,

deur giftige slange

wat in die stof seil.

25 Op straat bring die swaard

kinderloosheid,

en binnekant heers die angs.

Jong mans en vroue sal omkom,

babas en ook oumense.

26 Ek het besluit

om hulle te verstrooi,

sodat selfs die gedagte aan hulle

sal verdwyn.

27 Maar Ek was bevrees dat die vyand

My sou tart,

dat hulle teenstanders

kan misverstaan en sê:

Ons krag het gewen!

Dit was nie die Here

wat dit gedoen het nie!’

28 “Israel is ’n nasie

sonder verstand.

Daar is geen begrip

onder hulle nie.

29 Was hulle maar wys,

sou hulle verstaan

en sien wat hulle lot sal wees!

30 Hoe kan een mens

duisend van hulle jaag,

en hoe kan twee mense

tienduisend laat vlug,

as hulle Rots

hulle nie verkoop het,

en die Here

hulle nie oorgelewer het nie?

31 Maar die rots van ons vyande

is nie soos ons Rots nie,

soos selfs ons vyande

moet toegee.

32 Hulle wingerdstok stam

uit die wingerdstok

van Sodom en Gomorra.

Hulle druiwe is giftig

en hulle trosse is bitter.

33 Hulle wyn

is die gif van slange,

die dodelike gif van adders.

34 “‘Ek het hierdie dinge gebêre,

verseël vir veilige bewaring.

35 Ek sal wraak neem.

Dié wat dit verdien,

sal Ek terugbetaal.

Binnekort sal hulle voete gly.

Hulle dag van val sal kom

en hulle lot sal hulle oorval.’

36 “Want die Here

sal sy volk oordeel

en Hy sal van gedagte verander

oor sy dienaars

wanneer Hy sien

dat hulle krag weg is

en dat daar niemand oor is nie,

nie slaaf of vryman nie.

37 Dan sal Hy vra:

‘Waar is hulle gode,

waar is die rotse

waar hulle gaan skuil het?

38 Waar is daardie gode nou

wat die vet van hulle offers geëet

en die wyn van hulle drankoffers

gedrink het?

Laat daardie gode opstaan

en jou help!

Laat hulle aan jou skuiling gee!

39 Besef dit nou:

Ek, ja, Ek, is die Here!

Daar is geen ander god

as Ek nie.

Ek is die Een wat doodmaak

en wat lewe gee;

Ek is die een wat verwond

en gesond maak.

Niemand kan uit my krag

gered word nie.

40 My hand lig Ek nou op

na die hemel

en verklaar:

So seker as wat Ek lewe,

41 wanneer Ek my blink swaard

skerp gemaak het

en begin met die uitoefening

van die reg,

dan sal Ek wraak neem

op my vyande

en sal Ek terugbetaal

dié wat My haat.

42 Ek sal my pyle deurdrenk met

met bloed

en my swaard sal vleis verslind:

die bloed van dié wat geslag is,

die gevangenes

en die koppe van die leiers

van die vyande.’

43 “Juig, alle nasies, oor sy volk,

want Hy wreek die bloed

van sy dienaars.

Hy neem wraak op sy vyande

en doen boete

vir sy land en vir sy volk.”

44 Moses het saam met Josua, die seun van Nun, gekom en al die woorde van hierdie lied aan die volk oorgedra.

45 Toe Moses hierdie woorde klaar aan die volk geleer het,

46 het hy bygevoeg: “Neem al die woorde ter harte wat ek vandag aan julle gee. Dra dit ook oor aan julle kinders as ’n bevel sodat hulle elke woord van hierdie gebooie sal gehoorsaam.

47 Hierdie bepalings is nie sommer net woorde nie – dit is julle lewe! Deur gehoorsaam daaraan te wees, sal julle ’n lang lewe geniet in die land wat julle met die oorsteek van die Jordaanrivier in besit sal neem.”

Die Here stuur Moses na Nebo

om daar te sterf

48 Daardie selfde dag nog het die Here vir Moses gesê:

49 “Klim op Neboberg in die Abarimberge in Moab oorkant Jerigo. Kyk uit oor die land Kanaän, die land wat Ek aan die volk Israel gaan gee as hulle eie besitting.

50 Jy sal daar op die berg sterf en by jou voorouers aansluit, net soos jou broer Aäron op Horberg gesterf en by sy voorouers aangesluit het.

51 Beide van julle was ontrou aan My voor die oë van die Israeliete by die water van Meriba, by Kades in die Sinwoestyn. Julle het nagelaat om my heiligheid onder die Israeliete te handhaaf.

52 Jy sal dan die land regoor jou van ’n afstand af sien, maar jy self mag nie die land binnegaan wat Ek aan die volk Israel gee nie.”

DEUTERONOMIUM 33

Moses seën die volk

1 Dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die volk Israel voor sy dood geseën het:

2 “Die Here kom van Sinai

en skyn oor ons

vanaf Seïrberg.

Hy skyn vanaf Paranberg

en kom met tienduisende

hemelwesens,

met krygers aan sy regterkant.

3 U het u volk lief,

al u heiliges is in u hand.

Hulle sit aan u voete

en aanvaar u voorskrifte.

4 Moses het ons die wet geleer,

die spesiale besitting

van die vergadering van Israel.

5 Die Here het koning geword

in Israel

toe die leiers van die volk

bymekaargekom het,

toe die stamme van Israel

vergader het.”

6 Moses het die volgende oor die stam van Ruben gesê:

“Laat die stam van Ruben bly leef

en nie uitsterf nie,

al is hulle stam maar klein.”

7 Moses het die volgende oor die stam van Juda gesê:

“Here, luister na die roepstem

van Juda!

Bring hom terug na sy volk toe.

Gee hom krag

om sy saak te verdedig,

help hom teen sy vyande!”

8 Moses het die volgende oor die stam van Levi gesê:

“Here,

u Tummim en Urim is veilig

by u getroue dienaar.

By Massa het U hom

op die proef gestel.

By die Meribawaters

het U met hom geworstel.

9 Van sy pa en ma het hy gesê:

‘Ek het geen ontsag

vir hulle nie.’

Sy broers het hy nie erken nie,

en sy seuns nie

as familie beskou nie.

Maar die Leviete

het u woord gehoorsaam

en het u verbond bewaar.

10 Laat hulle nou u bepalings

aan Jakob leer

en u gebooie aan Israel.

Hulle sal reukwerk voor U bring

en brandoffers

op u altaar offer.

11 Seën die Leviete, o Here,

neem hulle werk aan.

Verbrysel die heupe

van hulle vyande,

tref hulle teenstanders

sodat hulle

nie weer sal opstaan nie.”

12 Van die stam van Benjamin

het Moses gesê:

“Die Here het Benjamin lief

en hy leef veilig by Hom.

Hy omvou hom vir altyd

en bewaar hom

van elke kwaad.”

13 Oor die stam van Josef het Moses die volgende gesê:

“Mag die Here

sy grond seën

met die gawe

van reën van die hemel,

met water van onder die aarde,

14 met die rykdom

wat groei in die son

en die oorvloed van elke maand,

15 met die beste van die ou berge,

en die vrugbaarheid

van die ewige berge,

16 met die beste gawes

van die aarde en sy volheid,

en die guns van die Een

wat verskyn het

in die brandende doringbos.

Mag hierdie seëninge

rus op die kop van Josef,

op die kop van die prins

onder sy broers.

17 Josef het die krag en die glorie

van ’n jong bul,

sy krag is soos die horings

van ’n buffel.

Hy sal veraf nasies gaffel,

hulle verdryf

tot aan die einde van die aarde.

Dit is my seën

vir die skares van Efraim,

vir die duisende van Manasse.”

18 Moses het die volgende gesê oor die

stamme van Sebulon en Issaskar:

“Mag Sebulon voorspoedig wees

in al sy reise.

Mag Issaskar voorspoedig wees

in sy tente.

19 Hy roep volke op na die berg

om daar die regte offers

te bring.

Hy sal voordeel trek

uit die rykdom van die see

en die versteekte skatte

van die sand.”

20 Moses het die volgende oor die stam

van Gad gesê:

“Geseënd is die een

wat die grondgebied van Gad

groter maak!

Gad is daar soos ’n leeu,

gereed om ’n arm of ’n kop

af te skeur.

21 Hy het die beste deel

van die land

vir hom gevat.

’n Leiersaandeel

is aan hom toegewys.

Toe die leiers van die volk

byeenkom,

het hy die wil van die Here

uitgevoer,

sy bepalings vir Israel

gehoorsaam.”

22 Moses het die volgende oor die stam

van Dan gesê:

“Dan is soos ’n jong leeu

wat uit Basan spring.”

23 Moses het die volgende oor die stam

van Naftali gesê:

“Naftali, jy is begunstig

en vol van die seën

van die Here.

Jy sal die see en die suide besit.”

24 Van die stam van Aser het Moses

gesê:

“Mag Aser bo ander seuns

geseënd wees.

Mag hy in die guns wees

van sy broers,

mag hy sy voete met olie was.

25 Mag die slotte van jou poorte

van yster en brons wees,

mag jou krag soveel wees

soos jou dae!”

26 “Daar is niemand

soos die God van Israel nie.

Hy ry deur die hemel

om jou te help,

oor die wolke in sy majesteit.

27 Die ewige God

is jou skuilplek

en onder jou is sy ewige arms.

Hy verdryf die vyand

voor jou uit.

Hy beveel: ‘Vernietig hulle!’

28 Daarom sal Israel

in veiligheid woon,

en die voorspoedige Jakob

in sekerheid,

in ’n land van koring en wyn,

waar dou van die hemel drup.

29 Geseënd is jy, Israel!

Wie is nog soos jy,

’n volk deur die Here gered?

Hy is die skild wat jou beskerm,

jou magtige swaard!

Jou vyande buig laag voor jou

en op hulle offerplekke

sal jy trap!”

DEUTERONOMIUM 34

Die dood van Moses

1 Moses het toe van die vlaktes van Moab teen Neboberg uitgeklim, na die punt van Pisgaberg toe, regoor Jerigo. Die Here het hom die land van Gilead tot by Dan laat sien,

2 die hele land van Naftali, die land van Efraim en Manasse en die hele land van Juda tot by die see in die weste;

3 die Negevwoestyn, die Jordaanvallei met Jerigo, die stad van palms, tot so ver as Soar.

4 Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het toe Ek vir hulle gesê het dat Ek dit aan hulle nageslag sou gee. Ek het jou toegelaat om dit te sien, maar jy mag nie die land binnegaan nie.”

5 Moses, die dienaar van die Here, het toe daar in Moab gesterf, net soos die Here gesê het.

6 Die Here het hom in ’n vlakte naby Bet-Peor begrawe, maar tot vandag toe nog weet niemand presies waar die plek is nie.

7 Moses was 120 jaar oud toe hy dood is sonder dat sy oë verswak geraak het of sy krag min geword het.

8 Die volk Israel het in die vlakte van Moab vir 30 dae oor Moses gerou totdat die gebruiklike tyd van rou verby was.

9 Josua, die seun van Nun, was gevul met wysheid, want Moses het sy hande op hom gelê. Die volk Israel het na hom geluister en het alles gedoen net soos die Here vir Moses beveel het.

10 Daar was nooit weer ’n profeet in Israel soos Moses nie. Hy het die Here persoonlik geken.

11 Die Here het Moses gestuur om al die tekens en wonders in Egipte voor die farao, sy dienaars en die hele land te doen.

12 Dit was deur Moses wat die Here sy magtige en skrikwekkende dade voor die oë van die hele Israel gedoen het.

JOSUA 1

1 Die Here se opdrag aan Josua

Moses, die dienaar van die Here, is dood. Daarna het die Here met Josua, seun van Nun, begin gepraat. Hy was vroeër die assistent van Moses. Die Here het vir hom gesê:

2 “Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy gereedmaak om my volk deur die Jordaanrivier te lei na die land toe wat Ek vir die Israeliete gee.

3 Soos Ek vir Moses belowe het, sal Ek elke plek waar julle kom vir julle gee.

4 Alles sal julle grond wees, van die Negevwoestyn af tot by die Libanonberge, die hele gebied van die Hetiete, van die Eufraatrivier af tot by die Middellandse See in die weste.

5 “Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie.

6 “Wees sterk en dapper. Jy is die een wat hierdie volk moet lei om die land in besit te neem. Ek het dit met ’n eed aan hulle voorouers beloof.

7 “Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen.

8 Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees.

9 My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou oral waar jy gaan.”

Josua herinner Ruben en Gad

aan hulle belofte

10 Josua het die leiers van die volk beveel:

11 “Gaan deur die kamp en sê vir die mense om padkos reg te kry. Oor drie dae gaan julle deur die Jordaan trek om die land wat die Here julle God vir julle gee, in ontvangs te neem.”

12 Josua het vir die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse gesê:

13 “Onthou die opdrag wat die Here se dienaar Moses vir julle gegee het: ‘Die Here julle God het hierdie gebied vir julle as vaste woonplek gegee.’

14 “Julle vroue, kinders en vee mag intussen aan hierdie kant van die Jordaan bly wat Moses aan julle toegeken het. Julle vegters moet egter gewapend voor julle broers uitmarsjeer en hulle gaan help.

15 Eers nadat die Here ook aan julle broers vaste blyplek gegee het en hulle die grond in besit geneem het wat die Here julle God aan hulle gee, kan julle terugkom om julle te vestig in die deel oos van die Jordaan wat die Here se dienaar Moses vir julle gegee het.”

16 Hulle het vir Josua geantwoord: “Ons sal alles doen wat jy vir ons sê. Ons sal gaan waarheen jy ons ook al stuur.

17 Soos ons na Moses geluister het, sal ons ook aan jou gehoorsaam wees.

“Mag die Here jou God saam met jou wees soos Hy by Moses was.

18 Enige persoon wat jou opdragte verontagsaam en nie luister na alles wat jy beveel nie, sal tereggestel word. Jy moet sterk en dapper wees.”

JOSUA 2

Twee verkenners na Jerigo

1 Josua, die seun van Nun, het in die geheim twee verkenners van Sittim af uitgestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan verken die land, veral Jerigo.”

Hulle is daar weg en het by die huis van ’n prostituut uitgekom. Haar naam was Ragab. Hulle het daar tuisgegaan.

2 Iemand het vir die koning van Jerigo gaan vertel dat daar gedurende die nag Israelitiese mans aangekom het om die land te verken.

3 Hy het toe vir Ragab laat weet: “Laat die mans uitkom wat na jou huis toe gekom het. Hulle het op die land kom spioeneer.”

4 Ragab het die twee mans laat wegkruip. Sy het vir die koning laat weet: “Daar was mans hier by my. Ek weet nie van waar af hulle gekom het nie.

5 Toe die poorte teen skemer gesluit het, is die mans hier weg. Ek weet nie waarheen hulle gegaan het nie. As jy gou maak, kan jy hulle miskien nog inhaal.”

6 Sy het die mans op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlashalms wat sy daar oopgegooi het.

7 Die koning se soldate het toe na die mans gaan soek langs die pad wat na die driwwe by die Jordaan loop. Net na die agtervolgers weg is, is die stad se poorte gesluit.

8 Voor die mans gaan slaap het, het die vrou na hulle toe opgeklim op die dak.

9 Sy het vir hulle gesê: “Ek weet dat die Here vir julle die land gaan gee. Ons is lam van die skrik. Almal van ons wat in die land woon, is bang vir julle.

10 Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het toe julle uit Egipte getrek het. Ook wat julle met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete, aan die oorkant van die Jordaan gedoen het en hoe julle hulle uitgewis het.

11 Ons het dit alles gehoor. Ons harte het ineengekrimp. Niemand van ons het meer moed oor om teen julle te veg nie. Die Here julle God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.

12 Ek was goed vir julle. Sweer dan nou vir my voor die Here dat julle ook goed sal wees vir my familie. Gee vir my die versekering

13 dat julle my pa en my ma, my broers en susters en hulle families se lewens sal spaar wanneer julle Jerigo aanval.”

14 Die mans sê toe vir haar: “Ons lewens is julle versekering. As julle nie ons saak weggee nie, sal ons ons belofte hou wanneer die Here die land vir ons gee.”

15 Sy het op die muur gewoon. Haar huis was daar gebou. Sy het hulle met ’n tou deur die venster laat afsak.

16 Haar raad vir hulle was: “Vlug na die berge toe sodat julle agtervolgers julle nie in die hande kan kry nie. Kruip drie dae lank daar weg totdat die agtervolging verby is. Julle kan daarna weer julle koers kry.”

17 Die mans het vir haar gesê: “Ons sal die belofte wat ons aan jou gemaak het, nakom.

18 Jy moet hierdie rooi tou waarmee jy ons deur die venster gaan laat afsak aan die venster vasbind wanneer ons in die land kom. Jy moet dan jou pa en jou ma, jou broers en jou hele familie hier in jou huis laat bymekaarkom.

19 As iemand van hulle by die huis se deur uitgaan buitentoe, sal hy vir sy eie dood verantwoordelik wees. Ons is dan onskuldig. As enigiemand wat saam met jou in die huis is egter iets oorkom, sal dit ons skuld wees.

20 As jy iets oor ons verklap, is ons vry van die belofte wat ons aan jou gemaak het.”

21 Sy het gesê: “Soos julle gesê het, so sal dit wees.” Sy het hulle weggehelp en die rooi tou aan die venster vasgeknoop.

22 Die mans is die berge in. Hulle het drie dae lank daar gebly tot die mense wat hulle agtervolg het, teruggekom het. Die mense wat hulle agternagesit het, het orals langs die pad na hulle gesoek, maar kon hulle nêrens kry nie.

23 Die mans het toe afgekom uit die berge en is deur die Jordaan terug na Josua, die seun van Nun. Hulle het aan hom teruggerapporteer oor alles wat hulle daar aangetref het.

24 Hulle het vir Josua gesê: “Die Here sal die hele land in ons mag gee. Almal wat in die land bly, is lam van vrees vir ons.”

JOSUA 3

Die volk trek deur die Jordaan

1 Josua en al die Israeliete het vroeg die oggend van Sittim af vertrek. Hulle het by die Jordaan aangekom en daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek.

2 Aan die einde van drie dae het die leiers deur die kamp beweeg.

3 Hulle het die volk ingelig: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters tel die ark van die verbond van die Here julle God op, moet julle van julle staanplekke af opstaan en hulle begin volg.

4 Hou egter ’n afstand van omtrent 900 meter tussen julle en die ark. Moenie nader as dit kom nie. Volg dit, dan sal julle weet watter koers om te gaan. Julle het nog nooit in hierdie rigting getrek nie.”

5 Josua het vir die volk gesê: “Berei julle voor. Die Here gaan môre wonderwerke onder julle doen.”

6 Josua het vir die priesters gesê: “Tel op die verbondsark. Begin voor die volk uitloop.” Hulle het die ark van die verbond opgetel en voor die volk begin loop.

7 Die Here sê toe vir Josua: “Ek begin jou vandag belangrik maak vir die hele Israel. Hulle sal weet dat Ek net so by jou is soos Ek by Moses was.

8 Sê nou vir die priesters wat die ark van die verbond dra: ‘Sodra julle op die oewer van die Jordaan aankom, moet julle net daar bly staan.’”

9 Josua het toe vir die Israeliete gesê: “Staan nader hiernatoe dat julle kan hoor wat die Here julle God sê.”

10 Hy sê toe: “Vandag gaan julle weet dat die lewende God hier tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdryf om vir julle plek te maak.

11 Die ark van die verbond van die Here van die hele wêreld sal voor julle uit deur die Jordaan gaan.

12 Kies nou twaalf mans, een uit elke stam van Israel.

13 Sodra die priester-draers van die ark van die Here, die Heer van die ganse wêreld, se voete in die water van die Jordaan kom, sal die water wat van bo af vloei, begin opdam.”

14 Toe die volk begin beweeg vanaf die plek waar hulle tente gestaan het om deur die Jordaan te trek, het die priesters wat die ark van die verbond dra voor hulle uit gegaan.

15 Die priesters wat die ark dra, het by die Jordaan aangekom. Dit was oestyd en die Jordaan het oor sy oewers geloop. Toe die priesters wat die ark dra hulle voete in die vlak water sit,

16 het die water wat van bo af vloei, begin opdam tot so ver op as Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Dooie See, was heeltemal afgesny. Die volk kon toe regoor Jerigo deur die rivier gaan.

17 Die priesters wat die ark van die verbond van die Here dra, het binne-in die Jordaan op droë grond gaan staan. Almal van Israel het deur die droë bedding gegaan totdat die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan was.