DEUTERONOMIUM 18

Onderhoud van die Leviete

1 “Onthou dat die Levitiese priesters en die res van die stam van Levi nie grond in die land sal ontvang soos die ander stamme van Israel nie. In plaas daarvan sal die priesters en Leviete van die vuuroffers vir die Here eet. Dit sal hulle erfenis wees.

2 Hulle sal geen grondgebied van hulle eie tussen hulle landgenote hê nie. Die Here is self hulle erfdeel net soos Hy hulle beloof het.

3 “Die priesters mag wel aanspraak maak op dele van die offers wat die volk bring. Van ’n bees of ’n skaap kan die priesters die blad, die kakebene en die pens kry.

4 Jy moet ook vir die priesters die eerste deel van die koringoes, die nuwe wyn, olyfolie en die eerste skeersel wol gee.

5 Die Here jou God het die stam van Levi uit al jou stamme gekies om vir altyd diens te doen in die Naam van die Here.

6 “Wanneer ’n Leviet uit die dorp in Israel waar hy as vreemdeling gewoon het, wil verhuis na die plek wat die Here sal kies,

7 mag hy daar in die Naam van die Here sy God diens lewer net soos sy mede-Leviete wat die Here daar dien.

8 Hy het aanspraak op sy deel van die offers bo en behalwe wat hy van sy familie geërf het.”

Moenie doen wat die

heidennasies doen nie

9 “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee, moet jy nie die afskuwelike gebruike na-aap van die nasies wat daar lewe nie.

10 Daar mag nooit iemand tussen julle wees wat sy seun of dogter as ’n brandoffer verbrand nie. Moenie betrokke raak by waarsêery of goëlery of by die interpretasie van voortekens of towery,

11 of beswerings of iemand wat geeste oproep of iemand wat dooies raadpleeg nie.

12 Enigiemand wat sulke dinge doen, is ’n gruwel vir die Here. Dit is juis omdat ander nasies sulke dinge doen dat die Here jou God hulle voor jou gaan verdryf.

13 Jy moet onberispelik wees voor die Here jou God.

14 Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, raadpleeg goëlaars en waarsêers, maar die Here jou God verbied jou om sulke dinge te doen.”

Ware en vals profete

15 “Die Here jou God gaan vir jou ’n profeet na vore laat kom, iemand uit jou mede-Israeliete, soos ek. Luister na daardie profeet.

16 Dit is wat jy van die Here jou God gevra het toe jy by Sinaiberg bymekaar was: ‘Ons kan nie langer na die stem van die Here jou God luister of na die groot vuur kyk nie, anders gaan ons sterf.’

17 “Die Here het toe vir my gesê: ‘Dit is goed so. Ek sal doen wat hulle vra.

18 Ek sal ’n profeet soos jy onder die mede-Israeliete na vore laat kom. Ek sal die profeet voorsê wat om te sê en hy sal die volk alles vertel wat Ek hom beveel.

19 Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie luister na die boodskappe wat die profeet namens My verkondig nie.

20 ’n Profeet wat in die naam van gode praat of wat valslik aanspraak maak om namens My te praat, moet sterf.’

21 Jy kan dalk wonder: ‘Hoe sal ons weet wanneer is die profesie van die Here of nie?’

22 As die profeet iets in die Naam van die Here sê en dit gebeur nie, dan het die Here nie daardie boodskap gegee nie. Die profeet het dan uit sy eie gepraat en jy hoef jou nie aan hom te steur nie.”

DEUTERONOMIUM 19

Asielstede

1 “Wanneer die Here jou God die nasies uitroei wie se land Hy aan jou gee, moet jy hulle uitdryf en in hulle stede en huise gaan woon.

2 Dan moet jy drie stede uitsonder as asielstede in die land wat die Here jou God vir jou as besitting gee.

3 Verdeel die land wat die Here jou God as erfenis vir jou gee in drie streke sodat elke stad toeganklik is. Enigeen wat iemand doodgemaak het, moet daarheen kan vlug.

4 “As iemand sonder opset ’n ander persoon doodgemaak het, en nie vantevore kwaadwillig teenoor hierdie persoon was nie, mag so iemand vir sy veiligheid na een van die stede toe vlug.

5 Byvoorbeeld, iemand kan saam met sy naaste in die bos ingaan om daar hout te gaan kap. Hy swaai die byl, die kop van die byl kom onverwags los van die steel en veroorsaak die ander persoon se dood. In so ’n geval kan die persoon na een van die asielstede toe vlug om daar veilig te gaan leef.

6 As die afstand na die naaste asielstad te ver is, kan ’n woedende naaste familielid die persoon agtervolg en doodmaak. Die persoon sterf dan selfs al was daar geen misdaad gepleeg nie en was die eerste persoon se dood ’n ongeluk.

7 Dit is waarom ek jou beveel om drie asielstede uit te sonder.

8 “As die Here jou God jou grondgebied vergroot, soos Hy plegtig aan jou voorouers beloof het, en Hy gee vir jou die hele land wat Hy beloof het,

9 moet jy nog drie asielstede aanwys. As jy al sy opdragte wat ek vir jou gee, gehoorsaam deur altyd die Here jou God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sal Hy die land vir jou gee.

10 Op dié manier sal jy die dood van onskuldige mense voorkom in die land wat die Here jou God as ’n erfenis gee. So sal jy nie aan moord skuldig wees nie.

11 “As iemand sy naaste haat, hom doelbewus voorlê, hom vermoor en dan na een van die asielstede toe vlug,

12 moet die leiers van die moordenaar se tuisdorp hom uit die asielstad laat haal en hom oorgee aan die familielid wat die dood van die vermoorde persoon moet wreek.

13 Moenie hom begenadig nie. Maak Israel skoon van die skuld van moord sodat dit goed kan gaan met julle.”

’n Besorgdheid vir regverdigheid

14 “In die land wat die Here jou God vir jou as ’n erfdeel gee, mag jy nooit iemand se grond steel deur die grenslyne wat jou voorouers al vasgestel het, te verskuif nie.

15 “Jy mag nie iemand aan ’n misdaad skuldig bevind slegs op grond van die getuienis van net een getuie nie. Die feite van die saak moet vasgestel word op grond van die getuienis van twee of meer getuies.

16 As ’n kwaadwillige getuie na vore kom en iemand valslik van ’n misdaad beskuldig,

17 moet beide die klaer en die beskuldigde voor die priesters en regters verskyn wat diens doen voor die Here.

18 Hulle moet deeglik ondervra word en as bevind word dat die klaer lieg,

19 moet hy self kry wat hy die ander een wou aandoen. Op dié manier sal julle die kwaad onder julle uitroei.

20 Die mense wat hiervan hoor, sal bang word om weer so ’n verkeerde ding te doen.

21 Moenie in so ’n geval jammer wees vir die persoon nie. Jou reël moet wees: ’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n voet vir ’n voet.”

DEUTERONOMIUM 20

Reëls in verband met oorlog

1 “Wanneer jy uittrek om teen jou vyande te gaan veg en jy sien hulle perde en strydwaens en ’n leër groter as joune, moet jy nie bang wees nie. Die Here jou God wat jou uit Egipte laat optrek het, is by jou!

2 Voordat jy ’n geveg begin, moet ’n priester kom om met die troepe te praat.

3 Hy sal sê: ‘Luister na my, manskappe van Israel! Moenie bang wees as julle vandag uittrek om te gaan veg nie! Moenie bang of verskrik wees nie,

4 want die Here julle God gaan saam met julle! Hy sal vir julle teen julle vyande veg en Hy sal aan julle die oorwinning gee!’

5 “Dan sal die offisiere van die leër die troepe toespreek en sê: ‘Het iemand pas ’n nuwe huis gebou, maar nog nie ingetrek nie? Jy kan dalk omkom in die geveg en dan moet iemand anders in jou huis bly.

6 Het iemand ’n wingerd geplant en nog nie van die vrugte daarvan geëet nie? In so ’n geval, gaan huis toe! Jy kan dalk omkom in die geveg en dan is daar iemand anders wat jou druiwe gaan eet!

7 Het iemand pas verloof geraak? Gaan huis toe en gaan trou! Jy kan dalk in die geveg omkom en dan is daar iemand anders wat met jou verloofde trou.’

8 Dan sal die offisiere ook vra: ‘Is daar een van julle wat bang is? As dit so is, gaan dan huis toe voordat jy ook ander bang maak.’

9 “Wanneer die offisiere klaar met die troepe gepraat het, sal hulle die name van die eenheidsbevelvoerders aankondig.

10 “As jy ’n stad nader om dit aan te val, maak eers ’n vredesaanbod.

11 As hulle jou vredesvoorwaardes aanvaar en die poorte vir jou oopmaak, sal al die mense van die stad jou in dwangarbeid dien.

12 As hulle weier om die vredesaanbod te aanvaar en hulleself vir ’n geveg regmaak, moet jy die stad aanval.

13 As die Here jou God dit in jou hand gee, moet jy elke man in die stad doodmaak.

14 Die vroue, kinders, diere en ander buit mag jy vir jouself hou. Die buit van jou vyande wat die Here jou God vir jou gee, mag jy geniet.

15 Hierdie bepalings geld net vir die stede wat ver van jou af is en nie vir die stede van jou bure nie.

16 “Wat betref die stede van die nasies wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee: Jy moet alles wat daarin lewe, doodmaak.

17 Jy moet die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete heeltemal uitroei soos wat die Here jou God jou beveel het.

18 Dit sal verhoed dat hulle julle leer om al die afskuwelike gode te maak wat hulle vir hulleself as gode gemaak het, en so teen die Here julle God sondig.

19 “Wanneer julle ’n stad vir ’n lang tyd beleër, moenie die bome afkap nie. Eet die vrugte daarvan, maar moenie die bome afkap nie. Die bome is mos nie die vyand wat jy moet aanval nie!

20 Jy mag egter bome afkap wat jy weet nie vir kos gebruik kan word nie. Gebruik dit om daarvan toerusting te maak wat jy nodig het om die stad te beleër totdat dit in jou hande val.”

DEUTERONOMIUM 21

Hoe om ’n onopgeloste moord te

hanteer

1 “Wanneer iemand in ’n veld vermoor aangetref word in die land wat die Here jou God vir jou gee, en jy weet nie wie die moord gepleeg het nie,

2 moet jou leiers en regters bepaal watter dorp is die naaste aan die liggaam.

3 Die leiers van daardie dorp moet dan ’n jong koei vat wat nog nooit in ’n juk getrek het nie.

4 Hulle moet die koei na ’n vallei vat waardeur daar ’n spruit loop en wat nog nooit geploeg of beplant is nie. Daar in die vallei moet hulle die koei se nek breek.

5 Die Levitiese priesters moet ook daarheen gaan. Die Here jou God het hulle gekies om in sy teenwoordigheid diens te doen en om seën aan te kondig in die Naam van die Here. Hulle moet oor alle verskille en strawwe besluit.

6 “Die leiers van die dorp naaste aan die lyk moet hulle hande was bo-oor die jong koei wie se nek gebreek is.

7 Dan moet hulle sê: ‘Ons hande het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie.

8 O Here, vergewe u volk Israel wat U verlos het. Moet tog nie u volk Israel aanspreeklik hou vir die moord op ’n onskuldige man nie.’ Dan sal hulle vry wees van skuld vir die persoon se dood.

9 “Deur hierdie instruksies na te kom en te doen wat reg is in die oë van die Here, sal jy die gemeenskap reinig van die skuld van moord.”

’n Huwelik met ’n krygsgevange

vrou

10 “Dit kan gebeur dat jy gaan oorlog maak teen jou vyande, en die Here jou God gee hulle oor in jou hand en jy neem van hulle gevange.

11 Jy kan moontlik tussen die gevangenes ’n baie mooi vrou sien en tot haar aangetrokke voel en met haar wil trou.

12 As dit gebeur, mag jy haar na jou huis toe vat. Daar moet sy haar hare afskeer en haar vingernaels knip

13 en nuwe klere aantrek. Daarna moet sy vir ’n volle maand in jou huis bly om oor haar pa en ma te treur. Daarna mag jy met haar trou en jy sal haar man wees en sy jou vrou.

14 Maar as jy met haar trou en daarna besluit jy hou nie van haar nie, moet jy haar laat gaan. Jy mag haar nie verkoop of as ’n slaaf behandel nie, want jy het haar verneder.”

Die regte van die oudste seun

15 “Dit kan gebeur dat ’n man twee vroue het en hy is liewer vir die een as vir die ander, en beide vroue gee vir hom seuns. As die oudste seun van die vrou kom van wie hy minder hou,

16 mag hy nie in sy testament bepaal dat die groter erfporsie aan die jonger seun gaan van die vrou wat hy liewer het nie.

17 Hy moet die gebruiklike dubbele porsie vir die oudste seun gee. Dit is die een wat die krag van sy pa se manlikheid verteenwoordig en wat die regte van die eersgebore seun het selfs al is hy die seun van die vrou wat die pa minder liefhet.”

Optrede teen ’n opstandige kind

18 “Dit kan gebeur dat ’n man ’n koppige en rebelse seun het wat nie na sy pa of ma luister nie, selfs al tugtig hulle hom.

19 In so ’n geval moet die pa en ma die seun na die leiers van die dorp by die stadspoort vat.

20 Hulle moet dan verklaar: ‘Hierdie seun van ons is koppig en rebels en weier om ons te gehoorsaam. Hy is ’n nikswerd dronkaard.’

21 Dan moet al die mans van die stad die seun met klippe doodgooi. Op hierdie manier sal jy die kwaad onder jou uitroei. Die hele Israel sal daarvan hoor en bang word.”

Verskillende reëls

22 “Wanneer iemand ’n misdaad gepleeg het waarvoor hy die dood verdien en hy word opgehang aan ’n boom,

23 mag sy liggaam nie oornag aan die boom bly hang nie. Jy moet die liggaam nog dieselfde dag begrawe, want enigeen wat aan ’n boom hang, is ’n vervloekte van God. Moenie die land besoedel wat die Here jou God aan jou as ’n erfenis gee nie.

DEUTERONOMIUM 22

1 “Moenie maak asof jy jou naaste se verdwaalde bees of skaap nie raaksien nie. Bring dit terug na sy eienaar.

2 As dit nie aan iemand behoort wat naby jou is nie, of as jy nie weet wie die eienaar is nie, hou dit by jou totdat die eienaar daarna begin soek en gee dit dan aan hom terug.

3 Doen dieselfde met jou naaste se donkie of klere of enigiets anders wat jou naaste verloor het. Moenie jou plig ontduik nie.

4 “As jy jou naaste se bees of donkie in die pad sien lê, moenie anderpad kyk nie. Gaan en help jou naaste om die dier op te help!

5 “’n Vrou mag nie mansklere dra nie en ’n man mag nie vroueklere dra nie. Die Here verafsku mense wat sulke dinge doen.

6 “As jy ’n voëlnes op die grond of in ’n boom teëkom en daar is kleintjies of eiers in met ’n ma wat daarop sit, mag jy nie die ma saam met die kleintjies vir jou vat nie.

7 Jy mag die kleintjies vat, maar laat die ma wegvlieg sodat dit goed kan gaan met jou en jy ’n lang lewe mag geniet.

8 “As jy ’n nuwe huis bou, moet daar ’n veiligheidsreling om die rand van die plat dak wees sodat iemand nie van die dak afval en jy jou huishouding skuldig maak aan bloedvergieting nie.

9 “Moenie ander saad tussen die rye van jou wingerd plant nie. As jy dit doen, mag jy nie die druiwe van die wingerd of die opbrengs van daardie saad gebruik nie.

10 “Moenie ploeg met ’n bees en donkie wat jy saam ingespan het nie.

11 “Moenie klere dra wat gemaak is van wol wat saam met linne geweef is nie.

12 “Jy moet tossels aanwerk op die vier hoeke van die mantels wat jy dra.”

Seksuele oortredings

13 “Dit kan gebeur dat ’n man met ’n vrou trou en nadat hy by haar geslaap het, besluit dat hy nie meer van haar hou nie

14 en haar valslik beskuldig dat sy haar wangedra het. Hy kan sê: ‘Ek het ontdek dat sy nie ’n maagd was toe ek met haar getrou het nie.’

15 As die man dit doen, moet die vrou se pa en ma die bewys van haar maagdelikheid na die leiers van die dorp bring.

16 Haar pa moet vir hulle sê: ‘Ek het my dogter aan hierdie man as sy vrou gegee en nou het hy teen haar gedraai.

17 Hy beskuldig haar van skandelike gedrag deur te sê dat sy nie ’n maagd was toe hy met haar getrou het nie. Maar hier is die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Dan moet hulle die beddegoed voor die regters uitsprei.

18 Dan moet die regters die man straf.

19 Hulle moet hom ook met 100 stukke silwer beboet omdat hy ’n maagd van Israel valslik beskuldig het. Die betaling moet aan die vrou se pa gemaak word. Die vrou sal dan die vrou van die man bly en hy mag nooit van haar skei nie.

20 “Maar indien die man se beskuldiging waar is en die vrou se maagdelikheid nie bewys kan word nie,

21 moet die regters die vrou na die deur van haar pa se huis bring en die mans van die dorp moet haar daar met klippe doodgooi. Sy het ’n skandelike daad in Israel gepleeg deur losbandig te leef terwyl sy nog by haar ouers gewoon het. So moet julle hierdie soort kwaad onder julle uitroei.

22 “As ’n man in die bed betrap word met ’n ander man se vrou, moet al twee doodgemaak word. Op dié manier sal die kwaad in Israel uitgeroei word.

23 “As ’n man ’n jong meisie, ’n maagd, wat verloof is, in die stad raakloop en hy het seksuele gemeenskap met haar,

24 moet julle al twee van hulle na die poorte van die dorp neem en hulle daar met klippe doodgooi. Die vrou is skuldig omdat sy nie om hulp geskree het nie. Die man moet sterf omdat hy ’n ander man se vrou onteer het. So moet julle hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

25 “Maar as die man die verloofde meisie buite in die veld raakloop, en haar daar verkrag, moet net die man doodgemaak word.

26 Daar moet niks met die meisie gedoen word nie, want sy het nie ’n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie. Hierdie saak is vergelykbaar met ’n slagoffer wat aangeval en vermoor word.

27 Omdat die man haar buite in die veld verkrag het, moet dit aanvaar word dat sy om hulp geroep het, maar dat daar niemand was om haar te red nie.

28 “As ’n man betrap word dat hy ’n jong meisie wat nie verloof is nie, gegryp het,

29 moet hy haar pa 50 stukke silwer betaal. Hy is ook verplig om met die meisie te trou omdat hy haar onteer het. Hy mag ook nooit van haar skei nie.

30 “’n Man mag nie seksuele gemeenskap met ’n vrou van sy pa hê nie, want dit sal sy pa onteer.”

DEUTERONOMIUM 23

Mense wat uitgesluit is uit die

byeenkomste

1 “’n Man wie se geslagsorgane vermink is of wat ontman is, mag nie deel wees van die vergadering van die Here nie.

2 Dié wat uit ’n ontoelaatbare verhouding gebore is, asook hulle nageslag tot in die tiende generasie, mag nie ingesluit word in die vergadering van die Here nie.

3 “Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie.

4 Hierdie nasies het jou nie met kos en water verwelkom toe jy uit Egipte gekom het nie. Inteendeel, hulle het probeer om vir Bileam, die seun van Beor van Petor in Aram-Naharajim, te huur om jou te vervloek.

5 Die Here jou God het nie na Bileam geluister nie. Hy het die vloek in ’n seën verander omdat die Here jou God jou liefhet.

6 Jy mag nooit, vir so lank as wat jy leef, op enige manier die Ammoniete of die Moabiete help nie.

7 “Moenie die Edomiete of die Egiptenaars verag nie. Die Edomiete is familie van jou en jy het as vreemdeling onder die Egiptenaars gewoon.

8 Die derde geslag Egiptenaars mag ingesluit word in die vergadering van die Here.”

Verskillende reëls

9 “As jy gaan oorlog maak teen jou vyande, bly weg van enigiets wat onrein is.

10 “’n Man wat seremonieel onrein word as gevolg van ’n nagtelike uitskeiding, moet die kamp verlaat en die hele dag wegbly.

11 Teen die aand moet hy homself was en teen sononder mag hy weer na die kamp toe terugkeer.

12 “Merk ’n gebied aan die buitekant van die kamp af as ’n toilet.

13 Elkeen van julle moet ’n graaf as deel van julle toerusting hê. Wanneer jy ontlas, grawe ’n gat met die graaf en maak jou ontlasting toe met grond.

14 Die kamp moet heilig wees, want die Here jou God is daar saam met jou in die kamp om jou te beskerm en om jou vyande te verslaan. Hy mag niks skandeliks onder julle sien nie sodat Hy nie van julle wegdraai nie.

15 “As slawe dit regkry om van hulle eienaars te ontsnap en hulle kom soek skuiling by jou, mag jy hulle nie uitlewer aan hulle eienaars nie.

16 Laat hulle tussen julle leef in watter dorp hulle ook al kies en moet hulle nie onderdruk nie.

17 “Geen Israelitiese man of vrou mag ooit ’n tempelprostituut word nie.

18 Jy mag geen offer uit die inkomste van ’n manlike of vroulike prostituut na die huis van die Here jou God toe bring nie, want die Here verag albei.

19 “Moenie rente hef op lenings wat jy aan ’n mede-Israeliet maak nie, of dit nou geld, kos of wat ook al is waarvoor daar teen rente geleen mag word.

20 Jy mag rente hef van vreemdelinge, maar nie van mede-Israeliete nie sodat die Here jou God jou mag seën in die land wat jy nou gaan binnetrek en in besit gaan neem.

21 “As jy ’n gelofte teenoor die Here jou God maak, moenie uitstel om na te kom wat jy Hom belowe het nie. Die Here jou God vereis dat jy jou geloftes sal nakom. As jy dit nie doen nie, is jy skuldig aan sonde.

22 Maar om jou te weerhou van ’n gelofte, is geen sonde nie.

23 As jy egter vrywillig ’n gelofte gemaak het, wees versigtig en kom dit na, want dit is ’n gelofte wat jy aan die Here jou God gemaak het.

24 “Jy mag genoeg druiwe eet wanneer jy in jou naaste se wingerd kom, maar moenie iets in ’n mandjie wegvat nie.

25 Jy mag ook ’n paar are van jou naaste se koring met die hand pluk, maar jy mag dit nie met ’n sekel oes nie.”

DEUTERONOMIUM 24

1 “As ’n man met ’n vrou trou en hy ontdek later iets skandeliks aan haar, moet hy ’n skeibrief skryf, dit vir haar gee en haar wegstuur.

2 As sy dan vertrek, kan sy met ’n ander man trou.

3 As die tweede man haar ook verwerp en ’n skeibrief gee of te sterwe kom,

4 mag die eerste man nie weer met haar trou nie, want sy is verontreinig. Dit sal iets afskuweliks wees vir die Here. Moenie skuld bring oor die land wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee nie.

5 “’n Pasgetroude man mag nie in die weermag opgeneem of enige ander spesiale verantwoordelikhede gegee word nie. Hy moet vry wees om vir ’n jaar lank by die huis te wees om die vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.

6 “Dit is verkeerd om ’n paar maalklippe, of selfs net die boonste maalklip, as pand te neem, want die eienaar gebruik dit om van te lewe.

7 “As iemand ’n mede-Israeliet ontvoer en hom as ’n slaaf gebruik of as ’n slaaf verkoop, moet die ontvoerder doodgemaak word. Julle moet die kwaad onder julle uitroei.

8 “Wees versigtig vir alle aansteeklike velsiektes en volg die instruksies van die Levitiese priesters. Gehoorsaam stiptelik die bevele wat ek vir hulle gegee het.

9 Onthou wat die Here jou God aan Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte gekom het.

10 “As jy iets aan jou naaste leen, moenie in sy huis ingaan om iets as pand te gaan vat nie.

11 Wag buite vir die persoon wat by jou geleen het om die pand na jou uit te uitbring.

12 As jou naaste arm is en net ’n kleed het om as ’n pand aan te bied, mag jy nie die kleed oornag hou nie.

13 Gee die kleed teen sononder vir hom terug sodat jou naaste daaronder kan slaap. Dan sal hy jou seën en die Here jou God sal dit as ’n regverdige daad beskou.

14 “Jy moet nooit onbillike voordeel trek uit arm arbeiders nie, nie as hulle mede-Israeliete is nie en ook nie as hulle vreemdelinge is wat in jou dorpe woon nie.

15 Betaal hulle hulle loon elke dag voor sononder, want hulle is arm en reken op die geld. Andersins mag hulle by die Here gaan kla en sal dit as sonde teen jou gereken word.

16 “Ouers mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle kinders nie en kinders mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle ouers nie. Wie die doodstraf moet kry, kry dit net vir sy eie misdade.

17 “Sorg dat daar geregtigheid geskied aan die vreemdelinge wat tussen julle woon en ook aan weeskinders. Jy mag nooit ’n weduwee se kleed as pand aanvaar nie.

18 Onthou altyd dat julle slawe in Egipte was en dat die Here julle God julle van daar vrygekoop het. Dit is waarom ek hierdie gebod aan julle gee.

19 “Wanneer jy jou oes inbring en jy vergeet ’n gerf op die land, moenie omdraai en dit gaan haal nie. Laat dit daar vir die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy doen.

20 Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfbome, moenie dit vir ’n tweede keer doen nie. Laat daar olywe oorbly vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees.

21 Dit is ook van toepassing op die druiwe in die wingerd. Moenie weer gaan druiwe afoes nadat hulle die eerste keer gepluk is nie. Laat daar van die druiwe vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees oorbly.

22 Hou in gedagte dat julle slawe in Egipte was. Dit is waarom ek jou hierdie gebod gee.”

DEUTERONOMIUM 25

1 “Dit kan wees dat twee mans ’n dispuut hof toe neem en die regters verklaar dat die een reg is en die ander een verkeerd.

2 As die een wat verkeerd is tot lyfstraf gevonnis word, is die regter die een wat hom moet beveel om te lê sodat hy in die teenwoordigheid van die regter soveel houe geslaan kan word as wat toepaslik is vir die oortreding.

3 Dit mag nooit meer as 40 houe wees nie. Meer as 40 houe sal jou naaste in die openbaar verneder.

4 “Moenie ’n os se bek toebind wanneer hy graan dors nie.

5 “Wanneer twee broers saamwoon en een van hulle sterf sonder ’n seun, mag sy weduwee nie buite die familie trou nie. Haar man se broer moet met haar trou en die plig van ’n swaer nakom.

6 Die eerste seun aan wie sy dan geboorte gee, sal beskou word as die seun van die oorlede broer sodat sy naam nie in Israel vergeet word nie.

7 Maar as die dooie man se broer weier om met die weduwee te trou, moet sy na die stadspoort toe gaan en daar vir die leiers sê: ‘My man se broer weier om sy broer se naam in Israel te laat voortleef. Hy weier om sy plig as swaer na te kom.’

8 Die leiers van die stad sal hom dan laat roep en met hom begin redeneer. As hy volhou dat hy nie met haar wil trou nie,

9 moet die weduwee in die teenwoordigheid van die leiers oorstap na hom toe, sy sandaal uittrek en in sy gesig spoeg. Dan moet sy sê: ‘Dit is wat gebeur met ’n man wat weier om ’n nageslag vir sy broer te verwek.’

10 Dan sal daar na sy familie verwys word as ‘die familie van die man met die uitgetrekte sandaal’.

11 “As twee mans baklei en die vrou van die een probeer om haar man te help deur die ander man aan sy geslagsdele te gryp,

12 moet haar hand sonder verskoning afgekap word.

13 “Jy moet akkurate skale gebruik wanneer jy goed afweeg.

14 Jy moet ook die volle en eerlike maatbakke gebruik.

15 Gebruik die regte gewigte en maatbakke sodat jy ’n lang lewe mag geniet in die land wat die Here jou God vir jou gee.

16 Mense wat met oneerlike gewigte en maatbakke kul, is veragtelik vir die Here jou God.

17 “Onthou wat die Amalekiete aan jou gedoen het toe jy op pad was uit Egipte.

18 Hulle het jou aangeval toe jy moeg en uitgeput was. Hulle het ook dié wat agtergeraak het, om die lewe gebring. Hulle het geen vrees vir God gehad nie.

19 Daarom, as die Here jou God jou rus gegee het van al jou vyande in die land wat Hy aan jou gee as ’n erfenis, moet jy die Amalekiete uitroei en hulle gedagtenis onder die hemel uitwis. Moet dit nooit vergeet nie!”

DEUTERONOMIUM 26

Die eerste opbrengs uit die oes

1 “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee, en jy dit in besit geneem het en jou daarin gevestig het,

2 sit van die eerste opbrengs van elke oes in ’n mandjie en bring dit na die plek waar die Here jou God sal verkies dat sy Naam geëer word.

3 Gaan na die priester wat dan aan diens is en sê vir hom: ‘Met hierdie gawe erken ek dat die Here jou God my in hierdie land ingebring het wat Hy aan ons voorouers beloof het.’

4 Die priester sal dan die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God gaan neersit.

5 Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My voorouer was ’n Arameër wat rondgeswerf het en in Egipte gaan bly het. Sy familie was maar klein, maar in Egipte het hy ’n groot en talryke nasie geword.

6 Toe die Egiptenaars ons mishandel en verneder het deur ons hulle slawe te maak,

7 het ons tot die Here, die God van ons voorouers, geroep. Hy het ons gehoor en ons swaarkry, harde werk en onderdrukking raakgesien.

8 Deur sy groot krag het die Here ons met magtige dade en wondertekens uit Egipte gelei.

9 Hy het ons na hierdie plek toe gebring en aan ons hierdie vrugbare land gegee.

10 Ek bring dan nou vir U, Here, die eerste opbrengs van die oes van die land wat U vir my gegee het.’ Dan moet jy dit voor die Here jou God neersit en Hom aanbid.

11 Gaan dan en geniet al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huishouding gee. Onthou om die Leviete en vreemdelinge wat onder jou woon ook by die feesvierings in te sluit.

12 “Elke derde jaar moet jy ’n spesiale tiende van jou oesopbrengs afstaan. Jy moet dit aan die Leviete, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gee sodat hulle genoeg kan hê om in hulle dorpe te eet.

13 Dan moet jy in die teenwoordigheid van die Here jou God verklaar: ‘Ek het hierdie heilige gawe uit my huis geneem en dit aan die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees gegee net soos U my beveel het. Ek het nie een van u opdragte oortree of vergeet nie.

14 Ek het nie iets daarvan geëet terwyl ek gerou het nie; ek het nie daaraan geraak toe ek seremonieel onrein was nie en ek het niks daarvan aan dooies geoffer nie. Ek was gehoorsaam aan die Here my God en het alles gedoen wat Hy my beveel het.

15 Kyk tog af uit u heilige woning in die hemel en seën u volk Israel en hierdie vrugbare land wat U aan ons gegee het, net soos U plegtig aan ons voorouers beloof het.’”

’n Oproep om die Here se

opdragte te gehoorsaam

16 “Die Here jou God beveel jou vandag om al hierdie voorskrifte en bepalings na te kom. Verbind jou van harte daartoe.

17 Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is. Jy het belowe om al die voorskrifte, opdragte en bepalings te gehoorsaam deur in sy weë te wandel en alles te doen wat Hy jou beveel.

18 Die Here het vandag verklaar dat jy sy volk is, sy kosbare besitting, net soos Hy beloof het, en dat jy al sy opdragte moet gehoorsaam.

19 As jy so maak, sal Hy jou groter maak as enige ander nasie. Dan sal jy lof, eer en roem ontvang. Jy sal ’n heilige volk vir die Here jou God wees, soos wat Hy beloof het.”

DEUTERONOMIUM 27

Die altaar op Ebalberg

1 Moses en die leiers van Israel het aan die volk die volgende opdrag gegee: “Gehoorsaam al hierdie bevele wat ek jou vandag gee.

2 Wanneer jy die Jordaanrivier oorsteek en die land binnetrek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy ’n paar groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit.

3 Wanneer jy die rivier oorsteek om die land binne te trek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy al hierdie gebooie daarop neerskryf. Dis ’n baie vrugbare land wat die Here, die God van jou voorouers, jou beloof het.

4 “Nadat julle die Jordaan oorgesteek het, gaan sit hierdie klippe by Ebalberg neer. Wit dit dan met kalk af, soos wat ek jou vandag beveel.

5 Bou daar ’n altaar van gewone klip vir die Here jou God.

6 Moenie dit met gekapte klippe bou nie. Offer brandoffers op die altaar vir die Here jou God.

7 “Bring ook vredesoffers daarop, en vier met groot vrolikheid fees in die teenwoordigheid van die Here jou God.

8 Op die afgewitte klippe moet jy die bepalings van die gebooie duidelik neerskryf.”

9 Moses en al die Levitiese priesters het toe die hele Israel soos volg toegespreek: “Israel, wees stil en luister! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword.

10 Wees gehoorsaam aan die Here jou God en kom al hierdie opdragte en voorskrifte na wat ek vandag vir jou gee.”

Vervloeking van Ebalberg af

11 Daardie selfde dag het Moses ook die volgende opdrag aan die volk gegee:

12 “Wanneer julle die Jordaanrivier oorsteek, moet die stamme van Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin op die Gerisimberg gaan staan om die volk te seën.

13 Die stamme van Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali moet op die Ebalberg gaan staan om ’n vloek uit te spreek.

14 Die Leviete moet dan hardop oor die hele volk Israel uitroep:

15 “‘Vervloek is elkeen

wat ’n afgodsbeeld uitkerf

of giet

en dit in die geheim aanhou.

Hierdie afgode

is die werk van ambagsmense,

hulle is afskuwelik vir die Here.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

16 ‘Vervloek is elkeen

wat sy pa of ma verag.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

17 ‘Vervloek is elkeen

wat sy naaste se eiendom steel

deur die grensbaken te verskuif.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

18 ‘Vervloek is elkeen

wat ’n blinde persoon

laat verdwaal.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

19 ‘Vervloek is elkeen

wat onregverdig optree

teenoor vreemdelinge,

weeskinders en weduwees.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

20 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met die vrou van sy pa het,

want hy het sy pa

oneer aangedoen.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

21 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met ’n dier het.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

22 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap het

met sy suster,

of sy nou die dogter is

van sy pa of ma.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

23 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met sy skoonma het.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

24 ‘Vervloek is elkeen

wat iemand anders

in die geheim doodmaak.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

25 ‘Vervloek is elkeen

wat omkoopgeld aanneem

om iemand anders dood te maak.’

En die hele volk moet antwoord:

‘Amen.’

26 ‘Vervloek is elkeen

wat hom nie hou

by die voorwaardes

van hierdie gebooie

deur daaraan gehoorsaam

te wees nie.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’”