DEUTERONOMIUM 8

Die Here dissiplineer julle met

sy Wet

1 “Gehoorsaam stiptelik al die gebooie wat ek jou vandag gee. Jy sal dan lewe en baie word. Jy sal die land binnegaan wat Ek met ’n eed aan jou voorouers beloof het en dit in besit neem.

2 “Onthou die hele pad waarlangs die Here jou God jou 40 jaar lank deur die woestyn gelei het. Dit was om jou nederig te maak en jou te toets om te sien wat regtig in jou hart aangaan en of jy sy gebooie sal gehoorsaam.

3 Hy het jou nederig gemaak deur jou te laat honger ly. Hy het jou toe manna laat eet, kos wat jy en jou voorouers nie vroeër geken het nie. Hy het dit gedoen om jou te leer dat mense meer as brood nodig het om van te leef. Ware lewe vir die mens kom van elke woord uit die mond van die Here.

4 Jou klere het 40 jaar lank gehou en jou voete het nie blase gekry of geswel nie.

5 Jy moet diep in jou hart besef dat die Here jou God jou gedissiplineer net soos ’n ouer sy kind dissipline leer.

6 “Gehoorsaam die gebooie van die Here jou God deur op sy paaie te loop en Hom te eer,

7 want die Here jou God bring jou in ’n goeie land met waterstrome en poele water, met fonteine wat in die valleie en berge ontspring.

8 Dit is ’n land met koring en gars, wingerde, vyebome, granaatbome, olywe en heuning.

9 Dit is ’n land met ’n oorvloed van kos sonder enige gebrek. Dit is ’n land waar yster so algemeen soos klippe is en waar daar baie koper in die berge is.

10 Wanneer jy genoeg geëet het, dank dan die Here jou God wat hierdie goeie land vir jou gegee het.

11 “Maar pas op dat jy in jou oorvloed nie die Here jou God vergeet en ongehoorsaam raak aan sy gebooie, bepalings en voorskrifte nie.

12 Wanneer jy jou versadig geëet het, voorspoedig is en mooi huise gebou het om in te woon,

13 wanneer jou troppe beeste en skape baie word en jou goud en silwer vermeerder en alles wat jy het, meer word,

14 dan is dit die tyd om versigtig te wees. Moenie hoogmoedig raak en dan vergeet dat dit die Here jou God is wat jou uit die slawerny van Egipte gered het nie.

15 “Moenie vergeet dat dit Hy is wat jou gelei het deur die groot en verskriklike woestyn met sy giftige slange en skerpioene, en waar dit warm en droog is nie. Dit is Hy wat vir jou water uit die rots gegee het!

16 Hy het vir jou kos gegee met manna in die woestyn, kos wat jou voorouers nie geken het nie. Hy het dit gedoen om jou nederig te maak en om jou te toets sodat dit daarna weer met jou goed kan gaan.

17 Hy het dit gedoen sodat jy nie moet dink dit is deur jou eie krag en energie waardeur jy ryk geword het nie.

18 “Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word. Hy doen dit om die verbond na te kom wat Hy met jou voorouers gesluit het.

19 “Maar ek verseker jou: As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode volg en voor hulle neerbuig, sal jy verseker vernietig word.

20 Net soos die Here ander nasies op jou pad vernietig het, sal Hy jou vernietig as jy nie na die stem van die Here jou God luister nie.”

DEUTERONOMIUM 9

Nie omdat julle so goed is nie,

maar omdat God getrou is

1 “Luister, Israel! Jy staan vandag op die punt om deur die Jordaanrivier te trek om die land af te vat van nasies wat baie groter en sterker as jy is. Hulle woon in groot stede met mure wat hemelhoog is.

2 Hulle is sterk en groot – die afstammelinge van die beroemde Enakitiese reuse. Jy ken die uitdrukking wat sê: ‘Wie kan staande bly teen die Enakiete?’

3 Maar jy moet weet die Here jou God gaan voor jou uit trek soos ’n vuur wat alles verbrand. Hy sal hulle vernietig en aan jou onderwerp sodat jy hulle gou sal oorwin en uitdryf, net soos die Here jou belowe het.

4 “Wanneer die Here jou God dit vir jou gedoen het, moet jy nie sê: ‘Die Here het hierdie land gegee omdat ons so regverdig is’ nie. Nee, dit is as gevolg van die goddeloosheid van die ander nasies dat Hy dit gedoen het.

5 Dit is glad nie as gevolg van jou regverdigheid of opregtheid dat jy die land gaan inneem nie. Die Here jou God sal hierdie nasies voor jou uitdryf omdat hulle so goddeloos is en om die eed na te kom wat Hy aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob gesweer het.

6 Ek sal dit weer sê: Die Here jou God gee hierdie goeie land nie aan jou omdat jy so regverdig is nie, want jy is dit nie – jy is ’n hardkoppige volk.”

Onthou die episode met die goue

kalf

7 “Onthou en moenie vergeet hoe julle die Here julle God in die woestyn kwaad gemaak het nie. Vanaf die dag dat julle uit Egipte getrek het tot nou toe was julle gedurig teen Hom in opstand.

8 Onthou hoe kwaad julle die Here gemaak het by Sinai. Hy was so kwaad dat Hy julle wou uitroei.

9 Dit was toe ek op die berg was om die plat klippe te ontvang waarop die Here die verbond geskryf het wat Hy met julle gesluit het. Ek was 40 dae en nagte daar sonder om iets te eet of te drink.

10 Die Here het vir my die twee kliptafels gegee wat Hy met sy eie vinger geskryf het. Daarop was alles geskryf wat Hy vir julle uit die vuur gesê het die dag toe julle by die berg bymekaar was.

11 “Aan die einde van die 40 dae en nagte het die Here aan my die twee kliptafels gegee waarop die verbond geskryf was.

12 Die Here het vir my gesê: ‘Klim dadelik af, want die volk wat jy uit Egipte gelei het, het afvallig geword. Hulle het weggedraai van die pad wat Ek hulle beveel het om te loop. Hulle het ’n gegote afgodsbeeld vir hulleself gemaak.’

13 “Die Here het vir my gesê: ‘Ek het gesien hoe ’n hardkoppige volk hierdie is.

14 Moet My nie probeer keer om die volk te vernietig en hulle naam onder die hemel uit te vee nie. Ek sal egter van jou afstammelinge ’n sterk nasie maak, ’n nasie groter en sterker as hulle.’

15 Ek het toe afgekom van die brandende berg met die twee kliptafels van die verbond in my hande.

16 Ek gesien hoe julle daaronder teen die Here julle God gesondig het. Julle het ’n goue bulkalf gemaak. Hoe gou tog het julle nie afgedwaal van die pad wat die Here julle beveel het om te volg nie!

17 Ek het toe die twee kliptafels wat ek in my hande gehad het, voor julle oë flenters gegooi.

18 Ek het voor die Here neergeval en vir 40 dae en 40 nagte voor Hom bly lê sonder om iets te eet of te drink. Ek het dit gedoen omdat julle gesondig het deur iets te doen wat die Here haat en wat Hom baie kwaad gemaak het.

19 Ek was bang, want die woede van die Here was so erg dat Hy julle wou uitroei. Maar die Here het weer ’n keer na my geluister.

20 Die Here was so kwaad vir Aäron dat Hy hom om die lewe wou bring. Maar in dié tyd het ek ook vir Aäron gebid.

21 Ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, gevat en dit in vuur gesmelt en dit toe tot ’n fyn stof gemaal. Ek het die stof in die stroom gegooi wat bergaf vloei.

22 “Julle het die Here ook by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.

23 By Kades-Barnea het die Here julle weggestuur met hierdie bevel: ‘Trek op en neem die land wat Ek aan julle gee, in besit.’ Julle het teen die bevel van die Here julle God in opstand gekom en geweier om Hom te vertrou of te gehoorsaam.

24 So lank as wat ek julle ken, was julle altyd teen die Here in opstand.

25 “Dit is waarom ek neergeval en vir 40 dae en nagte voor die Here gelê het omdat Hy gereed was om julle te vernietig.

26 Ek het tot die Here gebid en gesê: ‘O oppermagtige Here, moenie u eie volk vernietig nie. Hulle is u eiendom wat U uit Egipte verlos het deur u groot mag en wonderlike krag.

27 Onthou eerder u dienaars Abraham, Isak en Jakob en sien maar die hardkoppigheid, opstandigheid en sonde van hierdie volk oor.

28 As U hierdie volk nou gaan vernietig, sal die Egiptenaars sê: Die Here het hierdie volk vernietig omdat Hy nie in staat was om die land aan hulle te gee waarvan Hy gesweer het dat Hy dit vir hulle sal gee nie. Of hulle kan ook sê: Hy vernietig hulle omdat Hy hulle haat. Hy het hulle na die woestyn toe gevat om hulle daar om die lewe te bring.

29 Dit is u volk, u eiendom, wat U uit Egipte gebring het deur u groot mag en wonderlike krag.’”

DEUTERONOMIUM 10

Nuwe klippe met die Wet op

1 “Op daardie tydstip het die Here vir my gesê: ‘Kap twee plat klippe net soos die eerstes. Maak ook ’n houer van hout waarin dit gebêre kan word. Kom dan op na My toe op die berg.

2 Ek sal op die klippe dieselfde woorde skryf wat op die kliptafels was wat jy stukkend gegooi het. Sit dan die klippe in die houtkis.’

3 “Ek het toe ’n houtkis van akasiahout gemaak en ook twee plat klippe gekap, net soos die eerstes. Met die twee plat klippe het ek toe teen die berg opgeklim.

4 Die Here het weer die bepalings van die verbond, die Tien Gebooie, daarop geskryf en dit vir my gegee. Dit was dieselfde woorde wat die Here op die berg vanuit die vuur vir julle gesê het toe julle onder die berg vergader het.

5 Ek het toe van die berg afgekom en die klippe in die ark van die verbond wat ek gemaak het, gesit, net soos die Here my beveel het. Die klippe is nog steeds daar in die houer.”

Die Leviete dra die houer met

die verbondsklippe in

6 “Die volk Israel het weggetrek van die putte van Bene-Jaäkan af na Moserot toe. Aäron is daar dood en ook daar begrawe. Sy seun Eleasar het in sy plek priester geword.

7 Van daar het hulle na Gor-Gidgad weggetrek en van daar na Jotbata toe. Dit is ’n waterryke land.

8 Dit was in dié tyd dat die Here die stam van Levi afgesonder het om die ark van die Here se verbond te dra, om in die teenwoordigheid van die Here diens te doen en om in sy Naam seën uit te spreek soos wat dit vandag nog hulle taak is.

9 Dit is waarom daar vir die Leviete geen erfdeel of aandeel in die land was saam met die ander stamme van Israel nie. Die Here is hulle erfdeel soos wat die Here jou God hulle beloof het.

10 “Soos die eerste keer was ek 40 dae en nagte op die berg. Die Here het weereens na my geluister en julle nie vernietig nie.

11 Die Here het vir my gesê: ‘Staan op en gaan lei die volk na die land wat Ek aan hulle voorouers beloof het.’”

Wat die Here van julle verwag

12 “En nou, Israel, wat verwag die Here jou God van jou? Hy vra van jou om Hom te eerbiedig, om volgens sy wil te lewe, om Hom lief te hê en Hom met hart en siel te dien.

13 “Gehoorsaam die bevele en gebooie van die Here wat ek jou vandag gee, dit is net tot jou beswil.

14 Die hoogste hemel en die aarde met alles daarop behoort aan die Here.

15 Tog het die Here jou voorouers liefgehad en julle, hulle nageslag, gekies, bo al die ander nasies. Dit is vandag nog so.

16 “Daarom, verander julle afvallige gesindheid en hou op om so hardkoppig te wees.

17 “Die Here jou God is die God van die gode en die Here van die here. Hy is die groot God, magtig en ontsagwekkend. Hy is nie partydig nie en aanvaar ook nie omkoopgeld nie.

18 Hy sorg vir die reg van die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdelinge lief en gee vir hulle kos en klere.

19 Jy moet ook omgee vir die vreemdelinge, want jy was immers self ook ’n vreemdeling in Egipte.

20 “Eerbiedig die Here jou God, dien Hom en volg Hom. Wanneer jy sweer, mag dit net in sy Naam wees.

21 Hy is jou God, die Een aan wie jou lof toekom. Hy is die Een wat magtige wonderdade voor jou oë gedoen het.

22 Toe jou voorouers afgetrek het na Egipte toe, was daar net 70 van hulle. Nou het die Here jou God jou so baie soos die sterre aan die hemel gemaak!”

DEUTERONOMIUM 11

1 “Jy moet die Here jou God liefhê en al sy voorskrifte, bepalings en bevele gehoorsaam.

2 “Luister! Ek praat nie nou met julle kinders wat nog die Here julle God leer ken het of sy grootheid en ontsaglike krag ervaar het nie.

3 “Hulle was nie daar om sy tekens en wonderdade teenoor die farao en die hele land van Egipte te sien nie.

4 Hulle het nie gesien wat die Here aan die Egiptiese leër, perde en strydwaens gedoen het toe Hy hulle in die Rietsee laat verdrink het toe hulle julle agternagesit het nie. Ook nie hoe Hy hulle so vernietig het dat hulle steeds nog magteloos is nie.

5 Hulle het nie gesien hoe die Here julle in die woestyn versorg het totdat julle by hierdie plek aangekom het nie.

6 Hulle was nie daar om te sien wat Hy aan Datan en Abiram, die seuns van Eliab, ’n afstammeling van Ruben, gedoen het nie. Die aarde het oopgegaan en hulle en hulle familie ingesluk met hulle tente en elke lewende ding wat hulle besit het.

7 Maar julle het met julle eie oë al hierdie magtige dade van die Here aanskou!”

Gehoorsaamheid aan God

8 “Daarom, gehoorsaam elke gebod wat ek julle vandag gee sodat julle sterk kan wees om in te gaan en die land in besit te neem wat julle nou binnegaan.

9 As julle gehoorsaam is, sal julle ’n lang lewe geniet in die land wat die Here vir julle voorouers en hulle nageslag gesweer het dat Hy dit aan hulle sal gee. Dit is ’n uiters vrugbare land.

10 Die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie. Daar moes julle julle saad plant en met julle voete leivore maak om dit nat te lei soos in ’n groentetuin.

11 Dit is ’n land met berge en valleie met baie reën van bo.

12 Dit is ’n land waarvoor die Here jou God sorg. Dag vir dag, dwarsdeur die jaar, hou Hy sy oog op die land!

13 “As julle al die gebooie wat ek vandag vir julle gee, noukeurig gehoorsaam, en as julle die Here julle God met hart en siel liefhet en Hom dien,

14 sal Hy vir julle reën gee op die regte tyd sodat julle koring, druiwe vir wyn en olywe vir olie kan oes.

15 In die veld sal Hy weiding voorsien vir julle diere sodat julle oorgenoeg kan hê om te eet.

16 “Wees versigtig om nie verlei te word en weg te draai van die Here om ander gode te aanbid nie.

17 As julle dit doen, sal die woede van die Here teen julle ontvlam. Hy sal die hemel toesluit sodat dit nie reën nie en julle oeste misluk. Dan sal julle gou omkom in die goeie land wat die Here aan julle gee.

18 Verbind julleself heelhartig aan hierdie woorde van die Here. Bind die woorde aan julle hande as ’n herinneringsteken en dra dit as ’n teken op julle voorkoppe.

19 Leer dit vir jou kinders. Praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy weer opstaan.

20 Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.

21 Dan sal julle en julle nageslag lank, so lank as wat die hemel bo die aarde is, kan bly in die land wat die Here aan julle voorouers belowe het.

22 “Gehoorsaam noukeurig al hierdie gebooie wat ek vir julle gee deur die Here julle God lief te hê, volgens sy wil te lewe en Hom aan te hang.

23 Dan sal die Here al hierdie nasies voor julle uitdryf en julle sal hulle land oorvat al is hulle groter en sterker as julle.

24 Op elke plek waar julle julle voete neersit, sal dit julle s’n word. Julle grense sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanon in die noorde, van die Eufraatrivier in die ooste tot by die Middellandse See in die weste.

25 Niemand sal teen julle kan staande bly nie, want oral waar julle in die land gaan, sal die Here julle God skrik en vrees voor julle uitstuur, soos Hy beloof het.

26 “Vandag gee ek aan julle die keuse tussen seën en vloek!

27 Julle sal geseën word as julle die gebooie gehoorsaam wat die Here julle God vandag vir julle gee.

28 Julle sal ’n vloek ontvang as julle die gebooie van die Here julle God verwerp en wegdraai van sy pad deur vreemde gode te aanbid.

29 “Wanneer die Here julle God julle inbring in die land om dit in besit te neem, moet julle op Gerisimberg ’n seën aankondig en op Ebalberg ’n vloek.

30 (Hierdie twee berge lê wes van die Jordaanrivier in die land van die Kanaäniete wat in die Jordaanvallei naby die dorp Gilgal woon. Dit is in die weste, nie ver van die eikebome van Moré nie.)

31 Julle staan op die punt om die Jordaan oor te steek en die land wat die Here julle God aan julle gee, in besit te neem en daar te gaan woon.

32 Maak seker dat julle al die voorskrifte en bepalings wat ek aan julle gee, gehoorsaam.”

DEUTERONOMIUM 12

Die aanbiddingsplek wat die

Here kies

1 “So lank as wat julle lewe, moet julle hierdie voorskrifte en bepalings uitvoer in die land wat die Here, die God van julle voorouers, aan julle gee.

2 “Wanneer julle die nasies uitdryf wat daar bly, moet julle al die plekke vernietig waar hulle hulle gode aanbid – plekke hoog op in die berge, teen heuwels en onder elke groen boom.

3 Breek hulle altare af en kap hulle heilige pilare stukkend. Verbrand hulle Asjerapale en vernietig hulle afgode. Wis die name van hulle gode uit op daardie plekke!

4 “Moenie die Here julle God aanbid op dieselfde manier waarop die heidense nasies hulle gode aanbid nie.

5 Julle moet die Here julle God soek by die plek wat Hyself sal kies uit al die stamme dat sy Naam daar geëer kan word.

6 Daarheen moet julle vir die Here julle brandoffers, ander offers, julle tiendes, julle gawes, julle gelofte-offers, julle vrywillige offers en die eerstelinge uit julle bees- en skaaptroppe bring.

7 Daar moet julle en julle families saam feesvier in die teenwoordigheid van die Here julle God. Daar sal julle kan bly wees oor alles wat julle gedoen het omdat die Here julle God julle geseën het.

8 “Julle moenie optree soos wat ons vandag hier maak, waar elkeen doen wat reg is in sy eie oë nie,

9 want tot nou toe het julle nog nie aangekom by die rusplek en erfdeel wat die Here julle God aan julle gee nie.

10 Julle sal binnekort die Jordaanrivier oorsteek en gaan lewe in die land wat die Here julle God aan julle as ’n besondere besitting gee. Daar sal Hy julle rus gee van al julle vyande rondom julle en julle veilig laat woon.

11 Daar is die plek wat die Here julle God uitgekies het vir die eer van sy Naam. Dit is die plek waarheen julle alles moet bring soos beveel is: brandoffers, ander offers, tiendes, julle gawes en julle gelofte-offers.

12 Daar moet julle saam met julle kinders en julle werknemers in die teenwoordigheid van die Here julle God feesvier. Onthou die Leviete wat in julle dorpe woon, want hulle het nie ’n deel van die land as hulle eie ontvang nie.

13 Wees versigtig om nie julle brandoffers sommer op enige plek te offer nie.

14 Julle mag julle brandoffers net op die plek bring wat die Here binne die gebied van een van die stamme sal kies. Daar moet julle julle brandoffers bring en alles doen wat julle beveel is.

15 “Maar julle mag diere vir hulle vleis slag in enige dorp waar ook al, net soos wat julle nou maak met ribbokke en takbokke. Julle mag soveel diere eet soos wat die Here julle God vir julle gee. Almal van julle, rein of onrein, mag die vleis eet.

16 Die enigste beperking is dat julle nie van die bloed mag eet nie. Julle moet dit soos water op die grond uitgooi.

17 “Maar julle offers mag nie by julle huise geëet word nie – nie die tiendes van julle graan of wyn of olyfolie nie, ook nie die eersgeborenes van julle bees- of skaaptroppe nie, ook nie ’n gelofte-offer of ’n vrywillige offer of enige spesiale gawe nie.

18 Julle moet dit daar in die teenwoordigheid van die Here julle God gaan eet op die plek wat die Here julle God sal kies. Eet die offers saam met julle kinders, julle werknemers en die Leviete wat in julle dorpe woon. Juig voor die Here julle God oor alles wat julle doen.

19 Wees versigtig om nie die Leviete te vergeet so lank as wat julle in julle land lewe nie.

20 “Wanneer die Here julle God julle grondgebied vergroot soos Hy beloof het, mag julle vleis eet waar en wanneer julle wil.

21 Dit kan wees dat die plek wat die Here julle God kies om sy Naam te laat eer, ver weg van julle huis is. As dit so is, mag julle enige van die beeste of skape wat die Here vir julle gegee het, slag. Jy mag die vleis by jou huis eet soos jy beveel is.

22 Enigeen, rein of onrein, mag die vleis eet, net soos wat julle nou maak met ’n ribbok of takbok.

23 Die enigste beperking is dat julle nooit die bloed mag eet nie, want die bloed is die lewe en julle mag nie die lewe saam met die vleis eet nie.

24 In plaas daarvan moet julle die bloed op die grond uitgooi soos water.

25 Moenie die bloed eet nie, dan sal alles goed gaan met jou en jou kinders omdat julle doen wat reg is vir die Here.

26 Bring julle heilige gawes en julle gelofte-offers na die plek toe wat die Here sal kies.

27 Julle moet die vleis en die bloed van julle brandoffers op die altaar van die Here julle God offer. Die bloed van julle ander offers moet teen die kant van die altaar van die Here julle God uitgegooi word, maar van die vleis mag julle eet.

28 Wees versigtig om al die gebooie te gehoorsaam wat ek vir julle gee, sodat dit altyd goed mag gaan met jou en jou kinders omdat julle doen wat reg is vir die Here julle God.

29 “Wanneer die Here julle God die nasies vernietig en julle hulle uitdryf en hulle land in besit neem,

30 moenie in die valstrik trap deur hulle voorbeeld te volg om ander gode te aanbid nie. Moet liewer nie vra: ‘Hoe aanbid hierdie nasies hulle gode dat ek ook so kan doen?’ nie.

31 Julle mag nie die Here julle God op dieselfde manier aanbid nie. Hierdie nasies doen in die naam van hulle gode afskuwelike dinge wat die Here haat. Hulle verbrand selfs hulle seuns en dogters as offers vir hulle gode.

32 Gehoorsaam al die gebooie wat ek aan julle gee noukeurig. Moenie iets daaraan byvoeg of iets daarvan wegvat nie.”

DEUTERONOMIUM 13

Moenie agter ander gode

aangaan nie

1 “Sê nou maar daar is ’n profeet by jou of iemand wat drome droom oor die toekoms. Sê nou so iemand maak beloftes oor tekens en wonders

2 en die voorspelde tekens en wonders gebeur en die profete sê dan: ‘Kom ons gaan agter ander gode aan,’ gode wat jy nooit geken of gedien het nie,

3 dan moet jy nie na die woorde van daardie profeet of uitlêer van drome luister nie. Die Here jou God toets jou net om te wete te kom of jy Hom met hart en siel liefhet.

4 Volg maar net die Here jou God en eer Hom. Gehoorsaam sy gebooie, luister na sy stem en hou vas aan Hom.

5 Die vals profete of dromers moet doodgemaak word, want hulle het opstand aangemoedig teen die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte losgekoop het. Omdat hulle probeer het om jou te laat afwyk van die pad wat die Here jou God jou wil laat loop, moet jy die kwaad uit jou midde uitroei.

6 “Sê nou jou eie broer of jou seun of dogter of jou geliefde vrou of boesemvriend kom na jou toe en sê in die geheim: ‘Kom ons gaan aanbid ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy of jou voorouers nie geken het nie,

7 gode van die omringende volke, naby of ver, gode van enige uithoek van die land.

8 As hulle dit doen, moenie toegee of na hulle luister nie. Jy moet hulle ook nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon of beskerm nie.

9 Maak hom verseker dood! Jy moet dit begin en dan moet die hele volk jou ondersteun.

10 Stenig die skuldiges, want hulle wou jou verlei om die Here jou God te verlaat wat jou uit Egipte, die plek van slawerny, uitgelei het.

11 Dan sal al die Israeliete hiervan hoor en bang word. Hulle sal nie weer so ’n verkeerde ding doen nie.

12 “Sê nou jy hoor dat daar in een van die stede wat die Here jou God aan jou gee,

13 slegte mense is wat die inwoners verlei deur hulle aan te moedig om vreemde gode te aanbid wat jy nie ken nie.

14 In sulke gevalle moet jy die saak noukeurig ondersoek. As dit blyk dat dit waar is en jy kan bewys dat so ’n afskuwelike ding inderdaad gebeur het,

15 moet jy daardie stad aanval en al sy inwoners met al die diere heeltemal vernietig.

16 Jy moet dan al die buit op die dorpsplein bymekaarmaak en verbrand. Steek ook die hele stad aan die brand as ’n brandoffer vir die Here jou God. Daardie stad moet vir altyd ’n puinhoop bly en mag nooit weer herbou word nie.

17 “Jy mag niks vir jouself hou van die buit wat verbrand moet nie. Dan sal die Here nie langer so kwaad bly nie en sal Hy jou weer genadig wees. Hy sal medelye met jou hê en jou ’n groot nasie maak soos Hy aan jou voorouers beloof het.

18 “Luister tog na die stem van die Here jou God, wees gehoorsaam aan al sy bevele wat ek jou vandag gee en doen wat reg is in die oë van die Here jou God.”

DEUTERONOMIUM 14

Diere wat geëet kan word en dié

wat verbode is

1 “Julle is kinders van die Here julle God. Daarom mag julle nie ter wille van iemand wat dood is julleself stukkend sny, of die hare op julle voorkoppe afskeer nie.

2 Julle is ’n volk wat vir die Here julle God as heilig afgesonder is. Die Here het julle as volk gekies om sy kosbare besitting uit al die volke van die aarde te wees.

3 “Julle mag niks eet wat onrein is nie.

4 Die diere wat julle wel mag eet, is: bees, skaap, bok,

5 takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok en bergskaap.

6 “Enige dier met gesplete hoewe en wat herkou, mag geëet word.

7 As ’n dier nie aan albei vereistes voldoen nie, mag dit nie geëet word nie. Julle mag dus nie ’n kameel, haas of dassie eet nie. Hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie.

8 ’n Vark mag nie geëet word nie, want al het hy gesplete hoewe, herkou hy nie. Al hierdie diere is vir julle onrein. Julle mag hulle nie eet of selfs aan die karkasse van sulke diere raak nie.

9 “Wat betref die diere in die water: Julle mag alles eet wat vinne en skubbe het,

10 maar julle mag nie waterdiere eet wat nie vinne en skubbe het nie. Hulle is vir julle onrein.

11 “Julle mag enige voël wat rein is, eet.

12 Die voëls wat julle nie mag eet nie, is: arende, lammervangers, aasvoëls,

13 swart-aasvoëls, verskillende valksoorte,

14 al die kraaisoorte,

15 volstruise, nagvalke, seemeeue, verskillende soorte roofvoëls,

16 die klein uile, groot uile, wituile,

17 pelikane, klein-aasvoëls, visvangers,

18 ooievaars, al die soorte reiers, die hoep-hoep en vlermuise.

19 “Alle vlieënde insekte is onrein en mag nie geëet word nie,

20 maar alle rein voëls mag julle eet.

21 “Julle mag nie iets eet wat ’n natuurlike dood gesterf het nie. Julle mag dit vir ’n vreemdeling gee wat by julle woon. Julle mag dit ook aan ’n vreemdeling verkoop. Maar julle mag dit nie self eet nie, want julle is ’n volk wat afgesonder is vir die Here julle God. Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”

Die tiendes

22 “Jy moet ’n tiende van jou oes eenkant sit, een tiende van alles wat jy elke jaar oes.

23 Bring die tiende na die plek wat die Here jou God kies om sy Naam te eer en eet dit daar in sy teenwoordigheid. Hierdie reëling geld vir die tiendes van jou graan, wyn, olyfolie en die manlike eersgeborenes uit jou grootvee en kleinvee. Die doel van die tiendes is om jou te leer om altyd die Here jou God te eer.

24 Dit mag wees dat jy besonder geseën was, maar die plek waar die Here jou God gekies om sy Naam te eer, te ver van jou huis af is.

25 As dit so is, mag jy die tiende deel van jou oes en van jou diere verkoop en die geld neem na die plek wat die Here jou God kies.

26 Wanneer jy daar aankom, gebruik daardie geld om enigiets te koop wat jy wil: ’n bees, ’n skaap, wyn of bier. Jy en jou huishouding moet dan daar in die teenwoordigheid van die Here jou God feesvier.

27 Moenie die Leviete in jou gemeenskap vergeet nie, want hulle het geen erfdeel soos wat jy het nie.

28 “Aan die einde van elke derde jaar moet jy die tiende van die opbrengs van jou oes van daardie jaar na die naaste dorp bring en dit daar bêre.

29 Gee dit vir die Leviete wat nie ’n erfdeel soos jy het nie, asook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon en vir die weeskinders en weduwees in jou dorpe sodat hulle kan eet en versadig word. Dan sal die Here jou God jou voorspoedig maak in al jou werk.”

DEUTERONOMIUM 15

Help dié wat arm is

1 “Aan die einde van elke sewende jaar moet jy skuld afskryf.

2 Dit is hoe dit gedoen moet word: Krediteure moet lenings aan mede-Israeliete afskryf. Hulle mag nie betaling van hulle bure of familie eis nie, want die Here se tyd van kwytskelding het aangebreek.

3 Hierdie kwytskelding van skuld geld slegs vir julle mede-Israeliete en nie vir die vreemdelinge wat onder julle woon nie.

4 Daar behoort niemand by jou te wees wat arm is nie, want die Here sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy aan jou as ’n besondere erfdeel gee.

5 Jy sal seën ontvang as jy die opdragte van die Here jou God wat ek vandag vir jou gee, noukeurig gehoorsaam.

6 Die Here jou God sal jou seën soos Hy belowe het. Jy sal aan baie nasies geld uitleen, maar nooit self hoef te leen nie. Jy sal oor baie nasies heers, maar hulle sal nie oor jou heers nie!

7 “As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee ’n arm Israeliet is, een van jou broers, moenie ongevoelig wees en jou hand vir hom toehou nie.

8 Maak jou hand vir hom oop en leen vir hom wat hy ook al nodig het.

9 Moenie slegte gedagtes koester en iemand ’n lening weier net omdat die sewende jaar van kwytskelding naby is nie. As jy weier om aan so ’n persoon iets te leen en die persoon in nood na die Here roep, sal jy skuldig wees aan sonde.

10 Gee gewillig sonder om gebelgd daaroor te voel en die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.

11 Daar sal altyd arm mense in die land wees. Daarom beveel ek jou om jou hand oop te maak vir jou mede-Israeliet wat arm en behoeftig is.”

Vrylating vir Hebreeuse slawe

12 “As ’n mede-Israeliet, man of vrou, vrywillig jou slaaf geword het en ses jaar vir jou gewerk het, moet jy so iemand in die sewende jaar vrylaat.

13 “As jy hom vrylaat, moet jy hom of haar nie met leë hande wegstuur nie.

14 Gee vir so ’n persoon ’n groot afskeidsgeskenk uit jou diere, jou graan op die dorsvloer en van jou wyn in jou parskuip. Deel met hom of haar uit die oorvloed waarmee die Here jou God jou geseën het.

15 Onthou dat jy ook ’n slaaf was in Egipte en dat die Here jou God jou bevry het. Dit is waarom ek hierdie bevel vandag aan jou gee.

16 Veronderstel jou slaaf sê vir jou: ‘Ek wil nie weggaan nie’ omdat hy jou en jou familie leer liefkry het en omdat dit vir hom goed is by jou,

17 moet jy ’n els neem en dit deur sy oorlob teen die deur steek. Dan sal hy lewenslank jou slaaf wees. Dieselfde geld ook vir jou slavinne.

18 “Moenie dit as ’n verlies beskou om jou slaaf vry te laat nie. Onthou dat hy in die ses jaar jou dubbel die loon van ’n gehuurde werker gespaar het. Die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.”

Die dier wat eerste gebore is

19 “Jy moet al die manlike eersgeborenes uit jou beeste en kleinvee eenkant sit vir die Here jou God. Jy mag nie die eersgeborenes uit jou beestrop op jou velde laat werk nie en jy mag ook nie die eersgeborenes uit jou kleinvee skeer nie.

20 Jy en jou familie moet dit elke jaar voor die Here jou God gaan eet op die plek wat Hy gekies het.

21 Maar as die eersgebore dier enige liggaamsgebrek soos lamheid of blindheid of enige ander fout het, mag jy dit nie vir die Here jou God offer nie.

22 Eet dit by jou huis. Enigeen, rein of onrein, mag daarvan eet, net soos enigeen ’n ribbok of ’n takbok mag eet.

23 Maar jy mag nie die bloed daarvan eet nie. Jy moet dit soos water op die grond uitgooi.”

DEUTERONOMIUM 16

Paasfees

1 “Vier altyd die Paasfees tot eer van die Here jou God op die regte tyd in die vroeglente. Dit was die tyd toe die Here jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei het.

2 Jou paasoffer kan uit jou kleinvee of beestrop kom en moet geoffer word op die plek wat die Here jou God kies om sy Naam te eer.

3 Eet sewe dae lank brood waarin daar nie suurdeeg is nie. Hierdie brood sal jou lewenslank herinner aan jou swaarkry en toe jy haastig uit Egipte weg is.

4 Deur die hele land mag daar vir sewe dae lank geen suurdeeg in enige huis wees nie. Daar mag ook niks van die vleis van die paaslam tot die volgende môre oorbly nie.

5 “Die paasoffer mag nie geëet word in enige van die dorpe wat die Here jou God aan jou gee nie.

6 Dit moet geoffer word op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam te laat eer. Offer dit daar teen sononder ter herdenking aan julle uittog uit Egipte.

7 Braai die lam en eet dit op die plek wat die Here jou God sal kies. Gaan dan die volgende môre terug na julle huise toe.

8 Vir die volgende ses dae mag jy net brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Op die sewende dag moet die volk voor die Here jou God bymekaarkom. Op daardie dag mag jy glad nie werk nie.”

Fees van die Weke

9 “Tel sewe weke af vandat jy met die graanoes begin het.

10 Vier dan die Fees van die Weke om die Here jou God te eer. Bring ’n vrywillige offer aan Hom in verhouding met die seën wat jy ontvang het.

11 Dit is ’n tyd om vrolik te wees in die teenwoordigheid van die Here jou God op die plek wat Hy sal kies waar sy Naam geëer sal word. Vier die fees saam met jou hele gesin, al jou slawe, die Leviete uit die dorpe, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees wat by jou is.

12 Onthou dat jy ’n slaaf was in Egipte. Wees daarom versigtig om al die gebooie te gehoorsaam.”

Die Huttefees

13 “’n Ander fees, die Huttefees, moet aan die einde van die oestyd sewe dae lank gevier word. Dit gebeur nadat die graan van die dorsvloer en die druiwe van die parskuip ingesamel is.

14 Die fees is ’n vrolike geleentheid van blydskap saam met jou huisgesin, jou slawe, die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees uit jou omgewing.

15 Vier hierdie fees sewe dae lank om aan die Here jou God eer te gee op die plek wat Hy kies. Dit is die Here jou God wat aan jou goeie oeste gee en jou seën in al jou werk. Hierdie fees is ’n tyd van uitbundige vrolikheid vir almal.

16 “Elkeen in Israel moet elke jaar hierdie drie feeste vier: Paasfees, Fees van die Weke en die Huttefees. Elke man moet voor die Here jou God kom verskyn en elkeen moet ’n gawe vir die Here bring op die plek wat Hy sal kies.

17 Elkeen moet na sy vermoë gee ooreenkomstig die seën wat hy van die Here jou God ontvang het.”

Reg en geregtigheid

18 “In al die dorpe wat die Here jou God vir jou gee, moet regters en amptenare aangestel word. Hulle moet die volk regverdig regeer.

19 Jy mag nie die reg verdraai of partydig wees nie. Moet nooit ’n omkoopgeskenk aanvaar nie, want omkoopgeskenke verblind die oë van wyse mense en verdraai die woorde van die regverdige.

20 Laat reg en geregtigheid geskied. So sal jy bly lewe en die land in besit neem wat die Here jou God vir jou gee.

21 “Jy mag nooit ’n Asjerapaal langs die altaar van die Here jou God oprig nie.

22 Jy mag ook nooit heilige pilare van aanbidding oprig nie. Die Here jou God haat sulke dinge.”

DEUTERONOMIUM 17

1 “Jy mag nooit ’n bees of skaap wat siek is, of ’n bees of skaap wat ’n letsel het, vir die Here jou God offer nie. Dit is iets afskuweliks vir die Here jou God.

2 As ’n man of vrou onder julle in een van die dorpe wat die Here jou God aan jou gee, verkeerd opgetree het in die oë van die Here jou God; as so ’n persoon die verbond verbreek het

3 en ander gode aanbid het en gebuig het voor die son of maan of een van die ander hemelliggame, dinge wat Ek streng verbied het;

4 as dit vir jou vertel word of jy kom daarvan te hore, moet jy die saak deeglik ondersoek. As dit waar is dat die afskuwelike ding in Israel plaasgevind het,

5 moet die man of vrou na die poorte van die stad gebring word en daar met klippe doodgegooi word.

6 Jy mag nooit iemand op grond van die getuienis van net een persoon ter dood veroordeel nie. Daar moet altyd minstens twee of drie getuies wees.

7 Die getuies moet die eerste klippe gooi, daarna sal die res van die volk volg. So moet jy die kwaad uit jou midde uitroei.

8 “Dit kan gebeur dat ’n saak in ’n plaaslike hof vir jou te moeilik is om oor uitspraak te gee, soos oor moord, of ’n siviele saak, of oor aanranding. In so ’n geval moet jy na die plek gaan wat die Here jou God sal uitkies.

9 Hou dan die saak aan die Levitiese priesters voor of die regter aan diens. Hulle sal uitspraak lewer.

10 Tree volgens hulle beslissing daar op by die plek wat die Here sal kies. Doen presies wat hulle sê.

11 Nadat hulle die wet geïnterpreteer het en oor ’n vonnis besluit het, moet die vonnis wat hulle oplê ten volle uitgevoer word sonder om enigiets daaraan te verander.

12 Enigeen wat so arrogant is om die vonnis te verwerp van die regter of priester wat die Here jou God verteenwoordig, moet doodgemaak word. So moet jy dié soort kwaad in Israel uitroei.

13 Die hele volk sal dit hoor en bang word om ook so arrogant op te tree.”

Riglyne vir ’n koning

14 “Julle sal binnekort in die land aankom wat die Here julle God vir julle gee. Julle sal dit inneem en daar gaan woon. Julle kan dan begin dink: ‘Ons behoort ook ’n koning te hê soos die ander volke rondom ons.’

15 Stel dan tog ’n koning aan vir wie die Here jou God kies. Stel ’n mede-Israeliet aan en nie ’n vreemdeling nie.

16 Die koning mag nie baie perde aanhou nie. Hy mag ook nooit sy volk na Egipte toe stuur om daar perde te gaan koop nie, want die Here het gesê: ‘Julle mag nooit na Egipte toe teruggaan nie.’

17 Die koning mag nie baie vroue hê nie, want hulle sal hom tot ontrouheid aan die Here verlei. Hy mag ook nie groot hoeveelhede silwer en goud vir homself bymekaarmaak nie.

18 “Wanneer hy as koning op die troon sit, moet hy ’n afskrif van die gebooie in die teenwoordigheid van die Levitiese priesters in ’n boekrol laat skryf.

19 Hy moet altyd ’n afskrif daarvan by hom hou en dit elke dag lees so lank as wat hy lewe. So sal hy leer om die Here sy God te aanbid en aan die voorskrifte van die gebooie gehoorsaam te wees.

20 Dit sal keer dat hy homself verhewe ag bo sy landgenote. Dit sal ook verhoed dat hy selfs in die kleinste mate van die opdragte afwyk. Dit sal ook verseker dat hy en sy afstammelinge vir baie geslagte in Israel sal regeer.”