NUMERI 34

Die grense van die land

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Gee hierdie opdrag vir die Israeliete: Ek gee Kanaän vir jou as erfdeel. Wanneer julle in die land gekom het, moet dit die volgende grense hê:

3 In die suide loop die grens in die Negevgebied van die Sinwoestyn af tot by die grens met Edom. Dit begin oos van die Dooie See.

4 Dit draai dan suid van Skerpioenpas weg en loop deur tot by Sin. Daarvandaan gaan dit suid van Kades-Barnea af, deur Gasar-Addar en verby tot by Asmon.

5 Daar draai dit weg en loop met die Egiptespruit langs tot by die Middellandse See.

6 “Die kuslyn van die Middellandse See is julle westelike grens.

7 “Die noordelike grens begin by die Middellandse See en loop oos tot by Horberg.

8 Van daar af loop dit verby Lebo-Hamat en dan aan deur Sedad,

9 verby Sifron tot by Gasar-Enan. Dit is julle noordelike grens.

10 “Julle grens aan die ooste loop in ’n lyn van Gasar-Enan tot by Sefam.

11 Van Sefam loop dit na Ribla, oos van Ajin. Van daar af loop dit al met die oostelike oewer van die See van Galilea.

12 Van daar af gaan dit al langs die Jordaanrivier af tot by die Dooie See. Dit is die grense van julle land.”

Die verdeling van die land

13 Moses het vir die Israeliete gesê: “Dit is die land wat julle deur die lot onder mekaar moet verdeel. Die Here het beveel dat dit tussen die res van die nege en ’n halwe stamme verdeel moet word.

14 Die mense van die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam het reeds hulle grond gekry.

15 Hierdie twee en ’n halwe stamme het grond gekry aan die oostekant van die Jordaan teenoor Jerigo.”

16 Die Here het verder vir Moses gesê:

17 “Die priester Eleasar en Josua, die seun van Nun, moet die land onder julle verdeel.

18 Laat een man uit elke stam hulle help om die land te verdeel.

19 Die stam en sy leier is: Kaleb seun van Jefunne vir die stam Juda;

20 Samuel seun van Ammihud vir die stam Simeon;

21 Elidad seun van Kislon vir die stam Benjamin;

22 Bukki, seun van Jogli vir die stam Dan;

23 Ganniël, seun van Efod vir die stam Manasse, seun van Josef;

24 Kemuel, seun van Siftan vir die stam Efraim, die seun van Josef;

25 Elisafan, seun van Parnak vir die stam Sebulon;

26 Paltiël, seun van Assan vir die stam Issaskar;

27 Agihud, seun van Selomi vir die stam Aser;

28 Pedael, seun van Ammihud vir die stam Naftali.”

29 Dit is die leiers wat die Here aangewys het om te help met die verdeling van Kanaän onder die Israeliete.

NUMERI 35

Blyplek vir die Leviete

1 Terwyl hulle nog op die Moabsvlakte langs die Jordaan reg teenoor Jerigo gestaan het, het die Here vir Moses gesê:

2 “Beveel die Israeliete om van hulle grond vir die Leviete te gee sodat hulle dorpe kan hê om in te bly. Hulle moet ook die veld rondom die dorpe vir hulle gee.

3 Die Leviete sal dan hulle eie blyplekke hê. Die veld rondom sal weiplek wees vir hulle beeste, kleinvee en hulle ander diere.

4 Die weiveld wat julle vir die Leviete gee, moet tot ten minste 450 meter ver buite die muur van die dorp gaan.

5 Meet van die buitekant van die dorp 900 meter af in al die rigtings – oos, suid, wes en noord – met die dorp reg in die middel. Dit sal die groter gebied rondom die dorp wees.

6 “Van die dorpe wat julle vir die Leviete gee, moet ses dorpe aangewys word waarheen iemand kan vlug wat ’n ander mens doodgemaak het. Behalwe hierdie ses moet julle ook nog 42 ander dorpe vir die Leviete gee.

7 In totaal moet julle dus 48 dorpe met hulle oop gebied rondom vir die Leviete gee.

8 “Die dorpe wat julle vir hulle afstaan, moet uit die Israeliete se eie grondgebied kom. Die groter stamme moet meer dorpe afstaan en die kleiner stamme minder. Elke stam moet aan die Leviete blyplek gee in verhouding tot die grond wat hy gekry het.”

Plekke om heen te vlug

9 Die Here het toe vir Moses gesê:

10 “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan getrek het en in Kanaän by,

11 moet julle bepaalde dorpe aanwys waar iemand wat ’n ander mens sonder opset doodgemaak het asiel kan gaan kry.

12 Die persoon sal hier beskerming teen die wraak van die vermoorde se familie kry. Die persoon mag nie tereggestel word voordat hy voor die regters verskyn het nie.

13 Julle moet op ses plekke besluit.

14 Drie van hulle moet oos van die Jordaan wees en drie aan die westekant in Kanaän.

15 Hierdie ses plekke moet beskerming gee vir Israeliete, vreemdelinge en enigiemand wat tydelik tussen julle woon. Enigeen wat ’n ander een per ongeluk doodgemaak het, kan daarheen vlug.”

Reëls vir iemand wat ’n ander

doodmaak

16 “As iemand ’n ander een met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, het hy moord gepleeg. Die moordenaar moet beslis tereggestel word.

17 As iemand ’n ander een met ’n groot klip in sy hand doodgemaak het, is dit moord. Hy moet beslis doodgemaak word.

18 As hy hom met ’n stuk hout doodgeslaan het, is dit moord. Hy moet tereggestel word.

19 Die slagoffer se naaste familielid moet sy dood wreek. Hy moet die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

20 As iemand ’n ander doelbewus stamp of hom voorlê en met iets gooi, en die persoon gaan dood,

21 of hom moedswillig met die vuis slaan sodat hy sterf, moet hy tereggestel word. Hy is skuldig aan moord. ’n Naaste familielid van die slagoffer moet sy dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

22 “As iemand egter sonder opset en sonder dat hy dit vooraf beplan het, iemand anders omstamp sodat hy sterf, of hom per ongeluk met iets raak gooi sonder dat hy dit bedoel het,

23 of as iemand sonder dat hy mooi kyk iemand teen wie hy niks het nie met ’n klip raak gooi dat hy daarvan doodgaan,

24 moet die regters in die saak tussen die aangeklaagde en die naaste familielede uitspraak lewer volgens hierdie riglyne.

25 Die regters moet die beskuldigde beskerm teen die familie wat wil wraak neem. Hulle moet hom terugstuur na die plek van asiel waarheen hy gevlug het. Hy moet daar bly totdat die hoëpriester, wat vir sy amp met olie gesalf is, die dag doodgaan.

26 “As die persoon wat die ander doodgemaak het, die gebied verlaat van die plek waarheen hy vir asiel gevlug het,

27 en die familielid wat die dood moet wreek, loop hom raak buite die gebied waar hy vrywaring geniet, mag die familielid hom doodmaak. Hy sal nie skuldig wees aan moord nie.

28 Die man wat die ander se dood veroorsaak het, moet in die plek van asiel bly totdat die hoëpriester sterf. Hy kan eers nadat die hoëpriester dood is, teruggaan na sy eie grond waar hy vandaan kom.

29 “Hierdie riglyne staan vas vir julle en vir julle nageslag, waar julle julle ook al bevind.

30 “Enige persoon wat skuldig bevind word dat hy iemand anders doodgemaak het, moet tereggestel word. Hy mag egter nooit op grond van slegs een getuie tereggestel word nie.

31 “Julle mag nooit ’n afkoopboete aanvaar vir ’n moordenaar wat skuldig bevind is nie. Hy moet beslis doodgemaak word.

32 Julle mag ook nie afkoopgeld aanvaar vir iemand wat na ’n plek van asiel gevlug het sodat hy kan terugkom na sy plek van herkoms voordat die hoëpriester dood is nie.

33 Julle moenie die land besoedel waarin julle woon nie. Moord besoedel die land. Die moord wat gepleeg is, kan ook nie anders versoen word as deur die teregstelling van hom wat die moord gepleeg het nie.

34 Julle moenie die land waarin julle woon onrein maak nie. Ék bly ook daar. Ek is die Here wat tussen die Israeliete bly.”

NUMERI 36

Erfreg en grondbesit

1 Uit die groep van Gilead, die seun van Makir, seun van Manasse uit die Josefstam, het familieleiers gekom en met Moses en met die ander familieleiers kom praat.

2 Hulle het gesê: “Meneer, die Here het u beveel om die land deur loting tussen die Israeliete te verdeel. Die Here het u ook beveel om ons broer Selofgad se grond vir sy dogters te gee.

3 As een van hulle nou met ’n man uit een van die ander Israelitiese stamme trou, sal hulle grond deel word van daardie stam waarin hulle trou. Dit sal ons grond laat minder word.

4 Wanneer die Hersteljaar vir die Israeliete aanbreek, sal die grond wat hulle geërf het, permanent deel word van die eiendom van die stam aan wie hulle dan behoort. Ons stam is dan daardie grond vir altyd kwyt.”

5 Moses het toe die volgende opdrag van die Here aan die Israeliete gegee: “Wat die mense van die Josefstam sê, is korrek.

6 Wat die saak van die dogters van Selofgad betref, bepaal die Here dat hulle vry is om met enigiemand te trou, mits dit uit dieselfde stam is.

7 Die grond van die Israeliete mag nie van een stam na ’n ander verwissel nie. Elke stam van die Israeliete moet die grond behou wat hulle gekry het.

8 Al die dogters wat grond erf in een van die Israelitiese stamme, mag net binne haar eie stam trou. Die Israeliete moet die grond behou wat hulle gekry het.

9 Grond mag nie van een stam na ’n ander stam oorgaan nie. Elke stam van Israel moet sy eie grond behou.”

10 Die dogters van Selofgad het gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

11 Magla, Tirsa, Gogla, Milka en Noa, het almal met neefs aan hulle vaderskant getrou.

12 Hulle het binne die stam van Manasse, die seun van Josef, getrou. Hulle grond het deel gebly van die grond van hulle pa se stam.

13 Dit is al die opdragte en die voorskrifte wat die Here deur Moses vir die Israeliete gegee het toe hulle op die Moabsvlakte, langs die Jordaan reg teenoor Jerigo gebly het.

DEUTERONOMIUM 1

1 Van Sinai na Kades-Barnea

Hierdie boek bevat Moses se woorde aan die hele volk Israel toe hulle in die woestyn oos van die Jordaanrivier was. Hulle was in die woestynvlakte, naby Suf, tussen Paran aan die een kant en Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab aan die ander kant.

2 Dit vat gewoonlik net elf dae om met die pad langs die Seïrberg verby van die Sinaiberg af tot by Kades-Barnea te kom.

3 40 jaar nadat die Israeliete Sinaiberg verlaat het, op ’n dag in die middel van die winter, het Moses alles vir hulle gesê wat die Here die Israeliete beveel het om te doen.

4 Dit was nadat hy koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het, en ook koning Og van Basan wat in Astarot en Edreï regeer het, verslaan het.

5 Moses het die volk Israel toegespreek terwyl hulle in Moab, oos van die Jordaanrivier, was.

Hy het begin om die gebooie soos volg uit te lê:

6 “Toe ons by Sinaiberg was, het die Here ons God vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

7 “‘Dit is tyd om die kamp af te slaan en aan te beweeg. Trek na die bergwêreld van die Amoriete en na al die naburige streke toe – die Jordaanvallei, die bergwêreld, die laeveld, die Negevgebied en die kusvlakte. Gaan na die land van die Kanaäniete en die Libanon tot by die groot Eufraatrivier.

8 Hierdie gebied gee Ek vir julle. Trek in die land in en neem dit in besit. Die Here het gesweer dat Hy hierdie land aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob en aan hulle nageslag sal gee.’”

Moses stel leiers aan vir elkeen

van die stamme

9 “Ek het toe al vir julle gesê: ‘Julle is ’n te groot las om alleen te dra.

10 Die Here julle God het julle so baie soos die sterre gemaak.

11 Mag die Here, die God van julle voorouers, julle selfs duisend keer meer laat word. Mag Hy julle seën soos wat Hy beloof het.

12 Hoe sou ek alleen al julle twis en probleme kan oplos?

13 Kies uit julle stamme mans met wysheid, begrip en aansien en ek sal hulle as julle leiers aanstel.’

14 “Julle het saamgestem dat my plan ’n goeie een was.

15 Ek het toe die wyse en gerespekteerde mans wat julle uit julle stamme gekies het, aangestel om julle as regters en amptenare te dien. Sommige was verantwoordelik vir 1 000 mense, ander vir 100, ander weer vir 50 en sommige vir tien.

16 Ek het hulle wat as regters optree, beveel: ‘Julle moet te alle tye regverdig wees, nie net teenoor mede-Israeliete nie, maar ook teenoor die vreemdelinge wat tussen julle woon.

17 Wanneer julle uitsprake lewer, moenie die ryk mense bevoordeel nie. Wees ewe regverdig teenoor belangrike en onbelangrike mense. Moenie bang wees oor hoe hulle sal reageer nie, want julle tree namens God as regters op. Bring die sake wat vir julle te moeilik is na my toe, ek sal dit self hanteer.’

18 Toe het ek julle alreeds alles beveel wat julle moet doen.”

Verkenners gaan ondersoek die

land

19 “Ons is toe weg van Sinaiberg af en het deur die groot en skrikwekkende woestyn getrek, wat julle self gesien het. Van daar het ons na die bergwêreld van die Amoriete toe getrek – dit alles net soos wat die Here ons God ons beveel het. Toe ons by Kades-Barnea kom,

20 het ek vir julle gesê: ‘Nou het ons die heuwelgebied van die Amoriete bereik wat die Here ons God aan ons gegee het.

21 Kyk! Die Here ons God plaas hierdie land voor ons. Gaan en neem dit in besit soos wat die Here, die God van ons voorouers, ons belowe het. Moenie bang wees nie! Moenie moed verloor nie!’

22 “Maar julle het gereageer: ‘Laat ons eers verkenners uitstuur om die land vir ons te gaan deurkyk. Hulle sal ons dan kan raadgee oor watter roete die beste sal wees. Hulle sal ook kan besluit watter stede om in te neem.’

23 Dit het vir my na ’n goeie idee gelyk en ek het twaalf verkenners uitgekies, een van elke stam.

24 Hulle het toe die Bergwêreld ingegaan, by die Eskolvallei uitgekom en dit verken.

25 Hulle het ook van die vrugte gepluk en daarvan na ons toe teruggebring. Hulle het gerapporteer dat die land wat die Here ons God vir ons gee, inderdaad ’n goeie land is.”

Israel het in opstand teen die

Here gekom

26 “Maar julle het teen die bevel van die Here julle God in opstand gekom en wou nie optrek nie.

27 Julle het in julle tente gemor en gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons uit Egipte laat trek sodat die Amoriete ons kan uitroei.

28 Hoe kan ons aangaan? Ons verkenners het ons met hulle verslag banggepraat. Hulle sê dat die mense van die land groter en sterker as ons is en dat die mure van hulle stede tot aan die hemel raak! Hulle het daar selfs die reuse, nageslag van Enak, gesien!’

29 “Maar ek het vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie!’

30 Die Here julle God gaan voor julle uit. Hy sal vir julle veg, net soos Hy voor julle oë in Egipte gedoen het.

31 Hier in die woestyn het julle gesien hoe die Here julle God keer op keer vir julle gesorg het, net soos ’n pa vir sy kind sou sorg. Hy het julle tot hiertoe gebring.

32 Selfs na alles wat Hy gedoen het, het julle nog bly weier om die Here julle God te vertrou.

33 Hy het voor julle uitgegaan om die beste staanplekke uit te soek. Snags het Hy julle pad met vuur verlig en bedags was daar ’n wolk oor julle.

34 “Toe die Here hoor hoe julle kla, het Hy kwaad geword. Hy het plegtig gesweer:

35 ‘Nie een van julle uit hierdie slegte geslag sal bly lewe om die goeie land wat Ek aan julle voorouers met ’n eed beloof het, te sien nie.

36 Net Kaleb, die seun van Jefunne, sal die land sien omdat hy die Here enduit gevolg het. Ek sal aan hom en sy nageslag ’n deel gee van die land waaroor hy geloop het toe hy die land verken het.’

37 “As gevolg van julle was die Here ook vir my kwaad. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal nooit die Beloofde Land ingaan nie.

38 Jou assistent, Josua, die seun van Nun, sal die volk die land inlei. Bemoedig hom in sy voorbereidings om die land in te trek.

39 Ek sal die land aan julle onskuldige kinders gee. Julle was bang dat hulle gevange geneem sou word, maar hulle sal die mense wees wat die land in besit sal neem.

40 Wat julle betref, draai nou om en gaan terug na die woestyn toe in die rigting van die Rietsee.’

41 “Toe het julle bely: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons sal die land ingaan en daarvoor veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle mans het toe julle wapens om julle vasgebind en gedink dit is maklik om die Bergwêreld te verower.

42 “Die Here het toe vir my gesê: ‘Sê vir hulle om nie aan te val nie, want Ek gaan nie saam met hulle nie. As hulle sou aanval, sal die vyand hulle verslaan.’

43 “Ek het dit so vir julle gesê, maar julle wou nie luister nie. Julle het eerder teen die bevel van die Here in opstand gekom en ewe arrogant die Bergwêreld ingetrek om te gaan veg.

44 Die Amoriete wat daar bly, het soos ’n swerm bye teen julle opgeruk. Hulle het julle verjaag en verslaan al die pad van Seïr af tot by Gorma.

45 Julle het toe omgedraai en in die teenwoordigheid van die Here kom huil, maar Hy het geweier om na julle te luister.

46 Dit is waarom julle so lank daar by Kades gebly het.”

DEUTERONOMIUM 2

Vanaf die Rietsee tot by die

Arnonkloof

1 “Toe het ons omgedraai en deur die woestyn in die rigting van die Rietsee getrek, net soos die Here my beveel het. Dit het ons lank geneem om óm Seïrberg te trek.

2 Die Here het toe vir my gesê:

3 ‘Julle het nou lank genoeg in die omgewing van die bergwêreld rondgetrek. Draai nou noordwaarts.

4 Gee die volgende opdragte vir die volk: Julle gaan deur die gebied trek wat aan julle broers, die Edomiete, die afstammelinge van Esau wat in Seïr bly, behoort. Die Edomiete sal bedreig voel, maar wees versigtig.

5 Moenie hulle pla nie, want Ek het die bergwêreld in die omgewing van Seïr aan hulle as eiendom gegee. Ek sal nie ’n krieseltjie van hulle land vir julle gee nie.

6 Betaal hulle vir die kos en water wat julle gebruik.

7 Die Here julle God het julle geseën in alles wat julle gedoen het. Hy het die wag gehou oor elke tree wat julle deur die groot woestyn gegee het. Gedurende die 40 jaar was die Here julle God by julle en het Hy in elke behoefte van julle voorsien sodat julle niks kortgekom het nie.’

8 So het ons dan verby ons broers, die afstammelinge van Esau wat in Seïr woon, getrek. Ons het ook die pad vermy wat van Elat en Esjon-Geber deur die Arabavallei kom.

“Toe het ons noordwaarts met die woestynroete by Moab verbygetrek.

9 Die Here het ons gewaarsku: ‘Moenie die Moabiete, die afstammelinge van Lot, pla of teen hulle oorlog maak nie. Ek het vir hulle Ar as hulle eiendom gegee en Ek sal niks van hulle land vir julle gee nie.’”

10 Die Emiete het vroeër in die omgewing van Ar gewoon. Hulle was ’n groot en sterk volk van reuse, net so groot soos die Enakiete.

11 Die Emiete en die Enakiete word albei ook die Refaïete genoem, maar die Moabiete noem hulle die Emiete.

12 Vroeër het die Goriete by Seïrberg gewoon, maar hulle is uitgedryf en vervang met die afstammelinge van Esau. Op ’n soortgelyke manier is die volke van Kanaän verdryf uit die land wat die Here vir Israel gegee het.

13 Moses het voortgegaan: “Die Here het ons toe aangesê om die Seredspruit oor te steek en ons het dit gedoen.

14 Daar het dus 38 jaar verbygegaan van die tyd toe ons by Kades-Barnea aangekom het totdat ons uiteindelik die Seredspruit oorgesteek het. Die Here het gesweer dat dit nie kon gebeur voordat al die mans wat oud genoeg was om oorlog te maak, in die woestyn omgekom het nie.

15 Die Here het sy hand teen hulle gelig totdat hulle almal omgekom het.

16 “Toe al hierdie mans wat reg was om te veg, uitgesterf het,

17 het die Here vir my gesê:

18 ‘Vandag sal julle die grens van Moab by Ar oorsteek

19 en die land van die Ammoniete binnegaan. Moenie die Ammoniete, die afstammelinge van Lot, pla of ’n oorlog met hulle begin nie. Ek het aan hulle die land Ammon as hulle eiendom gegee en Ek sal ook nie enige deel van hulle land vir julle gee nie.’”

20 (Daardie gebied is ook vroeër gesien as die land van die Refaïete, alhoewel die Ammoniete hulle die Samsummiete genoem het.

21 Hulle was ook ’n talryke en sterk nasie en so groot soos die Enakiete. Die Here het hulle egter verdelg sodat die Ammoniete hulle land kon inneem.

22 Hy het die afstammelinge van Esau by Seïrberg op dieselfde manier gehelp deur die Goriete te verdelg sodat hulle daar kon gaan woon. Die afstammelinge van Esau woon tot vandag toe nog daar.

23 ’n Soortgelyke ding het gebeur toe die Kaftoriete van Kreta die Awwiete wat in dorpies in die omgewing van Gasa gewoon het, ingeval en verdelg het.)

24 Moses het voortgegaan: “Toe het die Here gesê: ‘Steek nou die Arnonkloof oor! Ek sal jou help om Sihon die Amoriet, die koning van Gesbon, te verslaan en sy land vir jou te gee. Val hom aan en begin om die land in besit te neem.

25 Van vandag af sal Ek al die volke op aarde vreesbevange vir jou maak. Wanneer hulle van jou hoor, sal hulle bewe van angs.’”

Die gebied van Sihon word

verower

26 “Uit die Kedemotwoestyn het ek boodskappers na koning Sihon van Gesbon gestuur met hierdie vredesvoorstel:

27 ‘Laat ons deur jou land trek. Ons sal op die hoofpad bly en nie na links of regs in die veld afdraai nie.

28 Ons sal betaal vir elke stukkie kos wat ons eet en vir al die water wat ons drink. Al wat ons vra, is toestemming om deur jou land te trek.

29 Die afstammelinge van Esau by Seïrberg het ons toegelaat om deur hulle land te trek, so ook die Moabiete wat in Ar woon. Laat ons asseblief deurtrek totdat ons die Jordaan oorgesteek het na die land wat die Here ons God aan ons gegee het.’

30 Maar koning Sihon van Gesbon het geweier om ons te laat deurtrek. Die Here het hom hardkoppig en onversetlik gemaak sodat julle hom kan verslaan. Hy is nou in jou mag.

31 “Die Here het toe vir my gesê: ‘Kyk, Ek het begin om koning Sihon en sy land aan jou oor te gee. Begin nou om sy land te verower en in te neem.’

32 Koning Sihon het oorlog teen ons verklaar en sy leër by Jahas teen ons gemobiliseer.

33 Die Here ons God het hom egter in ons mag oorgegee en ons het hom, sy seuns en sy volk verpletter.

34 Ons het al sy stede verower en elkeen, mans, vroue en kinders, heeltemal verdelg. Niemand is gespaar nie.

35 Ons het al die diere en enigiets van waarde in die stede wat ons verower het, as buit vir ons geneem.

36 “Die Here ons God het ons gehelp om Aroër aan die bokant van die Arnonkloof en die dorp langs die rivier in die kloof en die hele gebied sover as Gilead te verower. Geen stad het mure gehad wat te sterk vir ons was nie.

37 Ons het egter weggebly van die Ammoniete langs die Jabbokrivier en hulle stede in die bergagtige gebied. Dit was alles gebiede wat die Here ons God ons beveel het om uit te los.”

DEUTERONOMIUM 3

Oorwinning oor Og van Basan

1 “Daarna het ons afgedraai na die land Basan toe. Daar het koning Og en sy leër ons by Edreï aangeval.

2 Die Here het egter vir my gesê: ‘Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee aan julle die oorwinning oor Og en sy leër. Ek gee ook sy hele land aan julle. Maak met hom net soos julle gemaak het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het.’

3 So het die Here ons God vir koning Og en sy hele volk aan ons oorgegee en ons het hulle almal doodgemaak.

4 Ons het al 60 van sy stede verower, die hele Argobstreek in sy koninkryk van Basan.

5 Al hierdie stede was versterk met hoë mure rondom en poorte met sluitbalke. Ons het terselfdertyd ook baie van die stede sonder mure ingeneem.

6 Ons het die koninkryk van Basan totaal verdelg, net soos wat ons koning Sihon van Gesbon vernietig het. Ons het al die inwoners, mans, vroue en kinders, uitgewis in elke stad wat ons verower het.

7 Ons het die diere vir onsself gehou en ook die buit van die stede wat ons geplunder het.

8 “Ons het die land van twee Ammoritiese konings oos van die Jordaanrivier van die Arnonkloof tot by Hermonberg in besit geneem.

9 (Die Sidoniete het die Hermonberg die Sirjon genoem, en die Amoriete Senir.)

10 Ons het al die stede op die Hoogvlakte verower en ook die hele Gilead en Basan so ver as Salka en Edreï, stede wat deel was van Og se ryk in Basan.

11 (Koning Og van Basan was die laaste van die reuse Refaïete. Sy ysterbed was meer as vier meter lank en byna twee meter breed. Dit kan nog steeds in die Ammonitiese stad Rabba gesien word.)”

Die verdeling van die land oos

van die Jordaan

12 “Van die land wat ons verower het, het ek vir die stamme Ruben en Gad die gebied anderkant Aroër langs die Arnonkloof, asook die helfte van die bergwêreld van Gilead met sy stede, gegee.

13 Die res van Gilead en die hele Basan – Og se voormalige koninkryk – het ek aan die halwe stam van Manasse gegee. (Die Argobgebied van Basan was voorheen bekend as die land van die Refaïete.

14 Jair, ’n leier uit die stam van Manasse, het die hele Argobgebied in Basan tot by die grens van Gesur en Maäkat gevat. Jair het die gebied na homself vernoem en dit die Dorpe van Jair genoem soos wat dit vandag nog bekend is.)

15 Gilead het ek vir Makir gegee.

16 Ek het die gebied van Gilead af tot by die middel van die Arnonkloof en van daar na die Jabbokrivier op die grens van die Ammoniete vir die stamme Ruben en Gad gegee.

17 Hulle het ook die Jordaanvallei met die Jordaanrivier en sy oostelike oewer van die See van Galilea af tot by die Dooie See met die Pisgahange aan die oostekant, gekry.”

Ruben, Gad en die halwe

Manassestam

18 “Gedurende dié tyd het ek hierdie opdrag gegee aan die stamme wat aan die oostekant van die Jordaan sou bly: ‘Al het die Here julle God hierdie land vir julle as julle eiendom gegee, moet al julle weerbare mans die Jordaan gewapen en gereed oorsteek, voor julle mede-Israeliete uit.

19 Julle vroue, kinders en julle baie diere mag agterbly in die stede wat ek aan julle gegee het.

20 Nadat die Here veiligheid aan die res van die Israeliete gegee het, soos wat Hy reeds aan julle gegee het, en wanneer hulle die land wat die Here julle God aan hulle oorkant die Jordaan gee, in besit geneem het, mag julle terugkeer na die land wat Ek aan julle gegee het.’”

Moses word verbied om die land

binne te gaan

21 “Ek het destyds vir Josua gesê: ‘Jy het al hierdie dinge gesien wat die Here God aan die twee konings gedoen het. Hy sal dieselfde doen met al die ko-nings aan die westekant van die Jordaan waarheen jy op pad is.

22 Moenie vir daardie nasies bang wees nie, want die Here julle God sal vir julle veg.’

23 “Ek het toe by die Here gepleit en gesê:

24 ‘Ag, oppermagtige Here, U het begin om u grootheid en krag aan u dienaar te wys. Is daar enige god in die hemel en op die aarde wat sulke groot dinge kan doen soos wat U doen?

25 Laat my deur die Jordaan trek om die wonderlike land aan die oorkant te sien, die mooi bergwêreld en die Libanonberg.’

26 “Maar die Here was kwaad vir my oor julle en wou nie na my luister nie. ‘Dit is genoeg!’ het Hy beveel. ‘Moenie weer met My hieroor praat nie.

27 Gaan klim op die piek van die Pisgaberg en bekyk die land daar in elke windrigting. Jy mag egter nie self die Jordaanrivier oorsteek nie.

28 Gee die bevel aan Josua en bemoedig hom, want hy sal die volk deur die Jordaan lei. Hy sal die land wat jy nou voor jou sien, aan hulle gee.’

29 So het ons in die vallei naby Bet-Peor gebly.”

DEUTERONOMIUM 4

Moses leer Israel God se wette

1 “Nou, Israeliete, luister noukeurig na hierdie reëls en regulasies wat ek julle nou gaan leer. Wees hieraan gehoorsaam sodat julle kan lewe en die land wat die Here die God van julle voorouers aan julle gegee het, kan binnegaan en dit in besit neem.

2 Moenie iets byvoeg of wegvat van die gebooie wat ek vir julle gee nie. Gehoorsaam net die gebooie van die Here julle God wat ek vir julle gee.

3 Julle het met julle oë gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het. Daar het die Here julle God elkeen uitgeroei wat die god Baäl-Peor aanbid het.

4 Almal van julle wat aan die Here julle God getrou gebly het, lewe vandag nog.

5 “Julle moet hierdie reëls en bepalings gehoorsaam wanneer julle in die land aankom wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem. Die Here my God het hulle aan my gegee en my beveel om dit aan julle deur te gee.

6 As julle die gebooie noukeurig gehoorsaam, sal julle vir die naburige nasies wys dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle van hierdie wette hoor, sal hulle uitroep: ‘Watter ander nasie is so wys en het soveel insig soos hierdie een!’

7 Watter groot nasie se god is so naby aan hulle soos wat die Here julle God naby aan julle is wanneer julle Hom aanroep?

8 Watter groot nasie het reëls en bepalings so regverdig soos hierdie wette wat ek vandag vir julle gee?

9 “Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die Here vir julle gedoen het nie. So lank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel.

10 Vertel hulle veral van die dag toe julle by Sinai in die teenwoordigheid van die Here julle God was. Daar het Hy vir my gesê: ‘Bring die volk bymekaar sodat Ek hulle kan onderrig. Op dié manier sal hulle leer om eerbied vir My te hê so lank as wat hulle lewe. Hulle sal ook my wette aan hulle kinders leer.’

11 Julle het nadergekom en aan die voet van die berg gestaan, terwyl die berg in vlamme gehul was. Die vlamme het die lug in geskiet en die donker wolke het alles stikdonker gemaak.

12 Die Here het met julle vanuit die vuur gepraat. Julle het sy woorde gehoor, maar Hom nie gesien nie; daar was net ’n stem.

13 Hy het sy verbond, die Tien Gebooie wat julle moet nakom, afgekondig en dit op twee kliptafels geskryf.

14 Dit was toe dat die Here my opdrag gegee het om vir julle hierdie reëls en bepalings te leer. In die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem, moet julle dit gehoorsaam.”

’n Waarskuwing teen afgodery

15 “Wees baie versigtig! Op die dag toe Hy met julle uit die vuur op die Sinaiberg gepraat het, het julle nie gesien hoe die Here lyk nie.

16 Daarom, wees versigtig om nie vir julleself enige beeld in enige vorm te maak nie, manlik of vroulik,

17 van enige dier of voël,

18 kruipende diere of visse nie.

19 Wanneer julle opkyk in die lug en die son, maan en sterre sien, alles in die lug, moet julle hulle nie aanbid nie. Die Here julle God het die hemelliggame vir al die volke op aarde bestem.

20 Onthou dat dit die Here is wat julle uit die brandende smeltoond van Egipte gered het. Julle het sy eie volk wat aan Hom behoort, geword. Dit is wat julle vandag is.

21 “Maar die Here het kwaad geword vir my as gevolg van julle optrede. Hy het met ’n eed gesê dat ek nooit deur die Jordaanrivier sal trek na die goeie land wat die Here julle God aan julle as spesiale besitting gee nie.

22 Alhoewel julle die Jordaan sal oorsteek om die land te verower, sal ek aan hierdie kant van die rivier doodgaan.

23 Wees dus versigtig om nie die verbond te verbreek wat die Here julle God met julle gesluit het nie. Julle sal dit breek as julle op enige manier afgodsbeelde maak. Die Here julle God het dit ten strengste verbied.

24 Die Here julle God is soos ’n vuur wat alles verbrand. Hy is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis.

25 “In die toekoms, wanneer julle reeds vir geruime tyd in die land gewoon het en kinders en kleinkinders het, moet julle nie julleself benadeel deur afgodsbeelde van enige aard te maak nie. Dit is verkeerd in die oë van die Here julle God. Dit sal Hom net kwaad maak.

26 “Vandag roep ek die hemel en die aarde as getuies teen julle. As julle my nie gehoorsaam nie, sal julle baie vinnig verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem as julle deur die Jordaan trek. Julle sal net ’n kort tydjie in die land woon en dan sal julle totaal verdelg word.

27 Die Here sal julle verstrooi tussen die nasies en net ’n paar van julle sal oorleef onder die nasies waarheen die Here julle vat.

28 Daar, in ’n ver land, sal julle mensgemaakte afgode van hout en klip aanbid. Dit is gode wat nie eers kan sien of hoor of eet of ruik nie.

29 Daar sal julle weer na die Here julle God begin soek. As julle met hart en siel na Hom soek, sal julle Hom vind.

30 “Wanneer hierdie swaar dinge in die toekoms oor julle kom, sal julle uiteindelik weer na die Here julle God toe terugkom en na Hom luister.

31 Want die Here julle God is genadig. Hy sal julle nie prysgee of verdelg nie. Hy sal ook nie die verbond vergeet wat Hy onder eed met julle voorouers gesluit het nie.”

Niemand kan met God vergelyk

word nie

32 “Ondersoek die hele geskiedenis vanaf die tyd toe God mense op aarde gemaak het tot nou toe. Ondersoek die hemel van die een uiteinde tot die ander. Kyk of iets so magtigs al ooit gebeur het.

33 Het enige nasie soos julle al ooit die stem van God gehoor wat uit ’n vuur praat en dit oorleef?

34 Het enige ander god al ooit ’n nasie vir homself geneem en hulle van ander nasies gered deur rampe, wondertekens, wonders, oorloë, indrukwekkende mag en groot dade wat mense bangmaak? Dit is wat die Here julle God voor julle oë vir julle in Egipte gedoen het.

35 “Hy het julle hierdie dinge laat sien sodat julle kan besef dat die Here God is en niemand anders nie.

36 Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor sodat Hy julle kon leer. Op aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien sodat Hy met julle uit die vuur kon praat.

37 Omdat Hy julle voorouers liefgehad het, het Hy gekies om hulle nageslag te seën en om julle persoonlik met ’n vertoning van mag uit Egipte te bring.

38 Hy het nasies wat veel groter as julle is, verdryf om julle die land in te bring en dit aan julle te gee as ’n spesiale besitting soos wat dit vandag is.

39 Erken en onthou dit: Die Here is God in hemel en op aarde en daar is geen ander god nie!

40 As julle al die gebooie en voorskrifte gehoorsaam wat ek vandag vir julle gee, sal dit met julle en met julle kinders goed gaan. Julle sal ’n lang lewe geniet in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle gee.”

Asielstede oos van die Jordaan

41 Moses het drie stede oos van die Jordaanrivier as asielstede afgesonder.

42 Dit is stede waarheen iemand kan vlug wat per ongeluk en sonder voorbedagte rade iemand anders doodgemaak het.

43 Die stede was: Beser in die woestynhoogland vir die stam van Ruben, Ramot in Gilead vir die stam van Gad en Golan in Basan vir die stam van Manasse.

Inleiding tot die wet

44 Dit is die wet wat Moses vir die Israeliete gegee het.

45 Dit is die voorskrifte, wette en bepalings wat Moses aan die volk Israel gegee het toe hulle Egipte verlaat het,

46 en kamp opgeslaan het in die vallei naby Bet-Peor, oos van die Jordaanrivier. (Hierdie land was vroeër in besit van koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het. Moses en die Israeliete het hom en sy volk verslaan toe hulle uit Egipte opgetrek het.

47 Israel het die land en ook die land van koning Og van Basan verower. Die twee was Amoritiese konings oos van die Jordaan.

48 Israel het die hele gebied van Aroër van die rand van die Arnonkloof tot by Sirjonberg, wat ook Hermonberg genoem word, verower.

49 Hulle het ook die oostekant van die Jordaanvallei so ver suid soos die Dooie See onderkant die Pisgahange in besit geneem.)

DEUTERONOMIUM 5

Die Tien Gebooie

1 Moses het die hele volk Israel bymekaargeroep en gesê: “Luister baie goed na die voorskrifte en bepalings wat ek vandag aan julle gee. Leer dit en maak seker julle is gehoorsaam daaraan!

2 “Toe ons by Sinaiberg was, het die Here ons God ’n verbond met ons gesluit.

3 Die Here het die verbond nie net met ons voorouers gesluit nie, maar met almal van ons wat vandag hier is en nog lewe.

4 Die Here het persoonlik uit die vuur met ons op die berg gepraat.

5 Ek het as ’n bemiddelaar tussen julle en die Here gestaan, want julle was bang vir die vuur en wou nie teen die berg uitklim nie. Hy het met my gepraat en ek het sy woorde weer aan julle oorgedra. Dit is wat Hy gesê het:

6 “‘Ek is die Here julle God wat julle uit die slawerny van Egipte gered het.

7 “‘Moenie ander gode naas My aanbid nie.

8 “‘Moenie vir jou afgodsbeelde maak wat enigiets afbeeld wat bo in die lug of daaronder op die aarde of in die water onder die aarde is nie.

9 Jy mag hulle nooit voor hulle neerbuig om hulle te aanbid nie. Ek die Here jou God is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis. Ek hou die sondes van die vaders teen die kinders tot so ver as drie en vier geslagte lank.

10 My liefde deel Ek egter oorvloedig uit aan die mense wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam, selfs tot so ver as duisend geslagte aan.

11 “‘Moenie die Naam van die Here jou God sonder rede gebruik nie. Die Here sal jou nie ongestraf laat bly wanneer jy sy Naam sonder respek gebruik nie.

12 “‘Hou die Sabbatdag heilig soos wat die Here jou God jou beveel het.

13 Ses dae lank moet jy aangaan met jou werk en jou take afhandel.

14 Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Op dié dag mag niemand in jou huishouding enige werk doen nie. Nie jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, jou beeste en donkies of ander diere, of enige vreemdeling wat by jou woon nie. Al jou slawe en slavinne moet rus soos jy.

15 Onthou dat jy vroeër slawe in Egipte was en dat die Here jou God jou met groot krag en magtige dade daaruit gebring het. Dit is waarom die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier.

16 “‘Behandel jou pa en ma met respek, soos wat die Here jou God jou beveel om te doen. Dan sal jy lank en gelukkig lewe in die land wat die Here jou God aan jou gee.

17 “‘Moenie iemand doodmaak nie.

18 “‘Moenie egbreuk pleeg nie.

19 “‘Moenie iets steel nie.

20 “‘Moenie valse verklarings oor jou naaste aflê nie.

21 “‘Moenie jou naaste se vrou begeer nie. Moenie jou naaste se huis of grond, slaaf of slavin, bees of donkie of enigiets anders wat aan jou naaste behoort, begeer nie.’”

Die volk kan nie langer na God

se stem luister nie

22 “Die Here het hierdie woorde met ’n harde stem aan almal van julle gesê. Dit was vanuit die vuur omring met wolke en in stikdonkerte. Dit is al wat Hy toe gesê het. Hy het sy woorde ook op twee kliptafels geskryf en dit vir my gegee.

23 Toe julle die stem uit die donkerte hoor, met die berg wat in vlamme staan, het al julle stamleiers na my toe gekom.

24 Hulle het gesê: ‘Die Here ons God het ons sy glorie en grootheid gewys. Ons het sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons gesien dat God met mense praat en hulle bly nog leef!

25 Maar nou, waarom sou ons moet doodgaan? As die Here ons God weer met ons sou praat, sal ons verseker doodgaan en verteer word deur die vreeslike vuur.

26 Watter mens kan die stem van die lewende God vanuit die vuur hoor en dit oorleef?

27 Gaan jy en luister na wat die Here ons God sê. Kom dan terug en vertel ons alles oor wat Hy vir jou gesê het. Ons sal luister en daaraan gehoorsaam wees.’

28 “Die Here het julle versoek gehoor en vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat die mense vir jou gesê het en hulle is reg.

29 Ag, as hulle maar altyd sulke harte sal hê dat hulle eerbied vir My kan hê en al my gebooie gehoorsaam! As hulle dit doen, sal hulle en hulle nageslag vir altyd voorspoedig wees.

30 Gaan en sê vir hulle om terug te gaan na hulle tente toe.

31 Bly jy hier by My sodat Ek jou al my gebooie, voorskrifte en bepalings kan gee. Jy moet dit vir die volk leer sodat hulle dit kan gehoorsaam in die land wat Ek aan hulle as hulle erfdeel gaan gee.’”

32 Moses het toe vir die volk gesê: “Julle moet al die gebooie van die Here julle God gehoorsaam. Volg sy instruksies noukeurig.

33 Bly op die koers wat die Here julle God julle beveel het om te volg. Dan sal julle lank en voorspoedig lewe in die land wat julle nou in besit gaan neem.”

DEUTERONOMIUM 6

Oproep tot ’n heelhartige

verbintenis

1 “Dit is die bevele, voorskrifte en bepalings wat die Here julle God aan my meegedeel het om vir julle te leer. Die bedoeling hiervan is dat julle Hom gehoorsaam kan wees in die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem.

2 “Jy, jou kinders en jou kleinkinders moet die Here dien so lank as wat jy lewe. As jy al sy voorskrifte en bevele gehoorsaam, sal jy ’n lang lewe geniet.

3 Luister noukeurig daarna, Israel, dat jy dit kan doen sodat met jou goed kan gaan en jy baie kinders kan hê. Die Here God het aan jou voorouers ’n baie vrugbare land beloof.

4 “Luister, Israel! Die Here ons God is die enigste Here.

5 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag.

6 Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee.

7 Skerp hierdie woorde by jou kinders in en praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.

8 Bind dit aan jou hande vas as ’n herinnering en dra dit op jou voorkop.

9 Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en teen jou stadspoorte.

10 “Die Here jou God bring jou binnekort in die land wat Hy aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het. Dit is ’n land met groot en mooi stede, stede waaraan jy nie gebou het nie.

11 Die huise is vol met goeie goed waarvoor jy nie gewerk het nie. Jy sal water skep uit putte wat jy nie self gegrawe het nie. Jy sal van wingerde en olyfbome eet wat jy nie self geplant het nie. Wanneer jy jou in die land versadig geëet het,

12 sorg dan dat jy nie die Here vergeet nie. Dit is Hy wat jou van die slawerny in Egipte gered het.

13 Betoon eerbied aan die Here jou God en dien Hom. Wanneer jy ’n eed sweer, mag jy net sy Naam gebruik.

14 “Jy mag geeneen van die gode van die naburige nasies aanbid nie,

15 want die Here jou God wat naby jou is, is ’n God wat onverdeelde lojaliteit vereis. As jy ander gode aanbid, sal sy woede teen jou opvlam en Hy sal jou van die aarde af wegvee.

16 “Moenie die Here julle God beproef soos julle by Massa gedoen het nie.

17 Julle moet al die bevele van die Here julle God, al die vereistes en voorskrifte wat Hy vir julle gegee het, noukeurig gehoorsaam.

18 Doen wat reg en goed is vir die Here sodat dit met jou goed mag gaan en jy die land in besit kan neem wat die Here plegtig aan jou voorouers beloof het.

19 Jy sal al die vyande uitdryf wat nou in jou land bly, net soos die Here gesê het.

20 “As jou kinders jou in die toekoms vra: ‘Wat beteken al hierdie vereistes, voorskrifte en bepalings wat die Here ons God vir ons gegee het om na te kom?’

21 dan moet jy vir hulle vertel: ‘Ons was slawe van die farao in Egipte, maar die Here het ons met sy krag uit Egipte gered.

22 Voor ons oë het die Here tekens en wonders gedoen – onheilspellende dinge het met die farao en Egipte gebeur.

23 Hy het ons uit Egipte gered sodat Hy ons die land kan gee wat Hy plegtig aan ons voorouers beloof het.

24 Die Here ons God het ons beveel om al die voorskrifte te gehoorsaam, om die Here ons God te eerbiedig sodat ons voorspoedig kan wees en bly lewe soos dit tans is.

25 Wanneer ons al die bepalings gehoorsaam wat die Here ons God gee, sal ons regverdig wees.’”

DEUTERONOMIUM 7

Wis die vreemde volke uit

1 “Wanneer die Here jou God jou inbring in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te gaan neem, sal Hy baie nasies voor jou verdryf: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Hierdie sewe nasies is almal sterker as jy.

2 Wanneer die Here jou God hierdie nasies in jou hande oorgee en jy hulle oorwin, moet jy hulle heeltemal uitwis. Moenie ooreenkomste met hulle sluit nie en moenie hulle genadig wees nie.

3 Moenie met hulle ondertrou nie. Moenie toelaat dat jou dogters en seuns met hulle seuns en dogters trou nie.

4 Hulle sal jou jongmense van My af weglei om ander gode te aanbid. Dan sal die woede van die Here teen jou ontvlam en sal Hy jou vernietig.

5 In plaas daarvan, breek hulle heidense altare af en verwoes hulle heilige klippilare. Kap hulle Asjerapale af en verbrand hulle afgode.

6 Jy is immers ’n heilige volk wat aan die Here jou God behoort. Die Here jou God het jou uit al die volke op aarde gekies om sy eiendomsvolk te wees.

7 “Die Here het jou nie gekies of liefgehad omdat jy meer of groter was as die ander nasies nie. Trouens, jy was die kleinste van al die nasies!

8 Dit was net omdat die Here jou liefgehad het en omdat Hy die eed wat Hy gesweer het aan jou voorouers nagekom het. Dit is die rede waarom die Here jou met sulke verstommende krag gered het uit die slawerny onder die farao in Egipte.

9 Verstaan daarom dat die Here jou God inderdaad God is. Hy is die getroue God wat sy verbond vir duisend geslagte hou. Hy hou nie op om dié mense lief te hê wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam nie.

10 Maar, Hy huiwer ook nie om die mense wat Hom haat, te straf en te vernietig nie.

11 Daarom, gehoorsaam eerder al hierdie opdragte, voorskrifte en bepalings wat ek vandag vir jou gee.

12 “As jy luister na hierdie gebooie en dit getrou gehoorsaam, sal die Here jou God sy verbond van troue liefde met jou nakom, net soos Hy dit plegtig aan jou voorouers beloof het.

13 Hy sal jou liefhê en jou seën en jou ’n groot nasie maak. Hy sal vir jou baie kinders gee en Hy sal jou land en jou diere vrugbaar maak. Wanneer jy aankom in die land wat Hy aan jou voorouers beloof het, sal jy groot oeste van graan, druiwe en olywe hê. Jy sal ook groot troppe beeste, skape en bokke hê.

14 Jy sal meer geseënd wees as al die volke van die aarde. Nie een van jou mans of vroue sal onvrugbaar wees nie en ook nie jou diere nie.

15 Die Here sal jou bewaar van alle siektes. Hy sal sorg dat die verskriklike siektes wat jy in Egipte geken het jou nie tref nie. Hy sal die siektes eerder op jou vyande laat neerkom!

16 “Vernietig al die nasies wat die Here jou God aan jou oorgee. Moenie hulle spaar nie en moenie hulle gode aanbid nie. As jy dit doen, sal dit vir jou ’n valstrik wees.

17 Miskien sal jy dink: ‘Hoe sal ons ooit hierdie nasies kan oorwin wat soveel sterker is as ons?’

18 Moenie vir hulle bang wees nie! Onthou net wat die Here jou God aan die farao en aan die hele Egipte gedoen het.

19 Met jou eie oë het jy die verskriklike dinge gesien wat die Here jou God na hulle gestuur het. Onthou die tekens en wonderdade en die geweldige krag wat die Here gebruik het om jou uit Egipte te lei. Hierdie selfde krag sal die Here jou God gebruik teen die volke waarvoor jy bang is.

20 Dan sal die Here jou God paniek onder hulle saai om die paar oorlewendes wat nog vir jou wegkruip, uit te dryf!

21 “Nee, moenie vir daardie nasies bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is ’n groot en ontsagwekkende God.

22 Die Here jou God sal daardie nasies een vir een voor jou uit verdryf. Jy sal hulle nie sommer almal eensklaps kan verdryf nie, want as jy dit doen, sal die wilde diere te vinnig teen jou vermeerder.

23 Die Here jou God sal hulle aan jou oorgee. Hy sal hulle heeltemal verwar tot hulle vernietig is.

24 Hy sal hulle konings in jou mag oorgee en jy sal hulle name van die aarde af wegvee. Niemand sal teen jou staande kan bly nie en jy sal hulle almal uitwis.

25 “Hulle afgode moet jy met vuur verbrand. Moenie die silwer en goud waarvan hulle gemaak is, begeer nie. Moet dit nie vir jou vat nie. Dit sal ’n valstrik vir jou word, iets wat veragtelik is vir die Here jou God.

26 Moenie enige van daardie veragtelike goed in jou huis inbring nie, want dan kan jy vernietig word, net soos hulle. Jy moet hierdie goed as veragtelik beskou, want dit is gedoem tot vernietiging.”