NUMERI 4

Die Kehatiete se werk

1 Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê:

2 “Neem ook ’n sensus op van die Kehatiete onder die Leviete, volgens hulle afsonderlike familie- en stamgroepe.

3 Tel almal wat tussen 30 en 50 jaar oud is, wat in die tabernakel diens kan kom doen.

4 “Die Kehatiete sal in die tabernakel met die heel heiligste dinge werk.

5 Wanneer julle kamp afslaan om verder te trek, moet Aäron en sy seuns die afskortingsgordyn kom afhaal en oor die ark van die verbond trek.

6 Daar bo-oor moet hulle ’n laag gebreide vel trek en dít weer met ’n stuk blou materiaal toemaak. Dan moet hulle weer die drapale insteek.

7 “Hulle moet dan ’n blou doek bo-oor die tafel gooi waarop die brode gesit word. Hulle moet die borde, die lepels, die bakke, die drinkbekers en die brode bo-op die doek neersit.

8 Hulle moet dan daar bo-oor ’n rooi doek gooi en ’n stuk materiaal van gebreide bokvel bo-oor alles. Dan moet hulle die drapale weer deur die tafel se ringe steek.

9 “Hulle moet ’n donkerblou stuk materiaal vat en die kandelaar daarmee toegooi, saam met sy ligstaanders, die snuiters en die oliehouers wat daarvoor gebruik word.

10 Die kandelaar met sy toebehore moet dan ook in ’n gebreide vel toegedraai word. Dit moet alles op ’n draagbaar gesit word.

11 “Bo-oor die goue wierookaltaar moet hulle ’n blou doek gooi en dit weer met ’n stuk gebreide vel bo-oor toemaak. Hulle moet dan ook sy drapale weer deursteek.

12 Al die ander gereedskap wat by die heiligdom gebruik word, moet dan in ’n blou doek toegedraai word. Dit word weer in ’n vel gebreide leer toegedraai. Dit word dan ook op ’n draagbaar gesit.

13 “Krap die as van die altaar af en gooi ’n rooi doek daaroor.

14 Al die gereedskap wat by die altaar gebruik word, die vuurpanne, die hake, die grafies en die aspanne, dit alles moet bo-op die doek neergesit word en dit weer met ’n vel gebreide leer toegemaak word. Dan moet sy drapale weer deurgesteek word.

15 Wanneer Aäron en sy seuns alles van die heiligdom en die dinge wat daarby hoort, klaar toegemaak het en die kamp opgebreek het, sal die Kehatiete kom om dit te dra. Hulle mag aan niks wat heilig is raak nie, anders sal hulle doodgaan. Dit is dan alles van die tabernakel wat die Kehatiete moet vervoer.

16 “Eleasar, die priester Aäron se seun, is verantwoordelik vir die olie van die kandelaar, die geurige wierook, die daaglikse graanoffer en die salfolie. Die hele tabernakel en alles wat daarin gebruik word, is Eleasar se verantwoordelikheid.”

17 Die Here sê toe vir Moses en Aäron:

18 “Julle moenie toelaat dat die Kehatiete uit die Leviete verdwyn nie.

19 Julle moet sorg dat hulle nie sterf nie, maar bly lewe wanneer hulle die heel heiligste goed kom haal: Aäron en sy seuns moet saam met hulle kom en vir elkeen afsonderlik wys wat hy moet dra.

20 Hulle mag nooit op hulle eie na die heilige voorwerpe kom kyk nie, want dan sal hulle sterf.”

Die Gersoniete se werk

21 Die Here het vir Moses gesê:

22 “Tel ook die Gersoniete volgens hulle familie- en stamgroepe.

23 Tel dié tussen 30 en 50 jaar wat geskik is om in die tabernakel te kom diens doen.

24 “Die Gersoniete se werk is om dinge aan te dra.

25 Hulle moet die gordyne van die tabernakel dra, die tent en die velle wat bo-oor kom, die boonste laag van gebreide ramsvelle, en die gordyn wat by die deur van die tent kom.

26 Hulle moet ook die materiaal van die binnehof rondom die tabernakel en die altaar dra, asook die toue saam met alles wat daarvoor gebruik word. Die Gersoniete moet dit alles vervoer.

27 Aäron en sy seuns sal vir die Gersoniete sê wat hulle moet doen, of dit nou drawerk of ander werk is. Hulle sal besluit wat elkeen moet dra.

28 Dit is dan die werk wat die Gersoniete by die tabernakel moet doen. Hulle staan direk onder leiding van Itamar, die priester Aäron se seun.”

Die werk van die Merarigroep

29 “Tel nou ook die Merarigroep volgens hulle familie- en stamgroepe.

30 Tel almal tussen 30 en 50 wat by die tabernakel kan werk.

31 “Hulle werk sal ook wees om te help met die vervoer van die tabernakel. Hulle sal die rame, die dwarslatte en die regop pale met hulle voetstukke vervoer.

32 Die regop pale van die binnehof rondom die tabernakel met hulle voetstukke, die tentpenne, die toue en alles wat daarmee saam gebruik word, is hulle verantwoordelikheid. Jy moet vir elkeen afsonderlik sê wat hy moet versorg.

33 Dit is die werk wat die Merariete moet doen by die tabernakel. Itamar, die priester Aäron se seun, hou toesig oor hulle.”

Die Levietegroepe getel

34 Moses, Aäron en die leiers van die gemeenskap het die Kehatiete volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

35 Dit was almal tussen 30 en 50 wat by die tabernakel moes werk.

36 Hulle was altesaam 2 750.

37 Dit was dus die somtotaal van al die Kehatiete wat by die tabernakel moes werk. Moses en Aäron het hulle getel soos die Here vir Moses gesê het.

38 Die Gersoniete is volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

39 Dit was almal tussen 30 en 50 wat by die tabernakel diens moes doen.

40 Hulle getal was 2 630.

41 Dit was dus al die Gersoniete wat verpligtings by die tabernakel gehad het. Moses en Aäron het hulle getel soos die Here gesê het hulle moes doen.

42 Ook die Merariete is volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

43 Dit was almal tussen 30 en 50 wat tabernakelpligtig was.

44 Hulle was 3 200.

45 Dit was almal van die Merariete wat diens moes doen. Moses en Aäron het hulle getel soos die Here vir hulle gesê het.

46 So het Moses en Aäron en die leiers van die gemeenskap al die Leviete volgens hulle familie- en stamgroepe getel.

47 Dit was almal tussen 30 en 50 jaar oud wat by die tabernakel moes werk.

48 Hulle was almal bymekaargetel 8 580.

49 Soos die Here hom beveel het, het Moses vir elkeen afsonderlik sy werk uitgedeel en gesê waarvoor hy verantwoordelik is.

Moses het elkeen getel soos die Here vir hom gesê het.

NUMERI 5

Mense wat die kamp moet

verlaat

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete hulle moet enige persoon wat ’n aansteeklike velsiekte het, of wat ’n onreëlmatige afskeiding het, of besoedel geraak het deur aan ’n lyk te raak, uit die kamp uit wegstuur.

3 Dit geld vir sowel mans as vroue. Sit hierdie mense uit die kamp uit sodat die kamp waar Ek tussen julle bly nie deur hulle besoedel word nie.”

4 Die Israeliete het so gemaak en die persone weggestuur soos die Here gesê het.

Vergoeding vir onreg

5 Die Here sê toe vir Moses:

6 “Sê vir die Israeliete: Enige man of vrou wat ’n ander persoon verontreg, is ontrou aan die Here en is skuldig.

7 Hulle moet hulle oortreding bely. Hulle moet die persoon vergoed vir wat hulle aan hom gedoen het en twintig persent bysit wanneer hulle hom vergoed.

8 Indien die benadeelde persoon reeds dood is en daar is nie ander familie vir wie dit gegee kan word nie, behoort dit aan die Here. Dit moet vir die priester gegee word saam met ’n ram wat geslag kan word sodat die oortreder se sonde vergewe kan word.

9 Alles wat die Israeliete as ’n offer vir God na die priester toe bring, sal aan die priester behoort.

10 Elke ding wat iemand vir God bring, is sy geskenk aan God. Die priester mag dit egter ná die tyd vir homself hou.”

’n Vrou wat verdink word van

ontrouheid

11 Die Here het vir Moses gesê:

12 “Sê vir die Israeliete: Dit kan gebeur dat ’n man se vrou begin rondloop en ontrou is aan hom.

13 ’n Ander man kan by haar slaap en met haar gemeenskap hê sonder dat haar man dit weet, of sonder dat sy uitgevang word omdat daar geen getuie was nie.

14 Hy kan vermoedens begin kry en agterdogtig begin raak of sy skuldig is of nie.

15 In hierdie geval moet die man sy vrou na die priester toe bring saam met ’n offer van een en ’n half kilogram garsmeel om namens haar te offer. Daar mag nie olie daaroor uitgegooi word of wierook daaroor gestrooi word nie. Dit is ’n offer om te bepaal of sy skuldig is of nie.

16 “Die priester moet haar dan nader bring en voor die Here laat staan.

17 Hy moet dan van die heilige water in ’n houer vat en dit met stof van die vloer van die tabernakel af meng.

18 Ná die priester die vrou voor die Here laat kom staan het, moet hy haar hare losmaak en die offer in haar hande sit. Hy moet die bitter water in sy hand hou. Die water kan ’n vloek bring oor die een wat skuldig is.

19 Die priester moet haar dan laat sweer en vir haar sê: ‘Mag hierdie bitter water wat vervloeking bring, niks aan jou doen as jy nie by ’n ander man geslaap het nie en nie jouself besoedel het deur ontrou aan jou man te wees nie.

20 As jy wel ontrou was aan jou man en oortree het en by ’n ander man as jou eie geslaap het’

21 – en hy herinner haar dat sy onder eed is – ‘mag die Here dan ’n vloek oor jou bring voor jou mense deur jou onvrugbaar te maak.

22 Hierdie water wat vervloeking bring, sal dan vir jou ’n miskraam gee.’ Die vrou moet dan sê: ‘Amen. Laat dit so wees.’

23 Die priester moet hierdie vervloeking dan neerskryf op ’n papier en dit afwas in die bitter water.

24 Hy moet die vrou laat drink van die bitter water wat die vervloeking bring. As sy skuldig is, sal die water groot swaarkry vir haar bring.

25 “Die priester vat dan die offer wat bepaal of sy skuldig is of nie, uit die vrou se hande, hou dit uit na die Here toe en sit dit dan op die altaar.

26 Hy vat ’n hand vol van die meel en verbrand dit op die altaar. Hy laat dan die vrou van die water drink.

27 As sy die water drink en sy het wel oortree deur aan haar man ontrou te wees, sal die water ’n vervloeking oor haar bring. Dit sal haar bitter swaar laat kry en veroorsaak dat sy ’n miskraam het. Die vrou sal ’n vervloekte in haar gemeenskap word.

28 As sy nie oortree het nie en onskuldig is, sal sy kinders hê.

29 “Dit is die prosedure wat gevolg word wanneer ’n vrou ontrou was aan haar man en haarself besoedel het,

30 of wanneer ’n man rede het om te vermoed dat sy vrou ontrou was aan hom. Die man moet sy vrou voor die Here bring en die priester moet volgens hierdie voorskrifte optree.

31 Die man sal onskuldig wees, maar sy vrou sal verantwoordelik gehou word vir haar oortreding.”

NUMERI 6

Die nasireërgelofte

1 Die Here sê toe vir Moses:

2 “Sê vir die Israeliete: As enige persoon, man of vrou, ’n gelofte aflê om ’n nasireër vir die Here te wees,

3 mag die persoon nie sterk drank, of asyn wat van wyn gemaak is, of gefermenteerde druiwesap, of vars druiwe of rosyntjies eet nie.

4 Solank hulle nasireërs is, mag hulle niks gebruik wat van druiwe af kom nie, selfs nie eens die pitte of druiwedoppe nie.

5 “Solank hulle nasireërs is, mag hulle hare nie gesny word nie. Hulle is afgesonder vir die Here. Hulle moet hulle hare laat groei.

6 Solank hulle nasireërs is vir die Here, mag hulle ook nie naby ’n lyk kom nie.

7 Selfs al is dit die persoon se pa, of ma, broer of suster wat dood is, mag hulle nie hulleself onrein maak deur hulle oorlede familie nie. Hulle hare wys dat hulle God se nasireërs is.

8 Solank hulle nasireërs is, is hulle afgesonder vir die Here.

9 “As iemand skielik in hulle teenwoordigheid sterf, word hulle hare onrein. Hulle moet dan na sewe dae hulle hare afskeer sodat hulle weer rein kan word.

10 Op die agtste dag moet hulle twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester by die ingang van die tabernakel bring.

11 Die priester sal een as ’n sonde-offer bring en die ander as ’n brandoffer. Die priester sal dan versoening bewerkstellig vir die skuld wat die lyk oor die nasireër gebring het. Op daardie dag sal die persoon sy hare opnuut aan die Here wy.

12 Die vorige tyd van sy nasireërgelofte val dan weg omdat sy nasireërskap besoedel is. Hy moet die tyd van sy nasireërbelofte aan die Here hernu. Hy moet ’n jaaroud rammetjie as ’n skuldoffer vir God bring.

13 “Dit is die voorskrif vir die nasireër. As die tyd van sy belofte verby is, moet hy na die ingang van die tabernakel gaan.

14 Hy moet vir die Here verskillende offers bring. Dit is ’n gesonde rammetjie van ’n jaar oud as brandoffer, ’n gesonde jaaroud ooitjie as ’n sonde-offer, ’n gesonde ram as vrede-offer,

15 ’n mandjie vol brood wat van fynmeel en olie gemaak is sonder suurdeeg en plaatkoekies met olie gesmeer as ’n maaltydoffer, saam met die voorgeskrewe drankoffers.

16 Die priester sal dit vir die Here aanbied en hy sal die sonde-offers en brandoffers bring.

17 Hy sal die ram as vrede-offer vir die Here bring saam met die mandjie ongesuurde brode. Hy sal dan ook die maaltyd- en drankoffers bring.

18 “Die nasireër moet dan daar by die ingang van die tabernakel sy hare afskeer en dit op die vuur sit waar die vrede-offer gebring word.

19 Die priester sal dan ’n gekookte blad van die ram vat, ’n broodjie uit die mandjie en ’n plaatkoekie, en dit in die handpalm van die nasireër sit wat sy hare afgeskeer het.

20 Die priester moet dan alles opdra aan die Here. Alles wat die priester na die Here uitgehou het, kan hy dan vir homself vat, ook die borsstuk en die boud. Daarna kan die nasireër weer wyn drink.

21 “Dit is die voorskrifte vir iemand wat ’n nasireërgelofte aan die Here afgelê het. As die nasireër ook iets anders as die gewone gelofte vir die Here belowe het, moet hy dit ook nakom.”

Die priester se seënbede

22 Die Here sê toe vir Moses:

23 “Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle die Israeliete seën:

24 ‘Die Here

sal vir jou goed wees

en vir jou sorg.

25 Die Here sal jou raaksien

en vir jou sy liefde gee.

26 Die Here sal jou goedgesind

wees

en vir jou voorspoed gee.’

27 So sal hulle My aan die Israeliete verbind en Ek sal hulle seën.”

NUMERI 7

Die offers van die leiers

1 Toe Moses die tabernakel klaar opgerig het, het hy dit met olie gesalf. Hy het dit toe saam met sy toerusting en sy altaar en sy gereedskap aan die Here gewy.

2 Die leiers van Israel, die hoofde van die familiegroepe wat met die sensus gehelp het, het toe nadergekom.

3 Hulle het hulle offers vir die Here gebring. Dit was ses waens met twaalf osse. Daar was ’n wa vir elke twee leiers en ’n os vir elkeen. Hulle het dit vir die Here by die tabernakel aangebied.

4 Die Here het toe vir Moses gesê:

5 “Aanvaar dit van hulle en gebruik dit vir die diens by die tabernakel. Verdeel die waens en osse onder die Leviete volgens die werk wat elkeen moet doen.”

6 Moses het toe die waens en osse in ontvangs geneem en vir die Leviete gegee.

7 Hy het twee waens en vier osse vir die Gersoniete gegee vir die werk wat hulle moes doen.

8 Hy het vier waens en agt osse vir die Merariete gegee vir die werk wat hulle onder leiding van Itamar die seun van die priester Aäron moes doen.

9 Hy het nie vir die Kehatiete enigiets gegee nie, want dit was hulle werk om die heilige dinge op hulle eie skouers te dra.

10 Op die dag toe die altaar gewy is, het die leiers ook spesifieke geskenke vir die offeraltaar gegee. Hulle het nadergekom en dit by die altaar gaan neersit.

11 Die Here het toe vir Moses gesê: “Laat elke leier sy geskenke vir die altaar op ’n bepaalde dag bring.”

12 Op die eerste dag het Nagson sy geskenke gebring. Hy was die seun van Aminadab, die leier van die stam van Juda.

13 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee houers was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

14 Hy het ook ’n goue houer van 115 gram vol wierook gebring.

15 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

16 ook ’n bokram as sonde-offer,

17 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was wat Nagson, die seun van Aminadab, gebring het.

18 Op die tweede dag het Netanel, seun van Suar, leier van Issaskar, sy geskenke gebring.

19 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

20 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

21 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

22 ook ’n bokram as sonde-offer,

23 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Netanel, seun van Suar, gebring het.

24 Op die derde dag het Eliab sy geskenke gebring. Hy was die seun van Gelon, en die leier van Sebulon.

25 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

26 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

27 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

28 ’n bokram as sonde-offer,

29 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Eliab, die seun van Gelon, gebring het.

30 Op die vierde dag het Elisur sy geskenke gebring. Hy was die seun van Sedeür en die leier van Ruben.

31 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

32 Hy het ook ’n goue houer van 115 gram vol wierook gebring.

33 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

34 ’n bokram as sonde-offer,

35 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Elisur, die seun van Sedeür, gebring het.

36 Op die vyfde dag het Selumiël sy geskenke gebring. Hy was die seun van Suri-Saddai en die leier van Simeon.

37 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

38 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

39 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

40 ’n bokram as sonde-offer,

41 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Selumiël, die seun van Suri-Saddai, gebring het.

42 Op die sesde dag het Eljasaf sy geskenke gebring. Hy was die seun van Reüel en die leier van Gad.

43 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

44 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

45 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

46 ’n bokram as sonde-offer,

47 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Eljasaf, die seun van Reüel, gebring het.

48 Op die sewende dag het Elisama sy geskenke gebring. Hy was die seun van Ammihud en die leier van Efraim.

49 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

50 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

51 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

52 ’n bokram as sonde-offer,

53 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Elisama, die seun van Ammihud, gebring het.

54 Op die agtste dag het Gamliël sy geskenke gebring. Hy was die seun van Pedasur en die leier van Manasse.

55 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

56 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

57 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

58 ’n bokram as sonde-offer,

59 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Gamliël, die seun van Pedasur, gebring het.

60 Op die negende dag het Abidan sy geskenke gebring. Hy was die seun van Gidoni en die leier van Benjamin.

61 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

62 Hy het ook ’n goue houer van 115 gram vol wierook gebring.

63 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

64 ’n bokram as sonde-offer,

65 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Abidan, die seun van Gidoni, gebring het.

66 Op die tiende dag het Agiëser sy geskenke gebring. Hy was die seun van Ammi-Saddai en die leier van Dan.

67 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

68 Hy het ook ’n goue houer van 115 gram vol wierook gebring.

69 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

70 ’n bokram as sonde-offer,

71 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Agiëser, die seun van Ammi-Saddai, gebring het.

72 Op die elfde dag het Pagiël sy geskenke gebring. Hy was die seun van Okran en die leier van Aser.

73 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

74 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

75 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

76 ’n bokram as sonde-offer,

77 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Pagiël, die seun van Okran, gebring het.

78 Op die twaalfde dag het Agira sy geskenke gebring. Hy was die seun van Enan en die leier van Naftali.

79 Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee was vol meel met olie gemeng as graanoffer.

80 Hy het ook ’n goue houer gebring van 115 gram vol wierook.

81 Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,

82 ’n bokram as sonde-offer,

83 twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was die geskenke wat Agira, die seun van Enan, gebring het.

84 Dit was dan die geskenke wat die leiers van Israel spesifiek vir die altaar gebring het toe dit gesalf is: twaalf silwerborde, twaalf silwerbakke en twaalf houers vir die wierook.

85 Die silwer voorwerpe het altesaam 28 kilogram geweeg, een en ’n half kilogram vir elke bord en 800 gram vir elke bak.

86 Die houers vir die wierook het elkeen 115 gram geweeg, byna een en ’n half kilogram in totaal.

87 Saam met die graanoffers was daar twaalf bulle, twaalf ramme en twaalf jaaroud lammers vir die brandoffer. Daar was ook twaalf ramme vir die sonde-offer.

88 Vir die maaltydoffer was daar altesaam 24 bulle, 60 ramme, 60 bokke en 60 jaaroud rammetjies. Dit was die offers wat gebring is toe die altaar gesalf is.

Die kandelaar

89 Wanneer Moses in die tabernakel ingegaan het om met God te praat, het hy God se stem van tussen die twee engelfigure op die versoendeksel van die ark van getuienis hoor praat.

NUMERI 8

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir Aäron hy moet sorg dat die sewe lampies aan die voorkant lig maak wanneer hy hulle aan die kandelaar vassit.”

3 Aäron het toe so gemaak. Hy het die lampies aan die voorkant vasgesit, soos die Here vir Moses gesê het.

4 Die hele kandelaar was van sy voetstuk af tot bo by die amandelblommetjies van uitgeslaande goud gemaak. Dit was presies volgens die plan gemaak wat die Here vir Moses voorgehou het.

Die Leviete word in hulle werk

bevestig

5 Die Here het vir Moses gesê:

6 “Skei die Leviete van die ander Israeliete en berei hulle voor.

7 Doen dit deur reinigingswater oor hulle te sprinkel. Laat hulle dan hulle hele lyf skeer en hulle klere was sodat hulle gereinig kan wees.

8 Laat hulle dan ’n jong bul bring en ’n maaltydoffer van meel gemeng met olie en ook ’n tweede bul vir ’n sonde-offer.

9 Roep al die Israeliete bymekaar en bring die Leviete na die ingang van die tabernakel.

10 Wanneer jy die Leviete voor die Here bring, moet die Israeliete hulle hande op die Leviete kom lê.

11 Aäron moet die Leviete dan aan die Here voorstel en hulle aan hom opdra as ’n offer wat die Israeliete vir die Here gee. Hulle moet dan in diens van die Here staan.

12 “Die Leviete moet dan hulle hande op die koppe van die jong bulle sit. Hulle moet die een offer as ’n sonde-offer en die ander as ’n brandoffer om versoening te bring vir hulle sonde.

13 Laat die Leviete dan voor Aäron en sy seuns gaan staan. Dra hulle dan aan die Here op as ’n offer wat vir Hom aangebied word.

14 So sal jy die Leviete losmaak van die res van die Israeliete en hulle sal uitsluitlik in my diens staan.

15 Daarna kan die Leviete hulle werk in die tabernakel begin doen, want jy het hulle gereinig en hulle ’n offer vir God gemaak.

16 “Die Leviete behoort op ’n ander manier aan My as die ander Israeliete. Hulle staan in vir almal in Israel wat eerste gebore is.

17 Sowel mens as dier wat eerste gebore is in Israel, behoort eintlik aan My. Ek het hulle vir myself opgeëis die dag toe Ek die eersgeborenes in Egipte doodgemaak het.

18 “Ek het egter nou die Leviete in hulle plek aanvaar.

19 Uit al die Israeliete het Ek die Leviete gekies en hulle vir Aäron en sy seuns gegee om by die tabernakel namens die res van Israel te dien. Hulle sal vir die Israeliete versoening doen sodat geen onheil hulle sal tref wanneer hulle na die tabernakel toe kom nie.”

20 Moses, Aäron en die hele vergadering van die Israeliete het toe met die Leviete gemaak presies net soos die Here vir Moses gesê het.

21 Die Leviete het hulle reggekry. Hulle het hulle klere gewas. Aäron het hulle toe voor die Here gebring om hulle aan Hom op te dra. Hy het vir hulle versoening gedoen om hulle te reinig.

22 Van toe af het die Leviete in die tabernakel ingegaan om daar hulle werk saam met Aäron en sy seuns te doen. Hulle het gemaak presies net soos die Here vir Moses oor die Leviete gesê het.

Die dienstydperk van die Leviete

23 Die Here het ook vir Moses gesê:

24 “Die reël vir die Leviete is dat hulle van die ouderdom van 25 af in die tabernakel moet kom diens doen.

25 Ná 50 moet hulle ophou. Hulle mag dan nie langer in die tabernakel werk nie.

26 Hulle mag wel nog hulle mede-Leviete help om wag te staan by die tabernakel. Self mag hulle egter nie langer meer daar werk nie. So kan jy die werk van die Leviete organiseer.”

NUMERI 9

Buitengewone reëlings vir die

Paasfees

1 Die Here het ’n opdrag aan Moses in die Sinaiwoestyn in die vroeë lente gegee. Dit was in die tweede jaar nadat hulle uit Egipte weg is. Hy het vir hom gesê:

2 “Die Israeliete moet die Paasfees op die regte tyd hou.

3 Julle moet die Paasfees vier op die veertiende dag van hierdie maand, teen aandskemer. Julle moet dit vier volgens die voorskrifte en reëls wat Ek vir julle gegee het.”

4 Moses het toe vir die Israeliete gesê om die Paasfees te hou.

5 Hulle het dit in die Sinaiwoestyn gevier op die veertiende dag van die eerste maand, teen aandskemer. Hulle het dit gehou presies soos die Here vir Moses beveel het.

6 Daar was egter mans wat onrein was omdat hulle aan ’n lyk moes vat. Hulle kon nie die Paasfees op daardie dag vier nie. Hulle het toe met Moses en Aäron daaroor kom praat.

7 Hulle het gesê: “Ons is onrein, want ons moes met ’n lyk werk. Waarom moet ons daarvan uitgesluit word om die Here se offer op hierdie tyd saam met die res van Israel te bring?”

8 Moses het gesê: “Wag net hier dat ek vir die Here kan vra wat Hy oor julle geval sê.”

9 Die Here het Moses geantwoord:

10 “Sê vir die Israeliete: As dit tyd is vir die Paasfees en iemand het onrein geword omdat hy ’n lyk moes hanteer, of hy is ver weg van die huis af, mag hy nog steeds die Paasfees vier.

11 Hulle moet dit egter ’n maand later vier op die veertiende dag teen skemeraand. Hulle moet op daardie dag die Paaslam eet saam met die ongesuurde brood en die bitter kruie.

12 Daar mag niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Hulle mag ook nie die lam se bene breek nie. Hulle moet verder al die gewone voorskrifte vir die Paasfees volg.

13 “Dié wat nie onrein is nie, en nie weg is van die huis af nie, en nogtans nalaat om die Paasfees te vier, sal uit my volk verban word. Hulle het nie op die bepaalde tyd die Here se offer gebring nie. Hulle sal die gevolge van hulle oortreding moet dra.

14 As iemand wat van buite die land kom, tydelik by julle oorbly en ook die Paasfees vir die Here wil vier, moet hy presies dieselfde voorskrifte en reëls volg. Een en dieselfde stel reëls geld vir sowel die vreemdeling as die permanente inwoner van die land.”

Israel trek agter die wolk aan

15 Die dag toe die tabernakel opgerig is, het ’n wolk daaroor kom hang. Gedurende die nag het dit gelyk soos ’n bondel vuur.

16 So het dit altyd gebly: ’n wolk in die dag en iets wat soos vuur lyk in die nag.

17 Wanneer die wolk van die tent af opgelig het, het die Israeliete kamp opgebreek en dit gevolg. Waar die wolk gaan staan het, daar het die Israeliete kamp opgeslaan.

18 Op bevel van die Here het die Israeliete getrek en op sy bevel weer kamp opgeslaan. So lank as wat die wolk oor die tabernakel bly hang het, het hulle daar bly kamp.

19 As die wolk vir ’n lang tyd oor die tabernakel bly hang het, het die Israeliete net daar gebly en nie verskuif nie.

20 Dit het soms gebeur dat die wolk net vir ’n paar dae oor die tabernakel stilgestaan het. So het hulle op die Here se bevel stilgestaan en weer verder getrek as Hy so beveel het.

21 Soms het dit gebeur dat die wolk net oornag op een plek bly staan het en die volgende oggend weer begin beweeg het. Of dit egter dag of nag was, hulle het begin trek as die wolk begin beweeg.

22 Die Israeliete het op ’n plek gebly waar die wolk oor die tabernakel gehang het, of dit nou vir twee dae, of ’n maand, of selfs langer was. Hulle het nie van daar af weggegaan nie. Sodra die wolk egter van die tabernakel af oplig, het hulle agterna getrek.

23 So het hulle volgens die Here se besluit gekamp of getrek. Hulle het volgens die bevele opgetree wat die Here deur Moses vir hulle gegee het.

NUMERI 10

Die tekens van die trompette

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Maak vir jou twee trompette van uitgerolde silwer. Gebruik hulle om die gemeenskap bymekaar te roep. Dit moet ook die teken wees om die kamp af te slaan.

3 As al twee gelyk blaas, sal dit die teken wees dat almal by die ingang van die tabernakel bymekaar moet kom.

4 Wanneer net een blaas, is dit die teken dat net die leiers van die stamme na jou toe moet kom.

5 “Wanneer jy een keer hard blaas, sal die kamp aan die oostekant eerste begin oppak om te trek.

6 Wanneer jy die tweede keer blaas, sal die kamp aan die suidekant begin gereedmaak om te gaan. Jy moet dan ’n tweede teken blaas om te begin beweeg.

7 Wanneer jy die gemeenskap bymekaar wil roep, moet jy weer ’n ander soort sein gee.

8 Net Aäron se seuns, die priesters, mag die trompet blaas. Dit is ’n onveranderlike reëling vir al die geslagte.

9 “Wanneer julle in julle land aankom en oorlog maak teen julle vyande, moet julle die oproep na die oorlog op hierdie trompette blaas. Die Here julle God sal dan aan julle dink en julle die vyand laat oorwin.

10 By feestelike geleenthede, op die jaarlikse feesdae, en aan die begin van elke maand, ook wanneer julle brandoffers en vrede-offers bring, moet julle op die trompette blaas. Dit sal julle aan julle God laat dink. Ek is die Here julle God.”

Die volgorde waarin hulle getrek

het

11 Op ’n dag in die middel van die lente het die wolk bo die tabernakel opgelig. Dit was op die twintigste in die tweede jaar na hulle uit Egipte weg is.

12 Die Israeliete het opgepak en weggetrek uit die Sinaiwoestyn uit. Die wolk het toe in die Paranwoestyn gaan stilstaan.

13 Dit was die eerste keer dat hulle op bevel van die Here begin trek het. Hy het sy bevele vir hulle deur middel van Moses gegee.

14 Die mense onder die vaandel van Juda, wat deur Nagson gelei is, het eerste begin marsjeer.

15 Issaskar was onder leiding van Netanel, die seun van Suar.

16 Die Sebulonstam was onder leiding van Eliab, seun van Gelon.

17 Die tabernakel is afgeslaan. Die Gersoniete en die Merariete het dit vervoer.

18 Die mense onder die vaandel van Ruben het volgende vertrek. Hulle is aangevoer deur Elisur, die seun van Sedeür.

19 Selumiël, seun van Suri-Saddai, het die stam van Simeon gelei.

20 Eljasaf, seun van Reüel, het die stam van Gad gelei.

21 Die Kehatiete het daarna begin trek. Hulle het die toerusting van die tabernakel vervoer. Teen die tyd dat hulle by die eindbestemming aangekom het, was die tabernakel alreeds opgeslaan.

22 Die groepe onder die vaandel van Efraim was volgende aan die beurt. Hulle is gelei deur Elisama, seun van Ammihud.

23 Die stam van Manasse se leier was Gamliël, seun van Pedasur.

24 Die Benjaminiete is gelei deur Abidan, seun van Gidoni.

25 Die groepe onder die vaandel van Dan, het laaste vertrek. Hulle het die agterhoede van die hele kamp gevorm. Hulle leier was Agiëser, seun van Ammi-Saddai.

26 Pagiël, seun van Okran, het die stam van Aser gelei.

27 Enan se seun Agira het die stam van Naftali gelei.

28 Dit was die volgorde waarin die Israeliete kamp opgebreek en gemarsjeer het.

Moses vra Hobab om saam te

gaan

29 Moses het op ’n keer vir sy swaer Hobab, die seun van Reüel die Midianiet, gesê: “Ons is op pad na die land wat die Here ons God vir ons belowe het. Gaan saam met ons. Ons sal vir jou goed wees. Die Here het vir ons goeie dinge belowe.”

30 Hobab het geantwoord: “Nee, ek wil nie. Ek wil eerder teruggaan na my eie land en mense toe.”

31 Moses het hom toe gesoebat: “Moenie ons in die steek laat nie. Jy ken die woestyn waar ons moet kamp. Jy kan ons help kyk waar ons moet staan.

32 Trek saam met ons. Ons sal al die goeie dinge wat die Here vir ons gee, met jou deel.”

Israel vertrek vanaf Sinai

33 Hulle is van die berg van die Here af weg. Hulle het drie dae lank getrek. Die ark van die Here se verbond is drie dae ver voor hulle uit om te soek vir ’n plek waar hulle kan kamp opslaan.

34 Die wolk van die Here het bo hulle gehang wanneer hulle van hulle kampplek af vertrek het.

35 Wanneer die ark begin beweeg het, het Moses uitgeroep:

“Trek op, Here!

Laat u vyande

voor U uit wegskarrel!

Laat hulle vlug voor u aanval!”

36 Wanneer die ark weer op sy plek neergesit is, het hy gesê:

“Kom terug, Here,

na die duisendtalle

van Israel!”

NUMERI 11

Tabera

1 Die volk het by die Here begin kla oor hulle swaarkry. Toe Hy dit hoor, het die Here kwaad geword. Vuur wat van die Here af kom, het onder hulle uitgebreek. Dit het tot op die kant van die kamp gebrand.

2 Hulle het na Moses geroep om hulle te help. Hy het tot die Here gebid en die vuur het bedaar.

3 Die plek is toe Tabera genoem, want vuur wat van die Here af kom, het daar onder hulle gebrand.

Die volk wil vleis hê

4 ’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry?

5 Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel.

6 Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!”

7 Die manna was soos koljandersaad. Dit het ’n vaal kleur gehad.

8 Die volk het uitgegaan en dit van die grond af opgetel. Hulle het dit dan tussen klippe gemaal of in ’n vysel stukkend gestamp. Daarna het hulle dit in ’n pot gekook en dan daarvan plaatkoeke gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.

9 Die manna het saam met die dou gedurende die nag geval.

10 Moses het gehoor hoe die stamme van die volk by hulle tente se openinge staan en mor. Die Here het baie kwaad geword. Dit was vir Moses ’n baie verkeerde ding.

11 Moses vra toe vir die Here: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar, gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal?

12 Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’

13 Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’

14 “Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my.

15 As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.”

Die Here gee vir hulle vleis

16 Die Here sê toe vir Moses: “Maak uit die ouer mans van Israel vir my 70 mans bymekaar van wie jy weet dat hulle die oudstes en die leiers is. Vat hulle saam na die tabernakel toe en wag daar saam met hulle.

17 Ek sal afkom en met jou kom praat. Ek sal my Gees wat in jou woon ook in hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk. Jy sal dit nie meer alleen hoef te dra nie.

18 “Sê vir die volk: Heilig julleself vir môre. Julle sal dan vleis kry om te eet. Die Here het gehoor hoe julle kerm: Waar sal ons vleis kry om te eet? Ons was beter af in Egipte! Die Here sal dan vir julle vleis gee om te eet.

19 Julle sal nie net vir een dag vleis hê om te eet nie, ook nie net vir twee of vir vyf of vir tien of vir selfs twintig dae nie.

20 Julle sal elke dag vir ’n hele maand lank vleis eet totdat dit by julle ore uitkom en julle daarvan begin naar word. Julle het die Here, wat tussen julle woon, verwerp, want julle het by Hom gekla: ‘Waarom moes ons uit Egipte weggaan?’”

21 Moses het die Here geantwoord: “Hier onder ons is daar 600 000 mans wat kan veg. En dan sê U nog: ‘Ek sal vir hulle vir ’n maand lank vleis gee om te eet.’

22 Sou dit genoeg wees as ons al die skape en die beeste vir hulle slag? Sou dit genoeg wees as ons al die visse van die see vir hulle bymekaarmaak?”

23 Die Here het vir Moses gesê: “Dink jy die Here kan nie? Jy sal nou sien of Ek kan doen wat Ek sê of nie.”

24 Moses is toe uit na die volk toe om vir hulle te sê wat die Here gesê het. Hy het 70 leiers bymekaargemaak en hulle reg rondom die tabernakel laat staan.

25 Die Here het in ’n wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het sy Gees wat in Moses was ook oor die 70 mans laat kom. Toe die Gees oor hulle gekom het, het hulle begin profeteer. Dit het net hierdie een keer met hulle gebeur.

26 Twee mans, Eldad en Medad, was deel van die 70 mans. Hulle het in die kamp agtergebly. Hulle het nie saamgegaan na die tabernakel toe nie. Toe die Gees oor die mans gekom het, het hulle ook begin profeteer daar waar hulle in die kamp was.

27 ’n Jong seun het gehardloop en vir Moses kom sê: “Eldad en Medad is besig om in die kamp te profeteer!”

28 Josua, die seun van Nun, was van jongs af Moses se assistent. Hy het vir Moses gesê: “Meneer moet hulle stop!”

29 Moses het hom geantwoord: “Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die Here tog maar van die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!”

30 Moses en die leiers is toe weer terug na die kamp toe.

31 Die Here het toe ’n wind laat waai. Dit het kwartels van die see af oor die kamp gewaai. Hulle het reg rondom die kamp geval, omtrent ’n dagreis ver in alle rigtings en omtrent ’n meter diep.

32 Die volk het uitgegaan en daardie hele dag en nag en ook nog die volgende dag kwartels bymekaargemaak. Die minste wat enigeen bymekaargemaak het, was 50 houers. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei.

33 Nog voor hulle die vleis klaar geëet het, het die Here se woede teen die volk losgebars. Die Here het ’n baie groot siekte onder hulle laat uitbreek.

34 Daardie plek se naam het “Kibrot-Taäwa” geword. Daar is die mense begrawe wat so lus vir vleis geword het.

35 Van daar af is die volk na Gaserot toe. Hulle het ’n tyd lank daar gebly.

NUMERI 12

Mirjam en Aäron kom in

opstand

1 Mirjam en Aäron het begin om van Moses sleg te praat omdat hy met ’n Kussitiese vrou getrou het.

2 Hulle het gesê: “Die Here praat beslis nie net deur Moses nie. Hy praat ook deur ons.” Die Here het gehoor wat hulle sê.

3 Moses was buitengewoon nederig, meer as enige ander mens op aarde.

4 Die Here het dringend met Moses, Aäron en Mirjam gepraat: “Julle drie moet na die tabernakel toe gaan.” Die drie is toe soontoe.

5 Die Here het in ’n wolkmassa daarnatoe afgekom en by die ingang van die tabernakel gaan staan. Hy het Aäron en Mirjam nadergeroep. Die twee het nadergekom.

6 Die Here het gesê: “Luister wat Ek sê! As daar ’n profeet onder julle is, maak Ek, die Here, My aan hom bekend deur gesigte en praat Ek met hom deur drome.

7 Ek maak nie so met Moses my dienaar nie. Hy is die betroubaarste van al my mense.

8 Ek praat direk met hom, van aangesig tot aangesig. Ek praat nie met hom op ’n raaiselagtige manier nie. Hy weet hoe die Here lyk. Moet julle dan nie baie versigtig oor my dienaar Moses praat nie?”

9 Die Here was kwaad vir hulle en Hy het weggegaan.

10 Toe die wolk weg van die tabernakel af beweeg het, was Mirjam skielik so wit soos sneeu oor haar hele lyf. Toe Aäron sien hoe wit Mirjam van die melaatsheid is,

11 het hy vir Moses gesê: “Meneer, moet ons asseblief nie straf vir die dom ding wat ons gedoen het nie.

12 Moenie toelaat dat sy soos een is wat doodgebore word en waarvan die liggaam alreeds ontbind is by geboorte nie.”

13 Moses het hardop na die Here geroep: “O God, laat sy asseblief tog gesond word!”

14 Die Here sê toe vir Moses: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou sy sewe dae lank die vernedering daarvan moes dra. Verban haar nou vir sewe dae lank uit die kamp uit. Eers daarna mag sy terugkom.”

15 Mirjam moes toe sewe dae lank buite die kamp bly. Die volk het nie verder getrek voordat Mirjam weer terug was by hulle nie.

16 Die volk is daarna weg van Gaserot af. Hulle het in die Paranwoestyn gaan kamp opslaan.

NUMERI 13

Moses stuur verkenners uit

1 Die Here het toe vir Moses gesê:

2 “Stuur mans uit om die land Kanaän te gaan verken wat Ek aan die Israeliete gaan gee. Stuur van elke stam een van hulle leiers uit.”

3 Moses het gemaak soos die Here gesê het. Hy het daar van die Paranwoestyn af mans na Kanaän toe uitgestuur. Elkeen van hulle was ’n leier in Israel.

4 Hulle was: Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben,

5 Safat, seun van Gori uit die stam van Simeon,

6 Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda,

7 Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar,

8 Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim,

9 Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin,

10 Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon,

11 Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse,

12 Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan,

13 Setur, seun van Migael uit die stam Aser,

14 Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali,

15 Geüel, seun van Maki uit die stam Gad.

16 Dit is die name van die mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken. Moses het Hosea, die seun van Nun, se naam verander na Josua.

17 Toe hy hulle uitstuur om die land Kanaän te gaan verken, het Moses vir hulle gesê: “Gaan van hier af reg deur die Negevwoestyn noord na die heuwelgebied.

18 Kyk hoe die land is. Kyk of die inwoners sterk of swak is, of hulle min of baie is.

19 Kyk of die land waarin hulle woon goed of sleg is. Kyk of die dorpe waarin hulle woon oop is en of dit met mure versterk is.

20 Let op of die grond ryk of arm is, boomryk is of nie. Wees dapper en bring van die vrugte van die land saam terug.” Dit was juis in die tyd toe die eerste druiwe geoes is.

21 Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af deur tot by Regob by Lebo-Hamat.

22 Die mans het deur die suidelike woestyn gegaan en by Hebron aangekom. Enak se nasate, Agiman, Sesai en Talmai, het daar gewoon. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.

23 Hulle het daarna by die Eskolspruit aangekom. Daar het hulle ’n tros druiwe gepluk. Hulle moes dit aan ’n stok tussen twee van hulle dra. Hulle het daar ook granate en vye gepluk.

24 Die naam van die plek is toe na Eskol herdoop, na aanleiding van die tros druiwe wat die Israeliete daar gepluk het.

Die verkenners doen verslag

25 Aan die einde van die 40 dae het die mans van die verkenningstog af teruggekom.

26 Hulle het by Moses, Aäron en die Israeliete aangekom waar hulle by Kades in die Paranwoestyn staan. Hulle het aan die Israeliete verslag gedoen en vir hulle die vrugte gewys wat hulle saamgebring het.

27 Die mans het aan Moses rapporteer: “Ons het na die land gaan kyk waarheen jy ons gestuur het. Dit is ’n baie vrugbare land. Hier is van sy vrugte.

28 Die mense wat in die land woon, is egter baie sterk. Hulle het groot stede met verdedigingsmure om. Ons het ook Enak se nageslag daar gesien.

29 Die Amalekiete bly in die Negevwoestyn. Die Hetiete, Jebusiete en Amoriete bly in die heuwelgebied. Die Kanaäniete woon langs die Middellandse See en in die Jordaanvallei.

30 Kaleb het egter die volk probeer gerusstel. Hy het gesê: “Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat.”

31 Die ander mans wat saam met hom gegaan het, het egter gesê: “Ons durf nie teen hulle optrek nie. Hulle is sterker as ons.”

32 Hulle het toe ’n gerug begin versprei oor die land wat hulle gaan verken het: “Die land waarna ons gaan kyk het, is ’n land wat sy inwoners opeis. Al die volke wat ons daarin gesien het, is besonder groot mense.

33 Ons het Enak se nageslag daar gesien. Hulle is reuse. Ons het voor hulle soos sprinkane gelyk.”