OPENBARING 17

Die groot prostituut wat die

aardbewoners verlei het

1 Een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou, het nadergekom en met my gepraat: “Kom, ek sal jou die oordeel wys wat oor die groot prostituut, wat by die baie waterstrome bly, gaan kom.

2 Die konings van die aarde het ongeoorloofde seks met haar gehad, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar seksuele wanpraktyke.”

3 Die engel het my toe deur die Gees meegevoer na die woestyn toe. Daar het ek ’n vrou gesien wat op ’n bloedrooi monster sit. Die monster was aan alle kante vol godslasterlike name geskryf, en hy het sewe koppe en tien horings gehad.

4 Die vrou het pers en bloedrooi klere aangehad en was getooi met goud, kosbare stene en pêrels. In haar hand het sy ’n goue beker gevul met vieslikhede en die onrein dinge van haar seksuele wanpraktyke vasgehou.

5 Op haar voorkop was ’n geheimsinnige naam geskryf: “Groot Babilon, die moeder van dié wat seksuele wanpraktyke beoefen en van die losbandighede op die aarde.”

6 Ek het ook gesien dat die vrou dronk was van die bloed van hulle wat aan God toegewy is, van die bloed van hulle wat getuies van Jesus is. Ek het haar aangestaar, geheel en al verwonderd.

7 Die engel sê toe vir my: “Waarom is jy so verwonderd? Ek sal jou vertel wat die misterie van hierdie vrou is, en van die monster met die sewe koppe en tien horings wat haar ronddra.

8 “Die monster wat jy gesien het, wás eers, maar is nie nou meer nie. Hy gaan uit die bodemlose diepte uit opkom om dan na die verderf toe te gaan. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, sal verwonderd wees wanneer hulle die monster sien, want eers was hy en nou is hy nie meer nie en tog sal hy wees.

9 “In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig vir elkeen wat oor wysheid beskik. Die sewe koppe is die sewe heuwels waarop die vrou sit. Verder is daar ook sewe konings.

10 Vyf konings het reeds geval. Die sesde een is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; wanneer hy kom, moet hy net vir ’n kort rukkie bly.

11 En die monster wat eers was en nie meer is nie, is self die agtste koning. Hy hoort by die sewe, en is op pad na sy vernietiging toe.

12 “Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie heerskappy ontvang nie, maar kry saam met die monster een uur lank gesag as konings.

13 Hulle het net een doelwit in gedagte en hulle stel hulle krag en mag tot beskikking van die monster.

14 Hulle sal teen die Lam oorlog maak, maar die Lam – saam met dié wat Hy geroep en uitverkies het en wat betroubaar is – sal hulle oorwin, want Hy is die Here van die heersers en die Koning van die konings.”

15 Die engel het ook aan my gesê: “Die waterstrome wat jy gesien het waar die prostituut sit, verteenwoordig volke, skares mense, nasies en taalgroepe.

16 En die tien horings wat jy gesien het en die monster, hulle sal die prostituut haat en haar kaalgestroop en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verskroei.

17 “God het dit in hulle harte geplant om aan sy bedoeling uitvoering te gee. Hulle het een en dieselfde plan gehad: om hulle heerskappy tot beskikking van die monster te stel totdat God se woorde in vervulling gegaan het.

18 “Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”

OPENBARING 18

Die moeder van almal wat

seksuele wanpraktyke beoefen,

1 Hierna het ek ’n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik en die aarde is deur sy glans verlig.

2 Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep:

“Geval, geval het die grote Babilon!

Dit het die wegkruipplek geword

van die bose geeste,

’n skuilplek van elke onrein gees,

’n nes van elke onrein roofvoël

en van haatlike diere.

3 Al die nasies het dronk geword

van die dwelmdrank van

haar seksuele wanpraktyke.

Die konings van die aarde het

ongeoorloofde seksuele

verhoudings

met haar gehad,

en die handelaars van die aarde

het ryk geword

uit haar grenslose weelde.”

4 Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê:

“Verlaat haar, my volk,

sodat julle nie deel het

aan haar sondes

en haar plae

julle nie ook tref nie.

5 Haar sondes het so hoog

soos die hemel

opgehoop

en God het haar wandade

onthou.

6 Gee aan haar terug

wat sy uitgedeel het,

en gee aan haar dubbel soveel

as wat sy aan julle gedoen het.

In die beker waarin sy vervolging

vir julle gemeng het,

moet julle twee keer soveel

inskink.

7 In dieselfde mate waarin sy

haarself verheerlik

en weelderig geleef het,

moet julle haar ook pyn en smart

aandoen.

In haar hart spog sy:

‘Ek sit as ’n koningin op my

troon.

Ek is nie ’n weduwee nie;

smart sal ek nooit ken nie.’

8 Daarom sal al haar plae

haar op een dag oorweldig:

dodelike siekte, smart

en hongersnood.

Sy sal deur vuur verteer word,

want krágtig is die Here God

wat haar oordeel.”

9 Die konings van die aarde wat seks met haar gehad het en hulle in weelderigheid gebaai het, sal huil en met groot droefheid reageer wanneer hulle die rook van haar uitgebrande liggaam sien.

10 Omdat haar pyniging hulle die skrik op die lyf jaag, sal hulle ver weg gaan staan terwyl hulle sê:

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik

is dit tog vir die groot stad

Babilon,

die magtige stad!

Binne een uur

het die oordeel jou getref!”

Die handelaars van die aarde

huil oor hulle verlies

11 Die handelaars van die aarde huil en rou oor haar omdat niemand meer hulle vragte goed koop nie:

12 vragte goud en silwer, kosbare stene en pêrels, fyn pers klerasie en bloedrooi sy, elke soort hout, elke ivoorvoorwerp, elke kosbare voorwerp van hout, koper of yster of marmer,

13 kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie en slawe – sy het selfs met menselewens gesmous.

14 Hulle sê:

“Hierdie luukse waarna jy

in jou diepste binneste

gesmag het,

is jou nou ontneem.

Al die weelderige

en blink dinge

is nou vir jou verlore

en hulle sal dit nêrens

en nooit weer vind nie.”

15 Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op ’n afstand gaan staan, omdat hulle bang is vir die foltering wat sy deurgaan. Hulle sal huil en rou

16 terwyl hulle sê:

“Hoe vreeslik,

hoe vreeslik

is dit tog vir die groot stad,

uitgevat in fyn linneklere,

pers en bloedrooi,

en opgesmuk met goud,

kosbare stene en pêrels.

17 In een enkele uur

is soveel rykdom uitgewis!”

Die seelui treur oor Babilon se

vernietiging

Elke stuurman en elkeen wat per skip iewers heen vaar, die matrose en almal wat van die see afhanklik is, het op ’n afstand gaan staan,

18 en hulle het geskreeu toe hulle die rook van haar verbranding sien. Hulle het gesê: “Watter stad was soos dié groot stad?”

19 Hulle het toe stof op hulle koppe gestrooi en dit uitgeskreeu. Huilend en in rou gedompel, het hulle aanhou sê:

“Hoe vreeslik, hoe vreeslik

is dit tog vir die groot stad!

Almal wat skepe besit op die see,

het hulle verryk uit haar bates.

In een enkele uur is sy verwoes.”

20 Wees uitgelate oor haar val, hemel,

en julle wat aan God gewy is,

apostels en profete!

God het die oordeel wat julle

uitgespreek het,

inderdaad oor haar gebring.

Die magtige Babilon het stil en

verlate geword

21 Toe het ’n baie sterk engel ’n yslike rots, so groot soos ’n maalklip, gevat en dit in die see gegooi en gesê:

“Net so gewelddadig sal

neergegooi word

Babilon, die groot stad,

en niemand sal dit

ooit weer vind nie.

22 Die geluid van siterspelers en

sangers,

van fluitspelers en

trompetblasers

sal nooit weer in jou

gehoor word nie.

Geen ambagsman, van watter

ambag ook al,

sal ooit weer in jou gevind word

nie.

Die geluid van ’n meule

sal nooit weer in jou

gehoor word nie.

23 Die lig van ’n lamp

sal nooit weer in jou skyn nie.

Die stem van ’n bruidegom en

bruid

sal nooit weer in jou

gehoor word nie.

Jou handelaars was die magnate

van hierdie aarde,

want deur jou bedrieëry het hulle

al die nasies om die bos gelei.”

24 In Babilon se strate is die bloed

van die profete gevind,

en van hulle wat aan God

toegewy is,

ja, almal wat op die aarde

doodgemaak is.

OPENBARING 19

Die oorwinningslied van die

hemelse hallelujakoor

1 Hierna het ek iets gehoor soos die magtige lied van ’n groot skare in die hemel wat sing:

“Halleluja!

Die verlossing, die heerlikheid

en die krag

behoort aan ons God!

2 Betroubaar en regverdig

is sy oordele,

want Hy het die oordeel voltrek

oor die groot prostituut

wat die aarde met haar

seksuele wanpraktyke

besoedel het.

Hy het die bloed van sy

diensknegte wat sy laat vloei het,

gewreek.”

3 ’n Tweede keer het hulle uitgeroep:

“Halleluja!

Die rook van die stad

styg boontoe vir altyd.”

4 Die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval in aanbidding voor God wat op die troon sit terwyl hulle aanhou sê:

“Amen! Halleluja!”

Die bruilof van die Lam het nou

aangebreek

5 Van die troon se kant af het ’n stem opgeklink wat sê:

“Loof ons God,

al sy diensknegte,

dié wat Hom met ontsag bejeën,

klein en groot!”

6 Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n baie groot skare, soos die gedruis van baie waterstrome en soos die gerammel van swaar donderweer. Hulle het aanhou uitroep:

“Halleluja!

Die Here heers as koning,

ons God, die Almagtige,

7 laat ons juig en jubel

en aan Hom eer betoon,

want die tyd het aangebreek

vir die bruilof van die Lam,

en sy bruid het haarself

daarop voorberei.

8 Sy is toegelaat om fyn,

helder skoon linne aan te trek.”

Die fyn linneklere is die regverdige dade van hulle wat aan God toegewy is.

9 Die engel het toe vir my gesê: “Skryf: Geseënd is hulle wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is.” Hy sê toe ook aan my: “Die woorde wat van God af kom, is betroubaar.”

10 Toe het ek voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Hy sê egter vir my: “Oppas, moenie! Ek is net jou mededienskneg, en van al jou medegelowiges wat getuienis van hulle geloof in Jesus gelewer het. Buig neer in aanbidding voor God! Die kern van die profesie is inderdaad om van Jesus te getuig.”

Die Ruiter op die wit perd se

Naam is “Die Woord van God”

11 Toe het ek gesien die hemel is oopgemaak. En kyk! Daar verskyn ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en Betroubare genoem. Hy oordeel op ’n regverdige manier en voer ook só oorlog.

12 Sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Op Hom was ’n Naam geskryf wat niemand anders as net Hyself geken het nie.

13 Hy het klere aangehad wat in bloed gedoop is, en sy Naam was: Die Woord van God.

14 Die leërs van die hemel het Hom op wit perde gevolg. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad.

15 Uit sy mond het daar toe ’n skerp swaard gekom om die nasies mee te verslaan, en Hy sal hulle soos met ’n ysterstaf beheer. Hy sal self die parskuip vir die wyn trap, dit is die wyn van die toorn en woede van God, die Almagtige.

16 Op sy kleed, by die heup, was ’n Naam geskryf: “Koning van die konings en Here van die heersers.”

17 Toe het ek ’n engel by die son sien staan. Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat in die middel van die hemel vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaaltyd van God!

18 Kom verslind die vleis van die konings en die vleis van die militêre aanvoerders, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, en ook die vleis van al die vry mense, slawe, klein en groot!”

19 Toe het ek gesien dat die monster die konings van die aarde met hulle leërs mobiliseer om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit en teen sy leërmag.

20 Maar die monster is gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens ter ondersteuning van die monster gedoen het. Daarmee het hy die mense verlei wat die merkteken van die monster gedra en sy standbeeld aanbid het. Dié twee is lewendig in die vuurpoel gegooi wat met swael brand.

21 Die oorblywende mense is toe om die lewe gebring met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van Hom wat op die perd sit. Al die voëls het hulle dik gevreet aan hulle vleis.

OPENBARING 20

Satan word vir duisend jaar

gebind

1 Ek het toe ’n engel van die hemel af sien kom met die sleutel van die bodemlose put terwyl hy ’n groot ketting in sy hand hou.

2 Hy het die draak, die slang van die oertyd, dit is die duiwel en Satan, vasgegryp en hom vir 1 000 jaar gebind.

3 Die engel het hom in die bodemlose put gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie langer die nasies sou verlei totdat die 1 000 jaar verstryk het nie. Daarna moet hy vir ’n klein rukkie losgemaak word.

4 Toe het ek trone gesien, en dié wat daarop sit, is die bevoegdheid gegee om te oordeel. Ek het ook die siele gesien van hulle wat onthoof is as gevolg van hulle getuienis aangaande Jesus en die boodskap van God. Dit is hulle wat nie voor die monster en sy standbeeld neergeval het in aanbidding nie, en nie die merkteken op hulle voorkop en op hulle hand ontvang het nie. Hulle het toe weer lewend geword en saam met Christus vir 1 000 jaar lank regeer.

5 Die oorblywende dooies het nie weer lewend geword voordat die 1 000 jaar om was nie. Dit is die eerste opstanding.

6 Geseënd en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hierdie mense het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees, en sal saam met Hom die 1 000 jaar lank as konings regeer.

Satan word oorwin en in die

poel van vuur en swael gegooi

7 Wanneer die 1 000 jaar om is, sal Satan uit sy tronk losgelaat word.

8 Hy sal dan daarop uit wees om die nasies tussen die vier hoeke van die aarde, die Gog en Magog, te verlei en om hulle te monster vir die oorlog. Getallegewys is hulle so baie soos die sand van die see.

9 Hulle het toe van oor die hele breedte van die aarde af opgetrek en die laer van hulle wat aan God toegewy is, en die geliefde stad omsingel. Daar het egter vuur van die hemel af op hulle afgekom en hulle verteer.

10 Satan wat hulle verlei het, is daarop in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die monster en die vals profeet ook reeds is. Daar sal hulle dag en nag vir altyd gefolter word.

Die boekrolle word oopgemaak

vir die finale

11 Ek het toe ’n groot wit troon gesien en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van Hom af weggevlug, en daar was nie meer wegkruipplek vir hulle oor nie.

12 Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak. Daar is ook ’n ander boekrol oopgemaak, dit is die Boekrol van die Lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat opgeskryf staan oor wat hulle gedoen het.

13 Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat daarin was, en hulle is elkeen geoordeel volgens wat hulle gedoen het.

14 Die dood en die doderyk is toe in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood – die poel van vuur.

15 En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

OPENBARING 21

Die nuwe hemel en die nuwe

aarde

1 Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie.

2 Ek het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ’n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is.

3 Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.

4 Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.”

5 Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder: “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.”

6 Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Iemand wat dors het, sal Ek verniet laat drink uit die fontein met lewegewende water.

7 Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees.

8 “Maar vir die oneerlikes, onbetroubares, korruptes, moordenaars, persone wat seksuele sondes doen, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars wag die poel wat met vuur en swael brand. Dit is die tweede dood.”

9 Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou wat vol was met die laaste sewe plae, nadergestaan en aan my gesê: “Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”

10 Hy het my toe in die Gees na ’n groot en hoë berg geneem en die heilige stad Jerusalem, wat van God af uit die hemel afgekom het, aan my gewys.

11 Die stad was gevul met die heerlikheid van God. Dit het gestraal, net soos ’n baie kosbare steen, soos ’n kristalhelder jaspis.

12 Die stad het ook ’n groot en hoë muur gehad waarin twaalf poorte was. By die poorte is daar twaalf engele, met twaalf name op die poorte gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van Israel.

13 Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie.

14 Die stadsmuur het twaalf fondamentstene waarop die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf staan.

15 Die engel wat met my in gesprek was, het ’n goue liniaal vasgehou. Die doel was om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.

16 Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – 12 000stadia.

17 Hy het ook die muur van die stad gemeet. Dit is 144 el hoog. (Die engel het volgens ’n aardse maat gemeet.)

18 Die boumateriaal van die muur is jaspis en dié van die stad self suiwer goud, so helder soos skoon glas.

19 Die fondamentstene van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondamentsteen met jaspis, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag,

20 die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint, en die twaalfde met ametis.

21 Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, so helder soos deurskynende glas.

22 Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is sy tempel.

23 Die stad het ook nie die son en die maan nodig om dit te verlig nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en die Lam is sy kandelaar.

24 Die nasies sal in die stad se lig lewe en die konings van die aarde bring hulle luister daarheen.

25 Die poorte van die stad sal bedags nooit gesluit word nie, en daar sal nie meer nag wees nie.

26 Die nasies sal hulle luister en eerbetoon na die stad toe bring.

27 Niks wat besoedel is en niemand wat gruwelik en vals optree, sal ooit hulle voete in die stad sit nie, slegs dié wat opgeskryf is in die Boekrol van die Lewe, dit is die Boekrol van die Lam.

OPENBARING 22

Die rivier met lewegewende

water

1 Toe het die engel aan my die rivier met lewegewende water gewys. Dit is helder soos kristal en vloei vanaf die troon van God en van die Lam.

2 Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Dit dra twaalf keer per jaar vrug; elke maand dra hy sy vrugte. En die blare van dié boom gee genesing aan die nasies.

3 Geen vervloeking van enigiets sal langer meer bestaan nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad staan en sy diensknegte sal Hom dien.

4 Hulle sal Hom vol in die oë kyk, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees.

5 Daar sal ook geen behoefte aan die lig van ’n kandelaar of van die son wees nie omdat die Here God vir hulle lig sal gee, en hulle sal vir altyd as konings regeer.

Die Here Jesus se terugkeer is

seker

6 Die engel het toe aan my gesê: “Hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar. Die Here God wat sy Gees aan die profete gegee het, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.”

7 Jesus sê toe:

“Kyk, Ek kom gou!

Geseënd is elkeen

wat die profetiese woorde

in hierdie boekrol gehoorsaam.”

8 Ek, Johannes, het hierdie dinge gehoor en gesien. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval voor die voete van die engel wat al hierdie dinge aan my uitgewys het.

9 Maar hy sê aan my: “Oppas, moenie! Ek is maar net ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, naamlik die profete, en van dié wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Aanbid God!”

10 Hy het toe aan my ’n opdrag gegee: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boekrol verseël nie, want die eindtyd is naby.

11 “Wie aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie reg optree, moet voortgaan om reg te doen, en wie aan God toegewy is, moet ook verder aan God toegewy bly.”

12 Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.

13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

14 Geseënd is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad.

15 Al die onreines bly buite – die towenaars, dié wat seksuele sondes doen, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en lieg.

16 “Ek, Jesus, het my engel gestuur om al die dinge aan julle in die gemeentes te verkondig. Ek is die Wortel, die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.”

17 Die Gees en die bruid sê toe:

“Kom!”

En elkeen wat dit hoor,

moet sê:

“Kom!”

En elkeen wat dors het,

moet kom;

elkeen wat smag

na die lewegewende water,

moet kom haal, verniet!

18 Ek getuig plegtig teenoor elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boekrol hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom as straf die plae byvoeg waarvan in hierdie boekrol geskryf is,

19 en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boekrol wegneem, sal God sy deel wegneem aan die boom van die lewe en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is.

20 Hy wat hierdie dinge getuig, sê:

“Ja, Ek kom gou!”

Amen! Kom, Here Jesus!

21 Mag die genade van die Here Jesus met julle almal wees.