OPENBARING 7

God laat die 144 000 op hulle

voorkoppe merk

1 Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde teruggehou sodat geen wind op die land of op die see of teen enige boom waai nie.

2 Ek het ook ’n ander engel sien naderbeweeg van die kant waar die son opkom, terwyl hy ’n seël van die lewende God vashou. Hy het met ’n kragtige stem geroep na die vier engele wat toegelaat is om die land en see skade aan te doen, en

3 gesê: “Moenie skade doen aan die land of die see of die bome nie, totdat ons die diensknegte van God met ’n seël op hulle voorkoppe gemerk het.”

4 Ek het toe gehoor wat die getal is van dié wat met ’n seël op hulle voorkoppe gemerk is: daar was 144 000 gemerktes, afkomstig uit al die stamme van Israel:

5 Uit die stam van Juda was daar 12 000 wat met die seël op hulle voorkoppe gemerk is; uit die stam Ruben 12 000; uit die stam Gad 12 000;

6 uit die stam Aser 12 000; uit die stam Naftali 12 000; uit die stam Manasse 12 000;

7 uit die stam Simeon 12 000; uit die stam Levi 12 000; uit die stam Issaskar 12 000;

8 uit die stam Sebulon 12 000; uit die stam Josef 12 000, en uit die stam Benjamin was daar 12 000 wat met ’n seël gemerk is.

Die skare verlostes met wit klere

9 Hierna het ek gekyk, en werklikwaar – daar was ’n reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie. Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taalgroep, en het voor die troon en voor die Lam gaan staan. Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande.

10 Met ’n kragtige stem het hulle uitgeroep:

“Ons verlossing is te danke aan

God

wat op die troon sit en aan die

Lam!”

11 Al die engele het ook rondom die troon gaan staan, asook die ouderlinge en die vier lewende wesens. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon en God aanbid

12 en gesê:

“Amen, die lofprysing

en die heerlikheid,

die wysheid, die dank

en die eerbetoning,

die mag en die sterkte

behoort aan ons God vir altyd.

Amen!”

13 Een van die ouderlinge reageer toe en vra my: “Hierdie mense wat wit klere aanhet, wie is hulle en waarvandaan kom hulle?”

14 Ek het aan hom gesê: “Meneer, u is die een wat weet.”

Daarop sê hy vir my: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere wit gewas in die bloed van die Lam.

15 Daarom staan hulle

voor die troon van God

en dien hulle Hom dag en nag

in sy tempel;

en Hy wat op die troon sit,

sal sy tentwoning oor hulle span.

16 Hulle sal nie meer honger

of dors word nie;

die son sal nie op hulle

neerskroei nie

en ook nie ’n hittegloed nie.

17 Die Lam wat in die middel

by die troon staan,

sal hulle soos ’n herder lei

en hulle na die waterfonteine

van die lewe bring;

en God sal elke traan van hulle

oë afdroog.”

OPENBARING 8

Die groot stilte voor die finale

drama

1 Toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar stilte in die hemel neergedaal, ongeveer ’n halfuur lank.

2 Ek het toe die sewe engele gesien wat voor God stelling inneem. Aan hulle is sewe trompette gegee.

3 ’n Ander engel het nadergekom en by die altaar gaan staan. Hy het ’n goue wierookbak vasgehou. Baie reukwerk is aan hom gegee om dit te meng met die gebede van almal wat aan God toegewy is, en om dit te offer op die goue altaar wat voor die troon staan.

4 Die rookwolk van die reukwerk wat deur die engel geoffer is, is gemeng met die gebede van hulle wat aan God toegewy is, en het opgestyg voor God.

5 Toe het die engel die wierookbak geneem, dit vol gemaak met die vuur van die altaar af en dit op die aarde uitgegooi. Donderslae, rammelinge, weerligstrale en ’n aardbewing het toe daarop gevolg.

Vier trompette met

vernietigende gevolge

6 Die sewe engele wat die sewe trompette vasgehou het, het hulle klaargemaak om daarop te blaas.

7 Die eerste engel het op sy trompet geblaas en hael en vuur vermeng met bloed is op die aarde gestort. ’n Derde van die aarde is verskroei. ’n Derde van die bome is verskroei en al die groen gras is verbrand.

8 Die tweede engel het op sy trompet geblaas en iets soos ’n hoë berg wat aan die brand is, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword.

9 ’n Derde van die diere wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe is vernietig.

10 Toe het die derde engel op sy trompet geblaas, en ’n reuse ster wat soos ’n fakkel brand, het van die hemel af op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval.

11 Die ster word genoem Bitterheid. ’n Derde van die varswater het bitter geword, en ’n menigte mense het doodgegaan van die water omdat dit so bitter gemaak was.

12 Die vierde engel het op sy trompet geblaas en ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref sodat ’n derde van hulle verduister is. ’n Derde van die dag het geen lig gehad nie, en só ook die nag.

13 Toe het ek gekyk en ’n besondere arend, wat hoog in die lugruim vlieg, met ’n skril stem hoor uitskreeu: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik, hoe vreeslik sal dit nie vir die bewoners van die aarde wees as die oorblywende engele binnekort op hulle trompette blaas nie!”

OPENBARING 9

Sprinkane sak soos skerpioene

op die goddeloses toe

1 Daarna het die vyfde engel op sy trompet geblaas. Ek het gekyk hoe ’n ster van die hemel af op die aarde val, en die sleutel van die tonnel na die bodemlose put is aan hom gegee.

2 Hy het toe die tonnel na die bodemlose put oopgesluit. Daar het rook uit die tonnel opgedwarrel, soos die rook uit ’n groot smeltoond. Die son en die lugruim is deur die rook van die tonnel verduister.

3 Uit die rook het sprinkane oor die aarde heen geswerm. Hulle is toegelaat om dieselfde vermoë te hê as skerpioene.

4 Hulle is aangesê om nie die gras op die aarde, of enige plant of boom te beskadig nie, maar net die mense leed aan te doen wat nie die seëlmerk van God op hulle voorkoppe het nie.

5 Hulle is uitdruklik aangesê om nie die mense dood te maak nie, maar om hulle wel vyf maande lank te folter. Hulle foltering was soos die brandpyn wanneer ’n skerpioen jou steek.

6 Gedurende daardie dae sal die mense dit verkies om liewer dood te gaan, maar dit sal nie met hulle gebeur nie. Hulle sal begeer om dood te gaan, maar die dood sal hulle ontwyk.

7 Die sprinkane het gelyk soos perde wat voorberei is vir oorlog. Op hulle koppe was iets soos goue krone, en hulle gesigte het gelyk soos dié van mense.

8 Hulle het lang hare soos dié van vroue gehad, en hulle tande was soos dié van leeus.

9 Hulle het borsplate aangehad soos ysterharnasse, en die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk oorlog toe.

10 Hulle het sterte met angels net soos dié van skerpioene gehad, en in hulle sterte was hulle vermoë om die mense vyf maande lank leed aan te doen.

11 Hulle het as heerser die engel van die bodemlose put gehad. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks Apollion.

12 Die eerste verskrikking is verby. Kyk, daar volg nog twee hierna.

Miljoene perde rig

onberekenbare skade aan

13 Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God.

14 Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”

15 Die vier engele wat gereedgemaak is vir hierdie uur en dag en maand en jaar is toe losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak.

16 Die getal perderuiters was ongeveer 200 miljoen. Ek het gehoor wat die getal is.

17 Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: Hulle het vuurrooi en hemelsblou en swaelgeel borsplate aangehad. Die perde se koppe was soos dié van leeus en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael gestoom.

18 Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke gestoom het, is ’n derde van die mense doodgemaak.

19 Die perde se vermoë om skade aan te rig, lê in hulle bekke, maar ook in hulle sterte, want hulle sterte het koppe net soos slange waarmee hulle die skade aanrig.

20 Die oorblywende mense wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het ook nie tot inkeer gekom wat hulle dade betref nie. Hulle het eenvoudig aangehou om die bose geeste te aanbid, asook die afgode van goud, silwer, brons, klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

21 Hulle het hulle ook nie bekeer van hulle moorde of hulle toordery, seksuele sondes of stelery nie.

OPENBARING 10

Johannes moet die klein boekrol

gaan eet

1 Toe het ek ’n ander kragtige engel gesien wat van die hemel af neergedaal het. Hy was omring deur ’n wolk, met ’n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos twee vuurkolomme.

2 In sy hand het hy ’n oopgerolde boekrolletjie vasgehou. Hy het gaan staan, met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde.

3 Toe het hy met ’n kragtige stem uitgeskreeu soos ’n leeu wat brul. Nadat hy so uitgeskreeu het, het sewe donderslae hulle eie dreunings laat weergalm.

4 En toe die sewe donderslae weergalm het, was ek op die punt om dit op te skryf, maar ek het ’n stem van die hemel se kant af hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae weergalm het, en moenie dit opskryf nie.”

5 Die engel wat ek op die see en die land sien staan het,

het sy regterhand in die rigting

van die hemel opgelig

6 en ’n eed gesweer by Hom

wat vir altyd lewe,

wat die hemel en sy inhoud, die land en sy inhoud, die see en sy inhoud, geskep het. Hy het onder eed gesweer: “Daar is nie meer tyd oor nie.

7 In daardie tyd wanneer die sewende engel sy trompet sal blaas, sal God se verborge bedoeling verwerklik word, soos Hy dit as goeie boodskap aan sy diensknegte, die profete, bekendgemaak het.”

8 Die stem wat ek van die hemel se kant af gehoor het, het toe weer met my gepraat deur vir my te sê: “Gaan haal die oopgerolde boekrolletjie wat in die hand is van die engel wat op die see en land staan.”

9 Ek het toe na die engel toe gegaan en hom gevra om die boekrolletjie vir my te gee. Sy reaksie was: “Neem dit en eet dit op. Dit sal bitter wees in jou maag alhoewel dit so soet soos heuning sal smaak in jou mond.”

10 Ek het toe die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, was dit bitter in my maag.

11 Hulle sê toe vir my: “Jy moet nog eers God se wil oor volke, nasies, taalgroepe en baie heersers gaan verkondig.”

OPENBARING 11

Die twee getuies

1 Toe is daar aan my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Gaan meet die tempel van God en die altaar en die mense wat in die tempel aanbid.

2 Die voorhof wat buitekant die tempel geleë is, moet jy weglaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die nasies oorgegee is. Hulle sal die heilige stad 42 maande lank met die voete vertrap.

3 En Ek sal aan my twee getuies, met sakklere aan, opdrag gee om die wil van God vir 1 260 dae lank te verkondig.”

4 Hulle is die twee olyfbome en ook die twee kandelare wat voor die Here van die hele aarde staan.

5 As iemand hulle leed wil aandoen, kom daar vuurvlamme uit hulle monde wat hulle vyande verbrand. Elkeen wat hulle leed wil aandoen, moet só doodgemaak word.

6 Hulle beskik oor die mag om die hemel te sluit sodat dit nie sal reën nie vir die volle tyd wat hulle die wil van God verkondig. Hulle beskik ook oor die mag om die waters in bloed te verander en om die aarde met elke moontlike plaag te tref, so dikwels as wat hulle dit nodig vind.

7 Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die bodemlose put uit opgekom het, teen hulle oorlog maak en hy sal hulle oorwin en doodmaak.

8 Hulle lyke sal langs die breë straat van die groot stad lê. Dit is die stad wat figuurlik Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook gekruisig is.

9 Vir drie en ’n half dae lank sal mense vanuit al die volke, stamme, taalgroepe en nasies hulle lyke sien lê. En hulle sal nie toelaat dat die lyke in ’n grafkamer begrawe word nie.

10 Die bewoners van die aarde sal juig oor hulle dood en hulle sal baie bly wees daaroor en aan mekaar geskenke stuur, omdat hierdie twee profete die bewoners van die aarde geteister het.

11 Maar na drie en ’n half dae het die lewegewende Gees van God in hulle gekom. Toe hulle op hulle voete orent kom, het ’n groot skrik almal wat hulle gesien het, oorweldig.

12 Hulle het ook ’n kragtige stem van die hemel af hoor sê: “Kom op hierheen!” Hulle het toe in ’n wolk na die hemel toe opgevaar terwyl hulle vyande toekyk.

13 Op daardie selfde uur was daar ’n geweldige aardbewing en ’n tiende van die stad het inmekaargetuimel. In die aardbewing is 7 000 mense gedood en die oorblywende mense het beangs geword en aan die God van die hemel eer betoon.

14 Die tweede verskrikking is verby. Kyk, die derde een kom spoedig.

Die koningsheerskappy behoort

aan die Here en sy Christus

15 Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. Daar was kragtige stemme in die hemel wat sê:

“Die koninklike heerskappy

oor die wêreld

behoort nou aan ons Here

en sy Christus,

en Hy sal as koning heers

vir altyd.”

16 Die 24 ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het op hulle gesigte neergeval en God aanbid

17 en gesê:

“Here God, Almagtige,

U wat is en wat was,

ons dank U

dat U nou u groot mag

opgeneem het

en as koning heers.

18 Die nasies het baie kwaad geword,

maar nou het die tyd

van u oordeel aangebreek

om dié wat dood is, te oordeel;

om u diensknegte, die profete

te beloon

en dié wat aan God

toegewy is,

en dié wat ontsag het

vir u Naam,

klein en groot,

en dié wat die aarde vernietig,

óók te vernietig.”

19 Toe is God se tempel in die hemel geopen, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar was toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ’n aardbewing en ’n hewige haelstorm.

OPENBARING 12

Die draak bedreig die geboorte

van die Christuskind

1 ’n Groot teken het in die hemel sigbaar geword: ’n vrou wat met die son omklee is, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon met twaalf sterre.

2 Sy was verwagtend en het geskreeu van die geboortepyne en die benoudheid.

3 Daar het ook ’n ander teken in die hemel sigbaar geword: Kyk net – ’n groot rooi draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe was daar sewe koningskrone.

4 Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel meegesleur en hulle op die aarde neergegooi. Die draak het reg voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om wanneer sy geboorte skenk, haar kind op te vreet.

5 Sy het geboorte geskenk aan ’n manlike kind, wat al die nasies met ’n ysterstaf sal beheer. Haar kind is weggeruk van die draak af, na God en na sy troon toe.

6 Die vrou het na die woestyn toe gevlug, waar sy ’n plek gehad het wat deur God vir haar voorberei is sodat hulle haar daar 1 260 dae lank kan versorg.

7 Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem,

8 maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie.

9 Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom.

10 Toe het ek ’n kragtige stem in die hemel hoor sê:

“Nou het die verlossing en die krag

en die koninklike heerskappy

van ons God aangebreek,

asook die mag van sy Christus.

Die aanklaer van ons

medegelowiges

is neergegooi,

hy wat hulle dag en nag

voor ons God aangekla het.

11 En hulle het hom self oorwin

op grond van die bloed

van die Lam

en die boodskap

waaroor hulle getuig het.

Hulle het hulle lewens

nie so liefgehad

dat hulle onwillig was

om vir Hom te sterf nie.

12 Daarom, juig daaroor, hemele

en dié wat daarin ’n woonplek

het!

Hoe vreeslik tog

vir die land en die see,

omdat die duiwel

na julle afgekom het

met fel woede

en met die besef

dat hy net ’n kort tydjie het.”

13 Toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou wat geboorte gegee het aan die manlike kind, agtervolg.

14 Aan die vrou is egter twee groot arendsvlerke gegee sodat sy na haar plek in die woestyn kon vlieg. Dáár word sy versorg vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd, heeltemal buite bereik van die slang.

15 Die slang het toe uit sy bek ’n boog water soos ’n rivier agter die vrou aan uitgespoeg sodat sy deur die stroom meegesleur kon word,

16 maar die aarde het die vrou te hulp gesnel. Die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier wat die draak uit sy bek uitgespoeg het, ingesluk.

17 Die draak het toe woedend geword vir die vrou en vertrek om oorlog te gaan maak teen die res van haar afstammelinge wat die gebooie van God gehoorsaam en vashou aan die getuienis wat Jesus gegee het.

18 Die draak het toe op die sand van die see gaan staan.

OPENBARING 13

Die monster uit die see trek op

teen Christus

1 Toe het ek ’n monster uit die see sien opkom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien koningskrone en op sy koppe name wat God belaster het.

2 Die monster wat ek gesien het, het net soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was net soos dié van ’n beer en sy bek net soos dié van ’n leeu. Die draak het van sy eie krag, sy troon en groot mag aan hom gegee.

3 Aan een van sy koppe was hy oënskynlik dodelik verwond, maar sy dodelike wond het gesond geword. Die hele wêreld het verwonderd agter dié monster aan geloop.

4 Hulle het in aanbidding neergeval voor die draak omdat hy aan die monster mag gegee het. En hulle het die monster aanbid en gesê: “Wie is soos die monster? En wie kan teen hom oorlog maak?”

5 Dié monster is toegelaat om vreeslike en lasterlike dinge te sê; aan hom is ook die mag verleen om 42 maande lank só op te tree.

6 Hy het sy mond oopgemaak om teen God te laster; hy het God as persoon, sy woonplek en dié wat in die hemel woon, belaster.

7 Hy is ook toegelaat om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; aan hom is ook gesag gegee oor elke stam, volk, taalgroep en nasie.

8 Al die bewoners van die aarde sal in aanbidding voor hom neerkniel. Dit is hulle wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe aangeteken is nie – die Boekrol van die geslagte Lam.

9 Elkeen wat ’n oor het om te luister,

moet hoor.

10 Wie vir gevangenskap bestem is,

gaan in gevangenskap;

wie bestem is om met die swaard

doodgemaak te word,

sal so doodgemaak word.

In hierdie sake het die gelowiges volharding en vertroue nodig.

Die monster uit die aarde, in

diens van die draak en die

11 Toe het ek ’n ander monster gesien wat uit die aarde opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ’n lam, maar hy het gepraat soos ’n draak.

12 Hy tree met al sy gesag namens die eerste monster op. En hy oorreed die aarde en al die bewoners daarvan om die eerste monster te aanbid, dit is dié een waarvan die dodelike wond gesond geword het.

13 Hy doen ook asemrowende wondertekens sodat hy voor die oë van die mense selfs vuur uit die hemel op die aarde laat neerkom.

14 En hy mislei die bewoners van die aarde deur die wondertekens wat hy toegelaat is om namens die monster te doen. Hy het ook die bewoners van die aarde beveel om ’n standbeeld vir die monster op te rig; dit is die monster wat die litteken van die swaard dra en wat weer lewend geword het.

15 Hy is ook toegelaat om lewe in die standbeeld van die monster te blaas sodat dit kan praat en almal laat doodmaak wat dit nie aanbid nie.

16 Hy verplig al sy volgelinge, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te kry.

17 Dit word gedoen sodat niemand kan koop of verkoop sonder die merk van die naam van die monster, of die getal van sy naam nie.

18 In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig. Laat die een wat insig het, die getal van die monster bereken, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is 666.

OPENBARING 14

Die 144 000 en die Lam op

Sionsberg

1 Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op Sionsberg, en by Hom 144 000 met sy Naam en dié van sy Vader op hulle voorkoppe geskryf.

2 En ek het van die hemel af ’n geluid gehoor soos die gedruis van ’n groot waterval en soos die gerammel van swaar donderweer. Die geluid wat ek gehoor het, was soos dié van musikante wat op hulle siters speel.

3 Hulle sing ’n nuwe lied in die teenwoordigheid van die troon, die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand behalwe die 144 000 wat van die aarde af losgekoop is, was in staat om hierdie lied te bemeester nie.

4 Dit is hulle wat hulle nie met vroue besoedel het nie omdat hulle onthouding beoefen het. Hulle volg die Lam waar Hy ook al lei. Hulle is onder die mense uit losgekoop as ’n eersteling van die oes, gewy aan God en aan die Lam.

5 En in hulle mond vind jy geen leuen nie. Hulle is vlekkeloos.

Die gelowiges moet volhard

6 Toe het ek ’n ander engel in die middel van die hemelruim sien vlieg. Hy het die ewige Goeie Nuus gebring. Hy moes die Goeie Nuus bring aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taalgroep en volk.

7 En hy het toe met ’n kragtige stem uitgeroep: “Eerbiedig God en bewys Hom eer, want die uur van sy oordeel het aangebreek. Val in aanbidding voor Hom neer wat die hemel en die aarde, die see en die waterfonteine gemaak het.”

8 ’n Ander engel, ’n tweede, het gevolg en uitgeroep: “Die magtige Babilon het geval, ja, geval! Babilon het al die nasies bedwelm met die wyn van haar passie vir seksuele sonde.”

9 Nog ’n engel, ’n derde, het agter die ander gevolg en met ’n kragtige stem uitgeroep: “As iemand neerkniel voor die monster en sy standbeeld en ’n merk op sy voorkop of op sy hand het,

10 sal hy ook van die wyn van God se woede moet drink. Dié wyn word onverdun in die beker van sy wraak ingeskink. Hulle sal ook gefolter word in vuur en swael in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam.

11 Die rookwolk van hulle foltering styg vir altyd na bo, en hulle het dag en nag nie rus nie; dit is húlle wat die monster en sy standbeeld aanbid, en wat die merk van sy naam dra.”

12 Onder hierdie omstandighede het die gelowiges nodig om te volhard, hulle wat die opdragte van God en die geloof in Jesus bly bewaar.

13 Ek het ook ’n stem van die hemel af hoor sê: “Skryf dit op! Geseënd is die dooies wat van nou af in die Here sterf.”

“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle harde werk, want wat hulle gedoen het, vergesel hulle.”

Die graan en druiwe op aarde is

ryp om geoes te word

14 En kyk, ek het ’n wit wolk gesien. Op die wolk het Iemand soos die Seun van die Mens gesit. Hy het ’n goue kroon op sy kop gehad en ’n skerp sekel in sy hand.

15 ’n Ander engel het uit die tempel te voorskyn gekom en met ’n kragtige stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die uur het aangebreek om te oes. Die oes van die aarde is ryp.”

16 Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die oes ingesamel.

17 Toe het ’n ander engel uit die rigting van die tempel in die hemel gekom terwyl hy ook ’n skerp sekel vashou.

18 Nog ’n ander engel het uit die rigting van die altaar gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en met ’n kragtige stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en aan hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.”

19 Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek en die wingerd geoes, en dit in die druiwepers van God se toorn gegooi.

20 Die druiwepers wat buitekant die stad geleë is, is getrap. Uit die druiwepers het daar bloed gestroom wat tot aan die tooms van die perde geraak en 300 kilometer ver gevloei het.

OPENBARING 15

Die oorwinningslied van Moses

en van die Lam

1 Ek het toe ’n ander groot en uitsonderlike teken in die hemel gesien: sewe engele wat die sewe laaste plae hou waarmee God se toorn ten volle verwerklik was.

2 Toe het ek iets soos ’n spieëlgladde see gemeng met vuur gesien. Die oorwinnaars oor die monster en sy standbeeld, en die getal van sy naam, het by die spieëlgladde see gestaan met die siters wat God aan hulle gegee het.

3 Hulle sing die lied van Moses, die dienskneg van God. Dit is ook die lied van die Lam, wat só lui:

“Groot en uitsonderlik is u dade,

Here God, die Almagtige.

Regverdig en betroubaar is u paaie,

Koning van die nasies.

4 Wie sal nie ontsag vir U hê nie,

Here,

en nie u Naam verheerlik nie?

U alleen is heilig!

Al die nasies sal kom

en voor U in aanbidding neerval,

want u regverdige dade

het sigbaar geword.”

Sewe bakke vol kole van oordeel

word op die aarde uitgegooi

5 Hierna het ek gesien hoe die tempel in die hemel, die tent van getuienis, oopgemaak word,

6 en die sewe engele wat die sewe plae hou, het uit die tempel na vore getree. Hulle het helder wit linneklere aangehad, elkeen met ’n goue band om die bors.

7 Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gegee, vol gemaak met die toorn van God – Hy wat vir altyd lewe.

8 Die tempel het toe van God se heerlikheid en krag vol rook geword. Niemand kon in die tempel ingaan totdat die sewe plae van die sewe engele voltrek was nie.

OPENBARING 16

1 Ek het toe uit die rigting van die tempel ’n kragtige stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan nou, en gooi die sewe bakke, vol van God se toorn, op die aarde uit!”

2 Toe het die eerste engel gegaan en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose sere op dié mense ontstaan wat die merk van die monster dra en sy standbeeld aanbid het.

3 Die tweede engel het sy bak op die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos dié van ’n lyk, en elke lewende organisme wat in die see is, het doodgegaan.

4 Die derde engel het sy bak op die riviere en waterfonteine uitgegooi. Ook dit het bloed geword.

5 Toe het ek die engel wat gesag oor die waters voer, hoor sê:

“U is regverdig,

U wat is en wat was,

U, die Heilige,

omdat U oor hierdie dinge u straf

voltrek het;

6 want hulle het die bloed

van dié wat aan U toegewy is

en van die profete vergiet,

en U het nou ook aan húlle

bloed gegee om te drink.

Hulle verdien dit.”

7 Ek het toe vanuit die rigting van die altaar iemand hoor sê:

“Ja, Here God, die Almagtige,

betroubaar en regverdig

is u oordele.”

8 Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Die son is in staat gestel om die mense met vuur te skroei.

9 Die mense is deur ’n hewige gloed geskroei en hulle het die Naam van God gevloek wat mag het oor hierdie plae. Hulle het egter nie tot inkeer gekom en aan Hom eer betoon nie.

10 Die vyfde engel het sy bak op die troon van die monster uitgegooi, en sy koninkryk is in duisternis gedompel. Die mense het hulle tonge begin byt van die pyn

11 en het die God van die hemel gevloek oor hulle pyne en sere. Hulle het hulle egter nie bekeer van hulle verkeerde dade nie.

12 Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Sy vloei het opgedroog om ’n pad gereed te maak vir die konings wat van die ooste af kom.

13 Toe merk ek op dat uit die bek van die draak en uit die bek van die monster en uit die bek van die vals profeet drie onrein geeste kom, net soos paddas.

14 Dié geeste wat wondertekens doen, is van bose geeste afkomstig. Hulle gaan uit na die konings oor die hele bewoonde aarde heen om hulle bymekaar te maak vir die oorlog op die beslissende dag van God, die Almagtige.

15 “Wees bedag, Ek kom onverwags, net soos ’n dief. Geseënd is elkeen wat wakker loop en sy klere gereed hou sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy verleentheid sien nie.”

16 Die geeste het die konings bymekaargemaak op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

17 Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. ’n Kragtige stem het uit die rigting van die tempel, waar die troon ook is, gekom en gesê: “Dit is afgehandel.”

18 Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook ’n reuse aardbewing soos wat daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie – só ’n groot aardbewing was dit.

19 Die groot stad is in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het dus hoegenaamd nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy woedende toorn te gee nie.

20 Elke eiland het eenvoudig weggeraak, en berge was ook nie meer te vind nie.

21 Groot haelstene, elkeen ongeveer 34 kilogram swaar, het van die hemel af op die mense gereën. Die mense het God egter gevloek oor die haelplaag omdat dit uitermate groot was.