PSALMS 7

God is ’n betroubare regter

1 ’n Dawidspsalm wat hy vir die

Here gesing het na aanleiding

van Kus, ’n Benjaminiet.

2 Here my God,

ek soek u beskerming.

Red my van al my vervolgers, red my!

3 Anders sal hulle my toetakel

soos ’n leeu,

my in stukke skeur

sonder dat iemand my red.

4 Here my God,

as ek iets verkeerds gedoen het,

as ek skuldig is aan onreg,

5 as ek ’n vriend van my

verraai het,

my vyand sonder rede

beroof het,

6 laat my vyande my agtervolg

en vang,

my in die grond in vertrap,

my eer

tot in die stof verneder.

Sela

7 Staan op, Here, in u toorn!

Tree op

teen my vyande se woede!

Kom tot aksie, my God!

Laat u geregtigheid seëvier!

8 Laat die nasies om U versamel.

Sit op u troon,

ver bo hulle verhewe.

9 Here, U wat regspreek

oor die volke,

oordeel my, Here,

volgens my regverdigheid

en in die lig van my onskuld.

10 Regverdige God

wat gedagtes en gevoelens deursoek,

maak ’n einde

aan die boosheid

van die goddelose,

maar ondersteun die regverdiges.

11 God is my skild,

Hy wat opregtes van hart

verlos.

12 God is ’n regverdige regter;

God oordeel

bose mense daagliks.

13 As iemand nie berou het nie,

maak Hy sy swaard skerp.

Hy span sy boog

en hou dit gereed.

14 Hy het dodelike wapens

voorberei

en sy vurige pyle is gereed.

15 Hy wat swanger is van sonde,

wat verwagtend is van onheil,

gee geboorte aan leuens.

16 Hy grawe ’n gat

om ander te vang,

maar val dan self daarin.

17 Sy boosheid tref homself,

sy geweld kom neer

op sy eie kop.

18 Ek wil die Here dank

omdat Hy regverdig is.

Die Naam

van die allerhoogste Here

wil ek besing.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 × 2 =