PSALMS 6

’n Gebed om hulp tydens

siekte

1 Vir die koorleier: Met snarespel,

met basstem. ’n Dawidspsalm.

2 Here, straf my nie

in u toorn,

kasty my tog nie

in u woede nie.

3 Wees my genadig, Here,

want ek is swak.

Maak my gesond, Here,

want my liggaam is vol pyne.

4 My hele wese

is angsbevange.

Hoe lank nog, Here?

5 Kom terug, Here, en red my.

Genees my

op grond van u liefde.

6 Want wie onthou U in die graf?

Wie kan U loof

in die doderyk?

7 Ek is vermoeid van verdriet.

Snags is my bed deurweek,

is my kussing nat van trane.

8 My oë is dof van droefheid,

dis verswak

weens al my vyande.

9 Gaan weg,

al julle kwaaddoeners,

want die Here

het na my hulpgeroep geluister.

10 Die Here

het my pleidooi gehoor;

die Here

sal my gebed beantwoord.

11 Al my vyande sal beskaamd

en baie verslae wees;

in ’n oogwink

sal hulle beskaamd wees

en omdraai.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 + 4 =